Waar
woon die Here? Waar is Sy huis? Sy hoofkwartiere? Waar beplan Hy Sy
strategie? Hoe lyk Sy kantoorure? Het Hy 'n oopdeur-beleid? Het Hy
'n klompie raadgewers nodig om Hom by te staan met besluite?
Wel, ek dink ons as mense lei nogal aan hierdie ding
dat ons glo ons kan die Here beperk tot 'n plek, 'n denkrigting, 'n
seker metodiek, 'n vaste uitkyk op die lewe. Ons probeer die Here so
maklik beperk tot ons gedagte wêreld. Maar... waar is Sy huis?
2 Sam 7:1–11
Toe koning Dawid in sy eie huis woon, nadat die Here hom rus
gegee het van al sy vyande in die omgewing, sê hy vir die profeet
Natan: "Kyk, ek woon in 'n huis wat met sederhout versier is, maar
die ark van God staan in 'n tent." Natan het die koning geantwoord:
"Doen gerus alles wat u in gedagte het. Die Here is by u." Dieselfde
nag het daar egter iets gebeur: die woord van die Here het tot Natan
gekom en vir hom gesê: "Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die
Here: Wil jy vir My 'n huis bou om in te woon? Vandat Ek die
Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in
'n huis gewoon nie. Ek het in tent en tabernakel rondgeswerf saam
met al die Israeliete. Het Ek ooit vir een van die stamme wat Ek
beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: 'Waarom
bou julle nie vir My 'n huis wat met sederhout versier is nie?' "Nou
moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek
het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk
Israel te heers. Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou
vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak
soos die grotes op die aarde. Ek het 'n woonplek aan my volk Israel
gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon.
Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen toe Ek leiers
oor my volk Israel aangestel het nie. Ek sal jou rus gee van al jou
vyande. Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou 'n koningshuis gaan
vestig.
Lyk my Dawid het met dieselfde ding gesukkel. Hier lê
Dawid een aand knus in sy bed en wonder so oor al die weelde van sy
bestaan, en rus na 'n stywe dag by die werk. Klink of hy 'n lekker
sarsie oorlog gevoer het en heerlik uitrus na so 'n paar
swaardgevegte. Toe dink hy so by homself: “My jitte, hier lê ek in
my huis (paleis), versier met sederhout, maar die Here moet tevrede
wees met 'n plekkie in 'n yskoue, onpersoonlike tent. En woeps, daar
kom die skuldgevoelens. Ek in my paleis, God in 'n tent. Tipies
koning Dawid, besluit hy sommer daar en dan dat hy gou 'n plan sal
maak, sal sommer dadelik die planne laat optrek. Plaas dat hy
daaraan dink om die Here in sy eie huis (of hart) in te nooi, wil hy
Hom as buurman hê. Ek wonder nogal presies wat hy in gedagte gehad
het. Moes die huis dan nou groter, en weelderiger wees as sy eie
huis, of min of meer dieselfde? 'n Groot huis met die verbondsark
in. Lyk my hy het so half gedink die Here se bestaan is beperk tot
die verbondsark.
Waar woon die Here? Toe Dawid nie mooi weet wat om te
doen nie, wend hy hom tot die profeet Natan. En Natan, soos talle
sogenaamde “profete” vandag, sê sommer die eerste ding wat in sy kop
opkom. “Doen gerus alles wat u in gedagte het, die Here is by u”.
Klink tog so bekend, of hoe? Mense gee so maklik ondeurdagte raad
wat goed sal klink in 'n bepaalde situasie, sonder om te gaan hoor
by die Here, sonder om te gaan bevestig. Terwyl Dawid so lê en
planne bedink, gebeur 'n snaakse ding. Die Woord van die Here kom
tot Natan in sy slaap. (2 Sam 7:4-5) Toe Natan stil word voor die
Here, en homself instel op die stem van die Here, toe hoor hy dit.
Stilword, wag, luister. Net so moet iemand wat waarlik die gawe van
profesie het, gaan bevestig of sy gedagtes van die Here kom.
Bevestig by die Here, bevestig by ander mense, bevestig in die
Skrif.
Toe besluit die Here Hy gaan vir Dawid iets mooi laat
verstaan; Hy woon beslis nie in 'n tent nie, of in die verbondsark
nie! Hy is nie beperk tot strukture nie. Hy woon in en by
Sy kinders. Hy het saam met hulle rondgeswerf in die woestyn. Hy was
heeltyd daar. Hy sê in vers 6: “Ek het nog nooit in 'n huis gewoon
nie”. Hy woon in ons, en ons in Hom. Vir altyd.
