|
|
Daaglikse Heuningdruppels 2022
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
Lees gerus
enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder ..... |
|
Toe ek
destyds graad 1 toe is, het ek nie besin oor die doel van skool nie,
dis net wat jy moet doen as jy 'n sekere ouderdom bereik. Dit het
baie lank geneem om in te sink dat jy 'n akademiese opvoeding moet
kry.
Toe ek destyds weermag toe is, het ek geensins besin oor hoekom ek
moet gaan nie, dit was net 'n gegewe, want alle jong manne moes gaan.
Dit het nie by my ingesink dat daar 'n sogenaamde "Rooi gevaar" was
wat ons bedreig het nie.
So het ek grootgeword met Kersfees wat in Desember gevier word, en
dit was 'n gegewe. Ja ons het ALTYD geweet dat ons Jesus se geboorte
gevier het, maar die volle impak van daardie gebeure het baie lank
daarna regtig ingesink.
En dan kan ek vir myself die vraag vra: Glo ek dit REGTIG nog?
Weet jy dat net Matteus en Lukas skryf van Jesus se geboorte, en
Lukas was nie 'n dissipel nie. Jesus self het niks, maar niks self
in die Bybel geskryf nie! Hy self het nooit van sy geboorte gepraat
nie, of daaroor geskryf nie. Hierdie gebeure is in elk geval eers
baie later in die twee evangelies opgeskryf, jare na sy hemelvaart.
Nou kom daar
'n paar vrae by my op wat ons elkeen vir onsself moet antwoord oor
hierdie gebeure.
* Wanneer het die ware betekenis van die Kersverhaal regtig by jou
ingesink?
* Was dit dalk maar altyd net 'n mooi verhaal waaraan ons vashou?
* Maar toe die ware betekenis by jou ingesink het, het dit steeds
waarde, en glo jy dit steeds?
* Glo jy steeds regtig regtig in die maagdelike geboorte?
* Pootjie dit jou soms as ander mense jou laat twyfel omdat die
datum verkeerd is? Nee, dit was definitief nie op 25 Desember nie,
en die Bybel sê dit in elk geval nie. Net so kan ons ook nie uit die
Bybel enige ander datum daaraan koppel nie. En daarom vier ons dit
met groot gemak soos wat ons dit doen.
Hierdie tyd
van die jaar is vir my 'n herinnering dat daar 'n grootse
gebeurtenis plaasgevind het, en ek moet myself elke jaar weer
vergewis van die feit dat Jesus vir my gebore is, en dat my geloof
daaraan rotsvas staan. Ek glo jy ook. Indien wel, kan ek en jy ten
volle en met groot oortuiging Jesus se geboorte vier.
Ons sluit hiermee ons Heuning boodskappies af vir 2022 en hervat
weer in Januarie. Ons wens jou en jou geliefdes 'n wonderlike,
geseënde Christusfees toe. Rus goed (as dit vir jou beskore is),
herlaai jou batterye en skep nuwe moed vir 2023.
Groetnis van die Botha's. ~ Willem Botha, 15/12/22 |
|
Die hoop van die wêreld, deur eeue verwag ...
so sing ons oor Jesus se geboorte in een van die bekende
Kersfeesliedjies. Wat is jou hoop-wens vir hierdie Kersfees? Hoop
jy vir deurbrake in jou of jou gesin se lewe? Hoop jy dat die
verlore seun sal opdaag by die Kerstafel? Hoop jy om teen volgende
Kersfees getroud te wees, of swanger te wees? Hoop jy op groter
sukses en voorspoed vir jou besigheid? Hoop jy op ’n groter
bankbalans? Hoop jy op genesing? Dalk hoop jy dat een van jou
geliefdes sal bekeer en Jesus sal volg? Of dalk hoop jy op ’n dieper
verhouding met die Here? Miskien het die realiteite van die lewe jou
hoop vernietig, maar kyk verby dit na Jesus. Die anker van hoop is
Jesus en daardie hoop is ’n lewende hoop. Die hoop wat Jesus gee, is
’n hoop wat vasstaan ten spyte van omstandighede. Al lyk alles
onmoontlik, beteken Kersfeeshoop dat God se moontlikheid nog ’n hoop
is. Hou daaraan vas, al kan jy dit nie nou al sien nie. “We must
hold tightly to the hope that we say is ours. After all, we can
trust the One who made the agreement with us.” (Heb 10:23) “Niks is
vir God onmoontlik nie.” (Luk. 2:37) Maria moes dit hoor en glo
daardie eerste Kersfees. Mag ons dit ook hoor en glo hierdie
Kersfees. ~ Wilna Botha, 13/12/2022 |
|
Goeie nuus!
Ek is seker elkeen van ons hou NET van goeie nuus, maar ons word
elke dag gebombardeer met slegte nuus. As jy die radio of TV aansit
is dit bykans al wat jy hoor, en dis hoofsaaklik politiek, Eskom en
misdaad wat alles oorheers. Genade, hoe op aarde kan mens nog hoop
hê en aan iets vashou as dit gaan soos dit nou gaan?
Ek wonder hoekom is daar niks meer oor om na uit te sien nie. Het al
ons verwagtinge in teleurstelling uitgeloop, of is daar net nie meer
lig in die tonnel nie? Maar selfs die slegste van slegte nuus skok
ons nie meer nie want ons het dit gewoond geraak.
In die tyd van Jesus se geboorte het die mense maar dieselfde
probleem gehad want hulle was onderdruk deur die regering van die
dag en hulle het ook gesmag na verlossing.
En toe word Jesus gebore! Daar was skaapwagters in die veld en 'n
engel het vir hulle die goeie nuus gebring.
"Toe sê die engel vir hulle: Moenie bang wees nie, want kyk, ek
bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele
volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die
Verlosser gebore, Christus die Here!" (Luk. 2:10-11)
Wonderlik! Hulle het nie noodwendig alles verstaan nie, maar as 'n
engel skielik aan jou verskyn sal jy seker ook besef iets groots het
gebeur. Dis natuurlik nadat jy jou in 'n ander bloedgroep geskrik
het! Jy sien, hulle het die profesieë geken en het in verwagting
geleef dat iets beter aan die kom is. Maar wat het ons?
Het ons nie ook al gewoond geraak aan die idee dat Jesus vir ons
gebore is nie? Het ons dalk gewoond geraak aan die grootste
wonderwerk, nl. dat ons verlos is van die boosheid van hierdie
wêreld en vir die hemel bestem is? Het ons al gewoond geraak aan
dinge wat daagliks rondom ons gebeur, wat niks anders as wonderwerke
is nie? Genesing, geboorte van 'n baba, ongelukke wat ons nié tref
nie, en duisende ander goed.
En dis wat Kerstyd vir my lekker maak. Dis so asof daar 'n
skietstilstand aanbreek en die slegte nuus vir 'n kort tydjie tot
stilstand kom. Nuwejaarsdag is vir my amper soos 'n muur waaroor ek
nie nou hoef te kyk, of oor te loer en te klouter nie. Dis soos 'n
gordyn waaraan ek nie nou hoef te karring nie en hom net knus toe
los, so effe kop in die sand soos 'n volstruis. Die feit dat die
goeie nuus van Jesus se geboorte gevier word is so half die cherry
op die koek. Ek is baie baie lief vir die Kerstyd, kom ons noem dit
eerder die Christusfees.
Kersfees is vir my opnuut 'n herinnering daaraan dat nie alles sleg
is nie, en dit beklemtoon elke jaar vir my hierdie ongelooflike
goeie nuus van ons Verlosser wat gekom het. Kom ons wees opnuut
dankbaar daarvoor. ~ Willem Botha, 12/12/2022 |
|
Toe Jesus gebore is,
het die sterrekykers geskenke van goud, wierook en mirre gebring,
die skaapwagters het geen moeite ontsien nie en dadelik gegaan om
voor die Koning te buig en God te loof en prys, Maria het haarself
gegee en gesê: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my
gebeur wat u gesê het.” (Luk. 1:38) Die Little Drummer Boy, van die
liedjie, wou ook vir die Koning wat gebore is geskenke bring, maar
hy was maar net ’n arm seuntjie ... “I
have no gift to bring ... that's fit to give our King.” Dan speel hy
maar net op sy drom vir die Koning ... “I played my drum for Him ...
I played my best for Him.” Dít wat hy kan doen, sy talent wat hy het
bied hy aan vir Jesus en hy doen dit so goed as wat hy kan. Hoe mooi
eindig die liedjie nie as hy sê: “Then He smiled at me ...” Dis wat
Jesus doen wanneer ons wie ons is en watter gawes ons het gebruik om
Hom te eer en ons naaste te dien – Hy glimlag. Mag Jesus ook glimlag
wanneer jy hierdie Kersfees jou beste vir Hom en dié rondom jou gee!
~ Wilna Botha, 08/12/2022 |
|
'n Gewone dag
Soos altyd, soos elke ander gewone dag, het hulle (soos gewoonlik),
op 'n vaste tyd wakker geword. Waarskynlik het hulle oor die gewone
dinge gepraat en soos gewoonlik die dag, die naweek en dalk 'n
vakansie bespreek. Dalk het hulle, soos gewoonlik, saam gebid vir
die Here se beskerming op hulle en hulle gesin. Soos gewoonlik het
hy gegroet en gaan werk.
'n Paar ure later het die foon gelui en "gewoon" het onherroeplik
verander, en daardie definisie van "gewoon" sal NOOIT weer dieselfde
wees nie. Sy vrou het hierdie paar skrikwekkende woorde gehoor: Hy
is oorlede aan 'n hartaanval! Hulle het 'n wonderlike huwelik gehad
en hulle was 'n hegte gesin. Hoekom Here, hoe is dit moontlik? Met
wie gebeur dit? Hoe op aarde gaan mens aan met hierdie nuwe, aaklige
lewe? Hierdie dag het so gewoon begin, maar die skok, trauma en
hartseer het 'n gesin se lewens totaal uitmekaar geskeur. Niks sal
ooit weer gewoon wees nie. Waar was U Here?
Dit het die Here behaag... Ons lees dit gereeld op 'n begrafnisbrief.
Het dit? Is dit vir die Here behaaglik? Volgens die HAT verwys dit
na "aangenaam" en "genotvol". Nee, ek hou glad nie van daardie frase
nie en gebruik dit glad nie in hierdie konteks nie.
Ek kyk op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van
die Here. Selfs al gaan ek deur donker dieptes... In U hande is ek
veilig. Waar anders sal daardie troos vandaan kom?
Die Here het haar deur hierdie verskriklike nuwe "normaal" gedra en
deur Hom het die troos en selfs genesing gekom, al heel die wonde
nooit weer ten volle nie.
Hy was 'n predikant, 'n baie goeie, Godvresende predikant.
Dit was 'n paar jaar gelede. Ek sien onlangs sy is weer getroud en
lyk stralend gelukkig. Die Here was getrou, Hy het getroos, Hy het
die gesin gedra, en uiteindelik 'n nuwe lewe en 'n nuwe toekoms
gegee. Ons dien 'n wonderlike God, Hy los ons nie in die donker
dieptes nie. ~ Willem Botha, 07/12/2022 |
|
Noudat dit Kersfeestyd is
hoor mens dikwels slagspreuke soos “Put Christ back into X-mas” en
“Jesus is the reason for the season”. Ek hou daarvan, want dit
herinner ons (en die wêreld) dat Jesus sentraal moet wees in ons
Kersfeesvieringe. Toe Jesus gebore is, was daar nie vir Hom plek in
die herberg nie en ek wonder baie keer hoekom het die herbergier nie
maar êrens ‘n ou plekkie gemaak vir die Verlosser, die Koning, die
Vredevors om gebore te word nie? Dalk is dit omdat hy nie gewéét het
dat dit Hy is nie? Maar ons, ons wéét Hy is die Saligmaker, die Seun
van God, Immanuel. Kom ons maak vir Hom plek hierdie Kersfees, plek
in ons harte, plek in ons lewe en in ons huise. Daar is ‘n lied wat
ons sing wat sê: Al word die Seun van God ‘n duisend maal gebore,
maar nie in jou nie, bly jy verlore. Maak plek vir Jesus…. ~ Wilna
Botha, 06/12/2022 |
|
Ek het so paar jaar gelede hierdie boodskap op
die groep geplaas en vandag weer daaroor gestruikel, en 'n intense
hartseer het oor my gekom.
Oom, kan ek asseblief net 'n drukkie kry...
Hierdie woorde sal waarskynlik vir die res van my lewe by my bly. 'n
Klompie jaar gelede, tydens 'n diens wat ons by die vroue gevangenes
gehou het, kom staan 'n jong meisie (ongeveer 16 jaar oud) voor my
en sê hierdie woorde: Oom, kan ek asseblief net 'n drukkie kry? Sy
was so klein dat sy in 'n laerskool rokkie sou pas. Ek het haar so
innig jammer gekry en, hoewel ons nie veronderstel was om fisies die
mense aan te raak nie, het ek gebuk en haar 'n stywe druk gegee. Dis
al wat sy wou hê, net een oomblik van koestering en liefdevolle
aanraking. Sy was verhoorafwagtend, waarskynlik oor dwelms.
Waar het sy vandaan gekom? Het sy 'n pa geken? Of dalk baie? Wat het
ander ooms met haar gedoen toe sy dalk net liefdevolle aanraking wou
hê? Het sy op daardie stadium op straat gebly en het sy dalk daardie
brose liggaampie beskikbaar gestel aan gewetenlose mense vir nog 'n
dag se oorlewing? Ek ken ongelukkig nie daardie antwoorde nie. Ek
wens so ek kon weet wat van haar geword het, en of sy ooit uit
hierdie ding kon breek. Ek twyfel.
Hierdie ding het lank in my lewe by my gespook, want ek het net
besef hoe verdorwe ons samelewing geword het. Wie het haar versaak?
Haar ouers? Die samelewing? Wie is die samelewing? Ek en jy? In die
nege jaar wat ons daar bedien het, het geen ander situasie my so
diep getref nie.
Nog 'n groot vraag wat by my opgekom het, is of Jesus Sy rug op haar
sou draai oor haar lewe, of is Sy genade so groot dat Hy vergewe
sonder dat daar dalk vergifnis gevra word. Natuurlik doen Hy! Kyk na
hierdie aangrypende gedeelte toe Lasarus gesterf het en Jesus by die
graf kom.
"Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar
gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan.
Hy vra toe: 'Waar het julle hom begrawe?"
Hulle het vir Hom gesê: 'Here, kom kyk.' Jesus het gehuil."
Jesus het gehuil... Sjoe.
Ek glo Jesus huil dag vir dag saam met mense oor die gebrokenheid
van hierdie wêreld. Dalk het Hy ook gehuil toe daardie dogter net
vir 'n drukkie kom vra het.
Moet ons as samelewing nie dalk ook vergifnis vra nie?
Ek glo dat die Here saam met ons bedroef is oor die toestand van
hierdie wêreld, maar dat Hy dalk meer van ons verwag, hoe en wat
weet ek nie.
Ek vra jou vandag net twee dinge. Wees saam met my uiters dankbaar
as jy, of jou kind nie in daardie toestand verval het nie. En
tweedens, wees daar vir mense wat net 'n drukkie, of bietjie
koestering nodig het. ~ Willem Botha, 06/12/2022 |
|
Desember is hier! Kersfees
kom! Maar deesdae hoor mens nogal van ouens wat teësinnig is om
Kersfees te vier. Dis dan kwansuis ’n heidense fees, dis nie werklik
die datum van Jesus se geboorte nie, dis ’n geldmakery van die
wêreld, ens. Hulle beweer dat die simbole van liggies, bome en
versiersels dui na afgodsdiens. Die Bybel sê nie of ons Kersfees
moet of nie moet vier nie, daarom dink ek dis elke gelowige se keuse
of hy dit wil vier of nie. As jy dit vier omdat jy Jesus se geboorte
wil herdenk is dit na my mening goed. Ek kies om Kersfees te vier.
Vir my is Kersfees ’n Christusfees, ’n jubelfees oor my
Verlosser en my verlossing, ’n gesinsfees, ‘n getuienisfees. Hierdie
teks in Luk. 2:10-11 uit Die Boodskap oortuig my juis weer dat ek
dit in 2022 wéér wíl vier: “Ek het baie goeie
nuus vir julle; nuus waaroor julle nog baie lank gaan feesvier...
vandag is die Redder in die stad van Dawid gebore; vir almal van
julle. Dit is Hy wat julle van julle sondes sal vrymaak. Hy is die
Messias en die Here oor almal.” ~ Wilna Botha, 01/12/2022 |
|
Bederf
"As jy genoeg geëet het, is selfs heuning nie meer lekker nie; as jy
honger is, smaak selfs 'n bitter ding soet." (Spr. 27:7)
Sjoe kyk hiervan kan ek getuig. Ek staan in die winkel en wil
lekkergoed koop, maar net mooi niks lyk lekker nie. Hoekom op aarde
is daar so baie keuses? As daar net twee was om van te kies was dit
makliker. Maar toe ek destyds drie dae in die weermag was en só gesmag
het na ietsie lekker, bied 'n vriend gewone droë koekies vir my aan
en dit was die lekkerste goed op aarde. So lekker dat ek dit 45 jaar
later steeds onthou. En so gaan dit deur die lewe, jy smag na iets,
kry dit, maar smag dan na iets beter. Ek het al gesien hoe dit
gebeur by die motorfiets ouens, en die fotograwe en die versamelaars,
dis orals dieselfde. Sodra jy dit het is dit klaar nie meer goed
genoeg nie, en dan wil ons net nog en nog en nog hê. Het jy genoeg
geld? Is jou huis groot genoeg? Sal so effe duurder model van jou
huidige motor nie net effe beter wees nie? Is jou kinders gelukkig
met hulle sakgeld? Of sou so 10% meer beter wees? Terloops, ongeag
van jou armoede of welvaart, het jy so 10% te min. En kom ons praat
dan nie eers van eetgewoontes nie, want gesonde kos proe afgesaag.
En oefening is net vir die mense wat nie lekker is daar in die
boonste verdieping nie.
Dit laat my dink aan Adam en Eva wat soveel pragtige vrugtebome
gehad het om van te kies, maar daardie een enkele boom wat buite
perke was, was net een te veel. Hulle het gereageer op die hier en
nou, en nie dit wat ewigheidswaarde gehad het nie. Die "heuning"
waaraan hulle gewoond was, was net nie meer genoeg nie.
Ek dink ons het dieselfde probleem, ons honger nie meer genoeg na
die beste van die beste nie want ons raak so bederf met sinnelose
dinge in die Geestelike wêreld. Ons mis daardie intimiteit met God
omdat daar te veel "geestelike lekkergoed" beskikbaar is.
Ek gebruik die woord "ons", maar dit moet eintlik wees "ek". Dis
vreeslik hoe afgestomp ek kan raak en hoe krities ek raak teen alles
wat net nie meer "geestelik lekker" is nie. Ek hou van geestelike
"sweeties", maar die voedsame kos raak afgesaag. Maar weet jy wat?
Dis ook nie meer vir my lekker om só te wees nie! Dáárdie sweeties
smaak ook nou maar na niks.
Dis hoekom ons ook nie meer die moeilike opdragte van die Here wil
aanhoor nie, want die Here se voorskrifte is beter in 'n suikerlagie,
en ons wil net weet hoe goed dit met ons sal gaan. Ek wonder of
enige mens al 'n sogenaamde "profeet" gaan sien het om te hoor hoe
hulle moet lewe om meer heilig te wees. Of laat dié vir jou die
donker kolle in jou lewe uitwys. Nee, lekker-lekker sal lekkerder
wees, en die oorvloed dinge wat goed is raak vervelig. Ai, hoe het
ons nie geword nie... ~ Willem Botha, 30/11/2022 |
|
Ps.
91:4: “He will cover you with His feathers, and under His wings you
will find refuge.” In die afgelope jaar het hierdie vers vir my keer
op keer moed gegee en my verseker dat daar altyd beskerming, altyd
hoop, altyd vrede sal wees. En dikwels wanneer ek bang en onseker en
onstuimig gevoel het, het daar onverwags ’n veertjie êrens gelê wat
my herinner het onder Wie se vlerk ek skuil! Hoe wonderlik is dit
nie onder die Here se vlerk nie! Dis warm as jy koud kry, dis ’n
skaduwee as die son fel is, dis waterdig as daar ’n storm woed. Dan
is dit natuurlik ook die veiligste plek om te wees, want Hy sal nie
toelaat dat iets of iemand jou daar uithaal of aan jou raak nie! Dit
is ook dié plek waar jy regtig onvoorwaardelik welkom is en waar jy
Sy hartklop kan hoor én voel en waar jy kan wéét dat Hy jou liefhet.
Hardloop en kom skuil hier saam met my.... ~ Wilna Botha, 29/11/2022
|
|
Ek deel my gedagtes in die vorm van 'n storie,
'n storie wat dalk nie alles feitelik korrek is nie, maar 'n storie
wat werk vir my prentjie brein. Hierdie storie laat my heerlik kou
en herkou aan die grootste gebeurtenis ooit, baie lank gelede.
Ek kom uit 'n projekbestuur en meganiese ingenieurs agtergrond, en
hou daarvan om dinge prakties te bedink.
"In die begin van alle tyd het God die hemel en die aarde gemaak."
(Gen. 1:1 DB)
In die begin het God alles geskep. In my werkslewe in die genoemde
omgewing was daar bepaalde riglyne wat gevolg is om sukses van 'n
projek te verseker. Die spreekwoord "begin with the end in mind"
spreek boekdele. Jy bou mos nou nie 'n roomys fabriek en hoop om die
Gautrein daaruit te bedryf nie, jy werk met 'n bepaalde doel om 'n
bepaalde uitkoms te bereik.
In die begin... Wat was God se einddoel met Projek Skepping? Hoekom
het Hy dit gedoen? Hy moes tog iéts spesiaal in gedagte gehad het
toe Hy alles haarfyn beplan het. Hier kom my gedagtewêreld in en ek
sien die gebeure afspeel soos in 'n film.
Ek sien in my geestesoog hoe Hy gebukkend by 'n tafel sit, met 'n
klomp toerusting om tekeninge te maak, en dalk 'n rekenaar om
inligting vas te vang. Dalk het Hy gedink: Ek het 'n behoefte om
iemand te skep na my beeld, wat 'n bepaalde funksie kan verrig. Dalk
het Hy gedink Hy kon doen met geselskap. Dan begin Hy op sy
tekenbord werk en begin met die einde in gedagte. Dalk het Hy gedink
dat Hy eers 'n klomp goed moet skep sodat hierdie menslike wese 'n
goeie lewe kan lei. Hy het gedink lig sal goed wees want die mens
gaan kan sien. Hy het ook gedink dat Hy voedsel vir hierdie mens
moet kan verskaf, en bome en diere gemaak wat nodig is vir die
voortbestaan van die mens.
Hy het ook gedink dat daar daglig moet wees vir die mens om te kan
werk, en nag om te kan rus. Presies lank genoeg vir elke situasie
soos nodig. Toe het Hy 'n magdom natuurwette geskep wat lewe
moontlik maak, soos byvoorbeeld gravitasie en wrywing wat broodnodig
is vir ons. Hy het die son haarfyn beplan, sodat dié vir miljoene
jare kan brand, en Hy het hoofsaaklik waterstof en helium ingespan
vir die taak, en in sy ontwerp presies geweet hoe ver Hy die son en
die aarde uitmekaar moet plaas. Daar is nie veel van 'n toleransie
nie, net so 10% speling anders kan die mens nie bestaan nie. Hy het
die maan gemaak vir 'n bepaalde doel, en hom ook presies op die
regte afstand geplaas. Daar is net ongeveer 10% speling. Die maan
moes getye veroorsaak wat die see konstant skoon was, sodat die mens
se grootste bron van voedsel, naamlik vis, geredelik beskikbaar kan
wees. Wetenskaplikes beweer dat die hele heelal in perfekte harmonie
moet opereer, anders kan die mens nie oorleef nie.
So het Hy gesit en alles ontwerp, in haarfyn detail, en volgens my,
alles sodat die mens kan leef. Die ontwerp van die menslike liggaam
is uiters belangrik, want dáár is nou vir jou 'n komplekse skepsel.
Die mens, die enigste lewende wese wat God kan prys, die enigste
wese wat met Hom kan kommunikeer, die enigste wese wat oor 'n
warboel emosies beskik en daaraan uiting kan gee.
En so glo ek, was die mens die rede vir hierdie onbeskryflike groot
projek. Alles, maar alles, soos in Genesis 1 en 2 beskryf, sodat God
iemand kan hê wat nuttig is vir Hom. En toe besluit Hy hoe lank die
mense leef. Nie te lank en nie die kort nie. Om en by 80 jaar is
genoeg, en daar is bewys dat dit 'n goeie klompie jare is, want jy
kan net soveel inligting in jou kop bewaar en net soveel dinge
onthou, en net soveel waarde toevoeg. En voorts moet stof tot stof
sy gang gaan, want die atome in jou liggaam sal op die einde gebruik
word in bykans elke mens wat na jou gaan leef, en ja, die materie in
jou liggaam kom van lank gelede af.
Laat dit jou nie spesiaal voel nie? Besef jy dat jy perfek in
hierdie beplanning in verweef is en 'n baie besondere doel het? Die
hele heelal, is geskep met "you in mind". Jy, ja jy.
So het Hy toe ook sy eie woning beskikbaar gestel waar jy vir ewig
en ewig by Hom kan bly ná hierdie lewe.
Jy is eenvoudig "amazing"! ~ Willem Botha, 28/11/2022 |
|
Daai strepie
Op my grafsteen sal daar seker so iets staan: "RIP 19** – 20**. Hier
rus Willem". Kom ons werk met so 80 jaar. Wat maak jy met jou
strepie? Dit is nou daardie strepie tussen die twee datums op jou
grafsteen. Wat staan alles geskryf in daardie enkele ou strepie? Jy
het absoluut geen invloed gehad op die eerste datum nie, maar jy het
wel 'n invloed op die tweede datum, afhangende van hoe jy leef. Nou,
die probleem lê by daardie strepie tussen die twee datums. Sommige
mense werk naarstiglik daaraan om daardie strepie so lank en sinvol
as moontlik te maak, ander leef weer so asof hulle hom so kort as
moontlik wil hê, en baie gee net nie 'n blou duit om nie. Nou ja,
die Bybel sê alles wat jy nodig het om te weet, om te sorg dat
daardie strepie so sinvol as moontlik sal wees, ongeag van sy lengte.
"Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die
uiteinde daarvan is die dood. " (Spr. 14:12)
Die lewenswyse van party mense is duister. Mense leef roekeloos, het
geen agting vir die dood nie, gee nie om wat hulle doen nie, tart
selfs die dood. Vele tart sommer die Here ook. Ja, dit is inderdaad
so dat die mens geskep is met die wete dat die dood kom.
“Stof is jy, en jy sal weer stof word”. (Gen 2:19b)
God het die mens met ‘n bepaalde lewensverwagting geskep. Daar staan
geskrywe dat jy 70 jaar oud sal word, en as jy sterk is 80. Almal
wat gebore is, sal weer ‘n aardse dood sterf. Maar wat verwag die
Here van ons in hierdie relatiewe kort tyd van 70, 80 jaar? Die
volgende bekende woorde kom onwillekeurig by my op: "Wat ek is, is
net genade, wat ek het, is net geleen." So ook die volgende bekende
lied: "Moet ek gaan met leë hande, moet ek so my Heer ontmoet...".
