Fil 4 : 4 - 9
4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!
5 Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby.
6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur
gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte
en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
8 Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is,
alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is - watter
deug of lofwaardige saak daar ook mag wees - daarop moet julle julle
gedagtes rig.
9 En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit
moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.
Wees altyd bly in die Here. Is jy bly in die Here?
As jy is, het jy al vir jou gesig vertel hy moet dit wys?
Ja nee, ons bly nou maar eenmaal in 'n samelewing
wat nie graag vrolik lyk nie. Iemand vra jou "Hoe gaan dit?" Dan
sê jy "goed dankie" met 'n gesig wat nie juis goed lyk nie.
Dit is nou maar eenmaal so dat ons baie eerder na
die donker wolk, as die silwer randjie kyk. Die glas is eerder half leeg as
half vol. Pessimisme heers oor optimisme. Bekommernis heers oor
genoeglikheid. Ons sien eerder hoe sleg dit gaan as hoe goed dit gaan. En,
die werk het veel meer slegte elemente as goeie elemente. Dan boonop,
gebruik ons meer fronsspiere as glimlag-spiere. G'n wonder dit gaan soms
so sleg met ons nie.
Ek dink nie dis wat die Here se bedoeling vir ons
is nie. Ek glo die Here het alles gedoen wat Hy moes om die lewe vir ons
'n plesier te maak. Dis gewoonlik maar net ons wat die verkeerde keuses
maak.
Wees altyd bly in die Here, sê Fil 4 : 4. Jesus is
immers die bron van vreugde.
Soek jy dalk 'n rede om vrolik te wees? Wel, die
vraag is, kan jy tel? Hoe ver kan jy tel? Kan jy so ver tel as wat jou
seëninge strek? Moet ek jou bietjie help?
* Het jy iets om te eet? * 'n Dak oor jou kop? *
Redelike gesondheid? * 'n Motor of twee of drie? * 'n Werk? - met of
sonder 'n goor baas? * Wil jy eerder in Zimbabwe 'n uitgehongerde kind
wees? Dalk in Afghanistan bly waar jy nie openlik mag aanbid nie? * Het jy
al jou ledemate? * Kan jy praat? Sien? Hoor?
Sjoe!! Hoe ver moet ek gaan? Weet jy, ek dink
regtig ons gee vir die Here soms 'n klap in die gesig met ons ondankbare
houding. En dan is ons boonop soms uitgesproke oor mense wat ons irriteer.
Soos die sluipslapers in die veld daar naby jou huis, of die ou op die
hoek by die robot. Ek praat dit glad nie goed nie, maar daar is mense wat
uit desperaatheid dit moet doen.
Nee jong, tel jou seëninge, dan gaan jy verseker
so bietjie vroliker voel. Moenie kyk na dié met wie dit beter as jy gaan
nie. Kyk 'n slag na dié met wie dit slegter gaan.
Dank die Here dag vir dag vir alles wat Hy jou gee
uit Sy hand van genade. Tel jou seëninge …. Een vir een.
Wees altyd bly in die Here. En wat is beter as 'n
bietjie humor. Jitte jong, lag is mos beter as huil. Die spreekwoord sê
"Lag, en die wêreld lag saam met jou, huil, en jy huil alleen."
Lag is 'n wonderlike gereedskapstuk wat die Here in ons ingebou het. Humor
maak dat ons dinge in 'n ander lig sien. Dit laat ons wegkyk van die sorge van
die lewe af. Lag is 'n aksie wat oor alle kleur en taal en kultuurgrense
strek. Om saam te lag, maak dat mens 'n besondere band met iemand bou, om
saam met iemand te lag, maak dat 'n gemeenskaplike aksie plaasvind wat
beide partye opbeur.
Jy kan nie kwaad bly vir iemand as jy saam lag nie.
Ek lees in 'n artikel lag veroorsaak dat beide die linker- en regterbrein, asook die emosionele sentrum van die brein betrek word. Coleman en
Martin is navorsers wat bevind het dat mense breër en meer kreatief dink,
en probleme beter oplos as hulle gelag het. Jitte, ek dink Einstein het
dan seker geskater net voor hy sy teorie oor algemene relatiwiteit
opgestel het. Lag versterk verhoudinge, dit forseer jou om die ligter kant
van die lewe raak te sien. Lag vir jouself, lag vir ander, lag saam met
ander. My wêreld, jy kry selfs al iets wat lagterapie genoem word. Dis
net jou keuse.
Wees altyd bly in die Here!! Kom ons kyk wat sê
dokter Salomo:
Spr 17 : 22 "'n Vrolike mens is 'n gesonde
mens, 'n neerslagtige mens raak uitgeput". En dit, moet jy
saamstem, is waar. Vrolike mense is nie net vrolik as dit goed gaan nie.
Vrolike mense kry dit reg om selfs in moeilike situasies vrolik te bly. As
voorspoed mens vrolik sou maak, moet ons vandag net tande sien! Probleem
is, ons sien nie die goeie raak nie. Wees altyd bly in die Here, sê Fil
4 : 4. Dis 'n opdrag.
Joh 15 : 9 - 11
9 "Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my
liefde bly.
10 As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek
die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.
11 "Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle
blydskap volkome kan wees."
Bly in Jesus se liefde, dan sal jou blydskap
volkome wees.
Joh 16 : 24 "Tot nou toe het julle nog nie
in My Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap
volkome kan wees."
Fil 2 : 2 "Maak dan nou my blydskap volkome
deur eensgesind te wees: Een in liefde, een van hart, een in strewe."
1 Joh 1 : 3b - 4 "En die gemeenskap waaraan
ons deel het, is diè met die Vader, en met Sy Seun, Jesus Christus. Dit
skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees."
2 Joh 1 : 12 "Daar is nog baie dinge om vir
julle te sê. Ek wil dit egter nie skriftelik doen nie, maar hoop om na
julle toe te kom en persoonlik met julle te praat, sodat ons blydskap
volkome kan wees."
Blydskap, vrolikheid, lag, ….. dis ons manier om
uiting te gee aan dankbaarheid.