Hoe aangenaam is U Woord, soeter as heuning in die mond

Heuning is 'n rusplekkie, 'n kuierplekkie, weg van die sorge van die lewe, weg van die gejaag en gewoel en gewerskaf, weg van al die gestoei om te oorleef.
Hier kan jy soet druppels uit 'n heuningkoek kom kry, en versadig word met heuning uit 'n rots, dié Rots, Jesus Christus.
Ons wil jou uitnooi om rustig te kuier en weer en weer terug te kom.
 


Lees gerus enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder .....

23 Februarie 2026

Ek dink so pas aan hierdie welbekende teks in Jeremia, maar ek haal net die tweede deel van die teks aan.
Jer. 29:11b "... Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!"
Toe dink ek nou aan die Here se belofte oor 'n toekoms, en ek besef dat as ek Hom kan glo en sy Woord kan glo, kan ek met volle vertroue die volgende sê: Ek laaik more! ~ Willem Botha


Klik hier vir nog Heuningdruppels >>


4 Februarie 2026

Waarheid

Jy kan niks meer glo nie, absoluut niks. Definitief nie een woord wat uit 'n politikus se mond kom nie. En o wee, alles wat op sosiale media opgedis word, moet jy maar met 'n knippie sout vat. Definitief as daar 'n mooi foto geplaas word, is dit dalk met AI geskep, videos word so gemanipuleer dat jy nie kan agterkom dis "fake" nie, en jy kan selfs vir Trump laat Hansie slim sing.

Wat is waarheid, die hele waarheid, die volle waarheid, en niks anders as die waarheid nie? Is die volle waarheid van elke saak moontlik om te meet? Hoekom hou ons nie altyd van die volle waarheid nie? Ja jitte, leuens is ’n lelike ding. Onwaarheid, lieg, verswyging van feite, jok, wit leuens. Wit leuentjie? Is dit lieg? Dis mos sommer so 'n onskuldige storietjie; dis darem nie te erg as ons dit kwytraak nie, of hoe? Las so vier duim by die vis aan wat ons gevang het. Sny so 'n paar honderd rand af van die geld wat ons gesteel het. Het jy ook onlangs gelieg? Hoeveel keer hierdie jaar? Gister, dalk vanoggend? Gelieg by die werk, vir die werk, oor die werk, op jou verlofvorm? Ek hoop jy voel nou saam met my skuldig! Wie van ons kan sê dat ons altyd, onomwonde in die waarheid wandel?

Spr. 6:12-13: "Dit is 'n nikswerd mens, 'n mens vol onreg, wat altyd reg is om te lieg, om te bedrieg deur met die oog te knik, met die voet te beduie, met die vingers tekens te gee."

Hoe wonderlik sou dit nie wees as elke mens op aarde aan die volle waarheid kon vashou en dit uitleef nie? Daar sou geen regstelsel nodig wees nie, en daar sou baie meer vrede wees as wat daar nou is. Maar o wee, toe besef ek iets anders. As ek vir vroulief sou vra of ek dik lyk, sou sy moes sê: Ja, maggies man, as jy jou kop intrek kan jy rol! Nou ja, ek weet nie wat om met daardie een te maak nie.

Dit lyk my in sommige beroepe word die waarheid maar dun gesmeer, anders werk dinge nie mooi uit nie. Ek het eendag gewonder hoekom geen mans, jonk of oud, en geen jonger dames dan ooit motors besit nie, want elke tweedehandse motor wat jy wil aanskaf het aan 'n ou tannie behoort! En terloops, sy het saans die motor se deure oop gelos sodat die rubbers nie hard word nie.

Sê 'n advokaat eendag tong in die kies: Jy is onskuldig tot jou geld op is...

Ja ons spot met sommige beroepe, maar daar is nie een enkele beroep wat vry van leuens is nie, want hoe op aarde kan 'n beroep jok? Dis die mens wat jok.

Ongelukkig jok ons vir die Here ook. Ek dink ons (laat ek eerder net van myself praat), jok daagliks vir die Here, en dis maklik want niemand anders hoor dit nie. Mag Hy ons ook dit vergewe. ~ Willem Botha

Klik hier vir nog Heuningdruppels >>


4 Februarie 2026

Kom, glimlag 'n bietjie.

Hierdie foto is deur die James Webb teleskoop geneem en dit wat jy hier sien is nie sterre nie, dis galaksies met miljarde sterre in elke blink kolletjie..

Volgens wetenskaplikes is daar meer sterre in die heelal as al die sandkorrels op aarde. Dink aan 'n emmertjie sand op die strand en probeer raai hoeveel sandkorrels daarin is en jy sal besef dis onmoontlik. Neem ál die sandkorrels op die hele aarde (ja ook daardie paar miljard wat in jou tuin lê) en dink hoeveel sterre daar moet wees. Dis ondenkbaar. Dan lees jy nou hierdie teks 'n keer of wat deur.

“Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name.” (Ps. 147:4)

Nie "Hy hét hulle name gegee nie", dit sê Hy géé hulle name, want daar vorm miljoene nuwe sterre op hierdie oomblik. En Hy hardloop nie uit name uit nie.

Hoe voel jy vandag? Bietjie af, so asof die Here jou en jou probleme miskyk? So asof Hy jou vergeet het?

Lees die volgende teks sommer 'n paar keer deur en deurdink dit noukeurig: "Wanneer ek na u hemelruim kyk, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U gevestig het – wat is 'n mens dan dat U aan hom dink, 'n mensekind dat U aan hom aandag skenk? U het hom net minder as 'n hemelse wese gemaak; U het hom met eer en majesteit gekroon." (PS. 8:4-6 AFR20)

Besluit nou of jy die sinnelose goed glo wat die wêreld vir jou opdis, en of is jy bereid om te glo wat die Here vandág vir jou sê? Daar is mos net één keuse en één waarheid, of hoe? ~ Willem Botha

Klik hier vir nog Heuningdruppels >>


Hande - myne en God s'n

Ek het die afgelope tydjie die tema van hande oordink 'n paar kort stukkies daaroor geskryf:

- my eie hand: pynlik a.g.v artritis en gevolglike operasies aan my vinger
- doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen
- Jesus se hand wat genesing bewerk
- wat het jy in jou hand?
- opstandige, ongehoorsame, sondige hande
- Pilatus se hande van onskuld
- die skild van geloof in jou hand
- all of these lines across my hand
- put your hand in the hand of the Man who stilled the water
- skryf op jou hand: die Here s'n
- my God het sy goeie hand oor my gehou
- in die skaduwee van God se hand
- Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou
- dis Kersfees - kyk na Jesus se hande en glo


Klik hier as jy dit wil lees >>


So sê die Here, Here

Toe ons dogter Februarie in die tagtig jaar oue kerk in Clarens getroud is, het die woorde op die kanselkleed 'n groot indruk op my gemaak: "So sê die Here, Here". Hoe kragtig en mooi is dit nie! Die Here praat met sy mense. Hy praat in sy “tempel”. Hy praat deur sy “profeet”. Die Here sê trooswoorde, beloftes van genade en redding, versekering van sy liefde en verlossing. Die Here sê woorde wat ons uitnooi om na Hom te kom, by Hom te skuil, by Hom te rus. Hy sê egter ook woorde met opdragte vir ons, woorde met waarskuwings, woorde wat ons maan om terug te draai na Hom en gehoorsaam te wees ... Klik hier om 'n klompie kort stukkies oor hierdie tema te lees >>


Breek brood

Daar is so ’n mooi uitdrukking wat mense gebruik wat sê: ons breek saam brood. Dit beteken baie meer as om net ’n maaltyd saam met iemand te nuttig. Dit beteken dat jy jou kos en jouself met iemand deel. Dit beteken daar is ’n kameraadskap tussen julle, ’n spesiale band, ’n emosionele en geestelike band. Ek dink dié term het ontstaan toe Jesus saam met sy dissipels aan tafel was en Hy die brood gebreek het en gesê het: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” (Luk. 22:19). Of dalk toe Jesus die twee vissies en vyf brode gebreek het en uitgedeel het aan ’n honger menigte in Joh. 6:11. Die breek van die brood sê vir my dat Jesus Homself gegee het.  Die Brood wat lewe gee is gebreek en verniet uitgedeel en is onbeperk vermenigvuldig sodat ek en jy ook vandag daarvan kan eet .... Klik hier om 'n klompie kort stukkies oor hierdie tema te lees >>


Leer by Nehemia

Ek het bietjie deur Nehemia gelees en 'n paar lewenslesse oor gebed, afhanklikheid, vertroue, lofprysing ens. geleer. Ek het 'n klompie daarvan neergeskryf. Klik hier as jy dit wil lees >>

 


Vrae wat die Here vra

Ek het  êrens in Februarie 2021 begin om vrae wat die Here in die Bybel vra op te soek en te oordink. Ek het telkemale myself verbeel dat die Here vir my persoonlik ook die vraag vra en dan bietjie gedink wat my antwoord sou wees. Ek het eers begin met vrae wat Jesus gevra het in die Evangelies, maar dit het vinnig uitgebrei tot vrae dwarsdeur die Bybel. Aanvanklik wou ek so tien vrae uitkies om dieper oor te dink, maar tien het op die ou einde meer as vyftig geword! Oor die volgende paar weke wil ek nou bietjie verder gaan en na 'n paar vrae in die Bybel kyk wat verskillende mense in verskillende omstandighede gevra het. Ek glo dit is ook vrae wat baie van ons dikwels mee te doen kry. Ek het dit wat ek reeds oor die vrae geskryf het, hier bymekaar gesit, as jy dit dalk wil lees (en beantwoord!) Klik hier >>
Daarna het ek so 30 vrae uitgesoek en oordink  wat mense in die Bybel vra. Klik hier as jy verder daaroor wil lees >>
 