Ek het al so baie oor hierdie dinge gedink en ek vra myself die
volgende dinge af: Leef ek net vir myself? Maak ek 'n verskil aan
ander? Wat is my nalatenskap? Wat sal my gesin sê van hoe ek tydens
hierdie strepie geleef het? Het my lewe hier na die einde toe 'n
stippellyn geword? Leef nog net so nou en dan.
Daardie strepie stop nie as ons hier op aarde sterf nie, hy hou aan
tot in ewigheid. Maar die besluit waar daardie strepie sal aanhou
voortleef word voor die laaste datum bepaal, op ons eie keuse. Dit
gaan óf baie sleg, óf baie lekker wees. Ek weet presies waar ek wil
wees! ~ Willem Botha, 23/11/2022 |
|
Ek kom agter dat ek nogal bietjie kompeterend
is; ek wil wen as daar speletjies gespeel word, ek wil hê my werk
moet die beste en vinnigste wees, ek wil die een in die gym wees met
die meeste “work-outs” agter my naam, ek wil die mees toegewyde
persoon wees, ens. Die Bybel sê: “Wie is die wenner oor die wêreld?
Dit is die persoon wie se verhouding met Jesus reg is omdat hy weet
Jesus is die Seun van God” (1 Joh. 5:5, die Boodskap). Wie in Jesus
glo, wie naby Hom leef, húlle is eerste, hulle sal ’n onverganklike
kroon ontvang, ’n goue medalje, ‘n ewige prys – ek wil só ’n wenner
wees! ~ Wilna Botha, 22/11/2022 |
|
Ek het Saterdag 'n situasie vir ongeveer twee
sekondes beleef, wat vir my vir die res van my lewe sal bybly. Dis
iets wat ek gesien het, en 'n oomblik daarna het ek emosies beleef
wat my letterlik in trane gehad het. Ek was ongelooflik hartseer!
Ek vertel jou netnou meer daarvan.
Een van die moeilikste tekste in die Bybel is dat jy jou nie moet
bekommer nie. Makliker gesê as gedaan. Ek is 'n meester daarin om my
kop met snert besig te hou: die politiek, finansies, toekoms,
gesondheid, verhoudinge en hordes sulke klein jakkalsies. Dinge wat
eintlik nie 'n oomblik se koptyd verdien nie. Ek lees hierdie
volgende aanhaling: "Deur jou te bekommer martel jy jou verbeelding."
Ai, hoe kan ons onsself nie straf nie!
Terug na Saterdag. Ek is op pad om uit 'n parkeerterrein te ry toe
'n gesin van voor af verbykom. Daar was 'n man en sy twee seuns en
ek het baie stadig gery en kon hulle mooi raaksien vir letterlik
enkele sekondes. Toe ek die een seun (omtrent 10 jaar oud) sien, was
ek tot in my diepste wese geskok. Die seun se gesig was so erg
misvorm, dat ek letterlik nie nog vir hom kon kyk nie. Wat jy ook al
nou in jou gedagtes optower, vermenigvuldig dit met 'n miljoen! Ek
kon nie my emosies beteuel toe 'n jammerte vir daai seun oor my kom
nie. Wat sien hy elke dag in die spieël? Hoe loop hy nie daagliks
onder 'n gespot deur nie? Jy weet hoe wreed kinders kan wees, en ook
grootmense wat nie kan ophou staar nie! Hoe swaar moet sy ouers nie
kry nie! Jy het sekerlik ook al gehoor dat mense goed kwytraak soos:
Daar is donker kolle in julle lewens en die Here wil julle hiermee
op die regte pad bring. As iemand ooit so iets kwytraak, verwerp dit
net onmiddellik. Hoe sal hierdie seun ooit normaal in die samelewing
kan funksioneer? Hoe moet hy en sy ouers nie met die Here worstel
nie? Nou ja, menige ongelowiges gebruik mos hierdie situasies om die
liefde van God in twyfel te trek. Hoe kan Hy dit doen?
Ek het nie die antwoord nie, maar ons het al vir jare te doen met
gestremde mense, en ek sien meer liefde vir God by hierdie vriende
van ons, as in die deursnit van die samelewing.
Is dit werklik die moeite werd om jou kop te breek oor iemand wat
oor jou skinder? Is dit regtig die moeite werd om wakker te lê oor
'n duisend goed wat waarskynlik nooit gaan gebeur nie? Ja, ek weet
dat erge trauma 'n mens kan vernietig, maar daardie klein goedjies
wat in jou kop kom nes skrop, kan jy maar gerus uitdryf.
Hoe lyk dit as jy in die spieël kyk? Dalk effe te veel plooie? Dalk
'n ou klein dubbel kennetjie? Of is jou neus ook so skeef soos myne?
Kom ons tel ons seëninge, kom ons tel dit een vir een, kom ons jubel
en juig oor die voorspoed wat ons beleef, al is dit soms so effe
minimaal vir party. Ek weet nie hoe daardie seun op hierdie oomblik
voel nie, maar ek mis eerder uit op 'n groot vakansie of 'n duur
voertuig. Of selfs 'n klein goedkoop enetjie.
“Moenie gedurig loop en julle bekommer nie. Moenie van vroeg tot
laat vra: ‘Gaan ek genoeg hê om te eet?’ of: ‘Gaan ek genoeg hê om
aan te trek?’ nie. Die lewe gaan tog oor baie meer as kos en klere.
Kyk ’n slag na die voëls: hulle het nie groot skure waarin hulle
elke dag hulle kos bêre nie. Tog is hulle nooit honger nie. God sorg
dat hulle elke dag genoeg het om te eet. Weet julle, julle is baie
meer werd vir God as al die voëls in die hemel. Daarom help al julle
bekommernis net mooi niks. Dit gaan nie julle lewe met een enkele
dag verleng nie. Allesbehalwe "(Mat. 6:25-27 DB) ~ Willem Botha,
21/11/2022 |
|
Moed laat mens sy lyding dra, aldus Spreuke
18:14. Skep moed vriend! Volgens die HAT beteken “skep” om met ’n
hol-ding iets op te neem en oor te bring (jy weet, soos met ’n lepel
uit ’n pot). Dit impliseer daar moet iets wees waarvan jy kan skep.
Daar is baie mense wat moed verloor het, wie se moed-pot leeg is –
hulle het nie niks waaruit hulle kan “skep” nie. Sonder moed kan
hulle nie die lewe in die oë kyk nie, kan hulle nie hulle probleme
en swaarkry dra nie. Hoe kan ons vir hulle sê: skep moed, vriend, as
daar niks uit waarvan hy kan skep nie? As die pot leeg is, kan hy
nie skep nie! ’n Ander betekenis van skep is natuurlik om iets uit
niks te vorm, om iets voort te bring wat nie daar was nie (“create”/maak).
Miskien moet ons die moedeloses help om moed te skep ( te “create”)
en die enigste manier is as die Here dit vír jou skep. Kom staan by
die Here, kom skuil is sy skaduwee, kom lê teen sy bors en Hy sal
nuwe moed vir jou skep. “Ek maak die moedeloses weer vol moed”; so
sê die Here in Jer. 31:25. ~ Wilna Botha, 17/11/2022 |
|
Die ryk ou blikskottel!
Kyk, as daar nou woorde is wat my warm onder die kraag kry, is dit
hierdie woorde. Dit verstom my dat mense so nydig kan wees teenoor
mense wat iets bereik het in die lewe. As ek nie in iemand se skoene
gestaan het nie, as ek nie sy lang ure gewerk het nie, het ek geen
aanspraak op sy welvaart nie.
Ek het al soveel keer gehoor hoe ryk ons ouens met ons eie besighede
is, maar waar mense uit totale onkunde praat.
Ek dink dit het so effe van 'n siekte geword om te dink mense met
meer besittings, skuld dit aan ander met minder besittings.
Natuurlik praat die Bybel van mededeelsaamheid, versorging van die
weduwees, om 'n oop hand te hê en om dit wat jy uit genade ontvang
het te deel. Dis alles waar en vir seker 'n Bybelse opdrag.
My probleem is dat mense nie ander se vrug op hulle arbeid vir hulle
gun nie. Hierdie teks vat dit baie mooi vas as hy sê dat luiheid sal
lei tot armoede. En weereens ja, ek sê hoegenaamd nie dat arm mense
almal lui is nie, maar wel dat luiheid tot armoede ly.
" 'n Luiaard ploeg nie in die saaityd nie en soek in die oestyd na
iets wat nie daar is." (Spr. 20:4)
Nou kyk, suinigheid is 'n lelike ding, maar dis die suinige persoon
se eie probleem. Die punt is, hy skuld my niks, en my welvaart is
nie veronderstel om van syne afhanklik te wees nie. Daar is baie
tekste in die Bybel wat daarna verwys dat ons hard moet werk, en dan
tevrede wees met wat jy kan bekostig. Maar moet nie 'n ander ou wat
hard gewerk het, baie risiko's geneem het en wat al sy talente
gebruik, verkwalik as hy meer besit nie. Moenie 'n ander ou se
weelde beny nie, want dit bring dalk probleme waarsonder jy kan
klaarkom. Leer eerder om tevrede te wees met wat jy het, en gun
ander die vrug op hulle arbeid.
Gaan werk om te leef, moenie net leef vir werk nie. Geniet die week
verder. ~ Willem Botha, 16/11/2022 |
|
Ek het myself
nou die dag so verknies omdat iemand my te nagekom het, omdat ek
gevoel het ek is onregverdig behandel, ek het nie gekry wat my
toekom nie .... Ek het die hele dag met hulle gesprekke in my kop
gevoer, my regte probeer eis en my kant van die saak gestel. Toe ek
later in die spieël kyk sien ek my mondhoeke trek sommerso af van
die bitter smaak in my mond. Ag, en toe besef ek maar net weer hoe
stupid dit is om oor so iets aan te hou tob. Dié klomp gaan net
lekker aan met hulle lewe en ék is die een wat lei onder my
negatiewe gedagtes, ék is die een wat af voel, ék is die een wat in
’n hopie sit en myself jammer kry. Ek het toe ’n besluit geneem om
vrede te maak daarmee en die saak uit te vee in my gedagtes.
Natuurlik is ek toe gevul met ’n lekker gevoel van verligtheid en
vrede. “When you hold resentment toward another, you are bound to
that person by an emotional link that is stronger than steel.
Forgiveness is the only way to dissolve that link, and get free.” ~
Wilna Botha, 15/11/2022 |
|
Toe ons kinders was is die volgende gedagte
gereeld in die skool in ons koppe ingeprent: "Crime doesn't pay"
Ons het dit gereeld gehoor en het dikwels opstelle geskryf daaroor.
Maar die vet weet, in vandag se lewe betaal misdaad ongelooflik goed!
Dis by verre die hoogs betaalde beroep op aarde, en verg die minste
arbeid of moeite. Ek het al gewonder watse wonderlike land Suid
Afrika sou wees as al daardie vindingrykheid in eerlike arbeid
omgesit kon word. Nee wat, crime DOES pay, en goed ook. Ek hoor
vandag hoe 'n man homself verdedig toe iemand hom aanval, en toe hy
die aanvaller met 'n stoel probeer keer, het die stoel se poot die
aanvaller se gesig sny. Wat gebeur? Die skurk kla die onskuldige man
aan vir aanranding en dié eindig met tronkstraf, want die skurk kon
sy pad oop koop na 'n totaal onregverdige verhoor en hy stap skotvry
daaruit. Dit skree ten hemele! So word mense bedrieg en kom
oënskynlik met misdaad weg.
En dan is ons reaksie mos dat ons onsself maar ook aan die verkeerde
goed kan skuldig maak en so die gedagte van: If you can't beat them,
join them, uitleef. Wel, dis hoe ek soms voel.
Maar wil jy regtig? Wil jy regtig ook maar soos "hulle" word? Gaan
jy dan lekkerder slaap, meer lewensvreugde beleef en meer gelukkig
wees?
Nee vriend, kinders van die Here loop nie saam met skurke nie. Ons
vind ons waardes in eerlikheid en die reguit pad stap. En al is dit
hoe moeilik om ons oë weg te draai van die ongeregtigheid om ons, is
dit steeds beter om maar eerder die regte ding te doen. Die
misdadigers en skurke gaan in elk geval voor die Here moet rekenskap
gee. Wees eerder anders.
"Omdat die verkeerde daad nie meteens gestraf word nie, hou mense
eenvoudig aan om verkeerd te doen. Al doen die sondaar ook hoeveel
kwaad en leef hy nogtans lank, ek weet: met die vromes wat vir God
dien, sal dit goed gaan". (Pred. 8:11-12) ~ Willem Botha, 14/11/2022 |
|
Ek
het eergistermiddag hierdie reënboog afgeneem buite my huis. Maar
kom ek noem net vir jou dat hierdie foto op GEEN manier die
grootsheid van hierdie oomblik kan vasvat nie. Omdat ek die foto op
'n wye hoek moes neem om alles in te kry, lyk dit of die reënboog
baie ver weg is, terwyl dit gevoel het of ek 'n hanetree van die pot
goud gestaan het. Dit het werklik my asem totaal weggeslaan en ek
kon nie ophou kyk daarna nie. My eerste gedagte was: Hoe groot is U
Here, om hierdie onbeskryflike skoonheid vir die mens te wys! Dit
voel of mens op jou knieë wil neerval en met jou hande in die lug
die Here aanbid.
Sommer in die heel eerste boek van die Bybel lees ons van die
reënboog ná die sondvloed, waar God belowe dat Hy nooit weer die
hele aarde sal oorstroom met reën nie.
"Toe het God gesê: Dit is die teken van die verbond tussen My en
julle en die wilde diere by julle, 'n verbond wat vir alle
toekomstige geslagte geld: my reënboog het Ek in die wolke geplaas.
Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde." (
Gen. 9:12-13)
Dink nou net vir 'n oomblik aan die dag toe die eerste mense 'n
reënboog gesien het. Hulle het niks geweet van wetenskap en van
ligbreking deur waterdruppels nie. Hoe verstom moes hulle nie wees
nie! Vandag ken ons die wetenskap agter 'n reënboog, maar toe ek
hierdie dubbele reënboog sien, was dit vir my veel eerder 'n teken
van God se grootheid en sy almag. Die mens kan geensins 'n reënboog
in die lug plaas nie, net God kan dit doen. Maar saam met dit het
hierdie teken my opnuut herinner dat God sy beloftes hou, ten alle
tye! En wat meer is, sy belofte is 'n bevestiging dat sy genade SO
groot is, en sy liefde vir ons so groot is, dat Hy ons nie weer so
sal vernietig nie. Sy genade en liefde is eenvoudig net té groot!
Ek het aan so paar punte gedink:
* Hy is 'n genadige God.
* Hy hou sy beloftes.
* Hy geen ons elke dag nog 'n kans.
* Hy openbaar Homself dikwels aan die mens.
* Hy kan die mees indrukwekkende kunswerke met sy hande skep, sodat
die mens dit kan bewonder.
* Hy laat toe dat die mens Hom ook deur wetenskap kan leer ken.
* Hy het die mens nie vergeet nadat die skepping voltooi is nie.
* Hy maak ons geestesoë oop en laat toe dat ons Hom kan sien, deur
die sigbare sowel as die onsigbare.
* Hy is die God van wonders.
Ja my vriend, as jy Hom soek hoef jy nie altyd ver te kyk nie, jy
hoef net jou oë op te hef na Hom toe. ~ Willem Botha |
|
Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm
ek so? Dit is wat die skrywer van Ps. 43 in vers 5 vir homself vra.
Ai, ek kan ook partykeer so aan die kerm gaan, steen en been kla en
wonder of alles die moeite werd is. Dan vra ek ook hierdie vraag vir
myself. Soms vra ek dieselfde vraag oor ander mense wanneer ek hulle
so hoor sug en kla. Dis vir my só mooi dat die ou van Ps. 43 sommer
vir homself ’n 2-punt plan gee van hoe om uit hierdie gekerm en put
van twyfel te kom: (1) vertrou op God want Hy is dié Helper en (2)
sing vir Hom ’n loflied. Ek hoop jy kan ook vandag jou vreugde in
die Here vind. Mag Hý die bron van jou tevredenheid wees, die tema
van jou loflied. ~ Wilna Botha, 08/11/2022 |
|
Dán sal jy gelukkig wees.
Die aarde word bewoon deur mense waarvan die meeste ongelukkig is.
Wel, dis nou seker nie deur slim mense bewys nie, maar dis vir seker
my opinie. Ek dink jy hoef maar net om jou rond te kyk en jy sal dit
sien.
Toe begin ek nou wonder hoekom dit so is. Ek dink toe dis omdat
mense nie geld het nie en sukkel om kop bo water te hou. Maar ek
dink toe ook aan VELE mense wat in oorvloed leef, maar bitter
ongelukkig is.
Ek dink toe dis seker omdat mense nie gelukkig is met hulle liggame
nie. Of te vet of te maer of te wat ook al. Maar toe kom 'n klompie
mense in my gedagtes wat hoegenaamd nie 'n probleem het met hulle
gestaltes nie en ook bitterlik ongelukkig is.
Man, toe glo ek dat ek die antwoord het. Dit moet wees omdat mense
nie die "volmaakte" werk het nie. Jy weet mos, iets soos 'n
lewensredder op 'n plesierboot. Maar o wee, daar is mense met die
mees ideale werksomstandighede wat bitter ongelukkig is.
Toe dink ek nee, dis omdat hulle kinders nie die toppresteerders is
en vreeslike fancy werk het nie. Maar o tog, selfs dit het nie
gewerk nie. Jy vind daar ook 'n paar ongelukkiges.
Oukei, toe besef ek, dis ons land en sy misdaad en ekonomiese
probleme wat die skuld moet dra. Ons moet landuit. Maar na bietjie
oplees oor die statistieke, besef ek dat vele mense elders geluk
gaan soek het, en toe besluit om terug te kom en eerder hier op eie
bodem ongelukkig te wees. Want die ongelukkigheid het saam gereis.
Jong, ek wou net opgee, toe dink ek aan hierdie teks:
"Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig
voort. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart
begeer." (Ps. 37:3-4)
Tóé weet ek...
Kyk maar bietjie minder oor die draad na Mnr. en Mev. Jones se duur
huis en motors met die baie skuld, hulle stout kinders, hulle
huweliksprobleme wat hulle so goed wegsteek en sien dat die gras ook
nie so groen is nie, en gaan doen om Vadersnaam iets lekker. Gaan
fliek toe en eet 'n chocolate. ~ Willem Botha, 07/11/2022 |
|
Miga 6:6 vra: “Wat sal ek saamvat as ek na die
Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel?” Ek het toe ook
gewonder wat ek sal saamvat as ek voor Hom gaan kniel. Ek weet die
Here sê hy soek nie my goed en my geld as ’n offer nie. Die offer
wat Hy vra is lof (Ps. 50:4), gehoorsaamheid (Ps. 40:7),
verootmoediging (Ps. 51:19), barmhartigheid (Matt. 9:13),
regverdigheid, liefde, trou en bedagsaamheid (Miga 6:8). Die Here
verkies dat ’n mens doen wat regverdig en reg is eerder as dat jy
offers bring, sê Spr. 21:3. Ek glo die offer wat Hy eintlik van my
wil hê is myself, my lewe, my hele ek – en dis wat ek vandag opnuut
weer op Sy altaar kom aanbied. “Gee julleself as lewende en heilige
offers wat vir Hom aanneemlik is” (Rom 12:1) ~ Wilna Botha,
03/11/2022 |
|
Waarheid
Kom jy agter hoe moeilik dit is om by die waarheid, die volle
waarheid en niks anders as die waarheid nie, te bly? Dit voel vir my
so asof dit makliker was in die "goeie ou dae". Of liewer, lieg raak
deesdae só die norm, dat mens net mooi niemand se integriteit meer
kan vertrou nie, selfs dalk nie eers jou eie nie. Ek voel net of ek
nie een enkele politikus kan glo nie, want magmalheid oorskadu alles
wat reg en eties en korrek is.
Ek begin wonder of mediese behandeling wat voorgestel word regtig
altyd nodig is, maar ons vind onsself dikwels in 'n situasie waar jy
dit nie eers kan verifieer nie, en maar net uitgelewer is.
En het jy al gesien as jy in die strate ry: geen mans bestuur mos
motors nie, ook nie jong vroue, of jong manne nie. Nee jong, gaan
koop vir jou 'n tweedehandse motor en die verkoopsman vertel jou dat
'n ou dame die kar gery het. Altyd 'n ou dame, wat nooit vinniger as
30km/h gery het nie. En saans het sy die motor se deure oop gelos
sodat die deur rubbers nie beskadig nie. En so gaan die liegstories
aan. Ons het self in die begin van die jaar 'n verkoopsman uitgevang
oor 'n soortgelyke storie. Professionele mense word selfs opgelei om
die waarheid so te verdraai dat dit so reg klink, dat mense dag vir
dag mislei word met leuens (of dalk net halwe waarhede) sonder dat
die ander persoon 'n oog knip. Ek wonder of daar ooit iets soos 'n
regverdige verhoor in 'n hof bestaan. En boeta, dit raak wild as jou
geld (en beleggings) gevat word in die proses. Weet jy wat is vir my
verskriklik erg? Dis as mense my intelligensie so onderskat deur te
dink jy glo hierdie leuens, of 'n storie wat buitensporig aangedik
en oordryf word en feite word verdraai om die verteller beter te
laat lyk. 'n Jong man vertel my 'n lang storie toe hy in die sop is,
maar hy begin sommer deur te sê dat hy geen idee het of hy nou die
waarheid gaan praat nie! Bid jou dit aan. Dis 'n tipiese patologiese
leuenaar.
Die vraag is net, is ek self nie ook al daar nie? Ek weet egter een
ding, die Here haat dit!
"Dit is 'n nikswerd mens, 'n mens vol onreg, wat altyd reg is om te
lieg, om te bedrieg deur met die oog te knik, met die voet te beduie,
met die vingers tekens te gee." (Spr. 6:12-13)
Dalk is dit tyd vir 'n nuwe besluit hieroor.
Ps. 49:4 - "My mond gaan suiwer wysheid praat, wat ek gaan sê, sal
van insig getuig."
Spr. 8:7 - "Ek praat net die waarheid, ek het 'n afsku van wat
verkeerd is."
Ek wonder of ek net één dag sal hou... ~ Willem Botha, 02/11/2022 |
|
“Say a quiet yes to God and He'll be there in
no time” (Jak 4:8, Message). Hoe maklik is dit nie om die Here aan
te roep nie! Geen lang sinne, geen perfekte teologiese samestelling
nie, geen pragtige poëtiese taal nie, geen stortvloed van woorde nie,
net ’n sagte uitroep daar in jou binnekamer, net ’n woordelose sug
en Hy sal hoor. Hier is ’n paar voorbeelde uit die Bybel van sulke
kort gebede wat lank genoeg was: Here red my (Petrus in Matt. 14:30)
Wees my sondaar genadig (Die tollenaar in Luk. 18:13)
Dink aan my wanneer U in u koninkryk kom (Misdadiger langs Jesus aan
die kruis in Luk. 23:42)
Here, as U wil, kan U my gesond maak (Die melaatse in Luk. 5:13)
Jesus seun van Dawid, ontferm U oor my (Die blinde man by Jerigo in
Luk. 18:38) ~ Wilna Botha, 01/11/2022 |
|
Knock knock
Ek deel 'n gedagte of twee. Jy dink jy het twee kleintoontjies né.
Nee jy het nie, aan die kante van jou voete het jy twee REUSE tone
wat soos hefbome uitsteek, wat in die donker die mees eienaardige
goed tref, en dan reg rondom buig tot om jou hakskeen, en boeta, dis
wreedaardig seer! 'n Kleintoontjie mis niks wat op die vloer staan
nie! Kry ek nou sommer 'n pyn!
Hier is nog 'n storie. Daar is verhale van soldate wat mense
gemartel het vir inligting, maar in plaas daarvan om hulle
wreedaardig te verniel, het hulle 'n persoon op die grond vasgemaak,
en dan vir dae water op sy voorkop laat drup, dag vir dag, druppel
vir druppel. Daardie druppel maak jou nie seer nie, maar as jy tot
die dood toe moeg is, klink (en voel) daardie druppels soos
donderslae wat soos 'n 10 pond hamer van ouds op jou voorkop neerkom.
Dis onuithoudbaar.
Nog 'n storie. In die "goeie ou dae" het jy sommer in die aand na
kerk by iemand 'n draai gaan maak, sonder om vooraf te reël. En jy
was altyd welkom.
Kom ek probeer hierdie stories bymekaar uitbring.
"Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die
deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou,
en hy saam met My." (Openb. 3:20)
Die Here klop, dag vir dag, aanhoudend, soos wat ek genoem het, soos
waterdruppels wat op 'n mens se voorkop drup. Hoe wonderlik is dit
as jy daardie deur oopmaak, dan is daardie sagte geklop so welkom
soos iemand wat destyds by jou huis aankom, en jy is bly om hom te
sien. Dis so spesiaal, want Hy verlang na ons, vernaam as ons soms
so bietjie stil raak, dan kom loer Hy in om te kyk of dit nog met
jou goed gaan. Maar as jy Hom ignoreer, of Hom wegstoot, hou Hy nie
op klop nie, want Hy sal 99 skape los om die één te gaan soek wat
afdwaal. En as jy dan nie oopmaak nie, word daardie geklop
onuithoudbaar, want jy is net té kosbaar. Hy hou aan klop. Maar
deesdae hoor jy gereeld van mense wat hulle harte verhard en hulle
geloof verloor, ja selfs teoloë, maar dit maak Hom net meer
vasberade.
"Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie,
geld die woorde: Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy
het die belangrikste klip in die gebou geword, en 'n klip waaroor 'n
mens struikel en 'n rots waarteen jy jou stamp.” (1 Pet. 2:7-8)
En daar kom daardie toontjie wat keer op keer in daardie Rots
vasloop, Hy is altyd daar, soms is daardie ontmoeting baie seer,
maar Hy is die hele tyd besig om voor jou te gaan staan, om Homself
aan jou te openbaar en om te klop, want Hy wil jou red. Aanhoudend.
Klop klop klop!
Gaan kyk maar wat gebeur as mense wegdraai van die Here af. Hulle
word briesend vir jou as jy iets sê of jou geloof wil deel. Hulle
kraak jou af en probeer 'n bespotting van jou maak, maar dis nie jy
wat iets verkeerd doen nie, dis daardie aanhoudende geklop wat hulle
nie kan uitstaan nie. Jy sien, tot op die oomblik wat die mens sy
laaste asem uitblaas, kan hy nog daardie deur oopmaak, maar daarna
is dit te laat.
Knock knock. Wie's daar? Maak gerus oop en kyk! ~ Willem Botha,
31/10/2022 |
|
"Figure out what will
please Christ, and then do it" (Eph 5:10) Toe ek hierdie vers in die
Message Bybel lees, het ek besef dat dit seker dié doel en roeping
van my lewe moet wees om die Here te plesier en te behaag, om Hom te
laat glimlag. Uit die Purpose Driven Live – boek onthou ek dat daar
5 goed genoem is wat die Here oor my sal laat glimlag: as ek Hom bo
alles liefhet, as ek Hom met my lewe vertrou, as ek Hom voluit
gehoorsaam, as ek Hom dank en prys met my hele hart en as ek my
vermoëns ten volle benut. Mag ons vandag só leef dat die Here sal
glimlag! ~ Wilna Botha, 27/10/2022 |
|
Gif
Dodelike gif:- neem vyf groot eetlepels drie keer per dag voor ete.
