|
|
Daaglikse Heuningdruppels -
Vrae wat mense vra
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
Vrae wat mense vra |
|
Ek het êrens in Februarie 2021 begin om vrae wat die Here in die
Bybel vra op te soek en te oordink. Ek het telkemale myself verbeel
dat die Here vir my persoonlik ook die vraag vra en dan bietjie
gedink wat my antwoord sou wees. Ek het eers begin met vrae wat
Jesus gevra het in die Evangelies, maar dit het vinnig uitgebrei tot
vrae dwarsdeur die Bybel. Aanvanklik wou ek so tien vrae uitkies om
dieper oor te dink, maar tien het op die ou einde meer as vyftig
geword! Oor die volgende paar weke wil ek nou bietjie verder gaan en
na 'n paar vrae in die Bybel kyk wat verskillende mense in
verskillende omstandighede gevra het. Ek glo dit is ook vrae wat
baie van ons dikwels mee te doen kry. Ek het dit wat ek reeds oor
die vrae geskryf het, hier bymekaar gesit, as jy dit dalk wil lees
(en beantwoord!)
Klik hier >> |
|
Die heel eerste vraag in die Bybel is dié een
wat die slang vir Eva gevra het. ’n Vraag wat die Here in onguns
probeer bring by die mens. ’n Vraag wat gemoedere wil opstook en
opstandigheid teen die Here probeer aansteek. ’n Vraag wat die
waarheid lekker verdraai. ’n Vraag wat effe smokkel met Eva se kop.
’n Vraag wat haar verlei om te doen wat sy nie moes of wou nie. ’n
Vraag wat verreikende gevolge het. “Het God werklik gesê julle mag
van geen boom in die tuin eet nie?” (Gen. 3:1) Ai, kyk nou net hoe
word die Here se woorde verdraai, hoe sluip een woordjie in wat dalk
misgekyk kan word. “Geen” boom? Ja, God hét iets gesê. Hy hét
instruksies gegee. Hy hét die eet van sekere vrugte verbied. Hy het
egter net één boom uitgesonder. Hy het nie gesê “geen” boom nie.
Voel dit nie ook vir jou so bietjie bekend nie? So dikwels word die
Here en sy woorde en sy opdragte aangehaal, maar met ’n klein
verdraaiing. So dikwels word wat die Here gesê het aangehaal, maar
uit konteks uit. So dikwels word wat die Here gesê het bevraagteken.
Hoeveel keer het jy al gehoor dat iemand sê: Hoe kan ’n God van
liefde dit of dat toelaat? Waar was Hy toe hierdie of daardie gebeur
het? Hoekom antwoord Hy nie ons gebede nie? Wat het van Sy beloftes
geword? Hoe kan Hy so streng wees? Is Hy kwaad vir ons en het Hy sy
rug op ons gedraai? Wat het van sy genade geword? En dan weet ons
baie keer nie hoe om hierdie mense te antwoord nie. Het hierdie
soort vrae dalk hulle oorsprong daar in die paradys by die boom? Dit
laat my ook dink aan die vrae wat die duiwel vir Jesus gevra het in
die woestyn. Vrae wat die waarheid so bietjie verdraai. Hy was
daarop uit om vir Jesus te versoek en te verlei, net soos met Eva.
Jesus antwoord egter elke keer met: “... daar staan óók geskrywe”.
Hy antwoord met die Woord en met die waarheid. As mens nie mooi
luister en dieper kyk nie, kan jy dalk net in ’n vraag-slaggat
beland. ~ Wilna Botha, 22/09/2021 |
|
“Moet ek dan my broer oppas?” So vra Kain vir
die Here in Gen. 4:9. Ander vertalings vra: “Is ek my broer se
wagter?” “Is ek dan my broer se oppasser?” Die Here vra vir Kain:
“Waar is jou broer, Abel?” en dan antwoord hy die Here met hierdie
teenvraag. Kain het sy broer doodgemaak en die Here weet daarvan,
dis hoekom hy vir Kain kom vra: waar is jou broer? Kain jok eers en
sê dat hy nie weet nie en dan vra hy vir die Here terug: moet ek dan
my broer oppas? Moet ons? Is ons ons broers se oppassers? Hoewel ons
dit nie altyd wíl wees nie en hoewel ons ook sommer sal sê ek weet
nie waar my broer is nie, ek gee nie eintlik om vir hom nie, ek weet
nie waarmee hy besig is nie, ek weet nie waarmee hy worstel nie, ek
weet nie hoe staan sy saak met die Here nie, is dit ons
verantwoordelikheid om na mekaar om te sien. Dit geld natuurlik
eerstens vir ons biologiese broers en dan vir ons geestelike broers
en dan sekerlik ook wyer. Ek moet ongelukkig bely dat ek te kort
skiet en dalk ook dikwels sal moet sê dat ek nie weet waar my broer
is, as die Here vir my daaroor sou vra nie. Jesus sê só baie kere
“julle moet mekaar ...”. Julle moet mekaar liefhê, julle moet mekaar
aanvaar, julle moet mekaar vergewe, julle moet mekaar se laste dra,
julle moet vir mekaar bid, julle moet mekaar moed inpraat en
versterk, julle moet mekaar troos en so gaan die lysie aan. Dis hoe
Jesus ons wil leer hoe ons ons broers se oppassers moet wees. Dit
laat my dink aan oom Jan, ’n vriend van ons. Hy sal sommer net hier
aankom of bel en dan sê hy altyd dat hy net self moet kom kyk hoe
dit met ons gaan want nou-nou vra iemand hom hoe dit met die Botha’s
gaan en dan kan hy nie antwoord nie. Dis mooi en dis goed. Ek dink
dit moet ons gesindheid wees teenoor ons broers en susters, want:
“So kan God sy hand deur julle na ander uitsteek en kan ander sy
hand deur julle voel.” (1 Pet. 2:5, Die Boodskap) Kom ons raak
mekaar aan met God se hand, met God se liefde, met God se
onvoorwaardelike aanvaarding, kom ons pas mekaar op. ~ Wilna Botha,
28/09/2021 |
|
“Bly jy nog steeds vroom?” (Job 2:9) Dis Job se vrou
wat so vir hom vra toe dit al só sleg met hom gegaan het dat hy op die
ashoop gaan sit en homself met ’n potskerf gekrap het. Sy rykdom is
vernietig, sy gesin is uitgewis en hy is oortrek van pynlike swere. Sy kan
nie glo hy bly nog vroom nie. Haar raad aan hom is om die Here te vervloek
en liewer te sterf. Maar nee, Job bly vroom. Die Here het immers sélf oof
hom gesê: “Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien
My en vermy die kwaad.” (Job 1:8) Kom ons vra nou maar ’n slag daai moeilike
vragie vandag vir onsself: bly jý nog steeds vroom? Druk jy nog deur met jou
geloof, al voel dit of jy die enigste een is? Dien jy nog die Here soos aan
die begin? Bly jy weg van verkeerde paaie, verkeerde gedagtes, verkeerde
geselskap, verkeerde woorde, verkeerde begeertes? Koester jy êrens ’n wortel
van bitterheid, of ’n stukkie onvergewensgesindheid, of ’n blertsie selfsug?
Volhard jy op die nou pad of het jy al êrens teruggeval na die breë weg? Dra
jy nog vrugte wat pas by ’n kind van die Here of is die vrugte vol kolle en
smaakloos, of die boom dalk al heeltemal droog en kaal? En die moeilikste
een: bly jy nog vroom al gaan dit moeilik, al het jy alles verloor, al is jy
siek, al is jy verwerp en eensaam, al het Covid sy tol geëis ... jy weet wat
is op jou lysie! 2 Kor. 13:5 sê: “Stel julleself op die proef en ondersoek julleself
of julle in die geloof lewe.” Kom ons doen dié ondersoek gereeld, kom ons
draai terug en jaag die vroomheid na. Kom ons kyk gereeld in die spieël
waarvan Jak. 1:23-25 praat en bly nie onveranderd nie. Mag die Here ons
daarmee help. ~ Wilna Botha, 30/09/2021 |
|
“My God, my God, waarom het U my verlaat ... ?” (Ps.
22:2) Ons ken hierdie woorde as Jesus se woorde aan die kruis, maar hier in
Ps. 22 is dit Dawid wat só uitroep. Hy voel verlate, verlore, alleen, bang
en verneder. Hy voel of God vêr is en nie na sy hulpgeroep luister nie. Hy
voel of God sy gesig weggedraai het. Seker net soos Jesus aan die kruis
gevoel het toe Hy dié woorde uitgeroep het. Seker net soos ons ook al by
geleentheid gevoel het toe ons dié woorde uitgeroep het. Hierdie Psalm laat
my besef dis oukei om te sê: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”. Dis
egter nié oukei om dit te sê uit ’n plek van verwyt teenoor God nie, of uit
negatiwiteit, of alewige pessimisme nie. Dis nié oukei om dit te sê uit
woede teenoor die Here of as as ’n klag teenoor Hom nie. Dis nié oukei om
dit te sê as jy op die punt is om jou rug op Hom te draai nie. Dis nie oukei
om dit te sê terwyl jy glo dat Hy nié alomteenwoordig is nie, dat Hy
onmagtig is, dat Hy nie meer omgee nie, dat Hy sy genade- en liefdeskrane
toegedraai het nie. Lees gerus bietjie deur Ps. 22 en sien hoedat Dawid
nogtans getuig van God as sy bron van krag, getuig van sy sekerheid dat die
Here wel na hom sal luister en vir hom uitkoms sal gee, ten spyte van sy
uitroep in vers 2. Hoewel hy vra waarom God hom verlaat het, glo hy met sy
hele hart en weet hy uit ervaring: “Die nood van die hulpelose het Hy nie
verontagsaam en geringgeskat nie, Hom daarvan nie teruggetrek nie, maar die
hulpgeroep na Hom het Hy gehoor.” (Ps. 22:25) Daar is net een Persoon wat
werklik hierdie uitroep kan gee en dit is Jesus. Hý is die enigste een wat
dit ooit werklik ervaar het dat God Hom verlaat het. En Hy het dit in óns
plek gedoen. In ons plek was Hy van God verlaat, was Hy heeltemal alleen,
was Hy verwerp en verneder. In ons plek was Hy van God verlaat sodat ek en
jy nóóit deur God verlaat sal word nie. Hy sal jou nooit alleen los nie,
nooit sy rug op jou draai nie, nooit aan jou eie genade oorlaat nie, nooit
doof wees vir jou hulpgeroep en trane nie. Nou moet jy dit net glo. ~ Wilna
Botha, 06/10/2021 |
|
“Hoe kan ’n jongmens leef soos U wil hê?” (Ps. 119:9,
Die Boodskap) Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon, suiwer, vlekloos en
blaamloos hou? “Deur hom te hou aan die woord”, antwoord vers 9 die vraag.
