WIE HET VIR JESUS VERMOOR?


Dis is ongeveer 2000 jaar gelede. ‘n Skare mense drom op Golgota saam, om te sien hoe een van die mees radikale mense van sy tyd tot sterwe gaan kom. Dink bietjie vir ‘n oomblik saam met my: as jy hoor daar gaan ‘n openbare teregstelling Saterdag op kerkplein plaasvind, sal jy gaan? Ek wonder nogal of ek sou. Kom ons vat dit verder. Sê nou maar jy hoor dis een van die mees gehate en gesoekte massamoordenaars van ons tyd… sou jy dan dalk gaan? Kom ons kyk bietjie uit ‘n ander hoek uit. Kom ons sê dis een van die mees geliefde mense wat jy ooit van gehoor het, wat regtig vir ‘n goeie saak geveg het … sou jy dan gaan kyk het? Nog verder, kom ons sê jy weet voor jou siel dat die persoon verseker onskuldig is aan dit waarvoor hy aangekla is … sal jy dan gaan kyk? Sjoe, dit raak al hoe moeiliker om te antwoord. Kom ons sê die persoon gaan Saterdag tereggestel word in JOU plek, sodat jy nie hoef te sterf nie … sou jy dan gaan kyk? Dis erg om so daaraan te dink, nie waar nie? Hoe lyk dit daar by die plek van teregstelling? Hoe is die bui van die mense wat gaan kyk – is hulle vrolik? Neerslagtig? Hartseer? Bly? 

Matt 27:35-44
Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot. Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou. Bokant sy kop het hulle die aanklag teen Hom in skrif aangegee: "Dit is Jesus, die koning van die Jode. "Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en die ander een links van Hom. Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: "Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af!" Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot en gesê: "Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo. Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God!" Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.

Erg né? Mense is wrede goed. Bloeddorstig, spottend, sonder ‘n idee hoekom hierdie persoon gekruisig word.               

Sê nou maar jy het daar gestaan – wat sou jy doen? Sou jy huil? Hartverskeurend huil? Of sou jy maar net jou skouers opgetrek het? Sou jy saam gespot het? Sou jy dalk skuldig gevoel het?  

Wie het nou eintlik vir Jesus vermoor? Was dit die regering van die dag? Hierdie klomp Romeine het nie van Jesus gehou nie, want Hy was ‘n bedreiging vir hulle. Hulle was bang vir opstande, en hulle was dalk bang dat Hy ‘n gevolg bymekaar sou kon maak wat hulle gesag sou uitdaag.   

Of was dit dalk die familiehoofde en die priesterhoofde? Kyk, hulle het net mooi niks van Hom gehou nie. Hy het die Fariseërs tromp-op aangevat, Hy het hulle voor die mense beskuldig dat hulle wit gepleisterde grafte was. Hulle het selfs met Judas gekonkel om Hom te verraai, en selfs vir hom geld gegee. Lyk my hulle het die perfekte motief gehad om Hom te vermoor, want Hy het hulle godsdiens, wat vir hulle baie belangrik was, as vals afgemaak. Ek dink hulle het nogal ‘n goeie saak om Hom te vermoor. 

Was dit dalk Herodes? Wel, hy wou nie ‘n besluit neem nie, hoewel hy volgens Luk 23 bly was om Jesus te sien. Toe stuur hy Hom na Pilatus toe. In die proses het Pilatus en Herodes sommer vriende geword. En Pilatus? Hy bevind Hom onskuldig, was sy hande nogal in onskuld, en laat Hom kruisig. Is dit hy wat Hom vermoor het? 

Het die Jode Hom vermoor? Want toe hulle moes kies tussen Barabbas en Jesus om vrygelaat te word, kies hulle vir Barabbas om vry te kom. Hierdie Jode, vir wie Jesus innig lief was, hierdie mense wat Sy wonderwerke gesien het, wat deur Hom genees is, deur Hom gevoed is met ‘n paar vissies en broodjies – dis hulle wat nou skreeu: “Kruisig Hom, kruisig Hom”. Het hulle Hom vermoor? 

As dit Saterdag sulke tyd was op kerkplein, wat sou ek en jy skreeu?  

Ons sou ook ‘n ander vraag kon vra: Het Jesus dalk selfmoord gepleeg?

Joh 10:14-18
"Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape. Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder. "Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het."   

Klink nogal vreemd, of hoe? Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit My eie af. Wel, as Hy hierdie voor getuies sou uiter, sou ‘n hof al die ander partye onskuldig bevind het – die regering, die Jode, die priesterhoofde, familiehoofde, Pilatus … klink my Jesus, sê nee, julle is almal onskuldig. Dis tog absurd om te dink Hy sou selfmoord pleeg. Wie het Hom dan vermoor? Wat het gebeur op daardie dag by Golgota?

Wie het Jesus vermoor? Niemand nie, nie een enkele persoon kan die blaam ry nie. Sy dood was nie moord nie, nie selfmoord nie, nie natuurlike oorsake nie, of a.g.v. siekte nie. Al hierdie partye was nodig om die raadsplan van God gestalte te gee. En nee, God die Vader het Hom ook nie vermoor nie. Die antwoord lê in iets heeltemal anders … 

Heb 10:1-10
Die wet van Moses is slegs 'n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie 'n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers bring, nooit volkome van sonde vry maak nie. As dié wat offers bring, eens en vir altyd gereinig en nie meer van sondes bewus was nie, sou hulle immers opgehou het om offers te bring. Maar nou herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes, omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem. Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: "Dit is nie diereoffer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het. Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie! Toe het Ek gesê: Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil te doen. In die boekrol is dit van My geskrywe." Eers sê Hy: "Diereoffers en graanoffers, brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie," hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. Daarna sê Hy: "Kyk, Ek het gekom om u wil te doen." Hy skaf dus die eerste offers af om 'n ander offer in die plek daarvan te stel. Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd.   

Jesus se liggaam móés geoffer word sodat ek en jy en elke ander gelowige die ewige dood kan vryspring. Want net die wet sou die doodstraf kon uitspreek en voltrek. En om my en jou vry te kry van die oordeel van die wet, moes daar ‘n ander offer as diere en graanoffers kom. Die diere en graanoffers is nie goed genoeg nie. Dis nie ewigdurend nie, dit het geen langtermyn krag nie, en verseker geen waarde in die ewigheid nie. Jesus se dood was ’n offer, ‘n wrede een daarby, sodat ek en jy dit nie hoef te doen nie. En sodat die wet nie meer die doodstraf oor jou kan uitspreek nie. Nou dink ek – sjoe, ek is bly ek was nie Pilatus of Herodes of die Jode, of die Priester en Familiehoofde nie. Maar aan die anderkant voel ek skuldig omdat Hy dan vir my ook gesterf het. Vraag is: Moet ek skuldig voel? Die antwoord: Nee, Hy het dit gedoen … met plesier!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)