Sluk so vinnig as moontlik af en drink dan 'n glas water. Stook
daardie bitterheid soveel as moontlik in jou gemoed, hou aan haat,
haat soveel as moontlik, dis uiters heilsaam. Hou jouself besig met
selfgesprekke, waar jy elke keer aan die korste ent trek. Doen dit
in die nag terwyl jy rondrol, asook enige tyd van die dag wanneer jy
die minste daarvoor lus is. Die haat sal jou verteer, die seerkry
hier diep binne nooit ophou nie, die woede uitbarstings wanneer jy
dit die minste verwag, sal jou oorrompel. Daai gedagtes wat maal en
maal en soos 'n plakkerskamp se plakker wat in jou kop plak en geen
sent huur betaal nie. Jy drink die gif en hoop iemand anders kom
daarvan om.
So is dit as jy nie kan vergewe nie!
Hoekom? Waarom dit aan jouself doen? Dit terwyl die ander persoon
dalk salig onbewus is van jou selfvernietiging. Hoekom 'n slaaf word
van iets (of iemand), wat die boeie vir jou gee en jy sluit jouself
daarmee aan daardie persoon vas? Hoekom toelaat dat iemand vir wie
jy kwaad is jou lewensvreugde steel?
Nee vriend, vergewe en gaan aan met jou lewe. Begin vandag met die
proses, al is dit stadig en pynlik, dis net jou keuse. Of aanvaar
die slegte ten minste en beweeg weg van daardie pyn. Sluit daai
tronkdeur oop, met daai sleutel wat reeds in jou hand is. En word
vry. Dalk is daai skuldige persoon reeds in die graf, maar dan word
jý ten minste vry.
Mat 18:21-22
Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer
moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs
sewe keer?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie
maar selfs sewentig maal sewe keer." ~ Willem Botha, 27/10/2022 |
|
Ek verkneukel my daarin dat die Bybel baie keer
net mooi die teenoorgestelde sê van wat vir die wêreld reg en
belangrik lyk. Soos bv. wie eerste is, sal laaste wees (Markus
10:31), as jy swak is, is jy sterk (2 Kor. 12:10), die swakste is
eintlik die noodsaaklikste (1 Kor. 12:22), die wysheid van hierdie
wêreld is dwaasheid by God (1 Kor. 3:18-19), wie dink dat hy staan
kan val (1 Kor. 10:12), die hoogmoediges sal verneder word, die
nederiges sal verhoog word (Matt. 23:12), dit wat régtig waardevol
is, is verniet (Op 22:17), antwoord ’n vloek met ’n seën (Luk.
6:28), koop sonder geld (Jes. 55:1), jy kan lewe al het jy gesterf (Joh
11:25), om te gee is lekkerder as om te ontvang (Hand 20:35), wat jy
nie kan sien nie, is belangriker as wat jy kan sien (2 Kor. 4:18),
wat onmoontlik is, is moontlik (Mark 10:27). Dis darem maar lekker
om in Jesus se span te wees! ~ Wilna Botha, 25/10/2022 |
|
Ek word so moedeloos daarvoor dat sommige mense
(ja ek en jy) so blameer word vir die toestand waarin die land is.
Ek is so moeg daarvoor dat ek sien my swaarverdiende geld word tot
op die been belas, maar dan beland daardie geld in 'n enorme put van
korrupsie. Ek is raadop as ek besef dat daar net nooit weer
vooruitgang sal wees nie en ek weet nie hoe mense meer kinders hier
kan grootmaak nie. En dan is alles ou Jan se skuld, Jan van 1652, en
ons almal word Janne in die proses.
Nou ja, hierdie som my gedagtes op in tye wat ek magteloos en
verbitterd voel.
Maar daar is ander tye ook, en dis tye wat ek die ander kant ook
raaksien, sonder om te probeer ontken dat bogenoemde goed waar is,
want dit is eenvoudig 'n feit.
Kyk nou net wat het ek pas reggekry: ek het óók blameer, en ek wys
óók vinger, en ek laat óók toe dat dinge my hande wil slap maak.
Maar ek besef dat ek ook self die argitek van my eie hooploosheid
is, want ek wil eers hê die verlede moet weer 'n draai kom maak voor
ek alles in my vermoë doen om die berg sneeu voor my eie voordeur
weg te skoffel. Die mense wat in sak en as verval, is juis die mense
wat kies om in sak en as te gaan sít. My voorouers was onbeskryflik
arm, en hulle was letterlik armblankes gewees, maar in enkele
geslagte het hulle met vasbyt, geloof in God, uiters harde werk en
tonne deursettingsvermoë die mas opgekom. Hulle het nie die Engelse
blameer nie, hulle het nie die regering van die dag blameer nie, en
hulle het nooit opgehou om vorentoe te beur nie. Sommer kaalpoot oor
die Drakensberge gekom. Daar was absoluut niks waarop hulle eers
gewag het nie, hulle het net voortgebeur.
En hier lê die kruks van alles vir my vandag. Hoekom wil ek wag voor
ek hande uit die moue steek? Hoekom moet die regering en die
ekonomie eers in plek kom? Hoekom sal 'n nuwe, eerlike, etiese
goewerment (soos die ou mense gesê het) ons uit hierdie ellende
verlos? Dít kan ek jou waarborg, gaan nie gebeur nie. Maar...
skoffel daai sneeu voor jou eie deur, doen die regte ding en kyk na
die Here en nie na die mense wat verdorwe geraak het nie. Is die
Here nie die een wat die Israeliete deur die woestyn gelei het nie?
Is Hy nie die een wat nog altyd die droogtes gebreek het nie? Is dit
nie Hy wat deur die hele geskiedenis van die mensdom, weer sy mense
opgerig het nie? Is sy Woord nie vol beloftes en aanmoediging nie?
Waarna kyk ek en jy? Wat sien ons raak? Waarop vestig ons ons hoop?
Elke mens wat in hierdie wêreld uit sak en as opgestaan het, het dit
reggekry deur harde werk. Daar is geen ander uitweg nie. Die vraag
is net: waarna kyk jy? Waarop fokus jy? Waarvoor wag jy?
"Moenie heeltyd die wind dophou en na die wolke opkyk nie, want die
reën sal op sy bepaalde tyd kom. Werk liewer voluit voort." (Pred.
11:4 DB)
En as ander nie dít doen wat gedoen moet word nie, doen dit self! ~
Willem Botha, 24/10/2022 |
|
* Het die grootbaas nie dalk vir my 'n stukkie
brood nie?
* Master, hoe lyk dit met 'n paar randjies man, 'n man is honger.
* Net daai R10 in jou beursie, of 'n werkie meneer, daar is twee
honger kinders by die huis. God bless.
* Meneer help asseblief, ek moes werk hier af in die straat by Mnr.
Poggenpoel doen maar hy is uitstedig, kan meneer my nie help met net
so R37 om by die huis te kom nie meneer, dit raak donker meneer. Ek
bring more terug meneer, ek sweer meneer. Die Here hoor my meneer.
* Here, my finansies lyk bietjie sleg die maand en die Mercedes se
paaiement moet af, ek vertrou op U vir uitkoms. Wil U nie asseblief
vir my 'n wonderwerk laat gebeur nie? (Maar die sigarette en bier
word eerste gekoop).
* Vriend, bid asseblief vir my, die besigheid is stil en die huis
(reuse 5 slaapkamer huis in 'n peperduur estate) moet betaal word,
asook die drie kinders se fooie in die privaatskool. (Hierdie
persoon het dit vir my gevra, terwyl my huis 20% van sy huis se
waarde het).
* Here, help asseblief met finansies, ek het vir vroulief 'n oorsese
vakansie belowe (nog 'n ware verhaal).
* Here, ek hou aan U beloftes vas dat U vir my goeie opbrengs op my
tiende sal gee, want ek weet U haat armoede. Die Here se kinders is
mos nie arm nie Here. (Nog 'n ware verhaal.)
"Iemand wat altyd meer en meer wil hê, ken net twee woorde: gee,
gee." Spr. 30:15 Die Boodskap)
And then we pray out of greed, and not need... ~ Willem Botha,
19/10/2022 |
|
“You are safe in the care of the Lord your God,
secure in His treasure pouch.” (1 Sam. 25:29) Hierdie woorde was vir
Koning Dawid gesê, maar as kind van God vat ek dit vandag vir my
persoonlik. Ek herinner myself weer daaraan dat Hy vir my sorg, dat
Hy my veilig hou en dat ek die waarborg het dat ek vasgemaak is aan
Hom, dat ek kosbaar en belangrik is vir Hom, dat alles ten goede sal
meewerk. Daar in sy treasure pouch is ook alles wat ek nodig mag hê
vir vandag en môre: al my lewensmiddele, wysheid en kennis,
lewenskrag en moed, gesondheid en toekomsvisie. Daar word my
moedeloosheid opgelig, kry ek raad, gaan die lig weer aan en maak
alles weer sin. Daar kan ek onbekommerd, veilig, gerus en tevrede
wees. ~ Wilna Botha, 18/10/2022 |
|
Hoekom op
aarde kyk ek na die nuus? Hoekom op aarde lees ek enige vorm van
nuusberigte? Is ek simpel?
Soms voel my gemoed soos 'n klimtol ('n yo-yo vir die wat nie weet
nie), vernaam na 'n Sondag. Jy gaan kerk toe, of lees die Bybel en
sien die wonderlike beloftes van die Here raak. Dan rol jy dit soos
'n toffie in jou mond rond en daardie klimtol het opgeklim tot bo,
maar die oomblik wat jy jouself aan enige vorm van media blootstel,
val daardie klimtol in sekondes tot onder en jou gemoed is in die
grond in.
Dit lyk of daar konstant 'n toutrekkery is tussen God se beloftes,
en die negatiewe dinge van die wêreld. Ons weet tog dat God se
beloftes altyd bly staan, en dat Hy nooit verander nie, maar tog
skree die wêreld so hard dat dit die Here se stem totaal verdoof. Ek
lees hierdie sinnetjie in die Boodskap raak.
Dit kom uit Rom 3:4 "God hou altyd sy woord. Hy bly lojaal selfs al
lieg en bedrieg almal op aarde."
Sjoe, stel jouself aan media (radio, nuus, TV, Facebook, koerante)
bloot, en die leuens stroom soos riviere uit almal se monde. Dan
begin die toutrekkery tussen die soete beloftes van die Here en die
bose geraas en blaas van die wêreld. Terloops, sou jy geweet het dit
gaan sleg as jy dit nie in die media lees nie?
Die Here sê in Jer. 29: 11 "Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die
Here: voorspoed en nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n
verwagting!" Die wêreld sê: alles is hopeloos en hooploos, ons is op
pad om soos Zimbabwe te word. Dan val daai klimtol soos 'n klip.
Besef jy hoe groot die monster van depressie is? Is dit nie dalk
deels omdat ons ons te veel steur aan die leuens van die leuenaars
nie? Moet ons nie dalk eerder net onsself voer met hoop wat uit God
se Woord kom nie?
Ek wil vandag kies vir wie ek glo, en ek weet wat my keuse is. Ek
staan by die Woord van God!
Jos. 24:15 " Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” ~
Willem Botha, 17/10/2022 |
|
Ek
het vanoggend in en om en deur Pretoria stad gery en het my só
verwonder aan die pers strate. Elke straat se Jakarandas wil meer en
mooier en perser wees as die volgende een. Het jy al bietjie om jou
rondgekyk die afgelope paar weke en raakgesien hoedat alles groener,
mooier en helderder word? ... en tot nou toe het dit alles hier in
ons omgewing gebeur sonder water, sonder bemesting, sonder spesiale
aandag. Dit het gebeur nét omdat God ’n tyd vir alles bepaal het,
nét omdat somer en winter die werk van Sy hand is, nét omdat Hy
seisoene geskep het. “U wat al die seisoene van die aarde vasgestel
het; somer en winter is die werk van u hand.” (Ps. 74:17) Ons beleef
in die huidige seisoen hoedat die Here alles in die natuur nuut maak
en ek besef maar net Hy doen dít ook voortdurend in ons lewens. Wat
eers dood en donker, grys en vaal was maak Hy nuut en vars. Wat eers
verlore was, vul Hy met nuwe hoop. Wat eers vuil en lelik was, maak
Hy mooi en aanvaarbaar. Wat eers vol sonde was, maak Hy skoon en
heel. “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is
verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.” (2 Kor.
5:17) Mag Oktobermaand in jou lewe aanbreek en mag jy die werk van
God in jou lewe ervaar!
“Dit is die maand Oktober! Ek dink die mense vier
vir ewig in die hemel Oktobermaand soos hier!
Wat wens jy meer as blomme, as helder dag en nag?
Wat kan jy beter, mooier of heerliker verwag?
Wat kan jy beter, mooier of heerliker verwag?
Wat gee ek om die winter? Wat praat jy nou van Mei?
Wat skeel dit as ons later weer donker dae kry?
Ek is nou in Oktober, die mooiste, mooiste maand,
met elke dag so helder, so pragtig elke aand!
Met elke dag so helder, so pragtig elke aand!” ~ C. Louis Leipoldt
~ Wilna Botha,
13/10/2022 |
|
As jy jou nie meer kan verwonder aan die mooi
van 'n bloedrooi dagbreek nie, dan is jy 'n arm mens.
As jy jou nie meer kan verwonder aan die magtige krag van branders
wat oor reuse rotse breek nie, het jy totaal afgestomp geraak vir
die krag en skoonheid van die natuur.
As jy jou nie meer kan verwonder aan reëndruppels wat sag op 'n
sinkdak uitsak, en die reuk van nat grond diep inteug nie, mis jy
uit op spesiale oomblikke in die lewe.
As jy jou nie meer kan verwonder aan klein kindertjies wat jil en
gil en uitbundig lag en speel nie, het jou ore doof geword vir die
mooi van die lewe.
As jy jou nie meer kan verwonder aan die eerste huilgeluid van 'n
pasgebore baba, en die wonderwerk dat hy onmiddellik soek na sy ma
se bors nie, het die lewe by jou verbygegaan.
As jy jou nie meer kan verwonder en verlustig aan voëls se vrolike
gekwetter soggens in jou tuin nie, is 'n kosbare deel van die dag
vir jou verlore.
As jy jou nie meer kan verwonder aan die goedheid en omgee van
SOVEEL mense in jou lewenssfeer nie, is jy dalk 'n bitter eensame
mens.
As jy jou nie meer kan verwonder aan die prag van soveel plekke in
ons land nie, is daar vir jou net bitterheid, kritiek en swaarkry
oor.
As jy jou nie meer kan verwonder aan God se stem wanneer dit
uiteindelik deurbreek nadat jy dalk lank gewag het vir antwoorde nie,
gaan jou lewenspad ondraaglik wees.
As jy jou nie meer kan verwonder aan God se Woord, wat mens so
dikwels verras met 'n teks wat totaal nuut geword het nie, is daar
nie veel wat jou nog hoop kan gee nie.
As jy jou nie meer kan verwonder aan die genade van God, wanneer jy
besef dat jy verlore sonder Hom is nie, het Jesus se kruisdood vir
jou sinneloos geword.
As jy jou nie meer kan verwonder daaraan dat 'n gebed verhoor is
waarop jy dalk opgegee het nie, verstaan jy nie God se trou nie.
As jy jou nie meer kan verwonder daaraan dat dit soms voel of jy
letterlik op sy skoot sit nie, mis jy uit op dié vrede wat alle
verstand te bowe gaan.
As jy jou nie meer kan verwonder aan die feit dat Hy vannag oor jou
die wag gaan hou nie, sal jy moet leer om Hom opnuut te vertrou.
As jy jou nie meer kan verwonder aan tye wanneer Hy jou regop gehou
het toe alles om jou ineengestort het nie, het jy té gewoond geraak
aan die hulp en beskerming wat Hy in oorvloed vir jou bied.
As jy jou nie meer kan verwonder daaraan dat Hy jou liefhet asof jy
die enigste wese op aarde is nie, moet jy net weer stil raak en sy
sagte stem hoor wat daardie liefdesverklaring in jou oor fluister.
God, my vriend, is 'n God van wonders! ~ Willem Botha, 12/10/2022 |
|
Voel jy dalk ook gedaan gejaag om deadlines te
haal, suf planne gemaak om die skedules te laat uitwerk, moeg
geskarrel om almal se grille te bevredig? Dis soos Tetris speel en
die blokkies wil nie pas nie en val deur sonder dat jy punte kry! Of
soos om daai borde op die stokke te laat balanseer en dit val die
een na die ander in skerwe. Wel, lees bietjie hier: “Kom julle
alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie” (Mark 6:31). Is
dit nie ’n fantastiese uitnodiging van Jesus nie? Hy weet ons het
nodig om bietjie tot stilstand te kom, bietjie te stop met al die
gejaag, bietjie te sit, bietjie te rus en asem te skep. En waar
beter as by Hóm? Hy sê ook: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en
oorlaai is en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28). Dis as ons gaan
stilsit by Hom, as ons oorgee en terugleun in sy arms, dat ons
regtig verfris en vernuwe word, dat ons weer die “jeugdige krag van
’n arend” kry. Ek het ook hierdie gelees in die Message: “I'll
contemplate his beauty; I'll study at his feet. That's the only
quiet, secure place in a noisy world, the perfect getaway, far from
the buzz of traffic”. (Ps 27:4-5). Hoe gaan jy dit vandag prakties
doen? ~ Wilna Botha, 11/10/2022 |
|
Die heel belangrikste vraag...
As ek vir jou sou vra wat die heel belangrikste vraag is wat die
mensdom in sy geheel kan vra, sal jy seker iets sê soos: Dit hang af...
Hang af van waarmee jy worstel, wat jy al in die lewe vir jouself
uitgemaak het ens. En sou mens kon sê daar is één vraag waaroor ons
kan saamstem as dié belangrikste vraag? Sekerlik nie. Maar dink gou
vir 'n oomblik voordat jy verder lees, wat die heel belangrikste
vraag sou wees wat jy kan vra. Dalk iets soos: Wat is die sin van
die lewe? Hoekom is ons hier? Hoe is die heelal geskep? Hoekom kry
mense so swaar? Gee die Here vir ons om? Hoekom is so baie mense so
boos?
Wel, ek kan maklik 'n paar honderd sulke vrae uitdink. En bykans
geen een sou 'n sinvolle antwoord hê nie. Nadat ek lank en diep
daaroor gedink het, het ek vir myself die heel belangrikste vraag
uitgedink. En dit is: Is daar 'n God? Jy sien, as ek daardie vraag
onomwonde positief kan antwoord, sal dit hordes ander vrae oorbodig
maak. As daar nie 'n God is nie, val ons hele mensdom se bodem uit,
en selfs of biljoene in Hom glo, of nié in Hom glo nie. Vir my is
dit die fondament van my hele lewe, want sonder die feit dat Hy
bestaan, is daar absoluut niks om verder op te bou nie. Dit geld (volgens
my) vir die gelowige sowel as die ongelowige, want selfs al glo jy
nie in Hom nie, is alles wat jy doen leeg en sinneloos as daar nie
'n God is nie.
Maar kom ek vra dan nou 'n volgende vraag: Hoe WÉÉT jy dat Hy
bestaan en leef? Hoe bewys jy dit? Waar is die bewyse wat glad nie
verwerp kan word nie? Wie het Hom al gesien? Jy kan die skepping as
'n bewys voorhou, maar die ongelowige verwerp dit net en sê dat die
heelal, met al sy grootsheid, wonderwerke, lewe, sy geheime en
onbeskryflike skoonheid toevallig ontstaan het. Jy gaan niemand net
sommer so oortuig nie, maar jy wéét tog dat jy wéét dat Hy leef,
want Hy leef in jou. God is Gees, God is liefde, God is alles wat jy
nodig het, maar as jy nie die Gees het nie, is hierdie dinge onsin.
"Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge
van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie
verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word." (1 Kor.
2:14)
Het jy 'n antwoord gereed as iemand jou vra na die hoop wat in jou
leef?
Wat sou jý antwoord as iemand vra of daar regtig 'n God is? Hierdie
vraag gaan oor jou pad kom, een of ander tyd. Kry 'n antwoord gereed.
~ Willem Botha, 10/10/2022 |
|
"Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar
vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak
het." (Ps. 121:1-2)
Hoe wonderlik begin hierdie Psalm nie. Iemand wat soekend is na die
Here, wat weet dat daar net een enkele uitweg is, en dis by God.
Daar waar daar ALTYD uitkoms en vertroosting is, daar waar wonde
gesalf word, waar trooswoorde in jou ore gefluister word en daar
waar jy kan gaan skuil wanneer daar net nie meer ander raad is nie.
Wel, waar anders? As dit nie by God is nie kan dit net by mense wees,
want daar is geen ander plek nie. Maar ons weet tog dat dit soms
juis mense is wat jou na wanhoop toe dryf. Ons kan tog ook nie ons
lot gaan bekla by 'n boom, of 'n beeld van iets nie, want 'n beeld
is tog dood. So jammer dat soveel ander gelowe NIKS en NIEMAND het
wat lewe nie, en dan hulleself tot 'n beeld moet wend. 'n Dooie,
nuttelose beeld!
Maar ons God is 'n lewende God, met 'n oor wat altyd luister, met 'n
hand wat altyd help en wat gretig is om 'n pad saam met jou te stap
deur die mynveld waarin ons soms beland.
Hoe gaan mense sonder God deur die lewe? Is dit nie dán wat mense
hulle heil gaan soek in die verkeerde dinge soos alkohol nie?
Geseënd is diegene wat weet dat God altyd daar is. Ek is heilig
oortuig dat jy wat hier lees, al vele kere daardie helpende hand
ervaar het. Ek glo ELKEEN van ons het 'n getuienis daarvan, en as ek
jou sou vra om dit te deel, sal ons die internet by wyse van spreke
kraak. Kom ons onthou dit dan as ons bekommerd is of moeilikheid het.
Hy het jou mos al voorheen gehelp, en Hy sal dit elke keer weer doen.
~ Willem Botha, 07/10/2022 |
|
Ek hou baie daarvan om Sudoku’s te doen en ek
verkies dat hulle lekker moeilik moet wees! Baie keer dan dink ek om
’n Sudoku op te los is soos om deur die lewe te gaan. Jy krap kop,
dink dié kant toe en dáárdie kant toe, oorweeg al die moontlikhede
en heel dikwels, net voordat jy moed opgee en dink dinge gaan nie
uitwerk nie, kom één dingetjie reg en al die res val in plek en
skielik werk alles uit. Ander kere maak mens miskien ’n ou foutjie
en is jy gereed om handdoek in te gooi, ’n streep deur alles te
trek; as jy egter so ’n paar stappe agteruitgaan en hier en daar
ietsie uitvee en oordoen, behaal jy tog uiteindelik sukses.... selfs
al moet mens by geleentheid álles uitvee en oor begin. Dit gebeur
soms dat mens regtig vas is en geen oplossing meer sien nie en dan
loer jy agterin die boekie by die antwoorde om ’n wenk te kry – in
Sudoku is dit ’n skande, maar in die lewe is dit wysheid om raad en
hulp in te win wanneer jy voel jy is teen ’n muur en jy weet nie
meer watter kant toe nie. Moenie moed opgee met die lewe nie, die
lig sál weer deurbreek, al lyk dinge hoe donker. ~ Wilna Botha,
04/10/2022 |
|
Uit die bloute kom maak 'n virus sy opwagting;
onverwags, ongevraagd, ongenooid en totaal buite ons
verwysingsraamwerk van watse "curve balls" die lewe vir ons kan gooi.
Die wêreld kom tot stilstand, mense neem hulle eie lewens en dit lyk
of die tonnel wat veronderstel is om 'n lig te hê in die verte,
totaal ineenstort.
En woeps, weg is hy weer! Onverwags, totaal buite wat ons gedink het
verdwyn die virus, en die lewe keer terug na normaal. En ons dank
die Here, en ons sê Hy was daar en Hy was aan die werk, en Hy het
ons gered. En Hy het inderdaad. Ons het gevra: Waar is die Here?
Maar Hy was daar, steeds op sy troon.
En skielik, uit die bloute, kom 'n siek staatshoof en verklaar
oorlog en werp sy eie mense in 'n dieper gat as die virus. En dit
beïnvloed ons almal op 'n manier. En miljoene mense vra: Waar is die
Here? Hoekom?
En ek kyk om my rond en ek soek ook antwoorde by die Here oor ons
eie situasie, want die situasie in ons land is beroerd! Ons sukkel
met krag, ons sien hoe "gangsters" net meer en meer wil roof en
steel, en absoluut niks voel vir hulle eie mense wie se klein
kindertjies letterlik sterf van die honger nie. Waar is U Here?
Hoekom straf U hulle nie? Hoekom sien ons so min van "Ek weet wat ek
vir julle beplan, voorspoed en nie teenspoed nie"? Waar is U Here?
Ek sien hoe ons leeg gesuig word met belastings, ek sien hoe ons vir
skuim afgemaak word en nie meer hier hoort nie. So sê "hulle". Ek
sien die verraad wat daagliks om ons afspeel en ek voel magteloos.
Waar is U Here?
Ek voel effe beswaard, soos ou Genis van Koöperasiestories van ouds,
en ek het nou tot hier geskryf en ek draai nou vas. Wat wil jy nou
verder lees? Ek weet nie wat om volgende te skryf nie, regtig nie.
Dink jy ek het 'n antwoord? Nee, ek het nie, want selfs as ek dink
aan Dawid wat na Goliat toe aangestap kom moes hy seker ongelooflik
bang gewees het, maar hy oorwin die reus. Dit gee my net hoop omdat
ons die uiteinde van die verhaal ken, maar ek ken nie ons uiteinde
nie.
Hoe wonderlik sou dit nie wees as die Here net al die hindernisse
uit die weg ruim nie? Ons lees dan in die Woord dat Hy die regering
aanstel en ons hulle moet eerbiedig, maar ek kán eenvoudig nie. Waar
is U Here? Ek lees hierdie volgende woorde wat Job uitspreek, en ek
besef ons almal voel dalk so.
"As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek na sy woonplek
toe gaan en my saak voor Hom lê, my pleidooie aan Hom stel. Ek sou
van Hom antwoord probeer kry, probeer verstaan wat Hy vir my wil sê.”
(Job 23:3-5)
Teen al Job se vriende se raad in, het Job by God gebly, en so sal
ek en jy by God bly. By wie anders? Probeer om Godloos voort te
ploeter? Nee!
Waar is U Here? Op sy troon, steeds op sy troon, en steeds regeer Hy.
