VOETSPORE


Voetspore ... die sigbare merke wat dag vir dag verklap waar ons was. Voetspore in die grond, voetspore in die lewe, merke wat ons agterlaat, soms goeies, soms slegtes. En dan natuurlik die voetspore van ander voor ons. Sommige lank terug, sommige sommer onlangs. Agter wie stap ek en jy aan? Vir wie volg ons? Loop ons op goeie spore of slegte spore? Is ons in die regte rigting op pad?

Kom ons kyk eers na hierdie ding wat ons 'n spoor noem? Ek praat met 'n goeie vriend wat vir my baie insiggewende goed vertel het van spore. Die persoon is 'n veldkenner en hy het vir my 'n klompie goed vertel van spore in die veld.  Daar is 'n klomp dinge wat spore verklap, belangrike inligting wat agterbly in die spoor, bv.

1. Die tipe bok, sy identiteit en miskien ook iets oor sy karakter.
2. Rigting waarheen die dier op pad is en waarvandaan hy kom.
3. Grootte van die dier, selfs soms sy ouderdom.
4. As die grond sag is, sy spoed, en of hy hardloop of loop.
5. Of die dier gewei het en of hy op pad was iewers heen. As die spore naby mekaar is, wys dit dat hy rustig was
6. Of die dier in sy eie territoriale gebied is.
7. Die spore los ook reuk agter - die dier se merk.

Dis 'n klomp goed wat verklap word deur spore. As jy iewers was, bly daar dalk net iets agter. So werk die polisie ook op 'n misdaadtoneel, want iets bly agter, of jy dit glo of nie. 'n Spoor is soos 'n identiteitsboekie, dalk selfs meer werd as 'n foto.

In die verlede het 'n klomp groot geeste diep spore in ons samelewing getrap. Kom ons begin by iemand wat dit regtig goed reg gekry het. Paulus. Paulus wat baie diep, indrukwekkende spore geloop het. Letterlik. Sy sendingreise het gemaak dat Paulus letterlik duisende kilometers afgelê het, die meeste daarvan te voet. Na 2000 jaar weet ons presies waar Paulus was, wanneer hy daar was en hoekom hy daar was. Jy sien, Paulus het nie sy spore probeer doodvee nie, want Paulus het geweet waarheen hy op pad was.

'n Ander groot spoormaker was Moses. Weereens kan ons Moses se spore terugstap en sien waar hy vandaan kom, en waarheen hy op pad was. Moses het voor geloop, en honderde duisende mense het agter hom aangestap. Veertig jaar lank. Die spore wat Moses agtergelaat het, kan vandag met baie akkuraatheid nagevolg word.

Adam se spore het in die paradys begin en buite die paradys geëindig. Adam se spore was veronderstel om net in die paradys te wees ... soos 'n bok wat rustig wei, maar die verkeerde keuse het hom op 'n ander spoor gesit. So kan ons baie Bybelkarakters se spore vandag sien. Maar nie net Bybel persone nie, ook ontdekkingsreisigers, politici, staatsmanne, kerkmanne, ja selfs ruimtereisigers. As jy wil weet of Neil Armstrong regtig op die maan was, gaan soek sy spore.

En so los ons ook elke dag spore. Daar waar ons was, sal iets agterbly. En daar waar ons gaan, sal mense ons volg. Kinders, familie, almal op wie ek en jy 'n invloed het. Waar loop ons, hoe vinnig loop ons, wat is ons rigting, loop ons 'n reguit pad? Is ons die moeite werd om na te word? Ek het al gewonder, waarmee sal ek besig wees as Jesus skielik weer aarde toe kom? Sal ek inderhaas my spore moet doodvee? Of is ek trots om te trap waar ek trap, sodat almal dit kan sien, en ander dit kan navolg. Die spore wat ons trap wys die invloed wat ons in samelewing het. Ons kan natuurlik ook verkeerd trap. Soos hulle sê, "ek het nie 'n voet verkeerd gesit nie", kan natuurlik dalk nie waar wees nie. Soos bv. om ander te vertrap. Om mense emosioneel, of fisies, te verwoes. Soms is die enigste voetspore wat ons maak, dié teen die korporatiewe leer op. Soms is dit haastige spore. Is dit nie ironies hoe mense kan jaag nie - asof ons ons lewe lank moet weghardloop, vir wat weet ek nie. Dalk moet ons stop en net 'n bietjie rustig wei, daar in ons eie territoriale gebied. Daar rondom die kinders, sodat ons goeie spore vir hulle kan agterlaat om te volg. Nie net daardie spore op die kar se pedale op en af werk toe nie. Kom ons loop waar dit die moeite werd is.

Hoe sal ons weet waar om spore te laat, as ons nie goeie spore volg nie?

Luk 9 : 57 - 62
57 Terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: "Ek sal U volg waar U ook al gaan."
58 Toe sê Jesus vir hom: "Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie."
59 Aan 'n ander een sê Hy: "Volg My." Maar hy antwoord: "Here, laat my toe om eers terug te gaan om my pa te begrawe."
60 Toe sê Jesus vir hom: "Laat die dooies hulle eie dooies begrawe, maar gaan verkondig jy die koninkryk van God."
61 Nog een het gesê: "Ek sal U volg, Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet."
62 Toe sê Jesus: "Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie."

In hierdie stukkie is die boodskap van Jesus so eenvoudig. Volg My, los alles, onvoorwaardelik. Jy sien, Jesus los vandag nog spore agter. Met tyd raak 'n bok se spore weg, want die wind waai dit toe. Om dus in iemand se spore te volg, moet jy baie naby aan Hom wees. So moet ons ook vir Jesus volg. Loop kort op Sy hakke, styf teen Hom. Laat ons voete op die spoor val die oomblik as Hy Sy voet oplig. Waar het Jesus se spore gestap? Jesus het met die Via Dolorosa tot by die kruis gestap. Daar op die kruis het Hy die diepste spoor denkbaar getrap. Daar waar die Satan vertrap is. Daar op die kruis het Jesus die sleutel gelos vir ons pad hemel toe.

Maar Jesus se spore stop nie by die kruis nie, want Hy het opgestaan. Sy spore gaan tot in die hemel. En ons spore gaan of dáár stop, of in die verderf. As ons agter Jesus aanstap, kan ons net op die regte plek beland. Dan kan ander maar gerus agter ons aanstap, want dan loop ons spore nie vreemde of slegte draaie nie.

Jesus se spore is baie duidelik, dis diep getrap in die samelewing. Die diepste herkenbare spoor is die kruis - ons baken. Kom ons hou op dwaal. Stap in Sy spore, hou jou oog gerig op Jesus, dit sál die regte pad wees.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)