VEROWER JOU KANAÄN


Die Geskiedenis van God met Sy uitverkore volk, soos wat dit vir ons in die Ou-Testament opgeskryf is, is vandag nog steeds vir ons van belang. God skep die mens, die sondeval vind plaas, God gee Sy belofte aan Abraham. So stap die geskiedenis tot by Egipte, en die Israeliete se gevangenskap in slawerny. Swaar tye .. maar, dan kom God se opdrag aan Moses om die volk uit te lei na die beloofde land. Dán begin die swaarkry eers, en die volk swerf vir 40 jaar in die woestyn rond, terwyl die roete hulle hoogstens ‘n paar maande moes neem. Dan, uiteindelik, volg die intog in Kanaän, en die oorwinning van Jerigo. Lang tye van swaar en beproewing, maar uiteindelik volg tog die oorwinning. 

Kanaän kan in elkeen van ons se lewens ‘n tyd of plek simboliseer wat roep na oorwinning. Ek glo ons almal het ‘n Kanaän. Ons almal het iets om te oorwin. Ons almal stoei vir lang tye in die woestyn, en ons almal leef dalk in vrees as ons dink ons moet ons Kanaän gaan inneem. 

Ons Kanaän kan oorwinning oor iets wees, die einde van ‘n swaar pad, die begin van ‘n nuwe era, ‘n opwindende nuwe lewe … moenie dink jy stap hierdie pad alleen nie. Sien die Here se hand en versorging in jou woestyn. 

So kom die tyd toe dat die Israeliete Kanaän moet inneem. Na jare se geswerf, baie moeilikheid en baie moeilike omstandighede. Toe die einde in sig is, toe kom die grootste vrees van die hele pad: sal hulle die land kan inneem? 

Jos 1:1-9
Na die dood van Moses, die dienaar van die Here, het die Here vir Josua, seun van Nun en assistent van Moses, gesê: "Moses my dienaar is dood. Maak jy nou gereed en trek deur die Jordaanrivier, jy en hierdie hele volk. Gaan na die land toe wat Ek aan hulle, die Israeliete, gee. Soos Ek vir Moses gesê het, gee Ek aan julle elke plek waar julle kom: van die woestyn af en van die Libanon af tot aan die groot rivier, die Eufraat, die hele gebied van die Hetiete tot aan die Groot See in die weste, alles sal julle woongebied wees. "Solank jy lewe, sal niemand bestand wees teen jou nie. Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie. Wees sterk, wees vasberade, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het. "Wees veral sterk en baie vasberade in die uitvoering van die wet wat my dienaar Moses jou beveel het. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Dan sal jy voorspoedig wees, waar jy ook al gaan. Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan." 

Die Here praat direk met Josua. Hy praat hom moed in: “Josua, Ek is by jou, Ek gaan jou nie verlaat nie, wees sterk en vasberade”. Ek dink die Here wil vandag vir my en jou ook sê: “Byt vas, wees sterk en vasberade. Soos Ek deur die hele woestyn tyd by jou was, sal Ek nou by jou wees. Moenie nou opgee nie. Byt vas, die einde is in sig, en al is die einde dalk nog nie daar nie, is Ek steeds by jou, elke oomblik.” Dalk is dit vir jou op die oomblik ‘n tydperk van vrees en onsekerheid – weet vir seker: die Here is BY jou. 

Weet jy, ek wonder hoeveel keer het mense in die verlede al nét te gou opgegee, nét te gou handdoek ingegooi, nét te vroeg alternatiewe gaan soek – net om dan nooit sy Kanaän binne te gaan nie. Jy sien, dis nou maar eenmaal die probleem met vertrou: jy moet staatmaak op iets wat jy nie kan sien nie, en glo sonder enige waarborge. Ek dink vrees is nou maar eenmaal ‘n krag wat geloof en vertroue kan doodmaak. Vers 9(b) sê: “Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan”. Moenie bang wees nie. 