En omdat ons dit glo, sal ons die son wat more weer opnuut skyn,
waardeer. So ook diep teue suurstof inasem wat Hy gratis verskaf. En
ons sal voortbeur. Saam met die Here. ~ Willem Botha, 02/10/2022 |
|
Wat het ons
oor U gesê? Julle het gesê: “Dit is nutteloos om God te dien” (Maleagi
3:13-14)
Het ons oor die Here gepraat vandag, gister, verlede week? Wat het
ons oor Hom gesê? Het ons ook gesê dis nie meer die moeite werd om
Hom te dien nie? Het ons sy bestaan ontken? Het ons gesê Hy is
onregverdig, onmagtig en vêr? Of het ons sy Naam grootgemaak en
geprys? Het ons sy eer verdedig? Het ons vertel van sy goedheid en
sy liefde? Het ons erken en bely dat Hy waarlik God is en in beheer
van alles? Sê vandag iéts. Sê iets soos:
“Ek glo vas
dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld
toe moes kom” (Joh. 11:27). Sê iets soos: “Die Here
is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek
skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.”( Ps. 18:3)
~ Wilna Botha, 29/09/2022 |
|
'n Persoon vertel my dat sy vrou dikwels vir
hom vertel dat alles wat hy aanpak faal, en dat hy maar altyd sal
sukkel. Nog 'n persoon vertel vir my dat hy ook konstant daardie
negatiewe terugvoer kry van sy huweliksmaat, en dié sê vir hom
gereeld dat niks wat hy wil probeer en aanpak, gaan werk nie, en
niks hét nog ooit gewerk nie. En dan het sy al bygevoeg: sus en so
het dieselfde probeer en dit het misluk, jy moet liewer los. Het 'n
onderwyser ook al vir jou vertel dat jy nêrens gaan kom in die lewe
nie? Of selfs 'n ouer. 'n Dosent op Technikon het dikwels vir ons
gesê: Menere (hy het erg gebrei), julle is sleg en op pad nêrens
heen nie! Natuurlik word dit in die werkplek ook 'n nuwe nasionale
sport en afbrekende woorde word gebruik om jou kwansuis "op jou plek
te hou", soos 'n slaaf. Nee wat, jy verdien beter, probeer eerder
wegbreek uit so 'n plek uit.
Genade, hoekom breek mense mekaar so af? Dikwels het dié mense wat
hierdie boggel van self-vertwyfeling op ander plak, self nie juis
uitgestyg nie. G'n wonder dat soveel mense sukkel met 'n slegte
selfbeeld nie. Ek hoop nie ek en jy verwoes ons kinders se drome en
ideale met dieselfde negatiewe woorde nie.
Nou ja, die ou duiwel doen natuurlik presies dieselfde deur jou te
vertel dat jy net eenvoudig nie goed genoeg is vir die Here en die
hemel nie. Bid jou dit aan, so asof hý dit regkry. Hý wat aan die
kruis verslaan is, hý wat uit die hemel gewerp is soos 'n vrot vel,
hý wat die aakligste wese denkbaar geword het.
Nee, hou op om al hierdie nonsens te glo, want mens word eventueel
dít wat jy jouself kort-kort van jouself vertel.
"Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal
jou hele lewe." (Spr. 4:23)
Niemand anders as die Here se opinie tel nie, NIEMAND nie! Ek het
hierdie volgende teks al só baie gebruik en ek doen dit weer. Dalk
ken jy dit woord vir woord, maar net dalk het jy nodig om die nóú
weer te hoor. Lees dit, en glo dit!
" Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol
vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig
oor jou" (Sef. 3:17) ~ Willem Botha, 28/09/2022 |
|
Al daai fieterjasies
Ons as Christene moet regtig daagliks bid vir goeie
onderskeidingsvermoë, want met sosiale media, asook hordes ander
platforms, word ons gebombardeer met sogenaamde "kennis", of ander
se "waarhede" wat hulle bonatuurlik ontdek het, en dan ook gebruike
wat hulle beoefen. Iemand skakel onlangs vir Wilna en is in trane
omdat 'n persoon hamer op dinge wat dié persoon vreeslik laat twyfel
in haarself en haar geloof.
Mense hou nou maar eenmaal van goetertjies, goetertjies op die
kaggel, goetertjies in 'n glaskas in die sitkamer en goetertjies op
vensterbanke. Tot 'n grasperk op die dashboard in die ou dae. En
ongelukkig hou mense ook van goetertjies in hulle geloofslewe.
Nuttelose uiterlike dinge wat dikwels gedoen word om ander te
beïndruk en om hulle geloofslewe (of sal ek dit eerder godsdiens
noem), ten toon te stel. In Fil 3:1-6 waarsku Paulus vir die mense
in Fillipi teen dit en noem hierdie aanstigters dwaalleraars wat net
loop en kwaad stig. Ek lei af dat die gemeentelede na hierdie mense
toe gestroom het om ook aan hierdie dinge blootgestel te word, en
Paulus noem dan ook hierdie betekenislose besnydenis by die naam.
Dan sê hy in vers 4: "Tog sou ek ook op hierdie uiterlike dinge kon
vertrou. As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek
nog meer". Dan vertel hy van sy besnydenis, sy herkoms, sy opleiding
in die wet, en selfs dat hy die kerk vervolg het.
Ons moet regtig baie versigtig wees waaraan ons onsself blootstel,
want nie almal wat geestelik voorkom, of klink na kundiges, of so
openlik roem op hulle kennis van God, is regtig waardig om na te
volg nie. Paulus noem hulle prontuit dwaalleraars en kwaadstigters.
En weet jy, die aarde wemel van hulle!
Luister na hierdie stukkie wysheid van Paulus in vers 3: "Ons het
die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op
Jesus Christus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie".
Dis eenvoudig, daar is nie plek vir Jesus én die "aanbidding" van
die nuttelose uiterlike dinge in ons lewens nie.
Dis nie Jesus EN nie. Hierdie is dikwels dinge wat mense eerder van
die Here af wegstoot as nader trek. En as ons twyfel oor hierdie
goed, kan ons dikwels net by Jesus se voete gaan sit, stil raak en
dan hoor ons dalk net sy stem. ~ Willem Botha, 27/09/2022 |
|
Don't worry, beeeeee happyyyyyyy!
Jy onthou die liedjie van Bobby McFerrin, dit was 'n groot treffer
in 1988. En nee, dis 'n mite dat hy selfmoord gepleeg het, hy is 72
en woon in Amerika.
Vergewe maar die klomp Engelse woorde, dit gaan nie lekker klink in
Afrikaans nie.
Daar is nie kinders van 3, 4, 5 jaar oud wat unhappy is nie, gaan
kyk selfs in die townships, almal hop, skip en jump, skop klippe en
lag uitbundig. Maar hoeveel jong tieners het net 10 jaar later hulle
happiness verloor. What went wong? En waar is die eens vrolike
seuntjie van weleer wat op 50 sy eie lewe neem? En o koek, het
hierdie regeerders van ons land nie die vermoë om die laaste
krieseltjie happiness uit ons uit te tap nie!
Is jy happy by die werk? Wat van in jou huwelik? Wat van happy met
jouself? Is dit nie verskriklik hoe ouers hulle kinders se happiness
verwoes deur ondraaglike druk nie? Druk in sport, druk in prestasies,
druk om die beste in alles te wees! Ja jy moet presteer in sekere
goed, maar binne perke. Wees eerstens happy!
Dis nie al nie, die wêreld hou 'n model voor wat vir jou ongekende
vreugde en happiness belowe as jy die mooiste en maerste is, die
rykste is, en die pragtigste motor en grootste huis besit.
Wat 'n klomp twak, dis waar jy die mees ongelukkige stress-bolle kry.
Nee wat, vind jou vreugde in die Here, wees dankbaar vir gratis
suurstof, 'n mooi sonsondergang, 'n vreemdeling se mooi glimlag en
wees sommer net happy oor klein dingetjies. En ook groot dinge, soos
gesondheid, jou kinders (ja ook dié wat nie op skool presteer het
nie) en jou huweliksmaat. En het jy al gesien watse pragtige
kleinkinders daai skoonseun of skoondogter van wie jy nie eintlik
hou nie, vir jou gegee het?
Nee wat, word liewer happy oud, as ryk oud. Trek liewer ander happy
mense na jou toe aan, en geniet die lewe. En maak ander happy. Help
nie om elke dag om te stress nie.
Don't worry, be happy! ~ Willem Botha, 22/09/2022 |
|
“Een van dié wat saam aan tafel was, het dit
gehoor en vir Hom gesê: Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in
die koninkryk van God kan deelneem.” (Luk. 14:15) Jesus was aan huis
van ’n vooraanstaande Fariseër om daar te gaan eet. Êrens deur die
loop van die kuier, sê iemand wat saam aan tafel was: Gelukkig is
die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem.
Ek wonder of dit een van die Fariseërs was? Het hy besef dat daar
eendag ’n groot feesmaal vir al die volke sal wees met die beste om
te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn, ’n feesmaal waar die
Here die dood vir ewig vernietig en die trane op almal se gesigte
afvee? (Jes. 25:6,8) Het hy verlang daarna om een van dié gelukkiges
te wees? Kon hy weet dat hy dalk een van dié sou wees wat te laat
sou besef dat hy net ’n toeskouer by dié feesmaal sou wees, terwyl
God se kinders daar met hartlikheid, goedheid en liefde oorlaai sou
word? (Ps. 23:5-6) Of was dit dalk een van die dissipels wat dit
gevra het? Iemand wat later aan die Paas-tafel saam met Jesus sou
wees en die aand voor sy kruisiging sou hoor: Neem, eet; dis is my
liggaam. Drink almal uit die beker want dit is my bloed wat vir baie
vergiet word tot vergewing van sondes. “Ek sê vir julle: Van nou af
sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek
saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal
drink.” (Matt. 26:29) Of was dit een van Jesus se volgelinge wat dit
gevra hê? Iemand wat na die bruilofsmaal van Lam genooi is, iemand
wat die uitnodiging aanvaar het, iemand wat alreeds kon uitsien om
met witgewaste, fyn, helder blink klere deel te neem aan die maaltyd
in die koninkryk van God? (Op 19:8-9) Gelukkig is die een ...! ~
Wilna Botha, 20/09/2022 |
|
Het die Here jou al verbaas? Het Hy al dinge
gedoen, of jou verras met iets, of iets toegelaat wat jy nie kon glo
dat Hy dit sou doen nie? Ek glo daar was by jou ook al negatiewe,
sowel as positiewe dinge wat in jou lewe gebeur het, wat jou totaal
onkant gevang het. 'n Deur wat toegaan, wat jou geskok laat, net om
weer 'n deur te sien oopgaan wat jou verras.
Moenie verbaas wees nie...
Dinge is nie altyd so voorspelbaar soos wat jy dink nie, en die Here
is ook nie.
In hierdie volgende teks is Jesus in gesprek met Nikodemus en
Nikodemus sukkel om die gedagte van wedergeboorte te snap.
"Jesus het geantwoord: Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water
en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie.
Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is,
is gees. Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet
opnuut gebore word nie. Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid,
maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So
gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Joh. 3:5-8)
Moenie verbaas wees nie Nikodemus, hierdie is ernstige goed.
Mense raak deesdae so maklik afvallig, en draai weg van God af, en
raak by die dag meer arrogant, want wedergeboorte is mos sommer net
'n storie. Sommiges tart Hom en beledig Hom, dan sê ek graag vir
hulle, moenie verbaas wees nie.
Moenie verbaas wees as jy by die hemelpoorte kom en Hy sê: Ek ken
jou nie. Moenie verbaas wees as die Here onaangename dinge doen, of
toelaat, om jou aandag te kry nie. Moenie verbaas wees as Hy jou met
'n Lig tref soos vir Paulus nie, dalk op die mees onverwagte plek of
tyd. Moenie verbaas wees as Hy trauma gebruik om jou nader aan Hom
te kry nie. Moenie verbaas wees as dit lyk of die lig in die tonnel
heeltemal verdwyn het, en dit net stikdonker is nie.
Soveel vir die moeilike goed.
Maar, moenie verbaas wees as die Here ewe skielik 'n gebed verhoor,
waarvoor jy al lankal ophou bid het nie. Moenie verbaas wees as die
Here jou op 'n bonatuurlike manier gebruik, sonder dat jy ooit vir
die taak aangemeld het nie. Moenie verbaas wees as Hy jou gebruik om
iemand anders se oë oop te kry, terwyl jy gevoel het jy is nie
opgewasse vir so 'n taak nie.
Moenie verbaas wees as Hy skielik aan jou verskyn op 'n bonatuurlike
manier, sonder dat jy gedink het Hy gee soveel vir jou om nie.
Moenie verbaas wees as 'n deur oopgaan, wat jy net glad nie meer kon
roer nie, en wat lyk of hy in sy raam vasgeroes was. Moenie verbaas
wees as die Here jou selfs op materiële gebied seën en jou probleme
in 'n oogwink laat verdwyn nie. Moenie verbaas wees as Hy dinge in
jou skoot laat val waarvoor jy nie eers gebid het nie.
Moenie verbaas wees as Hy met 'n hoorbare stem met jou praat, terwyl
jy dink jy nog nooit sy stem gehoor het nie. Moenie verbaas wees as
jy eendag die volle omvang van sy liefde ervaar, terwyl jy gedink
het Hy kan jou nooit liefhê oor hoe sleg jy in jou eie oë is nie.
Moenie verbaas wees as jy die dag besef dat jy só spesiaal is, dat
Hy sy Seun vir jou laat sterf het nie.
Moenie verbaas wees nie... ~ Willem Botha, 19/09/2022 |
|
Een of ander
wysneus sê eendag: "Die lewe is soos 'n toiletrolletjie, hoe nader
aan die einde, hoe vinniger loop hy af."
Is daar 'n positiewe manier om na ouderdom te kyk? Wel, vir seker,
hang net af van mens se gesindheid.
In Prediker 12 word die proses van oudword beskryf, maar daar kom
baie goeie raad in hoofstuk 11.
"Hoe mooi is lig nie, en hoe lekker die strale van die son. As
iemand lank leef en oud word moet hy die lewe geniet. Hy moet egter
ook aan die dood dink en onthou dat die tyd ná die dood lank gaan
duur. Alles is sinloos. Daar is niks om na uit te sien nie. Jongmens,
geniet daarom jou lewe en wees altyd gelukkig. Gaan oral waar jou
hart en jou oë jou lei. Leef altyd voluit. Doen waarvan jy hou. Maar
onthou, God sal jou nog oordeel. Jy sal aan Hom rekenskap moet gee
van alles wat jy doen. Jongmens, verban alle verdriet en pyn uit jou
hart, 'n mens is nie vir altyd jonk nie." (Pred. 11:7-10)
Is dit nie waar nie? Ek hou baie van die woorde: "... verban alle
verdriet en pyn uit jou hart." Ja natuurlik sal daar verdriet en pyn
kom wat nie deur jou eie toedoen is nie, maar soms tob ons te veel
oor onnodige dinge.
Ouer word help mens om verby 'n klomp nuttelose dinge te kyk.
Ek veg teen dinge wat in my kop kom nes skrop soos 'n plakker wat
nie huur betaal nie. Mense se negatiewe opinies raak al hoe minder
belangrik. Die mooiste en grootse huis in die buurt beteken niks
meer nie. Om dinge te vergader wat mooier is as die "Jones's next
door" se goed, het geen waarde meer nie. Inteendeel, dit staan in
die pad. Daar is nou meer tyd (en dalk selfs 'n paar rand) as ooit
tevore om lekker goedjies te doen, en ons doen dit. 'n Lekker
eetdingetjie op sy tyd gaan my nie nou gouer doodmaak as wat die
ouderdom in elk geval gaan doen nie. En die rotresies? Nee wat, ek
het besef ek is g'n rot nie, en ons leef volgens die teks wat sê: "Woon
en werk rustig voort". So is daar vele dinge wat net nie meer
dieselfde waarde het as wat dit vroeër gehad het nie.
Soveel vir die aardse goed. Op Geestelike vlak hardloop ons nie meer
agter "nuwe" strominge aan nie en staan vas gewortel in ons geloof.
Op ons ouderdom word ons nie meer deur ander se opinies meegesleur
nie en draf nie meer agter mense met nuwe "insigte" aan nie. Ons
Geestelike lewe is nou op 'n rustige, standvastige vlak.
Hoe lyk die toekoms? Mens kies self of die pad voor jou toemaak of
oopmaak. Vandag is die dag wat jy die oudste is as wat jy nog ooit
was, en die jongste van wat voor jou lê. Dit help nie om te leef in
die toekoms nie, leef nou.
Elke dag se kersie word aan die einde van die dag doodgeblaas, en
net die Here weet hoeveel is oor. Ek het geen begeerte om daardie
kennis te hê nie.
Soos iemand tereg gesê het: "Yesterday is history, tomorrow is a
mystery, but today is a blessing."
Mag die Here jou seën met vele "today's". ~ Willem Botha, 14/09/2022 |
|
“Let op! Ek staan by die deur en klop. As
iemand hoor hoe Ek roep en die deur vir My kom oopmaak, sal Ek
instap na hulle toe. Ek sal saam met hulle kom eet. Hulle sal
feesvier saam met My.” (Op 3:20, Die Nuwe Nuwe Testament) Kyk, dis
Jesus Christus, die Seun van God, die Redder, die Verlosser, die
Vredevors wat buite staan. Hy klop. Hy wag om ingenooi te word om
saam met jou te kom eet. Hy wil jou gewone, louwarm lewe in ’n
feesviering kom omskep. Ek het eintlik nog altyd gedink hierdie teks
is van toepassing op daai heel eerste keer toe ek Jesus se klop en
sy roep gehoor het en my hart se deur vir Hom oopgemaak het en Hom
ingenooi het in my lewe. Maar vandag toe sien ek hierdie teks staan
in die gedeelte waar die gemeente van Laodisea aangespreek word oor
hulle louwarm Christenskap. Hulle is verwaand en selfvoldaan. Hulle
dink hulle het niemand en Niemand nodig nie. Hulle sê: “Ons is ryk,
skatryk en ons het niks meer nodig nie.” (Op 3:17), maar intussen is
hulle geestelik brandarm en bankrot, geestelik kaal en verlore,
louwarm. En dis húlle wat moet kyk na die Een wat by die deur staan
klop. Dis húlle wat moet hoor dat Hy roep. Dis húlle wat moet
besluit of hulle oopmaak en of hulle doof bly vir sy klop. Dis húlle
wat moet besluit of daar plek is vir Jesus aan hulle etenstafel, in
hulle gewone dag tot dag lewe, in elke hoekie van hulle gedagtes en
hart. Dalk is ek of jy vandag dié een wat weer die geklop en geroep
moet hoor in ons louwarm bestaan. Kyk, dis Jesus self wat wil inkom,
wat ’n intieme verhouding met jou wil hê, wat saam met jou ’n
feesmaal wil hou. Dalk voel jy daar is niks aan jou lewenstafel om
vir Hom aan te bied nie. Wees verseker dat Hy alles sal saambring
wat nodig is vir ’n feesmaal, vir ’n lewe van oorwinning. Hy bring
vars genade, Hy sit vergifnis voor, Hy dek die tafel met liefde, Hy
meng vrede en troos in, Hy sit vreugde, blydskap en genot op jou
bord. Mag jy vandag saam met Hom feesvier! ~ Wilna Botha, 13/09/2022 |
|
Spot. Bespot. Jok. Kwaadpraat. Verguis. "Afpraat".
Sarkasme. Nydigheid. Skinder. Verkleineer. Slegsê. Boelie.
Hierdie is enkele dinge wat al vele mense se lewens vernietig het.
Selfmoord, slegte selfbeeld, onsekerheid, mense se gebrek om hulle
volle potensiaal te bereik, mense wat nooit vorentoe kom in die lewe
nie en mense wat in 'n woeste depressie verval, deur woorde wat
gevorm word uit minder as 26 letters van die alfabet. Dolksteke wat
links en regs uitgedeel word. Nie eers te praat van vriendskappe wat
tot niet gaan nie. Hoe hartseer dat lewensmaats mekaar so seermaak
met woorde, of sarkastiese en nydige opmerking’tjies, en hoe kinders
deur ouers so afgebreek word.
"Jou tong is soos ’n vuur wat jou hele lewe laat uitbrand. En die
ergste is dat dit die duiwel is wat die vuur in jou mond kom
aansteek wat jou hele lewe kan vernietig." (Jak. 3:6)
Ai, wanneer sal ons eendag ophou om dit nodig te vind om oor die
tong te praat?
Eers iets positief van die ander kant af. Ons het 'n paar vriende
wat altyd uit hulle pad sal gaan om jou op te lig, te ondersteun,
bly te wees saam met jou vir die kleinste dingetjies en jou te
komplimenteer. Hoe heerlik is sulke geselskap nie! Maar nie almal is
so nie, daar is ongelukkig mense wat dit net nie kan weerstaan om
daardie klein messie uit te pluk en jou met woorde by te kom nie. Ja,
natuurlik is daar iets soos humor en dis heerlik as ons vir mekaar
en vir onsself kan lag, maar sarkasme en nydigheid het geen plek nie.
Ek lees vandag die volgende uitdrukking: "Sarcasm is the lowest form
of wit". Die ergste van hierdie gewoonte om die dolke so listig te
gebruik, is dat dit dikwels saam met 'n laggie, of 'n emoji wat
knipoog, gebruik word om die effek so bietjie te versag. "Dis mos
net 'n grappie jy weet? Hoekom so liggeraak?"
Ek dink die gewoonte om ander mense met woorde by te kom, spruit uit
'n diepliggende jaloesie, en ook 'n gebrek aan selfbeeld. "Kom ek
maak jou sleg, dan lyk ek beter."
Nou ja, ek het vandag baie gekou aan hierdie boodskap, en besef ek
is báie skuldig aan ál hierdie goed, en ek gaan poog om myself elke
dag daaraan te herinner om só te kommunikeer, dat mense opgebou word
uit my woorde, en nie afgebreek word nie.
Ek het genoem dat ons vele vriende het wat uitblink hierin, maar ek
ken Iemand wie se voorbeeld absoluut die moeite werd is om na te
volg. Onthou jy die "What would Jesus do" armbandjies van weleer? ~
Willem Botha, 12/09/2022 |
|
"Ek gaan nie vanaand 'n stukkie skryf nie",
verklaar ek erg rebels voor vroulief. "Hoekom nie?" vra sy. "Sommer
nie, ek is nie lus nie, ek voel nie lekker nie!" Sê ek terwyl ek
sommer lus is om die hond te skop (gelukkig het ons nie 'n hond nie).
"Waar voel jy nie lekker nie?" "Man, sommer in my kop."
Vandag voel ek hoegenaamd nie Christelik nie, definitief nie heilig
soos wat die Bybel beveel nie en sommer net omgesukkel. Hoe op aarde
moet ek nou iets sinvol skryf as ek só voel?
Ef. 4:26 "As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag
kwaad afsluit nie."
En hier lê die wortel van die kwaad (by wyse van spreke) op hierdie
dag. Gefrustreer, woedend, veglustig en net eenvoudig dik vir iemand,
wat nie eers weet ek is vies nie. Soos gesê, my optrede en gevoel
pas nie vandag by 'n Christen nie, want ek besef ek het nie gebid
vir die situasie nie (wat intussen perfek opgelos is), ek het glad
nie gedink aan die miljoen goed waarvoor ek dankbaar is nie, en ek
het toegelaat dat 'n nietigheid my vreugde en vrede steel. Okei, nou
vóél ek nie Christelik nie, maar waar los dit my op hierdie dag? Wel,
Christene gaan ook deur die wêreldse emosies, ons reageer ook
verkeerd, ons sondig as ons kwaad word en ons getuienis vlieg in 'n
oomblik by die agterdeur uit.
Maar, ek weet steeds dat Jesus ons vergewe, ek weer steeds dat ek
myself nie nou in die verderf ingedompel het nie, ek geniet steeds
die wete dat die Here vir my net so lief is as gister en ek weet dat
Hy nie sy aangesig vir ons wegdraai as ons deur 'n slegte dag gaan
nie. Voel ek altyd soos 'n Christen? Hoegenaamd nie, maar gelukkig
is ons redding en verhouding met God nie afhanklik van gevoel nie,
dis gebaseer op wéét, op geloof en op verhouding.
En nou ja toe, nou gaan ek nie die dag kwaad afsluit nie, want dis
sinneloos en mens straf net jouself.
As jy 'n slegte dag agter die rug het, gaan raak maar net weer
rustig by Sy voete.
FIL. 4:7 "En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal
oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus."
Vrede vir jou! ~ Willem Botha, 29/08/2022 |
|
Wie kan sê hulle het nog nooit swaargekry nie,
en nog nooit voor 'n ondeurdringbare muur te staan gekom nie, of nog
nooit deur uiterste smart gegaan nie, en wie was nog nooit doodbang
nie? Diegene wat dit kan sê is in die minderheid.
Ek sien onlangs 'n program op televisie waar gepraat word met 'n
vrou wie se seun tien jaar gelede oorlede is en dit het haar geknak,
en toe sterf haar man boonop aan Covid. Toe die aanbieder vir haar
vra hoe sy daardeur gekom het (en steeds daarmee worstel) het sy
gesê daar is net een manier wat vir haar werk. Sy het gesê dat as
daardie verskriklike smart opnuut 'n draai kom maak, sy "in daardie
pyn ingaan". Sjoe, wat kan dit beteken? Dis om dit nié te ignoreer
nie, en om dit ten spyte van daardie onbeskryflike seer, trompop te
loop. Dit klink amper soos 'n geveg met daardie pyn, totdat jy dit
weereens (al is dit kortstondig) oorwin. Ek sien in my geestesoog
hoe die Here opnuut nader staan en jou in sy hande toevou.
"Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word." (Matt.
5:4)
Het jy al die term gehoor: Facing your giants? Daardie aaklige
bloeddorstige reuse kom staan só dikwels tussen ons en vrede. In die
verhaal van Dawid en Goliat, het Dawid besluit hy gaan eenvoudig
daardie reus trompop móét loop, daar is geen ander manier nie. Dit
help nie jy dans om jou reuse en wag vir ander, of selfs vir die
Here, om hulle plat te kom slaan nie, jy sal net eenvoudig voor
daardie reus móét gaan staan en hom in die gesig kyk, en dan is jy
nié alleen nie, soos in Dawid se geval.
"Verder het Dawid gesê: Die Here, wat my gered het uit die kloue van
die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag
van hierdie Filistyn.” (1Sam.17:37)
Kom ek vertel vir jou iets van storms. Hulle hou nóóit vir ewig aan
nie want 'n storm, of 'n aardbewing of 'n sikloon, bedaar altyd weer.
Jy het al beeldmateriaal gesien waar mense met al hulle krag aan 'n
boom of iets vasklou wanneer daar 'n woeste storm losbars. Dis wat
ons maar net eenvoudig móét doen. Klou met alles wat in jou is vas
aan die Anker, Jesus Christus, totdat daardie storm verby is. Dit
sál weer bedaar! In hierdie volgende gedeelte lees ons van die
dissipels wat saam met Jesus in 'n woeste storm beland, en Hy raak
aan die slaap in die skuit, terwyl hulle doodbang vir hulle lewens
vrees.
"Hulle kom toe en maak Hom wakker en sê: Here, red ons! Ons vergaan!
Hy sê vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowige? Daarna het Hy
opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het
doodstil geword." (Matt. 8:25-26)
En so beland ons ook dikwels in die woestyne van die lewe. Dor, droë,
wrede woestyne wat net lyk of jy nooit deur dit kan kom nie. So het
die Israeliete by die dag van hulle bevryding uit slawerny by die
begin van die woestyn te staan gekom. Daar was net een pad, en dis
vorentoe, in die woestyn in. Hulle was definitief baie bang en
beangs, maar daar was 'n spesifieke dag en datum wat die eerste mens
hulle voete op daardie warm sand moes neersit. Vorentoe, net
vorentoe, vir 40 jaar lank vorentoe, deur bitter swaar, maar
anderkant die woestyn was die belofte land.
“Julle vertrek vandag, op hierdie besondere dag in die maand Abib."
(Eks. 13:4)" En toe stap hulle.
"Face" jou reuse, gaan in daardie pyn en smart van die lewe in, hou
vas met al jou magte en kragte as daardie storms losbars, en sit jou
voete op daardie warm woestynsand en beur vorentoe, áltyd vorentoe,
want jy is nié alleen nie.