Deur te doen wat die Here sê, deur die Woord van God as riglyn te volg. Ek
wil amper byvoeg: en hoe gaan hy dit doen as hy nie die Woord gehoor het nie?
En hoe gaan hy weet hoe om die Woord wat hy gehoor het, prakties op sy
lewenspad toe te pas as iemand hom nie gewys het en voor hom uit loop nie?
Hoe sal hy op daai suiwer pad kan bly as daar nie ’n hand is wat hom begelei
nie, as daar nie sagte veiligheidsheinings is waarteen hy kan terugbons nie?
Daai heinings is die liefdevolle arms van die ouers en leiers en mentors in
sy lewe en natuurlik die Here self, wie se hand altyd uitgestrek is om sy
kinders te lei en te leer. Dalk voel jy dat jy gefaal het met jou kinders,
dan kan jy dalk leer uit jou foute en nou ’n voorbeeld wees in ander
jongmense se lewens by jou kerk, in jou familie, by jou werk, ens. Daar is
iets wat ek vir ’n feit weet en dit is dat jongmense nie preke en
sedelessies van ons af wil hê nie. Hulle wil sien hoe jý daai preke en lesse
prakties leef. Hulle verwag egtheid van ons, nie volmaaktheid nie. Dalk het
jy gefaal met jou eie kinders, dan het jy dalk weer ’n kans met jou
kleinkinders. Gebruik dit! Hoe kan ’n jongmens sy pad suiwer hou? Deur ouers
en ander volwassenes se voorbidding. Miskien kan ons gebede die nodige
trapklippe op hulle pad wees. “Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug
en jou jong dae ten volle geniet. Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou,
maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie. Hou
kommer uit jou hart en vermy wat jou liggaam kan kwaad doen.” (Pred.
11:9-10) ~ Wilna Botha, 12/10/2021 |
|
“Wie kan rein uit onrein laat voortkom?” So vra Job in
Job 14:4. Dan antwoord hy sommer self met: “Niemand nie!” Ai, Job, jy wéét
mos dis nie die waarheid nie. Ek dink Job se uitgerekte swaarkry en sy soeke
na antwoorde begin sy tol eis op sy gemoedstoestand. Hy is besig om hoop te
verloor en dalk selfs bietjie pessimisties te raak. Vir my is dit ’n les om
nie perspektief te verloor in moeilike tye nie, maar te probeer fokus op die
waarhede van my geloof wat vasstaan. Een daarvan is dat niks vir die Here
onmoontlik is nie en dat daar wél altyd hoop is vir iets nuut om te gebeur,
vir onrein om rein gemaak te word, vir ’n verlorene om gered te word, vir ’n
swakkeling om krag te ontvang, vir ’n moedelose om vrede te vind, vir sonde
om vergewe te word. Wie kan rein uit onrein laat voorkom? Nét die Here kan
want Jesus het elke greintjie van ons onreinheid op Hóm geneem toe Hy aan
die kruis gesterf het. In ruil het ons reinheid ontvang, het ons die
genadige geleentheid om in alle opsigte nuwe mense te word. Die dissipels het ook op ’n dag vir Jesus gevra: “Wie kan dan gered word?” Jesus het
reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is
alles moontlik.” (Matt. 19:25-26) God kan! Hy kan rein maak, Hy kan red, Hy
kan nuut maak. “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is
verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.” (2 Kor. 5:17-18)
~ Wilna Botha, 14/10/2021 |
|
“Die goewerneur vra hulle toe: “Watter een van die twee
wil julle hê moet ek vir julle loslaat?” “Barabbas!” antwoord hulle. Pilatus
sê vir hulle: “Wat moet ek dan doen met Jesus wat Christus genoem word?”
“Kruisig Hom!” skreeu hulle almal.” (Matt. 27:21-22) Pilatus het gewéét
Jesus is onskuldig en dat daar geen gronde was om enige klag teen Hom te lê
nie. Sy vrou het hom ook alreeds, op grond van haar droom, gewaarsku dat Hy
onskuldig is. Daarom spook die vraag by hom: wat moet ek met Jesus doen? Hy
maak egter nie ’n besluit nie en vra die skare se mening. Hy voel veiliger
om hom te skaar by die meerderheid. Soos ons weet het hulle ongevoelig en
brutaal geskreeu: kruisig Hom. Nou kom dié vraag vandag na my en jou ook:
wat gaan jy met Jesus doen? Gaan jy Hom verwerp, Hom vloek, met Hom spot?
Gaan jy jou rug op Hom draai en sy genade vir Hom teruggooi? Gaan jy jou
verhard en jou doof hou vir sy uitnodigings en beloftes aan jou? Gaan jy jou
liewer, soos Pilatus, aan die veilige kant van die meerderheid hou? Of gaan
jy uitstaan en opstaan en jou lewe aan Hom oorgee, jou planne in sy hande
plaas, ja sê vir sy uitnodiging tot geloof en aanvaarding en vergifnis? Wat
gaan jy met Jesus doen? Gaan jy Hom volg al vra dit opoffering? Gaan jy Hom
eer en aanbid en liefhê met jou hele hart siel en verstand? Gaan jy Hom die
Koning van jou hart maak, die ereplek aanbied in jou lewe, jou gedagtes vul
met sy goedheid? Wat gaan jý met Jesus doen? ~ Wilna Botha, 19/10/2021 |
|
“God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” (Rom 8:31)
Dis Paulus se vraag aan ons almal. Met God aan jou kant, hoef jy niks of
niemand te vrees nie. Met God aan jou kant, kan jy daai oormag storm loop en
oor ’n muur spring, soos Ps. 18:30 sê: “Met u hulp loop ek 'n oormag storm,
met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.” Kom ons kyk bietjie
na elke woord van dié waarheid: God is vír ons. GOD - dié een wat alles
gemaak het, dié een met alle mag, dié een wat alles weet en oral teenwoordig
is, dié een wat genees, vergewe, optel en trane afvee. Dit is Hý wat vir ons
is. IS – Hy was en sal wees, maar vandag IS Hy vir ons. Hy lewe, Hy bestaan,
Hy is werklik God en Hy leef in ons. Hy IS vir ons. VIR – Hy is aan ons kant,
Hy skree vir ons span, Hy kom op vir ons, Hy tree in vir ons soos ’n
advokaat. As Hy ’n yskas gehad het, sou Hy jou foto daarop geplak het! Hy is
VIR ons. ONS – Ja, ek en jy! Ons is spesiaal vir Hom, die appel van sy oog,
gekroon met eer en heerlikheid, sy kind! Dis óns vir wie Hy is. Wie kan dan
teen ons wees? God is vír jou, vriend. Skep moed en kyk jou vyand, jou
probleem, jou kwellinge, jou tekortkominge, jou hoë muur, jou Goliat in die
oë en sê met geloof en vertroue: God is vír my, wie kan dan teen my wees? ~
Wilna Botha, 21/10/2021 |
|
“Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets
verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” (Matt. 18:21) So vra Petrus vir
Jesus. Hy wil seker eerstehands hoor of dit regtig nodig is om iemand te
vergewe en of hy regtig moet aanhou vergewe al is daar oor en oor rede om
dit nié te doen nie. Toe ek dié vraag lees het ek myself afgevra of dit
nodig is om nog ’n keer iets hieroor te sê. Almal weet mos vergifnis is die
regte ding om te doen. Almal het mos al daai 70 x 7 sommetjie gemaak. Maar
tog koester ons nog steeds wrang gedagtes oor sekere mense en wat hulle aan
ons gedoen het. Ek vra nou die dag vir iemand wat kwaad is vir sy broer en
weier om dié keer weer te vergewe, of hy die saak tot by die graf sal laat
gaan. Sy antwoord was ja. Intussen hou hy aan om daaroor te tob, dink hy
daagliks daaraan, bewaar hy die WhatsApp waarin sy broer hom te nagekom het.
Dit vreet aan hom. As jy dalk ook so hoekie van onvergewensgesindheid in jou
hart hou, wil jy dit nie maar skoonmaak nie? Dan hoef jy nie meer draaie om
die ander persoon te loop nie. Dan kan jy weer aan hom dink sonder om kwaad
te voel. Dan kan jy weer vir hom bid. Dan kan jy hom weer raaksien vir die
vriend wat hy vroeër was. “Soos die Here julle vergewe het, moet julle
mekaar ook vergewe.” (Kol. 3:13) Volg die Here se voorbeeld: vergewe én
vergeet, vergewe nog voordat die ander een sy skuld kon bely, vergewe al
verdien die persoon dit nie, vergewe weer en weer, vergewe uit liefde. Maak
vandag nog die wilsbesluit om te vergewe. Sê dit hardop vir die Here. Sê dit
hardop vir jouself. Sê dit hardop vir die ander persoon. Vergewe ander, nie
omdat hulle noodwendig jou vergifnis nodig het nie, maar omdat dit is wat
die Here van jou verwag. Vergewe omdat jy God se vergifnis nodig het.
Vergewe omdat jy vrede nodig het. Doen dit maar nog ’n keer – ek is seker jy
is nog nie by 70x7 nie. Daar gaan dalk ook ’n dag wees wat jy jouself aan
die ander kant van die vergifnis-sommetjie bevind en nóg ’n keer iemand se
vergifnis nodig het. Moenie wag nie. Gaan sê so gou as moontlik jy is jammer.
Kom ons vergewe mekaar, want nie een van ons is volmaak en foutloos nie.
