WAT MAAK JY MET JOU STREPIE? 

 
Op my grafsteen sal daar seker so iets staan:
RIP 1959 – 2039
Hier rus Willem

(dis nou as ek 80 haal)
 

Mens kry nogal interessante grafskrifte. Ons spot mos altyd met dié een: “Hier lê Meraai, links gewys en regs gedraai”. Een wat ek al gesien het van ‘n motorboot renjaer is: “Hy het gesterf soos hy geleef het”
 

Wat maak jy met jou strepie? Dit is nou daardie strepie tussen die twee datums op jou grafsteen. Wat staan alles geskryf in daardie enkele ou strepie?

Spr 14:12  & Spr 16:25
Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood.
 

Die lewenswyse van party mense is duister.  Mense leef roekeloos, het geen agting vir die dood, gee nie om wat hulle doen nie, tart selfs die dood.  

Ja dit is inderdaad so dat die mens geskep is met die wete dat die dood kom. 

Gen 2 : 19b  “Stof is jy, en jy sal weer stof word”. 

God het die mens met ‘n bepaalde lewensverwagting geskep.  Daar staan geskrywe dat jy 70 jaar oud sal word,  en as jy sterk is 80.  Almal wat gebore is, sal weer ‘n aardse dood sterf.  Maar wat verwag die Here van ons in hierdie relatiewe kort tyd van 70 , 80 jaar?  Hoeveel keuse behoort ons in hierdie tyd uit te oefen ten opsigte van ons lewensstyl?  En kan ons maar net maak wat ons wil?  En aan wie behoort ons in hierdie tyd?  Dit lyk vir my daar is mense wat nie besef dat ons aan God verantwoording moet doen en verantwoordelik is aan ander mense nie - familie, vriende, gesin, ens. mense wat vir jou lief is. 

Spr 15 : 9 Die Here het 'n afsku van die lewenswyse van goddeloses; maar Hy het dié lief wat volgens sy wil lewe. 

Maar tog lyk dit of dit nie net die goddelose is wat hierdie verkeerde lewensstyl aankweek nie.  Kyk maar hoe maklik ons almal die regte dinge net so bietjie buig.  Dalk gaan jy my haat vir wat ek nou gaan sê, maar dink net bietjie: boetes word nie betaal nie, neem deel aan omkopery, ry te vinnig, selfoon op die oor.  ‘n Klomp dinge (ek is self ook skuldig aan party hiervan).  En dan bid ons vir die Here  dat Hy ons asseblief moet seën.  Ek wonder wat dink Hy? 

“Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde is die dood”. 

Ek luister na ‘n gesprek waar ‘n persoon spog met roekeloosheid: 250 km per uur op ‘n motorfiets is alledaags.  Haal ook sommer die nommerplaat af – vir ingeval hy gevang word.  Teen daai spoed ry jy ‘n hele gesin in ‘n motor morsdood.  Daar word met smaak vertel hoe lisensies en boetes verneuk word.  So asof die Here nie hierdie gesprek hoor nie.  Ek ken twee  persone wat so in ‘n ongeluk was en met millimeters die dood gemis het.  Sjoe, ons kan so maklik twee lewens lei, daardie een Sondag waar ons die Here se Naam aanroep en Sy seën oor ons afbid, en Maandag is dit ‘n “Jeckyll and Hyde” storie. 

So ‘n lewe is nie wat die Here vir ons bedoel het nie. Nogal snaaks dat as ons die wet van die Here lees, dan wil ons so graag dit agter ons sit en sê:- “Jesus het in die plek van die wet gekom”.  Maar hierdie wet beskerm ons ook soms teen onsself. 

God se bedoeling vir ons is goed, maar Hy het ook vir ons ‘n verantwoordelikheid gegee om na te kom.  En dis maklik, hou net by die reëls. Eendag op “sê jou sê” was die gesprek oor ouers wat hulle kinders los laat staan op die sitplek.  Sê nou so ‘n kind sterf in ‘n ongeluk as gevolg van sy ouers se nalatigheid, wat sal hulle sê?  Dalk sal hulle vra:- “waar was die Here?” “Hoekom het Hy dit toegelaat?”  Die Here het vir ons ‘n wonderlike verstand gegee, ook liefde vir onsself, en vir die lewe.  Maar besef ons aldag wat ons verantwoordelikheid is? 