En terloops, dis okei om bang te wees. ~ Willem Botha, 24/08/2022 |
|
“As jou vyand honger is, moet jy sorg dat hy
iets te ete kry. As hy dors is, moet jy hom iets gee om te drink. As
jy dit doen, sal jy hom verskriklik skaam maak.” (Rom 12:20, Die
Boodskap) Ai ja, mens kan mos nou verwag om iets só ongewoon in die
Bybel te lees! Wie wil dít nou doen? Die menslike en natuurlike
optrede teen jou honger vyand sal dalk wees om jou te verlekker in
sy situasie, jy kan dalk dink (en sê!): Jy wil mos! Kry nou vir jou!
Ly nou maar lekker honger, jy wou my mos te na kom. Die Here se
verwagting vir sy kinders is egter om téén die natuurlike gevoel op
te tree. Dalk is dit tyd om die strydbyl te begrawe met daai
familielid en hulle uit te nooi vir ’n ete. Dalk is dit tyd om dinge
uit te sorteer met jou moeilike kollega by die werk – dit sal
makliker wees rondom ’n koffie en ’n lekker skon. Dalk is dit tyd om
dinge reg te stel met jou buurman wat jou te nagekom het – bedien
hom met iets om te eet. Ek dink dis moeilik om nog kwaad te bly vir
iemand wat na jou uitreik met ’n bordjie eetgoed, of saam met jou om
’n tafel sit en eet. Wanneer mens sáám eet, ontlok dit gesprekke.
Wanneer mens sáám rondom ’n tafel is, kom daar dalk ’n nuwe
perspektief en ’n nuwe verstaan en medelye met die ander persoon.
Kyk wat sê die teks sal die uiteinde wees: jou vyand sal skaam kry!
Hy sal selfondersoek doen oor sy houding, hy sal vergewensgesind
wees, hy sal sien dat jy hom respekteer ten spyte van sy optrede of
gevoel teenoor jou. Is dit ’n maklike opdrag? Beslis nie. Is dit
moontlik? Ek dink so. Kom ons gaan probeer dit. “Doen van julle kant
af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef. Laat
staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit plas
glad nie by gelowiges nie.” (Rom 12:18-19) ~ Wilna Botha, 23/08/2022 |
|
Vriende van
ons het vanoggend hierdie foto geneem by NG Kerk Nieuwoudtville, en
hierdie gebeure en teks het my net weer aangegryp en diep laat dink.
"Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur
te sê: Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook! Maar
die ander een het hom tereggewys en gesê: Is jy nie bang vir God nie?
Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit
regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar
hierdie man het niks verkeerds gedoen nie. Verder sê hy: Jesus, dink
aan my wanneer U in u koninkryk kom. Jesus antwoord hom: "Ek
verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”(Luk.26:39-43)
Wat 'n kragtige belofte is dit nie! Ek het besef dat Jesus eintlik
sy hele doel op aarde in een sin saamgevat het: "Vandag sal jy saam
met My in die paradys wees." Wanneer daardie dag ook al vir my en
jou aanbreek. Jesus kon inderdaad Homself en hierdie man gered het,
maar Hy het nie. Jesus het nie vir hom 'n nuwe kans op die lewe
aangebied nie, ook nie redding van die straf wat die regstelsel
opgelê het nie, Hy het nie vir hom belowe dat hy sonder pyn aan
daardie kruis sal sterf nie, en ook nie vir troos vir sy
naasbestaandes nie. Net hierdie woorde: "Vandag sal jy saam met My
in die paradys wees."
Kan ons nie maar ook so deur die lewe gaan nie? Nee, ons is so op
die hier en nou gefokus, ons hou so vas aan die "feel good" tekste
in die Bybel. Soos byvoorbeeld: "Ek weet wat ek vir julle beplan,
voorspoed en nie teëspoed nie." Ons herinner mekaar aan die tekste
wat sê: "Julle kry nie want julle vra nie." Daar is soveel van
daardie tekste, en natuurlik is dit van toepassing ook. Maar, as
iemand terminaal siek sou wees, en daar medies nie meer hoop is nie,
is daar geweldig krag in die woorde: "Vandag sal jy saam met My in
die paradys wees." As ons in doodsgevaar verkeer en dit lyk of dit
dalk die einde kan wees, is hierdie baie kragtige woorde: "Vandag
sal jy saam met My in die paradys wees." Ek wonder wat ek sou bid as
ek in daardie misdadiger se posisie sou wees. Sou ek soos die ander
misdadiger bid dat die Here my sou verlos van die kruis? Of sou ek
ook eerder bid vir Saligheid as al die hoop verdwyn het?
Dis glad nie lekker om so aan hierdie dinge te dink nie, want dit
voel of ons ophou om die Here te vertrou, maar die lewe gaan sy gang
en ek het dit self in drie gevalle baie naby aan my lyf ervaar. Ek
was by my pa, my ma en my suster toe hulle oorlede is. In al drie
daardie gevalle het net een belofte sin gemaak: "Vandag sal jy saam
met My in die paradys wees." Ek het geweet dat hulle al drie bestem
was vir die paradys saam met Hom, want hulle was geestelik gereed om
klaar te maak met hierdie aardse bestaan. Laat ons ook maar nugter
deur die lewe gaan met die besef dat hierdie ons laaste gebed moet
wees: "Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom." En sy
belofte sal vir jou en my vasstaan: "Vandag sal jy saam met My in
die paradys wees." ~ Willem Botha, 22/08/2022 |
|
“Julle kan nou maar kom, die tafels staan
gereed met die heerlikste kos. Laat die fees begin. Maar toe gebeur
daar ’n snaakse ding. Al die genooides het skielik kop uitgetrek....
“ (Luk. 14:17-18. In dié gelykenis wat Jesus vertel sien ons die
tafel wat God vir sy volk voorberei het. Alles van die beste is
daarop uitgepak. Oorvloed daarvan. En die Gasheer se uitnodiging is
uitgestuur: Kom, eet, verniet, sonder skuld, sonder voorbehoud. Kom,
daar is plek vir almal. Kom, daar is plek vir jóú ook, ’n plek met
jóú naamkaartjie daarby. Jy hoef nie eers ’n bottel wyn of blomme
saam te bring nie! Kom met leë hande, kom soos jy is, kom net.
Iemand het dit eenmaal só beskryf: Dit is ’n uitnodiging na die
tafel in die middel van die kosmos. Wie sal nou nie dié uitnodiging
aangryp nie? En tog kom die verskonings nou een na die ander: ek het
’n stuk grond gekoop en moet net eers gaan kyk hoe dit lyk; ek het
’n paar osse gekoop en moet net gou gaan kyk hoe dit met hulle gaan;
ek het pas getrou en kan nie nou kom nie. Ek is te besig, net eers
dit of dat afhandel, net eers my lewe geniet, net eers nog bietjie
geld maak, net eers klaar studeer, net eers huis bou, net eers ...
Moenie die Here se ete-uitnodiging ignoreer nie, moenie verskonings
uitdink nie. Maak soos die verlore seun van Luk. 15 en gaan terug na
jou Pa se huis toe, gaan sit aan by Sy feestafel. Hoor wat sê Hy:
“Vandag gaan daar feesgevier word. Ons gaan eet en lag en bly wees,
want my seun is terug! Ek het gedink hy is al dood, maar kyk, hy
leef! Hy was weg, maar nou is hy terug waar hy hoort: in sy pa se
huis.”(Luk. 15:24, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 18/08/2022 |
|
"Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as
die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het,
moet julle mekaar ook vergewe." (Kol. 3:13)
Vergewe mekaar. Jong, hierdie gedagte van vergifnis is bitter
moeilik, want ons as mense se ou velletjies is mos maar so dun soos
papier en ons voel om elke hoek of draai dat ons te na gekom is. Ja
natuurlik is daar groot goed wat mens net nooit afgeskud kry nie,
want die impak daarvan affekteer ons lewenslank, maar jy sal
saamstem dat dit mens uiters miserabel laat voel as iemand, of
insidente van die verlede so aanhoudend by jou kom spook. Daardie
goed kry hopeloos te veel "airtime" en beïnvloed tog maar net die
slagoffer self. Jy wens iemand 'n glasie gif toe, maar dan drink jy
dit self. Soos gesê, dis nie so maklik nie, maar dis tog beter. Om
iemand te vergewe beteken nie:
* Dat alles maar net okay is nie en dat jy sommer simpel is nie.
* Dat daardie persoon nou jou vriend moet wees nie.
* Dat jy nooit weer daaraan gaan dink nie.
* Dat jy dit eenmalig doen dan is dit verby nie.
* Dat totale vrede vir ewig oor jou sal spoel nie.
Vergifnis is 'n opdrag van God, want Hy vergewe ons as ons die dinge
bely wat tussen Hom en ons kom staan.
Maar hiér is nou 'n moeilike een. Is daar goed in jou verlede
waarvoor jy jouself moet vergewe? Is daar foute in jou verlede wat
maak dat jy jouself nie meer in die oë kan kyk nie? Voel jy of jy
die hele lewe gefaal het oor 'n fout? Haat jy jouself omdat jy glo
dat die Here jou ook nie vergewe nie? Wel, jy maak 'n fout want as
jy jouself so kasty, is dit asof jy probeer om die Here die heeltyd
te herinner hoe sleg jy is. Jy wéét mos dat die Here die ster in die
vergifnis-industrie is, en daarom kan jy begin vrede maak met
jouself. Sonder dit is jy net self die argitek van jou
ongelukkigheid.
Vergewe mekaar, en jouself, soos die Here ons vergewe. ~ Willem
Botha, 17/08/2022 |
|
Ek hoor so baie die woorde: Die eindtye is hier!
Jesus kom enige dag terug op die wolke! Vele dinge word daaraan
gekoppel en baie profete hou daarvan om daaroor te profeteer. En ja,
natuurlik is die tekens daar, want daar is oorloë, aardbewings,
natuurrampe en 'n klomp dinge wat die Bybel noem, en daardie tekens
kan nie geïgnoreer word nie. Ek wonder net of mense dalk moeg is vir
die lewe omdat dinge te erg raak. Is dit régtig onuithoudbaar erg?
Maar aan die ander kant is daar mense wat lyk of hulle opgegee het
met hierdie "Ek kom weer..."-verhaal.
Daar is uitgesproke ateïste wat met ons spot oor hierdie lawwe
verhaal waaraan ons vashou. Daar is mense wat hulle geloof verloor
het omdat hulle moeg gewag is en dink dis alles sommer net
versinsels. Dan is daar mense wat voel dat dit nie meer saak maak
nie, want dit lyk of jy maar kan doen en glo wat jy wil. Dan is daar
Christene wat na enige "teken" gryp en hoop dat Jesus tog net gou
moet kom.
Baie eeue gelede is daar oor Jesus se koms geprofeteer, toe kom Hy.
En toe Hy opvaar na die hemel het hy gesê Hy kom weer. En nou wag
ons. Maar hierdie dinge waaroor mense so wonder is nie nuuts nie en
dit kom al van baie lank af.
Lees hierdie aangrypende verhaal.
"Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en
het toe deur sy volgelinge 'n boodskap aan Hom gestuur om te vra:
“Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?” Jesus
antwoord hulle: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien:
Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor,
dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. En
gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie.” (Matt. 11:2-6)
Johannes die doper wat twyfel? Regtig? Johannes wat Hom gedoop het?
Johannes die boodskapper wat die pad vir Hom kom regmaak het? Hoe op
aarde kon hý twyfel? En dan sê Jesus vir Hom dat hy net rondom hom
moet kyk en hy sal al die tekens sien wat bewys dat Jesus 'n
werklikheid is, en dié Een is.
Is U die Een wat ons moet verwag? So vra Johannes die Doper. Wie
verwag jy? Kan jy nog vasbyt en voluit vir Hom lewe? Het jy genoeg
geduld om net rustig met jou lewe aan te gaan? Probeer jy darem nog
om soveel mense moontlik voor te berei vir sy koms? Wanneer Hy kom
weet ons nie, maar dát Hy kom is gewis so.
"Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae mense op die
toneel sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewe net deur hulle
eie begeertes beheers word. Hulle sal spot en sê: "En wat het nou
geword van die belofte van sy wederkoms? Ons vaders is al dood, en
tog bly alles nog net soos dit was van die begin van die skepping af."
Hiermee vergeet hulle moedswillig dat daar lank gelede 'n hemel en
'n aarde was wat deur die woord van God uit water en deur water
ontstaan het. En dit is ook deur water dat die wêreld van daardie
tyd oorstroom is en vergaan het. Maar die hemel en die aarde van
vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van
God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose
mense veroordeel en verdelg sal word. Een ding moet julle egter nie
vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en
duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy
belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met
julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê
dat almal hulle moet bekeer." (2 Pet 3:3-9)
Is U die Een wat ons moet verwag? Daar het jy dit. More, volgende
jaar, oor duisend jaar... Maak seker dat jy die regte Een verwag. ~
Willem Botha, 15/08/2022 |
|
Ek wonder sommer vandag so by myself, hoe dit
sou wees as ek vandag saam met Jesus in die sitkamer sou sit en
gesels. Of so rondom 'n tafel, besig om te eet en gedagtes te deel.
Natuurlik lees ons baie van sulke geleenthede waar Hy by mense gaan
eet en kuier het, en sommige was baie kontroversiële karakters. Maar
as dit nou vandag daar by jou huis sou wees: waaroor sou julle praat?
Het Hy 'n humorsin? Kan Hy uit sy maag uit lag en ook bietjie laf
raak? Sou Hy dalk 'n paar situasies met jou deel wat al tussen Hom
en ander mense gebeur het? Vriende van ons se seun het baie jare
gelede, toe hy baie klein was, by die kerk hardop gebid tussen ander
kinders. Dit was toe die Amerikaners alweer met een of ander
sinnelose oorlog (wat nie hulle oorlog was nie) betrokke geraak het.
Die jong seun, wat baie lief vir die Here is, het in kinderlike
onskuld gebid dat die Amerikaners die oorlog moet geniet! Iets tot
hierdie strekking. Dalk sou Jesus vir jou dit vertel het met 'n
glimlag op sy gesig, en vreeslik baie deernis en liefde vir die kind
uitspreek. Dalk sou Hy vir jou vertel dat Hy lank gelede maar net sy
kop geskud het vir goed wat jy gevra het, en waaroor jy dalk
teleurgesteld was omdat jou gebede nie verhoor was nie. En dan sou
jy uit jou hart vir Hom dankie gesê het, want dit sou nie die regte
uitkoms wees nie en beter dinge het gebeur.
Maar dalk sou Hy ook hartseer geraak het oor die verdorwenheid van
die mensdom, en miskien sou Hy kwaad wees omdat die mens al so vêr
verval het. Ek wonder of Hy selfs moedeloos sou wees oor mense se
ongeloof, of moedeloos omdat ons vir Hom raad en uitkoms vra, wat Hy
dan gee, maar dan doen ons die teenoorgestelde. Ek wonder wat Hy sou
sê van mense wat ander gelowe aanhang. Sou Hy hulle verwerp en
negatief van hulle praat? Of sou Hy vir ons gesê het dat ons niemand
moet veroordeel nie, want daar is steeds tyd vir mense om terug te
draai. En as ons nou sit en kla omdat ons méér aardse dinge begeer,
en harder werk vir aardse goed wat gaan vergaan, en ons geliefdes
afskeep daarvoor, sou Hy ons dalk stip aankyk en vra of ons óóit
genoeg sal hê en tevrede sal wees. Dalk sou Hy vir ons sê dat Hy ál
is wat ons nodig het.
Hoe wonderlik sou so 'n kuier nie wees nie! En met sy vertrek sou Hy
dalk sy hande op ons lê en vir ons bid vir vreugde en vrede.
En ek weet een ding, ons geloof in Hom sal duisendvoudig toeneem.
Lekker om so te sit en droom né?
Wel, Hy is nou, op hierdie oomblik by jou, en reg vir gesels. Jy kan
maar jou hart uitpraat, Hy luister, en dit word gebed genoem. En as
jy stil raak, sal jy sy stem hoor in versugtinge wat in jou gedagtes
opkom, en as jy jou Bybel opslaan, sal jy bevestiging daarvoor kry.
Sit bietjie tyd opsy na jou harde, moeilike dag, en sit soos Maria
van ouds by sy voete en hou so bietjie op om rond te skarrel soos
Marta.
Lekker kuier. ~ Willem Botha, 11/08/2022 |
|
“Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem
Hy die brood, vra die seën , breek dit en gee dit vir hulle.” (Luk.
24:30) Só verloop dinge aan die etenstafel in Emmaus waar Jesus ná
sy opstanding saam met twee van sy dissipels eet. Hulle het
Jerusalem verlaat nadat Jesus gekruisig is. Hulle was verslae,
hartseer, ontnugter en teleurgesteld (soos wat mens maar voel ná die
tragiese, ontydige dood van ’n geliefde) en vat toe maar pad na
Emmaus. Terwyl hulle langs die pad loop en tob oor alles wat gebeur
het, val Jesus langs hulle in en vra hulle uit oor hulle gevoelens
en menings. Hy gee vir hulle perspektief, Hy bemoedig hulle deur die
Woord en Hy bly by hulle oor vir die nag. Hulle besef egter eers wié
Hy is toe Hy die brood breek en vir hulle gee. Ek hoop as jy ’n
jouself op ’n moeilike pad bevind waar jy hartseer, verlore en
gebroke is, jy sal ervaar dat Jesus langs jou kom loop, dat sy
woorde en sy troos jou hart warm sal laat word en dat jou binnekant
tot bedaring sal kom as Hy brood breek vir jou. Ek hoop dit sal op
daai oomblik wees dat jy in die brood by die tafel vir Jesus sal
vind. Dat jy in die brood sal raaksien dat Hy vir jou sorg en jou
nie alleen sal los nie. Dat jy in die brood sal sien dat daar
vergifnis en genade is, dat daar vrede en nuwe lewe is. Dat jy die
brood sal neem en sal weet dat dit vir jou persoonlik gebreek is.
Neem, eet ... ~ Wilna Botha, 10/08/2022 |
|
Dis Vrouedag!
Ons mans het tog maar die slegte gewoonte om onsself bietjie hoog te
ag, en dan heimlik neer te sien op vroue. Dan kom ons dikwels sommer
met uitsprake vorendag soos: die vroue is die swakker geslag,
vrouens kan nie bestuur nie, hulle is koopmasjiene, hulle praat te
veel, hulle het nooit genoeg klere in die kas nie, hulle kan kla en
kerm soos ‘n druppende kraan op die dak.... Siestog, ek dink ons sê
dikwels hierdie dinge net om onsself bietjie beter te laat lyk en
ons swakhede te verberg. Daarom wil ek vandag met hierdie stukkie
hulde bring aan vroue.
Vroue, ons mans gaan vandag so ‘n paar dinge toegee:
- ons sal nooit ‘n kind in die lewe kan bring nie; ek praat nie net
van fisies nie; ons is heeltemal te pieperig.
- ons word soos babatjies as ons siek is, daarom die spreekwoord:
“... so siek soos ‘n ... man”!
- ons kan nie “multi-task” soos julle nie; ons kan bv nie bestuur en
grimering aansit terwyl ons op die selfoon praat en ontbytpap eet
nie, en dit alles teen 120km/h. Ons kan nie eens loop én kougom kou
nie.
- ons is minder verdraagsaam, minder geduldig en meer
selfgesentreerd.
- ons sukkel om lief te hê, en om dit te sê.
Lees asseblief Spr. 31:10-31, dis ‘n pragtige huldeblyk aan ‘n vrou.
Ek glo nie daar is enige deel in die Bybel waar ‘n man so besing
word nie. Hierdie gedeelte beskryf ‘n klomp fasette van ‘n vrou en
van haar rol as vrou.
Spreuke 31:10-15
"'n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene. Haar man steun
op haar en pluk die vrugte van haar werk. Sy bring vir hom net
voordeel, nie nadeel nie, haar hele lewe lank. Sy maak wol en vlas
bymekaar en geniet dit om dit te verwerk. Sy is soos die handelskepe,
sy bring die kos van ver af in. Sy staan op as dit nog nag is en
maak kos vir haar huisgesin; ook haar slavinne kry hulle deel."
Hiervolgens is die vrou die man se helper, net soos wat dit Genesis
sê en wat God se bedoeling was. Haar man steun op haar en pluk die
vrugte van haar werk. Hoor hoe mooi sê vers 12: “sy bring vir hom
net voordeel, nie nadeel nie”. Sien jy hierdie band van kameraadskap
tussen man en vrou? Ek sien so in my geestesoog dat die man en die
vrou ‘n volmaakte span is, hulle werk tot mekaar se voordeel, hulle
vul mekaar aan, sy geniet dit om deel te wees van hierdie verhouding.
Sy is aktief, en bly altyd besig. Sy is ‘n sieraad – meer werd as
edelstene.
Spr. 31:16 – 20
"Sy oorweeg die waarde van 'n stuk grond en koop dit, sy sit dit
onder wingerd met geld wat sy self verdien het. Sy pak die werk aan
met krag, haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy stel vas of die
wins goed is, haar lamp bly heelnag brand. Sy werk met die spinwiel,
haar hande bly besig met die weefstoel. Sy het 'n oop hand vir die
armes, sy is vrygewig teenoor die behoeftiges."
Hiervolgens staan hierdie vrou se hande vir niks verkeerd nie. Sy
help met die inkomste. Manlief, as jou vrou werk, waardeer jy dit
genoeg? En as jy by die huis kom, moet sy alles doen terwyl jy net
sit en ontspan? Ek dink ons as mans sien nie raak wat ons vrouens
elke dag vermag nie, wat hulle moet uithou, wat hulle moet verduur
en hoe moeilik hulle dit soms het nie. Ons wil hoof van die huis
wees, maar wil nie altyd doen wat dit van ons vereis nie. Kom ons
gee vandag vir ons vroue die verering wat hulle toekom.
Spr. 31:21-22
"Sy is gerus oor haar huisgesin as dit sneeu: hulle dra almal warm
klere. Sy maak self vir haar dekens en sy dra klere van linne en wol."
Jip, dan kom sy tuis en begin met die versorging van die kinders. Sy
is gerus oor haar gesin, want sy het gesorg dat hulle alles het wat
hulle nodig het. Moenie kla as sy alweer ‘n klomp klere vir die
kinders gaan koop het nie; dié deel van die versorging van die
huisgesin is wat sy wil en moet doen. Luister ook maar as sy vir jou
sê om nie meer daardie hemp met die blink kraag te dra nie, of dié
een wat al bietjie te styf sit, of dié een met die gaatjie in....
dis haar werk om te kyk dat jy mooi lyk, en sy wil dit doen.
Spr. 31:23-26
"Haar man is welbekend by die stadspoort waar hy saam met die leiers
beraadslaag. Sy maak klere en verkoop dit, sy lewer gordels aan die
handelaars. Alles aan haar spreek van 'n sterk en edel
persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie. As sy praat,
is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde."
Het jy al die spreekwoord gehoor: “agter elke suksesvolle man is
daar ‘n vrou”? Natuurlik het jy, en dit is ook die waarheid. Die man
is bekend in die stadspoorte, want vroulief staan agter hom. Sy sorg
dat sy hemp gestryk is, dat hy homself goed versorg, dat sy kosblik
gepak is, ens. Sy het ‘n sterk persoonlikheid, vol wysheid, maar dit
is nie vir hom ‘n bedreiging nie; sy status by die stadspoort is
beïnvloed deur sy knap vrou.
Spr. 31:27-28
"Sy hou goeie toesig oor haar huishouding; lui is sy nie. Haar
kinders prys haar, haar man bewonder haar ..."
Haar huismense is trots op haar, hulle waardeer haar. So behoort te
wees, maar mans en tieners is nie altyd te goed daarmee om bietjie
erkenning aan Ma te gee nie.
Spr. 31:29-31
“Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal! Uiterlike
skoonheid hou nie, 'n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here
dien, dán verdien 'n vrou om geprys te word. Gee haar wat haar
toekom vir alles wat sy doen; laat haar werk haar roem wees in die
stadspoorte."
Manne, ons moet dit weet: uiterlike skoonheid sal vergaan, dit is
so. Onthou net, dit gebeur met ons ook! Ons wil so graag vir
vroulief meet aan die troufoto’s, maar onthou vers 31 sê dit beteken
niks. Mooiheid, perfekte lyfie, geen plooie, pragtige haarkapsel –
dit beteken alles niks as sy nie die Here dien nie. As sy die Here
dien, dan verdien sy om geprys te word. Sy verdien natuurlik ook
dank, eer en prys van haar gesin af vir die versorging en
besorgdheid wat sy oor hulle het.
Vrouens, julle is puik. Namens ons patetiese manne, sê ons vandag
vir julle – julle is great! Dankie vir elke opoffering wat julle
maak vir ons en ons gesinne, dankie vir elke vroeg opstaan, elke
bord kos, gestrykte hemp, netjiese blyplek, vir elke stukkie
besorgdheid en liefde.
Manne, gee julle vrouens liefde, erkenning en dankbaarheid vir alles
wat sy doen. Wees trots op haar, en sê dit ook dat jy is. Gaan koop
vir haar vandag ‘n bos blomme, of ‘n sjokolade, of laat sy haarself
bederf met ‘n nuwe bloesie of lipstiffie. ~ Willem Botha, 09/08/2022 |
|
“Hier is ’n seuntjie met vyf garsbrode en twee
vissies; maar wat is dit vir so baie mense?” (Joh. 6:9) Ons lees in
elkeen van die evangelies van dié etenstyd toe Jesus ’n skare van
vyfduisend mans plus vrouens en kinders kos gegee het. Dit moes ’n
spesiale etenstyd gewees het. Só baie mense bymekaar. Só ’n groot
honger om te luister na Jesus se prediking en om sy aanraking en
genesing te ervaar. Ek wonder baie keer hoekom was net die een
seuntjie voorbereid met sy kosblikkie vol broodjies en vis? Hoekom
het die mense nie almal met hulle kosmandjies opgedaag nie? Dalk het
hulle nie beplan om so lank en so vêr van die huis af weg te wees
nie. Dalk het hulle nie omgegee om honger te ly nie, solank hulle
net by Jesus kon wees. Dalk het hulle gewéét dat Hy sou sorg. Jesus
se hart breek as Hy die menigte honger mense sien. Hy stuur die
dissipels om te kyk hoeveel brood daar is: “Hoeveel brood het julle?
Gaan kyk.” (Mark 6:38) Met dit wat beskikbaar was in sy hand het
Jesus na die hemel opgekyk en die seën gevra en die brood gebreek.
As Jesus brood breek, is daar genoeg vir almal. As Jesus brood breek,
word almal versadig. As Jesus brood breek, is daar oorvloed. As
Jesus brood breek, wéét ons Hy is die brood wat lewe gee. As Jesus
brood breek, verander die wêreld. As Jesus brood breek, hoor ons:
neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit
tot my gedagtenis (1 Kor. 11:24). Kom, eet, dis verniet. Kom, eet en
word versadig. Kom, eet en sien die wonderwerke van God in jou lewe.
~ Wilna Botha, 08/08/2022 |
|
As jy nie meer van God hou nie, loop net. Loop
net weg, draai net jou rug en stap net weg. So maklik soos dit.
Niemand sê jy móét van Hom hou nie, en niks gaan (nou) met jou
gebeur nie. Jy gaan nie skielik kanker kry of jou huis of werk
verloor nie. Jy hoef nie dit te verduidelik nie, nie vir die Here
nie, nie vir mense nie, dalk net vir jouself. Stap gerus, en soos
die spreekwoord sê: moenie dat die groetery jou ophou nie.
