WIE IS JESUS?


Jesus Christus. Die mees bekende, mees indrukwekkende, gesaghebbende, beminde, verwerpte, gespotte persoon wat ooit geleef het! Sy navolgers aanbid Hom, Sy vervolgers verwerp en haat Hom.

Mense reageer op een van hierdie maniere teenoor Jesus:
1. Hulle aanbid Hom
2. Hulle haat Hom (dis nie ateïste nie)
3. Hulle glo glad nie dat Hy bestaan nie.
4. Sommiges erken dat Hy 2000 gelede geleed het, maar glo nie in Hom nie.
5. Party akkommodeer die gedagte dat Hy kon geleef het ….. dalk.
6. Party glo Hy was net 'n gewone mens.
7. Ander glo Hy is God, maar was nie op aarde nie.
8. Nog ander sê Hy is God se Seun, het opgevaar hemel toe, en het vergeet van ons.

Wat glo jý?

1. Dat Hy 'n historiese figuur was wat maar net vir ons 'n goeie lewenstyl kom leer het?
2. Dat Hy net 'n slim profeet was?
3. Dat Hy vêr is, en nie in jou belangstel nie?
4. Dat Hy met 'n sweep sit en wag om jou te straf?

Baie opinies oor Jesus, baie uitgangspunte, 'n klomp dogma, ens. Maar wie sê jy is Hy, vir jou?

Lank gelede is daar ook geredeneer oor wie Hy is:

Joh 10 : 22 - 39
22 Dit was daardie tyd die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter.
23 Jesus het in die tempel in die Pilaargang van Salomo geloop.
24 Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: "Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit reguit vir ons."
25 Jesus antwoord hulle toe: "Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is.
26 Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie.
27 My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My.
28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
29 Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.
30 Ek en die Vader is een."
31 Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig,
32 maar Jesus sê vir hulle: "Op gesag van die Vader het Ek julle talle goeie dade laat sien. Oor watter een daarvan wil julle My stenig?"
33 "Dis nie oor 'n goeie daad dat ons jou wil stenig nie," antwoord die Jode Hom, "maar oor godslastering, omdat jy, wat 'n gewone mens is, jou as God voordoen."
34 Daarop sê Jesus vir hulle: "Staan daar nie in julle wet geskrywe: 'Ek het gesê: Julle is gode'
35 God noem hulle tot wie sy woord gekom het, dus 'gode', en wat daar geskrywe staan, kan nie verander word nie.
36 Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: 'Jy praat godslasterlik', omdat Ek gesê het: 'Ek is die Seun van God'?
37 As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie.
38 Maar as Ek dit wel doen en julle tog nie in My glo nie, moet julle ten minste aan die werke glo, sodat julle kan insien en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is."
39 Hulle wou Hom toe weer gevange neem, maar Hy het hulle ontglip.

Jesus praat met die Jode, hulle vra of Hy die Messias is, Hy beaam dit, en dan wil hulle Hom stenig. Hy vertel self vir die Jode wie Hy is, maar hulle glo dit nie, tot vandag toe nog. Mense sukkel maar nog altyd oor Jesus, die Seun van God. 2000 jaar gelede sien hulle Hom beweeg, praat met Hom, oor Hom, sien Sy wonderwerke, maar kry nie in Hom geglo nie.

Vandag sien ons steeds Sy wonderwerke, verskyn Hy aan mense, lees ons van Hom in die Bybel, en baie ander geskrifte, en mense glo steeds nie. Hoe is dit moontlik? Daar moet tog iets wees! Hoekom sal mense duisende jare terug profesië oor Hom geskryf het? Hoekom sal daar soveel dwase op die aarde rondloop en blindelings glo in iets wat opgedis word? Hoekom sal daar soveel boeke oor Hom geskryf word, liedjies oor Hom geskryf - en gesing - word, skilderye gemaak, kommentare uitgereik, argumente gevoer, ens? Daar moet tog iets wees. Wat sê jy, wie is Hy?

Wie is Jesus? Waar kom Hy vandaan?

