WAARHEEN HOL JY? – 26 Januarie 2010 


Merke, gereed, gaan! En daar gaan jy! Hardloop, so vinnig as wat jy kan. Jy sien hoe die mense langs jou al hoe vinniger hardloop en jy haal alles uit wat jy kan. Paniekbevange gaan krap jy vir elke stukkie energie wat in jou is, al jou oefening, al jou afrigting begin inskop. Die wetenskap van hardloop – wat jy so goed opgeswot het – kom in jou gedagtes. Jy weier om toe te gee aan jou liggaam wat skreeu vir rus. Nog, nog …! En dan kyk jy voor jou uit, maar sien geen wenstreep nie. Dan sien jy die ander mense om jou hardloop nie eens in dieselfde rigting nie. Party hol dié kant toe, en ander daai kant toe. Party stop sommer. Soms is jy alleen, ander kere weer in ‘n bondel. Ai tog, wat gaan aan in hierdie wedloop? 

My vriend, nou vra ek jou vandag: is dit hoe jou lewenswedloop lyk? Waarheen hol jy? Hardloop jy deur hierdie lewe, sonder ‘n doel, sonder oefening, sonder ‘n wenstreep, sonder rigting? Almal hardloop. Sommige is nét in ‘n rat race. Ander hardloop so vinnig in die rondte, dat hulle soms van agter af in hulleself vashardloop! Hulle word net al hoe moeër en kom nêrens nie. Hoe lyk die lewenswedloop waarin jy jouself tans bevind? Toe daai skoot vanoggend geklap het, en jy het begin hol … het jy ‘n wenstreep waarheen jy op pad is? Of voel jy soos ‘n klomp muise in ‘n hok wat net heen en weer hol? Of spring jy soms in jou hamster-wieletjie en hardloop teen ‘n enorme spoed, net om nêrens te kom nie. 

1 Kor 9:24-27 Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. Almal wat aan 'n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om 'n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons 'n onverganklike. Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos 'n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie. 

Pragtige stukkie, né? Almal hardloop, maar net party gaan dit maak. Almal ontsê hulleself allerlei dinge, almal doen dit vir ‘n oorwinnaarskroon, maar net party sal die onverganklike oorwinnaarskroon kry. Hierdie Bybel gedeelte praat nie van die “rat race” nie, dit praat van die uiteindelike wenstreep by Jesus. 

Maar … die rotresies verwar ons in ons wedloop, want dit vat ons fokus weg van die Here af. Dit verwar ons, deur vir ons die voorkoms van die wedloop te verdraai en te verwring. Mense hardloop saam met ons wat nie opregte atlete is nie, ons noem hulle vals profete. Hulle lyk soos regte egte atlete, dra die regte uitrustings, kom professioneel voor, maar trek ons so stadig maar seker in die verkeerde rigting, tot ons naderhand heeltemal af van die regte pad af is.

Terug by die rotresies. Jy mag dalk wen, maar jy bly steeds ‘n rot! 

Ons moet hardloop, want atlete wat nie deelneem nie, kan nie kwalifiseer nie. Vers 27 sê “Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie”. Hardloop jy vir ‘n verganklike of onverganklike kroon? 

2 Tim 4:1-8
Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, want daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend. Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit. Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.

Mense sal vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat vir hulle sal sê net wat hulle wil hoor... Hier hardloop jy, en ‘n ou skuif langs jou in, en jitte, die ou lyk professioneel hoor. In die hardloop praat hy met jou, hy klink só kundig, en jy luister só aandagtig, dat jy naderhand nie besef jy is skoon van koers af nie. Daar is twee tipes van hierdie “vals profete”. Die een groep sal vir jou vertel die wedloop lei na nêrens nie, jy mors jou tyd, daar is geen wenstreep nie, jy kan net sowel stop – dis die ongelowiges. Dis heel maklik om hulle raak te sien as jy ‘n Christen is. Dan is daar die ander groep wat véél gevaarliker is. Hulle maak al die regte klanke, lyk net soos jy, dra presies die regte klere, lyk vreeslik gedetermineerd, haal Bybelverse wild en wakker aan … maar iets is fout, dis daardie “iets” waarvan vers 3 praat: “mense sal die gesonde leer nie meer verdra nie”. Hierdie ou sal vir jou vertel dat jy nooit die eindstreep gaan sien as jy nie eers dit of dat gedoen het nie. Jy sien, dis Jesus plus … Jesus én reg sing, Jesus én sekere rituele, Jesus én sekere manifestasies, en dan vertel hy nog boon-op vir jou dat die duiwel jou om elke hoek en draai gaan vang.  Duiwel se kind gaan oor die volgende hoogtetjie in jou hart inglip. Kom ons noem dit wedloop-konsultante. Hulle is volop – maar vriend, wees versigtig vir wie jy luister. Moenie enige konsultant glo nie. Dis nét Jesus by die wenpaal. 

Kom ons kyk bietjie na ‘n paar goeie reëls vir die wedloop: 

1)     Ken die wenstreep, en weet waar hy is. Konsentreer op jou baan, en hou die wenpaal in die oog.

2)     Enige atleet volg ‘n gesonde dieet. Hy vind die balans waar alles in goeie energie omgesit word. Moenie alles vir soetkoek opvreet wat hierdie wêreld vir jou opdis nie. En as ‘n ander ou vir jou sê hy is ‘n dieetkundige, ondersoek eers sy kwalifikasies. Voed jouself met gesonde leer … die Bybel het alles wat jy nodig het; lees dit SELF.

3)     Oefening – dis mos baie, baie belangrik. Paulus sê: “Ek slaan nie soos ‘n bokser wat sommer in die lug rond slaan nie”. Doen gebalanseerde oefening. Volg ‘n goeie oefenprogram. Woon Bybelstudies en seminare en kampe by, Gaan word stil by die Here, gaan maar gerus kerk toe, doen iets vir ander. Sonder hierdie soort oefening sal jy sommer vinnig uitsak.

4)     Stop beslis ook by die waterpunte – skep asem, drink by die fontein van lewende water. Gebruik die stilhou-tyd om te oordink, selfondersoek te doen, weer gemotiveer te word.

5)     Afrigting is belangrik. Laat die Meester van wedlope jou self leer. Jesus het enduit gehardloop en gewen. Omdat Hy gewen het, het jy reeds gewen toe jy weggespring het in die wedloop! Koebaai mnr. Wedloop Konsultant, koebaai mnr. Vals Profeet! – ek het julle nie nodig nie, ek het klaar gewen. Nou gaan ek by die wenstreep net my oorwinnaarskroon in besit neem! 
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)