Ek sien gisteraand weereens 'n program waar 'n onderhoud gevoer word
met 'n "geestelike" wat besluit het dat hierdie goed nie meer vir
hom is nie, en ek kry die idee dat die onderhoudvoerder nogal baie
daarvan hou. Hierdie persoon het 'n boek geskryf, 'n tweede een
nogal, en ek wonder vir wie die boek bedoel is. Vir my as Christen
wat vashou aan die Here (en kerk en geloof en gebed)? Of vir ander
wat dieselfde as hy voel? Vir my het die boek geen doel nie, want my
verhouding met God is nie afhanklik van 'n ander se lewenspad en
oortuigings nie, dit gaan oor 'n verhouding. Maar, indien dit bedoel
is vir mede-ONgelowiges, het die skrywer so pas die Bybel reg bewys.
"... want daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie
meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle
leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor."
(2 Tim. 4:3). Amper sê ek: Bingo! Dis lánk gelede al in die Bybel
opgeskryf.
Jy sien, afvalligheid en ongeloof is geen verrassing vir die Here
nie en die Bybel bespreek dit dikwels. Dis niks nuuts nie.
Maar toe word ek bietjie om geboul in die onderhoud. Die aanbieder
het gevra: wat nou? Waar staan jy nou? Toe antwoord die persoon dat
verwondering nou oor hom gekom het. Hy verwonder hom oor die nuwe
beelde van die Webb teleskoop en die skoonheid van die heelal. Ek is
verstom, want ek wonder toe of die Here dan nou die doktor se oë
versluier het om die wonder van die skepping raak te sien, en die
wonder van sy kinders se geboorte. Ek beskou die onbeskryflike
grootsheid van die skepping as God se ongeskrewe woord, want daar
kom "sien is glo" tot sy volle reg. En daar sien ons juis dít wat
God in sy woord oor die skepping beskryf. Gaan lees beslis Job 38.
Is die skone natuur nie dalk deels "die Bybel" vir diegene wat nie
kan lees nie?
Die persoon het ook gesê dat dood en swaarkry net nooit vir hom sin
gemaak het toe hy nog "geglo" het nie. Wel, maak dit nóú sin? Gaan
jy nou sonder smart deur 'n geliefde se dood? Het jy nou méér hoop
in tye wat alles hooploos lyk? Werk die nuwe model beter? Ek lees
dat 'n professor (in teologie nogal) sê dat ons die Bybel verkeerd
lees en verstaan, want dis glad nie relevant vir vandag nie, ons kan
dit net sowel ophou lees. Maar daar is professore wat ek ken wat die
Bybel totaal "oorgeskryf" het in die vorm van "Die Boodskap", wat
presies die teendeel verkondig. Wel, één moet verkeerd wees! Albei
kan definitief nie reg wees nie.
Mense dink hulle is vry as hulle nie meer aan iemand, of Iemand,
verantwoording hoef te doen nie, maar die realiteit is dat alles dan
juis in chaos verval. Kyk gerus om jou.
Daar is vele webblaaie en Facebook groepe waar mense tot vervelens
toe hulle ongeloof bespreek (en dalk verdedig?) en 'n bespotting van
Christene probeer maak, maar ek verstaan nie hoekom mense so baie
tyd spandeer aan iets waaraan hulle nie glo nie!
Nou is die vraag: waar staan ek?
"Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan
vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het
anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land
julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” (Josua
24:15)
Waar staan ek dan?
* Ek verstaan nie alles nie, maar wat my en my familie betref, ons
sal die Here dien.
* Ek is 'n uiters sondige mens, maar wat my en my familie betref,
ons sal die Here dien.
*Ek kry ook tye van intense twyfel oor baie dinge, maar wat my en my
familie betref, ons sal die Here dien.
* Baie van my gebede is nie verhoor soos wat ek dit graag wou hê nie,
maar wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.
* My verhouding met God skiet vêr te kort, maar wat my en my familie
betref, ons sal die Here dien.
* Ek wens baie dinge was nié in die Bybel opgeskryf nie want dis
soms lastig, maar wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.
Laastens, die Here sal altyd weer 'n afvallige met ope arms terug
verwelkom, soos met die gelykenis van die verlore seun. Bly of ry,
dis elkeen se eie keuse. ~ Willem Botha, 03/08/2022 |
|
"Iemand wat eerlik antwoord, is 'n ware vriend."
(Spr. 24:26)
Hierdie teks val so lekker op die oor, maar ek kan jou verseker dat
dit in die praktyk moeilik is om te sien waar dit regtig so werk.
Kom ek bely so ietsie vandag vir jou. Ek het 'n verskriklike dun ou
velletjie, want ek kan geen kritiek of teregwysing verdra nie, al
bedoel die ander party dit nét goed, en dis net hier waar ek sien
hoe ons bietjie kleitrap met hierdie bogenoemde teks. Jy weet mos
(as jy 'n man is) en vroulief vra vir jou of sy so effe "ongemaklik"
lyk in 'n spesifieke kledingstuk, dan is jy in die moeilikheid voor
jy nog kon dink wat jy wil sê! En boonop eerlik wees? O koek nee
liewer nie. Maar wag, ek los liewer hierdie storie nét hier.
Terug na vriendskappe toe. Ek is seker jy was ook al in 'n klomp
situasies waar jy nie weet hoe jy daarin beland het, of hoe jy daar
gaan uitkom nie. Wens jy ook jy kan net eerlik op alle situasies
antwoord sonder om die vriendskap te ruïneer? Dalk is jy net nie lus
om vanaand te kuier nie want jy is moeg. Dalk is jy nie lus om na 'n
vertoning te gaan kyk saam met vriende nie, want jy hou nie van die
kunstenaar nie. Dalk wil jy nie 'n ete uitnodiging na 'n restaurant
toe aanvaar nie want jy kan dit nie bekostig nie, maar voel te sleg
om dit te sê. Dalk wil jy nie saam met 'n klomp pêlle uitgaan nie
want jy voel uit omdat jy nie saam drink nie.
Dalk wil jy nie saam met ander na hulle kerk toe gaan nie want jy
hou nie van die styl nie.
Hier is nogal 'n moeilike een: Ek kry baie boodskappe, prentjies,
tekste en mooi stories deur die dag, maar daar kom ook goed deur
waarvoor ek regtig net nie tyd het of lus het om na te kyk nie.
Vernaam as dieselfde boodskap (of grappie) van 'n klomp verskillende
mense kom. Hoe sê jy vir iemand hulle moet jou maar gerus van hulle
verspreidingslysie afhaal?
"Iemand wat eerlik antwoord, is 'n ware vriend." Dit is bitter
moeilik om hierdie ware vriend te wees. Ek glo jy is dalk ook altyd
eerder gereed met 'n onskuldige ou wit leuentjie, of hoe?
Maar nou ja, verhoudinge is belangrik, en daarom moet ons eerder
gereed wees om vermaning soos 'n man te vat, maar dit ook soos 'n
man uitdeel.
Herodes het vir Johannes die Doper laat opsluit omdat hy kwaad was
omdat Johannes hom tereggewys het. En toe word hy sommer onthoof op
die koop toe! Johannes het nie teruggedeins vir wat reg of verkeerd
was nie. Nou ja, ek glo darem nie ek en jy sal kop verloor as ons
net eerlik is nie... ~ Willem Botha, 01/08/2022 |
|
'n Vriend is 'n ruk gelede een nag deur 'n
traumatiese situasie en het by die dood omgedraai. Hy vertel nou die
dag vir my dat hy van daardie dag af die gewoonte aangeleer het om
élke oggend as hy wakker word en regop sit op die bed, te sê: Dankie
Here vir nog 'n dag. Net daardie paar woorde as sy oë oopgaan. 'n
Ander vriend van weleer het so twee gelede die aand gaan slaap, en
in sy slaap gesterf. Hy het nie die volgende oggend wakker geword
nie.
Die eerste persoon het geleer om die term "Carpe Diem" voluit te
omhels. Ek en jy weet nie wat die dag of nag vir ons inhou nie, maar
lewe is uiters kosbaar. Die volgende teks beteken vir my nogal baie.
"Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. 'n Hond wat lewe, is
beter as 'n leeu wat dood is." (Pred. 9:4)
Nou ja, as jy hier lees lewe jy, en jy het hoop (hopelik).
Goeiste maar dit kan nogal swaarmoedig klink, so asof die nuwe dag
die grootste straf op aarde is, en dat dit geweldig vasbyt en
energie gaan verg om deur dit te worstel. Hoe blind het ons nie
geword nie, en hoe het onvergenoegdheid nie ons oë begin versluier
nie. Kom ons kyk bietjie nuut op hierdie dag.
Derduisende polisielede probeer regtig geweldig hard om, ten spyte
van alles en almal wat teen hulle is, wet en orde te handhaaf.
Derduisende hospitaalpersoneel doen hulle werk ywerig en versorg
pasiënte na die beste van hulle vermoëns. Derduisende Eskom werkers
gaan elke dag werk toe en stoei onder groot druk om die ligte aan te
hou. Die volgende punt sal jy dalk moeilik glo, maar daar is
derduisende staatsdienswerkers wat sorg dat die wiele van die land
nie heeltemal afkom nie. Daar is uiters eerlike mense in elke enkele
beroep waaraan daar dalk 'n stigma van selfverryking kleef, wat jou
belange tog eerste stel. Daar is duisende mense wat vrywillig
betrokke is by mense wat in nood verkeer en verligting bring, op
talle maniere. Daar is derduisende mense wat vir
sekuriteitsmaatskappye werk wat daagliks hulle lewens op die spel
plaas om jou en my veilig te hou. Daar is derduisende onderwysers
wat alles in hulle vermoë doen om kinders met 'n goeie "geleerdheid"
te help.
Miskien spreek dié goed vanself, maar daar is 'n baie belangrike
ander punt wat ons miskyk. Daar is miljoene mense wêreldwyd wat
alles in hulle vermoë doen, en alles opoffer, om mense vir die
Koninkryk van God te wen. Dikwels onder lewensgevaarlike
omstandighede. Mense wat omgee vir 'n ander se siel.
Onthou jy vir ou Genis van Koöperasie stories op die televisie in
die jaar toet? Hy was altyd uiters beswaard!
Wel, ek dink nie 'n beswaarde mens kan 'n positiewe bydrae lewer in
die bogenoemde goed nie. Mag ek en jy more oggend opstaan met die
woorde: Dankie Here vir nog 'n dag. En mag ek en jy môreaand, voor
jy gaan slaap, sê: Dankie Here dat ek bruikbaar was en dalk net 'n
piepklein verskilletjie kon maak in iemand se lewe.
Carpe Diem - Gryp die dag.... ~ Willem Botha, 27/07/2022 |
|
“Toe draai Jesus na die gasheer toe en sê vir
hom: “As jy weer ’n groot ete of ’n fees hou, moet dan nie hierdie
spul weer uitnooi nie. Haal al jou vriende en al jou familielede en
die vernames se name van jou gastelys af. Moet ook nie daardie ryk
bure van jou uitnooi nie. Dan is hulle almal weer onder die
verpligting om jou vir ’n ete terug te nooi. En so gaan dit dan
heeltyd aan. Nee, as jy weer ’n slag ’n partytjie hou, moet die
volgende mense op jou uitnodigingslys wees: almal wat arm is en niks
het om te eet nie en almal wat siek is en swaarkry, veral diegene
wat hulle ledemate verloor het of wat kreupel en blind is. As jy
sulke mense uitnooi, is jy ’n baie gelukkige mens. Hulle het niks om
vir jou mee dankie te sê nie. Maar dit maak nie saak nie, want God
sien raak wat jy doen. En Hy onthou dit.” (Luk. 14:12-14, Die
Boodskap) Jesus was uitgenooi na die huis van ’n vooraanstaande
Fariseër vir ’n ete. Daar het Hy gesien hoedat almal skarrel om die
voorste en beste plekke aan tafel te kry en hoe die een dink hy is
belangriker as die ander, hoe die bywoning van die ete vir hulle ’n
groot sosiale eer was waarop hulle aanspraak gemaak het. Hy praat
toe met hulle oor nederigheid en om liewer doelbewus die swakste
plek aan tafel uit te kies. Hy gaan toe verder om vir die gasheer
dié raad te gee om volgende keer liewer die minderwaardige,
onbelangrike, sukkelendes in die samelewing uit te nooi, mense wat
werklik ’n ete nodig het, mense wat altyd uitgeskuif en oor die hoof
gesien word. Wie is op jou uitnodiginglys? Iemand wat jou laas maand
uitgenooi het en nou is jy verplig om hulle weer te nooi, al wil jy
nie, al voel jy jy gaan nie so goeie gasheer wees as wat hulle was
nie, al kan jy dit dalk nie bekostig om vir hulle die beste voor te
sit nie, al moet jy dalk spesiaal nuwe eetgerei gaan koop sodat jy
nie afsteek nie? Of iemand vir wie jy wil beïndruk met jou mooi goed
en jou oordadige spyskaart en jou gasvryheid? Ons is betrokke by
gestremde persone en ek kan jou verseker as jy saam met só iemand
aan tafel sit, sien jy eerlikheid, ervaar jy opregtheid . Daar is
geen pretensie nie. What you see is what you get. By so iemand kan
jy ook net jouself wees. Jy hoef nie jou beste voetjie voor te sit
nie. Jy kan die eenvoudigste kos wat jy op jou tafel het deel en dit
sal waardeer word en sonder beoordeling aanvaar en geniet word. As
jy sulke mense uitnooi, is jy ’n gelukkige mens, sê Jesus. ~ Wilna
Botha, 26/07/2022 |
|
Hierdie
bordjie hang op ons stoep, en ek het hierdie woorde al so baie keer
gelees en gewonder waar hierdie plek is. Is daar inderdaad so 'n
plek? Is dit op 'n spesifieke plek, of is daar etlike sulke plekke
wat ek en jy kan gaan besoek? Wie ken die koördinate, en vir hoeveel
van ons is hierdie paradys beskore? Verwys dit dalk na die hemel
waar materiële dinge geen nut meer het nie, en dat God se
alomteenwoordigheid al is wat saak maak?
Ons almal gaan gebuk onder erge druk, en min van ons is opgewonde
oor die toekoms, en vele van ons is stadig maar seker besig om moed
op te gee. Die feit dat twee oud werk-kollegas van my in die
afgelope twee weke gesterf het, is nie te goed vir my gestel nie, en
ek wil wil vra waar die Here dan is.
Terug na hierdie bordjie. Dit klink so idillies om net op te pak en
daar, ver van alles, in 'n bos huisie te gaan uitpak om net saam met
die Here te wees. Daar waar geen rotresies ons vreugde steel nie,
waar hierdie mal gejaag van die lewe tot stilstand kan kom.
En toe besef ek net weer, daardie plek is nie daar ver nie, jy sal
hom nie op 'n kaart kry nie en tog is dit nie buite bereik nie. Nee,
dit skuil steeds binne my en jou, maar daar is te veel dinge wat
tussen ons en daardie vrede staan. Ek het besef dat ons grootste
probleem juis ons voorspoed is, want ons is doodbang dat ons ons
aardse goedere kan verloor. Hoeveel bid ons nie juis daarvoor nie?
Ons bid vir voorspoed en beskerming, maar nooit dat ons totale vrede
kan hê sonder ons aardse rykdom nie. Sou ek ooit bid: Here neem
alles wat ek besit van my af weg, sodat ek daar kan kom waar dit net
ek en U is? Nooit! Inteendeel, ons bid graag dat die Here ons sal
seën met voorspoed en ons haal graag tekste rondom dit aan. "Ek weet
wat Ek vir julle beplan, voorspoed en nie teëspoed nie..."
Hoe begeer ek dat ek tevrede kan wees met minder, dat ek meer die
Here kan raaksien, sonder om deur die voorspoed-bril te kyk. Hoe
begeer ek dat ek deur die gejaag van die lewe kan gaan sonder dat ek
verby die Here in 'n "blurr" voortsnel. Hoe begeer ek dit dat die
dag tot dag geraas my nie beïnvloed nie, want dit help in elk geval
nie. Hoe begeer ek dat ek my kan afsluit van die simpel, nuttelose
nuus van die dag wat maak dat ons almal mekaar se oë wil uitkrap,
omdat ons teen mekaar opgestook word deur die media. Ai, waar sal
ons hulp vandaan kom?
"Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy
my heen..." (Ps. 23:2)
Na waters waar rus is, hier binne in ons, waar dit weer opnuut
ontdek kan word, dís waar ek wil wees.
Mag die Here vir jou vrede gee.~ Willem Botha, 25/07/2022 |
|
’n Spesiale ete wat sommige van Jesus se
dissipels saam met Hom gehad het, was dié een in Joh. 21 – visbraai
op die strand met lekker vars brood as bygereg. Ná sy opstanding uit
die dood, verskyn Jesus weer aan sy dissipels by die See van
Tiberias. Petrus-hulle het seker besluit om maar terug te gaan na
hulle “ou” werk as vissermanne, of dalk wou hulle net hulle gedagtes
en hande besig hou nadat Jesus gekruisig is, dalk wou hulle net iets
gaan vang om vir die dag te eet. Hoe dit ook al sy, hulle het die
hele nag lank niks visgevang nie. Skielik staan Jesus op die strand
en sê vir hulle om die net aan die regterkant uit te gooi. Hulle het
besef dat dit Jesus was, want Hy het al voorheen ook vir hulle só
vreemde opdrag gegee met ’n wonder-vangs as resultaat. Toe hulle op
die strand kom met hulle nette tot oorlopens toe vol vis, was daar
’n vuurtjie aan die gang met ’n stuk vis op en brood daarby en Jesus
nooi: Kom eet! “Jesus kom toe, neem die brood en gee dit vir hulle
en net so ook die vis.” (Joh. 21:13) Toe hulle moedeloos en moeg
was, rigtingloos en ontnugter, hartseer en sonder hoop, staan Jesus
daar met ’n voorbereide maaltyd en ’n uitnodiging om te rus en saam
te eet. Ons kan ook die versekering hê dat as die nag lank en donker
lyk, as al ons geswoeg niks oplewer nie, as ons moedeloos is en
sommer net doelloos ronddobber, sal Jesus dáár wees, sal Hy jou
aanmoedig om weer te probeer, om die net dalk aan die ander kant uit
te gooi. Hy sal egter ook dáár wees met fisiese versorging. Hy sal
voorsien. Sien jouself vanaand saam met Jesus op jou lewensstrand en
kom haal van die vis en die lewende brood. Mag dít vir jou genoeg
wees. ~ Wilna Botha, 21/07/2022 |
|
Jy sal hom orals kry, op die mees
onwaarskynlike plekke, in die kerk, in dorpies, in goedjies in jou
huis, in musiek, in jou kinders se skooltas, by jou werk, in jou
wynbottel en selfs in jou diepste binneste. Hy kan jou beheer, jou
verblind, verslind, jou weghou van die Here af, vir jou leuens opdis,
feite verdraai, jou op snaakse paaie laat loop en jou hele lewe
verwoes. Hy is absoluut oral waar mense hom die mag gee om te wees.
Hy vertel vir jou leuens en verdraai die waarheid verskriklik, en
kan selfs lyk soos 'n engel. Hy boesem vrees in waar hy gaan en
wanneer hy brul soos 'n leeu, skrik jy jou morsdood.
Ja ek praat natuurlik van die duiwel, Satan, ook genoem die bose.
Die Bybel verwys na baie van hierdie bogenoemde dinge en mense hou
hom lewendig en versprei vrees vir hom. Ál hierdie dinge is waar,
maar dis nie ál wat waar is nie.
Weet jy hoe gaan die skool-boelie te werk? Hy kry 'n paar meelopers
wat hy onder sy beheer kry en hulle doen sy vuil werk, deur vir
almal te vertel hoe sterk hy is, dan sit hy eenkant en kyk hoe bewe
almal van die vrees en hy giggel hom dood. Hy hoef niks te doen nie.
Ek het gesê hierdie slegte dinge is waar, maar dis nie ál wat waar
is nie. Daar is Een wat nie 'n oomblik vir hom teruggedeins het nie,
wat nie toegegee het aan sy manipulasie in die woestyn toe hy die
Een probeer versoek het nie. Hy het die bose die finale nekslag
toegedien aan die kruis, toe daardie bose verleier waarskynlik met
smaad toegekyk het hoe ons Verlosser gesterf het aan die kruis. Min
het hy geweet dat Hy in die dieptes sou afdaal (by wyse van spreke)
terwyl Sy dooie liggaam in die graf was, en die grootste oorlog in
die geskiedenis van die mens oorwin het deur die Satan finaal te
verslaan. Hoe geskok moes die duiwel wees toe die klip wegrol voor
daardie graf en hy sien hoe al sy plannetjies finaal van die tafel
afgevee word. Daar het sy taktiek verander in tipiese guerilla
oorlog voering styl deur in die donkerte te skuil en te "hit and
run" en so probeer om 'n skrikbewind te voer.
Weet jy wat is die probleem? Ons as mense gee die bose hopeloos te
veel lugtyd, ons "bemagtig" die boelie net té veel deur vir mekaar
te vertel hoe sterk en magtig hy is, en ons boesem hopeloos te veel
vrees by mekaar in deur konstant na sy krag te verwys.
Ons moet eerder mekaar herinner dat die bloed van Jesus die bose
oorwin het, ons moet gereeld dit vier met nagmaal en met
dankbaarheid die brood eet en die wyn drink en so een word met Jesus
se liggaam.
Hierdie volgende teks is baie waar en 'n groot waarskuwing.
"Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos
'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind." (1Petr. 5:8).
Die duiwel loop rond SOOS 'n brullende leeu, maar Jesus IS die Leeu
van Juda.
"Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie huil nie. Kyk, die
Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die
oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.” (Openb.
5:5)
Kom ons herinner onsself en mekaar daagliks hieraan. ~ Willem Botha,
20/07/2022 |
|
“Eet nie die brood van een wat afgunstig is nie,
en begeer nie sy lekker ete nie. Want soos hy in sy siel bereken, so
is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie.
Jou stukkie wat jy geëet het, sal jy uitspuug; en dan het jy jou
vriendelike woorde verspil.” (Spreuke 23:6-8, Afrikaans OV) In ’n
Engelse vertaling lees dié teks so: “Do not take the food of him who
has an evil eye ...” Dit is so dat mens uitgenooi kan word na ’n ete,
maar die gasheer het nie suiwer motiewe met die uitnodiging nie.
Dink maar aan daai besigheidsete waarheen die gasheer jou genooi het,
net om van jou kennis te tap, of om jou om te koop, of om jou te
manipuleer. Eet en drink, nooi hy jou uit, maar sy hart is nie met
jou nie. As jy besef wat aangaan, voel jy verneuk, voel jy dalk
letterlik naar van dit wat jy geëet het en weet jy dat dit ’n
vermorsing van jou vriendelike woorde was! Of dink aan die tipe
“wine and dine”-ete waarheen menige dame al genooi was, net om uit
te vind die gasheer het ’n “evil eye” – hy wou hê dat die ete
uitloop op iets meer. Nou ja, dis genoeg om mens jou kos te laat
uitspuug as jy besef die uitnodiging was eintlik om jou te misbruik.
Of dink aan ’n ete waarheen jy al genooi was en dan het alles dalk
net uitgeloop op ’n geskinder, slegpraat van ander of dalk selfs op
’n rusie – ’n ete sonder enige opbouende, insiggewende, interessante
gesprekke wat die kos so laat dik word in jou keel. Of dink aan ’n
ete waarheen jy al genooi was en dan is die gasheer letterlik
afgunstig op jou, kyk neer op jou of probeer jou minderwaardig laat
voel met sy meewarigheid – ai, wie wil nou aan só ’n tafel eet? Met
’n fyn aanvoeling kan ons dalk onderskei wat die motiewe is van jou
gasheer en kan mens dalk betyds die uitnodiging van die hand wys, nè.
Draai dit ook maar altyd om en ondersoek jou eie motiewe wanneer jy
iemand uitnooi na ’n ete. ’n Ete in opregtheid, waar dit oor
vriendskap en meelewing gaan is so kosbaar dat dit nie saakmaak wat
op die spyskaart is nie! Kyk hoe mooi sê Spreuke dit: “Liewer net ’n
bietjie groente en liefde daarby as ’n vetgemaakte os en haat daarby.
(Spreuke 15:17) en “Liewer ’n stukkie droë brood met vrede daarby as
’n huis vol kos met ’n getwis daarby.” (Spreuke 17:1) ~ Wilna Botha,
19/07/2022 |
|
Ek vertel vir jou so bietjie van my kinderlewe
met kerk en godsdiens saam. Ek noem "kerk en godsdiens" so omdat dit
my verstaan was van wat ek vandag my geestelike lewe sal noem. Toe
ek klein was, was dit 'n tyd van min verstaan en baie vrae, maar ek
het eers later jare besef dat, hoewel ek baie vrae gehad het, ek nie
gedink het dat ek dit vir iemand kon vra nie. Miskien moet ek sê dat
die geslag waarin ek grootgeword het, eintlik baie verward was oor "kerk".
Ek probeer verduidelik.
Ek verstaan nie hoekom die leraars onder wie ek grootgeword het, so
kwaai was nie, want ek onthou dat daar vir baie jare twee predikante
was wat baie vrees by my ingeboesem het. Hulle preke was dikwels met
'n kwaai ondertoon, hulle het die musiek waarvan ons so gehou het
verafsku en het graag daarteen gespreek, want manne met sulke lang
hare was sekerlik met die duiwel deurtrek. Ek onthou dat die
ouderlinge ook dikwels vreeslik kwaai was by Sondagskool, maar hulle
was vreeslik vriendelik as jy by hulle huis gekom het as dit jou
maatjie se pa was. Die dominee het vreeslik gepreek oor die ouens
wat so gejaag het in Kyalami straat (Michael Brink straat in
Villieria), maar ek het nie verstaan hoe daai boodskap by die
jaagduiwels sou uitkom nie. Ek kon ook nie verstaan hoekom my pa so
baie op Sondae as treindrywer moes werk nie, want dominee het
dikwels daarop gehamer dat werk op Sondag groot sonde was en hy was
baie ernstig daaroor. Nou ja, ek was oortuig dominees werk net op
Sondae en dan het iets nie geklop nie. Dominee was baie kwaai oor
die gemeente wat nooit kerk toe gekom het nie, maar hy het ook nie
gesê ons wat wel daar was, moes dit vir die gemeente gaan sê nie.
Terug na daai gewraakte musiek wat hulle so gehaat het. Ek kon glad
nie verstaan wat fout was met dit nie, en ek verstaan dit nou nog
minder, want ek kan nie genoeg kry van die "Golden oldies" van
daardie tyd nie. Ek kon ook nie verstaan hoekom so baie Christene
die Here aan hulle kant wou kry as hulle nie van iets gehou het nie,
en dan boonop teksverse gebruik wat hoegenaamd nie in daardie
konteks pas nie.
En terloops, die rock groep AC/DC staan toe nie vir
Anti-Christ-Devil's-Child nie, dis wat mense opgedis het om by hulle
saak te pas. Ek noem hierdie net om 'n voorbeeld te gee van hoe ver
mense sou gaan.
Die ander ding wat my vreeslik verwar het is dat ouers hulle kinders
met die duiwel bang gemaak het as hulle stout was. "Die duiwel gaan
jou kom vang!!!" Oe, hoe bang moes 'n kind wees as hy veronderstel
was om in vrede en met sekuriteit in sy eie bed te klim in die nag.
