WIE STAAN IN JOU SPIEëL?
– 17 Maart 2010
En daar staan
jy, soos elke oggend in jou spieël. Wie kyk vir jou? Hoe lyk daai
een vir jou? Spieëltjie spieëltjie aan die wand, wie's die mooiste
in die land...
Nie sleg as
meneer / mevrou so vir jou terugloer nie, mits jy in die fleur van
jou lewe is natuurlik. Later jare sal hierdie selfde spieël vir jou
'n heel ander beeld wys, wanneer jy soos iemand lyk van wie jy nie
hou nie. Iewers begin jy dit met roompies behandel, of bietjie
grimering (ja, mans ook), die grys haartjies word sommer gou-gou
gewys wie's baas met moetie uit 'n bottel. NOG later sou 'n bietjie
chirurgie nuwe lewe in die voorkoms blaas en die ergste plootjies
word weggetoor. Oppas net dat jy nie te Wacko begin lyk nie... By
die gimnasium werk mense onverpoos aan die “designer” lyfies, en as
jy “eenvoudig slim” is, drink jy 'n pilletjie om die gewiggies in
toom te hou.
En dan,
iewers, kom daar dalk aanvaarding, en spieëltjie se genadelose
terugblik word verdof deur kykers wat net nie meer so ver kan sien
nie. Ja jong, so gaan ons maar almal deur hierdie fases van
ydelheid.
Nou ja, tydens
die kamp vir mense met gestremdhede, het ons mense ontmoet wat niks
van hierdie goed kan kies nie. Gehoor- liggaamlik- gesig- en
verstandelik gestremdes, mense wat nie kon kies hoe hulle in die
lewe ingekom het nie, en wat nie die spieël kan sien nie, of nie tot
daar kan kom nie, en niks kan doen wat ander doen nie. Sommiges het
later in hulle lewens met hierdie lewe van MOEILIKE uitdagings
kennis gemaak. Steeds sonder keuse.
Ons almal
voldoen egter aan hierdie eenvoudige stukkie waarheid uit 1 Kor 6 :
19 – 20
Of besef
julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie?
Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en
julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is
betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.
ALMAL se
liggame is 'n tempel van God, of jy nou wil of nie, ongeag van hoe
dit lyk en of alles reg werk of nie. Sommige kan “design”, en ander
nie. Sommige kan in die spieël kyk, vir ander is die spieël
oorbodig. Party kan aan die lyfie werk, ander kan nie vanself uit 'n
bed uitklim nie. Sommige is bitter ongelukkig met hulle voorkoms.
Ek vermoed dit is hoofsaaklik diegene wat regtig niks het om oor te
kla nie!!!
Hou jy van
die persoon in jou spieël? Daardie byna volmaakte ene?
Het jy al gewonder of die Here jou nie dalk gemaak het presies soos
jy is nie, en wie jy NIE is nie? Kan jy sommer by 'n winkel instap
en byna enige uitrustinkie aanpas en koop? Daar is mense wat nooit
in hulle lewe die binnekant van 'n aanpashokkie sal sien nie. Nie
uit eie keuse nie! Kan jy self 'n basies ding doen soos toilet toe
gaan? Maklik in en uit jou bed wip? Wat van self jou eie koppie
boeretroos maak?
Ons het
mense op die kamp ontmoet vir wie die lewe een lang, moeilike,
uitgerekte stryd is. Waar elke handeling, elke beweging en selfs
elke woord wat ge-uiter word bitter moeilik (en soms seer) is. Party
kan NIKS sonder hulp doen nie, maar ons het niemand hoor mor of kla
nie, niemand wat die Here verwyt nie en niemad wat onvergenoeg met
hulle voorkoms is nie.
Ek vermoed
99.9% van mense is in my skoene, waar alles eintlik maar vreeslik
maklik is, alles werk reg en alles is bruikbaar. “As designed...” En
ek vermoed daardie 99.9% mense is (soos ek) dikwels ondankbaar oor
alles, te lui om kafee toe te stap, te moeg om lekker dinge saam met
die kinders te doen, te lui om te oefen en te gemaklik vir woorde.
