| 
			
  Ek 
			hoor een Sondag 'n boodskap – eintlik die plan - van 'n jong man wat 
			'n jeugwerker in 'n gemeente is. Hy ry onlangs deur Sunnyside en 
			besluit daar en dan dat hy vir 'n jaar daar moet gaan bly. Tussen 
			verval, prostitusie, tussen misdaad, tussen armoede en swaarkry. 
			Vele mense sê vir hom hy moet gek wees, maar hy het gevoel hy kan 
			nie mense bedien as hy nie hulle situasie verstaan nie. 
			Nou  wil ek vir jou vra: Kan ons vir ons stad en land 
			bid, die werk van die Here doen en 'n verskil maak as ons nie 
			verstaan nie? Ek raak so ontsteld en opstandig oor teologiese 
			strominge wat deesdae so flink opskiet soos paddastoele. EK verbeur 
			seën omdat EK nie dit en dat doen nie, en omdat EK nie sus of so glo 
			nie, en omdat EK nie sus of so saai nie. En EK moet gou-gou tot 
			bekering kom, want die eindtye is nou hier. En EK word siek en bly 
			arm omdat EK nie hierdie of daardie rituele uitvoer nie, en EK word 
			teruggehou omdat daar iewers 'n beeldjie in my laai lê. En dis 
			natuurlik ook hoekom EK die een kwaal op die ander kry, En ja, my 
			voorouers wat aan snaakse goeters behoort het, maak dat EK nie 
			vooruitgaan nie. EK EK EK. MY finansies. MY gesondheid.   
			Ja wel, sommige van hierdie goed hou 'n element van 
			waarheid in, maar dit klink so bietjie na hierdie eie-ek-teologie. 
			Kom ek deel hierdie skrifgedeelte met jou wat Jesus se hart 
			weerspieël. Jesus-teologie...   
			Matt 25 : 31 – 46"Wanneer 
			die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, 
			sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. Al die volke sal voor Hom 
			bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos 'n 
			wagter die skape van die bokke skei. Die skape sal Hy regs en die 
			bokke links van Hom laat staan. "Dan sal die Koning vir dié aan sy 
			regterkant sê: 'Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die 
			koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. 
			Neem dit as erfenis in besit, want Ek was honger, en julle het My 
			iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te 
			drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was 
			sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My 
			verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.' Dan sal dié wat die 
			wil van God gedoen het, Hom vra: 'Here, wanneer het ons U honger 
			gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? En wanneer 
			het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en 
			vir U klere gegee? Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en 
			U besoek?' En die Koning sal hulle antwoord: 'Dit verseker Ek julle: 
			Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van 
			My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.' "Dan sal die Koning vir 
			dié aan sy linkerkant sê: 'Gaan weg van My af, julle vervloektes! 
			Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, 
			want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was 
			dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; Ek was 'n 
			vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en 
			julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het 
			My nie versorg nie.' Dan sal hulle ook antwoord: 'Here, wanneer het 
			ons U honger of dors of 'n vreemdeling of sonder klere of siek of in 
			die tronk gesien en U nie gehelp nie?' En Hy sal hulle antwoord: 'Dit 
			verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie 
			geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen 
			nie.' En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die 
			wil van God gedoen het, die ewige lewe."  
			DIT... is waar die tekkie die teer tref. Die basiese. 
			Jesus-teologie. Back to basics, daar waar dit regtig saak maak. In 
			hierdie gedeelte lees ons van die plekke waar Jesus uitgehang het: 
			tussen die tollenaars en die armes, die siekes en die prostitute, 
			daar waar mense swaar kry in die tronk. Dit was vir Jesus belangrik. 
			Nie hoeveel van hierdie nuwerwetse rituele jy uitvoer nie. Nie hoe 
			jy sekere dinge vier, of nie vier nie. Nee, Jesus praat hier van die 
			wat honger en dors is, van die wat arm en siek is, van die dakloses 
			en dié in die tronk. So in 'n neutedop: die uitgeworpenes. Nou 
			verstaan ek hoekom Ryno in Sunnyside wil gaan bly. Om te verstáán 
			hoe dit is waar die nood op sy hoogste is.   
			Ons is betrokke by die vrouegevangenis. Dikwels kom 
			mense by ons en vra om toegang tot die gevangenis te kry, want hulle 
			wil vir die mense daar gaan bid, en hulle beraad en ophef, en 
			goetertjies invat om hulle lewe beter te maak. Dan sê ons dis reg, 
			maar jy moet eers vir 'n tydperk vir 'n gevangene skryf en so nou en 
			dan vir haar gaan kuier, sodat jy kan verstaan hoe dit daar is. 
			Dan... poef ... verdamp hulle soos mis voor die son.  Want dit is 
			mos nou nie “glamorous” genoeg om net vir iemand te skryf nie, wie 
			wil nou net DAARVAN getuig?   
			Jy ken mos die sêgoed soos, sluit hulle toe en gooi 
			die sleutel weg! Dis mos in elk geval 'n vyfster hotel. Ja, totdat 
			jou kind of jou ma daar beland. Dan sing mense vinnig 'n ander 
			deuntjie. Gebeur gereeld hoor! 
 Waar hierdie persoon dan nou vra: “Wanneer was U honger, of dors, of 
			'n vreemdeling?” Dan sê Jesus:- “Sover jy dit aan die geringstes 
			gedoen het...”.
 
