|
|
Daaglikse Heuningdruppels
2015
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
NOG 'n Kersfees
Wat kan nog oor Kersfees geskryf word? Watter woorde daaroor
kan so nuut wees dat mens dit wil hoor of lees? Watter Kersdag preek kan
steeds impak maak en uit watter hoek kan ons daarna kyk sodat ons steeds in
verwondering daaroor staan? Jaar na jaar dieselfde.
Maar tog maak die geboorte van Jesus menige Christene se
harte warm. 'n Ongewone kind word gebore uit 'n gewone vrou. 'n Gewone
geboorte uit 'n ongewone swangerskap. 'n Ongewone man wat jare later wonderwerke
in 'n gewone dorpie begin doen. Gewone mense se lewens neem ongewone
wendings as hulle tot bekering kom.
En vandag vier gewone mens steeds hierdie ongewone gebeure van 2000 jaar
terug, want die misterie van die ongewone sal nooit ophou om mense aan te
gryp nie. Dit bly steeds n ongewone verhaal in ons gewone tye. My en jou
ervaring daaroor verskil, en dit verskil dalk selfs jaar na jaar. Dis hoekom
ons dit seker vir nog duisende jare sal vier. Die punt is, Christus verander
gewone mense se lewens, en daarom sal die meeste van ons steeds in
verwondering staan oor Sy geboorte. Dit bly maar spesiaal.
~ Willem Botha, 25/12/2015 |
|
“Ek het baie goeie nuus
vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier. Hierdie goeie
nuus is ook vir die hele volk bedoel: vandag is die Redder in die stad van
Dawid gebore; vir almal van julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal
vrymaak. Hy is die Messias en die Here oor almal.” (Luk. 2:10-11, Die
Boodskap) Dit voel vir my of die wêreld nou begin spoed verminder en
gereedmaak om weereens hierdie groot gebeurtenis te oordink en te vier. Ek
vier weer die feit dat Jesus se geboorte goeie nuus is; dat Sy redding en
genade en vrede vir almal bedoel is; dat Hy gekom het om eens en vir altyd
met sonde af te reken en vir ons die lewe in oorvloed te gee. Ek het meer as
genoeg rede om te gaan feesvier en Hom te eer as Redder en Messias en Here.
Hoop jy vier saam fees! ~ Wilna Botha; 24/12/2015 |
|
Eer jou vader en jou moeder
Eks 20 :12 “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly
woon in die land wat die Here jou God vir jou gee."
Hierdie is 'n gedagte wat so belangrik is vir die Here dat Hy
dit in die wet opgeneem het. Maar ek sien ook hoe maklik mense hierdie gebod
ignoreer, of dit net summier oortree, of sommer net so ligtelik opneem asof
dit niks beteken nie. Hierdie gebod is nie net van toepassing terwyl hulle
lewe nie, maar ook tot my en jou dood.
Ek luister
anderdag na die praatjies in my eie familie oor ons ouers en ek besef; as
elkeen van ons 'n boek sou skryf oor ons kinderjare, sal dit so verskil dat
dit klink of ons van verskillende planete af kom, wat nog van uit dieselfde
huis uit, want met jare het ons persepsies gevorm, spookstories opgemaak oor
ons opvoeding en ons pak die skuld vir ons eie tekortkominge op ons ouers.
Voorts (vergewe dat ek hierdie ding noem) maar ek sien hoe sommige
sielkundiges hulle pasiënte in hulle verlede laat krap om "genesing" te kry,
en dan loop die ouers verwoed deur.
Ja, ek verstaan 100% dat daar gesinne is wat wel deurgeloop het onder
alkoholisme, mishandeling, ontrouheid, en vele ander dinge. Dis ongelukkig
waar en moet hanteer word.
Maar ek verwys nou na gesinne waar ma en pa onder bitter moeilike
omstandighede die beste gedoen het wat hulle kon.
Dis Kerstyd en ek en vroulief het nie meer die voorreg om ons ouers te hê
nie en ek wens so hulle kon nog net eenkeer saam met ons kuier, maar dis
ongelukkig verby. Dis egter so dat bejaardes afgeskryf word deur hulle
kinders en dan iewers vereensaam. As ek hieraan dink besef ek hoekom dit vir
die Here so belangrik is om ons ouers te eer. Kan jy nog vir jou ouers sê
(in gesproke woorde) dat jy lief is vir hulle? Kon jy dalk vir hulle help om
sekerheid te hê dat hulle hemel toe sal gaan na hulle afsterwe? Is daar dalk
onafgehandelde sake wat hanteer moet word? Wel, gebruik hierdie Kerstyd om
die lug te suiwer. Ek glo dis wat die Here van ons verwag. Geniet jou ouers,
dra hulle op die hande en vergewe hulle as daar foute was, maar eer hulle.
~Willem Botha, 22/12/2015 |
|
"Gaan vind alles noukeurig oor die Kindjie uit. As julle Hom
kry, kom sê vir my dat ek Hom ook kan gaan aanbid." (Luk. 2:8) Dis hoe
Herodus meer wou uitvind by die wyse manne oor die geboorte van Jesus.
Natuurlik wou hy Hom nie gaan aanbid nie, hy wou Hom laat doodmaak omdat dié
Koning 'n bedreiging vir hom was. Oor 'n paar slapies is dit Kersfees - dalk
kan ons dié tyd gebruik om met suiwer bedoelings meer uit te vind oor die
Seun wat aan ons gegee is, die Heerser met die koninklike titels :
Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. My gebed is dat
ons nie onveranderd deur nog 'n Kersfees sal gaan nie, dat ons Hóm sal vind,
Hóm sal toelaat as Heerser in ons lewens en dat ons in opregtheid voor Hom
sal buig en met ons hele hart, siel en verstand sal liefhê en aanbid. ~
Wilna Botha, 21/12/2015 |
|
Onsin
Vir ons as gelowiges is dit onverstaanbaar dat almal nie soos
ons kan glo nie. Ek verstom my dat mense wat tussen ons woon nie ook soos ek
die logika van God se bestaan kan raaksien nie. Ons sien tog dieselfde goed
en is getuies van baie dinge, maar vir baie bly dit bloot onsin. Dit voel
soms of jy iemand net by die skouers kan gryp en hulle skud. Maar dit sal
nie help nie. Kyk wat sê die Woord daaroor. Dit lyk my die Gees wat in ons
woon, gee telkens die deurslag. Dan
word tot geleerdes beskaam.
1 KORINTIËRS 1:18 Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir
dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.
1 KORINTIËRS 1:20 Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die
skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die
wêreld tot onsin gemaak nie?
1 KORINTIËRS 1:21 Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld
nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy
goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te
red wat glo.
1 KORINTIËRS 1:23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode
is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin,
1 KORINTIËRS 1:25 Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid
as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is
groter krag as die krag van mense.
1 KORINTIËRS 1:27 En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om
die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om
die sterkes te beskaam,
1 KORINTIËRS 2:14 Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die
dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie
verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word. ~ Willem Botha,
20/12/2015 |
|
Toe Jesus gebore is, het die
sterrekykers geskenke van goud, wierook en mirre gebring, die skaapwagters
het geen moeite ontsien nie en dadelik gegaan om voor die Koning te buig en
God te loof en prys, Maria het haarself gegee en gesê: “Ek is tot beskikking
van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” (Luk. 1:38) Die Little
Drummer Boy, van die liedjie, wou ook vir die Koning wat gebore is geskenke
bring, maar hy was maar net ’n arm seuntjie ... “I
have no gift to bring ... that's fit to give our King.” Dan speel hy maar
net op sy drom vir die Koning ... “I played my drum for Him ... I played my
best for Him.” Dít wat hy kan doen, sy talent wat hy het bied hy aan vir
Jesus en hy doen dit so goed as wat hy kan. Hoe mooi eindig die liedjie nie
as hy sê: “Then He smiled at me ...” Dis wat Jesus doen wanneer ons wie ons
is en watter gawes ons het gebruik om Hom te eer en ons naaste te dien – Hy
glimlag. Mag Jesus ook glimlag wanneer jy hierdie Kersfees jou beste vir Hom
gee! ~Wilna Botha, 17/12/2015 |
|
As more nie kom nie
Het jy ook al 'n paar planne vir volgende jaar? Ek is seker
jy het, maar jy moet eers die planne vir die vakansie deurgewerk kry.
Laasgenoemde is lekker want dit plaas mens in 'n positiewe stemming want as
jy soos ek is voel jy om net af te skakel en soos 'n volstruis die kop in
die sand te druk en als van volgende jaar te ignoreer soos 'n stopstraat.
Maar iewers moet ons seker daaraan begin dink. Goeiste, dis
nog nie eers Kersfees nie en die winkels begin
al klaar met "Back to school" promosies. Maak my sommer siek! Krismis -
specials is nou uitgewoed en ons moet weer gaan koop. Ai!
Maar sê nou maar more kom nie? Wie op aarde beplan vir sulke negatiewe goed?
Wel, volgens die Bybel moet ons daaraan dink.
Jak 4:13-16 Kom nou, julle wat sê: "Vandag of môre sal ons na dié en dié
stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak."
Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n
damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê:
"As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen." Maar nou is
julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is
verkeerd.
Ek weet nie altyd hoe om hiermee om te gaan nie, behalwe dat ek weet die
Here is daar, hetsy in hierdie lewe, of die een hierna. Dus moet ons maar
dag tot dag voluit lewe en die lewe geniet, maar ook altyd gereed wees vir
die volgende lewe. Jy wil dit tog nie op die verkeerde plek deurbring nie of
hoe? ~Willem Botha, 16/12/2015 |
|
In die Bybel word die
lewe van gelowiges op verskillende maniere met ’n boom vergelyk, een so ’n
voorbeeld is in Ps. 92:13. “Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome,
soos hoë seders op die Libanon.” Ons sal wees soos mooi, sterk, hoë bome.
Nouja, ons weet die spreekwoord sê nie verniet: die hoogste bome vang die
meeste wind nie! As kinders van die Here, as gehoorsame volgelinge van
Jesus, as mense wat die Woord onomwonde glo, kry ons dikwels baie kritiek
van mense en is die wêreldse winde maar redelik vel op ons. Vers 14 gee
sommer direk die antwoord oor hoe ons sterk kan staan teen daardie winde:
“Hulle vind hulle krag in die huis van die Here en groei op in die tempel
van ons God.” Ons kan staande bly wanneer ons sáám met medegelowiges aanbid,
leer en groei, wanneer ons as medegelowiges mekaar help en mekaar aanmoedig
en bemoedig en mekaar beskerm teen aanslae van buite. “Een
alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. 'n Driedubbele tou
breek nie maklik nie.” (Pred. 4:12) ~ Wilna Botha, 15/12/2015 |
|
Dissie ekkie
Man, sommer van kleins af kry jy dat jy 'n kind uitvang dat
hy droogmaak en hy sal sê: Dis nie ek nie! En hoe ouer ons word hoe erger
raak dit. Kyk nou maar as jy in 'n ongeluk betrokke is, jy sal nie sommer
kry dat iemand erken dat hy aanspreeklik is nie, inteendeel, dit is mos
altyd die ander ou wat die rooi lig geïgnoreer het. Het jy geweet dat selfs
jou versekeraar jou verbied om skuld te erken? Kyk na hierdie teks: "Die
ontroue vrou het haar eie
manier: sy eet en vee haar mond af en sê: 'Ek het niks verkeerds gedoen nie.'"
(Spr.
30:20)
Jy het seker hierdie lawwe sêding gehoor van die prokureur (met apologie)
wat sê: "Jy is onskuldig tot jou geld op is".
G'n wonder dat ons so sukkel met sondebesef nie. Ons leef in 'n wêreld van
"anything goes" en ons verdraai maklik die Bybel om by ons te pas, en in die
proses maak ons God se genade goedkoop. Jy sien, ons beroep ons op Jesus se
kruisdood vir sonde vergifnis, maar dis nie so eenvoudig soos dit nie.
Joh 1:8-9 "As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en
is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou
en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle
ongeregtigheid."
As ons ons sondes bely... Ja, en laat staan. Hierdie is die moeilikste deel
van alles en ek glo ons is almal daagliks in hierdie oorlog vasgevang.
Inderdaad 'n baie baie moeilike voorwaarde.
Maar.. dit begin op grondvlak by die klein dag-tot-dag dingetjies. ~ Willem
Botha, 14/12/2015 |
|
“Die Here sal by jou wees.” (2 Tim 4:21) Dis mos mooi
woorde om iemand mee te seën en dis só vertroostend wanneer iemand dit vir
jóú sê. Dit beteken nie net dat die Here saam met jou sal wees of net langs
jou sal wees nie, dit beteken as’t ware dat Hy in jou gees sal wees, dat Hy
jou diepste binnekant met jou sal deel. 1 Kor. 2:16 beaam dit ook: “Maar
ons, ons het die Gees van Christus.” Wanneer die Here só by jou is, sal jy
verstaan wat sy wil is, sal jou gewete skerp wees; dan sal jy nie bekommerd
of bang wees nie; dan sal Sy liefde jou vol maak sodat jy daarvan sal kan
uitdeel; dan sal jy Sy stem hoor wat vir jou rigting aanwys; dan sal strome
lewende water uit jou binneste vloei wat jou geestelike dors sal les. Mag
die Here by jou wees! ~ Wilna Botha, 13/12/2015 |
|
Die klippe sal dit uitoep
Jy loop in die veld en daar is net mooi niks en niemand nie,
die windjie ritsel sag maar daar is geen teken van lewe nie. Jy wonder by
jouself, hoe weet ek dat daar regtig 'n God is? Dalk vra jy: Here, openbaar
Uself asb aan my. Gee vir my iets in hierdie stilte om my, sodat ek verseker
kan wees dat U wel bestaan. Praat met my en oortuig my dat U werklik die
Skepper en Koning is waaraan ek so naarstigtelik vashou, gee vir my U
hoorbare stem sodat ek
kan glo soos wat Hebr 11:1 van praat, om te glo sonder om te sien.
Dan sien jy 'n ou horlosie daar lê en dink: ja okay, nou weet ek hier was 'n
mens, maar waar is tekens van God?
Maar nou ja vriend, niemand is so blind soos diegene wat nie wil sien nie.
Langs die horlosie lê 'n klip en jy besef: Daar is duisende mense en
fabrieke wat 'n horlosie kan maak, maar nie een enkele een wat 'n klip kan
maak nie. 'n Klip is onmoontlik om deur die mens gemaak te word, vernaam as
jy in gedagte hou dat horlosies net met God se grondstowwe gemaak word,
sonder dit kan geen mensgemaakte ding bestaan nie. Ja inderdaad elke ding in
die veld is so uniek dat geen mens dit kan maak nie, nie water nie, of 'n
boom nie, of 'n wolk of 'n klip nie. ALLES in die natuur skree dit uit dat
daar 'n God is.
Luk19:38 Maar Hy antwoord: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die
klippe uitroep.” ~Willem Botha, 10/12/2015 |
|
“Toe ek die eerste keer voor die regter gebring is, was
daar niemand by my nie. Almal het my verlaat.” (2 Tim 4:16) Ai, dis darem
maar nie lekker om in so ’n situasie soos Paulus te beland nie. Jy het
ondersteuning nodig en dit voel of almal jou in die steek gelaat het. Dis
dikwels juis in jou moeilikste tye wanneer mense jou vermy of skaam is vir
jou of bang is om met jou geassosieer te word. Wanneer jy mense om jou die
nodigste het, kry jy dikwels juis daai koue skouer. Hoe reageer jy dan? Word
jy opstandig en gee verwyte, gee jy jou oor aan selfbejammering en depressie,
kry jy wraakgedagtes of sien jy, soos Paulus, dat die Here by jou is, jou
bystaan en jou met Sy krag vul? Kan jy in sulke tye erken en glo jy dat dít
genoeg is? “Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee ...” (2 Tim
4:17) Mense verander, maar Jesus nooit - Hy is jou Vriend en Raadsman in
enige omstandighede; Hy is jou Helper en Trooster as die pad alleen is; Hy
is jou krag en sterkte wanneer jy swak is; Hy is jou Rots en veilige
skuilplek wanneer storms om jou losbars. “Dit is beter om die Here te vra om
jou te beskerm, as om te hoop mense doen dit, al is hulle hoe belangrik.”
(Ps. 118:8, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 09/12/2015 |
|
Padtekens
Ek was nog nooit in die buiteland nie (kan jy glo?), maar
ouens wat al daar 'n motor bestuur het sê dis 'n nagmerrie as jy op daardie
vreemde paaie ry en jy ken nie hulle verkeersreëls en padtekens nie.
Mmm... sommige mense ry in elk geval soos nagmerries al ken
hulle die padreëls. Wat mens laat besef dat padreëls nodig is om te verseker
dat alles nie in chaos verval nie, want as almal net doen wat hulle wil is
dit nag. Ek ry vanaand net so kort afstand huis toe en sien skielik baie
meer padtekens as wat daar vanmiddag was, want ek kyk toe nou uit vir hulle
met die oog op hierdie boodskappie.
So gee die Here vir ons 'n dik boek vol padtekens sodat ons
veilig deur die lewe kan gaan en dan 'n wonderlike bestemming bereik. Dis
natuurlik die Bybel, en as jy mooi kyk sien jy dat die Bybel se voorskrifte
net soos padtekens is. Daar is waarskuwings, opdragte, voorstelle en baie
ander reëls. Die Wet is 'n wonderlike voorbeeld van "padreëls" wat die Here
vir ons gee. Ons sien die Wet dikwels as 'n bedreiging, maar nee, dit help
jou om veilig by jou bestemming uit te kom.
Die voordeel daarin om hierdie "padboek" goed te leer ken, lê
daarin dat jy lank voor 'n probleem opduik, die riglyne van hierdie Boek kan
implementeer en moeilikheid vermy. Volg dit maar net en jy sal deur hierdie
moeilike wêreld anderkant uitkom. Kyk uit vir die waarskuwings, opdragte,
voorstelle en reëls, en jy sal okay wees.
Jes 30:21 Wanneer julle op die verkeerde pad loop, dan sal
julle hoor dat Hy agter julle praat. Hy sal sê: “Nee, hier is die regte pad,
julle moet hier loop.” ~ Willem Botha, 08/12/2015 |
|
“En jy,
kindjie, ’n profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal
voor die Here uitgaan om sy pad gereed te maak, om kennis van verlossing aan
sy volk mee te deel: verlossing deur vergifnis van hulle sondes...” So
kondig die Kersverhaal in Luk. 1:76-77 vir ons die koms van God se Groot
Profeet aan. Uit die Ou Testament leer ons dat ’n profeet God se boodskapper
is, hy sê wat God sê en maak God se woorde bekend; ’n profeet troos en
bemoedig die volk met God se beloftes en bring vir hulle nuwe hoop; ’n
profeet wys vir die volk hulle sondes uit en roep hulle op tot bekering. As
God se Groot Profeet is Jesus al hierdie dinge en nog oneindig meer. Hy
verkondig nie net hoop nie, Hy ís die hoop vir die wêreld. Hy maak nie net
God se woorde bekend nie, Hy ís die Woord wat mens geword het. Hy wys nie
net vir die mense die pad aan nie, Hy ís die weg. Hy roep nie net die
mensdom op tot bekering nie, Hy maak vir hulle verlossing en vergifnis van
sonde moontlik deur Homself as offer te gee. Het jy Jesus aangeneem en gee
jy Hom plek in jou lewe as God se Groot profeet? ~ Wilna Botha, 07/12/2015 |
|
Dankie
Snoopy
Ek het hierdie kostelike prentjie van die internet af geleen
en dis sommer net vreeslik cute, maar daar is ook ongelooflik baie waarheid
in hierdie eenvoudige prentjie. Vir elke dag wat jy nie dood is nie lewe jy.
Of dalk nie?
Wel hierdie prentjie is 'n pragtige voorbeeld van: Is die
glas half vol of half leeg? Amper soos die lawwe grappie van die optimis en
die pessimis wat van 'n 100 verdieping gebou val. Toe hulle halfpad op pad
na onder is skreeu die pessimis
: Nog net 50 verdiepings dan is ons doooood! Waarna die optimis skreeu : Ek
het al 50 verdiepings geval en ek makeer niiiiiiks!
Maar lewe jy? Baie mense weet hoe om asem te haal, maar nie almal ken die
kuns om die lewe te "embrace" nie. Dis tog so jammer dat ons in 'n
samelewing bly wat al die "lewe" uit so baie mense uitgehaal het, want ons
word so oorweldig deur die negatiewe dinge van vandag. Maar is dit regtig
genoeg rede om al die "ander dae" waarvan Snoopy hier praat mis te kyk?
Hierdie teks in Prediker hou geweldige waarheid in.
PREDIKER 9:4 "Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. 'n Hond wat lewe,
is beter as 'n leeu wat dood is." ~ Willem Botha, 06/12/2015 |
|
Het jy
al daaraan gedink dat God se genade op sy grootste is die oomblik wanneer
iemand besef dat hy verlore is. Dis God se genade wat jou op daardie punt
bring waar jy besef dat jou sonde soos ’n berg tussen jou en Hom staan en
dat jy niks kan doen om jouself te red nie. Dis genade wanneer jy op die
ashoop van wêreld beland en besef jy het die Here nodig. Dis God se genade
wanneer jy, soos die verlore seun, peule in die varkhok eet en besef dis tyd
om terug te draai na jou Vader. Gryp vandag God se genade aan sodat jy gered
kan word, sodat jy vry kan wees, sodat jy die lewe in oorvloed kan ontvang.
Roep uit: “Wees my sondaar genadig,” en wéét dat jy genade op genade van die
Here af sal ontvang.
“Die tollenaar het daar eenkant gaan staan. Hy het so skaam gekry oor al sy
sondes dat hy nie eens wou opkyk nie. Hy het sy kop laat sak, met sy hand op
sy bors geslaan en gesê: ‘God, ek is ’n sondaar. Help my! Wees my genadig!’”
(Luk. 18:13, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 03/12/2015 |
|
'n Goeie daad
Mark 14 :3-6
"Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse. Terwyl Hy aan
tafel was, het daar 'n vrou gekom met 'n albaste fles egte, baie duur
nardusolie. Sy het die fles oopgebreek en die inhoud daarvan op sy kop
uitgegiet. Party van die mense het onder mekaar hulle verontwaardiging
uitgespreek: “Waarvoor is hierdie vermorsing van reukolie? Hierdie reukolie
kon vir meer as drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir armes
gegee gewees het.”
En hulle het teen haar uitgevaar. “Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom
maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen."
Hierdie
vrou doen iets vreemd wat totaal onsinnig lyk en wat haar die argwaan
van die mense om haar op die hals haal. Wat 'n vermorsing! Nou moet
Jesus dit uit Sy hare gaan uitwas en dan is als weg. Niemand kon hierdie
sinnelose daad verstaan nie en ek is seker sy het ook nie self verstaan
nie.
Vers 8: "Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf
as voorbereiding vir my begrafnis"
Wel, ek en jy hoef nie meer vir Jesus vir Sy
begrafnis voor te berei nie. Ons kan egter wel vra: wat doen ons vir
Jesus wat regtig waarde het? Die wêreld sê: Gee geld. Maar ek dink nie
dis al wat die aard van ons "goeie dade" hoef in te hou nie. Hierdie
vrou het baie duur olie gebruik maar dit het nie oor die olie gegaan nie,
dit was die handeling en gesindheid wat getel het.
Wat het jy wat "duur" is om te gee? Tyd? Baie duur! Jou kundigheid,
talente en vermoëns, ja selfs geld, dalk jou gebede, fisiese hulp vir
iemand, omgee daar waar niemand meer omgee nie. Dalk sommer 'n verskil
maak in jou binnekring waar daar nood is.
As ons sulke dinge uit ons hart doen, doen ons dit werklik vir Jesus.
Ons beste vir die Allerhoogste! ~Willem Botha, 02/12/2015
|
|
Dis Desember! Dit beteken die winkels raak al hoe
besiger, die advertensieblaaie word al hoe dikker, Jingle Bells dreun oral,
afgewissel met Joy to the World en Stille Nag. Selfs die grassnyers en
kunsmis is “Christmas specials”, versier met tinsel en ander blink goed.
Alles word met ’n Krismis-sousie opgedis en dit lyk vir my of die geboorte
van Jesus wyd misbruik word om produkte te verkoop. Ai! Sommer hier op 1
Desember besluit ek om liewer vir stilte en vrede en eenvoud te kies. Ek
besluit om te fokus op die Kind wat die Koning is, Seun van God, wat verhewe
bo alles is, wat die eerste in die heelal is, die Begin en die Einde, die
Verlosser van die wêreld, my Here en my God. Slaan jou kersboom op en pak
die geskenke uit, beplan jou Kersete, doen jou inkopies, maar moenie vergeet
om te buig voor die Kindjie en aan God die eer te gee nie. “Eer aan God in
die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae
het!” (Luk. 2:14) ~ Wilna Botha, 01/12/2015 |
|
Iets nuuts
HANDELINGE 17:21
"Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar
gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of
te hoor nie."
Hierdie is eintlik nogal 'n kostelike teks. Paulus is in
Atene en hy verkondig die evangelie en hoewel sommige mense tot bekering kom,
is ander maar taai om sy boodskap te hoor. Hulle beskuldig hom daarvan dat
hy vreemde goed verkondig hoewel hy net oor die evangelie van Jesus Christus
praat. Dan lees ons hierdie teks : "Die Ateners in die algemeen en die
uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om
iets nuuts te sê of te hoor nie."
Jitte dit klink so bekend, die evangelie van Jesus Christus
raak vir sommige mense afgesaag en hulle wil iets nuuts hoor, iets wat die
vervelige predikant nog nie oor praat nie. So stukkie nuwe dogma, of so
ietsie van voorspoed waar ons iets hieruit kry, so 'n invalshoek wat jou
opnuut laat lekker voel.
Kyk bietjie hoe mense met 'n nuwe ding vorendag kom, dit uit
die Bybel regverdig en dan word daar aan hulle so bietjie aansien verleen.
Waar een snaar getokkel word dat die biesies bewe. En dikwels maak mense
vinnig 'n gevolg bymekaar.
Dis nou maar eenmaal so, nuwe nuus of kennis is lekkerder as
die dinge waarvan ons die hele dag hoor en wat nie meer nuwe vars elemente
bevat nie.
Ja, ons ontdek inderdaad daagliks nuwe waarhede in die Bybel,
maar die eenvoudige boodskap van die jare toet sal altyd vas bly staan. Dis
ons as mense wat hom so 'n nuwe suikerlagie wil gee.
Die evangelie van Jesus Christus is al wat ons nodig het.
~Willem Botha, 30/11/2015 |
|
“Kind words are powerful. They can heal, elevate,
encourage, advise, inform, instruct and soothe.” Dis ’n aanhaling wat ek ’n
rukkie gelede êrens raakgelees het. Wanneer jy die dag af voel, geknel word
deur ’n swaar las of bekommernis, siek is, raadop is, of as jy dalk die een
of ander fout begaan het, is dit darem maar baie gerusstellend as iemand
begrip toon en iets mooi sê wat jou opbeur, troos of aanmoedig. Dit kan
sommer jou hele uitkyk verander en jou dag positief draai en jou weer moed
gee. Onthou dit ’n bietjie voordat jy weer wegtrek met ’n stortvloed van
woorde teenoor jou kollegas of werknemers, jou man of kinders, iemand wat
jou te nagekom het of die winkel-kassier of petroljoggie wat dalk bietjie te
stadig na jou sin is. Wanneer ek deur Spreuke lees, sien ek dat hierdie
aanhaling nie so uniek is nie ... lees bietjie hier:
“’n Sagte antwoord laat woede bedaar ...” (Spr. 15:1)
“Kalmerende woorde bring lewe ...” (Spr. 15:4)
“Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens.” (Spr.
16:24)
“’n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde so dat hy ander kan leer.”
(Spr. 16:23)
“Die woorde van die regverdige bring lewe en geluk ... (Spr. 10:11)
“Bekommernis druk ’n mens neer; ’n vriendelike woord vrolik hom op.” (Spr.
12:25)
“Words kill, words give life;
they're either poison or fruit - you choose. (Spr. 18:21) ~Wilna Botha,
29/11/2015 |
|
Wat nog?
Jes 5:2-4
"Hy het die grond omgespit en die klippe verwyder, dit beplant met veredelde
wingerdstokke. Hy het 'n wagtoring daarin gebou en 'n parskuip uitgekap. Hy
het verwag dat dit goeie druiwe sou dra, maar toe bring dit druiwe voort wat
suur bly. En nou, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, beslis tog
tussen My en my wingerd. Wat kan Ek nog vir my wingerd doen wat Ek nie reeds
gedoen het nie? Wat is dan die rede dat dit suur druiwe voortgebring het
terwyl Ek verwag het dat dit goeie druiwe sou dra?"
Sjoe klink dit nie bekend nie? "Wat kan Ek nog vir my wingerd
doen?" Wat moet die Here NOG doen voor ons tevrede gaan wees? Ek is
verskriklik skuldig aan hierdie onvergenoegdheid en word al hoe moeiliker
tevrede gestel. Dis verstommend, ek het totaal die vermoë om my seëninge
raak te sien, verloor. Op 'n tyd was ek tevrede met " 'n dag se brood" in my
besigheid, maar dis mos nou beter om 'n maand vooruit werk te hê. Ons lekker
huis waar ons al baie jare woon voel deesdae soms bietjie knap en die motor
wat so paar jaar gelede " 'n geskenk uit God se hand" was, is nou effe oud,
hoewel hy niks makeer nie.
Weet jy, die Here het deur my lewe vir my ongekende genade gegee, maar ek
vergeet dag vir dag gister se seëninge. Dit sou lekkerder wees as dit net
bietjie meer was.
Wat kan Ek nog vir my wingerd doen? Wel, dit lyk my ek sal eers wakker word
as ek alles verloor!
Jes 5:5-6 "Ek maak julle nou bekend wat Ek met my wingerd
gaan doen: Ek gaan die doringheining verwyder en verbrand, sy muur afbreek,
sodat die wingerd vertrap kan word. Ek gaan hom tot niet maak. Hy sal nie
meer gesnoei of geskoffel word nie, maar ingeneem word deur doringbosse en
onkruid. Ek sal die wolke verbied om daarop te reën."
Wat 'n verskriklike waarskuwing! Ek gaan hom tot niet maak...
Here help my om daagliks te besef wat ek het. ~ Willem Botha, 26/11/2015 |
|
“Die hele Skrif is deur
God geïnspireer.” (2 Tim 3:16) Ek sien in die Strong’s Hebrew and Greek –
woordeboek dat “geïnspireer” beteken “divinely breathed”. Dis vir my
insiggewend om te dink God het dus as’t ware sy asem in die woorde van die
Bybel geblaas. Soos wat Hy sy asem in Adam ingeblaas het sodat hy kon lewe,
só het Hy die woorde van die Bybel lewendig laat word. Die Woord kom van God
af en die waarheid en die gesag daarvan staan dus vas. Ek het hierdie in ’n
Bybelkommentaar gelees: “That the
scripture was given by inspiration of God appears from the majesty of its
style, - from the truth, purity, and sublimity, of the doctrines contained
in it, - from the harmony of its several parts, - from its power and
efficacy on the minds of multitudes that converse with it.”
Die Bybel is nie net woorde op papier nie,
dit dra ’n boodskap van hoop en lewe, dit vertel van goeie nuus. Dit is nie
net woorde op papier nie, dit is ’n praktiese riglyn vir die lewe. Moenie
dit net lees nie, laat toe dat God jou lewe daardeur verander. Moenie dit
net lees nie, lééf dit prakties in jou daaglikse lewe. “Wat God sê, is nie
maar net dooie woorde nie ...” (Heb 4:12, Die Boodskap) ~ Wilna Botha,
25/11/2015 |
|
Elke knie sal buig...
ROMEINE 14:11 “So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig,
en elke tong sal bely dat Ek God is.”
Hierdie is 'n vreeslike kragtige teks, en ek het altyd verstaan dat alle
Christene saam die knie voor die Here sal buig. Ek het so 'n prentjie gekry
van mense wat saam in die kerk of by 'n byeenkoms die Here aanbid en dat die
Here met 'n sagtheid hierdie lofprysing aanvaar.
Totdat ek eendag besef het dat daar 'n baie groter en amper meerskrikwekkende
waarheid agter hierdie teks lê. Daar staan ELKE knie sal buig, elke soos in
elke mens op aarde, hetsy of jy 'n gelowige is of nie. Vir ons as Sy kinders
is dit 'n wonderlike oomblik as jy die knie voor Hom buig en bely dat Hy God
is, maar vir die ongelowige wat sterwe sonder die Here is daardie buig van
die knie 'n skrikwekkende oomblik.
Ons lees in Luk 16 die verhaal van Lasarus en die ryk man, waar die ryk man
in die hel beland en dan smeek vir 'n druppel water omdat hy verskriklik ly,
en dan vir vader Abraham smeek om sy broers te gaan waarsku sodat hulle nie
ook daar beland nie.
Luk 16:27-30
Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan, vader, stuur hom tog na my pa se huis toe.Ek
het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie
ook in hierdie plek van pyniging beland nie.’ Maar Abraham sê: ‘Hulle
het die woorde van Moses en die profete. Laat hulle daarna luister.’ Hy
antwoord egter: ‘Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dood na
hulle toe gaan, sal hulle hulle bekeer.
Sjoe, dis nogal erg om te dink dat daar
nie een ongelowige in die hel is nie! Hulle buig die knie met pyniging
en lyding, maar ons buig die knie met genot en dankbaarheid. OF jy doen
dit in hierdie lewe as jy jou lewe aan die Here oorgee, OF jy doen dit
wanneer dit te laat is, maar buig sal jou knie buig. ~ Willem Botha,
24/11/2015
|
|
My dogter en ’n klompie vriendinne het gister aan die
Warrior Race deelgeneem. Dit bestaan uit 5 km se draf, afgewissel met ’n
stuk of 15 verskillende hindernisse – bo-oor, onderdeur, klouter, spring,
kruip, glibberige modderwalle, waterpoele ens. Dit eindig met ’n sprong van
’n hoë stellasie af, genoem “Tower of Rage” – nogal skrikwekkend vir die ma
wat van onderaf moet kyk. Op die baniere is die slagspreuk “be brave”. En jy
hét moed, dapperheid en deursettingsvermoë nodig om al dié hindernisse te
trotseer! Ek kon nie help om te dink hoedat die lewe ook maar so ’n wedloop
is en ons daagliks moet beur en sukkel oor al die hindernisse nie. Mag ons
almal deurdruk en vas bly staan te midde van die hindernisse wat ons wil
terughou. Mag ons almal dapper vorentoe beur en onthou dat ons krag en
vaardigheid van die Here af kom. Mag ons almal enduit volhard en ons
oorwinnaarskroon van Jesus ontvang. “Julle geloofsvertroue moet julle dus
nie prysgee nie: dit hou ’n groot beloning in. Volharding is wat julle nodig
het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het.” (Heb.
10:35) Wees sterk, wees dapper, druk deur! ~ Wilna Botha, 23/11/2015 |
|
Kom tot rus
Gen 2:2-3
"Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk
en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. Hy het die sewende dag as
gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die
skeppingswerk wat Hy gedoen het."
Rus, kom tog net tot rus. Rus 'n bietjie, skakel bietjie af
want jy brand jouself uit, ontspan vir 'n slag, gee jou liggaam 'n blaaskans,
skep 'n bietjie asem, raak net rustig. Is jy ook moeg na 'n jaar se geswoeg,
kan jy ook nie wag vir Desember nie? Ja jong, dis tyd om tot stilstand te
kom. Ek is seker jy kan hiermee assosieer en voel nou sommer 'n bietjie af.
Wel, jy is gemaak om te werk, maar die Here het vir ons
ritmes gegee sodat ons die geleentheid kan gebruik om te rus. Na 'n dag se
werk rus ons vir 'n nag lank. Na 'n week se werk rus ons vir die naweek, na
'n paar maande neem ons dalk bietjie verlof en doen iets lekker en na 'n
jaar se werk breek Desember aan en sommiges is gelukkig genoeg om goed uit
te rus.
Maar dis ongelukkig nie altyd die hele storie gaan. Die
realiteit lyk 'n effe anders. Wie dink jy is die grootste rus - dief? Mmm...
kan seker 'n paar goed wees, maar jou werk wen gewoonlik loshande. Word jy
vir oortyd betaal? Waarskynlik nie. En daai bekommernis oor die werk in die
nag, daardie dinktyd wat jou nagrus bederf? Nee, jy doen dit ook gratis. En
wat van Saterdae wat jy langs jou kind se sportveld moet deurbring en rustig
moet wees saam met dit gesin? Nee, Mnr Werk kom eerste. Word mense wat 'n
hartaanval kry agv werkspanning vergoed daarvoor? Nee, inderdaad nie, in
plaas van vergoed word, word jy vervang. Daardie rus wat jy die hele tyd
verruil vir die werk; waarborg dit dat jy nie afgelê word nie? Nee wat.
JY MOET RUS! Jou liggaam skreeu daarvoor en jou gesin skreeu
daarvoor. Die Here gun dit vir jou, jy moet dit vir jouself gun. Dis tyd om
dalk net jouself so bietjie eerste te stel, ter wille van jou gesin en ter
wille van jouself. Weet jy wat gebeur as jy die nie doen nie? Jou kinders
leer daardie selfde patrone aan en jy sit naderhand jou kinders onder
dieselfde druk as wat jou werkgewer op jou sit. Nee, die lewe is te kort.
Raak bietjie rustig. ~ Willem Botha, 22/11/2015 |
|
“Watter vervolging moes ek nie alles verduur nie! ... Almal
wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.” (2
Tim 3:11-12) Ek het al dikwels oor hierdie teks gewonder, omdat ons nie
swaarkry ter wille van Christus en nie ly as gevolg van ons geloof, omdat
ons nie vervolging beleef soos wat Paulus het en soos wat baie ander
Christene vandag beleef nie. Ons word nie verwerp, gemartel en doodgemaak
vir ons geloof nie. Ek het vandag by ons Bybelstudiegroep nuwe insig gekry
oor wat hierdie lyding en swaarkry kan beteken. Wanneer ons kies vir Jesus
en werklik toegewy en gehoorsaam aan Hom wil lewe, moet ons dikwels
ongewilde keuses maak wat ongelowiges glad nie verstaan nie, moet ons baie
keer ’n moeilike en eensame pad stap. Ons moet dinge opoffer en ons moet
gereeld onsself “benadeel” omdat ons die korrekte lewenswyse wil volg. Ons
sal bv. nie wit leuentjies vertel om onsself te red nie, ons sal nie die
spoedgrens oorskry as ons laat is vir ’n afspraak of ander verkeersreëls
breek of omkoopgeld aanbied nie, ons sal nie oneerlik besigheid doen nie,
ons sal vergewe en vergeet ten koste van onsself, ons sal die minste wees en
ander bo onsself stel, ons sal van ons goed en ons geld weggee om ander te
help. Dit is alles dinge wat die lewe as’t ware vir ons “moeilik” maak, wat
maak dat ons verwerp en uitgelag word, dít is ons lyding en swaarkry omdat
ons toegewy aan die Here wil lewe. “Dra jou deel van die ontberings soos ’n
goeie soldaat van Christus Jesus.” (2 Tim 2:3) ~ Wilna Botha, 19/11/2015 |
|
Mnr Suid-Afrika
Elke jaar word die Mnr Suid-Afrika kompetisie aangebied. Daar
word flink ingeskryf vir hierdie kompetisie en dis baie eksklusief. Dink gou
gou watse beeld by jou opkom vir hierdie manne. Hoe lyk die ideale kandidaat?