Voorts werk die handjie mos goed, vernaam as hy die verbode
sjokoladetjies so flink in die bekkie prop. Totdat die spieël te
klein raak vir die gestalte. En dan gaan soek ons daardie “slim”
pilletjie. Dis nie vir almal outomaties nie. Patrick kan NET eet as
iemand die kos in sy mond sit, en nie dit wat hy kies nie, nee, dit
wat op die vurk is.
Hester ry
elke dag BAIE ver op haar elektriese “Shoprider” werk toe. Rain or
shine, sonder 'n dakkie. Sy kla nie oor haar werk nie, weet jy? Sy
is dankbaar sy HET 'n werk! Haar lewe is altyd moeilik, en sy praat
moeilik, maar mors nie haar woorde op skinder en gemors nie. Dis nie
haar aard nie, want sy leef vir die Here.
As jy na
hierdie ou in die spieël kyk, waardeer jy sy / haar liggaam? Daardie
volmaakte een wat jy gratis gekry het.
Mari en
Willie het enkele jare gelede ook sulke perfekte liggame in hulle
spieëls gehad, toe verander dit eensklaps! Mari het 'n beroerte
gehad, en toe nog een, wat die een kant van haar lyf ernstig
aangetas het. Sy kwalifiseer nou vir die term “gestremd”. Haar lewe
het in 'n oogwink verander en niks is meer vanselfsprekend nie.
Willie is getref deur Gillian- Berre sindroom, wat hom binne 'n paar
ure heeltemal verlam het. Sy hele gesinslewe is oornag ernstig
beproef, hy kon nie meer werk nie, en is nou in 'n rolstoel. Kan jy
jou dit indink? Daar is absoluut GEEN rede hoekom dit nie oor jou of
my pad kan kom nie. Indien dit NIE gebeur nie, is dit absoluut die
Here se genade, weet jy?
Hier volg
twee stukkies wat Willie se vrou geskryf het na sy siekte:-
Gister…
Nou dra ons maar elkeen ons eie seer. Jy in jou
klein hoekie en ek in myn. Ek wil nie daaroor praat nie, terwyl ek
weet dat jy wil.
Waaroor gaan ons praat? Oor gister? Gister is
verby en dit breek my hart as ek onthou. Oor môre? Wanneer gaan dit
môre word?
Ek probeer om nie te diep te dink oor hoe jy moet
voel nie. Hoe dit moet wees om so totaal afhanklik te wees en
verneder te word nie… om heeltyd skuldig te voel en dankbaar te wees
nie…
Jy sê ek is ‘n engel. Maar wat ek vandag doen is
gebore uit wat jy gister gedoen het.
Onthou jy hoe jy my nooit laat wag het nie omdat
jy weet dat ek bang is? Hoe jy ‘n nuwe pad twee keer saam met my
gery het sodat ek die volgende dag nie sou verdwaal nie? Hoe jy my
familie se vakansies gereël het om seker te maak ons kom bymekaar
uit?
Onthou jy hoe ons ‘n halwe oggend lank in die bad
gelê en kuier het? Hoe jy vir my aande lank romantiese musiek by
kerslig gespeel het? Hoe jy verrassings beplan het vir ons
huweliksherdenkings?
Ek weet nie wat ek voel nie my man. En elke dag
is ‘n nuwe stryd. ‘n Stryd tussen hemel en hel. ‘n Stryd oorwin
danksy hemel en hel.
Gaan ons stadig dood?
Maar deur my are vloei herinneringe aan gister…en
dit is gister wat jou, binne in my, lewendig hou.
Omdat jy my gister op hande gedra het sal ek
vandag jou hande wees. Omdat jy gister deur dik en dun by my gestaan
het sal ek vandag jou voete wees. Omdat jy my gister beskerm en
versorg het sal ek vandag ons verhouding beskerm en vir jou liggaam
sorg.
En as jy dan wil dankie sê, sê dit vir gister.
(Annette Potgieter)
Ek en jy weet hoe ons gisters lyk, maar nie ons
more's nie. Is JY danbaar oor gister?
So, wat is liefde
dan?
Ek vra jou my man,
wat is liefde dan?
Was dit liefde toe jy
voor in die kerk staan met jou gespierde arms terwyl ek met my wit
rok die gang af loop? Was dit liefde toe jy my kamer toe gedra het
nadat ek op die sitkamerbank aan die slaap geraak het? Was dit
liefde toe ons ons 6de huweliksherdenking met ‘n maanligpiekniek op
‘n Weense rivier in ‘n roeibootjie gevier het? Was die agt jaar wat
ons gesmag het na ‘n baba en jy my trane afgedroog het as ek weer
nie swanger was nie liefde?
