WAAR WOON DIE LIEFDE?


Waar woon die liefde? Wat is liefde? Hoe kan dit beskryf word? Kan jy daaraan raak? Kan jy die liefde sien? Ruik? Hoor? Liefde … ‘n wonderlike ding. Almal praat daarvan. Smag daarna. Hunker daarna. Baie flieks word daaroor gemaak. Mmm … klink so lekker op die tong. Die liefde. Maar, waar is dit? Loop jy in ‘n vertrek by jou huis in – dis nie dáár nie. Ry jy in die straat – dit ontbreek ook daar. Selfs langs die stille rivier stroom, daar is niks liefde te vind nie. Klim jy op die hoogste berg en kyk na benede, sien jy niks liefde nie. In die mooiste natuurskoon, waar ‘n sagte briesie waai, en die heerlikste aroma amper tasbaar is, dáár is ook niks liefde nie. Klim in ‘n vliegtuig en kyk verby die aarde se rondings – dis ook liefdeloos. Tuur met ‘n teleskoop in die buitenste ruimte in, sien die planete se pragtige ringe, die mees kleurvolle gas stapels wat miljoen ligjare toring – jy soek verniet hier na liefde. Ja, selfs in die mikroskopiese organismes wat volmaak georganiseer is, is daar niks, heeltemal niks liefde nie.  Die liefde kruip nie in ‘n stoorkamer weg nie, lê nie in die woorde van boeke opgesluit nie, nie in die prag van goud en edelgesteentes nie. Dit lyk my die liefde het ‘n manier om sy lyf skaars te hou as jy op die verkeerde plek kyk. Steek iemand dit dan weg? Kry jy daarvan in ‘n vinnige motor? Is dit miskien verborge in ‘n banknoot? Of kan jy dalk selfs bietjie daarvan koop met jou kredietkaart? Waar op aarde is die liefde?

1 Kor 13
Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks. Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak. Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik, maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees. Toe ek 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind. Maar noudat ek 'n man is, is ek klaar met die dinge van 'n kind. Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!
 

Wow, een van die mooiste gedeeltes in die Bybel. En die grootste hiervan is die LIEFDE! 

Hoe hard ek ook al deur hierdie gedeelte gelees het, hoe goed ek dit ook al bestudeer het, ek kon niks daarvan kry wat ons netnou genoem het nie. Ja, my hond, Lullu, is baie liefderik … maar dis ook al. Selfs in 1 Kor 13 kry ek steeds nie ‘n greep op hierdie ding wat ons liefde noem nie. Ek wil só graag “liefde” aan sy handvatsels beetkry en dit beskou, daaraan ruik, in my hande ronddraai, daarmee speel soos met ‘n bal – maar ek kan nie! Lyk my die liefde is nou maar eenmaal ontasbaar, onruikbaar, onsigbaar. Wat is dit dan? As ek dan nie 1 kilogram liefde kan bekom nie, waar gaan ek dit dan kry? Waarvoor sal ek vra? Waar sal ek daarvoor vra? Vir wie? Waar is die liefdeswinkel? Sjoe … ek kan amper vra: “bestaan die ding ooit?” Moet wees, want die Bybel sê so. 1 Kor 13:4-7: “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”

Paulus beskryf dit as ‘n entiteit as hy die liefde “DIT” noem. So kom ek by die ontdekking dat jy liefde net op twee plekke gaan kry, en dis in God (1 Joh 4:8: “Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde”) en in die mens. Jippie! Daar ontdek ons die bron en die stoorplek – dit is in God en in die mens se hart. Nou kan dit letterlik die wêreld vol loop. Waar daar mense is, sal jy liefde vind. Op die hoogste berge, in die diepste dal, by die mooiste watervalle, fonteine, stroompies … maar ook in die gevangenis en op die oorlogsfront - daar sal jy liefde vind. Die mens is ‘n wonderlike stoorkamer van liefde. 

Matt 22:34-40
Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, en een van hulle, 'n wetgeleerde, het Hom met 'n vraag probeer vastrek. "Meneer," vra hy, "wat is die grootste gebod in die wet?" Jesus antwoord hom: "'Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel' Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: 'Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.' In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat."
 

Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Elke mens op aarde het liefde – selfs die mees geharde misdadiger sal waarskynlik sy ma of sy kind liefhê. Ons kan vra: “Hoe kan iemand dit of dat doen as hy liefde in hom het?” Goeie vraag. Maar weet jy, ons almal is maar geneig om die liefde-stoorkamer soms gesluit te hou.

Miskien ken jy hierdie lawwe storie: Hoe weet jy of jou hond of vrou vir jou die liefste is? Jy maak hulle saam in die kattebak van die motor toe vir ‘n uur of twee. Wanneer jy oopmaak, kyk jy wie die blyste is om jou te sien. Mmm… besluit maar self of dit ‘n weerspieëling van liefde is!

Weet jy, dit lyk partykeer vir my of daar mans is wat hulle honde liewer het as hulle vrouens; hulle kraak hulle kinders meer af as hulle hond; die hond kry meer aandag as die gesin. Siestog man, en die hond gaan nie eens saam met jou oud word nie – hy leef net so 14 jaar … miskien. 

Ons raak soms bietjie verward met die konsep “liefde”. Ek vra baie keer op mannekampe vir die ouens: “Wie is lief vir hulle vrouens?”. Dan steek almal hulle hande op. As ek dan vra: “Wie hou van hulle vrouens?”, dan kom baie minder hande op. Jy sien, 1 Kor 13 sê mooi goete. Vers 5 sê: “Hou nie boek van die kwaad nie” - al gehoor van ou koeie? “Is nie afgunstig nie” – al gehoor van jaloesie? “Soek nie sy eie belang nie” – al gehoor van eie ek? Liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. 

Watter woorde klink mooier as: “Ek is lief vir jou”? Kry jou hart dit nog reg om jou lippe te oortuig om dit uit te spreek? Kan jou oë dit nog regkry om daardie spesiale laserstraaltjies uit te skiet? Kan jou hande dit nog regkry om met ‘n byna magiese aksie iemand te oortuig dat hy/sy spesiaal is? Dra jou lyftaal en aksies nog daardie spesiale aroma deur die lug wat sê: “Hierdie persoon vind my spesiaal”? Is daar ‘n liefdeslied in jou psige wat hoorbaar is sonder dat klankgolwe iemand bereik. Daar is soveel sekuriteit daarin, meer as in miljoen rande. Daar word soveel vrede daardeur uitgedra, ja, ek glo selfs genesing. Wat kan mens lekkerder laat slaap as die wete dat daar mense is wat hierdie onbeskryflike element op jou uitstort. Sonder dat hy eintlik eers daarvan bewus is. 

Iemand is lief vir jou, weet jy? Al dink jy nie so nie. Ja, die Here is onbeskryflik lief vir jou, dit kan jy maar glo. Maar Hy het ook ‘n stukkie van Sy wese in ander se hart uitgestort, wat dit weer op jou uitstort. En so begin die Here ‘n kettingreaksie, en skep een geslag na die ander van liefdes-stoorkamers, om iets van Sy wese oor te dra. Ek hoop jou deur staan oop om te ontvang, en om te gee. 

Kom ek daag jou uit: vat jou selfoon, telefoon of epos en sê vandag vir ‘n paar mense: “Ek is lief vir jou”. Dit sal lekker wees. Vir jou EN vir hulle. 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)