Dink gou of die fris geboude boerseun met sy plaas hoed wat met sy vuil
vellies en vuil 4x4 bakkie sou inpas? Nee wat, daar is nie 'n manier nie.
Mnr kandidaat is fyn besnaar, baie aantreklik en hy pas presies in die
boksie wat hom uiters gewild
sal maak by die mense. Benewens dit moet sy optrede, maniere en karakter net
dit wees wat die aanhangers wil hê.
Maar besef jy hoe mense dieselfde rol vir God kies? Ons wil iemand hê wat (soos
Mnr Suid-Afrika) in ons diens is, wat sal optree soos ons dit wil hê en dat
Hy die gewildheids kompetisie moet wen sodat ons gemaklik met Hom sal wees.
Ons wil nie hoor dat Hy soms ongewilde voorskrifte het nie en dat Hy soms
nie van ons geite hou nie. Maar God is soewerein, Hy is sag en liefdevol,
maar ook streng oor Sy voorskrifte en daar is dinge wat totaal onaanvaarbaar
vir Hom is, al is dit nie gewild by ons as mense nie.
Jes 55 : 8 - 9 "My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie
soos Myne nie; soos die hemel hoër is as die aarde, so is My optrede verhewe
bo julle optrede en My gedagtes bo julle gedagtes."
As ek so hieroor dink, is dit dat dít die enigste beeld is van wat ek van
God wil hê. As God die skoene van 'n "People pleaser" sou vol staan, sou Hy
nie meer soewerein wees nie. ~ Willem Botha, 18/11/2015 |
|
Iemand sê nou die dag: As die hiernamaals vir ewig sal
duur, duur hierdie lewe by wyse van spreke net vir ’n oomblik. Die Here gee
vir ons ’n besef van tyd - “He has put a sense of eternity in people's
minds.” (Pred. 3:11). Tog sukkel ons om onsself in te dink hoe lank “vir
ewig” regtig gaan wees, of hoe kort ons lewe regtig is. Die woord sê ons
moenie op Christus vertrou net vir hierdie lewe nie, ons hoop moet op Hóm
wees om vir ons die ewige lewe te gee, ’n lewe na die dood. (kyk 1 Kor.
15:19) Ons het hierdie ewigheidsperspektief nodig om ons te help om te fokus
op dinge wat vir altyd waarde gaan hê en om nie so oordrewe bekommerd te
wees oor die hier en nou dinge nie, om nie onsself so onder druk te plaas om
suksesvol te wees en besittings bymekaar te maak nie. Hierdie dinge gaan
verby en is tydelik – dit duur as’t ware net ’n oomblik gemeet teenoor die
ewigheid. Waar jy die ewigheid gaan deurbring, word egter in hierdie oomblik
bepaal. Neem Jesus aan as Verlosser - Hy is die weg tot die ewige lewe, Hy
het jou toegangskaartjie met sy bloed verseker. Plaas jou vertroue en
geloof in Hom alleen. Volg Hom. Gehoorsaam Hom. Volhard op die smal weg wat
na die ewigheid lei. “Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van
redding.” (2 Kor. 6:2) ~Wilna Botha, 17/11/2015 |
|
Aan Jesus se voete
In Matteus 5 lees ons van die bergpredikasie.
Matt 5:1 - 2 "Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen
die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom
en Hy het hulle geleer..."
As ek dit lees kry ek die prentjie van 'n rustige toneel waar
hierdie skare mense teen die hang van die berg gaan sit, die kinders speel
daar rond, mense het dalk iets by hulle om aan te peusel en hulle sit net en
luister. Dit klink of Jesus in 'n rustige bui is en sonder hoogdrawende
woorde die mense begin leer. Rustig, sonder om driftig te raak vertel Hy vir
hulle dinge, Hy leer hulle dat die wet eintlik meer vra as wat mens op
sigwaarde raak lees. Hy leer hulle hoe om te bid, Hy sê vir hulle wat goed
en wat skadelik is vir hulle. Ek dink dit was die beste "preek" ooit en het
vir hulle baie stof tot nadenke gegee.
Dit moes 'n wonderlike ervaring wees om net so rustig by Sy
voete te sit en aan Sy lippe te hang. Dit was toe, maar wat van nou?
Wel, vandag het ek en jy die voorreg om presies dieselfde te
doen. Ons kan enige tyd, op enige plek stil word by Sy voete, sommer net
rustig in Sy teenwoordigheid deurbring, met Hom praat soos 'n vriend, jou
hart voor Hom uitstort en deur Sy Woord Sy gedagtes vir jou te hoor. Ons sê
so maklik ons gebede slaan teen die plafon vas, maar ons moet dalk leer om
nie net altyd ons behoefte - lysie voor Hom uit te pak nie, maar sommer net
te gesels. En nog meer, om minder te praat en meer te luister. ~Willem
Botha, 16/11/2015 |
|
Ek
verstaan nie eintlik hoekom dit gebeur nie, maar my rekenaar raak soms so
stadig, reageer so traag op instruksies en dit lyk of hy sommer net ander
dinge staan en dink as wat ek wil hê hy moet doen. Die beste medisyne is dan
maar om te “shut down” en te “restart” om alles weer flink te kry. Op die
oomblik lyk dit vir my of baie ouens se hardeskywe vol is en dinge bietjie
hakerig gaan. Ek dink dis seker maar soos die jaar se stres en druk nou sy
tol begin eis, of soos almal net moeg is vir die sieldodende daaglikse
roetine en onmoontlike eise wat aan hulle gestel word. “Shut down” en
“restart” is vir ons net so nodig soos vir die rekenaar – moenie eers wag
tot Desember vakansie of Nuwejaarsdag nie, maak ’n sinvolle tyd in elke dag
om tot bedaring te kom en rustig te wees, om te herlaai en te fokus op wat
werklik saak maak.
"Step out of the traffic!
Take a long, loving look at Me, your High God, above politics, above
everything." (Ps. 46:10, The Message) ~ Wilna Botha, 15/11/2015 |
|
Vasbyt
Steve Farrar skryf in sy boek "Finishing Strong" van vier
pastore in Amerika wat baie jare gelede as jong dinamiese predikers, die
kerke aan die brand gepreek het. Die een wat die swakste spreker was het
maar deurgedruk, hoewel hy nie naastenby soveel in aanvraag was as die res
nie. Van die vier is hy egter die enigste een wat in sy oudag kon vasbyt en
deurdruk. Sy naam is vandag wêreldwyd bekend, dis Billy Graham. Die ander
drie het met tyd verval in egskeidings, drankmisbruik
en armoede.
Dink aan 'n seuntjie van so 5 jaar. Hy is sorgeloos, die wêreld is sy
speelplek en alles in die lewe is pret. Dan sien ons hoe hy 'n
toppresteerder word, goed doen op universiteit en 'n goeie posisie losslaan.
Maar dan sien ons hoe so baie van hulle 30 jaar later totaal uitmekaarval.
Huwelik lê aan skerwe, werk verloor, en sy waardigheid is daarmee heen. Hy
kon nie goed klaarmaak nie. Die jare na 30 raak geweldig moeilik, en om op
koers te bly is regtig 'n reuse uitdaging. Vernaam as jou geld en gesondheid
oppak. En dan volg depressie en soms die ergste wat kan gebeur, nl selfdood.
Rom 5:3-5
"Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet:
swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en
egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy
liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee
het."
Die geheim is om net dag vir dag een tree op 'n slag te vat, soms deur die
woestyn en soms op gladde waters, maar beur maar nogtans vorentoe. Finish
strong, al gaan dit swaar en stadig. Die beloning daarvoor is baie groot. ~
Willem Botha, 13/11/2015 |
|
“And a man shall be ... like the shadow of a
great rock in a weary land.” (Jes. 32:2) Terwyl dit deesdae so bloedig warm
en dor is, kan ons dalk bietjie beter verstaan wat dit beteken dat Jesus vir
ons hierdie “shadow of a great rock in a weary land” is. Hy is die enigste
skuilplek wanneer dinge om ons té warm, té dor, té swaar is. Wanneer dit
voel of alles om ons buite beheer is, of alles vernietig word in die hitte
van die stryd, of as aanslae net té vel is, onthou dan dat daar skuiling,
rus en verkwikking in Sy teenwoordigheid is. Moet dit nie net opsoek as
dinge te warm raak nie - skuil altyd daar, want dis waar jy beskerming,
versorging en troos sal ervaar. Kom tot rus is sy skaduwee en word verfris
met nuwe lewe, nuwe hoop en nuwe vrede. ~ Wilna Botha, 11/11/2015 |
|
Hoekom Here?
Jy het seker ook honderde kere die vraag : Hoekôôôm? gehoor
toe jou kinders klein was. Hoekom dit, hoekom dat, tot vervelens toe, totdat
jy naderhand net volhard met : Sommer! Want ek sê so! Ja, die mens eis van
kleins af antwoorde en dis goed so want dit help ons om dinge te verstaan
wat moeilik is om vir jouself vas te maak.
Net so vra ons dikwels vir die Here ook: hoekom? Vernaam as
dit swaar gaan en dinge net nie sin maak nie. Dalk is jy tans ook in "hoekom
- tyd", terwyl die Here tjoepstil bly en dit lyk of Hy jou ignoreer of
vergeet het. Dis sleg, want dit voel of jy waardeloos en eensaam is en
alleen deur jou swaarkry moet worstel.
Ons hoekoms kom in vreemde tye. Ons vra hoekom as 'n kind onnatuurlik sterf,
maar nie hoekom as 'n bejaarde sterf nie. Ons vra hoekom as ons 'n
ongeneeslike siekte kry, maar nie hoekom as ons vrot van die griep in die
bed lê nie. Hoekom as ek my werk ontydig verloor, maar nie hoekom as ons dag
van pensioen aanbreek nie. Dit lyk vir my "hoekom" breek aan as dinge buite
my beheer is, of ek voel ek gaan dit nie kan hanteer nie, of as ek voel dis
die einde van my pad. Hoekom gebeur dit met my? Wel, hoekom nie? Hoekom
eerder met iemand anders? Dis moeilik, maar soms bly die Here se antwoorde
weg.
Weet egter net één ding : die Here vergeet ons nie, Hy is daar by jou, Hy
gee krag vir die volgende treë, Hy vou jou toe in Sy arms en Hy huil selfs
saam met jou, soos toe Jesus gehuil het toe Lasarus sterf.
"Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou
..." (Jes 41:10) ~Willem Botha, 10/11/2015 |
|
“Moenie ’n enkele oomblik agteroor sit nie. Daar is nie
meer tyd om te mors nie. Sorg dat julle geloof in Christus elke dag sterker
word.” (2 Pet. 1:5, Die Boodskap) Sjoe, dit klink nogal dringend nè? Ek wíl
graag hê dat my geloof sterker moet word en dat ek groei-spronge moet maak
in my Geestelike lewe. Maar hoe? As ek verder lees in 2 Pet. 1 sien ek ’n
paar eenvoudige stappe – nie ingewikkelde goed waarvoor ek ’n
teologie-kursus nodig het nie, nie hoendervleis wonderwerke waarvoor ek
buitengewone gawes nodig het nie, net die volgende: lees die Bybel sodat ek
die Here beter kan leer ken; lees die Bybel en dóén wat dit sê; lê
selfbeheersing aan die dag om “nee” te sê vir sondige begeertes, gedagtes en
dade; hou aan glo ten spyte van omstandighede en ten spyte van wat almal om
my doen; maak die Here se Naam groot in alles wat ek doen; betoon
daadwerklike liefde aan medegelowiges en gee om vir almal met wie ek elke
dag te doen kry ... daar is nie meer tyd om te mors nie
~ Wilna Botha, 09/11/2015 |
|
Tog skyn de son...
Soms kom iemand op met 'n paar woorde wat jou vir altyd sal bybly. Ek loop
een van my kliënte raak en ons praat oor die sukkelende ekonomie en die
onsekerheid oor alles wat in die land gebeur en hy sê : Ons Belge het die
spreekwoord "En tog skyn de son". Is dit nie waar nie? Ten spyte van alles,
hoe moeilik ookal, skyn die son steeds oor ons almal.
Dis soveel te meer waar as ons weet wie ons bron van lig en krag is.
Jes 60 :20 "Jou
son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die
Here sal vir jou 'n ewige lig wees, jou dae van smart is verby."
Tog skyn de son... Die Here jou God sal jou pad verlig, die warmte wees in
koue tye, Hy sal sorg dat jy nie struikel oor die klippe op die pad nie, Sy
warm strale sal jou toevou en jou koester en beskerm. ~ Willem Botha,
08/11/2015 |
|
“Fight for what you can do; don’t convince yourself of what you cannot do.”
Hierdie is ’n lewensmotto wat ek baie gestremdes prakties sien uitleef. Op
die kamp wat ons verlede naweek gehad het, het iemand
juis opgemerk dat niemand van hulle “gestremd” is nie, hulle beleef net
almal verskillende uitdagings. Party moet harder werk om van punt A na B te
kom as ander, party moet harder konsentreer om iets te verstaan, of om
hulleself verstaanbaar te maak of om die vingers te laat vasvat en ander
moet dalk alternatiewe sintuie inspan om oor die weg te kom. So het ons
almal, al is ons nie gestremd nie, die een of ander uitdaging waarmee ons
lewe. Gebruik voluit dit wat jy tot jou beskikking het , doen die beste met
wat jy het en moenie wegkruip agter dit wat jy nié kan doen nie. Wees
tevrede met jouself en jou eie vermoëns en gebruik dit tot eer van God en
tot opbou van ander. Moenie jouself met ander vergelyk of te veel van
jouself dink of op ander neerkyk nie. “Ek wil dit met die beeld van ’n
liggaam verduidelik. ’n Liggaam bestaan uit baie ledemate. Ons is Christus
se liggaam hier op aarde. Net soos die verskillende liggaamsdele elkeen sy
eie funksie het, het ons as gelowiges ook verskillende funksies ... God het
dit aan ons elkeen uitgedeel soos Hy goedgedink het.” (Rom 12:4-6) ~ Wilna
Botha, 05/11/2015 |
|
Dis nou hoe dit is
'n Paar jaar gelede ontmoet ons 'n egpaar. Die man ly aan een of ander
siekte en die dokters sukkel om dit te diagnoseer, maar dit blyk toe op die
einde dat die man sterwend was aan kanker. Hy was 'n wedergebore Christen en
in sy laaste dae vrae 'n predikant vir hom hoe hy voel oor die saak. Sy
woorde was eenvoudig : "Dis nou hoe dit is." Hy het in daardie vrede gesterf.
Ek het 'n groot les daaruit geleer, en dit is dat kinders van
die Here deur dieselfde
lot as ander getref word, maar hulle gaan anders daarmee om. Herman en sy
familie en vriende het intens gebid vir genesing, maar daar het 'n dag gekom
dat hy gelate aanvaar het dat God se besluit vir hom aanvaarbaar is. God is
soewerein en hy gee nie altyd vir ons redes vir Sy besluite nie, maar Sy
besluite is steeds Sy besluite. Dis reg dat ons volhard in gebed vir die
sake wat ons voor Hom bring, maar iewers moet ons soos Paulus die Here se
laaste woord oor 'n saak aanvaar.
2 Korintiërs 12:9 "My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle
werking wanneer jy swak is ..."
Dis nou hoe dit is... ~Willem Botha, 04/11/2015 |
|
“Gelowiges wat nie voluit vir die Here leef nie, is
soos mense met ’n oogprobleem. Hulle kan nie goed sien nie. Nog erger, hulle
is heeltemal blind. Hulle het klaar vergeet hoe Christus al hulle sondes
vergewe het toe hulle tot bekering gekom het.” (2 Pet. 1:9., Die Boodskap)
Ek vra myself baie keer af of ek nou regtig voluit vir die Here lewe, of Hy
regtig die middelpunt van my lewe is, of ek regtig binne Sy wil lewe, of ek
regtig alles doen wat Hy van my verwag. Ek dink ek wil die antwoord té
ingewikkeld maak, die inspanning om voluit vir Hom te lewe té groot maak, ek
wil té hard probeer om Hom tevrede te stel en dit kan mens mens “blind” maak.
Jou eie pogings laat jou vergeet hoe groot en diep die Here se genade is wat
Hy alreeds aan jou bewys het. Jy vergeet dat Hy jou geroep het sodat Hy Sy
liefde en goedheid op jou kan uitgiet. Jy vergeet dat Hy sy hand na jou toe
uitgesteek het toe jy in die modder rondgeploeter het. Jy vergeet dat Sy
vergifnis verniet is en dat jy niks daarvan verdien nie. Word rustig en kom
kry vandag weer gratis oogsalf by Hom, maak weer jou hart (en jou oë) oop
en ontvang ’n gratis, nuwe, vars porsie van Sy genade en Sy vrede en leef
voluit vir Hom. ~Wilna Botha, 03/11/2015 |
|
God - expat
God is landuit, moeg vir al die strooi, ons net so gelos, en kon nie Sy
beloftes oor ons land nakom nie. Wie kan Hom kwalik neem? Hy het al soveel
keer gewaarsku dat ons moes terugdraai maar ons wou nie, ons hou aan in ons
afvalligheid en sondes en dryf dag vir dag verder weg. Nou het Hy groener
weivelde gaan soek. Waarheen Hy is weet ek nie!
Dis natuurlik glad nie waar nie, maar ek gaan BAIE BAIE
eerlik met jou wees, daar is dae wat ek presies so voel, en vanoggend word
ek gekonfronteer met hierdie vraag toe ek kyk na 'n insetsel op TV van Louie
Giglio , toe hy gevra word of daar nog hoop is vir Suid-Afrika. Ek kom toe
met 'n skok agter dat hy meer hoop het vir ons land as ek, want as
buitestaander sien hy dinge wat ek miskyk en hy noem dinge wat my verstom
laat staan. Jy sien, ek laat te veel toe dat die dag tot dag dinge in die
land my negatief stem en ek wil wil hoop verloor. Maar God sien die prentjie
totaal anders, en sy mening is verseker heeltemal anders as myne, want Hy is
in beheer, en al lyk of voel dit nie so, Hy kan die land herstel.
Ek dink egter steeds dat die sleutel hiertoe in ons eie hande lê:
2 Kron 7:14
"As My volk oor wie My naam uitgeroep is, berou toon en bid, en vra na My
wil en terugdraai van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en
hulle sonde vergewe, en hulle land herstel."
Dit vraag wat ek myself afvra, is wanneer gaan ek hiermee begin? ~ Willem
Botha, 02/11/2015 |
|
Ama krokko krokko
Ps 139:13 - 15
"U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U
loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U
verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek
aanmekaargeweef is diep in die moederskoot."
Ons het die afgelope naweek ons 15 de kamp (tot op die datum)
vir gestremdes gehou sedert 1Nov 2009. Ons bied hierdie kampe gratis aan met
die hulp van donateurs wat net onbaatsugtig dit moontlik maak. Amazing mense!
Dit was weereens 'n ervaring wat moeilik in woorde beskryf kan word, want
hierdie wonderlike mense bring vir jou met 'n slag terug aarde toe! Daar was
op die kampe al mense met elke denkbare vorm van gestremdheid, en ons sien
deursettingsvermoë wat absoluut ondenkbaar is! Ons leer so baie by hierdie
kosbare vriende. Hier is so paar gedagtes :
* Liggaamlik krom en skeef, maar hulle loop 'n reguit pad met die Here.
* Hulle kry ongelooflik swaar, maar hulle lag altyd
* Sommiges is redelik hulpeloos, maar hulle is nooit hooploos nie
* Ek het nog nooit een enkele een ontmoet wat die Here verwyt vir hulle
omstandighede nie
* Hulle is intens dankbaar vir die kleinste dinge, en dit wat ander vir
hulle doen
* Hulle verhouding met die Here is ongekompliseerd en kinderlik, net soos
die Bybel sê dit moet wees.
* Hulle manier van liefde vir die medemens is iets waarby ons SOVEEL kan
leer. Dis opreg!
Kyk gerus hier vir
meer
>>
En, o ja, het jy gesê jy kry bietjie swaar? ~ Willem Botha,
01/11/2015 |
|
|
“Teach us to number each of our days so that we may grow in
wisdom”, so sê Psalm 90:12. Iemand sê nou die dag dat in ons tye verdrink
ons omtrent in inligting terwyl ons smag na wysheid. Met Google tot ons
beskikking, kan ons ’n klomp inligting bekom oor enige onderwerp. Selfs oor
geestelike sake kan ons maar vir Google vra. Al daai inligting beteken egter
niks as ons nie wysheid en onderskeidingsvermoë aan die dag kan lê om uit te
vind of dit sinvol is, of dit die waarheid is en of ons bereid is om dit in
ons lewens toe te pas nie. As ek deur die boek Spreuke lees, dan sien ek dat
’n persoon met wysheid God eerste plaas, die Here vertrou, instinktief weet
wat reg en verkeerd is en die regte dinge doen. ’n Persoon met wysheid
respekteer ander mense, is liefdevol en getrou. ’n Persoon met wysheid
aanvaar teregwysing en is bereid om te leer en te groei. Verder sien ek dat
persone met wysheid guns by mense geniet, vrede ervaar, gesond en
lewenslustig is. Die dae is getel, kom ons jaag wysheid na! ~ Wilna Botha,
30/10/2015 |
|
Daar is 'n lewenswyse wat reg kan lyk...
Spr 14 : 12 " Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan
lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood."
Sjoe, vandat ek hierdie teks 'n paar jaar gelede raakgelees
het, spook hy by my as ek weer oor hom struikel, want hy PRAAT met my. Daar
is so ongelooflik baie in hierdie paar woorde vasgevang dat ek self seker 'n
boek daaroor kan skryf, maar daar is reeds 'n boek daaroor, die Bybel.
Ek lees nie net fisiese dood hierin nie, maar
ook Geestelike dood, en selfs net 'n totale verlies van alles wat jy het en
waarvoor jy staan. "... die uiteinde is die dood".
Wat is hierdie lewenswyse waarvan hier gepraat word? Dis nie net om
roekeloos met gevaarlike dinge besig te wees nie, maar ook net die dag tot
dag dinge wat ons aanvang. Mense gaan roekeloos met die Here om, ateïsme
word 'n mode, Christene begin om die Bybel stukkie vir stukkie te dissekteer
en daar is nie meer 'n gevoel oor wat die Here wil hê of nie hê nie. Die wil
van God word tweede gestel na ons eie wil.
Spr 15 : 9 sê: " Die Here het 'n afsku van die lewenswyse van goddeloses;
maar Hy het dié lief wat volgens sy wil lewe."
Hoe weet ons wat is God se wil? Wel, jy hoef nie die hele Bybel te lees nie.
Lees net die bergpredikasie in Matteus 5 waar Jesus op 'n mooi gemaklike
manier vir ons sê wat God se wil is. ~Willem Botha, 29/10/2015 |
|
Het
jy ook as kind vir jou so ’n speelding gevou uit papier? Ek hoop jy doen dit
nog vir jou kinders/kleinkinders? Dié speletjie stel jou mos die hele tyd
voor keuses – kies ’n nommer, kies ’n kleur, ens. Dit laat my sommer dink
aan hoe ’n mens se lewe is. Daar word mos gesê: “A human being is a
deciding being.” Dink net bietjie hoeveel keuses jy al vandag moes maak.
Volgens Google maak ons so 35 000 keuses per dag. Sjoe, só baie kere wat ek
moet besluit hierdie kant toe of daardie kant toe, só baie kere wat ek reg
of verkeerd kan kies. Natuurlik is baie van daai 35 000 nie regtig
belangrike goed waaroor ons moet besluit nie. Wat trek ek aan? Wat maak ek
vir aandete? Watter kleur Smartie eet ek eerste? is nou sekerlik nie groot
besluite nie en dit het nie regtig ’n invloed op jou lewe nie. Die keuse om
te skinder, te skree en te skel, ongeduldig en onvergewensgesind te wees,
lui te wees en pligte te ontduik kan egter slegte gevolge hê vir jou en dié
om jou, terwyl die keuse om eerlik te wees, die waarheid te praat, liefde te
bewys, mededeelsaam te wees, toegeeflik te wees, ’n blywende positiewe
invloed sal hê. Hier is ’n paar goeie keuses om te maak: “Kies tog vandag om
die Here jou God lief te hê en net vir Hom te leef. Kies om te doen wat Hy
wil hê jy moet doen. Kies om jou lewe lank gehoorsaam te wees aan alles wat
Hy vir jou sê om te doen. Maak Hom die middelpunt van jou lewe.” (Deut.
30:20) ~ Wilna Botha, 28/10/2015 |
|
Ek kan nie meer nie korporaal...
Kyk, dis nou ses woorde wat jy onder geen omstandighede in die weermag
geuiter het nie, al het dit gevoel of jy jou laaste van laaste stukkie
energie opgebruik het. Ek onthou dat ek in my weermagtyd dit seker een of
twee keer gehoor het. Dit was die woorde van 'n "looser" wat nie vasbyt
gehad het nie. Daardie woorde het jou gebrandmerk as 'n sissie en het vir
altyd by jou gebly.
Ongelukkig kom ons almal een of ander tyd by daardie punt wat die lewe te
veel raak en ons nie kans sien vir nog 'n dag nie. Ek sien hoe depressie,
werksomstandighede, egskeiding, slegte finansies, siekte en eensaamheid
mense by daardie punt bring wat hulle so misrabel voel dat hulle eerder smag
na die einde van hierdie lewe. Dan kom daar nog mense met hierdie absurde
woorde : "Ruk jouself reg man"
Kyk wat skryf Jeremia in Jer 20:14-16
"Vervloek is die dag waarop ek gebore is, die dag waarop my ma my in die
wêreld gebring het; mag dié dag altyd sonder seën wees. Vervloek is die man
wat vir my pa die berig gebring het: "Jy het 'n seun," 'n berig wat hom baie
bly gemaak het"
Moedeloos, magteloos, hulpeloos, hooploos. Dis dan wat die
mens uitroep : Waar sal my hulp vandaan kom?
Wel, die antwoord ken jy : Ps 121:2 "My hulp kom van die Here wat hemel en
aarde gemaak het".
Die vraag is : Hoeveel kan 'n mens verduur? Wel, baie, vreeslik baie, maar
nie onbeperk nie. Dit hang af vir wie jy voor oë het, op wie jy vertrou, en
hoe lank jy kan wag vir uitkoms.
Hier is 'n paar beloftes :
Jos 1:5 "Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die
steek laat nie, jou nie verlaat nie."
Kan jy DIT glo?
Ps 91:15 "Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor, in sy nood sal Ek
by hom wees. Ek sal hom red en in sy eer herstel". Klink hierdie belofte
goed?
Jes 41:10 "Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek
is jou God. Ek versterk jou. Ek help jou, Ek hou jou vas, met My eie hand
red Ek jou"
Vlug in die Here se arms in, hulle is altyd oop. ~ Willem
Botha, 27/10/2015 |
|
“Moenie bang wees dat ’n ramp jou
skielik sal oorval nie ...” (Spr. 3:25) Ek kan partykeer nogal in sulke
negatiewe gedagtes vasval, dan sê ek vir myself: sê nou maar ek kry ’n
ernstige siekte, sê nou maar my man gaan dood, sê nou maar ons besigheid
faal, sê nou maar een van die kinders kom iets oor, sê nou maar rowers
oorval ons ... ens. ens.! Kan ek enige van hierdie situasies voorkom? Nee.
Het ek beheer oor enige een van hierdie dinge? Nee. Bekommernis oor hierdie
dinge waaroor ek geen beheer het nie, kan my net onnodig paniekerig maak,
onnodig laat stres, onnodig depressief maak, onnodig planne laat maak vir
iets wat heel moontlik nie eens gaan gebeur nie. Ek wil myself liewer
programmeer met dié wete dat die Here in beheer is, dat ek altyd op Hom kan
vertrou vir beskerming, versorging en uitkoms wanneer daar ’n krisis opduik.
“Jy weet mos die Here is altyd by jou. Jy kan altyd op Hom vertrou. Hy sal
jou beskerm.” (Spr. 3:26) Stop worrying about what can go wrong, and get
excited about what can go right! ~ Wilna Botha, 26/10/2015 |
|
Bou jou ark
Gen 6:11-14
Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde
se lewe was verrot. Toe sê God vir Noag: “Ek het besluit om 'n einde te maak
aan alle mense, want deur hulle toedoen is die aarde vol geweld. Ek gaan
hulle saam met die aarde verdelg. Maak vir jou 'n ark van goferhout..."
Glo jy regtig dat daar 'n persoon soos Noag was, en dat hy
werklik hierdie reuse ark gebou het? Ek dink baie mense verwerp hierdie
verhaal, maar ek glo dit was net soos dit
in die Bybel opgeskryf is. Vir my is dit maklik, ek glo in die God van die
Bybel.
Maar praat so van glo, kan jy dink hoe Noag getwyfel hê toe God hierdie
opdrag vir hom gee? Wat op aarde? Hoekom moet EK hierdie ding bou? Waar's
hierdie groot reën en hoe op aarde gaan ek die diere in hierdie skip kry?
Hoe bou ek hierdie monstrosity?
Wel, Noag het vir God genoeg vertrou om Hom nie net te vertrou om te doen
wat Hy gesê het Hy gaan doen nie, Hy het Hom selfs vertrou om elke greintjie
detail te gee om hierdie skip te bou.
Ek dink die Here vra ons ook soms om 'n "ark" te bou, al lyk hierdie opdrag
totaal absurd. Partykeer weet mens jy moet iets doen, maar jy verstaan nie
die opdrag nie. Wees maar net getrou, die Here sal elke stukkie detail gee
wat nodig is. Die Here se opdragte lyk soms so groot, en selfs sinneloos,
maar soms is jy die Noag van jou verhaal wat maar net blindelings moet doen.
Dink net, as Noag nie sy bykans onmoontlike taak aangepak het nie, was ek en
jy nie hier nie. Jy is tot alles in staat... ~ Willem Botha, 23/10/2015 |
|
“... elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek
geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het.” (Jes. 43:7)
Dis vir my so kosbaar om te dink dat ek een van dié is wat in hierdie lys
van mense genoem word - mense wat aan die Here behoort, wat na Hóm vernoem
is en wat Sy Naam dra. Soos ’n kind wat sy ouers se van kry, of na sy pa
vernoem word, só het die Here vir ons Sy Naam gegee en ons gemerk daarmee.
Omdat ons in Hom glo, het Hy ons die reg gegee om Sy kinders genoem te word
en om Sy Naam te dra. Openbaring 3:12 praat ook daarvan dat die Here Sy Naam
skryf op dié wat volhard: “Ek sal name op julle skryf om te wys wie julle
regtig is en aan wie julle behoort. Die eerste naam is die Naam van my God.
Dan sal Ek die naam van die stad van God opskryf. Die derde naam sal My eie
Naam wees.” Jy is gemerk met Sy Naam. Lééf as ’n gemerkte – met vertroue,
met geloof, met volharding, met hoop. ~ Wilna Botha, 22/10/2015 |
|
Joh 3:16
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee
het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe
sal hê".
So lief het God die wêreld gehad... Hoe lief? Wat beteken God
se liefde? Wat is die definisie daarvan? Wat sluit dit in en wat sluit dit
uit?
Hierdie is vrae waarmee ek regtig baie worstel, want ek kom
agter dat ek die kuns bemeester het om God se liefde goedkoop te maak. Jy
sien vriend, Jesus het inderdaad aarde toe gekom
om vir my te sterf, sodat ek die ewige lewe kan hê, maar waar los dit my en
my sondige natuur? Ek sien 'n skokkende ding gebeur, jaar na jaar, eeu na
eeu, generasie na generasie, is ons besig om met 'n dik swart pen tekste uit
die Bybel te krap wat ons nie meer pas nie, want ons gooi dit oor die boeg
van konteks en tydvak. Ons sal op hierdie manier die Bybel stukkie vir
stukkie dissekteer tot daar niks oorbly nie.
Daardie deel kan ek soms nog bietjie verstaan, maar die nuutste neiging is
om "God se liefde" te misbruik om nog meer van God se voorskrifte uit die
Bybel uit te krap. Ons sê vir mekaar: Ja, God mag miskien dit of dat gesê
het in Sy Woord, maar omdat Hy vir Sy kinders so lief is, weeg daardie "
liefde" swaarder as Sy voorskrifte.
My vriend, God is te lief vir my en jou om te aanvaar dat ons sondes nie
meer sondes is nie. God is te lief vir ons om ons in sonde te laat
voortploeter, en dan te glo dis okay. God is te lief vir ons om ons te los
soos ons is. God is te lief vir ons om ons te laat wees wat ons geword het.
God is te lief vir ons om toe te laat dat ons met hierdie selfvernietigende
lewe voortgaan.
"Here, help my om na U terug te draai en om te wees wat U vir my bedoel het
om te wees, en nie te wees wie ek myself laat word het nie" ~ Willem Botha,
21/10/2015 |
|
“My tye is in U hand.” (Ps. 31:15) Hierdie is woorde
van volkome oorgawe aan die Here, die erkenning dat Hy in beheer is van
alles wat rondom my aan die gang is, van alle emosies en dinge wat in my kop
aan die gang is. Mens kan dit seker net sê as jy die Here volkome vertrou,
want hoe anders sal jy jou hele bestaan in Sy hand kan oorgee? As ek vandag
sê: my tye is in U hand, dan impliseer dit seker ook dat die tye van
onsekerheid, probleme, siekte en moeilikheid in Sy hand is. Hy weet daarvan
en Hy dra my deur en sorg vir my. As ek vandag sê: my tye is in U hand, dan
impliseer dit ook dat die tye van vreugde, goeie nuus en voorspoed in Sy
hand is. Hy gee dit as ’n geskenk aan my om te geniet. As ek vandag sê: my
tye is in U hand, dan impliseer dit dat Hy die dae en ure wat ek tot my
beskikking het vir my afgetel het. Hy gee dit vir my en ek moet die beste
gebruik maak daarvan. As ek vandag sê my tye is in U hand, dan laat dit my
rustig en getroos voel en sien ek kans vir wat die dag ook al mag bring. ~
Wilna Botha, 20/10/2015 |
|
Lewende water
Joh 4:13-15
Maar Jesus antwoord haar: “Elkeen wat van hierdie water
drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal
gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal
gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige
lewe gee. ”Die vrou het vir Hom gesê: “Meneer, gee vir my van daardie water,
sodat ek nie weer dors sal kry en hier hoef te kom water haal nie.”
Hierdie is 'n aangrypende verhaal
van Jesus en die Samaritaanse vrou by die put, waar sy nie mooi verstaan
waarvan Hy praat nie. Sy praat van water en Hy praat van Lewe.
Die Water wat Hy aanbied het 'n bonatuurlike kwaliteit, dit neem dors vir
altyd weg, jy hoef dit net een keer te drink! En dis inderdaad so waar, as
jy Jesus gekies het, gaan daai onversadigbare drang na ander dinge verdwyn.
Daai soeke na sin in die lewe, hoop op aardse dinge, soeke na die "ultimate"
vriend en jy kry die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ek het al so baie
mense gesien wat van daardie Water gedrink het wat dit net nooit weer vir
iets anders sal verruil nie, ten spyte van wat ook al. Kies dit, drink dit
en Lewe! ~ Willem Botha, 19/10/2015 |
|
“Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons
voorgeslagte ons vertel het, verswyg ons nie vir ons kinders nie, maar
vertel vir die volgende geslag van die roemryke dade van die Here, van sy
krag en van sy wonderdade.” (Ps. 78:3-4) Hoe sal ons nageslag weet wie die
Here is en wat Hy in ons lewens gedoen het en hoe Hy wil hê ons moet lewe as
ons dit nie oorvertel nie? As ons kinders sien en hoor hoe ons op die Here
vertrou en hoe ons ons geloof prakties uitleef, is daar ’n goeie kans dat
hulle dit ook sal doen. Maak ’n punt daarvan om met jou kinders oor die Here
se goedheid en Sy versorging en voorsiening en verlossing te praat... “sodat
die volgende geslag dit kan weet en die kinders wat nog gebore sal word, dit
weer aan húlle kinders kan vertel. So sal hulle dan op God vertrou en nie
vergeet wat Hy gedoen het nie.” (Ps. 78:6-7) Elders in die Bybel sê dit ook
dat ons met ons kinders oor die Here se woord moet praat as jy in jou huis
is of op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan (Deut. 6:6) - dit moet
’n leefstyl wees. Ons kan hierdie taak nie net aan die skool, kerk of
Sondagskool oorlaat nie, ons nageslag moet by ons sélf, in ons eie woorde
hoor wat ons beleef en ervaar het van die Here, so sal ons ’n nageslag kan
bou wat die Here dien. ~ Wilna Botha, 16/10/2015 |
|
'n Volmaakte wêreld
Jitte hierdie wêreld
raak amper ondraaglik. Sê nou ek vra vir jou 'n definisie van 'n volmaakte
wêreld, hoe sou jy dit beskryf? Ek glo daar sal seker baie verskillende
definisies uitkom, en ek het vandag vir myself so 'n prentjie aanmekaarsit
van wat ek dink 'n paar probleme sou oplos.
Ek het onlangs weer 'n fliek van Jim Carrey gesien met die naam "Liar
Liar", waar 'n seuntjie wens dat sy pa net vir een dag nie kan lieg nie.
Die film is skreeusnaaks, want die pa is 'n prokureur en hy kon net
eenvoudig nie sy werk soos altyd doen nie. Daar is 'n klomp lewenslesse in
die fliek. Sê nou net niemand lieg nooit weer nie? Ek dink ons sou naby aan
'n vomaakte wêreld kom.
Matt 5: 34 - 37
"Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n eed aflê nie, nie by die hemel nie,
want dit is die troon van God; nie by die aarde nie, want dit is die rusplek
vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot
Koning. Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy 'n eed aflê nie,
want jy kan nie een haar wit of swart maak nie.Laat julle ‘ja’ eenvoudig
‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die
Bose.”
Besef jy dat die regsberoep totaal oorbodig sal raak? Mense sal met 'n
handdruk 'n transaksie beklink en dit sal bekragtig word. Ons sal ons
politieke leiers kan vertrou en respekteer, besigheid sal 'n wonderlike
karakter aannneem en daar sal ongekende welvaart wees want almal sal eerlik
hulle werk na die beste van hulle vermoë doen. Daar sal geen misdaad wees
nie en ons sou kon slaap met ons deure oop.
En dan 'n baie netelige een: Huwelike sal hou, want die huweliksbeloftes sal
nagekom word. Kinders sal nie meer die slagoffers wees van die haat tussen
die mense wat beweer dat hulle lief is vir die kind, wat hulle uit liefde
verwek het nie.
Hoe wonderlik moet dit nie wees om in so 'n samelewing te wees nie. Besef jy
dat daar waarskynlik nie sonde sou wees nie?
So was dit in die paradys, voordat die groot leuenaar die mens kom leer
lieg het.
Laat jou ja jou ja
wees! ~ Willem Botha, 15/10/2015 |
|
Ons het onlangs geluister na ’n prediker wat in vele
geslote lande betrokke is met sendingwerk. Dis wonderlik om te hoor hoe van
daai mense tot bekering kom, van wonderwerke en genesings, van groepe wat in
die geheim as kerk bymekaarkom, van mense wat so honger is na die woord, dat
hulle dit stukkie vir stukkie verslind en memoriseer. Dit was egter vir my
skokkend toe hy vertel hoedat die mense gehuil het nadat hy vir hulle vertel
het van ons kerke, Bybelstudiegroepe, lofprysing spanne, ens. Hulle het
gedink dat die Here ons baie meer lief het as vir hulle, omdat ons nie
bedreig of doodgemaak word as ons kerk toe gaan nie, omdat ons openlik in
groepe kan saamkom om te bid, omdat ons uit volle bors en met harde
begeleiding lofliedere kan sing terwyl hulle in vrees en bewing hulle
lofliedere moet fluister sodat niemand anders dit kan hoor nie, omdat ons
elkeen meer as een Bybel in ons huise het en hulle smag na ’n paar
velletjies uit ’n Bybel. Sjoe! Hoe baie geleenthede het ons nie, hoe baie
hulpbronne en toegang tot Geestelike aktiwiteite en kennis het ons nie!