			
			 Matt 
			5 : 13 “Julle is die sout vir die aarde...”. Sout, wonderlike 
			smaakmiddel. Maar sout wat in 'n soutpot bly beteken absoluut niks. 
			Dis eers waar dit so bietjie uit sy dop kruip dat dit iets beteken. 
			Ons wil so graag hierdie wêreld verander, maar ons 
			wil nie eers probeer verstaan nie. Oordeel en veroordeel, vingerwys, 
			verdoem, daarmee hou ek myself graag besig; maar om te verstaan gaan 
			dalk net 'n ding of twee van my vra.   
			Hier is vir jou 'n uitdaging:- 
			Is jy bereid om net vir een uur van jou lewe tyd en 
			moeite op te offer, om te gaan doen wat Jesus gedoen net? Sal jy 'n 
			paar vriende bymekaarkry en een aand deur die middestad gaan loop en 
			“prayer walking” doen? Gaan stap in Pretorius straat verby die RGN 
			gebou, en kyk hoe die mense soos sardientjies ingepak op die 
			sypaadjies slaap. Hy rol homself saam met sy persoonlike besittings 
			in 'n kombers toe, en dan in 'n stuk plastiek, en so slaap hy op die 
			sement. Hoekom? Want daar is geen ander plek nie.   
			Of, gaan stap in Esselenstraat of Kerkstraat in 
			Arcadia waar die prostitute besig is. Jong meisies wat hulle liggame 
			verkoop. Pragtige jong meisies met ongelooflik baie potensiaal. 
			Miskien kry jy die moed bymekaar om vir een te vra hoekom sy dit 
			doen. Oppas net vir die antwoord! Dalk sê sy vir jou iets soos: “Ek 
			het nog nooit in my lewe liefde geken nie. My ouerhuis is 'n gemors. 
			Al wat ek ooit van my ouers gekry het was geld. Ek het verslaaf 
			geraak aan dwelms, en nou besit die Nigeriërs my. EK HAAT ELKE 
			OOMBLIK VAN HIERDIE AFBREKENDE, SINNELOSE BESTAAN, en oorweeg elke 
			dag selfmoord”.   
			Wat sou Jesus doen as Hy so deur die stad sou stap? 
			Sou Hy hulle verwerp en Sy rug draai? Of sou Hy met deernis na hulle 
			toe uitgereik het? Dis dalk van hulle wat Hy sê: “Ek was honger, 
			dors, eensaam, siek, uitgeworpe, en julle het niks gedoen vir My nie”. 
			Sovêr julle dit aan een van hierdie geringstes gedoen het...  
			 
			Jy sien, Jesus se voorskrifte sluit bitter min van 
			hierdie “eie ek” dinge in. Al hierdie wettiese, godsdienstige reëls 
			wat ons deesdae so baie van hoor. (Dis nou as jy die DVD gekoop 
			het). Alles tot voordeel van my eie voorspoed… ?   
			Ek dink Jesus soek ons so nou en dan daar by Sy 
			werkplek, dáár tussen die gebrokenes. Dáár by Sy kinders wat so 
			oneindig swaarkry en gebuk gaan onder die slegste denkbare 
			omstandighede. 'n Lamp onder 'n emmer kan net sowel afgeskakel wees, 
			en sout in 'n soutpot kan net sowel sand wees, dit beteken niks. 
			 
			Jy sien my vriend, ons kies graag om eerder te 
			veroordeel wanneer ons met hierdie realiteite gekonfronteer word, 
			want dan hoef ons niks te doen nie. Maar Jesus het dit nie een keer 
			gedoen nie. Hy het altyd uitgereik, genees en graag die mense 
			aangeraak. Selfs die melaatses. Jesus het ware Christenskap 
			uitgeleef deur dáár te wees. Hy het nie lang afstand (per e-pos) 
			bedien nie, Hy was dáár.   
			Ons, daarenteen, verkies nogal graag 'n lekker 
			gemaklike vorm van Christenskap, wat tot ons eie voordeel moet 
			meewerk. Ons vertel mekaar hoe ons ons regte moet opeis, en goeie 
			goed oor onsself moet uitroep, en ons wil gereeld vir die Here aan 
			Sy beloftes herinner om ons nog bietjie meer te seën. So asof ons 
			nie al trommeldik geseën is nie!   
			Wil jy weet heoveel seën jy het? Gaan loop dan so 
			bietjie tussen mense met wie dit so 'n porsie slegter as met jou 
			gaan. Het jy geweet dat bykans die helfte van die wêreldbevolking 
			nie permanent toegang het tot 'n toilet nie?  Ek is bevrees dat 
			godsdienstige rituele en gelofies besig is om ons Christenskap te 
			definieer, en ons mis die punt.   
			As jy wil weet hoe dit lyk daar waar die tekkie die 
			teer tref, moet jy jou tekkies op die teer kry. Dis wat Jesus gedoen 
			het.
 |