
|
|
|
Hoe
aangenaam is U Woord, soeter as heuning in die mond
Heuning is 'n rusplekkie, 'n kuierplekkie, weg van die
sorge van die lewe, weg van die gejaag en gewoel en gewerskaf, weg van
al die gestoei om te oorleef.
Hier kan jy soet druppels uit 'n heuningkoek kom kry, en versadig word met
heuning uit 'n rots, dié Rots, Jesus Christus.
Ons wil jou uitnooi om rustig te kuier en weer en weer terug te kom.
|
|
|
|
|
Lees gerus
enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder ..... |
|
01 Maart 2021
Gen. 1:1 "In
die begin het God die hemel en die aarde geskep."
Gen. 1:20 "Toe het God gesê: “Laat die waters krioel van lewende
wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg.”
Gen. 1:31 "Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was
baie goed."
Wilna het nou die dag 'n pragtige stukkie geskryf oor 2 mossies vir
'n sent, en dat jy baie meer werd is. 'n Paar maande gelede het ek
geskryf oor die voëltjie wat met my gepraat het. Oftewel, ek het 'n
baie sterk boodskap gekry uit 'n insident wat ons gehad het met 'n
klein Jan Frederik. Sedertdien kry ek dag vir dag die mees kragtige
boodskappe uit hierdie pragtige skepseltjies wat die Here met soveel
sorg gemaak het, en wat vir ons soveel plesier verskaf. Hier in ons
tuin is soggens 'n vreeslike geskarrel van aktiwiteite wanneer ons
die voëls om sesuur voer. Die Here het so 'n iets van 'n klok in
hulle ingebou en hulle wag geduldig vir voertyd. Daar is 'n klompie
voerplekkies waar soggens vrugte en saadjies uitgesit word. Daar is
Wilna se platform, Thinus se restaurant, die ou platform, die huisie,
die vrugtestok en dan die nuutste toevoeging, nl. die skip. Die goed
het nou maar met tyd name gekry sodat ons weet waar om te kyk as 'n
nuwe tipe voël sy opwagting maak. Die duiwe kry op die grond kos
want hulle is effe groot. Hoe wonderlik het die Here hulle nie
gemaak nie, elkeen na sy aard, volgens die Bybel. Suikerbekkie het
onlangs die waterbottel met suikerwater ontdek, en die Here vir hom
'n lang snawel ontwerp om nektar uit plante te suig, die Jan
Frederik sit eerder op die grond, die piepklein Glasogies is ook
nuut hier en verskaf vir ons tonne vreugde want hulle is bondeltjies
energie. Toe gebeur die verstommende ding waarvoor ons so gehoop het,
die Kuifkophoutkapper begin kap aan die sisalstomp wat ons opgehang
het. Hoe weet hy dat hy dit kan doen? Wie anders as 'n Ontwerper kon
dit in hom inbou? Daar is nie veel voëls wat so huisbou nie. Gister
het Kuifkop en die Rooikophoutkapper beide aan dieselfde gat kom kap.
Ek weet nie hoekom nie. Die Here het vir die vinkie die vermoë gegee
om 'n huis te bou met grassies wat hy vleg, net met sy bek. Ek en jy
kan dit net eenvoudig nie doen nie, maak die saak hoeveel vermoëns
ons het nie. Elke kleine voëltjie, die ou groot duif en die reuse
Hadida wat so vreeslik raas kom kuier. Elkeen is anders, elkeen na
sy aard geskape, elkeen sy eie gewoontes, geluide, dieet, alles
uniek, net soos wat die Here in Genesis beskryf. Twee mossies vir 'n
sent, jy is meer werd. Elke voël, hoe hy ook al lyk is uniek en baie
spesiaal vir die Here. Die Here sê hy sal vir ons sorg, net so moet
ons ook vir die natuur sorg. 'n Bietjie saad en vrugte soggens, en
die Here skuif die gordyne oop sodat ons die meeste indrukwekkende
teateropvoering kan sien, elke dag. Kyk hoe wonderlik openbaar die
Here nie sy grootheid aan ons nie. So baie pragtige voëls, elkeen na
sy aard. Nee, nie geëvolueer uit een of ander eensellige dingetjie
nie, nee, elkeen na sy aard. Hoe wens ek ek kon vlieg, maar ek kan
nie, want dis nie wat die Here in gedagte het vir my nie, ek het 'n
ander doel. Die voëltjie maak staat op die Here se versorging, ek en
jy kan ook maar. Hoe geniet ons nie elke dag hierdie klein vlieënde
wonderwerkies nie! Dis die Here se handewerk. Elkeen na sy aard. ~
Willem Botha
Klik hier vir nog
Heuningdruppels >> |
|
25 Februarie 2021
“Waar is jy?”