So wat voel ek dan
nou? Wat is die deurmekaar gevoel wat ek wil analiseer, identifiseer
of kanseleer, wanneer ek na jou grootmanlyf met die vermoë van ‘n
baba kyk, terwyl jy lomp probeer om jou verlamde arms om my middel
te vou. Terwyl jy gebreek in die vier-wiel-ding sit. Terwyl ek
karbonkels uit jou neus krap of jou skoonmaak soos ‘n kind. Wat is
die huil wat heeltyd agter my oë wegkruip as ek trane op jou mooi
lang donker wimpers sien… jy wat nooit kon huil nie.
Hoekom lyk jy
seergemaak as my tong agter my kop aan hoereer, en die “ja, my kind”
uit is voor ek kan keer?
Weet jy dan nie dat
die grootste liefde wat ek ooit gevoel het, die “ek-verdrink”
liefde, het ek slegs gevoel het met die geboorte van ons eersteling
nie? Ek het gedink ek gaan sterf van liefde.
Dink jy omdat ek nou
sukkel om jou vrou te wees het ek jou nie meer lief nie? Wat is
liefde dan my man? Die onbeplande “ja my seun” beteken: ek het jou
onvoorwaardelik lief. Al hou jy my elke nag wakker soos ‘n
koliekbaba, ek het jou lief. Al kan jy my nie sonder hulp vashou
nie, ek het jou lief. Al is ek gedaan van die gespartel om jou
aangetrek te kry, ek het jou lief.
Vergeet van die
hoekoms en die toekoms. Vergeet van wat was en wat is en wat word.
As ek jou nie nou
lief het nie, het ek jou dan ooit liefgehad?
Ek het jou lief my
man.
(Annette Potgieter)
Uitdagings, groter as wat ek en jy ooit kan dink.
Wat maak ek en jy met ons tempels? Waardeer jy dit? Of is alles
sommer net vanselfsprekend? Of aanbid jy hierdie tempel net
eenvoudig te veel? Ydelheid... Miskien is jy, nes ek soms
onvergenoegd en ondankbaar, en besef ons nie dat alles vandag nog
kan verander nie. Misien kan ons dalk ook eendag nie eers meer net
die toilet se deksel optel nie, of onsself voer nie. Wie weet?
Hoe werk die Here? Sê nou maar jy kom eendag by
die spieël en skrik jou morsdood vir die een wat na jou toe
terugkyk, een in 'n minder “volmaakte” liggaam. Iemand anders in jou
spieël. Jy vra: “Here, wat gaan hier aan? Wie se liggaam is in my
spieël? En die Here se:- “Ek het liggame geruil met iemand wat joune
sal waardeer, wat dit beter sal versorg, wat dit nie oorvoed nie, en
net skoon lug in die longe toelaat, en die voggies weghou? Want jy
besef nie wat jy aan My tempel doen nie. Jy verwoes jou tempel se
gesondheid en waardeer dit glad nie. Kry vir jou dus hierdie een,
dalk verstaan jy beter. Jy stop mos graag op parkeerplek wat
uitgesit is vir gestremdses, nou mag jy maar daar stop.”
My vriend, dink weer or dit wat jy het, en wees
dankbaar. As jy in die winkel iemand in 'n rolstoel sien, groet maar
gerus, moenie wegskram nie. En moenie staar as jy weet iemand gaan
ongemaklik voel nie. Hanteer die gestremde net soos iemand anders,
of liewer, soos jy graag behandel sou word word as jy in daardie
situasie was.
Oefen jou tempel gereeld, gaan stap sommer net
omdat jy kan. En as jy die handjie nader aan die bekkie bring, sorg
dat die regte kos in die handjie is. En waardeer elke happie, wat jy
so moeiteloos vat. Hou maar die longe skoon, hulle is
lewensnoodsaaklik, en pas die lewer ook maar op. Moenie die Here se
tempel verwoes nie.
Gaan met vreugde werk toe, omdat jy kan. Gebruik
jou tempel tot eer van die Here, omdat jy kan. En waardeer alles wat
jy het, en alles wat reg werk. |