Gebruik ons dit genoeg? Waardeer ons dit genoeg? Onthou ons watter voorreg
ons het, of het dit vir ons vanselfsprekend en goedkoop geword? “En laat ons
tog nie – soos party gemeentelede die gewoonte het – versuim om die
gemeentebyeenkomste by te woon nie. Kom ons moedig mekaar aan ...” (Heb.
10:25) ~Wilna Botha, 14/10/2015 |
|
Virus
Wat is die eerste ding wat in jou kop gekom het toe jy die
woord "virus" lees? Ek glo jy het dalk eerder aan jou rekenaar gedink as aan
iets wat jou liggaam binneval. Dis n aaklige storie die virus - ding, want
hy vernietig so ver as wat hy gaan. Hy word oorgedra en versprei en dis
moeilik om die ding uit jou masjien (of liggaam) te kry.
Ek dink ons het almal maar sulke goggas in ons lewens en dit
strek wyd, en boonop vererger die ding by die dag en as hy eers sy kloue
ingeslaan het kom hy moeilik weer uit.
Een van die virusse wat baie mense beetgepak het is selfbeel,
daardie ding van: Ek is nie goed genoeg nie. Dan glo jy die wêreld dink ook
so. Maar weet jy wat? Die Here dink anders want as jou Skepper kan niks Hom
verbaas nie. Dit bring 'n minderwaardigheidskompleks mee. Nee wat, jy is SO
belangrik dat Jesus vir jou gesterf het.
Een so 'n virus wat BAIE mense beetpak is die Jones-next-door
sindroom. "Ek steek teen almal af". Ja wel, dan moet jy maar trek. Gaan koop
dan liewer die grootse huis in die armste woonbuurt. Ongelukkig "kompeteer"
ons ook op Geestelike vlak en wil ons ook graag 'n "groot Christen" wees.
Dis maklik, raak oorgewig en sorg dat jy gered is, dan is jy 'n groot
Christen. Daar bestaan nie voor die Here iets soos 'n groot Christen nie.
Daar is baie van hierdie goggas. Ek is te vet, of te maar, of
te arm, of nie mooi genoeg nie, ek is tot niks in staat nie, het nie gawes
nie, kan nie so goed soos ander bedien nie, my kinders steek af teen ander,
my ouers was nie lief vir my nie, my kar is oud.
Ai tog, treurmares se Moses! Daai virusse gaan jou opvreet,
jy moet dit maar dalk eerder vir die Here gee.
Gaan staan voor die spieël dan sê jy vir jouself: Die Here is
lief vir my, en ek kan niks doen om dit te verander nie. ~ Willem Botha,
13/10/2015 |
|
“Dis net ’n baie dom mens wat kan dink dat
God nie daar is nie.” (Ps. 53:2) “Dom” (of “dwaas”, soos wat dit in ’n ander
vertaling sê) beteken hier beslis nie iemand met ’n lae IK, of iemand wat
nie ’n universiteitsgraad het of nie gevorder het op skool nie. Dit verwys
na iemand wat God se bestaan ontken en méér nog, dit verwys na iemand wat
reken dat hy die Here nie nodig het nie. Dit verwys na iemand wat nie
erkenning gee aan sy Skepper, sy Helper, sy Raadgewer nie. So ’n persoon
volg sy eie pad, doen wat hy wil, leef roekeloos en selfgerig. Die uiteinde
van sy dwase lewenswyse is selfvernietiging, ongelukkigheid en onvrede. Dis
seker hoekom die Bybel elders sê dat wysheid begin met die dien van die
Here. Ons moet ons inspan in die universiteit van die lewe om hierdie soort
wysheid te bekom - wysheid wat my op God se pad vat, wysheid wat my nederig
en afhanklik van die Here maak, wysheid wat die lewe laat sin maak. “Wysheid
is soos ’n boom. Wie daaronder skuil, vind vreugde. (Spreuke 3:18) ~ Wilna
Botha, 12/10/2015 |
|
Ek
het hierdie foto êrens in ’n begraafplaas geneem: simply to the cross I
cling. Dit het my dadelik laat dink aan Gal 6:14 - “Maar wat my betref, mag
God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here
Jesus Christus...” Ek sit die kruis vandag opnuut weer sentraal in my
gedagtes en in my lewe. Sonder die kruis is ek verlore, het my lewe hier
geen sin en betekenis nie, is daar geen lewe na die dood nie. Sonder die
kruis is ek kaal, hulpeloos, vuil en verlore. Sonder die kruis en die bloed
van Jesus wat daar gevloei het, is daar net oordeel, dood en vernietiging.
Klou vas aan die kruis, klou vas aan Jesus se vergifnis, roem daaroor, wees
bly daaroor, verheug jou daaroor, spog daaroor, praat daaroor, sing daaroor,
koester dit en waardeer dit intens. Hoe sê die woorde van die ou-ou liedjie,
Rock of Ages?
“Nothing in my hand I bring,
Simply to Thy cross I cling;
Naked, come to Thee for dress;
Helpless, look to Thee for grace;
Foul, I to the fountain fly;
Wash me, Savior, or I die.” ~ Wilna Botha, 08/10/2015 |
|
Ou kar baas Willie
Ons het eens 'n kostelike huishulp gehad vir wie ons baie lief was en sy is
ontydig oorlede. As jy sou kla oor 'n skeet of 'n stywe been sou sy altyd sê:
"Jaaaa baas Willie, ou kar". Inderdaad nogal waar né, hou ouer die ding word
hoe meer moet jy aan hom werk, maar ry moet jy ry. Iemand het ook eendag
gesê ons gaan nou in die Metaal - stadium in. Silwer in die hare, goud in
die tande en lood in die voete! Oudword is nie vir sissies nie.
So lees ons in Prediker 12 die swaar van die
oudword proses. Maklik is dit nie. Prediker beskryf hoe alles begin ingee,
die bene, arms, oë, ore en ook jou gemoed. Lees dit verkieslik in Die
Boodskap.
Die hoofstuk begin so : Prediker 12:1
Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare
aanbreek waarvan jy sal sê: “Ek het daar niks aan nie.”
En dan naby die einde: Prediker 12:7
"...die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die
gees na God terugkeer wat dit gegee het."
Dis nou maar hoe die lewe is, hoe ouer die "kar" hoe meer gaan jy aan hom
werk. Die gedeelte wat regtig uitstaan is vers 1: Dink aan jou Skepper in
jou jong dae... "
Ek sien 'n paar dinge hier raak , asook elders in Prediker :
* Lewe jou hele lewe deur saam met die Here
* Besef dat ons lewe op aarde begin uitloop die dag van jou geboorte
* Daar gaan swaar tye kom
* Weet dat God vir jou met oop arms inwag
* Geniet jou LEWE voluit, moenie net asemhaal en bestaan nie
* Werk maar aan daai ou kar, diens hom, "baby" hom, maar RY hom ~ Willem
Botha, 07/10/2015 |
|
“Kom tot besinning en
moenie langer sonde doen nie. Party van julle is sonder kennis van God. Dit
sê ek tot julle skande.” (1 Kor. 15:34) Ons moenie dink omdat Jesus vir ons
sonde betaal het en God se genade groter is as enige sonde, dat ons maar kan
wegtrek en leef soos ons wil nie. Al staan ons nie meer onder Moses se wet
nie, mag die sonde nie ons baas wees nie, moet ons daarteen veg en standpunt
inneem. Ons moenie dat sonde en sondige begeertes ons saamsleep nie, ons
moet weerstand bied en luister na die stem van die Heilige Gees in ons
gewete. Jesus het die owerspelige vrou, vir wie die Fariseërs wou stenig oor
haar sonde, vrygespreek en nie veroordeel nie, maar gesê: “Gaan maar en moet
van nou af nie meer sonde doen nie.” (Joh 8:11) As ons Sy genade en
vryspraak ontvang het, moet dit ons aanspoor om sonde in ons lewe hok te
slaan, moet dit ons motiveer om daai U-draai te maak en teen sondige
begeertes te kies. Mag die Here deur Sy Gees ons hiermee help. ~ Wilna
Botha, 06/10/2015 |
|
'n Reënboog en 'n letsel
Jy sal onthou dat ek onlangs vertel het dat ek my hand erg beseer het met 'n
"angle grinder". Wel, drie weke is verby en alles is nou weer reg, behalwe
vir 'n letsel. Meer daaroor netnou.
Die Here het moeg geword vir die verdorwenheid van die mens, bykans alle
lewe op aarde vernietig deur die groot vloed en vir Noag en Sy gesin gered.
Daarna het Hy vir die mens die reënboog gegee as herinnering van Sy belofte
dat Hy nooit weer die aarde met 'n vloed sal vernietig nie.
Gen 9:16
"Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan
die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde". 'n
Wonderlike belofte in die reënboog as teken, sigbaar vir jou en my.
Na Jesus se opstanding verskyn Hy aan die dissipels, maar Tomas sê dat Hy
net sal glo as Hy die letsels sien.
Joh 20:27
Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring
jou hand en steek hom in My sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar
wees gelowig.”
Die letsels was vir hom 'n teken, en Hy glo en hy roep uit: "My Here en my
God."
Ek het 'n letsel oorgehou na my ongelukkie, maar dis Al wat oorgebly het. Ek
sal elke dag van die res van my lewe 'n teken dra van God se beskerming,
want dit kon SOVEEL erger gewees het. Hierdie letsel dien ook as 'n teken
dat God die groot Geneser is. Ek beskou dit as 'n reuse voorreg om my eie,
sigbare "reënboog" saam met my te dra en ek sal onthou om gedurig die Here
daarvoor te prys. ~ Willem Botha, 05/10/2015 |
|
Hierdie
ou prentjies beeld so mooi uit van ons gebrekkige verstaan van hoe die Here
werk. Ons kan nie begryp dat ons dan gebid het vir die Here se beskerming en
dan gebeur daar iets sleg met ons in die loop van die dag nie. Intussen wéét
ons nie waarmee die Here besig was nie. Hy het dalk baie groter rampe en
probleme van jou af weggehou waarvan jy nie eens bewus is nie, Hy het dalk
gewerk aan ’n groter plan, Hy het dalk gewerk daaraan om jou karakter te
vorm en jou sterker te maak. Ons kan altyd die sekerheid hê dat die Here aan
die werk is in ons lewe, selfs al lyk en voel dit nie so nie. Ons kan altyd
weet dat Sy tydsberekening perfek is, selfs al lyk dit of hy van ons vergeet
het. Ons moet aanhou glo dat ons vir Hom belangrik is, dat niks sal gebeur
wat buite sy plan vir ons lewe is en dat alles ten goede sal uitwerk, al
sien ons nou nog niks daarvan raak nie. Ons moet vertrou dat die Here die
hele prentjie het, dat Hy weet wat Hy doen en dat Sy liefde en genade vir
ons onbeperk is, al gaan dit ons verstand te bowe. “Wie kan dit waag om God
se oordeel te bevraagteken? Wie is in staat om sy optrede te verklaar? Wie
ken God se planne? Is daar iemand wat vir Hom kan voorskryf wat om te doen?
... Van God af kom alles wat bestaan. Hy hou alles in stand. Alles is daar
om sy Naam groot te maak. Vir altyd.” (Rom 11:33-36) ~ Wilna Botha,
02/10/2015 |
|
Waar sterf die voëltjies?
Het jy ook al gewonder waar die voëls sterf? Mens sien die hele dag voëls
vlieg, in bome sit en jy hoor die vrolike klanke. Hulle sterf tog iewers,
maar waar? Hoekom sien ons nie net soveel dooie voëls rondlê as wat om ons
rondvlieg nie? Of is daar 'n ingebore waardigheid wat maak dat hulle eenkant
gaan as hulle die lewe verlaat? Dalk is dit deel van die Here se versorging
van hierdie wonderlike gevleuelde vriende van ons. Ek kry net die idee dat die
Here 'n besondere liefde vir hierdie vreedsame spesie het wat Hy geskep het.
Hulle is geklee in soveel prag en hulle gee vir die mens oneindige plesier.
Mat 10:29 - 31
“Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle
op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.Van julle is selfs die
hare op julle kop almal getel.Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd
as baie mossies."
Is hierdie teks nie pragtig nie? Jesus sê hier pertinent dat hulle kosbaar
vir Hom is, maar jy is meer kosbaar vir Hom. Hou vir jou 'n ou eensentstuk
byderhand as jy nog een kan kry, en herinner jouself dikwels aan Sy
versorging as dit swaar gaan. Kyk gereeld daarna, speel met dit tussen jou
vingers en weet dat God 'n belofte oor jou gemaak het. ~ Willem Botha,
01/10/2015 |
|
“Die Seun van die mens sal sy engele stuur en hulle sal
uit sy koninkryk verwyder almal wat ander mense in sonde laat val” (Matt.
13:41) As ek dit lees dan besef ek watter groot verantwoordelikheid ons as
Christene het. Ons moet ’n voorbeeld stel van toewyding en van ’n
onberispelike lewenstyl, ons moet soos Paulus kan sê: “Volg my voorbeeld,
soos ek die voorbeeld van Christus volg.” (1 Kor. 11:1) Ons optrede moenie
ander mense laat struikel in hulle geloof, hulle in sonde laat val of hulle
oë van die Here laat wegkyk nie. Ons moet vir die mense om ons rigtingwysers
wees wat hulle help, ons moet nooit mense verlei en mislei om verkeerde
paaie te vat nie. Ons moet versigtig wees as ons ander wil leer dat ons nie
die waarheid verdraai of dalk nét verkondig wat mense graag wil hoor nie.
Ons moet seker maak dat wat ons sê en hoe ons optree nie mekaar weerspreek
nie, sodat mense wat swak is in geloof nie na ons kyk en sê: ek wil liewer
nie ’n Christen wees nie. “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My
glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ’n groot meulsteun
aan sy nek in die diepsee verdrink. Hoe jammer tog vir die wêreld dat daar
dinge is wat die mens afvallig maak! Sulke dinge kom noodwendig, maar wee
die mens deur wie dit kom.” (Matt. 18:6-7) ~ Wilna Botha, 30/09/2015 |
|
Veg!!!
Hemel ons leef in 'n
veglustige, magmal wêreld! Almal wil net veg. Een ou skiet 'n ander
morsdood in padwoede insidente, politieke teenstanders skiet mekaar dood
net omdat hulle verskil van opinies. Ek sien vanaand op die nuus hoe die
taxi ouens die wit waks uit mekaar skiet, hoekom op aarde weet ek nie! Nie
eers te praat van bende geweld in die Kaap nie! Mense vermoor ander vir 'n
selfoon of 'n beursie en in die Midde-ooste is die oorlog buite beheer.
Amerika het 'n enorme verdedigings begroting, maar hulle veg ander mense se
oorloë en verloor derduisende van hulle eie soldate, en troos dan die ouers
met hierdie belaglike woorde: "Hy het vir 'n goeie saak gesterf". Watter
saak Mnr Die president? Wie se saak?
Absolute magmalheid!
Maar kom ons kyk sommer net op Facebook. Het jy al gesien hoe (oënskynlike)
opgevoede mense mekaar kan slegsê dat die see hulle nie kan afwas nie? Sies!
Ons het mal geword!
Ons kan maar net bid
dat die volgende vir ons waar sal word:
Miga 4:1-4
"Daar kom 'n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, 'n blywende
plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels. Die volke
sal daarheen stroom, baie nasies sal daarnatoe gaan en sê: “Kom, laat ons
optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat
Hy ons sy wil kan leer en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die
openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.” Hy sal oordeel tussen
baie volke, regspreek oor sterk nasies wat ver weg woon. Hulle sal van hulle
swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal
nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om
oorlog te maak nie. Elke man sal onder sy eie wingerd sit, ongesteurd onder
sy vyeboom. Die Here die Almagtige het dit gesê."
Hulle sal van hulle
swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre.
Mag ons leef om dit te sien! Vergewe ons Here. ~ Willem Botha, 29/09/2015 |
|
Ek lees dié nou die
dag op ’n vriend se Facebook-wall: “When God measures man, He places a
measuring tape on his heart, not his head.” Wat in jou hart aangaan is vir
die Here belangrik. Of jou hart aan Hom behoort, of jou klip hart vervang is
met ’n hart van vleis, is wat tel op die Here se maatband. Vir die Here is
jou hart belangriker as jou kennis. Partykeer wil mense té veel redeneer en
té veel probeer om God en sy weë uit te pluis en te verduidelik, terwyl dit
net nodig is om die deur van jou hart oop te maak en Hom in kinderlike
geloof in te nooi. “Daar staan tog geskrywe: Die wysheid van die wyses sal
Ek vernietig en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.” (1
Kor. 1:19). As die Here vandag jou hart meet en jou lewe weeg, sal Hy sê:
“geweeg en te lig bevind” soos vir koning Belsasar in Daniël se tyd, omdat
daar nie eerbied vir die Here in sy hart was nie, of sal die Here ’n hart
vol liefde en deernis vind, ’n onverdeelde, opregte hart waar Hy alleen die
Koning is? ~Wilna Botha, 28/09/2015 |
|
Christen … is JY 'n Christen? As iemand jou sou vra oor jou
geloofsoortuiging, sê jy sekerlik ook dat jy 'n Christen is. Dit beskryf tog
sekerlik iets van dit waarin in jy glo, of wát jy glo.
Ek het al die vraag gehoor: "Was Jesus 'n Christen?" Ek dink dit is 'n
sinnelose vraag. As jy vra: "Willem, is jy 'n stoeier?", dan kan ek sê:
"Nee, want ek stoei nie". As ek vir 'n Mercedes vra: "Is jy 'n kar?", dan is
die vraag mos sinneloos, want wat anders kan die Mercedes dan wees? So,
was Jesus 'n Christen? Natuurlik, want Hy gee definisie aan die term. As ek
en jy dan vra: "Is ek 'n Christen?", dan moet ek seker op die een of ander
manier kwalifiseer om dié status te kan "verdien". Die antwoord sal
natuurlik ook afhang van die definisie van wat 'n Christen is.
So, is ek dan of is ek nie?
Vra my 'n paar vrae:
Willem, sukkel jy met sondes? Ja, baie
Willem, het jy al die Here verloën? Ja, ongelukkig
Willem, is jy baie getrou aan die dinge wat die Here verwag? Nee, ongelukkig
nie
Willem, het hy al aan die bestaan van God getwyfel? Ja, ongelukkig gebeur
dit steeds
Willem, bekommer jy jou terwyl die Here sê jy moet Hom vertrou? Ja, daagliks
Willem, is jy skeinheilig? Ja, dit beskryf my perfek
Sjoe, nou
hoe nou?
Ek sê: "Ek is 'n Christen", juis omdat ek te swak is, en Jesus in my
lewe nodig het.
Ek sê: "Ek is 'n Christen", omdat ek besef dat ek nie die wet kan
onderhou nie, en daarom bitter afhanklik is van Jesus se verlossingswerk.
Ek sê: "Ek is 'n Christen", omdat Jesus my anker is in tye van
benoudheid, kommer en angs, en Hy my dan vertroos deur my te herinner
aan soveel tye wat Hy my deur moeilike tye gebring het.
As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan bely ek dat Jesus my Saligmaker is,
en dat Hy my enigste weg tot saligheid is.
As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan besef ek my saligheid hang nie af van
hoe goed ander Christene presteer nie. Ek moet self kies.
As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan sê ek: "Dit is ongelooflik lekker en
aangenaam om aan Jesus verbind te wees, en aan talle van Sy feilbare
kinders". Ook om te weet dat ek 'n plek in Sy Koninkryk het, ja, selfs
ten spyte van die negatiewe goed wat ek aanvang.
As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan sê ek: "Dankie Jesus, dat ek in U oë
volmaak is" ~Willem Botha, 25/09/2015
|
|
“... die bruilof van die Lam het aangebreek en sy bruid
het haar daarvoor gereed gemaak. God het haar dit vergun om fyn, helder
blink klere aan te trek. Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die
gelowiges.” (Openb. 19:7-8) Wanneer mens hierdie teks lees dan klink dit of
ons, as Christus se bruid, hard moet werk om ons bruilofskleed gereed te kry.
En ons moet ook. Ons moet ons kleed versier met dade van liefde, met volkome
toewyding aan die Here, met Gees-vrugte wat ander kan opbou, met
verkondiging van die evangelie met geloof en volharding. Maar tog weet ons
dat Jes. 64:6 sê dat ons beste dade maar soos vuil klere is en as ons op
onsself staatmaak, gaan ons bruilofskleed dalk lelike vlekke ophê. Dis vir
my so mooi dat die teks sê: God het haar “vergun” - God sélf gee vir sy
bruid die vermoë om dié spierwit, volmaakte trourok te maak, Hy stel ons in
staat om die regverdige dade te doen wat Hy verwag, Hy gee ons Sy Gees wat
ons help en lei en leer en beheer oorneem van ons sondige natuur sodat ons
dade goed en vol liefde is. Dis was Sy genade doen ... ~ Wilna Botha,
24/09/2015 |
|
Die Here aan die werk.
So tien dae gelede raak ek in 'n ernstige skermutseling met
'n "angle grinder" betrokke en beland in die hospitaal met my erg beseerde
hand. Grinder 1, Willempie 0. Teater toe, skade reggemaak en toegewerk en ek
gaan huistoe met 'n vet kontrepsie om die hand, en 'n opvolg afspraak vir 'n
paar dae later. Hopelik is die steke eersdaags uit. Nou ja, dit was die deel
wat die mediese wetenskap kon doen.
Een van die dae sal daar dalk 'n letsel oorbly, maar ek sal
gesond wees. Wie is daarvoor verantwoordelik? Sommer self gebeur? Toevallig?
Alles sommer net vanself toegegroei? Nuwe aartjies sommer net chop chop
gevorm? Vel heg omdat dit so hoort?
Nee my vriend, die Here het aan die werk gespring die oomblik
toe die ongeluk gebeur, en elke oomblik van toe af was die Here aan die werk,
dag en nag, selfs toe ek slaap. Soos wat Hy elke oomblik aan die werk is met
teenliggaampies in jou lyf wat jou immuniteit stelsel aan die gang hou.
Die punt is: die Here genees my en jou elke enkele oomblik,
maar nie net Sy kinders nie, vir almal! Ja, soms loop dinge anders en
ongeneeslike siektes kom op ons pad wat ons nie verstaan nie, maar ook
daarin is Hy besig met ons. Hy is elke dag besig om stukkende harte heel te
maak van mense wat swaarkry, Hy vertroos elke dag waar mense seergekry het.
Hy is my en jou groot geneser en ook jou emosionele wonde sal mettertyd
genees.
Intussen kan ons maar gerus elke dag dankie sê vir Sy
wonderwerke in ons lewens. Onthou jy die tien melaatses wat genees is? Net
een het kom dankie sê. Kom ons sê sommer nou gou vir Hom dankie.
Luk 17:15 "En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees
is, omgedraai en God hardop geprys" ~ Willem Botha, 23/09/2015 |
|
“Maar ons is burgers van die hemel.” (Fil. 3:20) Wie is
“ons” waarvan Paulus hier praat? Dis almal van ons wat Jesus aangeneem het
as Verlosser, ons almal wat Hom dien en volg en wat Hom as “paspoort” het –
óns is almal burgers van die hemel. Ons word dit nie eers eendag nie, ons
is dit nou alreeds. Dit beteken dat slegs hemelse dinge vir ons saak maak,
dat ons ons gedagtes rig op dinge wat vir God belangrik is en nie ons aandag
fokus op aardse, tydelike, onbelangrike dinge nie (soos wat Kol 3:2 ook sê).
Ons is in die wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie en daarom is dit te
verstane dat jy partykeer soos ’n vreemdeling of ’n uitlander voel tussen
ander mense. Ons moet juis anders wees en anders optree sodat ons ware
burgerskap duidelik kan wys. Ons moenie teleurgesteld en bang word as dinge
in die wêreld skeefloop, of onregverdig en buite beheer lyk nie; as burgers
van die hemel leef ons met ’n konstante hoop op ons Ewige Koning en dit
gee vir ons nuwe perspektief en nuwe vasbyt. ~ Wilna Botha, 22/09/2015 |
|
Die beste met wat jy het
Ons wil almal GROOT dinge doen vir die Here. 'n Groot verskil
maak en die wêreld omdop, want ons lees die groot opdragte in die Bybel en
word geteister deur skuldgevoel as ons nie 'n groot verskil maak nie. Baie
mense wil graag soos Joyce Meyer of Billy Graham die wêreld ingaan en siele
wen, of vrede bewerkstellig of soos Paulus alles opoffer.
Maar hierdie gelykenis vertel vir jou presies wat die Here
van ons verwag en nie verwag nie.
Matt 25:14-15
“Verder gaan dit soos met 'n man wat op reis wou gaan. Hy het
sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Vir een het
hy vyf goue muntstukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het
aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan. “
Jy ken die uiteinde hiervan. God het nie van die persoon wat
slegs een muntstuk gekry het verwag om dit vyfvoudig te vermeerder nie. Hy
het net van hom verwag om dit na die beste van sy vermoë te gebruik en dit
nie begrawe nie. Almal kan nie preek nie, almal het nie al die verskillende
gawes nie, maar almal het iets. Doen net die beste met daai "iets" wat jy
kan. Dis goed genoeg vir Hom. ~ Willem Botha, 18/09/2015 |
|
“Here, help ons reg, maar werk sag met ons.” (Jer.
10:24) Is dit nou nie ’n wonderlike gebed nie? As jy ook sê: “Here, help my
reg”, is dit ’n gewilligheid om jouself onder die Here se leiding te plaas,
’n openheid dat Hy jou deur Sy Gees reghelp en terugbring op die regte pad
en ’n bereidheid om te verander om te wees en te doen wat Hy van jou verwag.
As jy ook sê: “Werk sag met my”, sal Hy juis dít doen. Jesus sê in Matt.
11:29 dat Hy sagmoedig en nederig van hart is. Sy genade is groot, sy liefde
oneindig. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy weet hoe swak ons is, daarom sal
Hy ons nie vernietig nie, maar sag en genadig met ons werk. Sy vergifnis is
meer en groter as enige fout wat ons kan begaan, sy genade dieper as enige
donker gat waarin ons kan val. Onthou die Here is aan jou kant – hy sal
sagkens met jou werk! ~ Wilna Botha, 17/09/2015 |
|
"Die eer van God lê in wat Hy verborge hou; konings se eer lê
in wat hulle aan die lig bring." (Spr 25:2)
Hoe maklik sou die lewe nie wees as ons net geweet het nie!
Die mens se nuuskierigheid maak dat hy naarstiglik soek na sy verlede, om
sodoende sy toekoms te kan peil. Die dag as ek in die hemel kom sal ek graag
saam met die Here wil sit en luister hoe Hy hierdie heelal van ons geskep
het. Ek sou ook wou weet hoekom die mens so swaar moet kry in sy laaste dae.
En ook hoekom ek
nie 'n sterwende kind is in 'n land van bitterlike armoede nie. Wat het ek
gedoen om te hê wat ek het?
En dan, die toekoms. Waarheen Here? Hoe gee ek my kinders hoop vir ons land?
Watter keuses sou beter keuses wees? Gaan ek siek word en 'n las vir hulle
of my vrou word?
Maar dan sê hierdie teks: "Die eer van God lê in wat Hy verborge hou..." SY
EER! Sy soewereiniteit, Sy almag en Sy alwetendheid.
Dit vra van my en jou absolute vertroue, want as ek Hom onvoorwaardelik
vertrou, kan ek Hom blindelings volg en weet alles sal okay wees. En, al
gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, Hy is met my, in goeie en slegte
omstandighede. ~ Willem Botha, 16/09/2015 |
|
“Ek weet, Here, ’n
mens hou nie jou lewe in jou eie hande nie. Niemand het beheer oor wat in
die lewe met hom gaan gebeur nie.” (Jer. 10:23, Die Boodskap) Ons maak
planne, ons dink ons is in beheer, ons dink ons kan ons eie koers bepaal,
maar tog weet ons glad nie wat die volgende oomblik vir ons inhou nie, ons
weet nie watse struikelblokke of ompaaie op ons wag nie. Nie die sterkste,
slimste, rykste, beste mens het beheer oor wat met hom gebeur nie Ek het dit
die afgelope paar dae maar net weer van vooraf besef toe ’n paar dinge heel
anders uitgedraai het as wat ek dit voorsien het. Dit is geensins ’n
fatalistiese uitkyk nie, dis ’n waarheid waarmee ons moet saamleef. Net die
Here weet wat wat met ons gaan gebeur en daarom moet ons vertrou dat wat ook
al oor ons pad kom, nie buite sy beheer is nie. As ons planne maak, moet
dit altyd in potlood ingeskryf word en die uitveër naby wees vir ingeval die
lewe ander draaie maak. As jy jou planne in permanente ink skryf en sê dis
beslis wat en hoe ek dit gaan doen, kan jy dalk ’n verassing kry. Net die
Here ken die toekoms en daarom kan ons oorgegee aan Hom lewe en in
afhanklikheid Sy pad stap. Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons
lewe en sal ons dit of dat doen.” (Jak. 4:15) ~ Wilna Botha, 15/09/2015 |
|
Die laaste woord.
Ek ontmoet 'n man op 'n mannekamp en ons gesels oor vergifnis.
Die man vertel vir my dat hy en sy suster vir baie lank nie meer met mekaar
praat nie, maar hulle ry daagliks by mekaar verby op pad werk toe en dan kyk
albei anderpad. Hulle woon enkele kilometers van mekaar af. Toe ek hom vra
hoekom hulle vir mekaar kwaad is het hy vir my gesê dat hy eerlikwaar nie
meer weet hoekom nie. Bid jou dit aan! Punt is, iewers het iemand die laaste
woord ingekry. 'n Kwetsende woord wat die ander een lekker seergemaak het,
en daar was "oorwinning". Regtig? Oorwinning? Wat 'n sieklike geveg om te
wen. Die Sondag op die kamp het hy besluit om direk na die kamp na sy suster
te ry om te gaan reg maak. Is dit nie ware oorwinning nie?
Hoeveel verhoudings is nie al vernietig deur hierdie
kwetsende laaste woord nie. Die enigste manier om dit te herstel is deur 'n
nuwe "laaste woord". "Ek is jammer", of "ek vergewe jou", haal die steek uit
bykans elke slegte verhouding. Dit vra net die moed en durf om dit te sê.
Moenie dat die tong se aaklige gewoontes jou lewe misrabel
maak nie.
JAKOBUS 3:6
"Die tong is ook 'n vuur, 'n wêreld vol ongeregtigheid, die
deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van
die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die
hel aan die brand gesteek." ~ Willem Botha, 14/09/2015 |
|
’n Wagkamer is nie ’n lekker plek nie en dit is nogal geneig om jou geduld
te toets en die slegste in jou uit te bring, nie waar nie? Dink nou maar as
mens in die dokter se spreekkamer wag, of in die tou by die lisensiekantoor
– kort-kort maak jy seker hulle het nie van jou vergeet nie; die wag voel
soos ure, al is daar net 15 minute verby; soms raak ons sommer lekker
ongeskik as ons voel ons het nou te lang gewag, of ons staan op ons regte as
belangrike persoon wat nóú gehelp moet word; dit voel soos ’n mors van tyd
om so te wag; soms is die waggery net só lank dat jy moed opgee en huis toe
gaan. En ons almal weet dit gaan dikwels ook só met die waggery in ons
Geestelike lewe ... Wanneer Here? Hoe lank nog, Here? Maak gou, Here! Nóú
Here! is vrae en uitroepe wat ons maar te goed ken.
In die Afrikaanse Bybel word “wag op die Here” vertaal met vertrou op die
Here, hoop op die Here, smag na die Here, soek na die Here, kom tot rus by
die Here. Om op die Here te wag is dus nie net daai passiewe sit en wag soos
by die dokter nie, dis ’n bewustelike fokus op die Here, ’n aktiewe soeke na
meer van Hom in jou lewe, ’n oorgee aan Hom, ’n rus in wie Hy is, ’n vaste
geloof dat Hy in beheer is en ’n tevrede wees dat Sý tyd die regte tyd is.
“Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die
Here!” (Ps. 27:14) ~ Wilna Botha, 11/09/2015 |
|
Uitkamp
Op 6 Julie 1977 beland ek in Potchefstroom vir my diensplig en binne die
eerste uur kom jy agter dat daai plek nie vir sissies is nie. Behalwe vir 'n
klomp mal korporaals sien ek dat my huis waarin ek vir twee jaar gaan bly
van seil gemaak is, geensins stofdig is nie en ook nie altyd waterdig is nie,
en Potch se koue deur daai flappe sny soos 'n skerp mes. Boonop gaan ek daai
klein vertrek met 5 ander mense deel, of ek van hulle hou of nie.
Daar was regtig swaar tye
in daai tent met baie blootstelling aan die elemente, maar dit was darem 'n
dak oor die kop. Ek kon dit uithou, want ek het geweet ek gaan binne twee
jaar terug na my heerlike ouerhuis toe.
Net so vergelyk Paulus hierdie lewe met 'n tentlewe, wat in die hiernamaals
vervang sal word met 'n vaste struktuur, en dan moedig hy ons aan om vas te
byt, want die swaar van hierdie lewe sal plek maak vir die wonderlikste van
wonderlike lewe.
2 Kor 4:16
– 17
"Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om
te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in
hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op
'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly."
Kan jy sien dat Paulus erken dat hierdie lewe vol swaarkry is? Ja, ons
moet baie verduur en die lewe raak swaarder soos ons ouer word, maar die
swaar van hierdie lewe is tydelik.
2 Kor 5:1
Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent is, afgebreek
word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning wat nie deur
mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan. ~ Willem
Botha, 10/09/2015
|
|
Ek hoor nou die dag hierdie woorde in ’n liedjie: “Stop
die wêreld ek het seergekry; alles draai net om my.” Daar is baie van ons
wat al seergekry het, wat groot verlies gely het, wat terminaal siek is, wat
al ’n groot hoop slegte nuus gekry het. En is dit nie só dat dit dan voel of
alles tot stilstand gekom het in jou wêreld terwyl almal rondom jou nog
hulle gewone gang gaan, nog hulle normale dinge doen? Dis dan wanneer jy
dalk ook net wil uitskree: stop die wêreld! Jy wil hê alles moet op “hold”
wees en vir jou wag. So baie keer raak ons in sulke tye vreeslik
selfgesentreerd en wil hê dat almal ons moet jammer kry, almal moet die hele
tyd aan ons aandag gee en na ons toe uitreik. Dink bietjie vir ’n slag só
daaraan dat jou krisis jou weer kan “voorberei” om iemand anders te bemoedig,
om vir iemand anders raad te gee, om iemand anders se laste te help dra.
Moenie so in jou krisis-kokon toegespin word dat jy geleenthede mis waar jý
weer vir iemand anders iets kan beteken nie. Onthou: wanneer jy ’n lig vir
iemand anders aansteek, sal dit jou pad ook verlig. “Hy (Jesus) staan by ons
en help ons in al ons krisisse. Daarom kan ons ander mense help en troos
wanneer hulle swaarkry. Ons kan presies dieselfde troos met hulle deel as
wat God met ons gedeel het.” (2 Kor. 1:4, Die Boodskap) ~ Wilna Botha,
09/09/2015 |
|
In Matt. 14:28-32 lees ons hoedat Petrus so graag op
die water saam met Jesus wou loop. Hy kry dié onmoontlikheid reg, maar net
totdat hy bang word vir die sterk wind en die hoë golwe. Twyfel slaan toe en
hy begin sink. Sy ongeloof laat hom sink, maar sy geloof laat Hom uitroep na
Jesus: Here red my! Die Here het hom nie geïgnoreer of verwyt oor sy
kleingeloof nie, Hy het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp, hom uit
die diep water getrek en verder langs Hom laat loop . As jy voel jy sink,
of jou voete gly, of jou arms raak lam, of jou gedagtes raak ’n warboel,
onthou dat dít juis die tyd is om uit te roep na die Here. Sink-tyd, val-tyd,
gly-tyd is bidtyd. Dít is die tye wanneer die Here jou ongeloof verstaan en
Sy hand na jou uitsteek om jou te red. “Toe ek gedink het my voete gly, het
U troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste
sit, het U vertroosting my tot rus gebring.” (Ps 94:18-19) ~ Wilna Botha,
08/09/2015 |
|
Reseppies
Ek het 'n heerlike sjokoladekoek resep wat ek graag bak en hy
flop net eenvoudig nooit, en as jy op die skakel hieronder klik kan jy hom
gerus probeer. En ek daag die manne uit om hom te bak, dis VREESLIK maklik
en hy is 'n wenner. Solank jy die resep volg!
Ons lewe in 'n gebroke wêreld waar mense regtig sukkel om te
"cope", en dan is almal om jou dadelik by met 'n reseppie of twee. Doen dit
of dat en jou probleem is opgelos. So het prokureurs oplossings vir jou
regsprobleme, makelaars met jou geld probleme, en al wat 'n buurvrou is met
jou huweliksprobleme. Doen dit of dat en alles is reg. Ongelukkig is daar
ook mense wie se raad geweldige skade doen. Ek het al gesien hoe ouers
geknak word deur hulle kinders se beraders wat vir hulle vertel dat hulle
opvoeding die skuld moet kry vir hulle verkeerde keuses. Terwyl die ander
kinders in dieselfde gesin normaal funksioneer. Tot die kerk bied soms
reseppies aan wat lidmate moet volg en alles is in 'n oogwink reg. Maar die
lewe werk nie altyd so nie want hierdie lewe is ver te kompleks vir goedkoop
reseppies, en selfs die Bybel probeer nie vir elke ding 'n kitsoplossing
voor te stel nie.
Maar, daar is een teks wat jy maar gerus kan probeer, hoewel
die bedoeling nie noodwendig is dat alles nou volmaak sal wees nie.
Matt 11:28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is,
en Ek sal julle rus gee."
Soms wil iemand in 'n moeilike wedloop net 'n rukkie asemskep,
en so bied die Here vir jou soms 'n hawe om net bietjie jou kragte te herwin. ~
Willem Botha, 07/09/2015
Hier
is jou lekker sjokoladekoek resep. Volg die resep en smul. Klik hier >> |
|
Lente bring lewe
Soos ek hier sit en skryf val die eerste lentereën daarbuite en dis HEERLIK!
Die dor grond sien met verwagting uit na dit wat hierdie reën gaan
voortbring. Die grasperk is betyds voorberei met 'n bolaag met voedsel en
die reën is die laaste komponent wat moes by kom. Soos wat die reën op
hierdie oomblik op die grond val jubel potensiële lewe onder die grond en
binnekort sal die wêreld totaal anders lyk as 'n paar dae gelede.
Maar hoe dit gebeur weet ons nie.
Ons kan die proses beskryf, maar presies wat op mikroskopiese vlak gebeur is
bo my verstand. Dit gebeur net. Maar een ding weet ek: dis nie vanself nie
en dis nie toevallig nie, daar is 'n Skepper aan die werk.
