WIE IS GOD?


God. Wie is God? Waar kom Hy vandaan? Van wanneer af bestaan Hy? Is daar hoegenaamd 'n God? Hoe lyk Hy? Is God (die Here) en ander gode eintlik maar een wese? Die vraag word mos dikwels gevra: Wie is julle om te sê dat julle alleen reg is? Is ons godsdiens uniek, en die enigste ware godsdiens? Inderdaad vrae wat daagliks gevra word deur ongereddes, gereddes, Christene, verlorenes. Wie sê jý, is God? En wie is Hy vir jóú? En waar kom Hy vandaan? Ek, as mens, voel myself totaal onwaardig om oor die Allerhoogste, die Alfa en die Omega, te praat. En daarom kan ons net aanhaal wat in Sy Woord, die Bybel, staan.

Eks 3 : 10 - 15 " Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry. 11 Toe sê Moses vir God: Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry? 12 God het Moses geantwoord: Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid. 13 Daarna sê Moses vir God: Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: "Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur," en hulle vra vir my: "Wat is sy Naam?" wat moet ek dan vir hulle sê? 14 Toe sê God vir Moses: Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: "Ek is" het my na julle toe gestuur. 15 Verder sê God vir Moses: Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: "Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur." Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag."

Ek is wat Ek is. So beskryf God Homself aan Moses. Vir my is hierdie woorde aangrypend. So asof God sê: "Jy sal tog nooit werklik begryp wie en wat Ek is nie. Daarom sê Ek net vir jou, "Ek is". Waar kom Hy vandaan? Wel, God is tydloos, vir Hom is 'n dag soos 'n duisend jaar en 'n duisend jaar soos 'n dag. Tyd het saam met die skepping verskyn. Ons dag en nag word bepaal omdat die aarde draai. Die maan wentel om die aarde en dit gee vir ons ’n maand. Die aarde en die maan beweeg om die son en so het ons ’n jaar. Ons probeer God in óns tydsbestek inpas, en met ons menslike verstand beredeneer. Maar ons kan nie.

Waar pas ons in die prentjie van God en Sy werk?

Genesis 1: "In die begin het God die hemel en die aarde geskep". En dan ook die mens. God het besluit om die mens die keuse te gee om goed of sleg te doen. Hy kon gesorg het dat daar geen boom is nie. Daar waar Adam en Eva geval het. Maar Hy gee die mens 'n keuse, en die sondeval vind plaas, en daar kom skeiding tussen God en die mens. Die mens se keuse. Soos ek en jy steeds vandag verkeerd kies. Maar, Hy los die mens nie daar nie. Hy stop nie Sy bemoeienis met die mens nie. Inteendeel, reg deur die ou Testament rig die Here profete op met nèt een doel. "Gaan sê vir die mense hulle moet hulle bekeer". God was so ernstig daaroor, dat Hy dikwels van plan verander wanneer Hy die mense wil uitdelg. Sy genade is nie net 2000 jaar oud nie. Toe Jesus aan die kruis gesterf het. Nee, deel van Sy raadsplan, was om Sy Seun, self God, na die aarde toe te stuur, vir jou en my.

Joh 1 : 1 "In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God."

Joh 1 : 18 "Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak."

En Sy Seun kom sterf vir jou en my. Sodat ons nie die ewige dood hoef te beleef nie. God draai as't ware Sy gesig weg van Jesus af, vir ons.

En hier is ons nou met die vraag: Maak God vandag bemoeienis met my en jou?

1 Joh 4 : 7 - 10 " Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God. 8 Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9 Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10 Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes."

"God is liefde". Nie 'n vermoë nie, nie 'n kwaliteit nie, nie 'n talent nie. Nee, Sy hele wese is liefde. Lief vir wie? Die blomme en die natuur? Nee, lief vir jou en my. Ons as wesens wat iets net duskant 'n hemelse wese is. God smag na 'n lewendige verhouding met ons. Hy nooi ons na Sy troonkamer toe, en Hy laat ons toe om by Sy voete te kom sit. Toe Jesus sterf, en die voorhangsel by die tempel middeldeur skeur, het God dit moontlik gemaak dat ons nie meer deur die hoë priester met Hom kontak bewerkstellig nie, maar direk toegang het tot by Hom. Wonderlik, nè? Hierdie liefde van God kom stort Hy op ons uit en maak dit moontlik om dit te kan ervaar as liefde vir ander mense, liefde vir myself, maar die belangrikste van alles, liefde vir Hom. Kan jy sê dat jy lief is vir God?

God se bemoeienis met ons gaan baie vêr:

·         Hy hou die natuur in stand, Hy verskaf alle lewensmiddele wat ons nodig het - en meer.

·         Hy kom genees op 'n wonderbaarlike manier.

·         Hy práát met die mens, verhoor ons gebede.

·         Hy red ons!

·         Hy is 'n God wat nie vêr is nie, nee, deur die werking van die Heilige Gees is Hy binne-in ons.

·         Hy wil hê dat ek en jy die ewigheid by Hom moet spandeer.

God is soewerein. Hy is die enigste God. Hy beskryf Homself as 'n JALOERSE God. Omdat daar ander gode is? Nee, omdat ons afgode maak wat ons in Sy plek stel. Geld, status, roem, eie ek, ens. God is soewerein, hoe kan ons probeer Hom in 'n hoek druk, so asof Hy aan ons moet verduidelik en rekenskap gee?

Job 38 : 1 - 10 " Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n stormwind uit: 2 Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie? 3 Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My. 4 Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het. 5 Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit? Wie het 'n maatlyn oor hom gespan? 6 Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit 7 daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het? 8 Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel het? 9 Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak. 10 Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot en grendel gesit."

Ek en jy moet ons plek ken voor die Here. Hy is ons vriend, maar nie ons speelmaat nie. En Hy het 'n Naam. God. Nie die oubaas nie, of die Ou Man daarbo nie. Dis Godslastering. Ons moet tog nooit probeer om Hom af te bring na ons vlak toe nie.

Hy is Heilig, en ons moet Sy Heiligheid erken en respekteer. Hy is oppermagtig, ons kan dit nie uitdaag nie.

Hy is waardig om geloof en geprys te word. Dag en nag.

As ons net so 'n bietjie van Sy liefde verstaan, kan ons by Sy voete gaan sit en al ons versugtinge met Hom deel. Ons vreugde en ons hartseer, ons droefheid en ons blydskap. Ons kan vra, maar ook dankie sê.

Ons kan prinse en prinsesse wees, want ons Pa is die Koning.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)