Hoe lyk jou Kanaän wat jy moet verower? Jy weet, die ding van “ten volle vertrou”, is bitter moeilik wanneer dit lyk of die woestynpad op sy wreedste is. Die probleem is dat ons so gou moontlik die uitkoms wil hê, sonder om die hele prentjie te sien – dit wat NET God kan sien. Partymaal wil die Here vir ons sê: “Dis nog nie tyd nie”. Partymaal wil Hy sê: “Jy hoef nie alles te weet nie”. Soms wil Hy sê: “Kanaän gaan aanvanklik anders lyk as wat jy dink”. Dalk lyk dit vir jou na ‘n krotbuurt, terwyl jy nog ‘n rukkie moet wag om die melk en heuning te proe. Ons tower vir ons beelde op van ‘n Kanaän wat niks anders is as lugkastele nie, terwyl dit waarlik ‘n ongelooflike mooi en vrugbare streek is. 

Baie van ons (jy dalk ook?) het al in die verlede op die drumpel van Kanaän gestaan, vuisvoos na die spreekwoordelike 40 jaar in die woestyn, moedeloos gewag, op jou einde. En dan … val Jerigo se mure, om die mooiste, wonderlikste land voor jou oë bloot te lê. Miskien ken jy dit. Miskien is jy nou voor die massiewe mure van Jerigo – moeg en moedeloos. Miskien sê die Here vandag vir jou: “Vasbyt, amper daar.” 

En dan …. Uiteindelik val die mure!

Jos 6:1-5, 20
Jerigo was gesluit en verskans teen die Israeliete; niemand het uitgegaan of ingekom nie. Die Here het vir Josua gesê: "Ek gaan Jerigo, sy koning en sy soldate nou in jou mag oorgee. Julle moet om die stad loop; al die manne onder wapen moet een maal om die stad gaan, en dit moet julle ses dae lank doen. Sewe priesters moet elkeen 'n ramshoring voor die ark uit dra. "Die sewende dag moet julle sewe maal om die stad loop. Dan moet die priesters die ramshorings blaas, en sodra die ramshorings blaas en julle dit hoor, moet al die manskappe die aanvalskreet hard uitskreeu. Die muur van die stad sal dan inmekaar stort en die manskappe kan oorklim, elkeen reguit vorentoe."
Toe skreeu die manskappe en die ramshorings blaas. Net toe die manskappe die ramshorings hoor, het hulle die aanvalskreet hard uitgeskreeu. Toe stort die mure inmekaar en die manskappe gaan oor, die stad in. Hulle het die stad ingeneem. 

Wow, kan jy jou indink hoe dit moes wees? Wie sou kon dink dat die finale kishou op hierdie manier geslaan sou word? Hulle het nie nodig gehad om aan daardie mure te raak nie. Kan jy sien wat die Here bedoel het toe Hy sê: “Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie”? Ek dink baie kan saam met my getuig dat die oorwinning op ‘n totaal ander manier gekom het as wat hulle gedink het. Ons probeer krisisse se uitkoms manipuleer op ons menslike manier, maar God wil jou krisis op ‘n Goddelike manier oplos. Ek dink net ons moet nie haastig raak nie, en nie probeer inmeng nie. Ek is oortuig dat dit wat die Here vir ons almal beplan, is oorwinning oor die woestyn tyd, om ons Kanaän in te neem, om die einde van ‘n swaar pad te bereik. Maar dit vra vertroue, vasbyt, dalk nog bietjie wag … 

Die lekker kom as ons daardie melk kan drink en heuning kan eet. En dan nog boonop te kan terugkyk en sien dat die vasbyt die moeite werd is. Weet jy dat by verre die meeste mense ernstige gesondheidsprobleme oorwin? Die meeste wat hulle werk verloor het (soos ek .. twee maal), is uiteindelik beter af.  Die meeste mense wat deur erge trauma gaan, eindig tog eventueel weer gelukkig. Die meeste rebelse tieners word pragtige, verantwoordelike jong mense. Die meeste mense wat erge finansiële uitdagings in die gesig staar, eindig okei. In ál hierdie gevalle is die woorde “die meeste” van toepassing. 

Jy IS mos ‘n kind van God, jy HET mos ‘n voordeel om God te ken, jy HET mos Iemand om op staat te maak. Jy KAN mos Sy beloftes glo. Jou Kanaän wink, moet asseblief nie voor die deur omdraai nie.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)