VOETE WAS

 
Kom saam met my op 'n verbeeldingsvlug. Ek en jy en 'n klompie ander mense sit en kuier om 'n tafel. 'n Baie deftige etenstafel. Ons almal lag, gesels, skerts, vertel stories en kuier 'n storm los. Die gasheer en gasvrou is hooggeplaaste mense, belangrike mense, mense van aansien en hulle bly in 'n mansion. Die duurste meubels, en alles is net van die beste. Mev. Gasvrou dartel rond om almal gelukkig te hou en manlief vertel van sy groot saketransaksies, buitelandse beleggings en eiendomme oor die hele wêreld. Jy kan hom ook deur 'n ring trek met sy ontwerpersklere, 'n man van statuur wat respek afdwing met elke woord wat hy sê. 

Dan, skielik, bly hy stil, kyk vir almal en almal kyk vir hom. Hier kom iets! Almal wonder in afwagting wat nou gaan gebeur… 

Dan trek Meneer sy baadjie uit, wikkel sy strikdas los, en trek sy hemp en skoene uit. Maak 'n handdoek om sy lyf vas en gaan buk by iemand se voete. Dan begin hy een se voete was, en die volgende persoon, en die volgende persoon tot almal se voete gewas is. Almal sit in stom verbasing. Hoekom doen hy dit? Gaan hy my voete ook was? 

Joh 12 : 1-7
Voor die viering van die Paasfees het Jesus reeds geweet dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan. Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad. Jesus en sy dissipels was aan tafel. Die duiwel het toe al klaar vir Judas seun van Simon Iskariot op die gedagte gebring om Jesus te verraai. Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan. Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en 'n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. Daarna het Hy water in 'n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het. Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: "Here, gaan Ú mý voete was?" En Jesus antwoord hom: "Wat Ek doen, begryp jy nie nóú nie, maar later sal jy dit verstaan." Maar Petrus sê vir Hom: "U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!" Daarop sê Jesus vir hom: "As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie." Simon Petrus sê toe vir Hom: "Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig." En Jesus sê vir hom: "Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie." Jesus het geweet wie Hom sou verraai; daarom het Hy gesê: "Julle is nie almal skoon nie." Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: "Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. Dít verseker Ek julle: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen."

Só was Jesus Sy dissipels se voete. Jy sal met my saamstem dat mnr. Gasheer van netnou hoegenaamd nie kan kers vashou in terme van sy status nie. Onthou een ding, die hele tyd wat Jesus met Sy dissipels gewandel het vir drie jaar, het hulle gewéét wie Hy is. Hulle het Hom Here, Leermeester en Rabbi genoem. Hulle het Sy wonderwerke gesien, die absolute gesag waarmee Hy te werk gegaan het.

Daar aan tafel trek Hy sy bokleed uit en maak 'n handdoek om Hom vas en begin om Sy dissipels se voete te was. Ek wonder wat hulle gedink het. Wat sou jy dink? Sou jy dit sien dat Hy Homself verneder het, of stem jy saam met my dat dit 'n gróót man is wat bereid is om so-iets te doen? Ek sien in hierdie handeling 'n persoon wat presies weet wat Sy status is en weet onder watter gesag Hy werk, en 'n ongelooflike “statement” maak. Wat kan sê: “Ek is groot genoeg om dit te doen”.

Die diepste daad van nederigheid, wat die grootste daad van gesag demonstreer.

As ek in hierdie gedeelte iets sou soek om hierdie daad te laat sin maak, kry ek dit in vers 1b:
“Hy het Sy eie mense wat in die wêreld is liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste  liefgehad”.
Miskien het Hy so oor die tafel vir almal gekyk met liefde in sy oë en gedink: “Wat sal Ek vandag doen (let wel DOEN) om vir hierdie mense te wys dat Ek vir hulle onvoorwaardelik lief is?” Dan was Hy hulle voete. Jesus, Koning, Oppergesag, Heerser, Skepper, Almagtige. Weet jy wat? As Hy vandag in lewende lywe by jou sou wees, sou Hy presies dieselfde vir jou gedoen het. Glo jy dit?

Joh 13: 6 Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: "Here, gaan Ú mý voete was?"
Dalk sou ek en jy ook sê: “Here, gaan U mý voete was?” Ek wat U gister weereens so bitter teleurgestel het. Ek wat U nog gaan verraai, ek wat U netnou-netnou gaan verloën. Ek met my eie wil wat so min vir U doen. Ek, die hardkoppige ene want soms so 'n goor lewensuitkyk het, wat U kinders soms soos vloerlappe behandel. Voel jy ook soos ek? Ek glo ek sou ook soos Petrus verdwaas gesit en wonder het wat ek gedoen het om dit te verdien. Dan sê Jesus: “trek uit jou skoene”.

Petrus wil dan sommer sy hande en gesig ook gewas hê. Ek glo nie dit was uit arrogansie wat hy dit gesê het nie. Ek dink hy het eerder so bietjie minderwaardig gevoel. Voetewas was slawewerk (en 'n slaaf kon nie gedwing word om dit te doen nie). Miskien het hy gedink hy sal beter voel as Jesus dan méér doen as die slawewerk. Dan sê Jesus : “nee jong, jy is klaar skoongewas, ons stof net gou-gou die voete af, dan is jy weer reg”. Sou jy dalk ook na so 'n sessie so bietjie skaam en ontoereikend voel? Ek sou verseker!

Kan jy sien waar die liefde gedeelte inkom? Daar staan: “Hy het hulle tot die uiterste liefgehad”. Soos Hy ook vir jou en my tot die uiterste liefhet. Verbeel jou hoe Hy met sy paar growwe hande sagkens oor jou voete streel en vryf, hoe Hy die seep tussen jou tone inwerk, en dan afspoel, tot hulle silwerskoon is. Soos jy vir Hom kyk terwyl Hy besig is, sien jy die mees onbeskryflike uitdrukking van liefde is sy oë. In hierdie gedeelte sien ons die mees ongelooflike demonstrasie van liefde opgesluit.

Joh 13 : 14 – 17
As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. Dít verseker Ek julle: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen."

Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel...

Nou kom oud Minister Adriaan Vlok en hy gaan was sy (eens) aartsvyand se voete in die openbaar, en hy vra hom om vergifnis, en mense bespot hom daaroor! Raai vir wie het ek die meeste agting tussen hom en hierdie mense...  Ek sien hom as 'n man uit een stuk. Iemand wat iets doen wat ek sekerlik nooit sal regkry nie. Sou jy dit kan doen?

Jesus sê 'n mooi ding in vers 16. ”n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant ook nie as die een wat hom gestuur het nie”. Liefde maak almal gelyk. En ja, Jesus het tot Judas se voete ook gewas. Moet ek en jy nie ook soms tot die uiterste gaan om liefde en respek vir mekaar te bewys nie?

Wat dink jy gaan gebeur as jy daar by die werk dit sou doen? Ten spyte van jou gesagsposisie. Watter impak sou so 'n fisiese daad nie tot gevolg hê nie? Of wat van jou huishulp of tuinjong? Wel, ek moet eerlik sê, ek sou sukkel! En nee, ek het dit nog nooit gedoen nie. Maar wat dan van manlief of vroulief, of die kinders? Of dalk iemand vir wie jy vieserig is, soos jou buurman of daardie moeilike kollega by die werk?

Kan ek jou sê wat die gevolg sou wees? Die antwoord is in vers 17. “Julle weet dit nou, gelukkig is julle as julle dit ook doen”. 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)