Net so
bring die Gees nuwe lewe. Die mens kan dit nie verstaan nie, maar tog
vind wedergeboorte plaas by mense wat hulle harte vir die Here gee.
Nikodemus het gesukkel om hierdie wedergeboorte ding te verstaan, want
Hy kon nie die misterieuse werk van die Heilige Gees in die prentjie
inpas nie. Die punt is : Ons hoef dit nie te verstaan nie, ons kan dit
maar net waarneem. Net soos op die grasperk wanneer nuwe lewe deurbreek.
Ons hoef maar net die saad te saai, en die Here sal die res doen. Net so
beskryf Paulus sy Geestelike werk.
1 KORINTIËRS 3:6
"Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei"
~ Willem Botha, 04/09/2015
|
|
“If you cannot do great things, do small things in a
great way.” So het iemand eendag gesê. Ek sien baie keer dat mense graag
belangrike, groot bedienings in die kerk wil doen. Hulle wil báie mense
bereik en ’n gróót impak in die wêreld maak. Hulle wil groot gehore
toespreek, een-ton-trokke vol goed uitdeel en duisende mense na die Here toe
lei. Dis natuurlik nodig en daar ís mense vir die Here daardie werk gee,
maar die meeste van ons sal nie sulke asemrowende goeters bereik waaroor
almal praat en waaroor daar in tydskrifte en op TV berig word nie. Die
meeste van ons se name sal nie op almal se lippe wees nie. Wat wel belangrik
is, is dat ons dít wat ons doen met uitnemendheid sal doen, met oorgawe,
met ywer, voluit, sonder om beloning te soek en erkenning te verwag. Doen
jou klein dingetjies daar in die stilte, waar niemand sien nie, doen met
vreugde wat jou hand vind om te doen, maak ’n verskil vir een of vyf mense,
hou daarmee vol en die Here sal jou daarvoor beloon. “Oor min was jy getrou,
oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!” (Matt. 25:21) ~
Wilna Botha, 03/09/2015 |
|
Wat is die slaap 'n wondersoete ding...
'n Bekende gedig deur D. F. Malherbe. Slaap, die beloning na 'n goeie dag se
werk.
Na 'n dag se geswoeg en sweet met allerlei moeilikhede is dit darem lekker
om net so in die vergetelheid weg te sak. As jy so gelukkig is soos ek slaap
jy voor jou kop die kussing raak, maar dis nie vir almal beskore nie.
Sommige mense rol rond oor bekommernis oor hulle eie sake, en party mense
rol rond oor dinge wat dalk nie eers hulle eie probleem is
nie.
Dan is daar nog ander wat wakker lê oor verkeerde dinge waarmee hulle besig
is, dalk dinge wat by die werk onder verdenking is, of sommer 'n lewenswyse
wat net op kwaad uit is. Hulle slaap sleg.
Maar as jy dinge doen soos jy moet, hard werk en 'n aanwins vir jou
werkgewer is, en jou huishouding en sake alles goed en eerlik hanteer, slaap
jy goed. Ek hoop dis vir jou waar, want dan is hierdie teks net vir jou.
Ps 4:9 "Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want,
Here, U alleen laat my veilig woon... " ~ Willem Botha, 02/09/2015 |
|
In Matt. 22:1-14 lees ons die
gelykenis van die bruilofsmaal. Die koning het vir sy seun ’n bruilofsfees
voorberei. Toe alles gereed is, is die gaste laat roep, maar almal het die
een of ander verskoning gehad. Daarna het die koning sy slawe die strate
ingestuur om almal wat hulle sou teenkom uit te nooi, slegtes sowel as
goeies. Sjoe, dankie tog, dis hier waar ek en jy ook die uitnodiging na die
hemelse bruilof ontvang het. Dié wat dit aangeneem het, het by hulle aankoms
’n lieflike bruilofskleed ontvang, ’n fees-kleed, ’n uitrusting wat wys dat
jy as gas aanvaar is, maak nie saak of jy van die straathoek af gekom het,
of ’n “slegte” mens is nie. Daar was egter iemand wat gedink het dat hy kan
inglip sonder dié kleed aan. Waarskynlik was hy genooi, maar wou nie openlik
die uitnodiging aanvaar nie, hy wou nie erken dat hy ’n vriend van die
koning is nie. Sy hande en voete is vasgebind en hy is uitgegooi in die
diepste duisternis. God nooi ons uit na die hemelse bruilofsfees en Hy vergun
ons om “fyn, helder blink klere aan te trek” (sien Openb. 19:8), Hy gee vir
ons ’n volmaakte en silwerskoon bruilofskleed, ’n genade-kleed gewas in
Jesus se bloed, ’n gratis kleed wat al ons swakheid en sonde en skande
verberg. Aanvaar Sy uitnodiging en vier saam fees. ~ Wilna Botha, 01/09/2015 |
|
Spore
Ons almal laat spore agter ons in ons lewens. Party mense
trap diep spore in die samelewing en sommiges ploeter net voort. Party mense
se spore loop na al wat 'n verkeerde plek is toe en soms wil ons ons spore
doodvee, want dit sê so baie van ons karakter en gewoontes.
Die veldkenners kry sommer 'n klomp inligting uit 'n bok se
spoor: die ouderdom van die spoor, die rigting wat die bok beweeg, die tipe
bok, die spoed waarmee hy beweeg het, en nog heelwat meer inligting.
Die bok se spoor laat ook 'n reuk agter.
Nou ja, die harde realiteit is dat jou kinders jou spore sal volg, ook as jy
verkeerde paaie gevolg het, en dis bykans onmoontlik om dit altyd dood te
vee. Dus moet jy maar mooi loop. Mense loop so graag agter ander mense aan
deur vir hulle "idols" bymekaar te maak., maar dit hou nie lank nie.
So het mense in die lewe diep spore getrap, maar nie een soos Jesus Christus
nie. Sy spore het gehou en elke enkele toets en uitdaging van die tyd
deurstaan. En hy vra vir my en jou om in Sy spore te volg.
MATTEUS 16:24
Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy
homself verloën, sy kruis opneem en My volg".
Nie een mens op aarde wat hierdie besluit geneem het, was ooit spyt nie. En
jy en ek sal ook nie wees nie. ~ Willem Botha, 31/08/2015 |
|
“Die Here dink aan ons: Hy seën ...” (Ps. 115:12) Ons
wil almal hê dat die Here ons moet seën. As ons Paulus se briewe lees, sien
mens dat dit altyd eindig altyd met ’n seëngroet. Dis elke keer ’n gebed dat
die Here die leser sal seën met vrede, geloof, liefde en Sy teenwoordigheid.
Élke keer word genade as seën afgebid, bv. “Die genade van ons Here Jesus
Christus sal by julle almal wees!” (2 Tess 3:18) As die Here ons met Sy
genade geseën het, is dit genoeg! Baie keer seën Hy ons egter ook met
besittings, finansies, gebedsverhoring, gehoorsame kinders, wonderlike
vriende, gesondheid, ens. Onthou, ’n groot reënbui begin altyd met ’n enkele
reëndruppel. So is dit ook met die Here se seën – om strome daarvan te
ervaar en raak te sien, moet ons druppel vir druppel raaksien, ontvang en
waardeer. Daar is ’n ou liedjie wat so lui: “Strome
van seën, gee van U volheid ons weer, reeds val die druppels gedurig; skenk
ons die strome, o Heer!” Mag die Here jou seën! ~ Wilna Botha, 28/08/2015 |
|
Glory game
Ons het gisteraand die fliek "Glory game" gaan kyk. Dis die
dokumentêre film van Joost van der Westhuizen en sy siekte genaamd Motor
Neuron siekte. 'n Skitterende fliek van hoop, veg, oorlewing en dan ook die
hartseer kant van tyd wat uitloop. In 2011 het die dokters hom twee jaar
gegee, maar hy veg steeds voort na vier jaar.
Die kern van die film vir my was die harde realiteit dat mens
soms deur 'n traumatiese gebeurtenis moet gaan om te besef hoe kosbaar LEWE
is. LEWE, nie net bestaan nie. Asemhaal is maklik, LEWE is 'n kuns.
Een van Joost se begeertes is om sy kinders te sien grootword,
maar ons weet nie wat hom beskore sal wees nie. Maar ek, sover ek weet, is
vir nou okay. Maar wat maak ek daarmee? Maak ek 'n verskil in ander se
lewens? Is ek iets werd vir die Here in terme van Koninkrykswerk? Gee my
lewe vir ander hoop? Vir wie beteken ek die meeste?
Wel, hier is 'n toets :
Wie "score" die meeste uit jou lewe? Jou gesin en familie?
Die Here? Of dalk jou baas?
Ek vrees oor die antwoord!
En as jou Glory Game se einde dalk wink, wie sal dan voorkeur
kry? Ek dink ek ken daai antwoord. Lewe vandag vir dit wat die belangrikste
is, solank jy dit het. Ons lewe so 29000 dae as ons 80 jaar sou bereik, maak
soveel moontlik van dit wat oor is.
CARPE DIEM! ~ Willem Botha, 26/08/2015 |
|
Probeer altyd om verby jou omstandighede na die Here te
kyk en nie déúr jou omstandighede nie. Jou omstandighede is geneig om die
beeld van die Here te vertroebel en te buig. As jy deur jou probleme kyk,
gaan hulle groter lyk as wat hulle regtig is, gaan hulle jou oorweldig en
jou paniekbevange en bang maak. As jy egter direk na die Here kyk sal jy
sien dat Hy altyd teenwoordig is, dat hy getrou en regverdig is, dat Hy
genadig en liefdevol is, dat Hy uitkoms gee, dat Hy vir jou sorg, dat Hy jou
na groen weivelde dra, dat Hy vrede gee wat alle verstand te bowe gaan. Daar
is mos ’n uitdrukking wat sê: moenie vir die Here vertel hoe groot jou
probleem is nie, sê vir jou probleem hoe groot jou God is. Niks wat vandag
met jou gebeur sal vir die Here ’n verrassing wees of Hom onkant vang nie –
Hy is reeds dáár en Hy ís groter as enige struikelblok waarvoor jy te staan
kan kom. Leef met hierdie sekerheid in jou hart en hou jou oë op Hom. “Turn
your eyes upon Jesus, look full in His wonderful face, and the things of
earth will go strangely dim, in the light of His glory and grace.” ~ Wilna
Botha, 26/08/2015 |
|
Segen Vader segen
sop...
Hoe gereeld bid jy
die volgende: “Seën hierdie voedsel aan ons liggame Vader, en maak ons opreg
dankbaar daarvoor. Amen.”
Lekker kort gebed, werk elke keer, chop chop afgerammel. Maar wat beteken
dit regtig? En dan daarby : seën die hande... Net 'n gewoonte? Moontlik
ja, maar ten minste 'n goeie gewoonte.
Maar kom ons probeer
vandag, al is dit net een dag, om te dink wat dit beteken om daardie bord
kos voor jou te hê en ons bid seën af op meer rolspelers.
Here, seën asb:
Die mense in die supermark wat my bedien het. Die rakpakkers wat vir my
bitter min geld werk en die tellers wat BAIE laat by die huis kom omdat ek
tot 8 uur vanaand wil koop.
Die trokdrywers wat my so frustreer op die pad omdat ek vinniger wil ry,
maar hulle ry die kos na die winkels toe aan.
Die werkers wat die kos in fabrieke verwerk, nagte deur dat dit vars
verkoop kan word, dikwels onder haglike omstandighede.
Die plaaswerkers wat swoeg in die warm son en vir 'n karige minimum loon
werk.
Die boer wat met geweldige risiko's worstel, wat afhanklik is van die regte
weer en wie se lewe minder werd is as sy bakkie of selfoon. Hy wat wakker
lê omdat dit bitter moeilik raak om winsgewend te boer, en boonop is sy
eiendom deesdae in gedrang.
Die maatskappye wat saad en kunsmis verskaf.
Die universiteite waar jong boere opgelei word.
Ja, so kan ons aangaan, die voedselketting is lank en BAIE meer mense werk
aan jou bord kos as net jyself. Sê so bietjie vir die Here dankie vir al
hierdie mense, en sommer vir jou (dalk goor?), baas ook.
Lekker smul! ~ Willem
Botha, 24/08/2015 |
|
“Gratitude. It turns what we have into enough.” Dis wat
vandag onderaan my dagboekbladsy staan en wat my diep laat dink! Gratitude
is mos om dankbaar te wees, om erkenning te gee, om waardering te hê vir
iets en waardering te betoon aan iemand. Die Here verwag ook van ons om
dankbaar te wees: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God
in Christus Jesus van julle verwag.” (1 Tess. 5:18) Ons moet onsself daaraan
herinner en onsself inspan om dankbaar te wees, nie net teenoor die Here nie,
maar ook teenoor jou man, jou kinders, jou baas, jou vriende, jou tuinwerker
ens. Ek dink dit sal help om te fokus op wat jy het en daarvoor dankbaar te
wees – hopelik sal jy dan sien hoe gelukkig, bevoorreg en welaf jy is. As jy
sit en tob oor wat jy nié het nie, gaan jy onvergenoegd en negatief voel en
gaan jy dalk ’n ondankbare suurknol word. Sien die Here se genade in
alledaagse dinge raak en spreek jou waardering daarvoor uit. Jy sal vind dat
Sy genade genoeg is. As jy dálk voel jy het niks om voor dankbaar te wees
vandag nie, wees dan ten minste dankbaar vir die suurstof wat jy op die
oomblik inasem! ~ Wilna Botha, 24/08/2015 |
|
The truth, the whole truth, and nothing but the Facebook
truth...
Facebook is amazing! Dit laat mense die snaaksste dinge sien
en glo! Ek verstom my oor die nonsens wat mense so goedsmoeds vir soetkoek
opeet, glo en met almal deel, sonder om vir 'n oomblik te dink of dit waar
is en sonder om die "feite" te toets. Die share knoppie wys soms so ietsie
van ons goedgelowigheid.
Maar tog ook verstommend hoe mense sukkel om die Woord van God te glo. Die
Bybel het tot vandag toe
elke enkele aanslag deurstaan, en tussen al die duisende elemente en feite
kon nog geen enkele iets verkeerd bewys word nie.
Ek het lank gewonder hoekom dit so is, totdat ek besef het dat dit iets
persoonlik vra om die Bybel se inhoud te glo. Dit vra dat ons 'n keuse maak,
om iets agter te laat en iets nuuts aan te pak. Dit vra vir 'n verhouding,
dit vra dat ons elke dag moet verander. Ons moet egter net vasstaan in ons
geloof.
2 Tim 3:14
"Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. " ~ Willem Botha,
20/08/2015 |
|
Ek
het verlede week ’n bos blomme by my seun gekry (gelukkige ek – oulike seun!)
Na ’n dag of drie het dié lelies begin oopmaak en ’n lieflike prentjie
gemaak. As ek so vir hulle kyk, wonder ek by myself, hoe kan daar soveel
mooi binne-in daai bleek knop skuil en hoe kan daai ongelooflike
transformasie in enkele ure plaasvind? Dit het my laat dink dat mense ook
maar so is en ons hulle partykeer net as die bleek knop sien, onbewus van
die potensiaal wat daar dalk opgesluit lê binne-in hulle. Ek wil myself
sommer net weer herinner dat daar in almal iets mooi en iets goed móét wees
en dat ek geduldig moet wees totdat die bleek knop oopgaan en die ware
binnekant sigbaar word. Die Here het elkeen van ons aanmekaar geweef,
volmaak geskep tot in die fynste detail – nóg baie meer as hierdie pragtige
lelie. Lees Ps. 139:13-14 en vervang “my” met die naam van iemand met wie jy
dalk al wil opgee en bid dat hy sal ontluik en sy volle potensiaal sal
bereik. “Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder
het U my gevorm. Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U doen
wonderlike werk. Ek weet dat U groot dinge kan doen.” ~ Wilna Botha,
20/08/2015 |
|
Na waters waar rus is...
Ps 23:2
"Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is,
lei Hy my heen."
Ek dink jy ken hierdie BAIE bekende woorde uit Ps 23 in die
1953 vertaling baie goed, en dalk laat net hierdie enkele teks vir jou ook
sommer rustig voel na 'n moeilike dag. Die wêreld van vandag is 'n harde
plek, die meeste mense werk nie lekker nie, en huistoekomtyd het soms ook sy
eie uitdagings. En dan voel mens soms jy wil net so bietjie wegvlug.
Dis die Here se uitnodiging vir jou, en dalk het jy dit nou
baie nodig. Lê so bietjie terug in Sy arms, sluit net jou kop af vir 'n
rukkie, en herinner jouself daaraan dat die Here sommer baie lief is vir jou.
Rus in sy arms en sê vir jouself : Alles gaan okay wees. ~ Willem Botha,
19/08/2015 |
|
Na aanleiding van die stukkie wat ek gister geskryf
het, nl. dat Jesus alreeds die vyand oorwin het en ons nie hoef te veg in
die Geestelike oorlog nie, maar slegs weerstand moet bied, het ek weer
gedink oor Ef. 6:10-17 waar mens lees van die wapenrusting wat ons as
Christene moet aantrek. Daar lees ons ook dat ons op ons pos moet bly (naby
aan die Here, volhard in geloof) en weerstand moet bied teen die vyand. Die
dele van die wapenrusting wat genoem word, dui na Jesus en wat Hy rééds
gedoen het: die sekerheid dat Hy vir ons sonde betaal het, die wete dat ek
vrygespreek is en die redding wat Hy uit genade vir ons gee. Ons geloof in
hierdie waarheid en in die Woord van God is dié dinge wat ons laat vasstaan
en weerstand bied in enige aanval wat die vyand op ons kan hê. “Wees nugter,
wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu ...
Bly standvastig in die geloof en staan hom teë.” (1 Pet. 5:8) Deur ons
geloof in die oorwinning wat Jesus reeds behaal het, kan ons weerstand bied
– Sy oorwinning is afgehandel en voldoende! ~ Wilna Botha, 18/08/2015 |
|
In Openb. 19 lees ons van die Ruiter op die wit perd,
die Een met baie heerserskrone, die Getroue en Betroubare, die Koning van
die konings, die Here van die heersers, die Een wie se klere met bloed
deurweek is. Dit is Jesus van wie hier gepraat word. Sy klere is met bloed
deurweek, Sý bloed waardeur Hy die oorwinning behaal het oor die vyand. Dit
is reeds gedoen, klaar afgehandel. Geeneen van Sy volgelinge se klere is met
bloed deurweek nie, want Hy het in ons plek geveg en gewen. Ons hoef nie
self te veg teen die vyand nie. Wanneer ons die wapenrusting aantrek is dit
nie om te veg nie, maar net om weerstand te bied. Ons hoef nie deel te neem
aan die Geestelike oorlog nie, ons hoef net op ons pos te bly, getrou aan
die Here bly, te volhard in ons geloof, seker te wees van ons verlossing in
Jesus en vasstaan op Sy Woord. “... die oog gevestig op Jesus, die Begin en
Voleinder van die geloof.” (Heb 12:2) ~ Wilna Botha, 17/08/2015 |
|
So ietsie vir die manne...
Ek hoor eendag hierdie pragtige beeld: Die man is
die spieël waarin sy vrou haarself sien.
Dit het my nogal aangeraak, want ek het besef dat
my woorde, lyftaal, reaksies en kommunikasie met my vrou, bepaal wat sy van
haarself dink. Sjoe!
Dis nie net negatiewe woorde wat afbreek nie, 'n
totale gebrek aan woorde kan soms nog erger wees, want om iemand te ignoreer
beteken vir daardie persoon dat daar niks in die spieël reflekteer nie en sy
nie eers bestaan nie. Ons mans weet presies hoe om kwetsend te wees met
woorde, vernaam as ons die uiterlike aanval, soms onder die vaandel van 'n
grappie. Maar boeta, ons maak seer met woorde, maar vanaand wonder ons
hoekom vroulief so effe koel voorkom en alweer hoofpyn het.
Die teendeel het egter 'n wonderlike effek. Hoe
meer 'n vrou hoor sy is mooi vir haar man, en hoe meer sy hoor sy is die
beste, hoe mooier word sy, want dis lekker om voor daai "spieël" te staan.
Die woorde : "Ek is lief vir jou", beteken BAIE meer as die bloesie wat sy
maar mag koop.
Soek jy woorde meneer? Gebruik sommer hierdie uit die Bybel uit :
Hooglied 6:4 "My liefling, jy is so mooi
soos Tirsa, so aantreklik soos Jerusalem, so indrukwekkend soos 'n afdeling
vaandeldraers." ~ Willem Botha, 13/08/2015 |
|
Selfkastyding
Ek is oortuig daarvan dat jy ook al SO spyt en
platgeslaan was oor jou eie foute (en sondes) dat jy net nie oor dit kan kom
nie. Dinge wat jy aangevang het, of gesê het of wat net gebeur het wat jou
laat glo dat die Here dit net nooit sal vergewe nie, want jy kan jouself nie
vergewe nie.
En dan probeer ons met nog en nog vergifnis-vra, of deur allerhande dinge te
doen, om die saak ongedaan te maak. Nie eers te praat van die selfkastyding
nie. Wel my vriend,
moenie glo dat die Here aan die "swakheid" van onvergewensgesindheid ly,
omdat ek en jy daaraan ly nie.
Die Here het die laaste woord hieroor, so, ons kan dit net
sowel aanvaar en aangaan met die lewe. En as jy weer en weer val? Dan staan
jy weer en weer op en probeer weer en weer.
Hebr 10 : 17 - 18
Dan sê Hy verder: “Aan hulle sondes en hulle oortredings sal
Ek nooit meer dink nie. Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor
meer nodig nie." ~ Willem Botha, 12/08/2015 |
|
Ons
het gisteroggend op hierdie baie mistige paadjie beland en hoe vêrder ons
geloop het, hoe digter het die mis om ons saamgepak. As jy voor jou kyk,
sien jy glad nie waarheen jy op pad is nie, maar as jy vir jou voete kyk,
sien jy heeltemal genoeg van die paadjie om die volgende paar tree te gee.
’n Entjie terug was daar darem ’n bordjie wat gewys het dat die dorp in dié
rigting lê waarheen ons op pad was, maar van die dorp was daar níks in sig
nie, al het ons geweet dit is daar. Dit het my onwillekeurig laat dink dat
die lewe ons ook soms op so ’n paadjie laat beland waar ons nie eintlik kan
sien waarheen ons op pad is nie, ons weet nie waar dit gaan eindig nie, ons
weet nie hoe vêr ons nog só in die mistigheid moet sukkel nie. Die beste is
dan mos maar om net hier rondom jou te kyk waar daar genoeg lig en genoeg
sekerheid is om die volgende tree of drie te gee en daarmee vol te hou
totdat jy by die eindpunt is. Vertrou dat die Here altyd vir jou genoeg lig
en genoeg wysheid en genoeg deursettingsvermoë sal gee vir die volgende
tree. Al sien jy nog nie einde van vandag se donker pad nie, is daar ’n
einde en is die Here daar om jou te help. Hier is die Here se belofte: “Ek
laat die donkerte voor hulle in lig verander. Ek verander die pad wat vol
slaggate is in ’n gladde pad. Ek gaan dit doen. Ek sal hulle nie in die
steek laat nie.” (Jes. 42:16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 11/08/2015 |
|
Ek is ook partykeer soos die
Fariseërs wat dink dat daar sekere mense is wat nie die Here se genade werd
is nie. Hulle was mos verontwaardig omdat Jesus saam met tollenaars en
prostitute, sondaars en slegte mense gekuier en geëet het. Hulle kyk net na
die uiterlike en besef nie hoe groot die Here se genade en liefde is nie ...
dalk omdat hulle self nie sy genade en liefde ken nie. Ek kyk ook dikwels na
mense en dink: nee wat, jy is té sleg, té vêr weg, té vuil, jy het té veel
kere die Here gevloek, té veel sonde gedoen, daar kan nie meer genade vir
jóú wees nie. En tog glo ek as Jesus nou op aarde was, is dit die plekke
waar ons Hom sou sien – tussen die wat deur ons afgeskryf word, tussen die
wat Sy genade baie nodig het. Jesus sê in Luk. 15 dat Hy nege en negentig
skape sal los om een verlore en verdwaalde skaap te gaan soek en dat daar
groot blydskap in die hemel sal wees oor die een sondaar wat bekeer het. Hoe
belangrik is dit vir jóú dat verlore skape gevind word? Breek dit jou hart
as jy dink dat iemand dalk sonder die Here kan sterf? Maak dit jou bang om
te dink dat daar van Sy skape is wat nog buite in die koue is, sonder die
Herder se liefde, sonder sy redding, verlore vir ewig? Kom ons wees weer
vrygewig met genade, kom ons deel weer die boodskap van Jesus se liefde en
vergifnis met nuwe ywer. ~ Wilna Botha, 07/08/2015 |
|
Plant 'n boom
'n Klompie jare gelede wys 'n vriend van my vir my
'n klein boompie wat hy op sy plaas geplant het. Die boom groei verskriklik
stadig en ek het vir hom gevra hoekom hy so 'n boom plant, want hy gaan hom
nooit in sy lewe groot sien nie. Sy antwoord het my absoluut verras. Hy het
gesê : "Willem, ek het genoeg vertroue in die Here dat hy hierdie land van
ons sal seën, en ek glo my kinders en kleinkinders sal hierdie boom se
skaduwee geniet."
Het jy genoeg vertroue in die Here dat Hy hierdie
volgende teks waar sal maak in Suid-Afrika?
Jer 29:11-13
"Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed
nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! Dan sal julle My
aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my
wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. "
Plant 'n boom, al gaan jy nooit die eindresultaat sien nie. Dis ware geloof!
~ Willem Botha, 06/08/2015 |
|
Ek sien baie keer dat wanneer iemand in ’n krisistyd is
of die een of ander trauma beleef het, dit sy karakter verander. Iemand wat
altyd so opgewek was en ná ’n egskeiding so verbitterd is, so negatief is
dat sy mondhoeke heeltyd ondertoe kyk. Iemand wat altyd hoopvol en positief
was en na die een of ander verlies sommer net moedeloos is en nie kans sien
vir die lewe nie. Iemand wat altyd selfversekerd en tevrede was en na ’n
huisbraak of kaping vreesagtig en haatdraend word. Ek wil vandag by jou
pleit: moenie dat jou probleme jou persoonlikheid verander nie, tensy dit
ten goede is. As jou swaarkry jou karakter verander, laat dit dan wees hoe
die Here jou vorm in hierdie tyd, hoe jy meer op Hom vertrou, hoe jou
dankbaarheid groei, hoe jou geloof toeneem. Daar word mos gesê: “Give God
your pain en let Him turn it into gain “ en “Make a message out of your
mess.” Rom 5:3-4 uit die Boodskap lees: “Al kry ons nou baie swaar, vat dit
glad nie ons blydskap weg nie. Alles behalwe. Ons weet mos dat swaarkry ons
vorm en slyp om nog meer op God te vertrou. En wanneer ons onverskrokke op
God vertrou, help dit ons om ’n sterk Christelike karakter te vorm.” ~
Wilna Botha, 05/08/2015 |
|
Waar was jy?
Ons as mensdom kan onsself darem maar vreeslik slim hou. Ons
maak so maklik Geestelike uitsprake, ons sê vir mekaar hoe die Here oor sake
dink, ons praat soms sommer namens die Here met ander en ons profeteer selfs
oor ander, sonder om seker te wees dat daardie woorde regtig van die Here af
kom. En meer nog, ons is regtig soms sommer uitdagend teenoor die Here.
So het Job hom ook vasgeloop in 'n redenasie met God.
Job 38 : 1 - 10 " Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n
stormwind uit: Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met
woorde wat getuig dat hy geen insig het nie? Maak jou reg vir die stryd: Ek
sal vra, antwoord jy My. Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê
het? Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet? Weet jy dit?
Wie het 'n maatlyn oor hom gespan? Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie
het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al
die hemelinge gejubel het? Wie het die see opgedam toe hy begin uitborrel
het? Ek het hom met wolke bedek, hom met donkerte toegemaak. Ek het vir hom
perke gestel, hom agter slot en grendel gesit."
Ek dink die Here sal sommer dadelik my onverdeelde aandag kry
as Hy my so konfronteer. In hierdie gedeelte kom ek net weereens tot die
besef dat God 'n soewereine God is.
Hy hoef my nie te antwoord nie, maar tog doen Hy dit.
Ons is biljoene mense op aarde, maar tog ken Hy my naam.
Al verdwaal ek soms, kom haal Hy my weer.
Hy wil my by Hom hê, al hol ek weg soos Jona.
Al klink dit heeltemal absurd, was my lewe meer vir Hom werd
as Sy enigste Seun s'n. ~ Willem Botha, 03/08/2015 |
|
“En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus
wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in
die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”
(Gal 2:20) Ek kan maar net glo en vertrou op wat die Here bereid en in staat
is om vír my te doen en nie op wat ek bereid en in staat is om vir Hom te
doen nie. My beste dade is eintlik nooit goed genoeg nie. My eie krag en eie
wysheid en eie vermoëns is onvolmaak en nie noodwendig iets om op trots te
wees nie. Omdat Christus ín my lewe, word Sy karakter deel van my, word Sy
woorde deel van my, word Sy krag en Sy oorwinning deel van my en het ek ’n
heel nuwe plan waarvolgens ek dinge doen, ’n heel nuwe doel waarvoor ek lewe
... meer van Hom, minder van my. ~ Wilna Botha, 03/08/2015 |
|
Fed-up!
Was / is jy dalk ook al op tyd in jou lewe dat jy net op gesukkel is? Niks
wil werk nie, jy het alles probeer maar dit bly 'n gemors. Ek is seker die
meeste mense kan daarvan getuig. Vernaam as die besigheid nie wil werk nie,
of jou CV al na soveel plekke toe gestuur is en niks gebeur nie.
Na Jesus se kruisiging gaan die dissipels terug na hulle visvang lewe, en
hulle was dalk erg ontnugter omdat drie goue jare van hoop en verwagting
skielik tot stilstand kom. Dan lees
ons in Joh 21:1- 11 dat die dissipels gaan visvang en niks gebeur nie, nie
een vis beland in die nette nie. Dan verskyn Jesus aan hulle, maar hulle
herken Hom nie, wanneer Hy vra : Het julle al iets gevang? Nee, antwoord
hulle. Dan maak Hy hierdie vreemde voorstel : Gooi die net aan die anderkant
uit, en daar vang hulle so baie visse dat die nette wil skeur. 153 groot
visse!
Ek sien so
paar dinge in hierdie gedeelte:
1) Moenie ophou glo nie. Die Here kan enige situasie in 'n oogwink
verander. Jou huwelik, werk situasie, gesondheid, finansies.
2) Walk by faith, not by sight. Geloof beteken om te glo en vertrou
sonder om te sien.
3) Gooi die net aan die anderkant uit. Die afstand van die een kant vd
boot tot die anderkant was 'n paar meter. Dalk is jou oplossing nie ver
nie, dalk nie iets drasties nie, net 'n weer probeer.
4) Kry die net in die water. Met die net in die boot vang mens niks!
Weer probeer, hard probeer, vasbyt, uithou en aanhou.
Sterkte! ~Willem Botha, 31/07/2015
|
|
“Trust is like a sticker. Once it is removed, it may
stick again, but not as strong as it holds when you first applied
it.” Dié aanhaling is tog só waar! As iemand eers een maal vir jou
gejok het, dan wantrou jy hom maklik. As iemand jou eers eenmaal in
die steek gelaat het, sal jy nie sommer weer op hom staatmaak nie.
As iemand ’n fout gemaak het, dan sal jy volgende keer dubbel seker
maak van die akkuraatheid van sy werk. As jy iemand eenmaal
uitgevang het op ’n misstap, dan gaan jy hom in die toekoms met
valkoë dophou. Laat ons mekaar tog maar vergewe en weer vir daai
“sticker” bietjie ekstra gom opsit om hom te laat plak. Aan die
ander kant wil ek só leef dat my ja ja is en my nee nee, sodat ek
mense om my se vertroue kan behou en hulle nie teleurstel nie, sodat
die “trust sticker” wat my naam op het sal bly sit. ~ Wilna Botha,
30/07/2015 |
|
Iemand sê nou die dag dat wanhoop, woede en wetteloosheid aan die
orde van die dag is ons tyd. Ek het aanhou dink oor dié drie w’s.
Waarom sou mense se hoop verdwyn het? Is dit dalk omdat hulle op die
verkeerde dinge hoop? Hoop hulle dalk net op wat hulle vir hulleself
kan bewerk met hulle eie verstand en hulle eie sterk hande? Waarom
is daar so baie woede wat oorgaan in skree en skel en klap, waarom
word verskille nie rustig aangespreek en opgelos nie? Is dit dalk
omdat innerlike vrede ontbreek? Is dit dalk omdat die eie ek so
groot en sterk is dat ék alleen reg is? Is dit omdat mense weier om
die minste te wees en mekaar te vergewe? Waarom word reëls en wette
links en regs geïgnoreer? Is dit dalk omdat ons nie meer respek het
vir gesag nie? Is dit dalk omdat mense dink hulle is verhewe bo
reëls en mag maar maak soos hulle wil? Is dit dalk omdat mense nie
meer omgee vir ander se lewens en ander se besittings nie? Ek
wonder: is dié drie w’s dalk aan die orde van die dag omdat ons ons
rug op die Here en sy woord gedraai het? “Kom terug na die Here
julle God toe. Hy is vol goedheid en Hy kry mense gou-gou jammer. Hy
is nie haastig om te straf nie, Hy is vol liefde vir mense. Hy is
bereid om sy straf terug te trek en mense te vergewe.” (Joël 2:13) ~
Wilna Botha, 29/07/2015 |
|
God's not dead...
Of is Hy / hy?
Richard Dawkins, waarskynlik DIE aarts-ateis van alle tye, het in 2008 'n
veldtog geloods teen Christenskap met die volgende slagspreuk op busse in
Londen :
"There's probably no god. Now stop worrying and enjoy your life"
Goeiste, het jy al sulke twyfel by SO 'n invloedryke ateïs
gesien? PROBABLY??? Is jy ernstig Mnr Dawkins? Kon hy rêrig nie sê:" Relax,
there is no god" nie? Hy wat boeke soos "The god delusion" en vele ander,
geskryf het. Ek sien 'n interessante ding gebeur by die nuwe, hedendaags
bewegings wat hulleself so openlik teen Christenskap uitspreek: Hulle
spandeer ONGELOOFLIK baie tyd aan iets waaraan hulle klaarblyklik nie glo
nie! Ek verstaan dit hoegenaamd nie!
Ons het 'n skitterende fliek gaan kyk met die titel "God's not dead". 'n
Uitstekende fliek oor Christenskap, wat nogal deur Ster Kinekor vertoon word
in gewone teaters. Dit gaan oor 'n professor in Filosofie ('n ateïs) wat 'n
jong Christen student uitdaag om te bewys dat daar 'n God is, en hoe die
studente self moet besluit of God dood is of nie. Regtig die moeite werd om
te sien!
Wat sê jy? Is God regtig nog lewendig, vir jou? Twyfel jy soms, soos ek vele
kere al het? Maar weet jy, net EEN uitroep na Hom en Hy sal Homself weereens
aan jou openbaar.
GOD'S NOT DEAD!!! ~ Willem Botha, 28/07/2015 |
|
Vriende
Ons sien onlangs 'n baie goeie fliek oor 'n paar vriende wat
'n miljoenêr ontvoer vir 'n losprys, maar vinnig-vinnig versuur
dinge toe die geld in die prentjie kom.
Die ryk man wat ontvoer is sê toe 'n baie waar ding vir die
leier van die groep :
"There are a few ways to be rich; you can either have a lot
of money, or you can have good friends, but you can't have both ".
Baie waar woorde.
Die Bybel gee vir ons 'n paar tekste wat dinge mooi opsom.
Spr 17 : 17 "Op 'n vriend se liefde kan jy altyd reken, jou broer is
daar met die oog op jou nood"
Spr 27 : 10 "Moenie by 'n vriend wat al jou pa se vriend was,
verbygaan na jou broer se huis toe as jy moeilikheid het nie. 'n
Buurman wat naby is, is meer werd as 'n broer wat vêr is."
Spr 24 : 26 "Iemand wat eerlik antwoord, is 'n ware vriend."
Spr 18 : 24 "Maats kan jou breek, maar daar kan 'n vriend wees wat
nader is as 'n broer."
Spr 22 : 11 "Wie daarop prys stel om opreg te wees en vriendelik te
praat, het selfs die koning tot vriend."
Ek dank die Here vir vriende wat aan al hierdie dinge voldoen. En
nog meer, dat my vrou en kinders my beste vriende is. ~ Willem
Botha, 27/07/2015 |
|
Sien ek nou die dag in ’n winkel ’n Ferrari
modelkar, seker so 50 cm lank. Raai teen watse prys? ’n Hele
R100 000,00! Ja, eenhonderd duisend rand! Vir daai bedrag wil ek
sommer ’n groot kar koop wat regtig kan ry! Ek het toe gewonder ...
wie betaal nou so ’n bedrag geld vir iets wat op ’n rak gaan staan?
En hoekom sal hy dit doen? Ek wonder toe ook ... hoeveel vakansies
in ’n jaar is genoeg? Hoeveel pare skoene? Hoeveel vleis in die
vrieskas? Is dit regtig nodig dat daar ’n sekere naam op jou
horlosie of op jou hempsak of onder jou borde moet staan? Wanneer is
genoeg genoeg en wanneer word die grens oorgesteek na oordadigheid?
Gulsigheid en gierigheid is dinge waarteen die Bybel waarsku. Die
gejaag om meer en meer geld en goeters te bekom, oordadigheid,
opgaar, materialisme, uitspattige weelde en luuksheid kan gevaarlik
wees. Dit kan verhoudings vernietig, jou laat neerkyk op ander en
jou dalk hoogmoedig maak. Die probleem hiermee is verder dat dit
nooit volledige bevrediging bring nie, dat jy altyd na meer sal smag,
dat jy kan dink dat jy die Here nie meer nodig het nie, dat dit jou
gesondheid onder druk plaas en uiteindelik kan lei tot
selfvernietiging. Natuurlik kan dit alles ook in ’n oogwink
vernietig word. Vra maar vir die ryk dwaas wat nog en nog skure
gebou het vir al sy graan en toe dood is voordat hy alles kon geniet
en benut (Luk. 12:16-21). Of vra vir Prediker. Hy het bymekaargemaak
totdat hy die rykste was en toe besef het dat alles maar net ’n
gejaag na wind is, dat niks in hierdie wêreld bevredig nie. (Sien
Pred. 2:11) Jesus sê in Luk. 12:15: “Pas op en wees op julle hoede
vir elke vorm van gierigheid, want ’n mense se lewe is nie afhanklik
van die oorvloed van sy besitting nie.” Wat is vir jóú die
belangrikste? ~Wilna Botha, 24/07/2015 |
|
Super judges
Wat maak 'n goeie regter? Ek neem aan dis as die regter die
wet op die punte van sy vingers ken, heeltemal onpartydig is en as
hy nie toelaat dat emosies sy besluite beïnvloed nie. Wanneer
uitspraak in 'n regstryd gemaak word, is die wet en die toepassing
daarvan seker die heel belangrikste.
Matt 7 : 1 - 2
“Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie;
met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle
geoordeel word, en met dieselfde
maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word."
Hierdie is 'n baie ernstige teks in die Bybel, en ek oortree elke
dag van my lewe. ELKE DAG!
Dis net gelowiges wat oordeel, want gelowiges het 'n wet waarteen
hulle kan meet, terwyl ons hierdie genoemde in die Bybel teks het,
wat ons juis daarteen waarsku. Wanneer 'n regter in 'n hof 'n
uitspraak maak, kan hy nie die liefde vir die mensdom in ag neem nie,
die wet kom eerste. Wanneer God aan die werk is kom die liefde voor
die wet.