En as die duiwel nie 'n goeie afskrikmiddel was nie, is die Here
daarvoor ingespan. "Die Here gaan jou kom straf!!!" Geen wonder dat
vele volwassenes nie die Here as 'n liefdevolle God kan sien nie, en
ook nie kan besef dat die duiwel deur Jesus aan die kruis verslaan
is nie. Nie eers te praat van die gedagte van genade wat deur Jesus
se bloed vir ons beskikbaar is nie.
Maar terug na my eie storie. Ten spyte van dit alles het ek my lewe
steeds saam met die kerk geleef, en het ek VELE liefdevolle, sagte
leraars ontmoet wat met groot deernis hulle gemeentes gelei het en
dit steeds doen. Vandag geniet ek daai musiek van die ou dae
verskriklik en ek is jammer vir mense wat deur die menslike foute
van ander 'n geestelike knou gekry het. Maar 'n ander mens kan nie
'n ondeurdringbare skans skep tussen jou en die Here nie, want Hy
reageer onmiddellik as jy die deur van jou hart oopmaak. Terloops,
daai klop aan ons hart is Hy, nog altyd, en Hy hou nooit op klop nie.
En daardie mense wat dalk vir jou die skrik op die lyf gejaag het
met God en met die bose, het ook volle toegang tot sy genade. En
voorts, Hy is nét so lief vir mense wat foute maak. Soos ek en jy
natuurlik.
Toe ek sit en wonder hoekom my lewe dan die pad geloop het soos dit
gebeur het, het die eerste paar woorde van hierdie teks by my
opgekom.
"Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom
het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal
gesterwe het." (2Kor.5:14)
Die liefde van Christus dring ons...
Ek kan daarvan getuig in my eie lewe. ~ Willem Botha, 18/07/2022 |
|
Jan Brand het gesê....
As jy hierdie woorde lees het jy net een van twee reaksies.
* Huh? Wie op aarde is Jan Brand? As jy dit vra is jy nog redelik
jonk.
* Of jy sal die sêding klaarmaak "... alles sal regkom". Dan is jy
heelwat ouer.
Ek het grootgeword met die gedagte van "Jan Brand het gesê: Alles
sal regkom." Ek het altyd gedink dis sommer net iets wat iemand
uitgedink het, maar nee, Jan Brand was 'n politikus wat van
1823-1888 geleef het en hierdie was sy bekende leuse.
Maar sal dit regkom? Regtig? Was Jan Brand reg? Hoekom sien ek
hoegenaamd nie dat ons in die regte rigting beweeg nie? Jan Brand
het geen idee waardeur ons tans gaan nie.
Ek lees vanmiddag 'n nuus artikel (hoekom op aarde doen ek dit???)
van een van die politieke party leiers wat een of ander goor ding
kwytraak en die vlamme slaan soos altyd by my ore uit. Die reaksies
van lesers op die artikel stook my natuurlik al hoe verder in my
kwaad en ek voel vreeslik onchristelik, maar toe reageer een vrou
met hierdie volgende vyf woorde wat my totaal tot stilstand ruk: "Mag
God ons genadig wees". My omgekraptheid het plek gemaak vir 'n
gelatenheid wat my eintlik verbaas het. Ek het besef ons land word
nie bedreig deur 'n oorlog, of (vir nou) 'n burgeroorlog nie. Ons
bedreiging lê in politieke onwilligheid en onvermoë van "leiers" om
ons deur die moeras te kry en ek sien dat net 'n bonatuurlike
wonderwerk weer vir ons 'n goeie toekoms sal gee.
Terug na Jan Brand, sy leuse het 'n voorwaarde aan gekoppel. Dit sê:
"Alles sal regkom AS ELKEEN SY PLIG DOEN!"
Ek weet nie meer wat om te bid en wat om vir die Here te vra nie.
Moet ek bid dat elkeen in daardie hoë posisies tot bekering sal kom?
Sal mense dan hulle plig doen? Moet ek bid dat 'n ander politieke
party die regering sal oorneem? Ai tog, wie is hulle wat dan wel
hulle plig sal doen? Ons moet maar net bly vashou daaraan dat God
ons genadig sal wees. Ek weet dat ek weet dat ek wéét dat die Here
tog dinge kan laat verander. Dit het tog wêreldwyd baie kere gebeur,
ook in ons land.
Nou ja, mag "... as elkeen sy plig doen" dan ten minste vir ons self
waar wees. Kom ons doen maar ons plig en kom ons doen wat reg is.
Mag God ons genadig wees. ~ Willem Botha, 14/07/2022 |
|
Moet tog nooit jouself as maar net nog een van
die ander lewende wesens op aarde sien nie. Jy is nie maar net "nog
'n dier" nie. Jy is nie maar net een of ander voortvloeisel van die
skepping waar God besig was met diere en voëls en visse nie. God het
nie die mens geskep as een of ander "after thought" nie. En nee, ek
glo hoegenaamd nié dat die mens maar net ontwikkel het uit een of
ander primaat nie. Soos iemand gesê het: jóú pa mag miskien 'n aap
gewees het, maar my pa is vir seker nie. Die mens is fyn beplan om
selfs te heers oor die skepping. In die twee skeppingsverhale word
die skepping van die mens onderskei van dié van die diereryk, en
selfs genoem dat jy na die beeld van God geskep is, en dit word
hoegenaamd nie van enige ander skepsel gesê nie.
Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger,
ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in
die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die
aarde kruip. God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as
beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle
geskep." (Gen. 1:26-27)
"Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en
lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword
het." (Gen. 2:7)
Die mens is uniek en dis dit, en jy hoef regtig nie 'n super
wetenskaplike te wees om dít raak te sien nie.
Die mens is só uniek, dat elkeen sy eie stel vingerafdrukke het, sy
eie unieke DNA merkers, elkeen lyk verskillend (behalwe identiese
tweelinge natuurlik), jy het jou eie kwaliteite en jou eie gewoontes.
En daarom glo ek dat God met elkeen verskillend handel, net soos jy
met jou eie kinders verskillend handel. Geen dier kan so intelligent
kommunikeer nie, geen dier hunker na sy Skepper nie, geen dier se
intellektuele vermoëns neem toe soos 'n mens nie en geen dier hou
aan om tegnologie te ontwikkel nie. Jy maak kos op 'n unieke manier
en die mens verbou kos om vir miljoene ander te help sorg. Die mens
het selfs (na bewering) op die maan gestap.
Die mens se vermoë om te haat en te vernietig is skrikwekkend, maar
sy vermoë om lief te hê, te koester, te versorg en in gesonde
langtermyn verhoudings te opereer, is uniek.
Al is jy dalk nie lus om dit te glo nie, is die mensdom van nature
meer goed as sleg, en streef meer na vrede en voorspoed as na chaos,
het meer lief as wat hy haat en sal steeds eerder help as om sy rug
te draai op iemand in nood. Moenie verstrik raak in negatiewe
gedagtes en selfhaat nie, want die Here weer presies waar hy jou wil
hê en gebruik, en wat jou doel (purpose) in die lewe is. Jy is van
stof gevorm, daar is lewensasem in jou neusholtes geblaas, daar is
'n klomp liefde in jou ingeplant en jy het die vermoë om die wêreld
te help verander. Die Here sê jy moet heers, nou heers dan. Die Here
sê jy moet 'n verskil maak, gaan maak dan 'n verskil, die Here sê jy
moet liefhê, gaan stort dan daai liefde uit.
Lewe, lewe voluit, vir Hom, vir jouself en vir andere. ~ Willem
Botha, 11/07/2022 |
|
“U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my
teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ’n eregas, ek word
oorlaai met hartlikheid.” (Ps. 23:5) Daar het jy dit nou! Jy is
genooi! Die Here het ’n feesmaal vir jou voorberei. Om die waarheid
te sê, jý is die eregas. Hy wag vir jou langs die feestafel met
arms vol goedheid, guns en genade. Hy bedien jou met hartlikheid en
aanvaarding en liefde. Daar is blydskap, vrede en vergifnis op die
spyskaart. Die Gasheer het ook troos, hoop en raad voorberei. Hy
skink van Homself totdat jou beker oorloop. Hy salf en seën jou daar
waar jy aansit. Alles is in oorvloed. Dit laat my dink aan die
woorde wat ek soveel keer gehoor het by die bediening van die
nagmaal: “Broers en susters, alles is gereed; kom na die tafel van
die Here. Kom, en word versterk in die geloof.” Alles is gereed vir
jou en my. Kom sit aan by die feesmaal en geniet van alles. Kom en
word versterk vir die lewenspad. ~ Wilna Botha, 07/07/2022 |
|
Apie
Ek het vandag, 45 jaar gelede, vir Apie ontmoet. Ek onthou baie goed
sy slierterige lang hare en ons het op dieselfde trein gery. Hy was
luidrugtig, het simpel grappies probeer maak en dit was gou duidelik
dat Apie bietjie "anders" was. Nadat ons almal se hare bykans
poenskop gesny was, het ons mekaar nie meer juis herken nie. Ons het
immers net daardie oggend vir die eerste keer in mekaar se lewens
ingekom en ons twee jaar diensplig het begin.
Hulle het nogal snaakse maniere in die weermag, as een ou nie
saamwerk nie, word almal gestraf. En so het ons gereeld afgechop oor
Apie, en die ouens in tentnommer B5 waarin Apie was, is gereeld
gestraf vir sy slordige inspeksies, die feit dat hy en sy klere
altyd vuil was en dat hy regtig nie lekker geruik het nie. Na 'n
paar weke het ek eendag vir Apie verwese buite sy tent sien sit op
sy trommel. Alles was uitgegooi, die staalkas, trommel en sy bed
saam met al sy besittings. Ons ouens van B2 het toe besluit om vir
Apie in te neem en hom met aanvaarding en deernis te probeer
verander. Apie het stort gehaat en saans as ons almal saam op pad
was om te gaan stort het hy telkens tussen neus en oë verdwyn. En
dan hardloop ons almal maar weer vir Apie se foute. Ons het eendag
selfs vir Apie met 'n harde weermag besem in 'n 44 gallon drom
geskrop dat die velle waai. Die verblyf in ons tent het nie lank
gehou nie en een aand het ek ook vir Apie uitgegooi en hy het in die
"boiler room", waar ons die donkie gestook het vir warm water, gaan
slaap. Maar na 'n paar dae het hy gedros en ons het hom nooit weer
gesien nie, en ek glo die weermag het hom ontslaan. Mens sou kon sê
Apie was hierdie samelewing se "lost case".
Hierdie wêreld het nie voorsiening gemaak vir Apie nie en dit blyk
dat sy ouerhuis baie ongunstig was vir 'n "normale" opvoeding, en ek
glo die skool sisteem was ook nie na wense nie. Hy kon beswaarlik
lees en skryf.
En op hierdie dag van vandag, 45 jaar later, het ek vanmiddag met 'n
knop in my keel gestaan en vir die Here vergifnis gevra oor Apie,
omdat ek hom ook verwerp het. Watse kans het hy in die lewe? Wat was
sy kans op goeie opleiding en 'n goeie betrekking? Wat is die kans
dat Apie 'n goeie, standvastige, huwelik sou hê en kinders in 'n
gelukkige atmosfeer sou grootmaak? Ek glo ek ken daardie antwoord.
Maar hier is 'n uiters moeilike vraag wat by my opgekom het. Sou
Apie op die "gewone" tradisionele manier by die Here uitkom? Ek het
immers in 'n standvastige, Christelike huis grootgeword, maar wat
van Apie? Ek ken ongelukkig nie daardie antwoord nie, maar ek weet
vir seker dat mense en die samelewing vir Apie verwerp het. Sou die
Here hom ook verwerp het? Nee, vir seker nie! Sou die Here van Apie
verwag om op dieselfde manier as derduisende Christene die weg na
saligheid sou volg? Ek glo nie, want ek dink ek is reg as ek sê dat
die Here vir Apie met al sy probleme vreeslik liefgehad het, en dat
Jesus ook (soos by Lasarus se graf) hartseer sou wees en huil oor
Apie se moeilike lewe en dalk oor soveel verkeerde besluite. Dalk
leef Apie nie meer nie, dalk was hy selfs in die tronk of het hy 'n
boemelaar geword, maar een ding weet ek sonder twyfel, en dis dat
die Here vir Apie net so lief sou wees soos vir enige vroom,
godsdienstige mens. Ek bid dat Apie ook die ewige lewe sal hê, en
die liefde en ontferming van die Here sou beleef, en dat hy iewers
in sy lewe, of dalk in die lewe hierna, baie baie gelukkig sal wees.
~ Willem Botha, 06/07/2022 |
|
“Daar het hulle vir
Jesus ’n ete gegee.” (Joh. 12:2) As daar nou ’n ete is waar ek ook
’n gas sou wou wees, is dit toe Jesus by Marta en Maria-hulle geëet
het. Lasarus was aan tafel. Slegs ’n paar dae tevore het Jesus hom
uit die dood opgewek. Ek sou vir Lasarus wou sien en hom uitvra oor
sy ondervinding en ek sou wou hoor of hy nou heeltemal genees is van
die siekte wat hy gehad het. As ek daar was, sou ek vir Marta wou
help met huis skoonmaak, kos voorberei, tafel dek, skottelgoed was,
ens. Ek wonder wat het sy gereed gemaak vir die gaste. As ek die
geleentheid gehad het om vir Jesus ’n ete te gee, wonder ek wat sou
ek voorgesit het? Ek sou, soos Marta, ook wou hê alles moet perfek
verloop en ek sou, soos Marta, geskarrel het om alles klaar te kry
en ek dink ek sou, soos Marta, vies gewees het as my suster nie
bietjie handjie bygesit het om te help nie. En tog sê Jesus vir
Marta: “Marta, Marta, jy is besorg oor baie dinge, maar net een ding
is nodig ...” (Luk. 10:41) Marta (en Wilna), moenie só besig wees om
alles perfek te kry, dat jy nie aandag gee aan die gaste aan jou
tafel nie. Moenie só opgeneem wees deur die gejaag en gewerskaf van
elke dag, dat jy nie vir Jesus raaksien en nie tyd maak om net by sy
voete te sit nie. Dan was daar Maria – sy het baie duur olie gebring
en op Jesus se voete uitgegooi en dit met haar hare afgedroog. Ek
sou beslis ook na my asem gesnak het as ek Maria dít sien doen het.
Ek sou dalk ook, soos Judas, gedink het dat dit vermorsing is en dat
daar iets beter met daai geld gedoen kon word. Tog wens ek ek was
Maria, wat nie omgegee het hoeveel ek prysgee om myself aan Jesus te
gee nie, wat nie omgee wat die mense van my sal dink as ek die Here
op my eie unieke manier aanbid nie, wat openlik voor almal kan bewys
dat ek Hom liefhet en dat Hy belangriker is as enige iets anders.
Maria se daad was een van oorvloedige gee, diep liefde en ware
aanbidding en bewondering. Geen wonder dat Jesus gesê het: “Oral
waar die evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook
vertel word wat sy gedoen het, tot ’n herinnering aan haar.” (Mark
14:9) ~ Wilna Botha, 05/07/2022 |
|
In der dagen sat...
Ek dink jy kén hierdie spreekwoord, en ek glo jy sien ook om jou
mense wat nie meer moed het vir die toekoms nie, mense wat te veel
"punch" moes vat. Die virus, die omstandighede in Suid-Afrika,
gebrek aan 'n toekomsverwagting en dalk slegte lewenskwaliteit, kry
mense onder. Vir my ook partykeer.
Ek lees in Job 3 hoe hy sy geboortedag vervloek en dis vreeslik om
te lees hoe 'n man wat só 'n goeie lewe gehad het en wat só naby aan
die Here was, so verlore kan voel.
"Waarom het ek nie by my geboorte gesterf nie, net toe ek gebore is,
my laaste asem uitgeblaas nie? Waarom was daar knieë om my op neer
te sit, borste om my te voed?" (Job 3:11-12)
Ek wil nog iets hierby voeg. Ons was vir baie jare in verskillende
bedieninge betrokke, en met sommige van die goed het ons net nooit
vrug gesien nie, wat my vandag laat vra: Vir wat??? Was alles die
moeite werd? Was dié dinge wat baie van ons tyd en selfs van ons
lewensmiddele opgeslurp het, werklik die moeite werd?
Ek dink die wroeging kom as jy begin wonder of die wêreld tóg 'n
slegter plek sou wees as jy nie probeer het nie. En dalk voel jy ook
dat jy net nooit 'n verskil gemaak het nie, en of jy dit net sowel
sou kon opgee vir 'n "bad job".
Wel, ek lees 'n klompie verse later hoe Elifas die Temaniet vir Job
'n uitstekende perspektief gee op sy slegte situasie.
"Jy het self baie mense reggehelp en dié wat moed verloor het, het
jy weer moed ingepraat. Jou woorde het dié wat struikel, opgebeur,
dié wat wou val, het jy weer op gehelp. Nou het die ramp jou getref,
en jy is platgeslaan; dit het jou oorgekom, en jy is verslae.
Beteken dit dan vir jou niks dat jy God gedien het nie, gee jou
vrome lewe jou geen hoop nie?” (Job 4:3-6)
Ek kry 'n paar goeie lewenslesse hieruit:
* Moet nooit die vrug probeer sien nie, dis nie jou werk nie.
* Moenie glo daar is geen vrug net omdat jy dit nie kan sien nie.
* Jy het tonne dinge in die lewe vir mense gesê, en baie vir mense
gebid, wat wel 'n verskil gemaak het.
* Dalk kom die vrug eers baie later.
* Moet nooit opgee met 'n ander mens nie, die Here is nog besig.
* Moet nooit opgee met jouself nie, die Here vorm jou nog daagliks.
* Doen net dít wat nou voor die hand is, moenie die toekoms se dinge
nou al probeer aanpak nie.
* Vertrou die Here dat alles te goede sal meewerk. ~ Willem Botha,
04/07/2022 |
|
“Toe hy hom weer kom kry, skud ’n engel aan hom
en sê: “Word wakker! Eet!” (1 Kon. 19:6) En daar kry Elia nóg ’n
keer sy ete op ’n buitengewone, bo-menslike wyse: ’n engel bedien
hom met roosterkoek en water – twee keer na mekaar. Eers het die
kraaie vir hom kos gebring, toe die weduwee van Sarfat en nou die
engel. Elia was benoud en bang en het gevlug vir sy lewe – woestyn
in. Hy het onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood en
sommer vir die Here gesê om sy lewe te neem. Hy sien nie meer kans
nie. Alles is te veel vir hom. Hy is moeg en moedeloos. Hy is gereed
om op te gee. Daar onder die besembos het hy aan die slaap geraak en
daar is hy wakker geskud deur ’n engel wat vir hom kos gebring het.
“Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word. Toe
staan hy op en hy eet en deur die krag van die kos kon hy veertig
dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.” (1
Kon. 19:8) Was jy al bedien deur ’n “engel”? Het dit ook al met jou
gebeur dat jy moeg, depressief of hartseer was, dat jy verlore en
eensaam gevoel het, of siek was, of oorwerk was en dan het daar ’n
engel verskyn met ’n bord kos, of ’n pot tuisgemaakte sop, of ’n
lekker warm wegneem koffie, of ’n sjokolade? Dit het al met my
gebeur. As ons nie gevoed word met kos nie, sal die pad vir ons te
lank word, sal ons nie krag hê om voort te beur deur die woestyn nie.
Soms is mens net emosioneel só uitgeput dat jy nie kans sien vir
kosmaak nie, of fisies so flou dat jy nie na jouself kan omsien nie.
Dan, op die regte tyd kom die engel met die roosterkoek en die kruik
water en word jy emosioneel en geestelik en fisies versterk deur die
moeite en liefde wat iemand aan jou bewys met iets om te eet. Eet!
Anders sal die pad vir jou te lank word. ~ Wilna Botha, 30/06/2022 |
|
Die Here kan elke geknakte riet weer herstel,
Hy kan vir elkeen wat selfs alles verloor het, dubbel en dwars
vergoed met meer as wat ons kan dink. Ek praat nie per definisie van
materiële dinge nie, maar dit ook. Die Here kan elke las wat so
ontsettend swaar op jou skouers druk, in 'n oogwink afhaal en dit
namens jou dra. Die Here kan bo verwagting genees, maar al kom daar
nie genesing nie, kan Hy vertroosting in die plek daarvan gee, op so
'n mate dat 'n mens selfs terugkyk en op 'n manier sê: dit was goed.
Die Here kan ons land herstel, al voel dit of alles verlore is, want
Hy het al miljoene mense veilig deur woestynpaaie anderkant
uitgebring. Die Here hoor gebede, en selfs al het jy nie self die
krag om te bid nie, sal die Heilige Gees vir jou instaan. Al lyk dit
of daar net eenvoudig géén lig in die tonnel is nie, wag Hy steeds
daar in die duisternis, en sal Hy jou lei en sê: Kom, loop hierlangs.
Die Here sal jou nóóit verwerp nie, al kom daar tye wat jy só ver
van Hom af voel, want as jy terugdraai, staan Hy reeds daar met oop
arms en wag vir jou. Al voel dit of jy absoluut niks het om vir Hom
aan te bied in ruil vir sy genade nie, sê Hy steeds: Ek het reeds
alles en Ek het niks van jou nodig nie, kom net soos jy is. Al voel
dit of jou lewe net op geen manier vir Hom aanvaarbaar kan wees nie,
sê Hy steeds vir jou: Dis hoekom my Seun gesterf het. Al voel dit of
jy net géén krag het vir more nie, staan op en pak die bul by die
horings, want Hy bring die oorwinning. Al dink jy dalk dat Hy jou
heeltemal vergeet het, is jou naam steeds in sy handpalms uitgekerf
en kán Hy jou nie vergeet nie. Al voel jy heeltemal nutteloos, kan
jy gerus glo dat jy tot meer in staat is as wat jy kan dink, want
Jesus gee vir jou genoeg krag om groot hinderlae oor te steek. Al
voel dit of jy net val en val en val, kan jy weet dat Hy jou altyd
weer sal vang.
Al glo jy nie 'n woord wat jy nou hier gelees het nie, maak dit geen
verskil aan sy liefde, sy hele wese, sy grootsheid, sy almag en sy
soewereiniteit nie. Hy verander nie. Gee net oor. ~ Willem Botha,
29/06/2022 |
|
“Jy kan water drink uit die spruit en Ek het
die kraaie beveel om daar vir jou te sorg.” (1 Kon. 17:4) “Gaan na
Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ’n weduwee daar opdrag
gegee om vir jou te sorg.” (1 Kon. 17:9) Hierdie is vir my sprekende
voorbeelde van die Here se voorsiening en versorging vir sy kinders.
Op buitengewone maniere, anders as wat mens sou verwag, effe
onrealisties nie waar nie? Kraaie bedien vir Elia met brood en vleis,
twee keer per dag. Mens sou eerder verwag dat hulle self die vleis
sou opvreet of Elia se oë kom uitpik, maar tog gebruik die Here
hulle om op bonatuurlike wyse vir Elia te voed. Toe die spruit
opdroog, stuur die Here vir Elia na sy volgende onverwagte versorger,
die weduwee van Sarfat. Sy was op die punt om haar laaste meel en
olie te gebruik om vir haar en haar seuntjie kos te maak toe Elia
haar aansê om vir hóm ’n roosterkoek daarmee te maak. Sjoe, weer ’n
keer kom Elia se ete anders as wat mens sou verwag. Dis nie iemand
wat ’n spens vol kos en voorraad het nie. Dis nie iemand wat
mildelik sou kon uitdeel nie. Nee, die Here gebruik die weduwee wat
omtrent niks het nie. Sy is egter gewillig om wat sy het uit te deel,
omdat die Here so sê. Dit laat mens mos dink aan die weduwee wat
haar laaste sente in die offergawekis gegooi het en toe het Jesus
gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi
as al die ander. Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die
offergawekis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat
sy gehad het om van te lewe.” (Luk. 21:3-4) Die weduwee van Sarfat
se gehoorsaamheid is mildelik beloon deur die Here. Ons lees in 1
Kon. 17:16 hoedat die meel in die kruik en die olie in die kan nie
minder geword het nie en hoedat sy en haar seuntjie en Elia genoeg
gehad het om te eet totdat die droogte verby was. “Wie hom oor 'n
arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten
volle vergoed”, sê Spr. 19:17. Miskien is jy vanaand dié een vir
wie die Here op bonatuurlike wyse versorg en kan jy getuig van sy
voorsiening vir nog ’n ete op jou tafel. Of dalk is jy vanaand dié
een wat jou laaste roosterkoek moet weggee. Of dalk is jy vanaand
dié een wat een van jou baie roosterkoeke moet uitdeel. Doen wat jy
moet doen en die Here sal jou vergoed. ~ Wilna Botha, 28/06/2022 |
|
Adapt or die...
Ek vind my eie boodskap, wat ek self hier sit en skryf, bitter
moeilik om aan vas te hou. Soms raak dinge net eenvoudig onhoudbaar
as ek sien wat met ons land se leierskap aan die gang is, en hoeveel
korrupsie my swaarverdiende geld d.m.v. belasting moet finansier.
Genade, ek begin al wonder of dit nie 'n misdaad is om belasting te
betaal nie! Wel, ek sal sekerlik nie ver kom in 'n hof met hierdie
redenasie nie.
Ek sukkel om 'n toekoms te sien vir my kinders en hopelik eendag ook
kleinkinders, en ek sukkel om moed te hou vir myself vir my oudag.
Voorts verlang en terug na die omstandighede van my kinderdae, ek
verlang na die sorgelose dae toe ek en vroulief getroud is, ek
verlang na dae waar jy veilig in die middestad van Pretoria kon
rondstap, en ek verlang na dae waar ek nie heeltyd oor my skouer
moes kyk nie. Nou ja, daardie dae is geskiedenis, en dit gaan nooit
weer dieselfde wees nie.
'n Vriend het eendag hierdie ware woorde uitgespreek: Die ou wat die
beste af gaan wees in die toekoms, is die een wat die beste kan
aanpas te midde van slegte omstandighede. Hierdie volgende teks sê
vir my dat ons nie die eerste mense in die wêreld se geskiedenis is
wat so voel nie.
"Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die
gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my;
as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas. Maar dít sal ek ter
harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here
het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie,
dit is elke môre nuut. U trou is groot." (Klaag. 3:18-23)
Het ons vergaan? Nee nooit! Ek besit steeds 'n huis, rygoed, 'n
yskas met kos, meubels en huisraad en ek kan steeds vakansie hou so
nou en dan. Ek sou kon sê dat hierdie "weelde" deels deur my eie
werk en toedoen is, maar daar is 'n klompie dinge wat nié net deur
my eie toedoen is nie. Ons is geseënd met gesondheid, gratis
suurstof, sonskyn, tonne liefde, vrye beoefening van ons geloofslewe
en die tasbare liefde van die Here.