Waar woon die Here? In Sy kinders, en hulle in Hom.
Vers 9 sê :- “Orals waar jy gegaan het, was Ek by jou”.
Eintlik nogal vreesaanjaend as mens so daaraan dink. Dawid, die Here
was by die Israeliete in die woestyn, Hy was by die Israeliete in
die oorlog, elke oomblik. Dawid, Hy was by jou toe jy op die balkon
vir Batseba afgeloer het. En ook toe jy haar in jou kamer ingebring
het. Hy was by jou toe jy vir haar met wellus gestaan en bekyk het.
Hy was verseker nie in die tent toegezip nie. Hy was by jou Dawid,
selfs toe jy haar man laat vermoor het. As ons werk toe gaan, en as
ons daar droogmaak, Hy is dáár. Hy sien alles, beleef alles, hoor
alles, Hy is alomteenwoordig! Hy is nie beperk tot 'n plekkie waar
Hy toegemaak kan word nie. Orals, altyd, en ja, natuurlik het sy
tempel, die kerk, 'n besondere plek in ons Geestelike lewens en
Geestelike groei. Dis 'n spesiale plek vir aanbidding met mede
gelowiges, plek vir koinonia met ander Christene. Maar... dis nie
ons primêre ontmoetingsplek met die Here nie. Ons kan Hom nie Sondae
agterlaat in die kerk, die deur toesluit, en doen wat ons wil nie.
Ps 84:1–6
Vir die koorleier: met musiek. Van die Koragiete. 'n Psalm. Hoe
lief het ek u woning, Here, Almagtige!Ek versmag van verlange na die
tempel van die Here; met alles wat ek is, wil ek jubel oor die
lewende God. Selfs 'n mossie het 'n nes en 'n swaeltjie 'n plek vir
haar kleintjies daar by u altare, Here, Almagtige, my Koning en my
God! Dit gaan goed met mense vir wie u huis 'n tuiste is: hulle hou
nie op om U te prys nie. Sela. Dit gaan goed met mense wat hulle
krag in U vind en graag na u tempel toe gaan.
Wonderlike plek, of hoe?
Waar woon die Here? In ons en by ons, altyd, ten
spyte wat omstandighede. Dawid wou vir die Here 'n huis bou, maar in
vers 27 staan daar: “Here, Almagtige, God van Israel, U het
nadruklik vir U dienaar gesê: “Ek sal vir jou 'n koningshuis vestig,
en daarom het U dienaar die vrymoedigheid gehad om hierdie gebed tot
u te rig”.
Dawid het nie vir die Here 'n huis opgerig nie, die
Here het vir Dawid 'n koningshuis opgerig. Net so is die Here se
woonplek vandag steeds in ons. Waar Hy gaan, sal ek gaan, wat ek
doen sal Hy sien, wat ek dink, sal Hy weet.
Dan gee Hy spesifieke opdragte van wat Hy verwag:
1 Kor 3:16–17
Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees
van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God beskadig,
sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel
is julle.
Ek dink die gedeelte in 2 Sam sê vandag vir ons:
Moenie My jou buurman probeer maak deur my in 'n ander huis langs
jou te laat woon nie. Ek sal sommer in jou hart My intrek kom neem,
Ek is nie ver nie, Ek is by jou en in jou, selfs in jou woestynpad,
en in jou oorlog, jou swaarkry en jou moedeloosheid. Ek wil die
Eregas wees in jou tempel. As jy My soek, soek in jou hart, en as jy
My nie daar kry nie, doen wat Openbaring 3: 20 sê:- “Kyk, ek
staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor, sal Ek by Hom
ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My”.
Daar by die kerk sal ons Hom kry, saam met ons
medegelowiges. In die tempel het Jesus, Petrus, Paulus en ander
dissipels die mense gaan leer. Die kerk is 'n wonderlike plek, dis
'n plek vir saambid, dis die plek waar ons lofsange weerklink. Ps
22:4 sê: “U is tog die Heilige wat woon waar die lofsange van
Israel weerklink”.
Jy sal Hom orals kry, daar in die nag in jou bed waar
jy tot rus kom, dis die plek wat die samesyn met Hom baie baie
intiem kan wees. Jy sal Hom in jou huis kry, as jy Hom toelaat.
Altyd, orals. Geniet Sy geselskap!
|