Luk
23 : 33 - 47
33 Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom
daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en
die ander een aan sy linkerkant.
34 Toe sê Jesus: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat
hulle doen nie!" Hulle het sy klere verdeel deur te loot.
35 Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook
uitgelag en gesê: "Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die
Christus is wat deur God uitverkies is."
36 Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir
Hom suur wyn aangebied
37 en gesê: "As jy die koning van die Jode is, red jouself."
38 Daar was ook 'n opskrif bokant Hom: "Dit is die koning van die
Jode."
39 Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster
deur te sê: "Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!"
40 Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: "Is jy nie bang
vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man!
41 In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende
straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie."
42 Verder sê hy: "Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom."
43 Jesus antwoord hom: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My
in die paradys wees."
44 Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die
hele land, en dit het tot drie-uur geduur;
45 die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het
middeldeur geskeur.
46 Jesus het hard uitgeroep: "Vader, in u hande gee Ek my gees oor.
"Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.
47 Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê:
"Hierdie man was werklik onskuldig."
Jesus word gekruisig en sterf 'n ongelooflike wrede
dood. Waaraan sou Hy dink die laaste paar ure? Wat sien Hy van die
kruis af?
In die paar ure wat Jesus aan die kruis hang, praat
Hy 'n paar keer - sewe keer. Die meeste van die kere wat Hy gepraat
het, was 'n bewys van Sy liefde vir ander en van Sy omgee vir mense.
Hoe goed sou ek en jy vaar wanneer ons in die ergste pyn denkbaar
is, stoksiel alleen. Ons weet nie regtig wat die volgorde van Sy
woorde was nie. Dalk iets soos volg:
1. Luk 23 : 33 - 34 "Toe hulle by die plek kom
wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers
gekruisig, die een aan Sy linker- en die een aan Sy regterkant. Toe
sê Jesus "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen
nie."
2. Joh 19 : 26 - 27 "Toe Jesus Sy moeder sien en die dissipel vir
wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar, "daar is U
seun." Daarna sê Hy vir die dissipel, "daar is jou moeder".
3. Joh 19 : 28 "Ek is dors".
4. Luk 23 : 43 - 43 "Die moordenaar langs Hom sê "Jesus, dink aan my
wanneer U in U Koninkryk kom." Jesus antwoord hom, "Ek verseker jou,
vandag sal jy saam met my in die paradys wees."
5. Mark 15 : 34 "Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: "Eloi, Eloi,
lema sabagtani". My God, My God, waarom het U My verlaat".
6. Luk 23 : 46 "Jesus het hard uitgeroep, "Vader, in U hande gee Ek
My gees oor."
7. Joh 19 : 30 "Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê, "Dit
is volbring".
Jesus praat sewe keer aan die kruis. Met die meeste
van hierdie woorde wys Hy Sy hart van liefde.
· "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat
hulle doen nie". Ongelooflik! Sal ek en jy dit kan doen? Om vir
vergifnis vir ander te pleit wat besig is om jou dood te maak. Sê
dit nie iets van hoe vergifnis werk nie? Dink jy nie ook soms jou
sondes is net te groot om vergewe te word nie. Genade, hierdie mense
vra nie eers vergifnis vir hulleself nie! Jesus doen dit namens
hulle. Ek glo met my hele hart dat God die Vader hulle vergewe het,
want Sy Seun het daarvoor gepleit! Jesus tree in by sy Vader vir
mense wat dit nie verdien nie, wat nie berou het nie, wat nie
daarvoor vra nie, wat ook nie eers op daardie stadium glo nie!
Hoeveel te meer is daar vergifnis vir ons wat glo, wat berou het, en
daarvoor vra. Hierdie mense is eintlik so tipies van ons dag. Hulle
kruisig vir Jesus terwyl hulle Sy wonderwerke gesien het, Hom hoor
praat het en baie getuienis oor Hom gehoor het. Net so kruisig dié
wat nie in Hom glo nie, Hom waarskynlik keer op keer, terwyl ons die
Bybel het, steeds wonderwerke sien, Hom hoor praat deur ander, en
baie getuienis oor Hom hoor. Steeds tree Hy by die Vader in om nog
steeds vir elkeen 'n kans te gee. Maar jy en ek moet self besluit of
ons dit aanvaar of nie. Genade onbeskryflik groot.
· Aan die kruis, vir oulaas, dink Jesus net aan ander. Hy sê vir
Sy ma "Daar is jou seun", en vir die dissipel, "daar is jou moeder".
Jesus sterf nie voordat Hy 'n baie belangrike taak afhandel nie. Hy
maak klaar wat Hy begin het. Jesus demonstreer 'n hart van omgee. Hy
sorg dat Sy ma 'n heenkome het. Ek wonder nogal wat tot op daardie
stadium in Maria se gemoed aan die gang was. Maar Jesus was nie te
laat nie, net soos ons ook vandag dikwels dink die Here wag so
bietjie lank voor Hy ingryp in 'n moeilike situasie. Jesus sien
selfs in Sy sterwensuur die nood van ander raak, en bring 'n
oplossing, terwyl Hy self oënskynlik nie vir Sy eie lewe 'n
oplossing het nie.
· En dan, die moordenaar aan die kruis langs Hom. Een uitroep. Net
een. "Dink aan my wanneer U in U Koninkryk kom". En Jesus gee Hom
die versekering, "Vandag sal jy saam met My in die paradys wees".
Jesus is besig met verlossingswerk aan die kruis. Nie die begin van
Sy verlossingswerk nie. Hy het toe reeds baie mense gered. Ook nie
die einde daarvan nie, want Hy doen dit vandag nog. Maar aan die
kruis, verlos Hy die moordenaar wat daarvoor vra. Terwyl Hy stoksiel
alleen is. "My God, My God, waarom het U My verlaat".
Dan kom Jesus se laaste woorde. "Dit is volbring".
Tetelestai. Toe dink Hy aan my en jou. Glo jy dat Jesus toe reeds
jou naam geken het en dat dit in Sy handpalms gegraveer was? Dat Hy
daar dalk ook jou naam voor die Vader genoem het, en gesê het,
"Vader, vergeef hom?". Met Tetelestai kyk Jesus van die kruis af na
die ganse mensdom as Sy laaste daad van liefde en verklaar dat wat
Hy gedoen het op aarde, nou afgehandel is. Soos wat Hy afkyk na die
wat Hom gekruisig het en gevra het: "Vader, vergeef hulle" en vir Sy
ma 'n nuwe tuiste gee met "Daar is jou seun" en met die moordenaar "vandag
sal jy saam met My in die paradys wees", kyk Hy af na jou en my en
sê: "Ek het nou genoeg verlossingswerk gedoen".
Daar skuif die verantwoordelikheid van Sy skouers af
na my en jou toe. In my menslikheid sou ek dink Hy sou kon vra: "wat
moet Ek meer doen, mens". As dit nie vir jou genoeg is nie, kan niks
meer genoeg wees nie. Vat dit net. Die mense wat Hom gekruisig het,
het niks eers gevra nie, maar Jesus het vir hulle genade bepleit.
Die moordenaar het gevra, en gekry. Wat doen ek en jy? Ons hoef dit
net te aanvaar. Want Jesus het ál die verlossingswerk gedoen wat
nodig was.
En ek en jy? Ons het ’n keuse of ons dit aanvaar of
verwerp. Vat jy dit, of los jy dit?
|