“You will know that forgiveness has begun when you recall those who hurt you
and feel the power to wish them well” – Lewis B Smedes ~ Wilna Botha,
26/10/2021 |
|
“Weet julle dan nie dat julle die tempel van God is en
dat die Gees van God in julle woon nie?” (1Kor 3:16) So vra Paulus vir die
Korintiërs en ook vir ons almal. Dalk weet jy dit, dalk glo jy dit nog altyd,
dalk het jy dit ook kleintyd saam met Jan de Wet gesing. Dink vandag weer
bietjie hieroor: jóú liggaam is God se tempel. Dié plek waar Hy teenwoordig
is. Dié plek waar Hy praat. Dié plek waar Hy na jou gebede luister. Dié plek
waar daar lof aan Hom gebring moet word. Dit laat my maar net besef dat ek
die beste, skoonste en mooiste tempel vir Hom wil aanbied. Hy kan tog nie
tussen ’n klomp nydigheid, vloekery, verslawing, ongeduld,
onvergewensgesindheid en negatiewe gedagtes kom bly nie. Dit laat my dink
aan die gedeelte in Joh. 2 oor die reiniging van die tempel. Ek sien dat
Jesus erg ontsteld was omdat sy huis ’n “rowersnes” en ’n “besigheidsplek”
gemaak is, terwyl Hy dit as ’n huis van gebed bedoel het. My liggaam moet
daarom ook ’n skoon en heilige plek wees. Ek moet my liggaam, my hart, my
gedagtes skoonmaak van geldgierigheid, van drome wat nie in lyn is met God
se wil nie, van gewoontes wat nie pas by ’n kind van God nie, van woorde wat
nie opbouend is nie. Mag ek altyd sy tempel ywerig versorg en opreg liefhê.
Mag Jesus vandag tuis voel in my as sy tempel en mag hierdie tempel ook
vandag eerder ’n huis van gebed wees. ~ Wilna Botha, 02/11/2021 |
|
“Sal ek hier van my puinhoop af dan nie my hand
uitsteek om hulp nie? Sal ek in my ondergang nie om hulp roep nie?” (Job
30:24) So vra Job van die ashoop af in sy groot pyn en verlatenheid, in sy
groot verlies en swaarkry. Wat is jóú antwoord? Sal jy? Sal jy aanhou roep
tot God, sal jy jou hand soekend uitgesteek hou vir sy hulp wanneer dit sleg
gaan, wanneer jy alles verloor het en dit voel of God sy rug gedraai het en
doof geword het vir jou hulpgeroep? Job het aanhou soek en aanhou roep. Ek
hoop ek en jy sal dit ook doen, want die Here hóór daardie hulpgeroep. Hy
sien jou hand wat uitgesteek is vir hulp. Hy is reeds besig om vir jou ’n
pad uit jou swaarkry gereed te maak. Hy staan reeds met oop arms en wag om
jou te help. Hy is reeds besig om ’n beter toekoms vir jou oop te sluit.
Jesus sê self in Luk. 18:7-8: “Sal God dan nie aan sy uitverkorenes wat dag
en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? Ek sê vir
julle: Hy sal hulle help en gou ook!” Dis Sy belofte: Hy sal hulle help en
gou ook. Dawid het ook daardie belofte geken en geglo: “In my nood roep ek
na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep.
Ek roep na Hom om hulp en Hy luister na my.” (Ps. 18:7) “As die regverdiges
om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede.”
(Ps. 34:18) Is jy bereid om aan te hou bid en wag op die Here se hulp? Ek
lees nou die dag dié aanhaling: “The function of prayer is not to influence
God, but rather to change the nature of the one who prays.” Hoe waar is dit
nie. As ons bid, dan verander óns! As ons bid groei ons hoop en voel ons
meer positief. As ons bid en roep en pleit vir die Here se hulp, dan groei
die geloof in jou hart dat Hy sal opdaag om jou te help. As jy bid, dan weet
jy die saak is oorgegee aan die Almagtige, die Alomteenwoordige, Alwetende
Helper en neem vrede oor in jou hart. As jy bid erken jy dat jy nie jouself
kan red of jouself kan help nie, dan gee jy alles oor aan die Hoër Hand van
God. As jy gebid het, sal nie meer so paniekerig voel nie en sal jou gemoed
stil raak en jou gedagtes gerusgestel word. “’n Mens moet altyd aanhou bid
sonder om moedeloos te word.” (Luk. 18:1) ~ Wilna Botha, 04/11/2021 |
|
“Wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind
dat U na hom omsien?” (Ps. 8:5) Het jy ook al soos Dawid hier in Ps. 8
gewonder hoekom God met die mens, wat kleiner as die kleinste spikkeltjie in
die heelal is, moeite doen? Hoe kan Hy sóveel liefde hê vir hierdie sondige,
ongehoorsame, verdorwe wese wat net sy eie belang soek, wat sy eie pad wil
kies, wat sal eet van die verbode vrug, wat sy rug op God sal draai, wat
agter ’n afgod sal aanhardloop? Het jy ook al, soos ek en soos Dawid, gevoel
of jy niks meer as ’n wurm is nie, sonder aansien, sonder ’n plek in die
samelewing? “Maar ek is ’n wurm, nie ’n mens nie. Ek word deur die mense
bespot en deur die volk verag.” (Ps. 22:7) Of soos daai een vriend van Job
wat die mens met ’n wurm en ’n ruspe vergelyk? (Job 25:6) Moenie só oor
jouself dink nie, vriend. God het ons geskep, spesiaal met sy hande gevorm
en lewensasem in ons ingeblaas. Sý handewerk kan nooit gering geag word nie,
Sý asem sal nooit vermors wees nie. God het gekyk na die mens wat Hy gemaak
het en gesê: dit is báie goed (Gen. 1:31) Dit is báie goed, want dit is na
God se beeld gemaak. Jy is een soos Hy. Hoe jy ook al vandag jouself sien,
hoe swak en verlore en opstandig jy ook al is, kyk God steeds na jou met dié
woorde op sy lippe: dit wat Ek gemaak het, is baie goed. Nee, sien jouself
as die kroon van sy skepping, die appel van sy oog. Kyk vanaand weer op na
die maan en die sterre, die werk van God se vingers en dan na jouself, na
die kroon van aansien een eer waarmee die Ewige, Liefdevolle God jóú gekroon
het. ~ Wilna Botha, 09/11/2021 |
|
“Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy
kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?” (Joh
3:4) Nikodemus kom in die nag na Jesus toe om oor geestelike dinge met Hom
te praat. Hy is beïndruk met die wonderwerke wat hy Jesus sien doen het.
Jesus sê egter hy moet weer gebore word om gered te wees, om werklike die
koninkryk van God te sien. Maar Nikodemus probeer dit fisies verstaan en dit
maak nie vir hom sin dat ’n ou man, soos hyself, weer gebore kan word nie.
Jesus praat egter van ’n tweede geboorte, ’n geestelike geboorte, die begin
van ’n heeltemal nuwe mens, die wegdraai van 'n ou lewe na ’n nuwe
geestelike pad, ’n oomblik van keuse om Jesus voluit te volg, ’n lewe wat
nie in die dood sal eindig soos ’n natuurlike, menslike lewe nie. Jesus
praat nie van ’n geboorte wat gesien kan word nie, Hy praat van ’n onsigbare
geboorte wat uitloop op ’n nuwe lewe wat wel gesien kan word. Die natuurlike
geboorte word deur ’n mens bewerk, maar die geestelike geboorte word deur
die Gees bewerk. Die natuurlike mens ontvang ’n nuwe geestelike hart en
begin ’n nuwe geestelike lewe – dis hoe ’n “ou” mens weer gebore kan word.
Die wedergeboorte, net soos die fisiese geboorte van ’n mens, is net die
begin van ’n nuwe lewe en nooit die einddoel nie. “Maar hoe is dit moontlik?”
was Nikodemus se volgende vraag en baie keer is dit ons vraag ook wanneer
ons die geestelike dinge met ons beperkte, fisiese kennis probeer verstaan
en met ons fisiese oë wil sien en met ons menslike emosies wil voel. Uit God
gebore, van bo gebore, uit die Gees gebore is frases wat Jesus in Joh. 3
gebruik. Dís hoe dit moontlik is om weer gebore te word. “Elkeen wat glo dat
Jesus die Christus is, is uit God gebore”(1 Joh. 5:1 – BDV) ~ Wilna Botha,
11/11/2021 |
|
“Hoe lank nog Here?” Hierdie vraag is die opskrif by
Ps. 13. Ek dink naas “hoekom Here?”, is hierdie seker dié vraag wat die Here
die meeste van sy kinders af hoor. Hoe lank gaan hierdie swaarkry nog aanhou?
Hoe lank gaan ek nog ly? Hoe lank gaan ek nog treur? Hoe lank gaan my
geliefde nog in hierdie verskriklike pyn verkeer? Hoe lank gaan ek nog
werkloos wees? Hoe lank gaan my familie my nog vermy? Hoe lank nog voordat
ek weer my geliefdes kan sien? Hoe lank nog voordat mense my onskuld in
hierdie saak sal besef? Hoe lank nog voordat daar vir ons uitkoms gaan wees?
En deesdae hoor mens ook: hoe lank nog voordat hierdie virus vernietig gaan
wees, voordat alle inperkings opgehef gaan word, voordat ons weer ’n normale
lewe kan hê? Ai, ek dink jy ken dit. Miskien sê jy nie jou hoe-lank-nog’s
hardop nie, miskien kla jy nie prontuit by die Here nie, maar as jy in jou
binneste sug, dan kom die vraag dalk ook by jou op: hoe lank nog, Here? Ek
wens ons het reguit antwoorde gehad. Ek wens partykeer die Here kan net vir
ons wys hoe lank nog, want as ons weet hoe lank ’n moeilike tyd nog gaan
voortduur, kan dit dalk bietjie makliker wees om deur te druk en voort te
beur tot die einde daar is, nie waar nie? Ons weet egter nie hoe lank nog
nie en Dawid het ook nie geweet nie. Kyk sy hoe-lank-nog-vrae in Ps. 16: hoe
lank gaan U my nog bly vergeet? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe
lank moet ek nog my eie planne maak? Hoe lank moet ek nog my dae met kommer
deurbring? Hoe lank sal die vyand my nog oorheers? “Hoe lank gaan my
probleme my nog teen die planke vasdruk?” (Ps. 13:3, Die Boodskap) As ek
verder lees in Ps. 13 leer ek by Dawid hoe om die hoe-lank-nog te hanteer.
Nadat hy sy vrae gevra het, roep Hy die Here aan en vra hy die Here se hulp
in sy krisis. “Help my tog in my krisis, Here my God; maak my weer gelukkig.”
