Johannes
18 : 37 - 38
37 "Dan is jy tog wel 'n koning?" vra Pilatus. "Dit is soos u sê: Ek
is 'n koning," antwoord Jesus. "Ek moet oor die waarheid getuienis
aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe
gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê."
38 "Wat is waarheid?" sê Pilatus toe vir Hom. En toe hy dit sê, gaan
hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: "Ek vind geen skuld in
hom nie.
Wat is waarheid, die hele waarheid, die volle
waarheid, en niks anders as die waarheid nie? Is die volle waarheid
van elke saak moontlik om te meet? Hoekom hou ons nie altyd van die
volle waarheid nie? Ja jitte, leuens is ’n lelike ding. Onwaarheid,
lieg, verswyging van feite, jok, wit leuens. Wit leuentjie? Is dit
lieg? Dis mos sommer so 'n onskuldige storietjie; dis darem nie te
erg as ons dit kwytraak nie, of hoe? Las so vier duim by die vis aan
wat ons gevang het. Sny so 'n paar honderd rand af van die geld wat
ons gesteel het. Het jy ook onlangs gelieg? Hoeveel keer verlede
jaar? Gister, dalk vanoggend? Gelieg by die werk, vir die werk, oor
die werk, op jou verlofvorm? En dan daardie ander aaklige vorm - wil
nie eers sy naam noem nie. Ek hoop jy voel nou saam met my skuldig!
Wie van ons kan sê dat ons altyd, onomwonde in die waarheid wandel?
Nou ja, leuens kom sommer van die begin van die
skepping af.
Gen 3 : 4
4 Toe sê die slang vir die vrou: "Julle sal beslis nie sterf nie"
Die eerste wese wat lieg is die slang. "Julle sal
beslis nie sterf nie". Satan, die vader van die leuen is aan die
woord. En die mens val sommer dadelik in en lieg saam. Eva lieg eers
vir haarself, toe vir Adam en toe lieg hulle vir God. Die Here vra
vir Adam, "waar is jy? En Adam sê, "ek het weggekruip". Ook 'n vorm
van 'n leuen. Die uiteinde is 'n ramp vir die hele wêreld. Maar moet
tog nie te hard op Adam en Eva wees nie. As hulle nie gevou het nie,
sou ek en jy beslis.
En hier, in die paradys, begin die mens met 'n
proses om lieg 'n wetenskap te maak. Ons kry dit reg om 'n leuen so
keurig en fyn te vertel, dat hy net mooi perfek lyk. Ons noem dit om
die waarheid te rasionaliseer. Ons glo dan sommer ook self ons
leuens! Klink na 'n bargain, of hoe? Die slim mense sê jy hoef 'n
storie (leuen) net so tien maal te vertel, dan glo jy dit self. En
veral as dit so 'n kleintjie is, of ’n witleuentjie. Weet jy wat is
die kleur van 'n wit leuentjie? Wat sê jy? Wit? Nee - donker, swart,
boos! Onthou jy orrels op die maan? Jy kruis jou vingers en dan maak
dit nie saak as jy lieg nie!
Spr 6 : 12 - 13 "Dit is 'n nikswerd mens, 'n mens
vol onreg, wat altyd reg is om te lieg, om te bedrieg deur met die
oog te knik, met die voet te beduie, met die vingers tekens te gee."
Orrels op die maan? Nee, in die hel! Die Here sê, "laat
jou ja jou ja wees, en jou nee jou nee wees."
Matt 5 : 33 - 37
33 "Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense
gesê is: 'Jy mag nie jou eed verbreek nie, en 'n eed in die Naam van
die Here moet jy nakom.'
34 Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n eed aflê nie, nie by die
hemel nie, want dit is die troon van God;
35 nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie
by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning.
36 Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy 'n eed aflê nie,
want jy kan nie een haar wit of swart maak nie.
37 Laat julle 'ja' eenvoudig 'ja' wees en julle 'nee', 'nee'. Wat
meer gesê word as dit, kom van die Bose."
Pilatus vra toe vir Hom: Wat is die waarheid? Nou
gaan ek 'n lelike ding sê. Dalk gaan jy my kruisig - ek vat dit soos
'n man! Hoeveel waarheid word in 'n hof gepraat? Hoe dikwels ry 'n
onskuldige persoon aan die pen, omdat die regsverteenwoordiger 'n
tegniese truuk getrek het? Ek het al gehoor hoe 'n ma met trots
vertel het dat haar seun (regspersoon) een van die grootste skelms
los gekry het! Dit is ook so dat onskuldige mense soms aan die pen
ry hieroor.
Amos 5 : 10 "Julle haat die wat vir die reg opkom
in die howe, julle verafsku dit wat die waarheid praat!!"
Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? So asof dit
moeilik is om te bepaal wie lieg. Jou storie, my storie, en dan die
waarheid.
Het jy al in 'n vennootskap waar dinge verkeerd loop
die skuldige party ontmoet? Nee, elkeen sal sê dis die ander een se
skuld. Weerhouding van inligting is mos ook lieg! Weet jy wat? God
sien ALLES raak! Altyd!
Sagaria 8 : 16 gee goeie raad:- "Wat julle moet
doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en
die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan
wees."
Die volle waarheid getuig van my integriteit.
Ps 49 : 4 "My mond gaan suiwer wysheid praat, wat
ek gaan sê, sal van insig getuig."
Spr 8 : 7 "Ek praat net die waarheid, ek het 'n
afsku van wat verkeerd is."
Kan die waarheid altyd getoets word? Ja, as ons
verder as die feite kyk.
· As 'n persoon jou nie in die oë kan kyk nie, kan
jy maar weet daar is 'n probleem. Ps 50 : 19 "As jy jou mond
oopmaak, praat jy kwaad, jou tong ryg bedrog aanmekaar." Klink
dit bekend?
· As iemand vreeslik baie moet verduidelik oor 'n saak, lieg hy dalk
vir jou.
· Oneerlike transaksies moet soms vreeslik regverdig word!
· Vra jouself die vraag: Wat dink die Here van hierdie storie?
· Weet iemand dalk iets van hierdie saak wat eerder nie moet uitkom
nie? Wat sal gebeur as daar dalk nog feite aan die lig kom?
· Wek hierdie saak skuldgevoel by my? Oor enigiets?
· Kan dit onomwonde getoets word aan God se Woord? Is daar iets in
die Bybel wat 'n ongemak rondom hierdie saak veroorsaak?
· Is ek bereid dat die lig op hierdie saak val?
· Kan ek oor hierdie saak bid?
Ps 15 : 1 - 5
1 Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u
heilige berg vertoef?
2 Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg is, wat met sy hele
hart die waarheid praat,
3 nie kwaad praat nie, sy medemens nie kwaad aandoen nie en niemand
beledig nie;
4 hy wat dié verag wat deur God verwerp is, maar almal eer wat die
Here dien; wat sy woord hou, selfs tot sy eie skade,
5 sy geld nie op rente uitleen nie en hom nie laat omkoop om die
onskuldige te kort te doen nie. Wie hom hieraan hou, sal nooit
wankel nie.
Dan leef ek in die waarheid, die hele waarheid, en
niks anders as die waarheid nie.
|