(Gen. 3:9) Dis die heel eerste vraag wat die Here vra. Die Here soek
na Adam en Eva, nie omdat Hy nie weet waar hulle is nie, maar omdat
Hy weet dat hulle vir Hom wegkruip en Hom vermy en Hom eintlik nodig
het om hulle te help. As die Here vandag vir jou vra: Waar is jy?
Waar gaan Hy jou kry? Êrens op jou eie pad? Alleen en verlate? Op
plekke waar jy nie veronderstel is om te wees nie, waar niemand
anders mag weet waar jy is nie? Besig met verkeerde dinge? Of gaan
Hy jou vind besig om jou medemens te help, soos die barmhartige
Samaritaan, of besig met jou eerlike dagtaak soos die vissermanne
langs die See van Galilea, besig om jou gesin te versorg soos Marta,
besig om Sy Woord en liefde te deel soos Petrus? Of gaan Hy jou dalk
vind langs die sterfbed van ’n geliefde, soos Lasarus se familie, of
op jou siekbed in afwagting van ’n wonderwerk, soos die man by die
bad van Bethesda, of uitgewerp soos die besetene in Kapernaum? Of
gaan Hy jou dalk op jou knieë vind waar jy jou hand uitsteek om aan
die soom van sy kleed te raak of in ’n skare gereed sit om te
luister na sy leringe? Weet vir seker dat daar nie ’n plek is waar
die Here jou nie kan raaksien nie. Jy kan nie vir die Here wegkruip
nie. Hy sal jou altyd weer kom soek en kom haal en kom help. Hy sal
99 skape los om jou te kom roep: waar is jy? Ons is dalk verlore,
verdwaal en skaam soos Adam en Eva oor dit wat ons aangevang het,
maar hoor vanaand dat die Here na jou kom soek en vra: My kind, waar
is jy? “Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?
Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U
ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste,
ook daar lei U hand my, hou u regterhand my vas.” (Ps. 139:7-10) ~
Wilna Botha
Klik hier vir nog
Heuningdruppels >> |
|
Musiek en
lofprysing
Ek het in die
laaste paar maande bietjie stilgestaan by ’n klompie gedagtes uit
die Bybel oor musiek, sang en lofprysing en 30 kort stukkies daaroor
geskryf – sommer soos dit in die alledaagse gang van die lewe by my
opgekom het en iets vir my persoonlik beteken het. Die teks wat dit
alles vir my die beste saamvat is Ps. 115:17-18 soos dit in Die
Boodskap staan: “As jy dood is, kan nie jy of enige ander dooie mens
die Here prys nie. Dan is jy nie meer daar om dit te doen nie. Maar
ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd
aanhou. Kom prys die Here!” Ek het al die stukkies hier
bymekaargesit as jy dit dalk weer wil deurlees. Ek hoop dit sal jou
inspireer om sommer in te val met ’n lofsang en ’n pryslied tot eer
van die Here.
Klik hier vir alles >> |
|
Wie is God
vir jou?