En dis net hier wat ek vou. Ek oordeel op grond van die wet, die wet
wat ek die minste van almal kan onderhou. Wanneer ek dus met liefde
na mense kyk soos ek veronderstel is om te doen, sal die drang om te
oordeel verdwyn. ~Willem Botha, 23/07/2015 |
|
Ek lees nou die dag hierdie mooi woorde: “To
walk faithfully with God will always bring a person to experience
God’s laying His heart over his. He lays his heart over our heart
and holds us tenderly, loving us as we trust Him for what we cannot
see.” Mens kom baie keer in ’n probleem-tydperk, swaarkry-tydperk,
onseker-tydperk, pyn-tydperk waar jy net kan vashou aan die hoop dat
die Here in beheer is en dat Hy weer vir jou uitkoms sal bring, dat
Hy soos vir Abraham en Isak, ’n ram op die regte tyd sal voorsien.
Wanneer ons bly vertrou en glo dat God die pad saam met ons stap,
wanneer ons bly hoop en glo dat alles vir ons ten goede sal meewerk,
al kan ons nog nie die uitkoms sien nie, sal ons hierdie ervaring hê
dat Hy ons innerlik sterk maak, dat Hy beheer neem van ons emosies
en aan ons Sy vrede gee wat alle verstand te bowe gaan. Mag jy
vandag troos ervaar wanneer jy voel hoedat die Here se hart oor jou
hart kom lê. ~ Wilna Botha, 22/07/2015 |
|
Vergewe my
".. en vergeef ons oortredings, soos ons die vergewe wat teen ons oortree"
Bekende woorde uit die Onse Vader gebed. Met hierdie woorde leer Jesus Sy
dissipels om vergifnis te vra, maar ook om te vergewe. Maar hoekom moet ons
vergewe, of vergewe word?
Kom ek vra 'n moeilike vraag : Kan iemand wat
selfmoord pleeg in die hemel kom? Ongelukkig is daar mense wat uitsprake
maak wat nie waar is en geweldige pyn veroorsaak na so 'n tragedie. Die
gedagte is dan dat jynie
tyd gehad het om vergifnis te vra nadat die "moord" gepleeg is nie. Nou vra
ek jou, is jou vergifnis - vra op datum, of het jy dalk iets vergeet? Of is
daar onbewustelike sondes?
Jy sien, mense verwar vergifnis vra met bekering. Wanneer ons tot bekering
kom is ons sondes wat was, is en wat kom vergewe. Ons LEEF in Jesus se
vergifnis omdat Sy bloed ons skoongewas het. Ons sondes diskwalifiseer ons
nie van die hemel nie en sondeloosheid gee nie vir ons toegang daartoe nie.
Net so kom ons nie van vooraf tot bekering as ons vergifnis vra nie.
Nou, hoekom dan vergifnis vra? Kom ons sê ek het my vrou kwaad gemaak of
benadeel, beteken dit dan dat ons nou skielik nie getroud is nie? Is daardie
lewenslange kontrak nou tot niet? Nee, verseker nie, ek is steeds getroud!
Is my kindskap van God tot niet as ek sonde doen? Nee, verseker nie!
Maar, as ek vir my vrou vir vergifnis vra is die verhouding herstel. Ek
erken dat ek verkeerd was en alles is weer reg. So ook met die Here, ek
erken my fout sodat ek more weer probeer en dit begin oorwin.
LEEF in Jesus se vergifnis! ~ Willem Botha, 21/07/2015 |
|
“Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie
uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so
julle ook nie as julle nie in My bly nie.” (Joh. 15:4) Soms voel dit
vir my of dit ’n sukkelende stryd is om die “regte” dinge te doen,
om die Here te behaag, om my medemens te dien, om goeie, Christelike
vrugte te dra. Daar het vir my ’n nuwe lig opgegaan, ’n verligting
het oor my gekom toe ek Joh. 15 in die Engelse vertaling lees
waar dit sê: “abide in Me”. Dit het so ’n oorgee en rustig-wees en
laat-alles-aan-Hom-oor betekenis vir my. Die wingerdstok verskaf mos
aan die loot alles wat hy nodig het om vrug te dra. Jesus is die
wáre wynstok! Hy is die wortel en die stam en die takke, Hy voorsien
die voedsel, sonskyn, water en suurstof sodat die loot spontaan kan
bloei en die vrug kan gee wat hy moet. Ek hoef nie te spartel om
vrug te dra nie, ék hoef nie die werk te doen nie, ek hoef net
vasgemaak, ingeplant in die wingerdstok te bly. ~ Wilna Botha,
20/07/2015 |
|
Kry vir jou 'n label...
Die blondine was beswaard omdat 'n bottel sjampoe haar net een was gehou
het. Want die etiket het gesê: Was, spoel af, herhaal... of was dit dalk 'n
blonde man? Die blondine (ou) het gedoen wat die etiket sê, maar toe gaan hy/sy
in 'n “loop”. Was, spoel af, herhaal... Was, spoel af, herhaal... Was, spoel
af, herhaal...
Kyk, dit maklikste manier om iemand sleg by te
kom is om 'n "label" op hom/haar te plak, Soos wat ek pas op blondines
geplak het. Oeps skuus!
Die Bybel is baie uitgesproke daaroor :
Spr 18:8 "Skinderstories word gretig verslind, mense sluk dit so maklik"
Ek is seker jy het ook al deurgeloop, of soos ek, kwistig labels op ander
geplak. Elke maatskappy het so 'n uiters effektiewe etiketmasjien, daardie
een wat daar buite staan waar mense gereeld gaan bene rek of 'n dampie vang.
Kyk, daar word etikette vinnig vervaardig en op mense geplak wat nie daar by
die "masjien" staan nie. Ongevraagd, onverdiend, ongeregverdig en gewoonlik
onwaar.
Weet jy hoekom? Spr 26:22 “'n Geskinder is soos lekker kos...” (dink ek nou
aan 'n lekker hammie en chips)
Maar hoe voel die Here daaroor?
Spr 6:16-17 “Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe dinge waaraan Hy 'n
afsku het. Oë wat straal van hoogmoed, 'n tong wat lieg, hande wat met bloed
bevlek is...” ens. ~ Willem Botha, 17/07/2015 |
|
In Openbaring 14:1-5 word beskryf hoedat al die
gereddes, dié wat hulle klere gewas het in die bloed van die Lam,
dié wat gemerk is as eiendom van die Here, dié wat losgekoop is
deur Jesus, ’n nuwe lied voor die troon van God sing. Hierdie lied
klink soos die gedruis van ’n groot waterval en soos die gedreun van
swaar donderweer. Net dié wat aan God behoort, kon die lied leer.
Net dié wat onberispelik, rein, skoon en afgesonder vir die Here is,
dié wat Jesus bly volg, ongeag die omstandighede, net dié wat by
die waarheid bly, kon saamsing. Dit laat my weer besef dat al is ons
vrygespreek en al het ons Jesus se verlossing en God se genade as ’n
geskenk ontvang, dit steeds ook belangrik is om heilig, skoon en
rein te wees in ons lewenstyl en onberispelik in ons optrede. Kan
jy saamsing? ~ Wilna Botha, 15/07/2015 |
|
Die grootste oorlog
Wat is die grootste oorlog waarvan jy weet? En wat die
langste aangehou het? En die meeste mense geaffekteer het? Tweede
wêreld oorlog? Viëtnam ? Die grootste oorlog, ooit, wat die langste
aanhou en een wat elkeen van ons affekteer, is natuurlik 'n
geestelike oorlog. Nou, as ek vir jou vra om 'n teks aan hierdie
gedagte te koppel, sal jy waarskynlik dink aan Ef 6 : 12. "Ons stryd
is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen
elke gees wat
heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug".
Dus, nie 'n stryd teen vlees en bloed nie. Hierdie oorlog wat hier
in my binneste woed, is wreed, dit vreet my op en ek voel myself die
hele tyd aan die verloorkant, hierdie stryd tussen myself en my
sondige natuur.
Paulus beskryf dit beter as wat ek kan droom om dit te doen.
Romeinse 7:15 "Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil
doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek."
Paulus - so lyk dit - het hierdie oorlog goed geken, en dit voel of
ek elke dag hierdie woorde van Paulus wil uitskree. Jy sien, my
probleem is dat ek die hele tyd voel of EK hierdie oorlog moet wen,
terwyl dit lankal reeds gewen is.
Rom 7 : 24 - 25a
"Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan
God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here."
Maar ek sal bly voortveg, nie meer om die stryd teen die bose te wen
nie, maar omdat dit goed is om die sonde te oorwin. ~ Willem Botha,
15/07/2015 |
|
“A loving person lives in a loving world. A hostile
person lives in a hostile world. Everyone you meet is your mirror.”
Probeer bietjie om vir iemand te glimlag, of vriendelik te groet, of
’n gunsie te doen, ’n kompliment te gee, behulpsaam te wees,
toegeeflik te wees en hulle sal dieselfde gesindheid na jou toe
weerkaats. Wys vinger vir iemand wat na jou mening swak bestuur,
skree op die petroljoggie wat nie vinnig genoeg is nie, wees
oneerlik met jou werkgewer, wees geïrriteerd met jou man , ignoreer
’n familielid en jy gaan daai selfde houding sien weerkaats na jou
toe. Dis seker maar hoekom die Bybel juis vir ons aanbeveel om aan
ander te doen wat jy aan jouself gedoen wil hê. Ja, ek weet dis nie
maklik nie en ek is meeste van die tyd ook nie lus om sommer net
vriendelik en goedhartig en mededeelsaam te wees nie. Ek wil egter
beslis in ’n liefdevolle wêreld lewe, aanvaarding in die spieël van
die lewe sien, daarom kies ek weer dié lewensreël: “vra julle af hoe
julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Spring hulle dan
voor: gaan tree eerste so teenoor hulle op.” (Luk. 6:31, Die
Boodskap) ~ Wilna Botha, 14/07/0215 |
|
Elke knie sal buig
Hoeveel ongelowige mense dink jy is in die hel? Wel, mens se reaksie is
sekerlik maar gewoonlik : Almal. Maar dis inderdaad nie korrek nie, elke
enkele mens wat dit tot daar gemaak het na afsterwe is gelowig, en meer as
gelowig!
Luk 16: 22 - 28
“Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die
ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. Toe hy in
die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in
die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep: ‘Vader Abraham, ontferm u oor
my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek
en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.’ Maar Abraham sê:
‘My kind, onthou dat jy in jou leeftyd altyd die goeie gekry het en Lasarus
die slegte. Nou gaan dit hier goed met hom, maar jy word gepynig. En
buitendien is daar 'n groot kloof tussen ons en julle, sodat dié wat
hiervandaan wil oorgaan na julle toe, nie kan nie, en dié wat dáár is, ook
nie na ons toe kan oorkom nie.’ Toe sê hy: ‘Ek smeek u dan, vader, stuur hom
tog na my pa se huis toe. Ek het nog vyf broers. Laat hy hulle dringend gaan
waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.'
Dit lyk my jou
knie sal buig, of jy wil of nie. Geseënd is diegene wie se knieg buig in
hierdie lewe, want hulle sal gered wees.
Fil 2 : 9 - 11
"Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat
bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op
die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader." ~ Willem Botha,
13/07/2015 |
|
“If we’re in Christ, our lives are in His hands, and
nothing can touch us that hasn’t first been filtered through His
fingers of love” - Nancy Leigh DeMoss. Ek glo met my hele hart dat
niks wat met ons gebeur buite die Here se beheer is nie, Hy weet van
alles wat ek en jy vandag moet hanteer, Hy het dit vir ons uitgekies
en dit toegelaat. Sekere dinge wat jy dalk vandag moet deurmaak mag
sleg of negatief of moeilik wees, maar onthou dat jy in Sy hand is,
onder Sy vleuels, binne Sy beskerming, toegevou in Sy liefde. “Selfs
wanneer die lewe vir my so donker word dat ek nie weet watter kant
toe nie, sal ek nie bang wees dat probleme my onderkry nie, want U
is altyd by my. Dit troos my dat U my lei en beskerm. U laat my
veilig voel.” (Ps. 23:4, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 10/07/2015 |
|
Rasputin vs Jesus
Tussen 1869 to 1916 leef Grigory Rasputin in Rusland. Rasputin was eerder
berug as beroemd, en het die vermoë gehad om almal op hol te jaag. Rasputin
was nie noodwendig bekend as ‘n misdadiger nie, maar eerder iemand wat vol
streke was, wie jy nooit kon vertrou nie, en hy het die eienaardigste goed
aangevang. Hy het selfs 'n verhouding met die koningin gehad, en later het
die mense hom vermoor. Rasputin was ‘n gure kárakter! Hy was veelbesproke,
en Boney M het ‘n treffer gehad het met die liedjie “Rasputin”.
Die woord "karakter"
word op twee maniere gebruik: In ou Rasputin se geval sê ons die ou is 'n
gure karakter, maar iemand met 'n goeie reputasie staan bekend as 'n persoon
van karakter.
Soos Jesus natuurlik
, want Jesus se karakter was onbesproke, Hy het niemand benadeel nie, het
vir ander geleef, en uiteindelik ook vir ander gesterf, en Hy het presies
gedoen wat Hy gesê het.
Hy het gesê Hy gaan gekruisig word, en dit het gebeur, Hy het gesê Hy gaan
opstaan uit die dood en Hy het, hy het gesê dat Hy gaan opvaar na die Hemel
om vir ons plek te berei en Hy het. Hy sê ook dat Hy ons sondes vergewe en
dat ons gered is as ons Hom aanneem en ek glo Hom. Hy het ook gesê Hy gaan
weer kom en ek glo Hy gaan, want dit is Sy karakter. ~ Willem Botha,
09/07/2015 |
|
Spr. 11:23 sê: “Gelowiges het altyd hoop. Ongelowiges
se drome lei tot frustrasie en ellende.” Die rede hiervoor is
sekerlik dat gelowiges se hoop ’n vaste, veilige, onbeweegbare anker
is. Ons hoop is op die Here wat alreeds alles gedoen het om vir ons
’n toekoms en ’n verwagting te verseker. Ons hoop is nie gesetel in
iets wat dálk sal gebeur nie, ons hoop is nie net ’n wens of ’n
droom nie, dis gesetel in die sekere wete dat God is wie Hy sê Hy
is, dat Hy sal doen wat Hy belowe het om te doen. As jou hoop op
geld of goeters, ’n ander mens, jou eie krag of gesondheid, jou werk
of selfs jou kerk is, kan daar frustrasie, ontnugtering en ellende
wag, want niks hiervan is standhoudend en betroubaar nie. Mag jou
hoop vandag weer opvlam omdat jy wéét dat die Here se liefde
onwankelbaar is en Sy genade groot, sonder voorwaarde en sonder
einde is. “Yet hope
returns when I remember this one thing: The Lord's unfailing love
and mercy still continue.” (Klaagliedere 3:21-22) ~ Wilna Botha,
08/07/2015 |
|
Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig
en bly wees. (Ps 118 : 24)
Wat hou hierdie dag vir jou in? Waarna sien jy uit vir vandag?
Is daar léwe in vandag? Ek maak 'n stelling, ons het die kuns
verloor om vir vandag te lewe. Iemand noem vir my hierdie aanhaling:
"Yesterday is history, tomorrow is a mystery, but today is a
blessing." Hoe moeilik is dit nie vir ons arme mensdom om vandag
voluit te leef nie. Ek het die vraag gevra: wat hou vandag vir jou
in? Vir
jou, as individu. Vir die meeste mense is dit of niks, of spanning,
of harde werk, of sommer net 'n totale leegheid. So asof ons soms
sommer net opgee om te leef.
Ag, waar is die goeie ou dae? Als was so eenvoudig en
ongekompliseerd en die spanning was niks teen vandag nie. Die
politiek was beter, die finansies het minder geknyp, misdaad was min
en SA was lekker plek. Jy kan sê wat jy wil, dit was baie lekkerder.
Maar dis verby. Punt. Ons het nou wat ons het, die vraag is net:
Definieer die omstandighede jou, of kan jy ten spyte daarvan nog
beter leef as vroeër?
Pred 7 : 10 "Moenie sê die ou dae was beter as nou nie. Dit is nie
uit wysheid dat 'n mens so sê nie."
Daar het jy dit. Hou op verskonings maak en leef! Voluit! ~ Willem
Botha, 07/07/2015 |
|
“Voor ek nog kon kies, kon vra, het U seun my vloek
gedra. Ek kon vind: U’t my gekry voor ek nog my skuld bely.” Dis die
pragtige woorde van Gesang 10, wat ons al só lankal sing en bely; dit
het my egter opnuut diep getref toe ek besef hoe groot die Here se
genade vir ons is. Ons verdien heeltemal niks van Sy goedheid nie,
ons kon hoegenaamd niks gedoen het om sy vryspraak en vergifnis te
ontvang nie. Ons het nog nie eens geweet dat ons dit nodig het nie,
ons kon nog nie eens sien dat ons sondig en verlore voor God is nie,
toe het Jesus reeds die prys vir ons betaal. Ons het nog in die
sonde gesit, ons kon nog nie ’n keuse maak teen sonde, of vra vir
die Here se vergifnis nie, toe het Jesus alreeds gesê: dit is
volbring! “Hy wys juis hoe lief Hy ons het deurdat Jesus in ons plek
doodgegaan het toe ons almal nog ’n spul sondaars was.” (Rom 5:8,
Die Boodskap) Ek sing weer uit volle bors die Gesang: “Grote God,
aan U die eer!” ~ Wilna Botha, 06/07/2015 |
|
Werk toe!
Seker nie altyd lekker woorde nie, of hoe? Geniet jy jou werk
of is dit net 'n straf vir jou? Ongelukkig lyk die statistiek oor
werksbevrediging nie te goed nie, met slegs 2% mense wat ten volle
gelukkig is in hulle werk.
Gen 3 : 17 - 19
Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou
geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het
om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal
jy daaruit 'n bestaan maak, jou lewe
lank; die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy
sal veldplante eet; net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy
terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy,
en jy sal weer stof word.”
Arme Eva, op grond van hierdie teks word sy beskuldig dat haar sonde
verantwoordelik is daarvoor dat ons so hard moet werk. Maar dis nie
waar nie, dit opdrag dat ons moet werk is aan die mens gegee direk
na sy skepping.
Gen 2 :15
"Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en
op te pas."
Niks te doen met Eva se vrug - lus nie...
Die vraag is net, hoe gelukkig is jy daar waar jy die meeste van jou
tyd deurbring?
Ps 37 : 3
" Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk
rustig voort "
Skitterende raad. Moenie op mense vertrou nie, doen jou werk rustig
en doen wat goed is. Dit was geensins Adam en Eva se skuld nie. Dus,
gaan doen dit sodat jy 'n verskil kan maak aan ander se lewens, ook
sodat dit 'n verskil in jou eie lewe kan maak. Gee eer aan die Here
vir Sy genade. Lekker werk! ~ Willem Botha, 03/07/2015 |
|
Toe ons nou die dag weer die liedjie “Blessed be Your
Name” sing, het ek bietjie daaroor nagedink wat dit beteken om die
Here te “bless”. Dit beteken mos om die Naam van die Here groot te
maak, om Hom te prys, te loof en te eer. Dit beteken om Hom voor Hom
te buig, Hom te aanbid, Hom te bewonder en liefde te bewys met alles
wat in my is.
"Bless the LORD, O my soul,
and all that is within me, bless his holy name!” (Ps. 103:1) Die lied sê so mooi dat ons die Here moet prys wanneer dinge
goed verloop en alles goed gaan met ons: where streams of abundance
flow, when the sun’s shining down on me, when the world’s all as it
should be. Maar, dit sê ook dat ons die Here moet loof en eer selfs
wanneer dinge donker raak: though I walk through the wildernis, when
the darkness closes in, on the road mark with suffering. Wat jou
omstandighede ook al is, kan en moet jy steeds kies om die Here te
loof ... “my heart will choose to say Lord, blessed be Your Name”,
of soos wat Job gesê het: “Die Here het gegee en die Here het geneem.
Prys die Naam van die Here.” (Job 1:21) ~ Wilna Botha, 02/07/2015 |
|
Die Woord vir vandag.
Ons hoor so baie dat mense die Bybel se gesag half probeer
onderdruk deur te beweer dat die Bybel lank terug, vir lank terug
geskryf is. Ons, daarenteen, wat die Bybel se gesag onvoorwaardelik
aanvaar, pas alles gemaklik dag vir dag toe.
2 Tim 3:16
"Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde
om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg
te stel en 'n regte lewenswyse te kweek".
So sê die Bybel. Wel, ek glo dit
maklik, maar die ongelowige nie. Die boek Spreuke kan deur enige
life couch gebruik word as 'n handboek van die lewe, want dit bevat
die wonderlikste raad vir ons dag tot dag lewens. Daar is soveel
tekste wat hoop gee, daar is vertroosting vir mense wat deur
moeilike tye gaan, daar is raad vir die huwelik en kinderopvoeding,
werkgewers kry riglyne en kinders leer van respek.
Daar was nog nooit enige boek in die lewe wat so 'n wye inpak maak,
oor so lang tydperk nie, en dit sal vir altyd so wees. Lees, leer en
leef! ~ Willem Botha, 01/07/2015 |
|
“’n Gelowige se wyse woorde is soos saad wat gesaai
word. Mettertyd dra dit baie vrug in ander se lewe.” (Spr. 12:14,
Die Boodskap) Hierdie is een van die tekste wat my net laat besef
hoe ’n groot invloed ons woorde het, nie net vir onsself nie, maar
ook vir dié wat aan die ontvangkant daarvan is. Aan die een kant is
dit skrikwekkend om te dink dat die vrot en slegte vrugte wat in die
mense om ons se lewens te sien is, dalk deur óns toedoen is, die
gevolg van die negatiewe saad wat ons rondgestrooi het met ons
woorde – woorde wat afbreek, vernietig, verkleineer, veroordeel en
vloek. Aan die ander kant is dit wonderlik om te sien dat mense
groei en positief beïnvloed word deur ons wyse woord-saad wat in
hulle lewens geval het – woorde van aanmoediging en bemoediging,
eerlike komplimente en aanprysing, goeie raad en sinvolle advies. Ek
bid maar net weer in die woorde van Ps. 141:3: “Here, stel ’n wag
voor my mond, bewaar die deur van my lippe.” ~ Wilna Botha,
29/06/2015 |
|
LOL!
... wat natuurlik die afkorting is vir "Laughing Out Loud". Facebook taal.
Iemand stuur vir my onlangs iets wat sê dat ons as Christene nie dit mag
gebruik nie want dit beteken "Lucifer Our Lord". Elke keer wat ons dus LOL
tik sê ons dat Satan ons god is.
Wel, ek glo regtig dat daar goeie bedoeling agter dit is en dat ons die Here
eerste in ons lewe moet stel, en nie die duiwel eer moet gee nie. Maar kry
ons nie juis die teendeel reg nie? Hierdie afkorting bestaan nog nie
100 jaar nie en is nie deur Satan of sataniste uitgedink nie. Dit lyk of dit
wat eintlik onskuldig is, gekaap word en dan teen ons gebruik word, en ek
wonder wie doen dit. Die bose, of dalk sommer onsself?
Weet jy, ek dink ons vervlak so maklik ons Geestelike lewens tot die dikte
van 'n stukkie papier, waarop ons slagspreuke skryf en onsself toelaat om
weer te verval in wettiese en godsdienstige reëls. Dan glo ons ons reinig
daarmee ons lewens. Het Jesus nie aan die kruis gesterf met bitter duur
bloed, juis om ons vry te maak van hierdie godsdienste goetertjies nie?
Satan is verslaan my vriend, ons moet op geen manier vir hom enige eer gee
nie!
'n
Verhouding met Jesus is BAIE dieper as oppervlakkige doktrines. Kom ons
geniet hierdie verhouding met Jesus en hou op om nuttelose, ondraaglike
laste op mekaar te plaas. ~Willem Botha, 29/06/2015
|
|
“ ... and in Him all things hold together.” (Kol 1:17)
Voor alles het Jesus bestaan, deur Hom het alles tot stand gekom, Hy
is die oorsprong van alles en deur Hom bly alles aanmekaar. Jesus is
die fondasie, die boublokke en die sement van alles in die heelal.
Hy hou die grootste hemelliggaam en die kleinste atoom op sy plek.
Alles het sin en waarde omdat Hy bestaan en omdat Hy alles in stand
hou en sorg dat dit nie in duie stort nie. So ook is Jesus die kern
en die gom in my lewe. Hy hou alles bymekaar, Hy gee sin en rigting
aan my bestaan. Hy weet alles en Hy sorg vir alles. Dit vul ’n mens
mos nou met bewondering en met vrede wat alle verstand te bowe gaan!
~ Wilna Botha, 26/06/2015 |
|
NET die Een of die ander
Die wet van Moses (of liewer, die Here se wet soos aan Moses
gegee) is 'n wonderlike "dokument" en is goed in sy totaliteit.
Moenie steel nie, moord pleeg nie, egbreuk pleeg nie, ens is
wonderlike opdragte en sal vir ewig groot waarde hê. Die probleem is
dat ons aanhoudend teruggryp na die wet om die Here te behaag sodat
ons nie verlore gaan nie. Die punt is, die wet kan nie red nie! Dis
óf Christus, óf die wet wanneer dit by ons Saligheid kom.
Gal 5 : 1-3
"Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas
in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat
indwing nie. Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat
besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. Ek sê dit weer
nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele
wet van Moses te onderhou."
Paulus is baie uitgesproke hieroor wanneer hy praat oor die vryheid
in Christus. Ek dink sy probleem was dat mense aanhoudend teruggryp
na die dinge "voor Christus". Mense wil hulle besny, rituele uitvoer,
allerhande reëls navolg, dinge op sekere maniere vier en besig bly
met onbenullighede, terwyl dit Christus en Christus alleen is. So
asof die Here een of ander teenprestasie moet lewer as ons goeie
dinge doen.
Nee wat my vriend, doen die goeie dinge, maar doen dit net uit
dankbaarheid vir Sy kruisdood. ~ Willem Botha, 25/06/2015 |
|
“Deur al die gevaar het U u kinders veilig beskerm.
Deur die grootste krisis het U hulle gelei. U het dit op U eie
manier gedoen.” (Ps. 77:20 Die Boodskap) Die uitkoms en redding wat
die Here vir ons voorsien is altyd volgens Sy plan en Sy
alwetendheid. Ek probeer te veel kere om vir die Here voor te skryf
hoe Hy in my situasie moet ingryp. Hy alleen sien die hele prentjie
van hier tot in die toekoms en ek moet myself oorgee aan Hom en hoe
Hy op sy eie manier in my lewe kan werk. Leun vandag terug in die
Here arms, gee oor en laat Hy jou op Sý manier en op Sý tyd deur jou
krisis lei. ~ Wilna Botha, 23/06/2015 |
|
Waarheid
Kom jy agter hoe moeilik dit is om by die waarheid, die volle waarheid en
niks anders as die waarheid nie, te bly? Dit voel vir my so asof dit
makliker was in die "goeie ou dae". Of liewer, lieg raak so die norm, dat
mens net mooi niemand se integriteit meer kan vertrou nie, selfs dalk nie
eers jou eie nie. Professionele mense word selfs opgelei om die waarheid so
te verdraai dat dit so reg klink, dat mens dag vir dag mislei word met
leuens (of dalk net halwe waarhede)
sonder dat die ander persoon 'n oog knip. En boeta, dit raak wild as jou
geld gevat word in die proses.
Die vraag is net, is ek self nie ook al daar nie? Ek weet egter een ding,
die Here haat dit!
Spr 6 : 12 - 13 "Dit is 'n nikswerd mens, 'n mens vol onreg, wat altyd reg
is om te lieg, om te bedrieg deur met die oog te knik, met die voet te
beduie, met die vingers tekens te gee."
Dalk is
dit tyd vir 'n nuwe besluit hiervoor.
Ps 49 : 4 "My mond gaan suiwer wysheid praat, wat ek gaan sê, sal van
insig getuig."
Spr 8 : 7 "Ek praat net die waarheid, ek het 'n afsku van wat verkeerd
is."
Ek wonder of ek net een dag sal hou... ~ Willem Botha (22/06/2015)
|
|
“Ek het nie tyd nie”, is ’n sinnetjie wat ons almal
baie gebruik ... en hoeveel keer is dit dalk ’n leuen? Ons het almal
tog ewe veel tyd – 24 uur elke dag, 1 440 minute elke dag, 86 400
sekondes elke dag. Ons sê: ek het nie tyd nie, maar eintlik bedoel
ons: dis nie belangrik genoeg vir my om tyd daaraan te spandeer nie.
Of dalk: dis nie dringend genoeg nie. Of dalk: ek heg nie waarde
daaraan nie. Of dalk: ek wíl dit nie doen nie. Of dalk: ek wil nie
skuldig voel omdat ek iets nie gedoen het nie. Baie keer as ek sê:
ek het nie tyd nie, dan beteken dit maar net dat ek iets anders met
my tyd gedoen het. Ek kan byvoorbeeld sê: ek het nie tyd om Bybel te
lees nie. Inderwaarheid het ek maar net al die ander dinge bokant
Bybellees gestel – ek het TV gekyk, winkels toe gegaan, op Facebook
rondgeblaai, ens. i.p.v. Bybellees. Dit waaraan ons tyd bestee is
dit wat werklik vir ons prioriteit is (ons kon die woord dalk eerder
priorityd gespel het!) Vandag was mos die korste dag van die jaar -
waarvoor het jy vandag tyd gehad en tyd gemaak? “Our
people should learn to spend their time doing something useful and
worthwhile.” (Tit 3:14) ~ Wilna Botha, 21/06/2015 |
|
Jy en jou Ventertjie
As mens die pad vat Kaap toe met 'n sleepwaentjie agter die motor
kyk jy kort-kort in die spieël of Ventertjie nog kom. Daai waentjie
is gelaai met alles wat jy nodig het, en slegs wat jy nodig het,
want spasie is skaars. Maar gaan nou op toer met hierdie waentjie en
jy laai in elke dorp goetertjies by, totdat jy naderhand onnodig
swaar trek. So is dit in die lewe ook, dag vir dag laai jy "bagasie"
by, totdat daardie waentjie 'n reuse las is. Daar is
hordes dinge wat gemors in jou waentjie pak, jou verlede, dalk jou
ouers, swak selfbeeld en baie ander dinge.
Maar daardie bagasie maak dood. Naderhand sleep jy nie meer die
waentjie nie, hy stoot jou! En hy stoot jou net waar hy jou wil hê.
Soms moet mens egter maar net stop en die ding afpak en kyk of daar
nie 'n paar dinge uitgesmyt moet word nie. Die lewe is te swaar om
nog gemors ook saam te sleep. Paulus het net die regte antwoord in
Fil 3:13
"Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een
ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat
voor is." ~ Willem Botha, 21/06/2015 |
|
So rukkie gelede het iemand die heuning-teks in Op
10:10 weer onder my aandag gebring: “Ek het toe die boekie uit die
hand van die engel gevat en dit opgeëet. In my mond was dit so soet
soos heuning, maar toe ek dit insluk, het my maag bitter geword.” Ek
het bly wonder hoekom iets wat soet in jou mond is, later ’n bitter
uitwerking sou hê. Toe hierdie gedeelte ter sprake gekom het in ons
Bybelstudiegroep, het ek geleer dat die boekie wat Johannes van die
engel ontvang het, die boodskap van die evangelie simboliseer. Hy
moes dit sy eie maak deur dit te eet en daarna moes hy die boodskap
gaan verkondig het aan alle volke en nasies. Dit was soet soos
heuning, want dis ’n wonderlike boodskap om te hoor en die
verkondiging daarvan was ook soet. Die gevolg was egter verwerping,
vervolging en lyding ter wille van die evangelie, wat die soet
bitter laat word, het. Nou vra ek myself af of ek bereid is om saam
met die heuning-soet van die Evangelie-boodskap, ook die bitter te
verduur? Is ek bereid om die pad enduit te stap, al staar ek ook
vervolging en lyding in die gesig, al word ek ook gespot en verwerp?
“Daar’s niks beter as u Woord nie, dit is soeter as die soetste
heuning.” (Ps. 119:103, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 18/06/2015 |
|
Vir wie sloof jy jou af?
Prediker 4 : 8 "Daar was 'n man wat alleen was, sonder seun
of broer. Tog was daar nie 'n einde aan al sy inspanning nie en was
hy steeds op soek na meer rykdom. Hy moes later sê: "Vir wie sloof
ek my af en ontsê ek my die aangename dinge?" Ook hier kom dit tot
niks. Dit bly 'n harde saak."
Vir wie sloof ek my so af? Nogal 'n goeie vraag of hoe? Werk
toe en terug dag na dag, geen tyd vir jouself nie, geen geld vir
lekker dinge nie, ploeter net voort. Hierdie teks vat dit so goed
raak, want die gejaag na rykdom, of goedere, oorheers alles in ons
lewens. Sê nou maar net dit raak op? Miskien word ons deur vrees
gedryf, of dalk hebsug, of dalk onvervulde drome.
Ek dink nie hier is 'n maklike antwoord nie, maar ek weet een
ding, ek wil die beste maak van hierdie lewe. Daar is veel meer
lekker dinge in hierdie lewe as slegte dinge, die son skyn meer as
wat dit onweer is. Daar is meer rede om te lag as om te huil, daar
is meer vrede as oorlog. Ek neem opnuut die besluit om eerder die
positiewe as die negatiewe raak te sien en om my "af te sloof" met
'n glimlag op die gesig. Wat kies jy? ~ Willem Botha, 17/06/2015 |
|
Aangesien dit jeugdag is, het ek bietjie aan die
jongmense gedink wat ek ken. Daar is só baie in hierdie wêreld
waaraan hulle blootgestel is, soveel keuses wat daagliks voor hulle
is, soveel groot besluite om te neem terwyl hulle min ervaring en
insig van die lewe het, daar is soveel verleidings na dinge wat
lekker en goed lyk, maar wat nié heilsaam is nie. In 2 Tim 2:22 is
dié raad te vind: “Vermy die begeertes wat ’n jongmens in gevaar kan
bring.” Die Ou Vertaling stel dit nóg sterker as dit sê: “Vlug weg
van die begeerlikhede van die jonkheid”. Van watse begeertes word
hier gepraat? Ek dink dis nie net seksuele, liggaamlike begeertes
nie, dis ook ongesonde begeerte na mag, rykdom, status en sukses.
Dit mag ook verband hou met oormatige trots, met ongebalanseerde
selfgerigtheid en hooghartigheid, met ’n kompeterende ingesteldheid
wat oorvloei in afguns en jaloesie. Ek vra saam met die Psalm-skrywer:
Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur te streef na opregtheid,
geloof, liefde en vrede, sê 2 Tim 2:22. My gebed is dat jongmense
nie bang sal wees om anders te wees of om stroom-op te swem nie, dat
hulle sal vasstaan by beginsels en sal wegvlug van dit wat hulle
lewenspad kan besoedel. ~ Wilna Botha, 16/06/2015 |
|
“In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was
nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed
te maak nie.” (Joh. 14:2) Soos wat dit tydelik is om in ’n tent
vakansie te hou, so is ons verblyf op aarde ook tydelik. Êrens pak
jy weer daai tent op en skuif aan na ’n meer permanente, geriefliker,
veiliger woonplek. Dis vir my wonderlik om te dink dat Jesus besig
is om vir ons plek gereed te maak in die hemel, dat Hy sorg daarvoor
dat ons ’n ewige blyplek in die huis van die Vader het. Hoe daai
blyplek lyk, weet ek nie, wat ek wel weet, is dat dit ’n werklikheid
is, dat geloof in Jesus die padkaart daarheen is, dat daar baie en
genoeg plek is, dat dit onbeskryflik wonderlik gaan wees, dat dit in
die volle teenwoordigheid van God gaan wees en dat dit vir altyd en
ewig gaan wees. Moet dus nie net werk en hoop en bou vir hier en nou
nie – dis tydelik, dit gaan verby. Jesus belowe dat Hy vir ons plek
gereedmaak en wanneer dit gereed is, kom Hy ons haal – glo jy dit?
Sien jy uit daarna? Is jy gereed daarvoor? ~ Wilna Botha, 15/06/2015 |
|
Jy is okay, weet jy?
Het jy ook al gesien hoe mense meer en meer sukkel met hulle
selfbeeld? Mense het eenvoudig net nie meer selfliefde nie. Die
wêreld bombardeer ons met negatiwiteit sonder dat ons dit agterkom,
deur altyd net die volmaakte vir ons voor te hou. Die sepiesterre is
r
mooi en maer, die suksesvolles haal die nuus, die rykes versier die
tydskrifte se voorblaaie en die topsportmanne word die helde van die
dag.
En so gaan ons dunk van onsself by die dag verder
agteruit. En o ja, daai skindertonge by die werk verwoes jou lewe so
dat alles sommer net misrabel word.
Wel, die goeie nuus is dat dit wat ander van jou dink, en selfs dit
wat jy van jouself dink, baie minder belangrik is as dit wat die
Here van jou dink. Dalk glo jy dit nie altyd nie, maar jy kan niks
doen om dit te verander nie. Besluit maar self wat jy van hierdie
teks dink.
Sefanja 3 : 17 "Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat
red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy
jubel en juig oor jou" ~ Willem Botha, 12/06/2015 |
|
Ps. 103:14 praat daarvan dat ons van stof gemaak is. Dit
impliseer dat ons nietig en swak is, dat ons fisies amper niks werd
is nie. Ons is maar ’n klompie koolstof, waterstof, suurstof,
stikstof en het ook ’n bietjie yster, koper, magnesium, swael, ens.
in ons samestelling. Iemand het eendag gesê dat ons chemies omtrent
dieselfde is as ’n klein sakkie houtskool, ‘n paar emmers water en
’n sakkie kalk met net genoeg yster vir een spyker, genoeg swael vir
’n vuurhoutjie of twee,
genoeg vet vir ’n paar koekies seep – nie veel werd nie, nè! Maar,
as lewende wese, met God se asem in ons, het ons Sy krag in ons, is
ons die kroon van Sy skepping en is ons oneindig kosbaar en
waardevol vir die Here. Dit laat my dink aan die woorde van ’n
liedjie wat ons sing: “I’ve got the life of God in me, I’ve got His
power, His nature and His ability, I’ve got the life of God in me.”
Al is ons net stof ... ~ Wilna Botha (11/06/2015) |
|
Moeggewag
Jy het seker ook al by tye gekom wat jy moeg gewag is vir die Here
om 'n gebed te vehoor, of hoe? Hy gee tog vir ons die versekering
dat Hy vir jou sal gee wat jy vra, as jy net reg vra.
Matt 7:8-9 "Want elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry,
en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. Watter mens onder julle
sal vir sy seun ‘n klip gee as hy brood vra, of ‘n slang as hy vis
vra?”
Ek dink hierdie teks word dikwels verkeerd gebruik en aangehaal,
vernaam
as ons iets regtig nodig het. Wel, die vraag is of ons regtig die
Here kan vertrou om die regte uitkoms te gee vir dit wat ons vra.
Ek glo die Here antwoord ons gebede op een van drie maniere : Ja,
Nee, of Wag.
"Ja" is lekker en seker die mees gewilde een. "Nee" is glad nie
aanvaarbaar nie, en Wag is uiters frustrerend! Hoe sou dit wees as
jy net altyd "ja" gesê het as jou eie kinders iets vra? Dit sou 'n
ramp wees, want soms dink hulle hulle vra 'n vis maar hulle vra
eintlik 'n slang. Nee is dikwels die regte antwoord.
