WOESTYNTYD - SWAARKRYTYD


Die woestyn is 'n vreeslike plek! Dit hou verseker 'n soort van 'n bekoring ook in, maar gewoonlik is dit maar moeilik om in 'n woestyn te wees.

Ken jy  woestyntyd in jou lewe? Is jy al daardeur? Of vind jy jouself tans in 'n woestyntyd van jou lewe? As Christene is daar een ding wat ons moet onthou: om in 'n verhouding met Jesus te staan verseker nie altyd vir jou maanskyn en rose nie. Die Bybel praat baie meer van God se hulp IN swaar tye, as sy beskerming TEEN swaar tye. Ons kan dit dus te wagte wees dat ons soms deur 'n woestyn sal gaan.

Deut 8:1-5: Jy moet elke gebod wat ek jou vandag gee, gehoorsaam en daarvolgens lewe. Dan sal jy bly lewe, baie word, die land ingaan en dit in besit neem soos die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het. Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie. Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat 'n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom. Jou klere het in die veertig jaar nie verslyt nie, en jou voete het nie geswel nie. Jy moet diep in jou hart weet: soos 'n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer.

Die volk swerf 40 jaar in die woestyn rond - 40 jaar! Dit is 'n bietjie lank!

Woestyntyd is verskillend vir verskillende mense. Mense beleef hierdie tipe swaarkry verskillend. Dalk is jy uit die woestyn uit, dalk is jy nog binne-in die woestyn. Dalk is jou finansies, werkloosheid, siekte of gebroke verhoudings vandag jou woestyn. Miskien is jou woestyn eensaamheid?

In Deut 8 lees ons 'n klomp dinge raak wat met 'n mens kan gebeur as jy jou in die felheid van die woestyn bevind:
1. Dit stroop ons van al ons waardigheid
2. Dit maak dat ons vertroue in onsself verloor - soms ook in God.
3. Dit breek ons selfbeeld af, sodat ons nie meer die wêreld in die oë kan kyk nie.
4. Dit laat ons soms wonder of God dan Sy rug op ons gedraai het.
5. Dit voel soms of die tyd heeltemal gaan stilstaan het. 40 dae voel soos 40 jaar.
6. Dit stroop ons van hoop op die toekoms.
7. Dit veroorsaak dat die lewe net nie meer sin maak nie.
8. God maak net nie meer sin nie. Ek dink ons almal ken daardie tye wat mens net vra: "Waarom, Here?", "Hoe lank nog, Here?", "Hoekom EK, Here?"
9. Dit laat ons vra: "Wat het ek gedoen om dit te verdien?"
10. Ons begin twyfel in ons geestelike status.
11. Ons word bang ….bang om uit te gaan, bang om mense in die oë te kyk, bang vir die volgende stap?

In Deuteronomium lees ons wat God gedoen het met die volk in die woestyn, en dalk is sommige van dié goed vir ons ook waar. In vers 2 staan: "Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel, sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy Sy gebooie sal gehoorsaam of nie". 'n Mondvol! Miskien is ons woestyn ook vir ons 'n toets, miskien verwag God ook nederigheid en gehoorsaamheid terwyl ons in die woestyn is.

Vers 3 sê: "Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was". Hierdie voel amper vir my soos 'n teenstelling: Hy plaas jou in die woestyn en dan voed Hy jou daar…. En dan sê Hy dat Hy jou leer om nie net van brood te lewe nie, maar van elke woord wat uit God se mond kom. Soms neem God die materiële weg, sodat dit net HY is wat oorbly. "You will only know that God is all you need, when He is all you have"

Vers 4 kom met 'n wonderlike stuk bemoediging: "Jou klere het in 40 jaar nie geslyt nie, en jou voete het nie geswel nie". Ongelooflik!

Die belangrikste vir ons om vandag te weet is dat woestyntyd nie vir altyd aanhou nie!

Deut 7:6-10: Jy moet die gebooie van die Here jou God gehoorsaam en sy wil doen. Jy moet Hom dien, want Hy sal jou in 'n goeie land bring: 'n land met waterstrome, met fonteine en riviere wat in valleie en berge ontspring, 'n land met koring en gars, wingerde, vyebome en granate, 'n land met volop olyfolie en heuning, 'n land sonder armoede, waarin jy genoeg sal eet en niks sal kortkom nie, 'n land waarin daar volop yster in die klippe is en waar jy kan koper delf in die berge. Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het.

Hier sien ons God se belofte van wat anderkant die woestyn wag.

Wat kan ons leer uit hierdie gedeelte?
1) Woestyntyd gaan verby, al voel dit soos 40 jaar, of al IS dit 40 jaar.
2) God laat jou nooit alleen nie. Dit is nie die Here se styl om Sy kinders alleen te los nie.
3) Soms stroop die Here ons van alles, om ons op te bou vir ons eintlike werk op aarde.
4) Woestyn louter jou om jou sterk te maak.
5) In die woestyn leer die Here ons meer en vinniger as wat ons ooit andersins sou kon leer.
6) Ons leer dat alles oor God gaan, en nie oor besittings of oor onsself nie.
7) Woestyn leer ons dat daar net één God is - niemand anders nie.
8) Dit bring ons in 'n nuwe intimiteit met die Here. Miskien verstaan ons so iets waardeur Jesus is toe Satan Hom in die woestyn versoek het.
9) Die woestyn is 'n plek van wonderwerke. Jou klere sal nie slyt nie, jou voete sal nie swel nie … 'n Woestyn kan baie dor lyk, maar snags kom die dou, dit koel af, en dan word jy verras met die mooiste blommetjie … wonderwerk!
10) Ná die woestyn, kom die Beloofde Land. Ek bid vir jou 'n land van melk en heuning toe!

ONTHOU: God is in jou woestyn, en Hy vertroetel en versorg jou met liefde.

Mag Deut 32:10-14 vir jou waar wees: "Hy het sy volk in die woestyn gevind, in 'n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu. Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog. Soos 'n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos 'n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie 'n ander god by Hom nie. Die Here het sy volk die land in besit laat neem, en hom laat eet van die opbrengs van die lande, hom heuning uit klipskeure laat geniet, olie uit harde klip, botter uit die beestrop, melk van die kleinvee, vet lammers, skaapramme en bokramme uit Basan, die beste koring; die wyn wat jy drink, kom uit die beste druiwe."
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)