(Ps. 13:4, Die Boodskap) Hy weet en bely dat sy hulp net van die Here af
gaan kom. Hy erken dat Hy God en Here van sy lewe is. Hy weet die Here gaan
hom deurdra en hom weer sterk maak. “Gee my tog nuwe lewenskrag”, pleit hy
in vers 4. Hierna raak hy rustig, vul sy hart met positiewe gedagtes, sien
hy kans om op te staan en voort te gaan, fokus hy op die Here se liefde en
goedheid: “Maar ek weet: op U liefde kan ek staatmaak. In my binneste borrel
dit van vreugde omdat U my uit my moeilikheid help. Ek sal die Here se Naam
met vreugde grootmaak omdat Hy so goed is vir my!” (Ps. 16: 6) Die krisis is
nie verby nie, die antwoord is nog nie daar nie, maar vrede wat alle
verstand te bowe gaan neem van hom besit. Nogtans sal ek in my Here jubel
... ~ Wilna Botha, 16/11/2021 |
|
“Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” (Mark.
4:38) Jesus en sy dissipels beland in ’n hewige storm op die meer. Die
dissipels raak erg benoud en vreesbevange. Hulle het mos niks te vrees nie,
want Jesus is by hulle, of hoe? Maar Jesus lê en slaap! Dis so amper asof
hulle Hom verwyt dat Hy slaap terwyl hulle besig is om heen en weer
geslinger te word en alreeds begin sink – gee U dan nie om dat ons vergaan
nie? Ken jý ook hierdie gevoel, dat Jesus nie ag gee op jou swaarkry en jou
vrese nie. Dat Hy nie weet of nie omgee oor die storms wat rondom jou
losgebars het nie? Dat Hy anderpad kyk, afwesig is, doof is, laat is, aan
die slaap is en nie sien waardeur jy gaan nie? ’n Entjie vêrder in Markus
lees ons van nog ’n bootrit wat nie na wense verloop het vir die dissipels
nie. (Mark. 6:45-51) Daar was ’n sterk wind teen hulle en hulle het gesukkel
om te roei en vooruit te gaan. Waar was Jesus dan dié keer? Hy was besig om
te bid én Hy het gesien dat hulle swaar roei. Hulle het dit nie besef nie,
maar Hy was bewus van hulle gestoei teen die wind. Dit het vir hulle gevoel
of hulle nie vordering maak deur hulle probleem nie, maar Jesus het geweet
dat daar uitkoms aan die kom is. Hy was egter nie dadelik daar om hulle te
help en te red nie. Hy het eers die volgende môre na hulle toe aangeloop
gekom op die water en nadat Hy by hulle in die skuit geklim het, het die
wind gaan lê. Hulle het dus die hele nag geworstel teen die wind. Ongelukkig
weet ons dat dit dikwels in die lewe ook só gaan. Jesus haal ons nie
noodwendig onmiddellik uit ons moeilike omstandighede uit nie. Hy kom nie
noodwendig dadelik as daar ’n probleem is nie. Hy spreek nie noodwendig die
storms en die wind dadelik aan nie. Hy is egter dáár. Hy sien. Hy weet. Hy
bid. En op die regte tyd sal Hy ons kom uitred, kom verlos, kom help, kom
troos. Waarmee is jy besig terwyl jy wag op sy hulp? Verwyt jy hom dalk? Kry
vrees en angs dalk die oorhand? Verloor jy dalk alle moed en hoop op hulp?
Of hou jy aan om te roei, beur jy geduldig voort, doen jy wat jý moet doen
totdat die Here opdaag met ’n wonderwerk in jou lewe? “Jy sal niks oorkom
nie. God pas jou op. Hy sal nie aan die slaap raak as Hy jou moet oppas nie.
Hy pas al sy kinders op. Daarom sal Hy nie vergeet om jou te help nie. Die
Here is jou oppasser. Hy sal altyd by jou wees. Niks of niemand kan jou
kwaad aandoen nie, al is hy hoe sterk. God pas jou elke dag op teen
allerhande moeilikhede en probleme, Hy sal jou lewe mooi oppas. Die Here sal
jou oppas waar jy ook al is: by die huis, by die werk of miskien êrens op
pad. Hy sal jou altyd help, nou en in die toekoms.” (Ps. 121, Die Boodskap)
~ Wilna Botha, 18/11/2021 |
|
“Wie kan ons van die liefde van Christus skei?” So vra
Paulus vir ons in Rom 8:35. Hy vra nie die vraag omdat hy nie antwoord ken
nie. Hy vra dit sodat jy moet dink wat jou persoonlike antwoord sal wees. En
ons weet die antwoord is mos eintlik voor die hand liggend, nè – daar kan
tog nie iets of iemand wees wat die Here se liefde en genade vir sy kinders
kan keer nie, wat dit kan uitvee nie, wat dit kan vernietig nie. Niks kan
jou uit sy hand ruk nie, sê Joh. 10:28 ook. As ek dié vraag oordink dan
laat dit my geloof in Jesus en my verwondering oor sy goedheid groei, dit
maak my gemoed kalm, dit verdryf vrees en angs en kommer. Christus se liefde
was nie net êrens in die verlede ter sprake nie, dis ’n liefde wat oomblik
vir oomblik ’n realiteit vir ons behoort te wees. Die vraag gaan vêrder as
dit ons vra om te oordink of enige van dié lysie van dinge Christus se
liefde kan beïnvloed of bepaal: swaarkry, probleme, vervolging, hongerpyne,
’n tekort aan klere, gevare of geweld. Sien jy ook raak dat Christus se
liefde nie altyd hierdie swaarkry-dinge gaan keer nie, dit gaan net nooit,
maar nooit bepaal hoe lief Hy jou het nie. Ons moet nie sy liefde meet aan
die gebrek aan swaarkry nie, maar aan die vrede en vreugde wat ons het om te
besef Hy stap elke tree van die swaarkry saam met jou. God het nie net lief
nie, Hy ís liefde – daarom kan niks dit beïnvloed nie. Kyk net hoe mooi sê
die Passion Translation: “Troubles, pressures, and problems are unable to
come between us and heaven’s love. What about persecutions, deprivations,
dangers, and death threats? No, for they are all impotent to hinder
omnipotent love.” Impotent to hinder omnipotent love! “Hiervan is ek oortuig:
geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge
of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van
die liefde van God skei nie.” (Rom 8:38-39) ~ Wilna Botha, 23/11/2021 |
|
“Wat moet ek doen om gered te word?” (Hand 16:30) So
vra die tronkbewaarder vir Paulus en Silas. Dié twee was in die tronk gegooi
en die bewaarder het die opdrag gekry om hulle streng te bewaak. Maar nadat
hulle teen middernag gebid en lofliedere gesing het, was daar ’n aardbewing
wat die tronkdeure laat oopgaan en al die gevangenes se boeie laat loskom
het. Die tronkbewaarder het gewéét dat hy iets groot beleef het en dat daar
iets in sy lewe kortkom. Hy het besef dat hy hulp en redding nodig het en
dat Paulus-hulle die antwoord het. Daarom val hy op sy knieë en vra: wat
moet ek doen om gered te word? Die eenvoudige, reguit antwoord van Paulus
was: Glo in die Here Jesus en jy sal gered word. Glo in die Here Jesus en jy
sal sy kind genoem word, jou sondes sal vergewe word, jy sal ’n nuwe mens
word, jou lewe sal ’n nuwe rigting inslaan, jy sal die ewige lewe ontvang.
Glo. Dis al. Dis genoeg! In Mark 10:17 lees ons van nóg iemand wat op sy
knieë neergeval het met dieselfde vraag: “Wat moet ek doen om die ewige lewe
te verkry?” Dis die ryk jongman wat só vir Jesus vra. Hy was heel tevrede
met sy lewe en al die goeie dade wat hy alreeds gedoen het en al die reëls
en wette wat hy so mooi getrou nagekom het. Mens kry die idee dat hy nie
eintlik vir Jesus in sy lewe nodig het nie, hy soek net nóg ’n regmerkie om
seker te maak hy is oukei. In teenstelling met die antwoord wat Paulus-hulle
gegee het, sê Jesus vir dié jong man om al sy goed te verkoop en die geld
onder die armes te verdeel en dan terug te kom om Jesus te volg. Jesus het
geweet dat dié ou se rykdom tussen hom en die Here staan en dat dít hom sou
keer om Jesus te volg. Die ryk jongman was nie bereid om afstand te doen van
sy besittings nie en het bedroef weggegaan, sê die Bybel. Ek dink nou
sommer ook aan die Fariseër en die tollenaar, van Luk. 18:9-14, wat gaan bid
het in die tempel. Die Fariseër het by die Here gespog oor alles wat hy reg
doen. Hy het glad nie besef hy het redding nodig nie. Die tollenaar
daarenteen kon net bedroef op sy bors slaan en pleit: O God, wees my,
sondaar, genadig. Hy het geweet hy kan nie homself red nie, hy het erken dat
hy ’n Redder en Verlosser nodig het. Net soos die moordenaar wat daar langs
Jesus aan die kruis gehang het en berouvol gesê het: “Jesus, dink aan my
wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag
sal jy saam met My in die paradys wees.” (Luk. 23:42-43) Ek verseker jou!
Glo en jy sal gered word. “So sal dit dan wees: elkeen wat die Naam van die
Here aanroep, sal gered word.” (Hand 2:21) Weet jy wat om te doen om gered
te word? ~ Wilna Botha, 01/12/2021 |
|
“Here, wie is werd om by U te mag wees?” (Ps. 15:1) Het
jy ook al hierdie vraag gevra, of gedink? Dalk oor jouself of dalk oor
iemand anders... Dalk het jy ook al met minagting na jouself of iemand
anders gekyk en gewonder hoe kan iemand só onheilig, iemand só sondig en
verrot in die Allerhoogste, Allerheiligste God se teenwoordigheid kom. Kyk
wat sê Ps 15: “Here, wie is werd om by U te mag wees? Wie mag in u huis
instap, daar waar U spesiaal teenwoordig is? Iemand wat so optree dat U
heeltemal tevrede is met wat hy doen, mag daar kom; ja, hy wat doen wat U
wil hê.” En dan word die lysie opgenoem: iemand wat nie skinder nie, nie sy
vriend in die rug steek nie, wat nie dinge sê wat iemand anders seer maak
nie, wat sy woord hou al kos dit hom duur, wat nie onnodig en onregverdig
geld maak uit ander nie, wat hom nie laat omkoop om verkeerde dinge te doen
nie. Geen wonder die skrifgeleerdes en Fariseërs was só ontsteld toe Jesus
saam met ’n tollenaar geëet het, en met die Samaritaanse vrou by die put
gepraat het en met prostitute en vissermanne omgegaan het nie. Geen wonder
dat ons ook dikwels na daai lysie kyk en voel ons is nie goed genoeg om in
die Here se teenwoordigheid te kom nie. Wie kan per slot van sake daai lysie
ten volle aftik? Niemand nie. Kyk, Rom 3:23 sê: “Almal het gesondig en het
nie deel aan die heerlikheid van God nie.” En 1 Joh. 1:8 sê as ons beweer
ons het nie sonde nie, dan is die waarheid nie in ons nie – so selfs dít is
’n sonde! Here, wie is dan werd om by U te mag wees? Dié een wat silwerskoon
gewas is deur die bloed van die Lam aan die kruis. Dié een wie se sonde aan
die kruis vasgespyker is. Dié een wat sy saak met die Here uitgemaak het en
nie meer skarlakenrooi van sonde is nie, maar wit geword het soos sneeu. (Jes.
