Die naweek van 10 –
11 Maart was dit weereens kamp vir persone met verskillende
gestremdhede, of liewer uitdagings, soos ons kies om dit te noem.
Aangesien dit ‘n opvolg kamp was van die groep wat verlede jaar gekamp
het, was dit sommer lekker en prettig met die intrapslag, want almal
het mekaar mos nou geken. Daar was egter enkele nuwelinge saam.
Bykans die hele
groep wat verlede keer daar was het dit bygewoon. Natuurlik sou hulle,
hulle het dan steen en been gekla omdat hulle nie die kamp van
Maartmaand kon bywoon nie!
Hoewel die konsep
keer op keer herhaal, is die program met elke nuwe groep splinternuut.
Hierdie keer was die tema “onder konstruksie”, uit Fil 1:6, wat
verduidelik dat ons onder konstruksie bly totdat die Here die werk in
ons afgehandel het, en ons gereed is vir ons hemelse tuiste. Dieselfde
span wat die vorige twee kampe aangebied het, was weer aan die roer
van sake, en Francois en Claudia du Toit het weer die Saterdag ingekom
om die groep met tonne pret en speletjies te vermaak. Dit is nie net
‘n speel kamp nie, daar is ook ‘n hele klomp Geestelike sessies
aangebied, en die Sondagoggend is daar natuurlik ook Nagmaal gehou.
En ja, daar was ook
weer konsert gehou, deur die kampers vir die kampers. Oom Dawie – ‘n
inwoner van Deo Volente – het ‘n opvoering gedoen van Robbie Robbish,
‘n dronkie wat die Here ontmoet op een van sy nagtelike straat
wandelings. Diep stukkie, wat oorgegaan het in ‘n tyd van aanbidding
en sang.
Deo Volente Bush
Adventures het weereens gesorg dat alles seepglad verloop, en ons
magies het behoorlik gebult van die lekkerste kos. Wally, Tina, Lofty
en Ella se harte is inderdaad in hierdie tipe kampe, want die terrein
is ook aan die Here en Sy werk opgedra. Omdat hulle ons ook so
goedgesind is, is hulle konstant besig om die fasiliteite te verbeter
om dit makliker en meer toeganklik te maak.
Sondagaand was daar
‘n lewendige terugvoersessie op Rippel, sodat Rippel se gawe
luisteraars wat geld skenk, kan hoor hoe die fondse aangewend word.
Omdat hierdie mense met sulke oop harte bygedra het, kon ons heelwat
bederfies in die kamp inbou. Nogmaals dankie aan almal daarvoor.
Ek is seker jy
wonder wat volgende? Wel, na die winter hou ons weereens kamp, en
weereens vir ‘n nuwe groep. Hou maar jou oor op jou FM-pie vir
inligting. Kort op sy hakke sal ‘n opvolg vir “groep 2” gehou word,
dit is die mense wat Maartmaand gekamp het.
Prys die Here vir Sy
groot genade. Ons glo dat Hy besig is om mense heel te maak wat dalk
glo dat hulle liggaamlik stukkend is. En so raak Hy ook vir ons aan
deur vir ons te wys dat Hy tot alles in staat is, en ook kliphard werk
in mense met spesiale behoeftes.
Willem |