Musiek en lofprysing

Ek het in die laaste paar maande bietjie stilgestaan by ’n klompie gedagtes uit die Bybel oor musiek, sang en lofprysing en 30 kort stukkies daaroor geskryf – sommer soos dit in die alledaagse gang van die lewe by my opgekom het en iets vir my persoonlik beteken het. Die teks wat dit alles vir my die beste saamvat is Ps. 115:17-18 soos dit in Die Boodskap staan: “As jy dood is, kan nie jy of enige ander dooie mens die Here prys nie. Dan is jy nie meer daar om dit te doen nie. Maar ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd aanhou. Kom prys die Here!” Ek het al die stukkies hier bymekaargesit as jy dit dalk weer wil deurlees. Ek hoop dit sal jou inspireer om sommer in te val met ’n lofsang en ’n pryslied tot eer van die Here.
 

Klik hier vir alles >>


Wie is God  vir jou?

Oor die afgelope 7 maande het ek ’n stuk of 45 kort stukkies geskryf oor wie God is, oor verskillende name wat Hy genoem word in die Bybel. As ek terugkyk weet ek dis maar ’n druppel in die oseaan en as mens iets moet skryf oor elke karaktereienskap van die Here, sal jy langer as vir ewig daarmee besig wees en sal die wêreld nie genoeg plek hê vir die boeke nie (soos wat Joh. 21:25 sê) In hedendaagse terme sal mens seker kan sê dat die wêreldwye web nie alles sal kan huisves nie en dat Google nie alles sal kan deursoek nie! Kortom: ons God is groter as wat woorde en name Hom kan omskryf, wie Hy ís is veel meer as wat ons gedagtes kan akkommodeer. Dit was egter vir my ’n  leersame en verrykende pad wat begin het by Eks 3:13

... 
 lees verder >>


Julle moet mekaar ...
 

Ek het die afgelope tyd ’n paar gedagtes gedeel oor ’n klompie van die “julle moet mekaar”-tekste in die Bybel. Julle moet mekaar aanvaar, mekaar vergewe en mekaar liefhê; julle moet gasvry wees teenoor mekaar en mekaar dien; julle moet geduldig wees met mekaar, mekaar verdra en in vrede lewe met mekaar; julle moet mekaar help, mekaar se laste dra, mekaar troos en moed inpraat; julle moet mekaar leer en onderrig en lofliedere saam sing ...
 

As jy wil, kan jy hier klik om hulle weer te lees >>


Jesus het hulle innig jammer gekry

Ek het vir die afgelope agt keer wat dit my beurt was om ietsie te skryf bietjie stilgestaan by dié uitdrukking: "Jesus het hulle innig jammer gekry", wat mens 'n hele paar keer in die evangelies raaklees. Dis 'n uitdrukking wat my so aangegryp het en net vir my onderstreep het dat die Here ’n barmhartige God is. Net soos Jesus dit nie kon help om mense wat honger, siek en hartseer, verlore en blind, vuil en verwerp is, jammer te kry en diep meegevoel met hulle te hê nie, net so weet ek dat Hy dit vandag vir my persoonlik ook sal doen. Sy arm is nooit te kort om te help nie, Sy genade is elke dag vars, Sy oor is nooit te doof om te luister nie, Sy hulp en uitkoms  is nooit vêr nie, Sy liefde is onbegrens, oneindig en onverstaanbaar groot. “Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde” – kyk maar bietjie hoeveel keer hierdie frase in die Bybel voorkom, dan besef mens Sy hart word gou sag! “Die Here gee graag goeie dinge aan ons. Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het sy kinders baie lief. Vir almal is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy gemaak het ... Die Here sorg vir almal wat seerkry, Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd. Omdat U goed is, gee U maklik goeie dinge aan ons. U gee meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde. (Ps. 145:9-16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha
 

Ek het al die stukkies hier bymekaargesit – klik hier indien jy dit dalk weer wil lees >>


Bring die hoop weer terug

Ek het die afgelope tydjie bietjie gelees en gedink en geskryf oor hoop. Ek het tekste opgesoek wat oor hoop gaan. Ek het gewilde aanhalings oor hoop opgesoek. Hier is so 10 gedagtes wat ek neergeskryf het. Lees hier meer >>
 


