Ons
praat deesdae nogal baie oor die swaar tye van vandag. Dit is so dat
ons almal se lewens nou maar eenmaal uniek is, elkeen se
omstandighede is verskillend, elkeen se lewe word gekenmerk deur ‘n
versameling van elemente, en die meeste daarvan het jy nie eers voor
gevra nie… dit noem ek vandag die pakkie wat jy moet dra.
Elkeen van ons dra ‘n pakkie. Dink maar aan iets soos
‘n rugsakkie wat jy op jou rug dra. Jy drá hom. Elke dag, alleen.
Wat is vandag in jou sakkie wat hom so bitter swaar maak? Watse
goeters is daarin wat jy so graag wil uithaal, maar jy kan nie?
Kom ek vra vir jou vandag drie vrae:
1) Wie sou jy eerder wou
wees? Dis nou as jy kon kies. Dink bietjie saam met my – wie ken jy
wie se lewe so ideaal lyk (op die oog af) dat jy nou in sy skoene
sou inklim as jy kon?
2) Wie se pakkie sou jy eerder wou dra as jou eie?
Wat is in ander se pakkies wat jy graag in joune sou wou inlaai?
Miskien geld, materiële dinge, gesondheid, kinders, ens. As jy dus
vandag kon sê: “Here, ek hou nie van my pakkie nie, ruil myne met
sus en so s’n om, asseblief” – met wie sou jy wou ruil? Ek dink ons
almal wil graag so ‘n kombinasie van ander se inhoud in ons pakkie
sit, en dan glo dat volmaakte geluk op ons wag.
3) Wie ken jy wie se lewe 100% volmaak is? Die
pakkie is volmaak gepak met net die beste van omstandighede, genoeg
inkomste, perfekte liggaam, geen gebreke, goeie “looks”, pragtige
huis, voorbeeldige en slim kinders, goeie pos by die werk, fiks,
gesond, perfekte huwelik, lekker vriende … ag man, beter kan jy nie.
Ken jy so iemand? Wel, die goeie nuus is: hy is nog nie gebore nie.
Al lyk dit soms vir jou of die persoon volmaak is, belowe ek jou hy
sal ook sy pakkie wil ruil.
Ps 49:17-21
Moet jou nie daaroor kwel dat mense ryk word, dat hulle besittings
baie word nie, want as hulle sterf, neem hulle niks saam nie; hulle
besittings sal hulle nie volg nie. Al verlustig 'n mens hom in 'n
voorspoedige lewe, en al prys die mense hom omdat dit met hom goed
gaan, soos sy voorvaders sal ook hy moet sterwe en hy sal die lig
nooit weer sien nie. Die mens wat met weelde en al 'n dwaas bly, is
soos 'n dier wat vergaan.
Kan jy sien dat die Psalm skrywer besef dat alles net
tydelik is? Nou ja, as ons dan sê dat elkeen se pakkie so ‘n paar
vrot vruggies in het, en ons tog nie kan kies wat in ons pakkie is
nie, moet ons seker maar aanvaar dat ons nou maar eenmaal het wat
ons het. Vraag is: kan jy dit dra? Kan jy by die punt kom van
onvoorwaardelike tevredenheid met en aanvaarding van jou
omstandighede? Of gaan jy vir ewig hunker na ‘n ander se lewe?
Aan die anderkant kan jy dalk iemand ken wie se
pakkie ondraaglik swaar is, en vir wie jy bitter jammer is. Ken jy
so iemand? Miskien jou ouer, of jou kind, of ‘n vriend? Of nog meer
– miskien is daar ‘n vriend wat jou beskuldig dat dit met jou beter
gaan as met hom, en jy voel dalk skuldig dat jy niks daaraan kan
doen nie. Gal 6:2 sê: “Dra mekaar se laste en gee op die manier
uitvoering aan die wet van Christus”. Is dit nou: “dra mekaar se
laste”, of is dit “dra mekaar se pakkie”? As jy die pakkie wil dra,
beteken dit dat jy jou eie “onvolmaakte” een dra, sowel as ‘n ander
s’n – en jy kan nie! Maar as jy iemand se laste dra, beteken dit om
sáám met iemand te stap – self dalk kreunend – maar jy is dáár vir
die persoon. Jy kan dalk dele van sy pakkie vir hom help dra, maar
wees versigtig dat mense nie hulle hele pakkie op jou “dump” nie. As
jy saam met iemand stap, kan jy hom ondersteun en moed inpraat
terwyl hy swaar dra aan sy pakkie. Jy weet, party mense kan darem
subtiel hulle pakkie op jou afpak. Jy moet dalk iemand finansieel
help, net om dan te sien dat hy eintlik meer het as jy.
Is jou pakkie vandag swaar? Ek dink so, myne is ook.
Begeer jy om vrede te hê met jou pakkie? Hier is vir jou ‘n geheim:
die woord “vrede” kom voor in die woord “tevrede”. Jy kan nooit in
jou lewe vrede ervaar as jy nie tevrede kan wees nie. Wanneer is
genoeg genoeg? Kon jy dalk al daardie lyn kry? Voel jy ander se
gesondheid is net altyd beter as joune? Jip, meneer X is dalk lekker
ryk, en “tall, dark and handsome”, maar sy huwelik val uitmekaar.
Wil jy regtig sy pakkie hê? Miskien spartel jy dalk bietjie met
selfbeeld, en meneer X kom so mooi reg, hy lyk so in beheer, maar hy
is dalk terminaal siek. Miskien lyk die baas by die werk se posisie
so ideaal, en die 4X4 blink mooi, maar sy kind is verslaaf aan
dwelms. Miskien irriteer jou werk die blou blits uit jou uit, maar
meneer X het miskien sy huis verloor. Al is jou pakkie soms so swaar,
is dit nie tog maar meer draaglik as enige iemand anders s’n nie?
Is daar dalk iets wat jy vandag uit jou pakkie kan
uithaal wat dit vir jou meer draaglik gaan maak? Is daar iets wat jy
nóú kan doen om dit beter te kry? Hanteer dit soos ‘n deurmekaar
laai: pak alles uit, neem voorraad op, gooi weg wat nie nodig is nie,
wat uitgedien is, en pak die res mooi terug. En as daar niks is wat
jy kan uitgooi of regpak nie, kom dan by die punt van aanvaarding;
kom by die punt waar jy vir die Here dankie sê vir wat jy het, en
wie jy is. Kyk vir ‘n slag watse seëninge jy in jou pakkie het, en
dank en prys die Here daarvoor. Konsentreer op die goeie dinge wat
in jou pakkie is, en sorg dat jy nóg goeies inpak.
Kyk gerus om jou. Jy sal sien dat jou pakkie nie die
swaarste is nie!
|