Wat
is die grootste en goorste krisis wat jou al getref het? Waar in jou
lewe het die onaangenaamste ding denkbaar jou getref? Of is jy
vrygestel van alle vorms van swaarkry, teenspoed of moeilikheid? Ek
twyfel. Ek dink ons elkeen het iewers al in iets sleg beland. Hetsy
jy dit oor jouself gebring het, of dat dit deur iemand anders
teweeggebring is. Nou ja, daar is ‘n goeie spreekwoord daarvoor:
wanneer die pawpaw die fan strike, in Afrikaans vertaal: wanneer die
volstruis in die windpomp invlieg. Kan jy daardie dag onthou? Of dae?
Of tydperk? … toe die volstruis in jóú windpomp ingevlieg het. Dalk
was dit trauma a.g.v. lewensverlies, of toe jy hoor jy het kanker,
of toe jy in hegtenis geneem is, of toe jou man of vrou jou met ‘n
hamerhou tussen die oë klits deur te sê: “ek is klaar met jou, ek
wil nie meer voortgaan nie”. Onthou jy hoe dit gevoel het of jou
lewe in skerwe spat? Bitter onlekker… toe dit voel of alles inmekaar
val, en niks meer sin maak nie. Onthou jy hoe jy gevoel het, die
sukkel om dit te verwerk, daardie onbeskryflike bang, die gevoel dat
niks is in beheer is nie. En … as dit nog nie met jou gebeur het
nie , wees dankbaar, baie dankbaar. Party sal dit dalk vir altyd
vryspring. Maar … ongelukkig, vir party kan ons sê: “the cheque is
in the mail”. Het jy ‘n “survival kit” gereed vir daardie dag?
Wat sê die Bybel van die
volstruis-in-die-windpomp-dae? Praat die Bybel enigsins oor moeilike
tye, of glo jy die mense wat so roekeloos sê dat slegte goed nooit
met Christene kan gebeur nie?
Ps 23
Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen
weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe
krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. Selfs al
gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by
my. In u hande is ek veilig. U laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl
my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos 'n eregas, ek word
oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my
bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van
dae.
Klink hierdie Psalm na een wat nét voorspoed uitbeeld?
Of maak dit ook voorsiening vir moeilike tye? “Selfs al gaan ek deur
donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U
hande is ek veilig.” Hoor wat sê vers 1: “Die Here is my herder, ek
kom niks kort nie”. Daar staan nie “ek het alles in oorvloed” nie,
daar staan “ek kom niks kort nie”. Daar is nogal ‘n verskil. “Ek kom
niks kort nie”, klink vir my na tevrede wees met my omstandighede en
situasie.
Vir Job was dit ‘n GROOT volstruis, en ‘n woeste windpomp … miskien
was daardie volstruis boonop swanger … met ‘n eier! Groot probleme
wat hom getref het. Hy het alles verloor, diere, besittings, slawe,
kinders, en later tref die allerverskriklikste siekte hom.
Job 1:20-22
Toe het Job opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook sy hare
afgeskeer. Daarna het hy op die grond gaan lê en gesê: "Sonder iets
het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here
het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here." Onder
alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.
Die Here het gegee, en die Here het geneem. Prys die
Naam van die Here. Hoe hou jy daarvan? Toe die hare waai (of is dit
nou die vere daar in die windpomp?), toe prys hy die Naam van die
Here. Die Here laat die ergste dinge denkbaar toe in Job se lewe,
maar Job sê: “Prys die Naam van die Here”. “As ons die goeie van God
aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” (Job 2:10). Kan
jy die Here prys daar waar jy in sak en as sit? Op die ashoop?
Sonder werk? Besig om te skei? In die gevangenis? Sonder ‘n sent op
jou naam? By die graf van ‘n geliefde? Kan jy sê: “Here, niks werk
uit nie, maar ek prys U Naam”?
Hab 3:17-19
Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde
wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die
beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal
ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak
my voete soos dié van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig
loop.
In sy boekie “Prison to Praise” sê Merlin Carothers
jy moet net aanhou om die Here te prys, ongeag die omstandighede. Jy
kry nogal ‘n interessante perspektief op jou probleme as jy dit
begin doen, want dan erken jy dat die Here steeds (of liewer juis)
in die prentjie is. Want jy besef eers dat die Here al is wat jy
nodig het, as Hy al is wat jy oorhet. Dan erken jy die feit dat Hy
steeds groter is as die probleem.
Jes 41:10
Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie
bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek
hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.
Hy is daar. Nóú. Ten spyte van… al voel Hy ver. Die
lewe is ‘n snaakse plek - dit gaan vir dekades lank goed, en dan een
dag, styg daar ‘n volstruis op. Eintlik lanseer hy, en dan is dit
nag! Die menslike natuur is om uit te roep: “Waar is U, Here?” So
asof die Here weg is. Maar, as jy Hom prys en loof, gee jy erkenning
aan die feit dat Hy dáár is, dat Hy in beheer is, dat Hy jou vashou
en versterk.
Toe ons kinders was, het ons elke jaar gaan vakansie
hou by Illovo aan die Suidkus, met so ‘n groot, groen seiltent. Ons
het menige maal aan daai tentpale gehang soos vinke as daar ‘n storm
opkom. Al wat jy moes doen, was om verbete te klou tot die storm
bedaar het. En dis wat ek en jy vandag moet doen: staan vas, kap
hakke in die grond in, anker jouself aan Jesus met sterk toue van
geloof, en klou verbete. En weet een ding: dit maak nie saak hoe
woes die storm woed nie, as jou geloofs-ankertoue sterk is, gaan
niks jou omdop nie, want Jesus wat jou anker is, gaan nêrens heen
nie. Maak nie saak of jy self verantwoordelik is vir die storm nie,
Hy bly die anker. As dinge ondraaglik raak, bly Hy steeds die anker.
As dit voel of die toue enige oomblik gaan breek, hou aan glo, dan
word daai toue net dikker en sterker. Intussen: prys die Naam van
die Here. Dis in hierdie tye wat jou kennis van God toeneem, veral
as jy antwoorde in Sy Woord gaan soek. Jy sal nie weet hóé sterk die
anker is as jy hom nog nie getoets het nie.
En weet jy, eendag sal jy opkyk na die windpomp, dan
is alles heelgemaak, skoongemaak, geverf, en ‘n ligte briesie waai
die lemme rustig in die rondte. Dan sal jy kan terugkyk en Hom prys.
Omdat hy dáár was, omdat Hy in beheer was, omdat Hy jou geleer het,
omdat Hy jou vasgehou het, omdat Hy jou deurgedra het. Prys Hom
omdat jy wéét dat Hy volgende keer weer daar sal wees.
|