Oor die afgelope 7 maande het ek ’n stuk of 45
kort stukkies geskryf oor wie God is, oor verskillende name wat Hy
genoem word in die Bybel. As ek terugkyk weet ek dis maar ’n druppel
in die oseaan en as mens iets moet skryf oor elke karaktereienskap
van die Here, sal jy langer as vir ewig daarmee besig wees en sal
die wêreld nie genoeg plek hê vir die boeke nie (soos wat Joh. 21:25
sê) In hedendaagse terme sal mens seker kan sê dat die wêreldwye web
nie alles sal kan huisves nie en dat Google nie alles sal kan
deursoek nie! Kortom: ons God is groter as wat woorde en name Hom
kan omskryf, wie Hy ís is veel meer as wat ons gedagtes kan
akkommodeer. Dit was egter vir my ’n leersame en verrykende pad wat
begin het by Eks 3:13
...
lees verder >> |
|
Julle moet
mekaar ...
Ek het die afgelope tyd ’n paar gedagtes gedeel oor ’n
klompie van die “julle moet mekaar”-tekste in die Bybel. Julle moet mekaar
aanvaar, mekaar vergewe en mekaar liefhê; julle moet gasvry wees teenoor
mekaar en mekaar dien; julle moet geduldig wees met mekaar, mekaar verdra en
in vrede lewe met mekaar; julle moet mekaar help, mekaar se laste dra,
mekaar troos en moed inpraat; julle moet mekaar leer en onderrig en
lofliedere saam sing ...
As jy wil, kan jy hier klik om hulle weer te
lees >> |
|
Jesus het hulle innig jammer gekry
Ek het vir die
afgelope agt keer wat dit my beurt was om ietsie te skryf bietjie
stilgestaan by dié uitdrukking: "Jesus het hulle innig jammer gekry", wat
mens 'n hele paar keer in die evangelies raaklees. Dis 'n uitdrukking wat my
so aangegryp het en net vir my onderstreep het dat die Here ’n barmhartige
God is. Net soos Jesus dit nie kon help om mense wat honger, siek en
hartseer, verlore en blind, vuil en verwerp is, jammer te kry en diep
meegevoel met hulle te hê nie, net so weet ek dat Hy dit vandag vir my
persoonlik ook sal doen. Sy arm is nooit te kort om te help nie, Sy genade
is elke dag vars, Sy oor is nooit te doof om te luister nie, Sy hulp en
uitkoms is nooit vêr nie, Sy liefde is onbegrens, oneindig en
onverstaanbaar groot. “Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol
liefde” – kyk maar bietjie hoeveel keer hierdie frase in die Bybel voorkom,
dan besef mens Sy hart word gou sag! “Die Here gee graag goeie dinge aan ons.
Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het sy kinders baie lief. Vir almal
is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy gemaak het ... Die Here sorg
vir almal wat seerkry, Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle
hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd. Omdat U goed is, gee U maklik
goeie dinge aan ons. U gee meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde.
(Ps. 145:9-16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha
Ek het al die
stukkies hier bymekaargesit –
klik hier indien jy dit dalk weer wil lees >> |
|
Bring die hoop weer terug
Ek het die afgelope tydjie bietjie
gelees en gedink en geskryf oor hoop. Ek het tekste opgesoek wat oor hoop
gaan. Ek het gewilde aanhalings oor hoop opgesoek. Hier is so 10 gedagtes
wat ek neergeskryf het.
Lees hier meer >>
|
|
Wonderwerke
van Jesus uit Johannes
Ek het oor die afgelope paar weke bietjie gelees en gedink oor die
wonderwerke van Jesus en veral dié wat in Johannes opgeskryf is. Aan die
einde van die boek sê Johannes dat daar nog baie dinge is wat Jesus gedoen
het wat nie opgeskryf is nie. “Maar as dit een vir een beskrywe moet word,
dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.” (Joh.
21:25) Johannes-hulle het definitief báie wonderwerke gesien. Ek dink nie
dit geld net vir Johannes se tyd nie, ek glo dit is nóú ook so, ons moet net
met oop geestesoë deur ons alledaagse lewe gaan om raak te sien waar die
Here beweeg en wonder na wonder laat gebeur. Die rede dat die wonderwerke
vir ons in die Bybel opgeskryf is, is sodat ons in Jesus moet glo: “Maar
hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus
is, die Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.”