Maar "Wag"? Ai, weet die Here dan nie hoe kritiek my situasie is nie?
Jy sien, soms loop" Wag " op 'n "Ja" uit, maar ander dinge moet eers
in plek val, en ons moet geduldig wees.
Dus, ons sal maar op die Here moet vertrou, Hy was nog nooit
verkeerd nie. ~ Willem Botha (10/06/2015) |
|
Onthou volgende keer wanneer jy in die een of ander
nood is, of voel dinge raak net te veel, of probleme druk te swaar
en jy weet nie watter kant toe nie, dat jy nie die enigste persoon
in so ’n situasie is nie. Die skrywer van Psalm 77 was ook daar! “Ek
is baie omgekrap. Ek het nie woorde om te sê hoe omgekrap ek is nie.”
(Ps. 77:5, Die Boodskap) Ek leer só baie uit sy “resep” om hierdie
omgekraptheid te verwerk. Hy roep na die Here, bid dag en nag, soek
na Hom, sug voor Hom. Wanneer dit lyk of daar nie uitkoms of
antwoorde is nie, raak hy effe opstandig, vra vrae oor die Here en
stoei met Hom in sy gedagtes. Dan dink hy bietjie terug aan die Here
se wonderdade van redding en voorsiening wat hy al in die verlede
beleef het. Dit vloei summier oor in ’n lofprysing waarin hy die
Here se genade, mag, krag, grootheid en heiligheid besing. Hierna
volg vrede wat alle verstand te bowe gaan, kalmte,
tevredenheid en rus in die Here se teenwoordigheid. ~ Wilna Botha,
09/06/2015 |
|
Is ons dan alleen reg?
Jy het sekerlik ook al baie die vraag gehoor(en gewonder) of ons Christelike
geloof dan die enigste geloof is wat kan lei tot Saligheid, en dus vir ons
die Ewige lewe kan bring. Wel, indien nie, kan ek nie verder op die Bybel as
die Woord van God staatmaak nie, want die Bybel is baie duidelik daaroor dat
Jesus die enigste weg tot Saligheid is.
Joh10 : 7 - 9 Toe het Jesus verder gesê: "Dít verseker Ek
julle: Ek is die ingang vir die skape. Almal wat voor
My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister
nie. Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal
in en uit gaan en weiding kry."
Een God, met 'n Seun met die naam van Jesus Christus. Geloof in Hom deur Hom
as saligmaker aan te neem, en niks anders nie. Volgens die Bybel is dit al
wat "reg" is. Geen ander "geloof" aanvaar hierdie voorwaardes nie. Slegs
diegene wat dit aanvaar pas in die voorskrifte van die Bybel. ~ Willem
Botha, 08/06/2015 |
|
“Maar
die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?””
Adam en Eva was ongehoorsaam aan God en dié sondelas het gemaak dat
hulle vir Hom weggekruip het. Dit het hulle verhouding en openheid
met God vertroebel, dit het ’n muur tussen hulle en Hom gemaak en ’n
kloof van skuldgevoelens gevorm. Die Here vra nie “waar is jy” omdat
Hy nie weet waar hulle is nie, Hy vra dit omdat Hy wil hê dat hulle
na Hom toe moet draai. Hy vra dit nie omdat Hy hulle wil veroordeel
nie, hy vra dit omdat Hy genade aan hulle wil bewys en hulle wil
help deur vir hulle klere van vel te maal. Waar is jý vandag in jou
verhouding met die Here? “Daar is geen enkele mens wat so diep
verlore is dat God hom of haar nie kan vind en red nie.” (Andrew
Murray) Moenie langer wegkruip nie, die Here roep jou vandag op jou
naam: “Waar is jy?" ~ Wilna Botha, 05/06/2015 |
|
Ek was nou die dag in die geselskap van ’n klomp
kerkmense wat almal hulle godsdienstige dinge op dieselfde manier
doen. Ek het die gevoel gekry dat hulle my oordeel omdat ek nie die
Here volgens dieselfde resep as hulle dien nie, omdat dieselfde
geestelike dinge wat vir hulle belangrik is, nie noodwendig vir my
belangrik is nie. Ek het dit maar net weer vir myself uitgemaak dat
dit nie gaan oor hoe hard jy sing, hoe hoog jy jou hande opsteek,
hoe lank jy op jou knieë staan, hoeveel keer jy al die Bybel
deurgelees het of watter vertaling van die Bybel jy lees nie. Die
Here kyk altyd na jou hart, nie of jy die regte geestelike taal
praat, die regte kerk besoek, elke kolletjie van die wet nakom,
nooit ’n fout maak en of jy R20 of R200 in die kollektebordjie gooi
nie. Die Here het ons elkeen uniek gemaak en daarom kan en moet ons
Hom dien en aanbid volgens ons eie styl en unieke persoonlikheid,
met jou hele hart, siel en verstand. “There is no
‘one-size-fits-all’ approach to worship and friendship with God. One
thing is certain: You don’t bring glory to God by trying to be
someone He never intended you to be. God wants you to be yourself.”
(uit: Purpose Driven Life) ~ Wilna Botha, 03/06/2015 |
|
Die volmaakte moord
Ek dink by verre die meeste mense wat al moord gepleeg het, het geglo hulle
kon daarmee wegkom en baie het al planne beraam om die volmaakte moord te
pleeg. Wel, die maklikste manier om hierdie volmaakte moord te pleeg is met
woorde. Kwetsende woorde, slegsê, om mense te verneder en dan sommer net ons
geliefde stokperdjie: Skinder.
Dis so maklik om mense se lewens te verwoes met woorde, jy
verdraai hulle woorde sommer net bietjie, of jy vertel leuens wat hulle
skade aandoen. Elke mens op aarde wat emosionele letsels het, het dit
opgedoen deur woorde. En weet jy wat is die ergste? Jy kom weg met moord!
Spr 16 : 28 "Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak
twis, iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende."
Spr 20 : 19 "Iemand wat loop en skinder, lap geheime uit; bly weg van iemand
wat baie praat."
Lev 19 : 16 "Jy mag nie loop en skinder nie, jy mag nie jou medemens se lewe
in gevaar stel nie. Ek is die Here"
Ek glo Here haat dit! Nee, moenie dit doen nie.
Doen liewer die volgende :
Spreuke 16 : 24 "Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die
mens." ~ Willem Botha, 02/06/2015 |
|
“Alles gebeur op sy tyd. Die windpomp gaan soek nie die
wind nie”, so lees ek nou die dag. Daar is net só baie dinge wat
buite ons beheer is, dinge wat gebeur waarvoor ons nie gesoek of
gevra of verwag het nie, dinge waaraan ons hoegenaamd niks kan doen
nie. ’n Windpomp het ’n bepaalde doel, ’n belangrike taak om water
uit die grond te pomp, maar hy kan niks doen as die wind nie waai
nie. Moenie krag en energie en vrede mors deur te kerm en te sug en
te skree oor dinge wat gebeur waaroor jy nie beheer het nie. “Go
with the flow” en glo dat die Here in beheer is van elke detail van
jou lewe. Sien raak dat Hy die wind laat waai op die regte tyd, dat
Hy die regte deur op die regte tyd sal oop of toemaak. Wees geduldig
met jouself en met die Here, want “Elke ding het sy vaste tyd, elke
ding in hierdie wêreld het sy tyd.” (Pred. 3:1) ~ Wilna Botha,
01/06/2015 |
|
Het jy ook al gehoor dat mense na ’n persoon
verwys as ’n “groot Christen”? Wie onder ons is nou eintlik ’n groot
Christen? Die een wat uiterlik heilig en onberispelik voorkom? Die
een wat skynbaar hiper-gedissiplineerd is met kerkbywoning en
stiltetyd? Die een wat mooi en lank bid en hard sing in die kerk,
wat die bedelaars en die armes help? ... of is dit dalk dié een wat
wat weet hoe swak hy is en hoe nodig hy die Here het, of is dit dalk
dié een wat sê: “as ek swak is, is ek sterk” en wat bedroef op sy
bors slaan en roep: “O God, wees my, sondaar, genadig”? (Luk. 18:13)
~ Wilna Botha, 29/05/2015 |
|
Achilles Heel
In die Griekse mitologie is daar ‘n verhaal van ‘n karakter genaamd Achillis.
Achillis was ‘n Griekse held in die Trojaanse oorlog, en die ou was
letterlik onaantasbaar – niemand kon niks aan hom doen nie. Daar was egter
een plek op sy liggaam wat nie beskerm was nie, en dit was in sy hakskeen.
Volgens die mite was die rede hiervoor dat sy ma hom as baba in die Styx
rivier gedruk het. Sy het dit gedoen sodat hy onsterflik sou wees. Maar waar
sy ma hom aan die hakskeen vagehou het met haar twee vingers, was daardie
twee kolle op sy hakskeen nie beskerm nie, en dit het die swak plek in sy
liggaam gebly. En toe kom iemand en skiet hom met ‘n giftige pyl, presies
deur daardie twee plekke op sy skeenvel, en hy sterf…So gaan die mite.
Ek dink ons het elkeen so 'n swakheid wat ons so bietjie
kwesbaar maak. Dalk 'n siekte, of iets uit jou verlede, dalk
huweliksprobleme of probleme met ons kinders, selfbeeld probleme of slegte
werkomstandighede. Dis normaal, die vraag is: hoe gaan jy daarmee om in jou
lewe?
Paulus het ook 'n Achilles Heel gehad.
2 Kor 12:7b - 9
"Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in
die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie
maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy
antwoord was: "My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle
werking wanneer jy swak is."
Paulus sê hy het net 3 maal gebid, en toe die Here se wil
aanvaar. Soms moet ons maar met iets saamleef en God se genade aanvaar, al
is dit hoe moeilik. Mag die Here jou Achilles Heel draaglik maak. ~ Willem
Botha, 28/05/2015 |
|
In Hag.
2:4-5 sê die Here vir Serubbabel en die hele volk om moed te skep
vir die groot taak om die bouwerk aan die tempel te doen. Hy gee 4
redes waarom hulle moed kan hê vir dié werk: (1) die Here is self by
hulle, (2) die Here sal sy beloftes nakom, (3) Sy Gees sal by hulle
wees om hulle toe te rus vir die werk, (4) hulle hoef vir niks bang
te wees nie.
Wat moet jy vandag doen waarvoor jy dalk nie kans sien nie, omdat
die taak te groot, te moeilik, te gevaarlik is? Kom, skryf jou naam
in hierdie teks en skep moed vir die taak wat voor jou lê: “Maar
nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van
Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die
land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by
julle, sê die Here die Almagtige.”
(Hag. 2:4) ~ Wilna Botha, 27/05/2015 |
|
Solank as wat ek kan onthou was ons gesin kjêrkmense en was
Christenskap deel van ons lewe. Ek het nie 'n spesifieke
bekeringsdatum nie en is as kind gedoop, en nie weer nie. Ek het al
baie gewonder hoekom ek aan die Here bly vashou, want ek weet nie of
ek ryker is, gesonder is, vrygestel van trauma is, slimmer kinders
het, of enige spesifieke voordeel het deur 'n Christen te wees nie.
En voorts is ek ook nie immuun teen sondes of droogmaak nie.
Die mense wat glad nie in
God glo nie vra ons maklik vas oor ons geloof en redeneer ons maklik
uit die gesprek uit, want min van ons kan regtig verduidelik wat die
"voordeel" is. Wel, die vraag is natuurlik of daar wel 'n voordeel
is, of moet wees. Hoe sal jy dit verduidelik?
1 Pet 3 : 15b "Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen
wat van julle 'n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe."
Die hoop wat in my lewe is nie vir aardse dinge nie, dis gerig op
die ewigheid. Maar intussen, ten spyte van slegte dinge, weet ek
verseker, God is aan my kant. Nie ten koste van ander nie, nie tot
aardse voordeel van myself nie, maar ek weet God is aan my kant.
Daarom kan ek in Sy arms in vlug in moeilike tye en Hy sal saam met
my wees in goeie en slegte tye. Hy is die beste raadgewer, vriend en
mentor. Waar Jesus loop kan ek ook maar loop.
En dan is daar hierdie teks wat alles verduidelik wat ek behoort te
weet :
1Kor 15:19
"As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die
bejammerenswaardigste van alle mense."
Nou ja, of dit die "wortel" is van die ewige lewe, of nie, ek sal
aanhou om aan Jesus vas te hou. Want ek kan(en wil) nie anders nie.
! Willem Botha, 26/05/2015 |
|
Ek lees hierdie aanhaling nou die dag êrens: “We don’t
have to like our circumstances, but we do have to trust that God is
loving us in them.” Baie keer dink (en verkondig) mense dat
Christene net oorvloed, voorspoed, geluk en gesondheid moet beleef.
Wanneer dit dan nié gebeur nie, is mense ontmoedig en teleurgesteld,
hulle bevraagteken die Here se liefde en goedheid en draai dalk
selfs hulle rug op Hom. Die waarheid is: God se liefde bly vasstaan,
ongeag die omstandighede. Sy liefde dra jou deur jou probleme en
moeilike tye, Sy liefde hou jou regop wanneer dinge onuithoubaar
word. Onthou en glo Rom 8:35: “Wat kan ons nou nog skei van Christus
se liefde vir ons? Swaarkry, probleme, vervolging, hongerpyne, ’n
tekort aan klere, gevare of dalk geweld? Nie een van hierdie dinge
nie!” ~ Wilna Botha, 25/05/2015 |
|
Ek sien nou die dag so ’n stukkie van die TV-program:
“Air crash investigation”. Toe die passasiers besef daar is groot
moeilikheid en hulle mag dalk nie die onvermydelike vliegramp
oorleef nie, het hulle vinnig briefies vir hulle geliefdes geskryf
waarin hulle hul liefde verklaar, vergifnis vra, dankie sê ens. Dit
het my nogal laat wonder ... sê nou maar jy weet dis jóú laaste
oomblikke, vir wie sou jy nog iets wou sê? Wat sou jy wou hê dat jou
geliefdes van jou af moet hoor? Jy weet nie wanneer dit jou tyd is
of wanneer een van jou geliefdes iets kan oorkom nie. Skryf daarom
vandag daai briefie, maak daai oproep, stuur daai SMS, gee daai
geskenkie, doen daai gunsie, bring daai besoek, want daar kan dalk
nie later weer ’n geleentheid wees daarvoor nie.
“Because I've lost loved ones in my life
Who never knew how much I loved them
Now I live with the regret
That my true feelings for them never were revealed
So I made a promise to myself
To say each day how much she means to me
And avoid that circumstance
Where there's no second chance to tell her how I feel”
(uit die liedjie: If tomorrow never comes) ~ Wilna Botha, 21/05/2015 |
|
“Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe
is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min
liefde.” (Luk. 7:47) As ons maar besef hoeveel die Here ons vergewe het en
steeds vergewe, dan sal ons ook soos die Lukas 7-vrou, die beste wat ons het
vir die Here wil gee, dan sal ons ook onsself minder ag en nie omgee oor wat
ander van ons sal dink nie. Dan sal ons ook ons lewe as ’n reukoffer voor
Hom uitgiet, sy voete soen en voor Hom buig. Dan sal ons ook oorloop van
liefde vir die Here en liefde vir ons naaste. Dan sal ons liefde ook in dade
uiting vind – nie omdat ons vir ons vergifnis moet betaal nie, maar omdat
ons dankbare harte nie anders kán nie! ~ Wilna Botha, 21/05/2015 |
|
“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.” (Joh.
14:1) As mens hierdie teks lees, is dit duidelik dat geloof die
teenvoeter vir bekommernis, vrees en angstigheid kan wees. Om Jesus
ten volle te vertrou sal vir jou troos en moed gee wanneer jy
verward, omgekrap en bang is, want dit sal jou gedagtes draai om
raak te sien dat Hy in beheer is, dat Hy by jou is, dat Hy vír jou
is en dat niks jou van Sy liefde kan skei of jou uit Sy hand kan ruk
nie. As ek werklik op die Here vertrou, behoort my bekommernisse
kleiner te word, want ek weet dat Hy vir my sorg, ek glo dat die
hare op my kop getel is, ek weet dat Hy na elke behoefte van my sal
omsien. Jy is vir die Here oneindig kosbaar, jy is nie net ’n nommer
of een van die duisende name op sy lys nie – word rustig en plaas
jou vertroue bewustelik op Hom! ~ Wilna Botha, 20/05/2015 |
|
Vertrou jy nog?
Maak mense jou nie ook moedeloos nie? Oeps ja ek is ook 'n mens en ek maak
verseker ook ander mense moedeloos. Man, en as jy nou moedeloos in sy ergste
vorm wil sien, vat jy aan 'n man se sak. Weet jy hoe om 'n ander ou se sak
leeg te tap? Jy skep by hom vrees, of jy werk aan sy gierigheid, of jy speel
hom en sy besittings af teen ander mense, of jy wys vir hom mooi dinge wat
sy ego streel. En as jy weer kyk staan jou beursie lekker boepens.
Nou vra ek jou: Wie
kan jy nog vertrou? Amper bring ek nou nog politici ook hier in! Daar is so
baie wanvoorstelling, leuens, gebrek aan inligting, uitbuiting,
selfverryking en sommer openlike oneerlikheid. G'n wonder niemand vertrou
niemand meer nie, lyk my dis normaal.
Kyk wat sê
die Bybel daaroor:
JESAJA 2:22
"Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste asem
uit. Hulle is min werd."
Ps 37:1 - 3
"Van Dawid. Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie,
want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle
sommer. Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk
rustig voort."
Daar het jy dit. ~ Willem Botha, 19/05/2015
|
|
“Dra my soos 'n seëlring
op u hart, soos 'n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die
dood.” (Hooglied 8:6) Dit is die woorde van ’n vrou wat smag na haar
geliefde se teenwoordigheid, sy liefde en versorging. Dit is ook die
uitroep van God se kinders dat Hy ons name op Sy hart en op Sy hande
sal graveer. Net soos die profete van ouds ’n borsplaat gedra het
met edelstene waarop die name van God se volk gegraveer was (Eks
39:14), so dra ons Hoëpriester, Jesus, ook ons name op sy bors, in
Sy hart en in Sy gedagtes. Hy ken ons, Hy dink aan ons, Hy verseël
sy liefde vir ons met Sy bloed. Net soos wat ’n seëlring gegraveer
word met die naam van ’n geliefde, net so is ons name ook op sy
hande gegraveer, as teken van Sy ewige liefde, as teken dat Sy hand
van redding, Sy hand van hulp, Sy hand van versorging altyd
uitgesteek is na Sy kinders. “Oh, let me know, my Lord, that I am
Yours, bound to Your heart, and let me know that I am Yours,
protected and preserved by Your arm!” (Charles Spurgeon) ~ Wilna
Botha, 18/05/2015 |
|
In Gen. 16 lees ons van Abram, Sarai en hulle slavin,
Hagar, wat op aandrang van Sarai en met goedkeuring van Abram
instaan om vir Abram ’n kind te gee. Sy is, sonder dat sy dit
verdien, geminag en sleg behandel deur haar eienares en het
weggeloop. Die Engel van die Here het haar by die fontein in die
woestyn ontmoet en vir haar gesê om haar kind Ismael te noem. Dit
beteken “God hoor”. Sy het God aangeroep en gesê: “U is ’n God wat
my sien”. Ons kan ook elke oomblik seker wees dat God ons sien en
dat Hy ons hoor! God is teenwoordig in elke situasie van jou
lewe, elke verwerping, slegte behandeling, onregverdigheid, elke
woestyn en elke plek waar jy verlore en alleen voel. Hy is nie
afwesig, weg, aan die slaap of op langverlof nie. Hy sién jou trane,
Hy sién jou nood. Hy sién jou oorwinnings en jou vreugdes. Hy hoor
alles – jou uitroep in nood, jou sagte sug wanneer jy nie woorde het
nie; Hy hoor jou lofliedere en jubelsange. “Die Here het sy oë oral
op die aarde sodat hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom
vertrou” (2 Kron. 16:9); “Die Here is op sy troon in die hemel. Sy
oë is oop” (Ps. 11:4) ~ Wilna Botha (14/05/2015) |
|
'n Een sin preek
Lank gelede het ons 'n dominee gehad wat vreeslik kort
gepreek het. Ons het op 'n tyd ook 'n dominee gehad wat
vreeslik in metafore gepreek het en ons kon niks
verstaan nie. Sommige predikers preek vreeslik lank en
ander preek vreeslik diep en met gevoel.
So gee God vir Jona 'n opdrag om Nineve toe te gaan,
maar sy pad loop eers ander draaie. Eventueel beland hy
in Nineve en preek net een sin, woorde wat die Here vir
hom gee.
Jona3:4
Jona het die stad ingegaan en 'n dag lank daar
rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en
Nineve word verwoes"
Net dit, en daar was resultate. Soms voel
ons ook om vir iemand iets te sê of 'n boodskap oor te
dra en soms is een sin genoeg. Wees ingestel op die
Here, Hy gee dalk net die regte woorde, of 'n
teksgedeelte, wat op daardie oomblik nommerpas is. Iets
soos:
Daar is hoop in Jesus, glo dit.
Jou swaarkry gaan nie vir ewig aanhou nie
Die Here se genade is vir jou genoeg
Die Here sal selfs DAARDIE sonde vergewe
Die Here vergeet nooit Sy beloftes nie
Jesus sal jou aanneem, of jy dit glo of nie, as jy hom
vra.
Dalk maak dit nie vir jou sin om hierdie
een sin te "preek" nie, maar dalk is dit al wat nodig
is. ~ Willem Botha, 13/05/2015 |
|
“Some people throw stones in your path. It
depends on what you make with them – a wall or a bridge.” Ek het dié
nou die dag êrens gelees en gewonder watse klippe dit is wat mense
na my toe kan gooi wat my pad kan versper, wat my wil laat struikel,
wat my wil keer om met vrymoedigheid vorentoe te stap. Ek dink dis
meestal klippe van kritiek, foutvind, vingerwys en veroordeel – soos
die Fariseërs wat die owerspelige vrou voor Jesus kom veroordeel het
(Joh. 8). Hulle wou haar met klippe doodgooi, maar Jesus spreek haar
vry, Jesus bou vir haar ’n brug met daardie klippe. Wat maak ek
vandag met mense se kritiek-klippe? Ek gaan die beste daaruit haal.
Ek gaan ’n brug daarmee bou en vorentoe loop, ek gaan nie ’n muur
daarmee bou en myself isoleer nie. Ek gaan onthou dat die
vingerwysers en klipgooiers nie my hele storie ken nie en nie in my
skoene gestap het nie. Ek gaan in my geestesoog sien dat Jesus in
die sand skryf en sê: Ek maak jou vry. ~ Wilna Botha, 12/05/2015 |
|
Jesus word in Heb. 13:20 die “groot
Herder van sy kudde” genoem. Ai hoe gelukkig is ons nie om te weet
ons het ’n Herder wat vir ons sorg met lieflike weivelde en strome
vars water en vrede wat alle verstand te bowe gaan nie. Hy is die
goeie Herder wat ons ken en ons op ons name roep en voor ons uitstap
(Joh. 10:3, 14) sodat ons Hom met volle vertroue kan volg. Wanneer
ons verdwaal en ons eie koers vat, kom soek Hy ons. Wanneer ons
seerkry, kom haal Hy ons en dra ons terug op sy skouers. Ons Herder
het tot die uiterste vir ons gegaan en sy lewe gegee sodat ons gered
kan wees. “Ek is vir Christene wat ’n herder vir sy skape is. Wat Ek
bedoel, is dit: die herder is bereid om alles te gee ter wille van
sy skape, ook sy lewe. Hy sal liewers self doodgaan as dat hy sal
toelaat dat sy skape iets oorkom.” (Joh. 10:11, Die Boodskap) ~
Wilna Botha, 11/05/2015 |
|
Toe kap hulle sy kop af...
Matt 11:11
“Dit verseker Ek julle: Onder die mense
op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie,
en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy."
Niemand is groter as Johannes die Doper
nie. Sjoe, nogal iets groots om van iemand te sê, of hoe? En dit
nogal by monde van die Koning van Konings! Johannes het vir Jesus
gedoop en dit op sigself was 'n groot moment in ons geskiedenis en
dis dalk die rede hoekom
hy so groot in Jesus se oë was. Iemand na aan Sy hart.
En toe kap hulle sy kop af. Jip, reg gehoor, Johannes
word deur Herodus onthoof, oor die mees belaglike, sinnelose rede
denkbaar, sommer net vir sommer.
Hoe op aarde kon Jesus dit toelaat? Nee my vriend ek
weet nie, maar dit lyk my dis die lewe. Slegte, sinnelose, onnodige
goed gebeur. Dink jy dat ek en jy alle slegte goed sal vryspring net
omdat ons glo? Dink jy Jesus se kinders kan aanspraak maak op 'n
volmaakte, probleemvrye lewe? Nee ons kan nie. Dit werk nie so nie,
maar weet verseker dat God by ons is, in elke goeie en slegte
omstandigheid. ~ Willem Botha, 07/05/2015 |
|
“Van buite sal dit lyk of hulle
kerkmense is, maar aan hulle binnekant sal hulle dolleeg wees,
sonder God en sy krag. Bly weg van hierdie tipe mense af.” (2 Tim
3:5) Sjoe, ongelukkig is dit so dat hierdie “tipe” mense bestaan.
Dit is mense wat net maak asof hulle Christene is, wat geestelike
praatjies maak en selfs ’n klomp goeie dinge doen en elke Sondag
kerk toe gaan, maar hulle harte is vêr van die Here af, hulle hou
die deur van hulle hart gesluit vir die Gees se werking. Dis hierdie
tipe mense vir wie Jesus witgeverfde grafte genoem het – mooi aan
die buitekant, maar binne vol ongeregtigheid, gierigheid, haat,
leuens en huigelary. Al is ’n graf hoe mooi versier met ’n grafsteen
en blomme is die inhoud steeds net dooie bene. Kom ons wys nie
vinger na hierdie “tipe” nie, maar sorg eerder dat ons eie binnekant
skoon en bruikbaar is, dat dit beskikbaar is as woonplek vir die
Here en as werkplek vir Sy Gees. ~ Wilna Botha, 07/05/2015 |
|
Sê wie?
Iemand sê eendag tereg dat mens deesdae
al hoe meer onderskeiding aan die dag moet lê. Die internet wemel
van opinies en Geestelike boeke verskyn by die dag, maar nie alles
is iets werd nie. Die Bybel waarsku ernstig teen vals profete want
dis 'n gruwel in die oë van die Here.
Jer 14 : 14 "Die Here het vir my gesê:
Die profete gee voor dat hulle in my Naam optree, maar Ek het hulle
nie gestuur of beveel nie, Ek het nie eens met hulle gepraat nie.
Dit is gesigte wat nie
bestaan nie, nuttelose waarsêery, dit is bedrog wat hulle versin wat
hulle vir julle aanbied as woorde van profete."
Inderdaad 'n ernstige vermaning. Mens hoor so maklik
"Die Here het vir my gesê..." (Ja, die Here het ook al vir my gesê),
maar ek is so bang dis net my eie versinsels. Mens hoor ook dikwels
:" Die Here het vir my die volgende oor jou gesê... " Ons verval so
maklik in die ding dat die Here aardse voorspoed oor ons wil
uitspreek deur ander se monde.
Hoe weet ek of dit wat ek hoor van die Here af kom? Wel,
ons moet maar self by hom gaan hoor. Ons eerste lyn van gebed is
onsself, en so sal die Here sekerlik eerder self met ons wil praat
as ons net wil luister. Stel jou ore fyn in vir op Sy stem, Hy praat
met almal wat luister. ~ Willem Botha, 06/05/2015 |
|
Ek lees nou die dag dié mooi
dingetjie: “One day someone is going to hug you so tight that all
your broken pieces will stick back together.” Om ons is baie mense
wat so stukkend is van verwerping, wat so geskeur is deur swaarkry,
wat so gekraak is deur minderwaardigheid, wat so gebreek is deur
siekte en probleme. Dit is mense wat behoefte het aan aandag,
aanvaarding en aanraking. Jesus was nie bang om aan mense te raak
nie – Hy het Hom nie gesteur aan grense, gewoontes en aan wat mense
daarvan sou dink nie. Hy het aan siekes, onreines en verwerptes
geraak, Hy het selfs sy dissipels se vuil voete gewas! Dalk moet ek
ook bietjie buite my gemak- en veiligheidsgrense gaan, voorbehoude
eenkant toe skuif, verby die uiterlike kyk en iemand ’n drukkie gee.
’n Drukkie wat ’n universele, taal-lose uitdrukking is om te sê: ek
gee om vir jou, ek voel jammer vir jou, ek hou van jou, ek is hier
vir jou, ens. Dalk, dalk, dalk ... kan so ’n drukkie bydra om
gebreekte stukkies van iemand se lewe weer aanmekaar te plak. ~
Wilna Botha, 04/05/2015 |
|
“As julle vir ander mense omgee
sonder om enigiets terug te verwag, is julle regtig kinders van die
Allerhoogste.” ( Luk. 6:35, Die Boodskap) Vir vandag se lewe
klink hierdie só teenstrydig. Ons doen mos niks waarvoor ons nie
vergoed word nie. Niemand werk verniet nie. Tyd is geld. Vir elke
dingetjie wat ek doen, vir elke uur wat ek spandeer eis ek
vergoeding. Dís die meeste mense se natuurlike ingesteldheid – myne
ook. Hierdie teks fokus weer my aandag daarop dat Jesus sy navolgers
geleer het om anders op te tree as wat die natuurlike mens wil, om
die wêreld te verras met ons barmhartigheid. Hy leer ons bv. om
ander eerste te stel, om ander te behandel soos jy self behandel te
word, om die ander wang te draai, om die ekstra myl te loop, om goed
te doen aan mense wat jou haat, om iemand wat jou vloek met ’n seën
te antwoord, ens. As ons die hele tyd iets terugverwag, dan doen ons
besigheid. As ons iets doen sonder om iets terug te verwag, dan doen
ons barmhartigheid. Jesus is in die barmhartigheid-besigheid en ons
behoort ook te wees. ~ Wilna Botha, 04/05/2015 |
|
Aangesien dit Werkersdag is vandag, het ek so bietjie oor werk
gedink. Is jou werk vir jou ’n seën of ’n straf? Dit wil my lyk of
daar mense is wat dink werk is ’n straf. Hulle sê dit is die gevolg
van Adam en Eva se ge-etery daar in die paradys dat ons moet werk.
Die Here het egter al vóór die sondeval vir die mens die opdrag
gegee om te werk (Gen. 1:28). Miskien het die sondeval net
meegebring dat ons werk nou met meer moeite en swaarkry en
inspanning gepaard sal gaan? Vir baie mense is hulle werk egter ’n
seën en hulle sien dit as ’n gawe wat God aan hulle gee, daarom doen
hulle hul werk met vreugde. Vir my help dit om te glo dat ek my werk
(of dit nou wasgoed stryk en skottelgoed was is, of kliënte bedien,
of groot en ingewikkelde goeters is) vir die Here doen en nie vir
mense nie. Dán doen ek dit so goed as wat ek kan en ek geniet dit.
“...doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie.”
(Ef. 6:7) ~ Wilna Botha, 01/05/2015 |
|
Mors 'n bietjie tyd.
Pred 3:1 "Elke ding het sy vaste tyd,
elke ding in hierdie wêreld het sy tyd..."
,
So sê die Prediker. Maar vir jou en my is
dit gewoonlik nie waar nie, want ons spandeer te veel tyd aan
OORLEEF , en te min aan LEEF. Daar is 'n verhaal van 'n man wat
vertel dat die beste dag in sy lewe was toe sy afwesige pa hom as
tjokkertjie geneem het om te gaan visvang. Baie later jare het hulle
op sy pa se ou dagboek afgekom op die volgende inskrywing : "Another
day wasted, went fishing with Johnny."
So tragies. Weet jy vriend, elke dag wat
jy verloor het om iets lekkers saam met jou geliefdes te doen, is
verlore, vermorste tyd. Jy kan daardie dag se geleenthede nooit weer
terugkry nie.
Gaan "mors" 'n bietjie tyd. Gaan fliek,
gaan 'n naweek weg (al is jy brandarm), gaan drink 'n koffie in 'n
koffiewinkel, gaan loop in 'n parkie, gaan op 'n foto uitstappie, al
is dit met 'n selfoon, gaan asem bietjie vroegoggend lug in. Gaan
mors daai tyd, voordat dit heeltemal vermors is. ~ Willem Botha,
20/04/2015 |
|
Hoe
sou dit gewees het as ’n herfsboom geweier het om sy dooie blare af
te gooi? Hoe sou dit gewees het as hy vasgeklou het aan dít wat nie
meer nodig is nie, dít wat hom sou terughou om weer te groei en weer
mooi en kleurvol te word? Dis tog ondenkbaar. Miskien werk dit dalk
so in die lewe ook. Miskien kom daar herfs- en wintertye waarin ons
maar keuses moet maak om ou dinge agter te laat, waarin ons eers
kaal, gestroop en leeg moet word sodat ons weer kan groei en weer
mooi en waardevol kan wees. Daar is ’n uitdrukking wat sê: letting
go lets us grow. Miskien is dit nou tyd om ou koeie van die verlede
finaal te begrawe, om die minste te wees en iemand te vergewe, al
verdien hulle dit nie. Miskien is dit nou tyd om te leer uit die
foute van die verlede en met nuwe hoop en vars moed die toekoms aan
te durf. “...een ding
doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor
is.” (Fil. 3:13) ~ Wilna Botha, 29/04/2015 |
|
Here vergewe my asb vir hierdie massiewe balk in my oog! Ek
weet dis net ek self wat hom kan uithaal. ~ Willem Botha, 28/04/2015 |
|
Wanneer die nood die ergste is, is
God Almagtig die sterkste teenwoordig. So skryf iemand nou die dag.
Ons is geneig om moeilike omstandighede en probleme oombliklik
opgelos te wil hê. Ons sit gebedskettings aan die gang en wens die
situasie weg. Het jy al daaraan gedink dat die Here jou dalk
daardeur iets wil leer, jou meer op Hom wil laat vertrou, of dat Hy
jou wil laat besef dat Hy teenwoordig is dáár in jou nood-situasie?
Sien Hom raak, sien Sy helpende hand en beskermende arm om jou raak.
Wanneer jy weer in die een of ander beproewing kom, raak bewus van
die Here se buitengewone teenwoordigheid by jou. Hy sê in Jes.
43:2-3: “As jy deur diep water moet gaan, sal Ek by jou wees ... Ek
is mos die Here jou God wat vir jou sorg.” ~Wilna Botha,
24/04/2015 |
|
“My liewe vriende, ek vra julle
baie mooi: neem tog asseblief die brief ernstig op ... Ek het dit
spesiaal geskryf om julle moed in te praat.” (Heb. 13:22, Die
Boodskap) Een van die groot redes waarom ons ons na die Bybel moet
wend, waarom ons dit elke dag moet lees, waarom ons dit moet oordink
en memoriseer, is om daardeur bemoedig te word. Wanneer ons die
Woord van God lees, dan skep ons weer moed, dan word ons geloof en
hoop weer bevestig. Daar is honderde beloftes en tekste van troos en
bemoediging. Merk dit in jou Bybel. Neem dit ter harte. Dis bedoel
om jou moed in te praat en te laat deurdruk en volhard. ~ Wilna
Botha, 23/04/2015 |
|
Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe...
Het jy al gesien hoe vernietigend die
geskrewe woord kan wees? Die goue reël sê mos dat jy versigtig moet
wees wat jy skryf, veral as jy kwaad is, want jy kan dit nooit weer
vernietig nie, veral as dit op sosiale media beland, of op 'n epos.
Jy moet baie seker wees dat jou woorde jou opregte bedoeling
weerspieël. Met Jesus se kruisiging het Pilatus die volgende woorde
op die kruis laat aanbring nadat hy Jesus onskuldig bevind het, maar
hom tog laat kruisig het.
Joh15 : 21-22 Die priesterhoofde van die Jode het toe
vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie,
maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”Pilatus het
vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”
Wat het hier met Pilatus gebeur? Het hy nie tog dalk tot
ander insigte gekom ? Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe ...
Indien wel het hy 'n baie dapper ding gedoen. Ons ken vandag hierdie
stukkie geskiedenis want dis geskrywe in woorde, nie net oorvertel
nie.
Mag jou geskrewe en gesproke woord jou oortuiging
weerspieël en die toets van die tyd deurstaan. ~ Willem Botha,
22/04/2015 |
|
“Die wyse man moet nie in sy wysheid roem nie, die soldaat nie in sy
krag nie, die ryk man nie in sy rykdom nie. Laat hom wat wil roem,
daarin roem dat hy insig het en My ken.” (Jer. 9:23-24) Ons moet
maar altyd bewus bly daarvan dat ons sonder die Here nie veel werd
is nie. Ons moenie dink ons is so slim en sterk, ons kan dit en dat
vermag en hoë dinge bereik nie. Ons moenie dink ons het hard gewerk
vir ons geld, ons kan koop wat ons hart begeer nie. Ons moet alles
wat ons doen en beplan in afhanklikheid van die Here doen, ons moet
leef vanuit die besef dat wysheid, krag en rykdom ’n genade-geskenk
van Hóm af is en dat dit enige oomblik kan verdwyn. Sal jy nog
gelukkig en tevrede wees as jy Alzheimer siekte kry en jou
slimmigheid jou niks meer baat nie? Sal jy nog die Here dien as jy
al jou besittings in die een of ander ramp verloor? Sal jy nog die
Here liefhê as jy die gebruik van ’n ledemaat verloor en nie meer
selfstandig jou dinge kan doen nie? Besef maar net weer vandag dat
om die Here te ken en te dien die heel belangrikste is en dat dit
genoeg is! Moenie toelaat dat jou kennis, jou krag of jou rykdom vir
jou belangriker word as die Here nie. ~ Wilna Botha, 21/04/2015 |
|
Luk 17:17-18
Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is
nie? Waar is die ander nege dan? Is daar niemand anders wat
omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers
'n Jood is nie?”
Ek dink hierdie teks is baie bekend aan ons almal. 10
melaatses word genees maar net een kom sê dankie.
Een koel aand lê ek en vroulief snoesig in die bed met
'n warm kombers tot oor die neuse getrek. Skielik kom die skokkende
besef oor my dat hierdie 3 vierkante meter
waarop ek lê, 'n voorreg is wat BAIE minder as die helfte van die
wêreldbevolking geniet. Net 3 vierkante meter! Nie te praat van die
res van die huis, die motors, 'n onderneming, kos in die koskaste,
gesondheid en soveel meer nie.
Hoe blasé het ons nie al geword nie, hoeveel kan ons
minderbevoorregtes kritiseer en miskyk, maar daar slaap hoeveel
mense op sypaadjies. 3 vierkante meter van HEMEL, vir so min beskore.