Wonderwerke van Jesus uit Johannes
 

Ek het oor die afgelope paar weke bietjie gelees en gedink oor die wonderwerke van Jesus en veral dié wat in Johannes opgeskryf is. Aan die einde van die boek sê Johannes dat daar nog baie dinge is wat Jesus gedoen het wat nie opgeskryf is nie. “Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.” (Joh. 21:25) Johannes-hulle het definitief báie wonderwerke gesien.  Ek dink nie dit geld net vir Johannes se tyd nie, ek glo dit is nóú ook so, ons moet net met oop geestesoë deur ons alledaagse lewe gaan om raak te sien waar die Here beweeg en wonder na wonder laat gebeur. Die rede dat die wonderwerke vir ons in die Bybel opgeskryf is, is sodat ons in Jesus moet glo:  “Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” (Joh. 20:30-31) Kyk hoe dit gebeur het met mense wat Jesus se wonderwerke beleef het: Joh. 2:11 – toe die dissipels sien hoe Jesus water in wyn verander, het hulle tot geloof in Hom gekom. Joh. 4:53 – toe die regeringsamptenaar se seun genees is, het hy en sy hele huisgesin tot geloof in Jesus gekom. Joh. 6:14 – toe die mense sien hoe Jesus die vis en brood vermeerder het, het hulle bely: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom. Joh. 11:45 – toe Lasarus uit die dood opgewek is, het baie Jode wat dit gesien het, tot geloof in Jesus gekom. Joh. 21:7 – toe die dissipels die ongelooflike klomp vis vang, kon Johannes nie anders as om uit te roep: “Dit is die Here!” nie. Laat ons ook nie nalaat om die Here se wonderwerkende hand in ons lewens te sien en sodoende te groei in ons geloof nie. Laat ons ook nie nalaat om erkenning aan die Here te gee en te getuig oor Sy werke in ons lewe nie.

Terwyl ek deur die wonderwerke gelees het, het ek ’n stuk of 20 gedagtes daaroor neergeskryf.

Lees gerus hier meer daaroor >>


Jesaja se Goud - klik hier >>
 

Die afgelope jaar het ek so stukkie vir stukkie deur Jesaja gelees.  Ek het maar heelwat goed in Jesaja gevind wat ek nie verstaan nie, en wat ek nie altyd weet wat pas waar in nie, en soms sukkel ek maar om sin te maak uit al die profesieë en die oordeeluitsprake maar êrens tussen dit alles, in elke hoofstuk, op elke  bladsy  van die boek, het ek die wonderlikste goud uitgedelf - beloftes, bemoediging, versekering, aanmoediging, tekste om te onderstreep en in my hart te bêre. Dwarsdeur die boek het ek die goue draad van God se genade, vergifnis en versorging gesien, die goeie nuus gesien dat God mense optel en vernuwe en hoop gee. Ek het in dié tyd ’n stuk of 85 kort boodskappies uit Jesaja geskryf wat ek hier gedeel het. Ek het hulle nou almal bymekaargesit as jy dalk weer daardeur wou lees. Ek noem dit “Jesaja se goud” en hoop jy sal ook iets in dié goudpot vind wat jou geloof kan versterk en jou verhouding met die Here kan laat groei.

Lees gerus meer hier >>


My 18 G's vir 2018 - klik hier >>

Op die eerste Maandag van hierdie jaar het ons almal vir mekaar allerhande mooi seëninge toegewens vir die nuwe jaar. Ek het ook ’n klomp wonderlike woorde ontvang van oraloor. Op die tweede Maandag het ek verjaar en toe is dit wéér ’n stroom seëninge en gebede wat oor my uitgespreek word. Dit het my opgeval dat ’n klomp van dié woorde met ’n “G” begin, soos bv. geseënd, gesond, gelukkig, genade, groots, goedheid, guns, genot, Geesvervuld, ens.! Toe besluit ek net daar en dan dat 2018 ’n “G” jaar gaan wees en skryf toe so 18 G’s neer vir my jaar! As mens “G” sê, dan sê jy “gee”.  Om te gee, moet dan seker my eerste G vir die jaar wees ... lees verder >>

 


Kort dagstukkies uit Psalms - klik hier >>


Kort dagstukkies oor die 10 Bybelverse wat die meeste opgesoek word - klik hier >>


Kort dagstukkies uit Spreuke - klik hier >>


Kort dagstukkies uit Fillipense - klik hier >>


Kort dagstukkies uit 1 Johannes - klik hier >>


Kort dagstukkies uit Jona - klik hier >>



Facebook Groep
Sluit gerus aan by ons groep waar ons elke dag heuningdruppels oplaai, en waar jy welkom is om saam te gesels. Klik hier >>


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


 


Aantal besoekers