(Joh. 20:30-31) Kyk hoe dit gebeur het met mense wat Jesus se wonderwerke
beleef het: Joh. 2:11 – toe die dissipels sien hoe Jesus water in wyn
verander, het hulle tot geloof in Hom gekom. Joh. 4:53 – toe die
regeringsamptenaar se seun genees is, het hy en sy hele huisgesin tot geloof
in Jesus gekom. Joh. 6:14 – toe die mense sien hoe Jesus die vis en brood
vermeerder het, het hulle bely: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na
die wêreld toe moes kom. Joh. 11:45 – toe Lasarus uit die dood opgewek is,
het baie Jode wat dit gesien het, tot geloof in Jesus gekom. Joh. 21:7 – toe
die dissipels die ongelooflike klomp vis vang, kon Johannes nie anders as om
uit te roep: “Dit is die Here!” nie. Laat ons ook nie nalaat om die Here se
wonderwerkende hand in ons lewens te sien en sodoende te groei in ons geloof
nie. Laat ons ook nie nalaat om erkenning aan die Here te gee en te getuig
oor Sy werke in ons lewe nie.
Terwyl ek deur die
wonderwerke gelees het, het ek ’n stuk of 20 gedagtes daaroor neergeskryf.
Lees gerus hier meer daaroor >>
|
|
Jesaja se Goud - klik hier >>
Die
afgelope jaar het ek so stukkie vir stukkie deur Jesaja gelees. Ek het
maar heelwat goed in Jesaja gevind wat ek nie verstaan nie, en wat ek nie
altyd weet wat pas waar in nie, en soms sukkel ek maar om sin te maak uit al
die profesieë en die oordeeluitsprake maar êrens tussen dit alles, in elke
hoofstuk, op elke bladsy van die boek, het ek die wonderlikste goud
uitgedelf - beloftes, bemoediging, versekering, aanmoediging, tekste om te
onderstreep en in my hart te bêre. Dwarsdeur die boek het ek die goue draad
van God se genade, vergifnis en versorging gesien, die goeie nuus gesien dat
God mense optel en vernuwe en hoop gee. Ek het in dié tyd ’n stuk of 85 kort
boodskappies uit Jesaja geskryf wat ek hier gedeel het. Ek het hulle nou
almal bymekaargesit as jy dalk weer daardeur wou lees. Ek noem dit “Jesaja
se goud” en hoop jy sal ook iets in dié goudpot vind wat jou geloof kan
versterk en jou verhouding met die Here kan laat groei.
Lees
gerus meer hier >> |
|
My 18 G's vir 2018
- klik hier >>
Op die eerste Maandag van hierdie jaar het ons almal vir mekaar allerhande mooi
seëninge toegewens vir die nuwe jaar. Ek het ook ’n klomp wonderlike woorde
ontvang van oraloor. Op die tweede Maandag het ek verjaar en toe is dit wéér
’n stroom seëninge en gebede wat oor my uitgespreek word. Dit het my opgeval
dat ’n klomp van dié woorde met ’n “G” begin, soos bv. geseënd, gesond,
gelukkig, genade, groots, goedheid, guns, genot, Geesvervuld, ens.! Toe
besluit ek net daar en dan dat 2018 ’n “G” jaar gaan wees en skryf toe so 18
G’s neer vir my jaar! As mens “G” sê, dan sê jy “gee”. Om te gee, moet dan
seker my eerste G vir die jaar wees ...
lees verder >>
|
|
Kort dagstukkies uit Psalms - klik hier >>
 |
|
Kort dagstukkies oor die 10 Bybelverse wat die meeste opgesoek word - klik
hier >>
 |
|
Kort
dagstukkies uit Spreuke - klik hier >>
 |
|
Kort
dagstukkies uit Fillipense - klik hier >>
 |
|
Kort
dagstukkies uit 1 Johannes - klik hier >>
 |
|
Kort dagstukkies
uit Jona -
klik hier >>
 |
|
|
Facebook
Groep
Sluit gerus aan by ons groep waar ons elke dag heuningdruppels oplaai, en
waar jy welkom is om saam te gesels.
Klik hier >> |
|
|
Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met
verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)
|
|
|