"HERE, DANKIE DAT U NIE VIR MY NET DIT GEE WAARVOOR EK
DANKIE SÊ NIE." ~ Willem Botha, 20/04/2015 |
|
We want to see Jesus lifted high, a
banner that flies across the land, that all men might see the truth
and know: He is the way to heaven ... so lui die woorde van ’n
liedjie wat beaam wat die Woord sê in Jes. 62:10: “Steek ’n banier
op dat die volke dit kan sien.” Kom ons steek ons baniere en
vaandels op en swaai ons vlae wat verkondig dat daar goeie nuus is,
nuus wat vertel van hoop en ’n toekoms in Christus, nuus van vryheid
en vrede en verlossing, nuus wat sê dat Jesus lewe en dat ons deur
Hom die ewige lewe kan hê. Ons kan dit natuurlik fisies doen deur
die boodskap aan te bring op groot advertensieborde, baniere teen
geboue of op lamppale, soos wat mens dit nogal deesdae sien. Ons kan
met die boodskap op ’n “bumper sticker” rondry, ons kan dit op ons
voordeur of hek aanbring, ons kan dit op ’n T-hemp dra of ons kan
daaroor sing en praat. Ons moet natuurlik ook nie nalaat om ’n
lewende banier wees nie! Ons lewe, ons woorde en dade moet die
boodskap wat ons verkondig onderstreep, dit moet bevestig dat daar
hoop en lewe in Hom is ... a banner that flies across the land. ~
Wilna Botha, 16/04/2015 |
|
“Moenie in belaglike argumente betrokke raak en
met mekaar sit en stry nie, want dit sal net maak dat julle aan die
baklei raak.” (2 Tim 2:23, Die Boodskap) Ai, hoe waar is hierdie
woorde nie. Ek sien en hoor so dikwels dat Christene in hierdie
strik trap om met mekaar aan die stry te raak oor geestelike sake,
oor interpretasies van die Bybel, oor wat reg en verkeerd is, oor
godsdienstige gebruike en gelofies. Boonop doen hulle dit heel
dikwels sommer nog op Facebook ook! Meeste van die tyd lyk dit vir
my regtig na mors van tyd, mors van woorde en van asem, want die een
kry nie die ander een oortuig nie en die uiteinde is dat hulle
mekaar beledig, sarkasties raak, negatiewe uitlatings en
veralgemenings maak. Ek wil maar altyd probeer om Kol 3:6 ingedagte
te hou: “Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak
getuig.” ~ Wilna Botha, 15/04/2015 |
|
Mark 15: 37 "Daarna het Jesus hard uitgeroep en die
laaste asem uitgeblaas.Die voorhangsel in die tempel het van bo tot
onder middeldeur geskeur."
'n Absolute merkwaardige gebeurtenis wat op die oomblik
van Jesus se dood plaasvind. Mens kan eintlik sê dis dié grootste
gebeurtenis van die hele geskiedenis van die mensdom. Jesus oorwin
die ewige dood vir jou en my, maar saam met dit kom daar iets wat
ons dalk nie genoeg oordink nie. Die voorhangsel in die tempel skeur
van bo na
onder middeldeur en 'n hele nuwe bedeling breek aan. Voor die
insident tree die Hoëpriester op as "middelman" om namens die mens
by God in te tree. Na die skeuring is die deur heeltemal oop.
Nou kan ek en jy vrylik in Sy troonkamer instap, enige
tyd, net wanneer ons wil. Nou het God 'n "oopdeur beleid", Hy
verlang na ons, Hy begeer dat ons gereeld by Hom kuier en wil graag
konstante interaksie met ons hê. Stap in, kuier saam met Hom en
geniet Sy geselskap. ~ Willem Botha, 14/04/2015 |
|
1 Kor 16:22(a) : "As iemand die Here nie
liefhet nie – vervloek is hy..."
Sjoe! Toe ek hierdie woorde nou die dag raaklees was ek
geskok! Wat op aarde beteken dit? Wat beteken dit as God
jou vervloek? Ek dink God is baie ernstig met hierdie
teks en dis sekerlik vir Christene en nie-Christene ewe
waar, en ek dink ons almal sukkel maar daarmee.
Wat beteken dit om waarlik lief te wees
vir die Here? Seker om Sy wil te doen, Sy Woord te
verkondig, in 'n verhouding met hom te staan en om met
Hom besig te wees.
As jy iets (of iemand)
vervloek beteken dit om jou te distansieer, uit jou mond
te spuug, te verwerp en te laat staan. Dis verskriklike
harde woorde as jy vir iemand sê "ek vervloek jou". Mens
sal dit tog nie vir jou vriend of broer sê nie, of hoe?
Maar tog sê die Here dit in hierdie teks. Dit laat my
net weereens besef hoe ernstig die Here is oor 'n
verhouding met Hom. Ek wil verseker nie hê die Here moet
my vervloek nie. Ek wil my daarop toespits om Hom elke
dag meer en meer lief te hê. ~ Willem Botha, 14/04/2015 |
|
“A bend is not the end of the road,
unless you fail to make the turn,” is ’n aanhaling wat ek al
meermale gehoor het. Jy het ’n keuse hoe jy probleme en kronkels in
jou lewenspad hanteer. Jy kan óf negatief wees, tou opgooi, skree en
skop en verbitterd raak. Óf jy kan sê: ek sál hierdeur kom,
een tree op ’n slag. Baie keer werk dinge nie uit soos wat jy gedink
het dit moet nie. Moenie omgekrap raak as die pad nie net reguit en
maklik is nie, want ná die kronkeling in die pad lê daar dalk ’n
wonderlike uitsig, of ‘n rusplek, of ’n padstal met lafenis. Druk
deur, hou aan, volg die pad, al is daar ’n onvoorsiene draai in jou
lewenspad. Jy sal anderkant uitkom, jy sal sien dat daar ’n doel was
met die kronkels, jy sal sien dat die uiteinde ten goede meewerk in
God se plan vir jou lewe. ~Wilna Botha, 13/04/2015 |
|
“He brought me to the banqueting house, and his
banner over me was love.” (Hooglied 2:4) Die teks laat mens dink aan
Ps. 23 wat sê dat die Here vir ons ’n feesmaal voorberei, ons soos
’n eregas ontvang en ons oorlaai met hartlikheid en goedheid. Sien
in jou geestesoog hoedat jy saam met die Here aansit vir dié
feesmaal, sien dat daar ’n groot banier hang waarop staan hoe lief
Hy jou het. Die Woord sê sy liefde is onbeperk, onverdiend, oneindig,
onvoorwaardelik en onbeskryflik. Sy liefde is ewig, volmaak en
omvattend. Die Here se banier van liefde sê: “My liefde vir jou sal
nooit verdwyn nie.” (Jes. 54:10) ~ Wilna Botha, 10/04/2015 |
|
Heb11:1 "Om te glo, is om seker te wees
van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons
nie sien nie."
Hebreërs 11 is 'n wonderlike getuienis
van 'n klompie van die bekende figure deur die Bybel geskiedenis wat
onwrikbaar geglo het in 'n God wat hulle nie gesien het nie. Ons vat
dit dalk vanselfsprekend dat hierdie mense sou glo, want hulle was
immers "Bybel figure" en omdat hulle name in die Bybel opgeteken is
behoort hulle sekerlik te glo. Die realiteit
was egter nie so maklik nie. Abraham, Noag, Henog, Isak, Jakob en
vele meer het sekerlik by tye alle rede gehad om dit maar op te gee,
maar hulle het nie. Hulle vasbyt in hulle geloof is nie beloon met
wonderlike lewensomstandighede, rykdom of welvaart nie. Inteendeel,
sommige van hulle het bitter swaar gekry.
Hulle onwrikbare geloof het egter een groot ding in
gemeen. Hulle het nie die Here gesien nie, maar hulle het Sy werke
gesien. Die werking van die Gees van God in hulle lewens het vir
hulle hoop gegee en die oortuiging gebring dat daar iets moet wees
in die onsienlike. So het hulle almal in 'n verhouding met God
gestaan en die werklike LEWE ontdek.
Ek verstaan so baie dinge glad nie, ek ek was ook 'n
paar keer teleurgesteld omdat my geloof nie die opbrengs gegee het
wat ek sou wou sien nie, maar ek het telkens gesien dat geloof in
God nie net tot my eie aardse voordeel kan strek nie. Om 'n pad met
die Here te stap, tot in die hiernamaals, is baie meer werd as die
hier en nou.
"Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons
hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie." ~
Willem Botha, 08/04/2015 |
|
Na Jesus se lyding aan die kruis
het oorwinning gevolg. Daardie oorwinning is ook óns oorwinning.
Oorwinning oor die sonde en die dood, oorwinning oor Satan en die
hel. Ons moet onthou dat ons nou enige lyding kan verduur omdat ons
weet dat dit uiteindelik ook tot oorwinning sal lei. Hierdie gedagte
kan ons deurdra en sterk maak om moeilike tye die hoof te bied. Die
swaarkry wat ons hier en nou beleef is tydelik, dit gaan verby en
die uiteinde daarvan is ’n onverganklike oorwinnaarskroon. “Ons
swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop
vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig
bly.” (2 Kor. 4:17) ~ Wilna Botha, 07/04/2015 |
|
Paasfees is verby. Jesus het
opgestaan, Hy het waarlik opgestaan! En nou? Kan ek nou net weer
gewoon voortgaan met my lewe? Nee! Want elke ontmoeting met die
kruis, elke oordenking van die kruisgebeure, elke nuwe besef van God
se genade en liefde wat daardeur vir my bewys is, elke verwondering
oor die leë graf, laat my geloof groeispronge maak. Dit laat my
verdiep in my verhouding met my Here. Dit herskep my hele wese. Dit
gee my “nuwe woorde” vir my getuienis. Dit maak my hande en my hart
oop vir my medemens. “Na die kruis van Jesus, hoe sal ons kan
hande vou en swyg .... want daar was ’n houtkruis, ja, ’n Redder aan
’n houtkruis vasgeslaan” ~ Wilna Botha, 06/04/2015 |
|
Ja, dis waar! Die steen is weggerol,
Jesus het opgestaan, die graf is leeg, Hy leef! Soos die vroue voor
die leë graf gryp ek ook Sy voete en aanbid Hom (Matt. 28:10). Glo
jý dat Hy lewe? Of wil jy ook soos Tomas eers ’n teken sien? Jesus
sê: “Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” (Joh.
20:29) Jesus leef, God het Sy bloed-offer vir elkeen van ons se
sonde aanvaar. Nou kan ons ook lééf in vryheid en oorwinning. ~
Wilna Botha, 05/04/2015 |
|
Matt 27:38 "Saam met Hom het hulle ook twee rowers
gekruisig, een regs en die ander een links van Hom."
Drie kruise. 'n Redder in die middel en twee
rowers aan weerskante. Twee deur die regstelsel skuldig
bevind, maar Jesus na Sy dood gestuur omdat
Pontius Pilatus bang was vir die mense. Een van die
rowers spot Hom en vra smalend dat Jesus hulle van die
kruis (en die dood) moet red, die ander een
berispe hom en vra iets heeltemal anders.
Luk 23 : 42 Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U
in u koninkryk kom.”
Hy het die ware Redding begeer en Jesus gee dit vir hom
onmiddellik en onvoorwaardelik.
Is ons nie soms ook maar soos die een wat aan Jesus wil
vasklou vir die voordele van die hier en nou nie? Jesus
wil hê dat elke mens saam met Hom in die Koninkryk sal
wees. Dis net een uitroep weg, en dieselfde belofte sal
vir elkeen waar wees wat daarna vra.
“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die
paradys wees.” ~ Willem Botha, 02/04/2015 |
|
Mark 15:25 "Dit was nege-uur die môre toe hulle
Hom gekruisig het."
In hierdie Paastyd herdenk ons die kruisiging van Jesus
Christus, en ons weet dis ter wille van ons redding wat Hy moes
sterf. Maar ek dink ons is onwillekeurig ook kwaad vir die wrede
soldate wat as laksmanne moes optree. Hoe kon hulle? Dink net so
bietjie saam met my: As ek of jy die enigste mens op die aarde wees,
sou Jesus steeds moes kom, en dan sou ek of jy die een wees wat Hom
aan die kruis sou vasspyker, en Hy sou daardie sonde (om Hom te
vermoor) ook vergewe het, anders het Hy mos totaal onnodig gesterf,
of hoe? Kom ons wees opnuut bewus van die feit dat geen sonde te
groot is vir vergifnis nie, en kom ons herdenk dit met dankbaarheid
in hierdie Paastyd. ~ Willem Botha, 02/04/2015 |
|
As
Jesus aan die kruis sê: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie
wat hulle doen nie!” (Luk. 23:34), dan beklemtoon dit vir my dat die
kruis oor vergifnis gaan. Jesus bid nie net vir diegene wat Hom
kruisig nie, Hy bid vir elkeen van ons, want dis óns sonde waarvoor
Hy daar ly, sterf en betaal. Ons het vergifnis nodig, want ons het
almal gesondig en daar is ’n kloof tussen ons en God wat ons nie op
ons eie kan oorsteek nie. Die kruis het vir ons die brug van
vergifnis geword. Jesus het die prys kom betaal met sy lewe, met sy
liggaam en sy bloed, sodat ons vry kan wees, sodat ons verhouding
met God herstel kan wees. “Hy het die skuldbewys met sy eise teen
ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit
vir goed weggeneem.” (Kol 2:14) ~ Wilna Botha, 1 April 2015 |
|
Maartmaand is Kosmos tyd. Asof uit die niet verskyn
pragtige lappe kosmos en ander veldblomme en hulle groei
net. Nie hulle, of die mens het iets gedoen dat dit
gebeur nie, dis net daar.
Dit laat my dink aan Jesus wat veldlelies gebruik om ons
te leer om Hom onvoorwaardelik te vertrou en op te hou
om ons te bekommer.
Matt 6:28-31
"En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei
die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere
nie. Maar Ek sê
vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee
soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld,
wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier,
hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle
kleingelowiges?“Julle
moet julle dus nie bekommer en vra:‘Wat
moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons
aantrek?’
nie."
Ek glo een van die moeilikste tekste in die Bybel is:
"Moet jou nie bekommer nie..." Dis SO deel van ons
menswees, dis bykans onmoontlik om dit nie te doen nie,
maar steeds gee die Here vir ons die opdrag.
Kyk bietjie terug in tyd, het die kosmos blommetjies
jaar na jaar teruggekom? Jip, verseker. Kyk ook terug in
jou lewe, het die Here elke keer weer betyds gehelp?
Waarskynlik. Nou hoekom bekommer ek my dan steeds? Ek
weet nie, maar ek wil probeer om dit nie te doen nie. ~
Willem Botha, 31/03/2015 |
|
In laaste reëltjie van hierdie
kwartaal se Bybelstudie, skryf die dominee: “Ons mag dalk moed
verloor as gevolg van omstandighede, maar ons mag nooit geloof
verloor dat God regverdig is en in beheer is nie.” Ek het dié
reëltjie oor en oor bedink en in my hart rondgerol. Ek wil hê dat
dit in my gedagtes moet bly sit, sodat ek in enige omstandighede sal
kan bly staan op my geloof, dat ek nooit die Here se weë sal
betwyfel nie, dat ek altyd sal weet dat geen moeilikheid my sal
onderkry nie. Ek wil dit deel van my lewensmotto maak sodat ek
voluit op die Here kan vertrou, ongeag van swaarkry of onsekerheid
of pyn. “... want ons weet: swaarkry kweek volharding en volharding
kweek egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop.” (Rom
5:3-4) ~ Wilna Botha, 30/03/2015 |
|
Die dag toe Jesus gehuil het.
Ons lees so iets van Jesus se emosies in die Bybel waar
ons Sy "menswees" raaksien . Ons ken die deel baie goed waar Hy die
mense uit die tempel geboender het met 'n sweep en baie kwaad geword
het. Maar ook waar Hy bloed gesweet het die nag voor Sy kruisiging
en gevrees het vir Sy lewe.
Dan is daar ook die insident waar Hy gehuil het met sy
vriend Lasarus se dood.
Joh 11 : 33 - 35 "Toe Jesus sien dat Maria huil en dat
die Jode wat saam met haar
gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan.
Hy vra toe: Waar het julle hom begrawe? Hulle het vir Hom gesê:
Here, kom kyk.
Jesus het gehuil."
Aangrypende verhaal van Iemand wat net soos ek en jy
bedroef is met die dood van 'n geliefde, of 'n ander terugslag wat
ons tref.
Ek glo dat Jesus ook vandag saam met ons swaarkry en
huil in tye waar dinge te veel raak of trauma oor ons pad kom. Ek
dink Jesus se droefheid ken geen einde as Sy kinders worstel met
moeilike dinge nie. Hy het wel vir Lasarus uit die dood opgewek, en
sulke dinge gebeur selde in vandag se tyd, maar Sy hart is sekerlik
vandag saam met joune seer as jy swaarkry. Hoekom vat Hy nie net die
pyn en swaar weg nie? Ek weet nie, maar Hy is nie 'n afsydige God
nie. Hy gee om, en omdat Hy ook daardie emosies beleef, kan en sal
Hy jou vertroos. Laat Hom toe om Sy arms om jou te slaan en jou vas
te druk as jy nie meer kan nie. Ek glo Hy wil dit doen. ~ Willem
Botha, 27/03/2015 |
|
“U is die bron van die lewe.” (Ps. 36:10) Alle
lewe begin by die Here. Ek en jy het ook ons ontstaan aan Hom te
danke. Ons het lewende wesens geword deurdat Hy Sy lewensasem in ons
neus geblaas het, soos vir Adam. (Gen. 2:7) Het jy dalk drooggemaak,
jou lewe opgemors en weggedraai van die Here en sy weë af? Die Here
is steeds die bron van die lewe en by Hom is vergifnis, nuwe begin
en nuwe lewe. Asem die ou lewe uit en ontvang opnuut weer Sy
lewensasem. Daar is ’n liedjie wat dit so mooi sê: “Here,
U’s die bron van die lewe, U bepaal die sin en die rede, U is die
outeur van die mensverhaal, U’s die argitek van die groot heelal...”
~ Wilna Botha, 25/03/2015 |
|
Wag op die Here.
Weet jy hoe lank is 'n nanosekonde? Dis die tyd wat
verloop vandat die robot vir jou groen slaan en die ou
agter jou toet.
Ons het nie tyd nie en niks kan vinnig genoeg gebeur nie.
Ons is bereid om die slegste hamburger denkbaar te eet
solank ek nie uit my motor hoef te klim nie. Vinnige
internet, kitskos, kits poeding, kits kits kits. En kits
reaksie van die Here. Kits gebede word "opgestuur",
reguit in die plafon vas en dan twyfel ons of die Here
ons hoor.
Die Here se tyd is egter nie ons tyd nie. Abraham moes
baie lank wag op die Here se beloftes en eers toe hy
moedeloos gewag was het die Here Sy beloftes nagekom.
Die Israeliete het 40 jaar deur die woestyn geswerf
voordat hulle by die beloofde land aangekom het. Ou Job
moes Job se geduld hê...
Maar die wag was die moeite werd vir almal wat gewag
het.
Gen 21:1-2 "Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof
het. Hy het sy belofte aan haar nagekom. Sy het swanger
geword en in Abraham se ouderdom vir hom 'n seun in die
wêreld gebring. Dit het gebeur op die tyd wat God vir
Abraham beloof het."
Ek glo dat die Here altyd ons gebede
aanhoor, maar Sy antwoorde is soms anders as wat ons wil
hoor. Soms sê Hy "ja", soms sê Hy "nee", en soms sê hy
"wag". Wag is die moeilikste een want ons wil aan beweeg,
en dan is ons sommer bereid om daai slegte "hamburger"
te verorber.
Kan jy nog 'n nanosekonde wag? Of 'n dag, of week, of
maand of jaar? Wat van nog 10 jaar? Sjoe dit klink
ondenkbaar, of hoe? Goeie dinge vat tyd, maar dis dalk
die moeite werd. ~Willem Botha, 24/03/2015 |
|
Klaagliedere 5:1-5
"Slaan tog ag op wat oor ons gekom het,
Here, kyk tog en sien self hoe ons verneder is. Ons besittings is
gevat en aan vreemdes gegee, ons huise aan uitlanders.Ons het
weeskinders geword, daar is nie vaders nie, ons moeders is soos
weduwees. Ons moet ons eie drinkwater koop, vir ons eie hout moet
ons betaal. Ons word gedryf deur ons oorheersers, ons is uitgeput,
ons word geen rus gegun nie."
Klink hierdie gedeelte nie of dit perfek
by ons omstandighede vandag
pas nie? Ek dink jy wonder ook soos ek wat van die lewe gaan word,
en ook of die Here Sy hand van ons af weggetrek het. Waar gaan alles
heen? Ek weet nie, maar ek weet dat die Here nie weggegaan het nie.
Dis egter waar dat ons op baie plekke in die Bybel lees dat die Here
omstandighede soos hierdie gebruik, om die mens aan te spoor om
terug te draai na Hom toe. Hierdie deel motiveer ons dan ook om weer
die Here se aangesig te soek en om ons tot Hom te bekeer.
Klaagliedere 5:21 sê dit dan ook in soveel woorde.
"Bekeer U ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees, gee
ons weer die bestaan van vroeër."
Ek wil vandag ook weer my eie lewe ondersoek en kyk of
die Here my nie ook deur omstandighede wil aanpor om Hom opnuut te
ontdek nie. ~ Willem Botha, 23/03/2015 |
|
In Openbaring 8:3-4 lees mens van
’n wonderlike prentjie wat in die hemel, voor God se troon, afspeel.
Dit gebeur onophoudelik, dag en nag. Die gebede van al die gelowiges
word opgevang in ’n wierookbak en voor die troon van God geoffer.
Die gebede styg saam met die wierook op voor God. Het jy al gedink
dis nutteloos om te bid? Het jy al gevoel jou gebede kom nie by God
uit nie? Het jy al gedink jou gebede is nie mooi en goed genoeg nie?
Het jy dalk al opgehou om te bid? Moenie ophou bid en smeek en
uitroep voor die Here nie. Op hiérdie oomblik word jou gebed in die
wierookbak voor God uitgehou - Hy sien dit, Hy hoor dit, die
geur daarvan vul Sy troonkamer. Volhard in gebed! ~ Wilna Botha,
20/03/2015 |
|
Ek lees in Gen. 39 dat, ten spyte
van die feit dat Josef deur sy broers in ’n put gegooi is, as slaaf
verkoop is en onskuldig in die tronk beland het, die Here by hom
was. Ek lees dat dit goed gegaan het met hom (:2), dat hy die Here
se troue liefde ondervind het (:21), dat die Here alles wat hy
aangepak het laat slaag het (:23). Dit klink amper so teenstrydig.
Hy bevind hom in slegte omstandighede, hy word verwerp, vals
beskuldig, onregverdig behandel, maar nogtans is die Here by hom,
seën hom, voorsien en versorg hom; nogtans het die Here ’n plan met
sy lewe en werk alles ten goede mee. Onthou asb. vandag ook dat die
Here jou liefhet en besig is om Sy planne in jou lewe te laat
uitwerk, al sien jy dit nie vandag nie, al voel jy nie positief oor
die toekoms nie, al lyk dinge donker en buite beheer. Byt vas en
beur vorentoe. ~ Wilna Botha, 19/03/2015 |
|
In die liedjie “Agter elke man”,
hoor ek dié reëltjie: “Daar’s net regtig rykdom as daar goud is in
jou hart.” Toe wonder ek: hoe lyk ’n hart van goud? Miskien is dit
’n hart wat ryk is aan goedheid, liefde, omgee en mededeelsaamheid.
Miskien is dit ’n hart sonder selfsug, sonder afguns, sonder
hoogmoed. Miskien is dit ’n hart wat vol geloof, waarheid en goeie
waardes is. Miskien is dit ’n hart waar Jesus die middelpunt is,
waar Hy alleen op die troon is, waar Hy die Koning is. Ek strewe na
hiérdie soort rykdom en vra vandag die Here vir goud in my hart. ~
Wilna Botha, 18/03/2015 |
|
Die Here gee vir ons belofte op
belofte in Sy Woord. Party mense het dit al probeer tel en kom op
met meer as 3000. Ander sê 6000 of selfs 8000. Iets wat my net weer
opnuut opgeval het, is dat baie van die beloftes wat in die Bybel
gegee word, voorafgegaan word deur ’n voorwaarde. Wanneer jy enige
van God se beloftes vir jouself toeëien dink ek dis belangrik om te
kyk wat jy van jou kant af moet bydra tot die belofte. Baie beloftes
in die Bybel word voorafgegaan met “As julle ... dan sal Ek ...” Kom
ek gee ’n paar voorbeelde. Ons vat graag die belofte : “Vra net wat
julle wil en julle sal dit kry,” sonder om die voorwaarde te
lees en te doen: “As julle in My bly en My woorde in julle ...” (Joh.
15:7). Ons weet daar is ’n belofte dat die Here ons op die regte pad
sal lei, maar vergeet van ons verantwoordelikheid om Hom in alles te
ken wat ons doen (Spr. 3:6). Ons glo die belofte dat ons sterk sal
wees, soos ’n tuin met volop water, soos ’n fontein wat nooit sal
opdroog nie (Jes. 58: 11), maar ons doen nie die “as”-gedeelte van
die belofte nie. (Lees gerus die voorwaardes in Jes. 58:9-10). Ons
hou van Ps. 91:14 se beloftes: die Here sal jou red, die Here
sal jou beskerm, die Here sal jou gebed verhoor. Maar het jy al
raakgesien dat elkeen hiervan ook ’n voorwaarde het? Iets wat jý
moet dóén? Hou aan om God se beloftes te glo, herinner Hom
daaraan, maar moenie vergeet om jou kant van die belofte te doen nie.
~ Wilna Botha, 17/03/2015 |
|
"Use by date..."
Ons
sien hierdie woorde op alle bederfbare produkte wat ons koop en dis
goed, want dit gee vir ons ’n idee van die varsheid van die produk.
"Sell by date...", "Use by date...", "Best by date..."
Nou
ja, aangesien die mens ook "bederfbaar" is (jy weet mos, stof tot
stof) het ons ook ’n "Use by date...".
PSALMS
90:10
"Ons lewe maar
sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol
swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe."
Dit kan
maar redelik negatief klink en dit word verder versterk deur Pred.
12:1 :-
"Dink
aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare
aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar niks aan nie.”
Dit
hang af na watter deel van die teks jy kyk, die eerste of die tweede
deel. Die tweede deel van beide tekste klink nie te vrolik nie, maar
Pred. 12:1 se eerste deel is vir my die kruks van alles.
"Dink
aan jou Skepper in jou jong dae..."
Enige
deurwinterde Christen sal vir jou sê dat sy beste jare die tyd saam
met die Here was. Begin vroeg om die pad saam met die Here te stap,
dis goed, heilsaam, lekker en sinvol. En dit neem jou in elk geval
na die beste plek denkbaar toe. ~ Willem Botha, 16/03/2015 |
|
In 2 Tim. 2:4 word ons diens aan
die Here vergelyk met ’n soldaat se toewyding ten spyte van die
ontberings wat hy moet verduur. Soos ’n soldaat sy onverdeelde
aandag aan sy bevelvoerder gee en hom te alle tye gehoorsaam en
tevrede stel, moet ons ook voluit op Jesus fokus en nie verstrengel
en oorweldig word deur die bekommernisse en sleurwerk van die
alledaagse lewe nie. As Jesus se soldaat moet ons nie in ons eie
krag roem nie, maar in ons kennis van Hom, in ons verhouding met Hom.
As Jesus se soldaat moet ons altyd op ons pos wees - wakker,
waaksaam en geklee in ons geestelike wapenrusting. Het jy al
aangemeld? Mag die Here jou gewillig en bekwaam maak om ’n soldaat
in Sy weermag te wees. ~ Wilna Botha, 13/03/2015 |
|
“Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle
noukeurig gaan doen.” (Joh. 2:5, NLV) Dis wat die dissipels moes
doen om die wonderwerk te beleef van water wat wyn word. As ons wil
ervaar hoedat die Here in en deur ons werk, as ons wonderwerke wil
sien, Sy krag wil beleef, moet ons luister na Sy opdragte. Ons hoor
baie keer dat die Here met ons praat oor iets, dat Hy ons aanspreek
oor dinge wat moet verander, of Hy gee vir ons ’n opdrag en dan
ignoreer ons dit. Ons moenie net begeer om die Here se stem te hoor
sodat Hy ons kan paai en troos nie; ons moet ook bereid wees om
noukeurig te dóén wat Hy vir ons sê. Dit mag dalk op daardie
oomblik sinneloos en onbenullig lyk, maar dit kan uiteindelik seën
inhou vir jouself en vir ander. “Pas op, moet Hom wat met julle
praat, nie afwys nie.” (Heb. 12:25) ~ Wilna Botha, 11/03/2015 |
|
“Whenever we’re sick and in bed,
God becomes our nurse, nurses us back to health.” (Ps. 41:3, The
Message). Miskien is jy vandag dié een wat siek in die bed lê, of
dalk staan jy langs ’n hospitaalbed en weet nie hoe om die sieke te
bemoedig nie. Wel, hierdie teks help vir my, want ek visualiseer
hoedat die Here die een is wat my sélf verpleeg, wat aandag gee aan
hoe ek voel, wat salf aansit en pille aangee. Ek ervaar hoedat dit
die Here is wat my moeë gees streel en wat my bekommernis laat
verdwyn omdat ek wéét dat Hy die beste Dokter is. Hy is die een wat
elke been, spier, gewrig en orgaan ken, wat weet waar daar ’n fout
of ’n pyn is. Hy is die een wat vir die hele liggaam sorg (so sê dit
in Ps. 34:21) Mag die Here jou help en jou gesondheid herstel. ~
Wilna Botha, 10/03/2015 |
|
Word jou brood ook soms bonatuurlik
vermeerder?
Joh 6:9-11
“Hier is 'n seuntjie met vyf garsbrode en twee vissies;
maar wat is dit vir so baie mense? Toe sê Jesus: “Laat
die mense gaan sit.” Daar was baie gras op daardie plek
en die mense het gaan sit. Die mans alleen was omtrent
vyf duisend. Daarna het Jesus die brood geneem, God
daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar
gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle
wou hê."
Ons ken hierdie deel baie goed waar Jesus
die brood vermeerder en mens wonder dalk soms of dit
regtig gebeur het. Dink jy dis 'n wonderwerk wat beperk
was tot daardie tyd of gebeur dit dalk vandag nog? Wel,
ek gaan jou wys hoe dit al in jou eie lewe gebeur het.
Was jy ook al met tye onder geweldige finansiële druk en
jy het nie geweet waar die geld vandaan gaan kom nie?
Ons almal het verseker al. Maar dink bietjie oor hierdie
stelling : 'n Brood kos ongeveer R12. Maar het jy nie
ook al gevoel dat R12 soms net 'n halwe brood koop en
jou geld van jou weghol nie? Maar soms, op bonatuurlik
wyse, is daar maar net elke keer tog genoeg en voel dit
of R12 drie of vier brode koop. Daardie tye waar die
somme net nie uitwerk nie, maar daar is maar net weer en
weer genoeg. Wel, ek glo dis die tye wat die Here die
brood vir jou vermeerder en dis dan net so bonatuurlik
as toe Jesus destyds daardie wonderwerk gedoen het.
Vertrou maar net op Hom, Hy gaan vir jou sorg. ~ Willem
Botha, 10/03/2015 |
|
“Voor die skepping was alles
eensaam en verlate. ’n Angswekkende donkerte het oor die bodemlose
dieptes gehang. En ’n ongelooflike sterk wind het heeltyd oor die
waters gewaai. God was egter daar en Hy het gesê: ‘Laat daar lig
wees.’” (Gen. 1:2-3, Die Boodskap) Toe ek vandag weer dié eerste
verse van die Bybel lees, het dit my getref hoedat God se
teenwoordigheid, Sy woorde, Sy lig, omstandighede kan verander. Deur
Sy teenwoordigheid het daar orde in die chaos gekom, het daar ritme
gekom, het daar skoonheid gekom, het daar nuwe lewe gekom. Is
jy eensaam, voel jy verlate en alleen? Voel dit of die angswekkende
donkerte jou vasdruk? Is die put waarin jy is diep en bodemloos?
Waai die stormwinde en slaan die lewensgolwe om jou? God is ook daar
by jou en Hy sê: laat daar lig wees. “Die Here sal vir jou ’n
ewige lig wees, jou dae van smart is verby.” (Jes. 60:20) ~ Wilna
Botha, 09/03/2015 |
|
Spreuke 6:12-15
"Dit is 'n nikswerd mens, 'n mens vol onreg, wat altyd
reg is om te lieg , om te bedrieg deur met die oog te knik, met die
voet te beduie, met die vingers tekens te gee, wat altyd met 'n
skelmstreek kom en voortdurend op kwaad uit is. Hy maak moeilikheid
waar hy gaan. So 'n mens se ondergang kom skielik; hy stort ineen,
en daar is nie herstel nie."
Wat is waarheid, wat is onvoorwaardelike eerlikheid, wat
is absolute volmaakte opregtheid? Kry jy dit reg of het jy
soos ek ook maar voete van klei? Sjoe, ek moet nie te veel hieroor
dink nie, want dan sien ek my eie ware kleure raak. Ek word so vies
as ek die nuus luister en hoor hoe daar tot op die hoogste vlakke in
die samelewing geswendel word, maar ek kan self nie hierdie
eenvoudige teks in Spreuke se toets slaag nie.
My gebed is dat die Here vir my sal bewus maak van elke
aksie en gedagte wat nie binne Sy wil is nie. ~ Willem Botha,
06/03/2015 |
|
“U sal hoor as ek soggens vroeg met
U praat. Soggens sal ek my hart oopmaak en wag op U antwoord.” (Ps.
5:4, Die Boodskap) Ek dink ek het vandag dié teks vir die eerste
keer raakgelees! Klink dit nie soos ’n vroeg-oggend stiltetyd nie?
’n Stilword saam met die Here voordat die dag begin, ’n tydjie wat
jy jou hart oopmaak voor die Here en jou nood en behoeftes en
begeertes voor Hom uitstort. ’n Paar minute waarin jy wag op die
Here se antwoord, waarin jy sy stem hoor wat jou bemoedig vir die
dag en jou verseker van sy liefde en sy voorsiening vir die dag wag
voorlê. ’n Paar minute waarin jy met oop hande Sy seën ontvang. Wees
stil en weet ... ~ Wilna Botha, 05/03/2015 |
|
Dit wat die Here van ons verwag,
die lewenswyse wat Hom sal behaag, die keuses en daaglikse fokus wat
volgens Sy wil sal wees, lyk partykeer vir ons so moeilik en
onmoontlik om te bereik. Die Here se riglyne is egter nie te moeilik
nie, want Hy gee ons Sy Gees wat in ons werk, wat ons lei en dring
om God se wil te doen. Dit mag onmoontlik lyk as jy op jou eie
probeer om die regte dinge te doen. Onthou om op die Here te leun en
staat te maak op sy genade, deernis en hulp – Hy sal nie iets van
jou verwag waartoe jy nie in staat is nie. “Wat ek julle vandag
beveel om te doen, is nie te moeilik nie. Julle kan dit verstaan. En
julle kan dit ook doen. Wat die Here van julle vra, is nie so
moeilik dat ’n mens in die hoë hemel moet gaan soek om dit te
verstaan nie. Dis nie nodig dat iemand uit die hemel moet afkom en
vir jou vertel wat van jou verwag word voor jy dit sal kan doen nie.
Wat die Here van jou vra, kan jy doen .. Jy kán lewe soos die Here
van jou verwag.” (Deut. 30:11-13, Die Boodskap) ~ Wilna Botha,
04/03/2015 |
|
Slangetjies en leertjies.
Ek is seker jy het hierdie bordspeletjie
hordes kere as kind gespeel. Die doel van die speletjie is om eerste
by die eindpunt uit te kom, maar soms is jy gelukkig en jou
merkertjie beland gereeld op 'n leertjie en jy vorder vinnig tot by
die eindpunt. Maar o wee, met my geluk beland ek kort kort op 'n
slangetjie en dan is ek maar weer net waar ek begin het.
Is die lewe nie ook maar so nie? Party
mense tref net altyd die goeie geluk, maar ander nie. Die
lewe is op en af, en soms gaan dit vir jare klopdisselboom, en dan
eendag, uit die bloute tref 'n tragedie of slegte omstandighede jou
en dan voel dit of jy reg van voor af moet begin. Dit lyk my ons het
nie altyd al die keuses nie, maar dat buite faktore 'n groot rol
speel.
PREDIKER 9:11
"Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die
vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog
wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges
wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie.
Alles word bepaal deur tyd en geleentheid."
Dit sê verseker nie dat God nie in beheer is nie. Maar
ek lees hierin raak dat die Bybel voorsiening maak daarvoor dat
omstandighede 'n rol speel in ons daaglikse lewe. Die vraag is nie
of slegte dinge op jou pad gaan kom of nie, maar of jy bereid is om
verder te speel en weer op te staan as jy platgeslaan is. Saam met
God kan jy altyd weer begin, as jy wil. ~ Willem Botha, 03/03/2015 |
|
“Dit
gaan goed met dié wat wandel volgens die woord van die Here .” (Ps.
119:1) Insig en wysheid, leiding en rigting, vrede en geluk, troos
en bemoediging – dís wat die Woord van die Here jou bied. Dis
vrylik tot jou beskikking, gebruik dit, bestudeer dit, bêre dit in
jou hart, volg dit, gehoorsaam dit. “U woorde is soos die mooiste
musiek in my ore, al kry ek baie swaar.” (Ps. 119:54, Die Boodskap)
~Wilna Botha, 02/03/2015 |
|
“... hou by die reëls soos ’n
atleet, anders word jy gediskwalifiseer.” (2 Tim 2:4, NLV) Ons
Christelike lewe word op ’n paar plekke in die Bybel vergelyk met ’n
wedloop. Ons, as atlete in hierdie wedloop, moet gedissiplineerd
wees, hard oefen en enduit volhard. Ons moet dié dinge wat ons kan
pootjie of afrem agterlaat – moenie hardloop met ’n rugsak vol
griewe, onafgehandelde sake en geraamtes, vooroordele, haatgedagtes,
negatiwiteit ens. op jou rug nie. Hou by al die reëls van die
wedloop, anders mag jy dalk by die eindpunt hoor dat jy
gediskwalifiseer is. As atleet in die lewenswedloop moet ons ons
oog op die wenpaal hou en op ons afrigter, Jesus, wat ons aanmoedig
en by die eindstreep wag met die oorwinnaarskroon is Sy hand. Druk
deur, jou beloning sal groot wees! ~ Wilna Botha, 27/02/2015 |
|
Gee vir my 'n teken...
MATTEUS 12:39
Maar Hy antwoord hulle: “'n Slegte en
afvallige geslag vra 'n teken, en geen teken sal aan hulle gegee
word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.
MATTEUS 16:1
"Die Fariseërs en die Sadduseërs het
gekom om Jesus op die proef te stel. Hulle het Hom gevra om vir
hulle as teken uit die hemel 'n wonder te doen."
Tekens.
Ek dink ons almal soek maar heimlik tekens by God om
seker te maak dat ons op die regte pad is. Ons glo dit gaan vir ons
help om die regte keuses te maak en om op so 'n manier op te tree
dat dit die Here sal behaag.
Ons soek soms ook tekens om God se bestaan te bewys,
vernaam in tye waar dit swaar gaan en ons uitkoms vir nood soek.
Laastens soek ons tekens wanneer ons besluite wil maak
wat maar uit en uit vir ons eie gewin is, hetsy vir finansiële
voordeel, maar soms ook om blatant ons sondige besluite te regverdig.
Mense sal selfs tekens soek om 'n buite-egtelike verhouding te
regverdig of selfs om bedrog te pleeg. Ons soek gewoonlik ook net
tekens vir dinge wat tot ons eie voordeel sal wees, en siedaar, daar
kry ons dit in die Bybel. Maar dis baie baie gevaarlik! As ek aan
hierdie dinge dink besef ek hoekom die Here so ernstig vermaan teen
die soeke na tekens.
