Rippel kamp vir
gestremdes 2
Hoe sou mens
'n ervaring soos hierdie beskryf? Die woorde “verwondering,
ongeloof, dankbaarheid, grootsheid” doen dit net nie. Na so 'n
naweek is elke vierkante millimeter van jou kop, en wese propvol, en
neem dit drie dae voor jy eers weer afgewen het. 'n Kamp soos dié
sal nooit in 'n “tipiese” boksie pas nie. Niks is voorspelbaar nie,
niks kan vooruit beredeneer word nie en geen emosies kan vooruit
vasgepen word nie. Dit is uniek. PUNT.
Die vraag wat
by mens opkom is:- “Hoekom bederf die Here ons met geleenthede soos
hierdie”? Hoekom is dit so dat mense met sulke geweldige uitdagings
soveel vreugde in ons lewens kan inbring? Miskien is dit oor hierdie
pragtige mense se opregtheid en ongekunsteldheid wat hulle so in
jou hart inkruip, en jy letterlik nie genoeg daarvan kan kry nie.
Hierdie kamp
was weereens gekenmerk deur vrolikheid, lekker kuier, speel dat die
biesies bewe en lekker diep Geestelike sessies. En dan natuurlik
vriendskappe bou wat vir ewig sal hou. Vandat die eerste mense
Saterdagoggend aangekom het, het ons die atmosfeer van afwagting en
verwagting byna tasbaar aangevoel. Party van die kampers het half
skugter nadergestaan en gewonder wat hier gaan gebeur! Maar... na
die ysbereker met mooee, blaf en ander dieregeluide, Sarie Marie wat
soek na haar Dina, en sjokolade-maatjies soek, het almal tuis
gevoel.Die program het sommer vroeg-vroeg met 'n knal afgeskop en
daar is ge-luister, ge-lofprys, ge-eet en ge-kuier.
Toe begin die
pret! Francois en Claudia du Toit het vir die dag gekom en
ge-organiseerde speletjies en pret aktiwiteite aangebied. Hulle het
ook vir elkeen 'n wit T-hemp saamgebring wat sommer daar en dan
geverf is met enige iets wat vir jou spesiaal was. Jesus se Naam was
natuurlik die gunsteling vir 'n klompie “kunstenaars”. Ballongooi,
blinddoek speletjies, appel-aan-'n-tou-eet, balgooi en doelskop, en
swem het almal lekker flou gehad teen laatmiddag. Trofeetjies is
uitgedeel, paaseiers is verslind en sommer net lekker kuier onder
mekaar, het die speel-aktiwiteite afgesluit.
Nou ja, wat is
'n kamp sonder 'n konsert? Sommer so informeel en prettig. Daar was
gesing, gedigte voorgelees en nogmaals gesing. Wie sal Herman se eie
komposisies vergeet? Uit volle bors gesing, kitaar en al!!! Die aand
is afgesluit met 'n geloofsekerheid- en vergifnis sessie.
Slaaptyd het
natuurlik sy eie uitdagings gehad, want daar is nie afsonderlike
kamers vir almal nie, maar g'n mens het DAARVOOR omgegee nie. Nee
wat, dit het vir sy eie pret gesorg. Hoe sal jy iemand anders beter
leer ken as om een meter van hom af te slaap? Let wel, uit pure
ordentlikheid het niemand gesnork nie! Of so sê hulle...
Sondagoggend
het ons stiltetyd gehou, Wilna se boodskap geluister, gepreek en
nagmaal gehou. Foto's is geneem, terugvoer gegee en nommers is
uitgeruil. En daar gaan almal... In 36 ure is weke se lekker
ingepak, en herinneringe is saamgeneem wat sekerlik vir weke in
woorde omgesit gaan probeer word. Wie kan dit per slot van rekening
net beskryf en klaarkry?
24 UITERS
spesiale mense waarvan 17 gestremd is (die res was helpers), en dan
nie span, is uitmekaar as GROOT vriende. Dennis en Marietjie, Jan en
Susaar en Andre en Martie was saam met ons die span / aanbieders,
soos by die eerste kamp, en ook die volgendes. Nee wat, ons mis dit
vir niks!
Wally en Tina
is die eienaars van Deo Volente Bushadventures, en hulle harte is
oop vir die werk van die Here. Lofty en Ella het gesorg vir al die
kos, gasvryheid en harde werk. Baie dankie vir hulle almal!!! Ons
kom weer!!! En weer!!!
Die naweek van
10 – 11 April is die opvolg kamp van die eerste groep kampers. Die
mense wat hierdie afgelope naweek gekamp het sal weer 'n beurt kry
later in die jaar. Dankie aan Rippel en al hulle gulhartige
luisteraars wat soveel geld geskenk het, dat al die kampe gratis is.
Ons prys die Here daarvoor!!!
Willem en
Wilna Botha. |