Joh 8 : 48 - 59
48 Die Jode het toe vir Hom gesê: "Ons het mos gesê jy is 'n Samaritaan en van die duiwel besete!"
49 Jesus het geantwoord: "Ek is nie van die duiwel besete nie, maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan.
50 Ek soek egter nie na eer vir Myself nie; daar is Een wat eer vir My soek, en Hy is regter.
51 Dít verseker Ek julle: As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie."
52 Die Jode sê toe vir Hom: "Nou is ons seker dat jy van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete ook, en tog sê jy: 'As iemand my woorde ter harte neem, sal hy in alle ewigheid nooit sterwe nie.'
53 Jy is tog nie groter as ons voorvader Abraham wat gesterf het nie? En die profete het gesterwe. Wie verbeel jy jou is jy?"
54 Maar Jesus antwoord: "As Ek Myself verheerlik, beteken my heerlikheid niks. Dit is my Vader wat My verheerlik. Julle sê: 'Hy is ons God,'
55 en tog ken julle Hom nie. Maar Ek ken Hom. As Ek sê Ek ken Hom nie, sal Ek net soos julle 'n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom, en Ek neem sy woorde ter harte.
56 Abraham, julle voorvader, het hom daaroor verheug dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly."
57 Die Jode sê toe vir Hom: "Jy is nog nie eens vyftig jaar oud nie, en het jy vir Abraham gesien?"
58 Jesus het hulle geantwoord: "Dít verseker Ek julle: Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is."
59 Hulle het toe klippe opgetel om Hom daarmee te gooi. Maar Jesus het gaan skuil en van die tempel af weggegaan.

Jesus sê Hy was al voor Abraham daar. Genesis 1 : 26 sê: "Kom Ons maak die mens as Ons verteenwoordiger." Ons lees ook "alles is deur Hom geskep." Verseker, Jesus was nog altyd daar, en sal altyd daar wees. Hy het nie eers begin bestaan in die Nuwe Testament nie. Nee, dit is toe Hy gebore is in 'n menslike liggaam, Sy menslike geboorte het 2000 jaar terug gebeur, maar Hy was altyd deel van die Drie-eenheid. En Hy het nie opgehou bestaan met die Hemelvaart nie. Hy leef vandag nog, en heers aan die regterhand van die Vader. Nog meer, Hy was, en is en sal vir altyd dieselfde wees. Meer en meer boeke sál oor Hom geskryf word. Films oor Hom sal meer en meer die lig sien. Mense sal meer en meer geestelike liedere skryf, en sing. Dit sal nie ophou nie. Inteendeel. Ons gaan nog groot dinge sien. Hy het báie gedoen, en sal nog baie doen.

Joh 21 : 25
25 Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.

Wie sê jy, is Hy?

Matt 16 : 13 - 20
13 Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: "Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?"
14 Hulle antwoord: "Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete."
15 "Maar julle," het Hy gevra, "wie, sê julle, is Ek?"
16 Simon Petrus het geantwoord: "U is die Christus, die Seun van die lewende God."
17 "Gelukkig is jy, Simon Barjona," het Jesus vir hom gesê, "want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.
18 En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
19 Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly."
20 Toe het Jesus sy dissipels beveel om vir niemand te sê dat Hy die Christus is nie.

U is die Christus, die Seun van die lewende God! Is dít ook jou oortuiging?

Matt 22 : 41 - 45
41 Toe die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle:
42 "Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?" "Dawid s'n," antwoord hulle Hom.
43 Hy sê toe vir hulle: "Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan 'Here' genoem? Hy sê tog:
44 'Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.'
45 As Dawid self Hom 'Here' noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?"

Jesus, die Seun van God.

Joh 1 : 18 "Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, diè het Hom bekend gemaak."

Jesus, die Seun van God, Jesus, self God.

Waar pas Hy in jou en my lewens in?

· 'n Stukkie geskiedenis?
· 'n Konsep?
· Net 'n goeie Mens?
· Dalk 'n slim profeet?
· Iemand waarmee kinders - en grootmense - bang gemaak word?
· Miskien 'n spaarwiel - vir tye van nood?
· Dalk "Die regte ding om te doen soos, kom ons open die vergadering op 'n gepaste manier”?

Dit bg beteken niks. Hy is:

· Verlosser
· Saligmaker
· Vriend
· Die Deur tot die lewe
· Die Brood wat lewe gee
· Die Weg, die Waarheid en die Lewe
· Die Een wat vir ons 'n plek voorberei in die hemel

Jesus, die grootste persoon wat ooit geleef het, en sal leef. Vir jou en my.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)