Ons het nie tekens nodig nie, net geloof. ~ Willem
Botha, 26/02/2015 |
|
Het jy ook al soos Dawid in Ps. 6:4
gesê: “Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms
gee?” Miskien is jy op die oomblik só moedeloos en só desperaat.
Daar is ’n belofte wat die Here by herhaling vir Sy mense gee:
“Nogtans sal daardie tyd van donkerte en wanhoop nie vir altyd
aanhou nie...” (Jes. 8:23, NLV) Neem dit asseblief vandag vir jou
ook as ’n persoonlike belofte. Swaarkry gaan verby, die son kom weer
uit, die storm hou nie vir altyd aan nie, die hartseer word minder,
die alleenheid word draagliker. Die Here sê: “Ek sal hulle droefheid
in vreugde verander, Ek sal vir hulle uitkoms gee; Ek sal hulle bly
maak, hulle sal geen kommer meer hê nie.” (Jer. 31:13) Ek hoop
regtig dat jy binnekort sal kan getuig: die uitkoms is hier! ~ Wilna
Botha, 25/02/2015 |
|
Wanneer is genoeg genoeg?
Die slim mense sê ons almal het so min of
meer 10% meer nodig, ongeag wat ons verdien. Ons ken ook almal vir
Mammon en weet wat dit beteken om geld liewer te hê as vir God. Maar
dit bly moeilik om dit te kwantifiseer, want min vir een is baie vir
ander. Ek persoonlik sukkel vreeslik hiermee want ek wil net meer en
meer hê, terwyl ek leef met die witbrood (met DIK jam) onder die
arm. Ek struikel toe eendag oor hierdie teks in Spreuke, en dit gee
toe vir
my iets konkreet om teen te meet.
Spr 30 : 8 - 9 "moenie toelaat dat ek vals is en lieg
nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek
nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: Wie is die
Here? nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer
aandoen nie."
Dit bly steeds moeilik om die balans te hou, maar ek
hoef myself elke dag net twee goed af te vra:
1) Besteel ek ander (op hordes maniere) om meer te hê?
2) Maak my welvaart dat ek glo ek nie meer die Here
nodig het nie? ~ Willem Botha, 24/02/2015 |
|
Dis nogal opvallend dat daar by
sekere kerkbyeenkomste oorvol sale is. Dis gewoonlik dié waar daar
iets buitengewoon, of opwindend gebeur, waar daar ’n dinamiese
spreker is of ’n gratis ete aangebied word. Dis by dié geleenthede
waar jy net ’n toeskouer is en nie iets van jouself hoef te gee nie.
Dan is daar weer geleenthede waar daar niks “glamorous” gebeur nie,
waar daar gewerk en gebid word en meeste van die tyd is die
belangstelling hier maar flouerig. Ek sien in die Bybel dat daar in
Jesus se tyd ook sulke tendense was. Toe daar ’n interessante preek,
deur ’n “nuwe” prediker gelewer word en daar boon-op ’n
wonderwerk gebeur en almal gratis kos kry, was daar 5000 mans en
hulle gesinne teenwoordig. (Matt. 14:21) Wow, wat ’n opkoms! Op ’n
ander keer toe daar ’n gebedsbyeenkoms is, daag net 120 gelowiges
op (Hand 1:15). Toe Jesus ’n groepie kies wat deur dik en dun saam
met Hom moet stap, kies Hy slegs 12 toegewyde manne wat bereid is om
alles te los om Hom te volg. In die tuin van Getsemane het net 3
dissipels saam met Jesus gegaan en hulle kon nie eens wakker bly nie
(Matt. 26:37). Hulle het almal weggehardloop toe die moeilikheid kom.
Uiteindelik by die kruis, was Johannes die enigste een wat getuie
was van die groot offer wat Jesus betaal het. Iemand het eenmaal
gesê:
As jy wil
weet hoe gewild die kerk is, kyk na die bywoning van die oggenddiens;
as jy wil weet hoe gewild die dominee is, kyk na die bywoning van
die aanddiens, en as jy wil weet hoe gewild die Here is, kyk na die
bywoning van die gebedsbyeenkoms. ~ Wilna Botha, 23/02/2015 |
|
Spyt kom altyd te laat.
Het jy ook al gewonder of Judas 'n slagoffer was? So
asof die noodlot hom 'n streep getrek het. Die arme ou
wat die een moes wees om Jesus te verraai en toe
wreedaardig moes sterf. Hy was immers 'n dissipel en hy
het vir drie jaar saam met Jesus geleef, en toe vaar die
bose in hom in en hy veraai vir Jesus, en toe pleeg hy
selfmoord.
LUKAS 22:3 "Die Satan het in Judas, wat Iskariot genoem
is en een van die twaalf was, ingevaar ."
Ons lees egter ook van
Petrus wat vir Jesus verloën het. En dit nogal nadat
Jesus hom gewaarsku het daaroor.
MATTEUS 26:75
En op daardie oomblik het daar 'n haan gekraai. Toe val
dit Petrus by wat Jesus gesê het: “Voordat die haan
kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het buitentoe
gegaan en bitterlik gehuil.
Twee dissipels wat beide hulle rug op Jesus gedraai het.
En toe gaan pleeg Judas selfmoord en Petrus word die
rots waarop Jesus die kerk sou bou. Wat op aarde was die
verskil?
Judas het SPYT gekry en Petrus het BEROU gehad, en dis
dit!
Judas se storie : MATTEUS 27:3
Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood
veroordeel is, het hy spyt gekry.
Petrus se storie : JOHANNES 21:15
Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus:
“Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as
hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek
U liefhet.”
Sien jy die verskil? Daar is vergifnis vir berou,
maar spyt kom te laat.
En daar is geen sonde te groot vir vergifnis nie.
~ Willem Botha, 20/02/2015
|
|
“Die Here se diensknegte moenie
twis nie, maar moet goedgesind teenoor almal wees ... en geduldig
met moeilike mense.” (2 Tim 2:24, NLV) Ai, wat ’n moeilike teks om
te oordink en te verwerk en te dóén. As ek myself dienskneg en
navolger van Jesus noem, sal ek meer van hierdie goedgesindheid en
geduld in my lewenstyl moet nastreef. E k sal myself moet
programmeer om anders teenoor moeilike mense op te tree as wat my
natuurlike self sou wou doen. Ek sal moet leer en oefen om rustiger
en sagter te praat met mense wat my verkeerd opvryf of my irriteer.
Dit gaan nie maklik wees nie, maar ek bid dat die Heilige Gees
hierdie vrug in my lewe sal laat groei tot eer van die Here. ~
Wilna Botha, 19/02/2015 |
|
Al sou die vyeboom nie bot nie.
Habakuk 3:17-18 "Al
sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde
wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die
beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal
ek juig in God, my Redder."
Ek dink ons almal ken hierdie gedeelte
uit Habakuk 3 baie goed, en ons sing die liedjie na hartelus saam.
Ek dink egter dis een van die liedjies
wat lekker sing maar moeilik doen. Habakuk sing hierdie lied as 'n
klaaglied want dit lyk my hy skryf hierdie woorde in 'n tyd waar dit
werklik swaar gaan.
Hoekom sou hy juig en jubel?
Vir my lê die antwoord in die eerste klomp verse van
hierdie gedeelte. As jy dit lees sien jy hoe hy God se almag en
grootheid raaksien en Hom daarvoor vereer.
Vers 2 :
"Here, ek het gehoor wat van U vertel is en ek is vervul
met ontsag vir wat U gedoen het. Doen dit tog ook in ons tyd, laat u
dade ook in ons tyd ervaar word, ontferm U selfs in u toorn."
Hy blameer nie die Here vir die swaarkry nie, hy noem
slegs die feit dat God groter is as enige probleme. Ek en jy kan dus
ook vandag uitroep : Nogtans sal ek in die Here jubel... ~Willem
Botha, 18/02/2015 |
|
In Jes. 61:3 lees ons van drie
“uitruilings” wat die Here vir Sy kinders moontlik maak. Een daarvan
is dat Hy vir ons “the garment of praise in stead of a spirit of
heaviness” gee. ’n Ander Engelse vertaling praat van ’n “
praising heart in stead of a languid spirit”. Wanneer jou binnekant
swak, flou, traag, lusteloos, dooierig, kwynend, moeg en hartseer
is, wanneer jy sonder hoop en smagtend na die een of ander uitkoms
is, wanneer die lewe swaar druk op jou, kom nader sodat die Here vir
jou ’n mantel van blydskap, vreugde, dankbaarheid en eer kan omhang.
Hy stel jou in staat om ten spyte van jou omstandighede ’n loflied
te sing, steeds te juig oor jou verlossing in Jesus, opnuut te bely
dat Hy almagtig en genadig en in beheer is. Hy stel jou in staat om
weer die mooi en waardevolle dinge om jou raak te sien en te
waardeer. Ek hoop jy kan hierdie uitruiling in geloof aanvaar en
beleef. ~ Wilna Botha, 17/02/2015 |
|
“Ek wil op my uitkyktoring gaan
staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te
verneem wat die Here vir my sal sê ... “(Hab. 2:1) Om te hoor wat
die Here vir jou persoonlik of vir jou familie of gemeente wil sê,
vra inspanning en opoffering; dit vra afsondering, stilword en
geduldig wees; dit vra fokus op die Here en afskakel van dinge wat
jou aandag kan wegtrek; dit vra wag totdat jy hoor. Op die
“uitkyktoring” kan jy tyd bestee om om jou rond te kyk, om op te kyk,
om binne-in jouself te kyk. Onthou die Here kan met jou praat deur
Sy Woord, deur jou eie gedagtes of indrukke, deur omstandighede,
deur ’n preek of deur iemand anders se getuienis. Word stil en gaan
staan in geloof op jou uitkyktoring – glo en verwag dat die Here met
jou sal praat. ~ Wilna Botha, 16/02/2015 |
|
“Die Here het toe vir my gesê:
Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op
kleitablette sodat mense dit sommer in die verbygaan kan
lees.” (Hab. 2:2) Ek dink dit is altyd ’n goeie idee om
dit wat die Here vir jou duidelik gemaak het, of ’n
opdrag wat jy van Hom ontvang het, of ’n belofte wat jy
raakgelees het neer te skryf. Wanneer ek dit neerskryf,
help dit my om my gedagtes daaroor te orden en help dit
my om dit te onthou. Ek kan weer terugkyk daarna en sien
hoedat die Here by herhaling oor dieselfde tema met my
gepraat het om my te lei of te bemoedig of ’n opdrag te
gee. Wanneer ek moedeloos voel, kan ek terugkyk en weer
die beloftes sien wat die Here gemaak het. Wanneer ek
geestelik lui en lou raak of teruggly, dan kan ek
terugkyk en weer onthou hoe die Here my geroep en gered
en gesalf het. Wanneer dit neergeskryf is, kan ek dit
ook maklik met iemand anders deel. Dis deesdae so maklik
met al die elektroniese “gadgets” tot ons beskikking: jy
kan notas op jou selfoon, tablet of rekenaar maak, of
sommer net ’n klein notaboek in die handsak of hempsak
saamdra – jy hoef dit gelukkig nie op ’n groot
kleitablet te skryf soos Habakuk nie! ~ Wilna
Botha, 13/02/2015 |
|
GRYP DIE DAG
Prediker 5 : 17 "Ek het ook iets gesien wat goed is: dit
is aangenaam om te eet en te drink en die lewe te geniet
onder al die geswoeg op hierdie wêreld."
So 'n lekker teks om te lees, dit val so lekker op die
tong, klink na so 'n goeie idee, maar boeta laat ons net
na een nuusberig luister dan waai hy by die deur uit.
Eet en drink en die lewe geniet, maar daar is soms net
nie tyd nie want werk en verpligtinge vreet net
eenvoudig elke oomblik van die dag op. Het jy soms
bietjie "me-time", of no time at all?
Kom ons vat dit bietjie verder. Wie op aarde kan die
lewe geniet as ons daagliks met soveel negatiwiteit
gebombardeer word?
Soek jy 'n antwoord? Wel, ek kan jou help hiermee. Mense
wat kies om bokant hierdie dinge uit te styg is die
beste daaraan toe. Ek hoor 'n oulike spreekwoord die
ander dag: "Not my monkeys, not my circus".
Ek sukkel vreeslik hiermee, maar ek sal 'n besluit of
twee moet neem. As ek nie kies om gelukkig te wees nie,
gaan ek saam met die doemprofete ongelukkig wees. Swoeg
moet ek swoeg, maar ek gaan dit met 'n glimlag doen. En
soms te veel en lekker eet. Die lewe is te kort... ~
Willem Botha, 11/02/2015 |
|
Die Here se goedheid en genade kan
die slegste, hardkoppigste, onverstandigste,
ongehoorsaamste mens verander. Sy genade kan oor enige
iemand spoel en hom silwerskoon en nuut maak. Dis
omtrent soos hierdie “extreme make-over” stories wat
mens op TV sien. As jy die “before” and “after” sien,
kan jy nie glo dis dieselfde persoon nie. Die Here se
make-over verander nie net die hart en gedagtes nie, dit
maak ook die uiterlike sag en mooi. Die Here trek vir
die persoon fyn, wit klere aan, gewas in die bloed van
die lam, Hy kroon hom met liefde en ontferming, eer en
aansien. Moenie jouself of iemand anders afskryf nie –
by die Here is daar altyd weer ’n kans op ’n make-over!
“Nou weet ek dat wanneer iemand aan Christus behoort, hy
’n splinternuwe mens is; ’n nuwe skepping in die kleine.
Al die ou sondige dinge is dan iets van die verlede. Dan
is die nuwe lewe hier!” (2 Kor. 5:17, Die Boodskap) ~
Wilna Botha, 10/02/2015 |
|
“Voordat die berge gebore is en U
die wêreld voortgebring het, van ewigheid tot ewigheid, is U God.”
(Ps. 90:2) Met ons beperkte begrip van tyd, is dit effe moeilik om
God se ewigheid te verstaan of te probeer verduidelik. In die
Message lees Ps. 90:2 as volg: “... from "once upon a time" to
"kingdom come" - you are God.” Hy het geen begin nie en geen einde
nie. Hy bestaan van altyd af en sal nooit ophou bestaan nie. Hy is
die Een wat is en wat was en wat kom, van altyd af is sy Naam: ons
Verlosser (Jes. 63:16). Van altyd en altyd af is Hy die ware God,
Sy jare kan nie bereken word nie (Job 36:26). Wie anders as dié
ewige Getroue, ewige Volmaakte, ewige Redder kan ons vertrou , glo
en volg? ~ Wilna Botha, 09/02/2015 |
|
“Hulle sal moeg en honger wees. En
omdat hulle honger is, sal hulle hulle vuis teen die hemel oplig en
hulle God vloek.” (Jes. 8:21-22, NLV) Te veel kere hoor mens hoedat
iemand wat swaarkry, wat tekort het aan aardse besittings, wat siek
is, wat alles verloor het, hulle rug op die Here draai. Hulle sê
maklik: waar is die Here as ek Hom nodig het? Hy doen dan niks vir
my nie. Is dít nou ’n God van liefde? Hulle maak soos wat Job se
vrou wou hê hy moes doen toe hy alles verloor het en daar op die
ashoop gesit het. Sy het gesê: “Hoekom hou jy aan om die Here te
dien? Vloek God en sterf.” (Job 2:9) Ek wil leer uit Job se antwoord,
ek wil myself herinner om dieselfde uitkyk te hê as hy. “As ons die
goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?”
(Job 2:10) Ek wil ook soos Job, ten spyte van omstandighede, nie
sondig nie en nie vir God verwyt nie. (Job 1:22) ~ Wilna
Botha, 06/02/2015 |
|
Wat
het jy vandag nodig? Daar is net soveel goed wat ons nié in die
wêreld kan kry nie, al het ons ’n sak vol geld om mee te koop, al
ken ons hoë mense wat vir ons toutjies kan trek. Ek dink die Here
laat daardie soort behoeftes in ons lewens toe sodat ons na Hom toe
e
sal hardloop daarvoor, omdat dit nêrens anders te vinde is nie. Ek
dink aan ons behoefte aan goed soos liefde, genade, hoop, vergifnis,
aanvaarding, ens. Die Here het ’n stoorkamer vol hiervan waaruit Hy
in elke behoefte van ons kan en sal voorsien. In Sy stoorkamer is
daar altyd genoeg van alles. Jy kan weer en weer terugkom en
voorraad kom haal. Daar sal nooit ’n kennisgewing op die deur wees
wat sê “uit voorraad” of “discontinued” nie! As jy aanvaarding soek,
weet dat die Here jou aanneem as Sy kind. As jy liefde soek, God ís
liefde en stort dit oorvloedig op ons uit. As jy hoop nodig het,
weet dat God die bron is van alle hoop. As jy moed kort, kan jy by
Hom kom moed skep. As jy meer geloof nodig het, weet dat die Gees
reeds besig is om groter geloof in jou hart te kweek van die klein
saadjies wat reeds daar is. As jy vergifnis nodig het, weet dat God
se genade verniet en genoeg is. “En my God sal in elke behoefte van
julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus
Jesus.” (Fil. 4:19) ... kom haal wat jy nodig het. ~ Wilna Botha,
05/02/2015 |
|
Ps 37 : 1 - 3
1 Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke
nie,
2 want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid
verdwyn hulle sommer.
3 Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon
en werk rustig voort.
Miskien voel jy ook
soms of jy net wil weghol, of dinge nie weer beter
sal gaan nie en of ons ou volkie verdoem is. Ja die
pers bombardeer ons met slegte nuus, maar vir die
Here is dit niks nuuts nie, dit kom sommer van die
vroegste dae af. In hierdie Psalm sien ons dat dit
in Dawid se tyd maar dieselfde was en hulle ook maar
moes keer dat dit bars. Die Here gee nie hier 'n
waarborg dat alles net voor die wind sal gaan nie,
maar Hy sê drie dinge wat alles anders laat lyk:
Moet jou nie ontstel nie... Dit help in elk geval
nie.
Vertrou op die Here... Want Hy is steeds in beheer
Woon en werk rustig voort... Doen jy maar net jou
deel, Hy sal Sy deel doen. ~ Willem Botha,
04/02/2015
|
|
Wat het ons oor U gesê? Julle het
gesê: “Dit is nutteloos om God te dien” (Maleagi
3:13-14)
Het ons oor die Here gepraat vandag, gister, verlede
week? Wat het ons oor Hom gesê? Het ons ook gesê dis nie
meer die moeite werd om Hom te dien nie? Het ons sy
bestaan ontken? Het ons gesê Hy is onregverdig,
onmagtig en vêr? Of het ons sy naam grootgemaak en
geprys? Het ons sy eer verdedig? Het ons vertel van sy
goedheid en sy liefde? Het ons erken en bely dat Hy
waarlik God is en in beheer van alles? Sê vandag iéts.
Sê iets soos:
“Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die
Een wat na die wêreld toe moes kom” (Joh. 11:27). Sê
iets soos: “Die Here is my rots, my skuilplek en
my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en
sterk verlosser, my veilige vesting.”( Ps. 18:3) ~ Wilna
Botha, 02/02/2015 |
|
Wat kry jy soggens in saam met jou
ontbyt? Lees jy koerant , luister nuus en kyk na die
politieke ontleders se relase op TV? Laat dit jou, soos
vir my, dikwels met ’n wrang en bitter nasmaak waarmee
jy jou dag ingaan? Laat dit jou met ’n hol, onversadigde
kol op jou maag? Ja, ek weet, ons moet ingelig wees en
ons moet weet wat om ons aangaan, maar partykeer voel
dit vir my of dit net so ’n negatiewe golf is wat my wil
saamsleep en verdrink. Ek wil sommer net hierdie week
ingaan met vars, nuwe gedagtes. Gedagtes wat opbouend,
goed en positief is, gedagtes wat lig en vrolik is. Ek
bid dat die Here my gedagtes gevange sal neem, op Hom
sal rig en op “alles wat waar is, alles wat edel is,
alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is,
alles wat prysenswaardig is ... ” (Fil. 4:8) Dís mos nou
dinge wat mens versadig en tevrede kan laat voel! ~
Wilna Botha, 02/02/2015 |
|
Kyk nou net hierdie wonderlike
belofte waarvan Jesus in Matt. 11:30 praat: “Keep
company with Me, and you will learn to live freely and
lightly.” As ons in in ’n persoonlike verhouding met die
Here is en in Sy teenwoordigheid lewe, dan belowe Hy vir
ons iets wat ons almal begeer: om vry te wees en die
lewe te geniet. Dit ís moontlik om elke dag te sê: die
lewe is lekker. In die Here se teenwoordigheid is daar
liefde en genade, is daar vrede en tevredenheid, is daar
rus en rustigheid. In Sy teenwoordigheid sal ons krag
vir elke dag ontvang, moed vir elke probleem, hoop vir
die toekoms. In Sy teenwoordigheid is daar ’n skaduwee
waar ons kan skuil, waar ons verkwik en verfris kan word
al is die lewe ook hoe warm en ongenaakbaar. “Die Here
is my herder, ek kom niks kort nie ....” ~ Wilna Botha,
29/01/2015 |
|
In Matt. 11:30 vra Jesus: “Keep
company with Me ...” Hy nooi ons uit om by Hom te kom
sit, om alleen tyd saam met Hom deur te bring, om in Sy
geselskap te wees. Hy wíl graag in ’n intieme,
persoonlike vriendskapsverhouding met jou wees. Hoe kan
jy dit prakties doen? Dink aan die Here – vul jou
gedagtes met wie Hy is; lees en oordink die Woord; praat
met Hom in gebed; skryf vir Hom ’n brief of ’n gedig wat
verwoord hoe jy oor Hom voel; luister na geestelike
musiek, ’n preek of voorlesings uit die Bybel; woon
kerkdienste, Bybelstudie en ander byeenkomste by waar
daar oor Jesus gepraat en geleer word; neem deel aan die
nagmaal; kyk in stilte op na die sterre, die berge,
riviere en ervaar só Sy teenwoordigheid in die natuur.
Om tyd saam met die Here deur te bring moenie ’n
inspanning wees nie, dit moenie vir jou ’n plig of harde
werk wees nie, dit moet ’n uitvloeisel wees van jou
natuurlike behoefte en verlange na Hom en liefde vir Hom.
“Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe ... “ (Mark
6:31) ~ Wilna Botha, 29/01/2015 |
|
“In die nag vloei die trane, maar
in die oggend is daar vreugde.” (Ps. 30:6, NLV) Die
Bybel sê daar is ’n tyd vir alles. Daar is ’n tyd om te
treur, ’n tyd om hartseer te wees, maar daar moet ook ’n
tyd kom om te lag en van vreugde te dans. Wanneer mens
verlies ervaar het en in ’n treurtyd is, is dit nodig om
hartseer te wees, om te rou en te huil. Maar, daar móét
egter ook ’n tyd kom wat jy die hartseer en pyn
agterlaat en begin om vorentoe te beur. As jy dit nie
doen nie, gaan die verlede jou toekomstige vreugde
steel. Moenie die res van jou lewe rou oor iets wat jy
verloor het nie. Koester die herinneringe, maar beweeg
aan en vertrou die Here om jou roukleed uit te trek en
vir jou “vreugde in plaas van droefheid, blydskap in
plaas van hartseer” te gee (sien Jes. 61:3) ~ Wilna
Botha, 28/01/2015 |
|
“Gaan terug na wat die Here gesê
het! As julle julle nie daaraan steur nie, is daar geen
toekoms vir julle nie.” (Jes. 8:20, NLV) As mens vandag
se dae om jou kyk, sien jy orals hoe mense net doen wat
hulle wil. Wetteloosheid is aan die orde van die dag,
mense ignoreer reëls, verontagsaam gesag, steur hulle
nie aan wat reg en verkeerd is nie. Soveel te meer word
God se voorskrifte, riglyne en aanbevelings geïgnoreer
en verwerp. Die Bybel word verontagsaam, nie gelees en
nie geglo nie. As ons só lewe, kan ons niks goeds te
wagte wees nie. As ons daarmee volhou sal ons lewens op
’n ramp afstuur. Die Here roep ons altyd om terug te
keer na Hom, na Sy Woord, na Sy wet. Luister na wat Hy
sê, dóén dit, anders is jy dalk soos die dwase man wat
sy huis op sand gebou het, sonder toekoms, sonder
rigting en sonder vrede. ~ Wilna Botha, 27/01/2015 |
|
“I won’t lay
anything heavy or ill-fitting on you,” sê Jesus in
Matt. 11:29. “My juk is sag en my las is lig.” Wat ’n
wonderlike belofte is hierdie nie vir iemand wat in ’n
moeilike situasie is of ’n gewigtige besluit moet neem
nie. As die lewe soos ’n donker tonnel voor jou uitstrek,
as die berg voor jou hoog en onmoontlik lyk, as die reus
voor jou sterk lyk en goed gewapen is, herinner jouself
aan hierdie belofte: die las sal nie té swaar wees vir
jou om te dra nie, jy sál daardeur kom, jy sál sterker
word daardeur, die Here is by jou, Hy laat jou nie
alleen deur jou moeilike tye gaan nie.
“... die krag
wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie. “In
alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk
nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons
word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die
grond neergegooi, maar nie vernietig nie.” (2
Kor. 4:7-9) Hou moed en wees sterk. ~ Wilna Botha,
26/01/2015 |
|
Baie keer sê
mens: die Here is goed vir my want ek is gesond, want ek
het oorvloed om van te leef, want ek het goeie kinders,
want ek kon ’n nuwe kar koop, want ek het my eksamen
deurgekom ens. Ons sê: die Here het my geseën met my
finansies, ’n werk, wonderlike huwelik, ’n mooi huis,
ens. Toe wonder ek nou: as jy nié gesond is nie, nié
werk het nie, nié geld in die bank het nie, as jy pas ’n
geliefde aan die dood afgestaan het of deur ’n
egskeiding is, of as jy dalk gestrem is, beteken dit dan
dat die Here nié goed is vir jou nie? Nee, honderd maal
nee! Sy goedheid en sy seën lê in sy teenwoordigheid, in
die krag en vrede wat jy ontvang, in die lig wat daar
voor jou in die donker tonnel brand. Vat Sy hand en stap
saam met Hom deur jou moeilike tye. Hy is goed, ongeag
jou omstandighede of hoe jy voel. “Die Here dink aan ons,
Hy seën ... Hy seën dié wat Hom dien, klein en groot.”
(Ps. 115:12-13) ~ Wilna Botha, 23/01/2015 |
|
“Watch how I do it,” sê Jesus in Matt. 11:28. Ja, ons
kan maar weer in die gewoonte kom om te vra: Wat sou
Jesus doen? Kyk na Hom en volg sy voorbeeld in alles. Hy
is sagmoedig en nederig van hart, vol genade en
waarheid, barmhartigheid en liefde vloei uit Hom – dit
is die gesindheid waarmee ons ook deur die lewe moet
gaan. Hoe doen Jesus dit? Hy stop by siekes, Hy onderrig
mense, Hy kuier by sondaars, Hy deel kos uit, Hy bid vir
mense, Hy stel belang in hulle nood en behoeftes, Hy
vergewe, Hy bly gehoorsaam aan die Vader tot die dood.
“Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God
wil hê jy moet leef. Dis nie moeilik om so te leef nie;
om die waarheid te sê, as jy so begin leef, sal jy
agterkom hoe lekker die lewe regtig kan wees.” (Matt.
11:29-30, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 21/01/2015 |
|
“Walk with Me and work with Me - watch
how I do it.” (Matt. 11:29). Work with Me, sê Jesus. Ons
moet saam met die Here werk, saam met Hom “ingespan”
word. Sien in jou geestesoog hoedat jy in jou alledaagse werk onder
dieselfde juk sáám met die Here trek aan jou werkslas.
Kla minder, stres minder, doen jou werk met oorgawe en
vreugde, doen dit goed asof jy dit vir Hom doen. Besef
dat Hy langs jou is, saam met jou werk en jou help
wanneer jy ’n moeilike taak het om te doen. Besef dat Hy
langs jou is met raad en wysheid as jy in ’n
doodloopstraat is. Werk vandag saam met die Here. ~
Wilna Botha, 20/01/2015 |
|
Ek het hierdie aanhaling nou die
dag gesien: “God gives, gives and forgives. But the
human gets, gets and forgets.” Dink bietjie aan alles
wat die Here verniet vir jou gegee het, sonder dat jy
dit verdien, nét omdat Hy jou liefhet en omdat Hy God
is. Onthou vir ’n slag wat jy alles ontvang het: genade
op genade, volkome vergifnis, lewe in oorvloed, die
Heilige Gees wat in jou kom woon het, vrede wat alle
verstand te bowe gaan, die reg om God se kind te wees,
die ewige lewe. Moenie vergeet wat jy uit God se hand
ontvang het nie, wees dankbaar en gaan gee, gee, gee ook
iets van die Here se liefde en genade aan die mense om
jou. “Wat ek ontvang het, kom alles van U af. ’n
Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang
het, is vir my mooi.” (Ps. 16:6) ~ Wilna Botha,
19/01/2015 |
|
Ons lees in Eks. 16 dat die Here
vir Sy mense manna gegee om van te lewe in die woestyn.
Vir veertig jaar het hulle elke dag genoeg gehad vir
daardie dag. Hulle moes nie opgaar en bêre vir die
toekoms nie, die Here het elke dag vir hulle ’n vars
porsie gegee. Wanneer hulle te veel opgetel het as wat
hulle vir een dag nodig gehad het, het dit in elk geval
vrot geword. So sal die Here vandag nog vir Sy kinders
sorg met wat hulle vandag nodig het. Dis vir my maar
baie moeilik om met daardie een-dag-op-‘n-slag vertroue
te leef. Ons wil mos seker wees van ’n hele week, ’n
hele jaar of tien se inkomste. Bekommernis en stres gaan
gewoonlik nie oor vandag se brood nie. Dis die toekoms
waaroor ons ons dood bekommer. Dis om meer en groter en
beter goeters te hê wat ons laat wakker lê. Ons gaar op,
sit weg, belê, neem polisse uit, maak planne – terwyl
Jesus ons leer om te bid: Gee ons vandag ons daaglikse
brood. Vertrou die Here vir vandag en glo dat Hy môre
ook betyds sal wees met sy manna. ~ Wilna Botha,
19/01/2015 |
|
Toe die Israeliete in die woestyn
was, het hulle vreeslik gekla en gekerm oor hulle
omstandighede. Hulle het voortdurend terugverlang na die
kospotte van Egipte. Hulle het die hele tyd vir Moses
blameer en die Here die skuld gegee vir hulle
omstandighede. Dié gekerm en gekla en blameer was een
van die redes waarom hulle vir 40 jaar in die woestyn
rondgeswerf het, terwyl hulle melk en heuning kon geniet
in die beloofde land. Die les wat ek hieruit leer is: ek
moet my eie foute en mislukkings erken, ek moet
verantwoordelikheid neem vir my eie besluite, ek moenie
iemand anders blameer of vir God verwyt oor die posisie
waarin ek myself mag bevind nie. Hou op kerm en kla en
blameer, aanvaar wat ek nie kan verander nie, leef
daarmee saam en “go with the flow” – kort voor lank is
die beloofde land dalk in sig! ~ Wilna Botha, 16/01/2015 |
|
“Jy moet onthou hoe die Here jou
God jou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy
het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op
die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy
sy gebooie sal gehoorsaam of nie.” (Deut. 8:2) As dinge
bietjie moeilik raak vir jou, as dit voel of die sorge
van die lewe jou vasdruk en probleme jou oorweldig, as
dit voel of jy verdwaal is in die woestyn van die lewe,
moenie opstandig of arrogant raak nie, moenie die Here
verwyt of jou rug op Hom draai nie, moenie twyfel en
dink jou geloof is nikswerd nie. Dink daaraan dat die
Here ’n doel het met wat Hy toelaat in jou lewe. Sien
raak dat Hy by jou is en jou deur die woestyn sal lei
met sy wolkkolom en sy vuurkolom en vir jou sal sorg met
manna en kwartels. Kalmeer en laat jou hart rustig word,
terwyl jy al jou vertrou opnuut in Hom plaas. ~ Wilna
Botha, 14/01/2015 |
|
Op my verjaardag
verlede week, het ek daaraan gedink dat indien ek die
“mooi ouderdom” van 75 gaan haal, dit beteken dat ek nog
net sowat 1000 weke oor het om te lewe... nét 1000
Maandae, nét 1000 naweke! Dit het my laat dink aan die
storie wat ek eenmaal gelees het van die man wat ook
1000 weke oorgehad het en toe 1000 albasters in ’n groot
bottel gegooi het. Hy het elke Saterdagoggend een
albaster uitgehaal en dit weggegooi. Toe hy sien hoe die
bottel al hoe leër word, het hy besef hoe vinnig tyd
verbygaan en hoe kosbaar die beskikbare Saterdae is. Dit
het hom gemotiveer om prioriteite in plek te kry en
seker te maak dat hy die tyd uitkoop. Ek het dié week
vir my ook ’n klomp albasters gaan koop en in ’n bottel
gegooi! Ek wil hê dié bottel op my rak moet my herinner
om te fokus op dinge wat regtig belangrik is: geloof,
hoop en liefde; geduld, dankbaarheid, goedhartigheid en
vergifnis; ek wil hê dié bottel op my rak moet my
herinner om te droom en nuwe dinge te ontdek, om te
sing, te lag, te speel, om geluk te vind in eenvoudige
dinge en tevrede te wees met wat ek het; ek wil hê dié
bottel op my rak moet my herinner om my geliefdes te
koester, te troetel en te waardeer. Ek wil hê dié bottel
op my rak moet my herinner dat 1000 albasters vrek min
is en dat ek elke dag ten volle moet benut. “Die mens,
sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van 'n
veldblom wat oopgaan: as die woestynwind daaroor waai,
is dit weg en sy plek vir altyd leeg.” (Ps. 103:15-16) ~Wilna
Botha, 14/01/2015 |
 |
|
Ek hoor onlangs hoe twee jong dames
gesels oor hulle werksomstandighede en hulle praat van die "one up"-beginsel.
Was vir my nogal vreemd maar ek het gou besef dat dit 'n eeu oue
beginsel is wat geld in die werksplek, sowel as die sake wêreld. Dis
eenvoudig, wees almal anders een stap voor en jy sal werk hê.
Daarmee is daar verseker niks fout nie, maar ek het gou besef dat
dit verder as dit gaan. Om kundig en opgelei te wees is nie meer al
wat tel nie, daar word nou veel meer van jou verwag as in die
verlede. Jou hele persoonlikheid moet inpas in meer as wat die
basiese verwagting van jou posbeskrywing is. Of jy 'n bemarker is of
nie, jy moet die “skills” hê en gebruik anders word jy vervang met
iemand wat "one up" is op jou. En ja, jy moet gereeld gratis oortyd
werk. Kyk, werk moet jy werk en 'n lewe moet jy maak, maar die druk
word ondraaglik in die werksplek en ons moet al hoe beter presteer,
of ons sit op straat. Dit gebeur ook in die arbeidsmark en jy moet
bo bly...
lees meer >> ~Willem
Botha, 13/01/2014 |
|
“Walk with me and work with me - watch how I do it,” só nooi Jesus
ons uit in Matt. 11:19. Waar het Jesus geloop? Deur die tempel,
verby die siekes, prostitute, verwerptes en verlorenes; verby
bloedsweet in Getsémané, deur vervolging en verwerping, swaarkry en
lyding tot by die kruis. Is ons bereid om saam te loop waar Hy loop?
Is ons bereid om ons kruis op te neem en saam met Hom te stap? Is
ons bereid om vervolg en gespot te word omdat ons saam met Hom
wandel? Is ons bereid om ons geld en ons goed, status en posisie op
te gee sodat ons Hom kan volg? “As iemand agter My aan wil kom, moet
hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg.” (Matt 16:24) . Stap
saam met Jesus die nuwe week in ... ~ Wilna Botha, 12/01/2015 |
|
“Life can only be
understood backwards; but it must be lived forwards” – so lui ’n
aanhaling wat ek nou die dag gelees het. Dis waar dat ’n mens baie
meer perspektief en verstaan het van dinge wat gebeur het as dit
eers verby is en mens kan rustig terugkyk daarop. Baie keer kan mens
eers met die terugkyk slag sê: dit was moeilik, maar dit was goed en
nodig. Soms is dit ook nodig om terug te kyk sodat jy kan sien hoe
jy gevorder en gegroei het. Ek kyk ook bietjie terug in die verlede
om te sien hoedat die Here voorsien, gesorg en my gedra het en met
die sekuriteit wat dít my gee, het ek moed en vrymoedigheid om my
uit te strek na wat voor my lê. Ek kyk met verwagting en vrede in my
hart vooruit na vandag en die res van die jaar sonder om terug te
verlang en vas te klou aan gister en die ander “goeie ou dae”. Leer
uit gister en lééf voluit vorentoe. ~ Wilna Botha, 09/01/2015 |
|
Ek het weer deur Ps. 119 gelees en opnuut die wonderlikheid van God
se Woord besef. Dit gee vir ons die sekerheid dat ons op die regte
pad is (:165), dit bring bevryding en redding (:123), dit verskaf
plesier en vreugde (:24), dit gee troos en hoop in moeilike tye
(:49-50), dit gee wysheid en kennis (:66), lig waar dit donker is
(:105). Dis meer kosbaar as al die rykdom (:14), meer werd as die
wonderlikste skat (:162), beter as goud (:127), soeter as heuning
(:103). Werd om te lees, te glo en te gehoorsaam! “A Bible that’s
falling apart usually belongs to someone who isn’t.”― Charles H.
Spurgeon ~ Wilna Botha, 07/01/2014 |
|
Nou ja, teen hierdie tyd is jy
seker ook al gewoond aan die idee dat ons die lyn gekruis
het na ’n nuwe jaar. Die oue is opgepak en afgehandel. Die
nuwe dagboek lê kraakvars op die lessenaar. Die 2015 almanak
het reeds die ou een uit sy plek uitgestoot. Voorraadopname
van die ou jaar is gemaak, die nuwe lysies van voorneme en
doelwitte is gemaak. In 2015 wil ek saam met die Here stap
en werk, ek gaan Hom dophou en volg; ek gaan Hom deel maak
van elke dag, elke gedagte en elke besluit; ek wil myself
oopstel om Sy genade te ontvang en te beleef en te deel; ek
wil vry en tevrede voel omdat ek weet dat Hy in beheer is;
ek wil minder angstig en gespanne wees omdat ek weet dat my
waarde nie deur prestasie of ander se standaarde en
goedkeuring bepaal word nie. Ek gaan dié teks glo en volg:
“Walk with Me and work with Me - watch how I do it. Learn
the unforced rhythms of grace. I won't lay anything heavy or
ill-fitting on you. Keep company with Me and you'll learn to
live freely and lightly." (Matt. 11:29-30, The Message)
~ Wilna Botha, 06/01/2015 |
|
So stap ons die nuwe jaar in ... vorentoe
met hoop, bewus van die Here se genade en liefde, die oog gerig op
Jesus wat alles weer nuut en vars sal maak. So stap ons die nuwe
jaar in, gevul met vrede en verwagting op ’n goeie toekoms. So stap
ons die nuwe jaar in met vertroue op die Here wat almagtig, goed en
groot is. So stap ons die nuwe jaar in met die leiding van die Woord
wat betroubaar en waar is. So stap ons die nuwe jaar in, al wag daar
dalk moeilike tye van swaarkry en onsekerheid. Ek hoop 2015 sal vir
jou ’n goeie en geseënde jaar wees en dat jy die pad enduit sal
stap saam met die Here ~ Wilna Botha, 05/01/2015 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|