1:18) Dié een wat hierdie Kersfees die Verlosser van die wêreld raaksien in
die krip, wat beleef dat die Allerhoogste mens geword het en by ons kom
intrek het, wat die blye tyding hoor dat die Seun wat gebore is Immanuel
genoem word, God by ons. Hy het na óns toe gekom! Dis goeie nuus wat vir
ons elkeen bedoel is. Ons ís werd om by Hom te mag wees. “Laat ons dan tot
God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is
immers gereinig van ’n skuldige gewete en ons liggame is gewas met skoon
water.” (Heb. 10:22) ~ Wilna Botha, 02/12/2021 |
|
Hoe is so iets
moontlik? Ek het dié vraag al so baie kere gevra. In die alledaagse lewe sal
ek dalk vra: Hoe is dit moontlik dat daar so baie vuil wasgoed is? Hoe is
dit moontlik dat die koskas al weer leeg is? Hoe is dit moontlik dat die
sokkie se maat verdwyn het? Hoe is dit moontlik dat daar al weer beurtkrag
is? En so kan ek aangaan. Of op ’n dieper vlak sal ek dalk vra: Hoe is dit
moontlik dat party mense so swaar moet kry, dat ou mense so moet sukkel, dat
goeie mense so baie teenspoed beleef terwyl ander net maanskyn en rose het?
Hoe is dit moontlik dat daai vriendin se kanker weer terug is, dat daar al
weer ’n nuwe virus-variant is, dat die infeksie getalle daagliks sulke groot
spronge maak? En so kan ek aangaan. Of op geestelike vlak sal ek dalk vra:
Hoe is dit moontlik dat die Here my lief het, my sonde vergewe, my aanvaar
ten spyte van my foute? Hoe is dit moontlik dat Christene hoopvol en moedig
kan bly en kans sien vir enige moeilike situasie? Hoe is dit moontlik dat
mense hulle tyd en geld en goed beskikbaar stel om ander te help? En so kan
ek aangaan. “Hoe is so iets moontlik?” is ’n vraag wat Maria in Lukas 1:34
vra. Maria, wat so pas gehoor het dat sy swanger is en vir Jesus in die
wêreld gaan bring, Jesus, die Lig en Verlosser van die wêreld, die Seun van
God. Maria wat so pas gehoor het dat God genade aan haar bewys, dat die
Heilige Gees oor haar gaan kom, dat die krag van die Allerhoogste lewe in
haar gaan wek (lees Luk. 1:34-37) Maria, wat die antwoord kry: “Niks is vir
God onmoontlik nie.” (Luk. 1:37) Hierdie is as’t ware ’n Kersfees-vraag: Hoe
is so iets moontlik? Hoe is dit moontlik dat die Skepper ’n mens word? Hoe
is dit moontlik dat God sy troon en sy kroon prysgee en onder ons kom woon,
die gestalte van ’n slaaf aanneem en aan mense gelyk word? (Lees Fil. 2:5-8)
Hoe is dit moontlik dat die Koning van die heelal ’n swak baba word wat
honger word, wat huil, wat verwerp en gespot word en wat moet ly en aan ’n
kruis sterf? Hoe is dit moontlik dat dít God se plan is, sodat ek en jy
nuwe, skoon, verloste mense kan word, sodat ek en jy in ’n nuwe verhouding
met die Here kan staan, sodat ek en jy die ewige lewe kan hê? Dink daaraan
hierdie Kersfees: niks is vir God onmoontlik nie! ~ Wilna Botha, 07/12/2021 |
|
“Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?”
(Matt. 2:2) Waar is Hy? Dit is nogal ’n vraag om te oordink in hierdie
Kersfeestyd. Lê Hy nog net daar in die krip of is Hy ook in jou hart gebore?
Is Hy net in ’n prentjie op ’n Kerskaartjie of het Hy ’n lewende werklikheid
vir jou geword? Sien jy Hom nog net as ’n baba wat in doeke toegedraai in ’n
voerbak lê, of het jy al die Koning persoonlik ontmoet as die Wonderbare,
Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors, soos daar in Jes. 9:5 van Hom
gepraat word? En as jy hierdie Kersfees vra: waar is Hy? Soek jy Hom, soos
die sterrekykers, om hulde te bewys aan Hom? Soek jy Hom om voor Hom te buig
en jou heel beste geskenke van goud, wierook en mirre voor Hom neer te lê? Om
jou lewe, jou dade, jou liefde, jou lofbetuigings vir Hom te bring? Of wil
jy, soos Herodes weet waar Hy is, sodat jy van Hom ontslae kan raak, Hom
finaal uit jou lewe kan uitskuif? “Waar is Hy wat as koning van die Jode
gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te
bewys.” (Matt. 2:2) As jy hierdie Kersfees wil weet waar Jesus is, sal jy
Hom beslis in die kerk vind, waar Christene bymekaar is, of daar waar
Kersliedere gesing word, of waar die Kersverhaal vertel word. Ek hoop jy sal
Hom ook vind waar jy saam met jou geliefdes eet en terugdink aan die Here se
versorging en seëninge wat julle beleef het. Ek hoop jy sal Hom ook vind in
die dankbare hart van iemand aan wie jy ’n liefdesdaad bewys, aan wie jy
spesiale aandag gee, vir wie jy iets van jouself en goed weggee – ongevraag
en onverdiend. “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?” Mag Hy
Kersdag en elke dag deel wees van jou lewe. ~ Wilna Botha, 09/12/2021 |
|
“Elke
ding het sy tyd en sy manier. Daar is baie gevare wat die mens bedreig. Hy
weet nie wat sal gebeur nie. Wie kan vir hom sê hoe dit sal wees?” (Pred.
8:6-7) Willem skilder so af en toe ’n prentjie. Hierdie skilderbordjie het
hy so rukkie gelede gekoop – staander en al. Dié staan nou nog die hele tyd
op ons eetkamerkas – wit en skoon en kaal. Met die oorgang na die nuwe jaar,
kyk ek so na die bordjie en dink: dis mos nou presies soos die jaar voor ons
lê: wit en skoon en kaal, niks daarop geskryf nie, niks ingekleur nie, geen
prentjie nie, geen verfmerkie nie en ek wonder: hoe sal die lewens-skildery
lyk oor ’n paar weke, maande en teen die einde van die jaar? Sal dit ’n
suksesvolle prentjie wees, een met mooi kleure wat saamsmelt in iets sinvol,
een wat uitwerk soos wat dit aan die begin beplan is, een wat met trots
uitgestal kan word? Of sal die verf dalk êrens langs die pad smeer, of sal
die prentjie dalk ’n flop wees? Willem word baie keer kwaad vir sy skildery,
want hy sê sy hand doen nie wat sy kop vir hom sê nie. Dan verf hy stukke
van die skildery weer toe met die agtergrondkleur en begin weer oor.
Partykeer hou hy aanvanklik nie van sy skildery nie, maar as dit so rukkie
teen die muur gehang het, dan begin dit op mens “groei” en later sien jy nie
meer die foutjies raak nie, net die mooi kunswerk. Dalk kan jou skildery dié
jaar sulke slegte draai maak, dat jy dit eers weer sal moet toeverf en
oorverf voordat die prentjie vorm aanneem. Dalk kan dié jaar se prentjie lig
en vrolik wees met perfekte verhoudinge en volmaakte perspektiewe. Dalk kan
dié jaar se prentjie donker en somber uitdraai. Wie kan vir ons sê hoe dit
sal wees? – soos die Prediker vra. Ek kan vir jou sê dat sekere van die
verfhale op jou jaar se skildery gaan beslis mooi uitkom, oor party gaan jy
spyt wees as hulle jou skildery bederf, oor ander gaan jy dalk nie beheer hê
nie. Sommige kleure gaan só mooi saamsmelt, ander gaan te donker of te uitgewas lyk. Dis nou maar die lewe. Wie kan vooruit weet hoe die skildery
gaan wees? Al wat ek maar net besef het, is dat ek nie self moet probeer
skilder aan my jaar se prentjie nie. My hand gaan nie doen wat my kop vir
hom sê nie. Ek moet dit liewer oorlaat aan ’n Meesterskilder wat die toekoms
ken, wat die uitkoms sal bepaal, wat alles ten goede sal laat meewerk, wat
saam met my deur die dal van doodskaduwee sal stap, wat my trane sal afdroog,
wat my sal sterk maak as ek swak is, wat die lig aan die einde van die
tonnel sal aansteek, wat ’n pad in die woestyn sal maak, wat die storms sal
stilmaak, wat al die laste en bekommernisse op Hom sal neem, wat elke dag
weer nuwe kanse en nuwe genade sal skenk. Ek sien uit om my skildery te sien
op 31 Desember 2022! ~ Wilna Botha, 11/01/2022 |
|
“Gaan dien julle God, die Here! Maar wie gaan almal
saam?” (Eks 10:8) Hier teen die agtste plaag wat die Egiptenaars tref, gee
die farao amper in. Hy sê vir Moses en Aäron hulle kan maar gaan om die Here
te gaan dien. Wie gaan almal saam? wil hy weet. “Ons gaan almal, met ons
jong manne en ons ou manne, met ons seuns en ons dogters, met ons kleinvee
en ons grootvee, want ons moet vir die Here ’n fees gaan hou.” (Eks 10:9) Ek
het bietjie hieroor gewonder: as ek en jy die uitnodiging kry: gaan dien
julle God – wie gaan almal saam? Sal ons hele gesin, ons wyer familie
aanmeld? Sal ons werksmense daar wees? Sal ons vriende saamgaan? Dalk sal
party ’n paar sommetjies maak en besluit die prys om die Here te dien is net
te groot; daar is net té veel wat opgeoffer moet word. “As iemand na My toe
kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader
en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe.
Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel
wees nie.” (Luk. 14:26-27) Dís die prys om Jesus te volg – wie is bereid om
dit te doen? Dalk sal party nie kans sien om troetel sondetjies en slegte
gewoontes te laat vaar nie. Dalk sal party te besig wees met werk en
geldmaak en eie selfsugtige dinge dat hulle nie tyd sal wil afstaan om aan
die Here te wy nie. Dalk sal party eers iets anders wil gaan afhandel, soos
dié in Luk. 9:57-62 wat eers familie wil gaan groet, eers sy pa wil gaan
begrawe voordat hy vir Jesus volg. “As jy een van my volgelinge wil wees,
moet jy al die ander dinge in jou lewe tweede stel”, sê Jesus in Luk. 9:62.
Wie gaan almal saam, of sien ek nie kans vir die opoffering nie? Wie gaan
almal saam, of het ek ’n verskoning? Wie gaan almal saam? “Wat my en my
gesin betref, ons het ons keuse klaar gemaak, ons gaan die Here dien.” (Jos.
25:15) ~ Wilna Botha, 13/01/2022 |
|
“Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei?”
(Pred. 3:9) Dis nogal ’n vraag waarmee die Prediker homself besig gehou het!
Vir wie sloof ek my af? Alles kom tot niks, dis net ’n gejaag na wind. Só
redeneer hy. En ek ook. Dikwels. Dis mos veral so aan die begin van ’n nuwe
jaar dat mens weer bietjie dink wat jy verwag van jou werkslewe en hoe jy
dalk die werklas bietjie kan beheer, meer georganiseerd kan werk, beter
beplan, prioriteite herrangskik, dalk bietjie briek aandraai, ens. Of dalk
by die baas gaan aanspraak maak op ’n verhoging of aanpassing van jou pligte.
Of dalk sommer bedank en iets nuuts aanpak. Dalk voel jy ook so negatief dat
jy wil vra: wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom vermoei? Ek het
maar net weer besef: werk moet ons werk. Die Bybel sê mos in 2 Tess. 3:10 as
jy nie werk nie, moet (en kan) jy nie eet nie. Ons moet werk om te oorleef.
Ons moet werk omdat dit God se opdrag aan ons is. Ja, dis nie ’n straf soos
baie mense dink nie. Om te werk (die aarde te bewoon en bewerk en daaroor te
heers, soos Gen. 1:28 sê) was God se opdrag nog voor die sondeval. Die
gevolg van die sondeval was net dat ons nou met bietjie meer sweet en
gesukkel en swaarkry ons werk sal doen. “... net deur harde werk sal jy kan
eet.” (Gen. 3:19) Dit beteken sekerlik nie dat ons nie ons werk kan geniet
nie. Ek dink as ons vrede gemaak het met die feit dat ons móét werk en dat
dit nie altyd maklik gaan wees nie, kan ons dalk met bietjie meer lus en
vreugde werk. Dan kan ons werk asof ons dit vir die Here doen en nie vir
mense nie, dan kan ons werk tot sy eer, soos die Bybel ons elders aanspoor.
Dan kan ons ons werk as ’n seën en nie ’n las sien nie. “...doen julle werk
met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie.” (Ef. 6:7) Woon en werk
rustig voort, sê Ps. 37:3 en dís wat ek as my motto wil aanneem. “God laat
die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is ’n gawe van
God.” (Pred. 5:18) Om jou werk met vreugde te doen, is ’n gawe van God, iets
wat Hy in sy genade vir jou kan en sal gee! Vra dit van Hom en dank Hom
daarvoor! ~ Wilna Botha, 18/01/2022 |
|
“Maar jy, wie is jy
om regter te speel oor jou naaste?” (Jak 4:12) Dis nogal ’n tawwe vraag wat
Jakobus (en die Here!) vandag vir ons vra. Wie is ek om te oordeel of te
beoordeel? Wie is ek om te besluit wat reg en verkeerd in iemand anders se
situasie is? Wie is ek om te sê wie is goed en wie is sleg? As mens terugkyk
na die vorige vers in Jakobus praat hy van kwaadpraat oor mekaar, van
skinder, van slegsê en slegpraat en slegmaak. Wie is ek nou eintlik om enige
iets oor enige iemand anders te sê? Ja, ek is skuldig. Ek oordeel. Ek sien
dikwels net die slegte raak. En ek bly nie stil daaroor nie! Ek kyk na die
uiterlike, ek kyk na die foute, die mislukkings, ek kyk na die verskille en
dan sit ek iemand in ’n boksie daarvolgens. Ek is krities, ek is
uitgesproke, ek “label” mense. Ek maak afleidings, ek is nie objektief nie,
ek is nie verdraagsaam nie, ek kyk nie na die groter prentjie en die
agtergrond en die paadjie wat my naaste dalk al moes stap nie. Ek het
hierdie aanhaling gelees wat my sterk aanspreek: “Don’t judge my path if you
haven’t walked my journey.” Dis natuurlik ook glad nie lekker as die
bordjies verhang en jy aan die ontvangkant van iemand anders se oordeel is
nie, nè! Dit maak mos seer as iemand jou beoordeel sonder dat hulle jou
storie en jou agtergrond ken, nie waar nie? Nou hoekom doen ons dit dan aan
iemand anders? Die “Urban Dictionary” sê by “judgemental”: “A way of making
oneself feel better, by hurting others. Usually caused by closed mindedness,
and a lack of manners.” Nee! Ons kan en mag nie so wees nie. Kom ons wees
meer verdraagsaam en toon groter begrip en genade aan mense wat anders lyk,
anders dink en anders optree as ons. Kom ons bly stil as ons nie die hele
agtergrond ken nie. Kom ons probeer om onsself in die ander een se skoene te
plaas en so paar treë saam op sy journey te stap. Jesus sê in Joh. 7:24:
“Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig.” ~ Wilna Botha
20/01/2022 |
|
“Wie sien sy eie dwalinge raak?” (Ps. 19:13) Dawid is
bang hy sien nie sy eie tekortkominge raak nie. Hy is bekommerd dat hy dalk
foute en sondes begaan het waarvan hy nie bewus is nie. Hy vra dat die Here
hom nie moet straf vir dinge wat hy onwetend gedoen het nie. Kyk, ons weet
Dawid het ’n paar groot foute begaan. Aanvanklik wou hy voorgee dat hy niks
verkeerd gedoen het nie, hy wou dit toesmeer en anderpad kyk, maar sy
skuldgevoelens het hom gepla en sy gewete het hom aangekla. So vertel hy in
Ps. 32 hoedat sy liggaam uitgeteer het en sy kragte opgedroog het toe hy
stilgebly het oor sy sonde. Die foute het hom ingehaal. Die skuld het hom
vermoei. Die selfverwyt het hom depressief gemaak. Die ontkenning het by hom
gespook. Totdat hy die alles voor die Here bely het en vergifnis ontvang het.
Die Here se onvoorwaardelike vergifnis. So-ver-soos-die-ooste-van-die-weste
vergifnis. Skarlakenrooi-na-wit-soos-wol vergifnis. “Barmhartig en genadig
is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken
en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes
nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie ... so ver as die ooste van
die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” – dis Dawid
se loflied in Ps. 103:8-12. Ek sien vandag hierdie twee kante in my lewe:
aan die een kant moet ek nie onbewus wees van verkeerde dinge in my lewe nie.
Ek moenie afgestomp raak oor sondes nie. Selfs Paulus het in 1 Tim 1:15 na
homself verwys as die grootste sondaar van almal; in Rom 7 vertel hy van die
innerlike stryd tussen die wil om die goeie en regte dinge te doen teenoor
die realiteit van struikeling. Ek sal ook vir ewig moet stry teen “klein”
sondetjies en hulle nie wegredeneer nie. Ek moet en wil ’n rein lewe najaag.
Aan die ander kant moet ek nie myself kasty oor mislukkings en misstappe nie.
Ek mag en sal Jesus se verlossing en versoening voortdurend aanvaar. Ek kan
oor en oor en oor God se vergifnis ontvang. Ek kan en gaan leef as ’n vry
mens sonder die las van skuldgevoelens wat aan my gedagtes en hart vreet.
“Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die
dank! Hy doen dit deur Jesus Christus, ons Here.” (Rom 7:24) ~ Wilna Botha,
25/01/2022 |
|
“Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my
hulp kom?” (Ps. 121:1) ’n Vraag, ’n versugting van iemand wat benoud is, wat
verdwaal is, wat raad nodig het, wat nie weet wat die volgende stap is nie.
Jy ken dalk daai gevoel – jy staar teen die plafon of ’n muur vas, jy staan
voor ’n kruis, jy tuur in die verte, jy kyk na ’n hoogte of luister na die
gedruis van die see en jy vra: waar sal ek hulp kry? Ek dink “die berge”
waarna die Psalm verwys is seker Sionsberg wat algemeen bekend gestaan het
as die blyplek van God, wat gekenmerk is as die plek waar God teenwoordig
is, waar Jerusalem en die tempel was. Die skrywer soek seker nie sy hulp by
die berge self of by die natuur of ’n skepping groter as hyself nie, hy kyk
op na waar God teenwoordig is, na ’n plek waar hy hoop dat God sy uitroep
sal hoor. Waar soek jý jou hulp as jy nie meer weet waarheen nie? By mense?