Roekeloosheid met ons lewe.  Natuurlik hou dit nie op by snaakse dinge wat ons aanvang nie.  Sommer ook hoe ons ons gesondheid kan opmors.  Hier praat ek natuurlik vreeslik met myself.  Die Here sê jou liggaam is ‘n tempel van God.  Iemand wat bietjie oorgewig is, sê eendag: “Ja my liggaam is ‘n tempel van God, nie ‘n kapelletjie nie, maar ‘n katedraal!! “  Ek is self bietjie katedralerig!

Daar is siektes wat ons oor onsself bring – jy weet waarskynlik van ‘n hele paar waarna ek nou verwys.  Ek wonder net wat die Here van ons verwag in hierdie verband.  Die probleem is, mens kan maklik sê dat dit mý liggaam is, en mý lewe, maar wat van diè om ons wat daardeur geraak word? Het  jy al daaraan gedink?  Sê nou iemand sterf onnodig as gevolg van hierdie roekeloosheid,  hoeveel geslagte nà jou word uitgewis?   Nee, dis nie reg nie.  Ek dink nie ons lewens behoort net aan onsself nie.  Ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor onsself, ons familie, ja, selfs vriende, die gemeenskap en dan meeste van alles teenoor die Here.  Ons kan nie maak wat ons wil nie. Die lewens-strepie behoort nie net aan jou nie! 

Daar is ‘n hemel, en ‘n hel, ‘n God en die bose, of jy dit glo of nie.  ‘n Regte- en ‘n verkeerde lewenswyse.  Ons hoef nie baie slim te wees om dit te weet nie.  Reg deur die Bybel word ouderdom (hoë ouderdom) as seën van God voorgehou.  Maar hoeveel waarde heg ons aan hierdie lewe?  Wat verwag die Here van ons in hierdie 70, 80 jaar, wat verwag Hy van ons strepie?  Ons moet Hom dien, natuurlik, maar meer nog.  Hy verwag dat ons sinvol sal lewe.  Nie net tot ons eie vermaak en genot nie.  Ons moet verantwoordelikheid vat. Ironies, hierdie mense wat so roekeloos leef, is juis dié wat in die tyd wat die mat onder hulle voete uitgeruk word, vra: “waar was God dan?”.  En in hierdie selfde tye sal die wat reg leef, sê, “met die Here sal ek anderkant uitkom”.  Die lewe gaan ook oor die hiernamaals.

Pred 12:1-7 Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar niks aan nie. Dit is die tyd wanneer die son donker sal word en ook die daglig, die maan en die sterre, die tyd wanneer dit weer bewolk word ná die reën. Dit is die tyd wanneer die wagters van die huis sal bewe, die sterk manne waggel en die malers ophou maal omdat hulle min geword het, die tyd wanneer dit donker word vir dié wat deur die vensters kyk, wanneer die deure na die straat toe toegemaak word, die geluid van die meul dof word, die tyd wanneer 'n mens opstaan as die voëls begin sing al hoor hy geen lied meer nie. Dit is die tyd wanneer hy bang is vir 'n hoogte en vir alles op die pad skrik, die tyd wanneer die amandelboom in bloei staan, die sprinkaan homself moeisaam voortsleep en die kapperkruid nutteloos word, die tyd wanneer die mens na sy ewige woning gaan en dié wat treur, op die straat rondgaan, die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word en die goue kruik breek, die kruik by die fontein stukkend breek en die wiel by die put stukkend val, die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het. 

Dink aan jou Skepper in jou jong dae. Leef ‘n sinvolle, aangename lewe. Doen ‘n risiko-analise voor jy iets snaaks aanvang.  En as jy besluit om die hoë risiko pad van roekeloosheid te loop, moenie dit vreemd vind as mense nie vir jou veiligheid wil bid nie.  Nee jong, dit mors goeie gebedstyd. 

Spr 8 : 32 – 36 Daarom, kinders, luister na my, dit sal goed gaan met dié wat op my pad bly. Luister na wat ek julle leer, moet dit nie verontagsaam nie, dan sal julle ook wysheid hê. Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister, die mens wat elke dag na my huis toe kom en op my drumpel staan en wag. Wie my vind, vind die lewe self en geniet die guns van die Here. Maar wie my nie wil vind nie, doen homself skade aan; wie my haat, hou van die dood. 

Pas jouself mooi op, en lééf jou strepie voluit.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)