By geld? By die kerk? By gebedskettings? Of by die Here self, dié Een wat
alles gemaak het, dié Een wat alles weet, dié Een wat jou beskerm, dié Een
wat jou nooit in die steek sal laat nie, dié Een wat nooit slaap nie, dié
Een wat nie sal toelaat dat jy struikel nie, dié Een wat weer ’n uitkoms sal
bewerk, dié Een wat sy hand na jou uitsteek om jou op te help, dié Een wat
daar by jou teenwoordig is en nie êrens ver op ’n berg bly nie. Toe ek
hierdie Psalm weer gelees het, het ek gedink daar is dalk ’n ander kant aan
“ek kyk op na die berge”. Die skrywer (pelgrim) het dalk voor ’n hoë,
onoorkomelike berg te staan gekom en gewonder hoe hy dié struikelblok gaan
aanpak. Moontlik het hy nie ’n antwoord by die berg gesoek nie, die berg
was dalk juis sy probleem. Jy ken seker ook hierdie gevoel. ’n Opdraande, ’n
moeilike pad, ’n kronkelpad, ’n donker pad en jy weet nie hoe om die pad aan
te durf nie, jy sien nie ’n volgende vastrapplek om oor die berg voor jou te
kom nie. Die berg van bekommernis, die berg van siekte, die berg van ’n
operasie, die berg van werksoek, die berg van platsak wees – jy was al daar,
of jy is nóú daar. Ons was so paar weke gelede in Clarens en het tot op die
hoogste punt van daai berg (ek dink dis die Rooiberge) opgeklim wat so mooi
uitkyk oor die dorp. As jy van onderaf kyk kan jy dalk dink dit gaan te
moeilik wees, maar as jy begin stap, sien jy gou daar is ’n mooi gemerkte
paadjie, hier en daar ’n klip vir jou neergesit as trappie, ’n riviertjie
waar jy jou warm gesig kan afspoel of bietjie rus. As jy die pad-pyltjies
bly volg, al lyk dit of dit nie die regte paadjie is nie, as jy aanhou en
deurdruk, wanneer jy voel nou kan jy nie verder nie, dan is jy skielik bo en
word jy beloon met die mooiste uitsig. Dán voel jy tevrede. Dán voel dit of
jy die berg oorwin het. Dán kan jy dankbaar terugkyk na die hulp wat langs
die pad was. Die Here sal jou nie alleen los voor jou berg nie. Hy sal ’n
pad wys. Hy sal ’n vastrapplek gee. Hy sal jou dra as dit nodig is. Hy sal
jou aanmoedig. Hy sal ’n rusplek en lafenis langs die pad verskaf. Hy sal
jou lei tot by ’n mooi uitsig. Vat sy hand en klim die steilte. Daar ís ’n
pad oor die berg. Daar ís hulp by die Here. ~ Wilna Botha, 27/01/2022 |
|
“En wie is my naaste?” (Luk. 10:29) Ag ons het hierdie
vraag ook al baie vir onsself en vir mekaar gevra, het ons nie? Die Bybel sê
immers ons moet ons naaste liefhê, daarom wil ons weet of daar iemand is wat
ons miskien kan uitsluit sonder om skuldig te voel. Gewoonlik as ek vra: wie
is my naaste, dan is dit omdat ek myself wil verontskuldig wanneer ek
anderpad gekyk het, wanneer ek ’n weldaad aan iemand weerhou het, wanneer ek
skuldig voel dat ek so selfsugtig is, wanneer ek gemaak het of ek nie die
deurklokkie hoor lui het toe iemand my hulp gesoek het nie, wanneer ek nie
lus is om my goed en my geld en my tyd met iemand anders te deel nie. Dan sê
ek vir myself: nee wat, my naaste is my kinders, my broers en susters en
familie en vriende, my naaste is my kerk se mense en dalk, dalk my bure. Dan
sê ek vir myself: charity begins at home. En dis waar ek die streep wil trek.
Ek dink dis wat die wetgeleerde in Luk. 10 ook gehoop het om te doen toe hy
vir Jesus vra: En wie is my naaste? Jesus spel dit nie vir hom uit nie. Hy
gee nie vir hom ’n reël of ’n resep nie. Hy vertel ’n storie van ’n man wat
deur rowers geslaan en beroof is en kaal en halfdood langs die pad gelos is.
Die Priester en die Leviet wat die beseerde man gesien het, het anderpad
gekyk (mens sou dít nie eintlik van hulle verwag het nie), maar die
Samaritaan het moeite gedoen om hom te help (mens sou dít nie eintlik van
hom verwag het nie). Hy het letterlik die ekstra myl geloop. Hy het sy eie
program onderbreek, hy het sy tyd opgegee, hy het geld spandeer, hy het sy
hande vuil gemaak, hy het sy vervoer beskikbaar gestel, hy het omgegee. Nou
vra Jesus: “Watter van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat
onder die rowers verval het?” (Luk. 10:36) Die skrifgeleerde het die
antwoord geken. Ek en jy ken ook die antwoord. Jesus verwag dat ons sélf die
afleiding sal maak, vir ons sélf sal antwoord, sélf sal onderskei in elke
situasie. “Die een wat medelye bewys het,” was die wetgeleerde se antwoord.
Die een wat jammer gevoel het vir die man in nood, die een wat kon
vereenselwig met die pyn van iemand anders, die een wat geweet het dit kon
net sowel hy gewees het wat daar gelê het, die een wat geweet het dat Jesus
sê: “Vir sovêr julle dit aan een van die geringste van hierdie broers gedoen
het, het julle dit aan My gedoen.” (Matt. 25:40) Wie het jóú vandag nodig? –
hy is jou naaste. ~ Wilna Botha, 01/02/2022 |
|
“As ’n mens sterf, sal hy weer lewe?” (Job 14:14) Job
was gekonfronteer met die dood en met sy eie swaarkry en sterflikheid,
daarom dat hy hieroor wonder. Dis nogal iets waaroor ek ook van tyd tot tyd
wonder – is daar régtig ’n lewe na my aardse sterwe, is daar régtig ’n ewige
lewe? Is dit nie maar die einde as ek hier my asem uitblaas nie? Al vra Job
die vraag, ken hy die antwoord, nes ek ook tog wel die antwoord ken. Ek glo
met my hele hart dat die hemel en ’n ewige lewe saam met die Here ’n
werklikheid is! Ek weet nie wanneer laas ek dié verse in Job gelees het nie,
maar ek kon eintlik nie glo hoe mooi Job dit sê nie (lees gerus vers 14 tot
17) Hy sê ás daar ’n lewe na die dood is, dan sou hy sy swaarkry kon uithou
omdat hy sou weet dat daar eendag ’n nuwe lewe op hom wag. En hoe waar is
dit nie. As niks anders jou kan troos of moed gee of laat vasbyt as jy, soos
Job, op die ashoop sit nie, dan behoort hierdie gedagte jou deur te dra: die
swaarkry van nou kan nie opweeg met die heerlikheid van dit wat wag nie. “Ek
is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen
die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” (Rom
8:18) Job sê ás daar ’n lewe na die dood is, sal daar ’n dag wees wat die
Here hom sou roep, ’n dag wanneer hy van aangesig tot aangesig voor die Here
sal staan. Hy sê as daar ’n lewe na die dood is, sal die Here elke tree wat
hy gee tel, hy sal begaan wees oor sy doen en late. Hy sal omgee oor hom,
omgee oor sy pyn en ag gee op sy trane. Dit is wel so – ek het ervaring
daarvan en dalk jy ook: “My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U
het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken.” (Ps. 56:9) Job sê
as daar ’n lewe na die dood is, sal die Here nie ag gee op sy sonde nie.
“Dan sou U my oortreding in ’n sak verseël en my sonde toemaak.”(Job 14:17)
Ja, vriend en dís presies wat God is sy genade en liefde vir ons doen. Hy
reken ons nie ons sondes toe nie. Hy vergewe. Die straf vir ons sondes het
op Jesus afgekom. Jesus se bloed maak ons sonde toe. Ons is skoon gewas. Op
die dag dat jy jou laaste asem uitblaas vat die Here jou hand en stap jy
deur na die ewige lewe, na sy ewige teenwoordigheid, na volmaaktheid, na
geen pyn en trane, geen seer en swaarkry, geen eensaamheid en verwerping nie.
Hoe kan jy seker wees daarvan? Jy ken Joh. 3:16! Glo jy Joh. 3:16? “....
sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal
hê.” Doen jy Joh. 3:36? “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe” En het jy
al Joh. 6:40 gelees? “Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun
sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag
uit die dood laat opstaan.” En Joh. 6:47? “Dit verseker Ek julle: Wie in My
glo, het die ewige lewe.” Hoor vandag as Jesus Joh. 10:28 vir jou sê. Lees
gerus jou eie naam in hierdie teks in: “Ek gee jou die ewige lewe en jy sal
in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal jou uit my hand ruk nie.”
Ja Job, as ’n mens sterf sál hy weer lewe! Ja, my vriend, as jy sterf sál jy
weer lewe! ~ Wilna Botha, 03/02/2022 |
|
“Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: ‘Hoe
lank hou julle aan met hink op twee gedagtes?’”(1 Kon 18:21) Sonder om na
die konteks van dié vraag van Elia te kyk of sonder om geestelik hieroor te
dink, weet ek dat ek nogal baie kere so hink op twee gedagtes.
Besluiteloosheid! Draadsit! Moet ek, of moet ek nie? Watter een moet ek kies?
Is dit verkeerd of nie? Moet ek help of moet ek nie? Moet ek gaan of moet ek
bly? Moet ek ja of nee sê? Moet ek praat of moet ek stilbly? Hoeveel kere op
’n dag moet mens nie keuses maak nie! Dikwels moet jy heel vinnig besluit.
Baie kere moet jy kies sonder om álles oor die saak te weet. Soms moet mens
nóú ’n besluit maak oor iets wat ver in die toekoms lê. En dan, ongelukkig,
besef mens eers later jy het verkeerd gekies, verkeerde besluit geneem. Vir
myself wil ek sê: maak jou besluit, hou daarby en pluk die aangename vrugte
of dra die gevolge. Toe Elia die volk gevra het: hoe lank hou julle aan met
hink op twee gedagtes, was die keuse of hulle Baäl of die Here gaan kies:
“As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.” Hy vra hulle
om te kies en by hulle keuse te hou. As hulle nie sekerheid in hulle hart
het oor wie God is nie, gaan hulle nie kan kies nie en gaan hulle nie
toegewyd en oorgegee aan die Here wees as hulle Hom kies nie. Anders as in
Jos. 24, waar Josua die volk voor ’n soortgelyke keuse gestel het, en hulle
onomwonde gesê het: “ons sal die Here dien. Hy is ons God” (Jos. 24:18), kan
hulle nie nou met oorgawe kies nie. Om die waarheid te sê, hulle het hom
glad nie geantwoord nie. Hulle wou dalk eers sien waar lê die grootste
voordeel vir hulleself, of wat eis die minste inspanning en opoffering van
hulle. Ek het hierdie aanhaling eenmaal gelees: “There are always two
choices. Two paths to take, one is easy and its only reward is that it’s
easy.” En jy? Hink jy op twee gedagtes? Bly jy stil as jy ’n keuse vír die
Here moet maak? Of het jy gekies en staan jy vas by jou keuse ongeag die
prys wat dit vra? ~ Wilna Botha, 10/02/2022 |
|
Hy vra toe vir haar: “Wie is jy?” (Rut 3:9) Dis seker
’n vraag wat ek en jy gereeld hoor. Wie die vraag aan jou stel sal seker jou
antwoord beïnvloed. As die onderwyser by jou kind se skool vra, sal jy seker
sê: Pietie se ma. As iemand by die werk vra, sal jy dalk sê: Mnr. X. se
assistent, ek werk op die 10e vloer of jy sal sê: die besturende direkteur.
As iemand by die kerk vra, sal jy dalk sê: die een wat klavier speel, of die
een wat altyd die tee inskink, die een wat gewoonlik die gebedskamer beman
of die siekes besoek, of wat ook al. As dit ’n familielid is, sal jy dalk sê:
Ek is Sarel, die seun van Groot Gert van Witrivier. By die dokter se
spreekkamer sal jy moontlik jou volle naam en van gee en sê: Ek het ’n
afspraak. So as jy vandag gevra word: “Wie is jy?”, sal jy gereed wees met
jou CV? Sal jy die kans gebruik om so bietjie te spog met jou kwalifikasies
en jou sterk punte? Vroeër jare het sommige vroue geroem op wie hulle mans
is en hulleself in die nodige kringe sommer as “Mevrou dokter” voorgestel!
Is jy trots op wie jy uit eie reg is, of is jy altyd net iemand se vrou,
iemand se ma, iemand se dogter? Sommige mense sal dalk met ’n lang lys van
hulle foute en tekortkominge en mislukkings antwoord as hulle gevra word:
“Wie is jy?”. As jy op geestelike vlak gevra word: “Wie is jy?”, is jy
gereed met jou getuienis? Is jy gereed om te sê dat jy ’n kind van God is?
Sal jy kan sê hoe jy by die Here uitgekom het? Dalk sal jy kan sê wie en hoe
jy eers was en wie en hoe jy is nadat die Here deel van jou lewe geword het
en sy Gees beheer geneem het. Sal jy die geleentheid gebruik om jou
afhanklikheid van die Here te verklaar, of te vertel hoe nodig jy Hom het? Kyk
bietjie weer in Fil. 3 hoedat Paulus van homself vertel vóór en ná hy met
die Here Jesus kennis gemaak het. Eers het hy geroem op sy herkoms, sy
kennis, sy onderhouding van die wet en sy volmaaktheid (Fil. 3:5-6) en dan
in vers 7 sê hy: “maar nou ....” en dan volg sy “nuwe” CV van hoe Christus
nou sy enigste bate is, hoe hy vrygespreek is, hoe hy alles prysgegee het
ter wille van sy geloof en hoe hy uitsien na sy hemelse prys. “Wie is jy?”,
is die vraag wat Boas aan Rut vra, nadat sy stilletjies by sy voete gaan lê
het. Kyk haar antwoord: “Ek is Rut, ek is van u afhanklik, en u is my losser;
neem my nou onder u beskerming.” (Rut 3:9) Vroeër in Rut 2:5 het Boas
alreeds vir sy voorman oor Rut gevra: “Wie is daardie meisie?” Ons kan nou
natuurlik vir mekaar vra wat ander mense oor óns sou antwoord as hulle moet
sê wie ons is. Sou dit in lyn wees met wat jy oor jouself te sê het of sal
dit heeltemal ’n ander storie wees? Wie is jý? ~ Wilna Botha, 15/02/2022 |
|
“Waarheen sou ek gaan om U Gees te ontvlug? Waarheen
sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?” (Ps. 139:7) Wou jy ook al
wegvlug van die Here af? Dalk het jy, soos Adam en Eva, probeer wegvlug
omdat jy oortree het en “uitgevang” is? Of dalk soos Jona omdat jy nie wou
doen waarvoor die Here jou geroep en gestuur het nie? Of dalk soos Saulus op
pad na Damaskus omdat jy jou eie agenda gehad het? Waarheen jy ook al
probeer vlug, jy gaan jou oral in die Here “vasloop”. Hy gaan nie vir jou
staan en wag soos ’n kwaai skoolhoof met sy lat nie. Hy gaan ook nie met
loeiende sirenes soos ‘n polisieman agter jou aangehardloop kom nie. Hy gaan
net met oop arms, met deernis, met vergifnis en met ’n helpende hand verskyn.
Dís die wonderlike nuus van Ps. 139! Die Here se teenwoordigheid sal jou
agtervolg waarheen jy ook al probeer vlug, sy genade sal jou elke keer kom
red, sy hand sal jou elke keer oplig na veiligheid, Hy sal jou toevou met sy
liefdevolle arms, sy vergifnis sal jou skuld en verwyte kom uitvee, sy stem
en sy lig sal die regte pad vir jou aanwys. Jy kan nie van Hom af wegvlug
nie. Sy oë is oral op die aarde, sê die Woord op ’n ander plek. In die
donker dae kom hy nader, deur die dal van doodskaduwee stap Hy saam, in die
storms luister Hy na jou hulpgeroep, in die goeie tye vier Hy fees saam met
jou. “U is oral. Daar is nie ’n plek waar ek heen kan gaan waar U nie is nie.
As ek hemel toe gaan, is U daar. As ek doodgaan, is U by my. Al kan ek so
vinnig soos lig beweeg of al gaan ek na die verste plek toe, U is daar. Die
afstand tussen oos en wes is nie vir U te vêr om gou na my toe te kom nie.
Oral hou U my vas. Al vou die donkerte my heeltemal toe, is U naby my.” (Ps.
129:7-11, Die Boodskap) ~ Wilna Botha ,22/02/2022 |
|
“Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad
met ons gepraat het en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” (Luk.
24:32 ) Dalk ken jy daai warm gevoel in jou hart as jy wéét die Here
het met jou gepraat, daai hoendervleis as jy iets in die Bybel lees
en jy wéét die Gees het dit vir jou duidelik gemaak, daai rustige
gevoel in jou binneste as jy na ’n preek luister of ’n geestelike
boek lees en jy wéét dis die Here self wat die Skrif vir jou uitgelê
het. Of miskien het jy nog nooit daai warm gevoel in jou hart beleef
nie en jy verlang daarna dat die Here met jóú moet praat, jy begeer
om sy stem te hoor. Vir baie Christene is dit een van die
belangrikste, maar moeilikste dinge om die Here se stem te hoor. Ons
wil hoor wat Hy sê wanneer ons keuses moet maak, wanneer ons by
doodloopstrate kom, wanneer ons bemoediging of aanmoediging nodig
het; ons wil hoor wat Hy van ons verwag in lewensituasies, wat Sy
opdragte en roeping vir ons is. Ek het uit ervaring geleer dat die
Here met verskillende mense op verskillende maniere praat. Moenie
dink daar is ’n resep of ’n kursus of drie maklike stappe om God se
stem te hoor nie. Moenie verwag dat die Here noodwendig met jou gaan
praat soos met jou man of jou vriend of een of ander geestelike
leier nie. Die “warm gevoel” van sy stem in jou binneste word gebore
uit ’n unieke, persoonlike verhouding met Hom, dit kom wanneer jy
stil raak en jou geestelike ore spits om te hoor wat Hy sê, dit
gebeur wanneer jou verstand en jou hart gewillig is om te dóén wat
Hy vir jou sê. Ek weet die Here praat met my deur die Woord, deur
prediking, deur mede-Christene, maar in die meeste gevalle praat die
Here maar net stilweg met my – daardie sagte, klein stemmetjie in
my binnekant. “Praat Here, u dienaar luister!” (1 Sam 3:10) ~ Wilna
Botha, 01/03/2022 |
|
“Wie is Hy, hierdie
magtige Koning?” (Ps. 24:10) Ek het verlede jaar in Februarie begin
om vrae in die Bybel te oordink en ietsie daaroor te skryf. Die
eerste sowat 50 vrae was vrae wat die Here in die Bybel vra (hier
is die skakel, as jy van dit dalk wil lees ->),
daarna het ek vrae uitgesoek wat mense in die Bybel vra (hier
is die skakel waar ek iets geskryf het oor so om en by dertig vrae).
Met hierdie vraag in Ps. 24:10 wil ek nou dié vrae-reeks afsluit.
“Wie is Hy, hierdie magtige Koning?” Kan ons uit ons hart uit
antwoord as iemand dié vraag aan ons sou stel? Wéét jy wie Hy is?
Kén jy Hom? In Eks 3:13 lees ons dat Moses by die brandende
doringbos vir God vra wat hy vir die Israeliete moet sê as hulle vra
wie hom gestuur het. Hy wou weet: Sê nou maar hulle vra: “Wat is sy
Naam?”, wat moet ek dan vir hulle sê? “Ek is wat Ek is. Jy moet vir
die Israeliete sê ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” (Eks 3:14)
“Ek is”. As ek dit lees, sit ek altyd in my gedagtes ’n paar
kolletjies agteraan: “Ek is ...” Want nou kan mens mos enige iets
daar invul. Jy mag, want dis wie God is – Hy is alles waaraan jy kan
dink. Jy mag, want dis wie God is – Hy is alles wat jy nodig het. Hy
is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die
Einde (Openb. 22:13) Hy is alles. Hy het alles. Hy gee alles. Het jy
vandag raad nodig? Ek is ... ’n Raadgewer. Het jy vandag beskerming
nodig? Ek is ... ’n veilige Skuilplek. Het jy vandag hulp nodig? Ek
is ... jou Helper. Het jy vandag redding nodig? Ek is ... die
Redder. Is jy vandag op ’n donker plek? Ek is ... die Lig. Het jy
vandag genesing nodig? Ek is ... die Geneesheer. Het jy vandag troos
nodig? Ek is ... die Trooster. Het jy vandag krag nodig? Ek is ...
Sterke God. Het jy vandag versorging nodig? Ek is ... jou Vader. Het
jy vandag leiding nodig? Ek is ... jou Herder. Het jy vandag ’n
wonderwerk nodig? Ek is ... die Bewerker van wonderdade. “Ek is wat
Ek is” – dís wie Hy is, hierdie magtige Koning! ~ Wilna Botha,
03/03/2022 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|