"..... daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre
nuut. U trou is groot." ~ Willem Botha, 27/06/2022 |
|
“As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur
die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en
oorgenoeg kos het om te eet!” (Eks. 16:3) Ai, die liewe klomp
Israeliete! Hulle is so pas op wonderbaarlike wyse bevry uit die
slawerny en swaarkry in Egipte. Hulle het so pas droogvoets deur die
Rietsee gekom en toegekyk hoedat die hele leërmag van die farao in
die water verdwyn. En nou verwyt hulle vir Moses. Hulle honger en
lus laat hulle terugverlang na Egipte. Hulle sê hulle sou liewer
dáár langs die kospotte wou sterf. En dan kom die groot dors ook nog:
“Waarom het jy ons uit Egipte laat optrek om ons en ons kinders en
ons vee van dors te laat omkom?” (Eks. 17:3) Is ons dalk saam met
dié klomp skuldig daaraan om die hele tyd terug te kyk na die goeie
ou dae, te verlang na dié tye toe dinge dalk makliker, goedkoper,
mooier, eenvoudiger was? “Moenie sê in die ou dae was dit beter as
nou nie; dit is nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie.” (Pred. 7:10)
Deur die hele tyd terug te verlang na daai kospotte, kyk jy dalk net
vandag se seëninge mis. Deur vas te haak by die ou dae benut jy dalk
nie vandag se geleenthede nie, besef jy nie vandag gaan oor ’n paar
jaar die “ou dae” wees nie. As jy vandag aanhou kerm en kla en
verwyt oor dit wat jy nie meer het of nie meer kan doen nie, gaan jy
dalk nie besef dat die Here se seëninge en versorging en uitkoms en
wonderwerke reeds op jou drumpel staan nie. “Toe het die Here vir
Moses gesê: Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die
hemel laat reën.” (Eks 16:4) Manna en kwartels - elke dag, genoeg
vir daai dag. Mag ons elke dag ons manna en kwartels sien reën op
ons. Mag ons dit elke dag met blydskap en dankbaarheid optel en eet
en geniet en tevrede voel omdat ons weet dat die Here ons nie
onversorg aan ons eie lot sal oorlaat nie. Onthou die kospotte van
die verlede, maar moenie vandag se manna en kwartels mis nie! En
bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” ~ Wilna Botha, 23/06/2022 |
|
En so, na 2 jaar met hierdie aaklige virus, kan
ons weer moed skep vir 'n redelike normale lewe, want dit lyk of
selfs die maskers binnekort iets van die verlede gaan wees. Maar "normaal"
is nie vir almal normaal nie, want baie mense het ongelooflik baie
verloor. Ek ken mense wat 'n geliefde verloor het, of selfs meer as
een, daar is mense wat hulle ondernemings verloor het en andere ook
in die proses hulle werk, huise en motors. Dit is baie sleg, want in
die proses is daar vele mense wat nie meer kans gesien het om met
hierdie lewe voort te gaan nie en iets drasties gedoen. Daar is min
dinge so tragies soos dit.
Daar is egter nóg dinge wat mens ten alle koste nie moet verloor nie.
En al het jy sover redelik heelhuids van die virus afgekom, sal die
nagevolge vir ewig gevoel word.
* Ons moenie ons fokus verloor nie, en dit gebeur baie maklik as dit
lyk of jy net teen 'n muur vaskyk. Daar ís lewe anderkant daardie
muur.
* Ons moenie ons doel (purpose) verloor nie, want dinge het dalk vir
'n ruk tot stilstand gekom, maar ons kan weer die drade optel en
streef na dít waarna ons vroeër gestreef het.
* Ons moenie ons hoop verloor nie, want ons hoop kan tog nie in
aardse dinge alleen wees nie. Die wêreld het dalk verander, maar die
Here het nie verander nie.
* Ons moenie liefde verloor nie, want ek glo ons het gesien hoeveel
mense vir mekaar omgegee het, en mekaar help versorg het. En dit was
tog net uit liefde vir die medemens.
* Wat daarmee saamgaan is verhoudings. Ons moet ook nie dít verloor
nie, want oor die hele wêreld heen het ons almal, die hele 7 biljoen
van ons, één gemeenskaplike vyand gehad waarteen ons saam geveg het,
en dis deur verhoudings wat ons staande kon bly.
* Ons moenie ons selfwaarde verloor nie, want moeilike tye maak dat
ons twyfel in onsself, en al het jy báie verloor, is jou vertroue en
geloof in jouself en jou vermoëns uiters belangrik.
* Ons moenie ons geloof verloor nie, want dis geloof wat jou laat
weet dat daar Iemand groter as jyself is. Ek glo met my hele hart
dat geloof die grootste deurslag gegee het dat ons steeds staande
gebly het.
* Die belangrikste van alles is om nie die Here te verloor nie. Dis
vir my nie dieselfde as geloof alleen nie, want geloof is 'n wyer
term as net geloof in God. As jy die Here verloor het, is daar vir
ons as Christene nie veel oor nie, want ons lewe is immers in ons
verhouding met Hom verweef, en as ons Hóm verloor, is ons halwe,
spartelende wesens wat ronddobber op 'n see met geen visie na enige
kant toe nie.
Tussen al die swaarkry was daar ook reuse wonderwerke, en ons moet
voortbou op die goeie wat hieruit gevloei het. Mag die Here ons
bewaar teen nog so 'n wêreld ramp.
Ek hoop en bid dat jy en ek 'n blink nuwe toekoms voor ons het. ~
Willem Botha, 22/06/2022 |
|
“Nog dieselfde nag moet julle die vleis eet.
Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter
kruie. Julle moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor
die vuur gebraai, met kop, pootjies, binnegoed en al. Julle mag niks
daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende
môre tog iets oor is, moet julle dit verbrand. Julle moet dit
haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie
in die hand. Dit is die paasfees van die Here.” (Eks. 12:8-11) Dit
is die Israeliete se laaste ete in Egipte. ’n Afskeidsete, ’n
afsluiting en klaarmaak met ’n swaar en bitter verlede, ’n
vooruitkyk na verlossing en vryheid, ’n verlange na die beloofde
land van melk en heuning. ’n Afskeidsete, maar gereed en voorbereid
vir ’n nuwe lewe. ’n Volmaakte lam word geslag, die bloed word aan
die bo en sykante op die deurkosyne gesmeer sodat die gesin beskerm
is en die dood nie in hulle huise sal kom om hulle te tref nie.
Hierdie fees sou elke jaar gehou word, die rituele presies dieselfde
om hulle altyd te herinner aan die swaarkry wat geëindig het en die
verlossing wat gekom het. So sou dit wees totdat Jesus, die
volmaakte Offerlam, ’n nuwe Paasfees ingestel het met brood en wyn:
“Vat dit en eet dit ... dit is my liggaam ... Drink dit, almal van
julle. Dit is my bloed wat gaan vloei" (Matt. 26:26-27) “Elke keer
as julle hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle
die dood van die Here totdat Hy kom.” (1 Kor. 11:26) ’n Afskeidsete
van Jesus saam met sy dissipels, ’n afsluiting van sy werk op aarde,
’n belofte van sondevergifnis, ’n vooruitkyk na “die nuwe, hemelse
wyn saam aan die tafel van my Vader in die hemel.” En elke keer
wanneer ons weer die nagmaal vier is dit ons herinnering aan swaar
en bitter tye wat verby is. Ons versekering dat God vír ons is, dat
niks ons uit sy hand sal ruk nie, dat alles ten goede sal meewerk. Ons
herinnering dat ons vrygemaak is, nie meer slawe van sonde, nie meer
vasgebind deur die verlede nie. Ons herinnering dat ons op pad is na
die Beloofde Land. Ons mag nooit verveeld raak met die rituele van
die nagmaal nie. Ons moenie dit oorslaan of gering ag nie. Ons
moenie net eet en drink sonder om terug te dink en met vreugde
vooruit te kyk nie. Ons mag nie net eet en drink en onveranderd
voortgaan met ons lewens nie. Wanneer ons eet en drink, is dit met
skoene aan die voete en kierie in die hand, aangetrek en gereed,
opgewonde vir die reis wat voorlê. Die bloed van Jesus is aan die
kosyne van ons deure gesmeer en gesprinkel in ons harte. Ons is
veilig. Wees gerus en tevrede as jy die brood eet en die wyn drink.
~ Wilna Botha, 21/06/2022 |
|
"Die ontroue vrou het haar eie manier: sy eet
en vee haar mond af en sê: Ek het niks verkeerds gedoen nie.” (Spr.
30:20)
Hierdie teks raak my nogal op verskillende maniere aan as ek dink
waar mens dit orals kan toepas. Maar ek vertel jou eers iets wat my
regtig warm onder die kraag maak.
'n Paar sakemense het 'n klompie jare gelede 'n reuse beleggingskema
in Gauteng bedryf waar letterlik biljoene rand in belê was deur
privaat beleggers, waarvan die meeste pensionarisse was. Die skema
het platgeval en die direkteure het op 'n slinkse manier die
maatskappy tot niet gemaak, maar voortgegaan onder 'n ander
nuutgestigte maatskappy en steeds miljoene rande se salarisse en
bonusse vir hulleself betaal, terwyl die beleggers waarskynlik nie
'n sent van hulle pensioengeld gaan sien nie. 'n Vriend van my het
'n stewige sewe-syfer bedrag van sy erfgeld so verloor. Nou kom
hierdie bogenoemde teks ter sprake.
"... sy eet en vee haar mond af en sê: Ek het niks verkeerds gedoen
nie.”
Ja natuurlik is dit 'n sy of 'n hy.
Ek sien hoe mense geweldig skade ly wanneer die regstelsel
onskuldige slagoffers faal en iemand loop weg met 'n breë glimlag.
"... sy eet en vee haar mond af en sê: Ek het niks verkeerds gedoen
nie.”
Ek sien hoe 'n huweliksmaat skotvry uit 'n huwelik stap en die ander
party (en die kinders) gebroke sonder 'n sent agterlaat deur dinge
te verdraai.
"... sy eet en vee haar mond af en sê: Ek het niks verkeerds gedoen
nie.”
Hoef ek jou te herinner hoe skelm mense in baie hoë gesagsposisies
ons swaarverdiende belasting geld verdoesel en hulleself verryk?
"... sy eet en vee haar mond af en sê: Ek het niks verkeerds gedoen
nie.”
Ek is sekerlik ook op 'n manier skuldig hieraan, en hierdie volgende
teks raak dit baie mooi aan.
" Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die
liefde by baie verkoel." (Matt. 24:12)
Waarmee is ons besig? Speel ons speletjies met God? Speel ons
speletjies met genade en vergifnis? Het ons al so afgestomp geraak
dat ons self nie meer weet wat ons doen nie? Of omgee nie?
"... sy eet en vee haar mond af en sê: Ek het niks verkeerds gedoen
nie.” ~ Willem Botha, 20/06/2022 |
|
Na 'n klompie weke in basiese opleiding in die
weermag kon ons ouers die eerste keer vir 'n dag kom kuier. Ek sal
daai dag nooit vergeet nie, want hoewel ek vreeslik na hulle verlang
het, kon ek nie wag vir die kos wat my ma saamgebring het nie. Dit
was uit hierdie wêreld, regte egte heerlike huiskos!
Nou lees ek in die Bybel van 'n man wat so lus was vir lekker kos,
dat hy die mees absurde ding denkbaar aangevang vir 'n lekker bord
kos.
"Op 'n dag terwyl Jakob lensiesop aan die kook was, kom Esau
doodmoeg uit die veld daar aan en sê vir Jakob: Laat my gou van die
rooi goed wegsluk, van daardie rooi goed. Ek is doodmoeg! Daarom is
hy Edom genoem. Toe sê Jakob vir hom: Verkoop eers jou reg as
eersgeborene aan my. Esau het geantwoord: Ek gaan tog sterf. Wat
baat dit my om die eersgeborene te wees? Jakob sê toe vir hom:
Beloof my nou met 'n eed dat jy jou reg as eersgeborene aan my
oormaak. Esau het dit gedoen en so sy reg as eersgeborene aan Jakob
verkoop. Daarna het hy vir Esau brood en lensiesop gegee, en hy het
geëet. Toe hy klaar was, het hy uitgestap. Dit is hoe min Esau
gedink het van sy reg as eersgeborene." (Gen. 25:29-34)
Bid jou dit aan, jy verruil jou reg as eersgeborene vir 'n bord sop!
Die eersgeborene was nie sommer ’n hierjy storie nie. Hy sou ⅔ van
alles van sy pa erf en ook die familie se beheer en bestuur oorneem
en ná die pa se afsterwe neem die oudste seun die leiding van die
groep oor. Met daardie paar happe sop en brood verbeur Essau iets
wat baie kosbaar was lewenslank, en dit lei daartoe dat die oudste
die jongste sal dien. Lees Gen. 25 vers 23.
Kan kos, selfs net een enkele ete, so 'n vernietigende uiteinde hê?
Inderdaad, maar ongesonde eetgewoontes kan ook oor 'n baie lang
tydperk 'n mens se lewenskwaliteit totaal tot niet laat gaan en jou
lewe verwoes. Ek wonder of Essau ooit spyt gekry het oor daardie
enkele bord kos. Nou ja, hulle sê mos die pad na 'n man se hart loop
deur sy maag. Wat die hart van vol is, loop die bord van oor... ~
Willem Botha, 15/06/2022 |
|
“Gaan nooi hom huis toe om by ons te kom eet.”
(Eks. 2:20) Hier is ’n mooi Bybelse voorbeeld hoe ’n ete-uitnodiging,
hoe gasvryheid, hoe saam kuier om ’n tafel, iemand se lewe kan
beïnvloed. Deur iemand in jou spasie toe te laat, iets van jouself
en jou goed met hom te deel kan iemand dalk motiveer, dalk troos,
dalk help met ’n groot besluit, dalk geliefd en belangrik laat voel.
Moses het gevlug uit Egipte na Midian nadat hy ’n Egiptenaar
doodgeslaan het wat een van die Israeliete mishandel en geslaan het.
Daar sit hy en rus by ’n put toe die sewe dogters van ’n priester
van Midian daar aankom. Hy was behulpsaam teenoor die dogters en het
hulle ook beskerm teen veewagters wat hulle wou verhoed om water te
skep. Toe die dogters hul pa hiervan vertel, sê hy: “Waarom het
julle die man daar laat staan? Gaan nooi hom huis toe om by ons te
kom eet.” En net hier word die verloop van Israel se geskiedenis
beïnvloed. Moses gaan bly by die priester van Midian en trou met sy
dogter Sippora. Daar het Moses vir baie jare gebly en vir sy skoonpa
gewerk deur sy vee op te pas, totdat die Here hom by die brandende
doringbos ontmoet het en hom geroep het om die Israeliete uit Egipte
te bevry. Dit tref my hoedat een uitnodiging na ’n ete die verloop
van Moses se lewe en die hele Israel se toekoms beïnvloed het.
Hoedat dit blyk dat iets wat onbenullig en alledaags is, iets wat
heel toevallig gebeur, deur God se wysheid en almag en
voorsienigheid ontwerp is om sý doel te bereik. “A casual transient
occurrence has sometimes occasioned the greatest and happiest turns
of a man's life”, sê iemand hieroor. Dink net, ’n uitnodiging aan
iemand na ’n eenvoudige ete by jou huis, kan dalk ’n groot invloed
hê. Dit kan moontlik daardie persoon se lewe verander en dit kan
dalk jou lewe verryk. Dit hoef nie ’n vyfgang ete te wees of iets
uit die boeke nie. Iets gewoon en eenvoudig soos ’n beker koue water
is dalk genoeg. Ja, ek weet dis makliker gesê as gedoen! Ek is
gewoonlik bietjie lui vir sulke uitnodigings, bietjie onwillig om
iets op te offer, bietjie traag om ander in my huis in te nooi,
bietjie suinig met my tyd, bietjie onseker oor my kosmaakvermoëns en
so gaan my lys verskonings aan. “Moenie nalaat om gasvry te wees
nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle
dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” (Heb. 13:2) ~ Wilna
Botha, 14/06/2022 |
|
Segen Vader Segen sop... AMEN
Die mens is 'n unieke wese, en sy bestaan en oorsprong fassineer my
vreeslik. God skep die mens op dag ses, maar ek sukkel om 'n
prentjie te vorm van die gebeure toe God vir Adam gemaak het. Ek glo
die Here het elke spesie na sy aard geskep, maar die mens is baie
spesiaal, want hy is na God se beeld gemaak. Toe ek en 'n vriend
onlangs daaroor praat, vertel hy vir my van iets wat hy in 'n boek
gelees het. Ek was totaal verstom, en dis iets wat ek sekerlik weet
maar nog nooit aan gedink het nie. Ek deel dit graag met jou.
Die mens is die enigste lewende spesie wat voedsel kan verwerk, 'n
resep kan lees, verskeie voedselsoorte bymekaar kan sit en baie
smaaklike etes kan voorberei. Dink net wat is alles nodig om 'n
toebroodjie te maak, van die verwerking van meel, die bak van die
brood, die maak van botter en alles wat jy graag op die toebroodjie
wil sit en jy kan hom selfs rooster. Daardie vermoë het geen ander
spesie nie. 'n Leeu jag 'n bok maar hy maak hom nie gaar nie, miere
sit kos weg vir die winter maar verwerk dit nie, 'n aap pluk 'n
piesang (hy skil hom weliswaar af) en eet hom net so op. Wel, enige
bobbejaan kan dit seker doen, of hoe? Maar die mens maak vuur,
verwerk kos om vir lank te kan hou en kan dit selfs vries.
En dan lees ons in Prediker dat ons dit gerus mag geniet. Ek en
vroulief wonder toe waar in die Bybel ons die eerste keer lees dat
voedsel verwerk word. Wel, Noag het na die sondvloed 'n wingerd
geplant, wyn gemaak en hom dronk gedrink. Ons lees in Genesis 9 dat
Abraham drie besoekers kry en vir Sara opdrag gee om sestien
kilogram meel se roosterkoeke te bak om sy gaste te voed.
En dan, eventueel lees ons dat Jesus sê dat Hy die brood is wat lewe
gee, en dat ons nooit weer geestelik honger hoef te wees nie.
Ons is baie uniek gemaak, meer as al die diere, omdat ons anders is
in vele opsigte. Onder andere dat ons die vermoë het om daardie Een
wat die Brood is wat lewe gee, kan soek, na Hom hunker, Hom ontdek
deurdat ons kan lees, inligting versamel en verwerk, 'n keuse kan
maak en Hom aanbid. Ons is meer as diere, ons is uniek en ons het
ook die vermoë om Hom lief te hê. 'n Dier is anders, en jy en ek
moet 'n bietjie reflekteer oor hierdie gedagte. Neem verwerkte kos
en drank (wyn en brood) en herdenk jou uniekheid met nagmaal. Jy is
deel van die enigste spesie wat dit kan doen. ~ Willem Botha,
13/06/2022 |
|
O koek, dink ek vandag terug aan die Referendum
in 1983 waar jy Ja of Nee moes stem oor die politieke pad vorentoe
in Suid-Afrika. Genade ons het mekaar se hare getrek, en nie eens te
praat van verkiesings in die ou dae nie. Ons het gestry dat die
spoeg spat en mekaar darem maar goed sleggesê as die ander ou van
jou verskil. Ons het oor letterlik alles gestoei; die politiek,
rugby, godsdiens, oor kinders grootmaak, karre, die toekoms, die rol
van Suid-Afrika in die Angola oorlog en sommer goed so simpel soos
botter vs margarine en ander lawwe dinge ook. En die ou wat nie saam
met jou gestem het nie was 'n propperse dwaas. En boeta as jy nou
lekker pret wil hê, gaan kyk op verskeie groepe op Facebook, dáár
raak dit rof. En net toe ek dink die mense begin verstand kry en
stry minder, toe tref Covid ons. Ai, en daar gaan dit - soos die
kinders sou sê - "viral". Die oorsprong van die virus, die merk van
die dier en dan natuurlik die groot gunsteling: Die inenting!!!
Lekker man lekker, "no dull moment"! Tans is dit rustig, maar wag
maar, dit kom weer. En weet jy wat? Elke enkele woord wat daaroor
gespreek is was net 'n mors van tyd. Hoekom redeneer met 'n dwaas?
Is dit die moeite werd? Die beste antwoord wat ek kan kry, is Ja én
Nee.
"Moenie 'n dwaas se vraag op net so 'n dwase manier beantwoord nie;
hy sal dink jy is soos hy. Beantwoord 'n dwaas se vraag op net so 'n
dwase manier, anders dink hy hy het wysheid." (Spr. 26:4-5)
Daar het jy dit! Moenie met hom stry nie, ja stry met hom. Hang
seker net af waaroor dit gaan, maar dit kan verhoudings nogal erg
vertroebel. Jy sien, jy kry mense wat nie weet waar om die streep te
trek met opinies nie. Hulle sal stry, terwyl die ander party glad
nie eers aan die gesprek deelneem nie, en vir jou kwaad word vir
iets wat jy glad nie eers gesê het nie.
Maar nou ja, soos wat ons die Bybel ken is daar ook iets te lees
daaroor.
"Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig;
en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord." (Kol. 4:6)
Ek wens net daar kan 'n rooi lig by my aangaan as ek self die dwaas
is. ~ Willem Botha, 09/06/2022 |
|
As ek die skeppingsverhaal in Gen. 1 lees, dan
besef ek die Here het ons as mens geskep met ’n behoefte na kos. Hy
het die mens geskep en Hy het gesorg dat daar vir hom iets sal wees
om te eet: “Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op
die hele aarde; ook al die bome wat vrugte en saad gee. Dit sal
julle kos wees.” (Gen. 1:29) Verder sien ek dat die Here nie net
vir ons kos voorsien sodat ons aan die lewe kan bly nie, Hy gee ook
vir ons kos om te geniet. Ons eet mos vir die lekker ook! Daar is so
’n lawwe uitdrukking wat sê: ek eet nie om te lewe nie, ek lewe om
te eet! Of soos Paulus in 1 Kor. 6:13 daarna verwys: “Kos is vir die
maag en die maag vir kos.” (uit verband aangehaal, ek weet!) “Die
Here God het verder allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om
van te eet, uit die grond laat uitspruit.” ( Gen. 2:9) Lekker om van
te eet! Dis interessant dat die enigste voorskrif wat God vir Adam
en Eva gegee het, oor eet gegaan het – van die boom in die middel
van die tuin mag hulle nie geëet het nie. En natuurlik het die
eerste verleiding en oortreding ook met etery te doen gehad, toe die
slang vir Eva uitnooi om van die verbode vrugte te eet. As jy
vanaand lekker kos het om te eet, geniet dit en dank die Here
daarvoor. “Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak
nie?” (Pred. 2:24) “Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met
’n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen.” (Pred.
9:7) ~ Wilna Botha, 07/06/2022 |
|
Dit krap my nogal om as mense andere kritiseer
wat met harde werk en tonne deursettingsvermoë, wat risiko's neem en
baie kreatiwiteit aan die dag lê, slegsê juis omdat hulle welaf is.
Jy ken mos daai tipiese woorde: Die ryk ou dinges is so suinig hy
kan vrek, diep sakke maar kort armpies! Of: Hy is so ryk want hy
misbruik sy werkers mos en hulle kry swaar terwyl hy in weelde leef.
Daar is baie wat ons daaroor kan sê, maar 'n ryk man skuld jou niks,
heeltemal niks! Dis 'n moeilike saak hierdie, want die Bybel praat
oor albei kante, maar ons kies maar om te lees wat ons pas. Daar is
superrykes wat verskriklik baie saai en ander help.
Maar kyk, as jy nou 'n regte egte suinige mens raakloop wat inhalig
is, is dit onuithoudbaar.
"Moenie by 'n suinige mens gaan eet nie, moenie sy lekker kos begeer
nie, want hy bly uitreken hoeveel dit hom kos. Dit is hoe hy is. Hy
moedig jou aan om te eet en te drink, maar hy bedoel dit nie. Jy sal
naar word van wat jy eet en jou komplimente sal verkwis wees." (Spr.
23:6-8)|
Dít is nou nogal 'n mondvol, of hoe?
Die Bybel praat op verskeie plekke oor hierdie aaklige ding van
inhaligheid, en jy hoef hoegenaamd nie ryk te wees om inhalig te
wees nie, maar jy hoef ook nie ryk te wees om vrygewig te wees nie,
daar is mooi balans. Ek sê graag dat jy soms die Bybel se waarhede
kan toets deur die Bybel vir 'n rukkie opsy te skuif. Hierdie
volgende tekste is net so waar by Christene as nie-Christene.
"Wie baie vir ander gee, word al hoe ryker. Wie suinig is, word al
hoe armer." (Spr. 11:24)
"Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal
volop oes. " (2 Kor. 9:6)
"Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat 'n
mens saai, dit sal hy ook oes." (Gal. 6:7)
Gaan toets gerus hierdie waarhede in die dag tot dag lewe.
Voorts kan iemand met 'n toe hand wat nie kan gee nie, ook nie
ontvang met daardie toe hand nie.
Dan is daar mos die moeilike vraag of ek voor die voet moet gee vir
almal wat vra. Nee, gewis nie, want soms onderhou ons daarmee die
gewoonte wat mense het wat te lui is om te werk. Ek praat natuurlik
nie van mense wat fisies nie in staat is om te werk nie, en daar
móét ons volop saai. Dit is darem maar lekker om iemand te seën met
iets, vernaam as hulle dit nie verwag nie.
Laastens, nie alles wat jy besit is joune nie, soms is dit net ín
jou besit, en dis daar waar die Here rentmeesterskap van jou vra.
Gee liewer meer as minder, doen jouself maar soms bietjie te kort,
want dit kan dalk net veelvoudig terugkom. En terloops, daardie
kelner by die restaurant kry nie 'n salaris nie, hulle werk nét vir
fooitjies, hulle moet soms tot laat skoonmaak, en kom baie baie laat
tuis.
Stort maar gerus 'n bietjie van daardie genade wat die Here vir jou
gegee het, op ander uit. Dit voel mos lekker. ~ Willem Botha,
07/06/2022 |
|
Om brood te breek ... Ons kan mos nie saam met
vriende kuier of as familie bymekaarkom sonder dat daar kos (gewoonlik
báie kos) en drinkgoed is nie. In ons gesin is dit beslis so. En as
ons besluit het ons kuier Sondag is die eerste vraag: wat gaan ons
eet? Dis mos so met Kersfees, met Vadersdag, verjaarsdag, troues,
begrafnisse ... noem maar op. Ons kuier met kos, ons vier fees met
kos, ons troos mekaar met kos, ons bederf mekaar met kos, ons sê
dankie met kos. Dan is daar natuurlik ook altyd ietsie te ete by
vergaderings, werksfunksies en gemeente byeenkomste. Vir elke
geleentheid is daar kos en ’n gekuier rondom die tafel. Ons is
gelukkig om ’n groot tafel te hê wat eers my ouers s’n was. Rondom
daai tafel is daar al baie geëet en saam met die kos is daar rondom
daai tafel al baie gepraat, diep dinge en belangrike dinge, daar is
besluite geneem en raad gegee. Daar is baie gelag en daar is al
gehuil langs daai tafel. Daar is vriendskappe gesmee en gebou langs
daai tafel. Daar is so ’n mooi uitdrukking wat mense gebruik wat sê:
ons breek saam brood. Dit beteken baie meer as om net ’n maaltyd
saam met iemand te nuttig. Dit beteken dat jy jou kos en jouself met
iemand deel. Dit beteken daar is ’n kameraadskap tussen julle, ’n
spesiale band, ’n emosionele en geestelike band. Ek dink dié term
het ontstaan toe Jesus saam met sy dissipels aan tafel was en Hy die
brood gebreek het en gesê het: “Dit is my liggaam wat vir julle
gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” (Luk. 22:19). Of dalk
toe Jesus die twee vissies en vyf brode gebreek het en uitgedeel het
aan ’n honger menigte in Joh. 6:11. Die breek van die brood sê vir
my dat Jesus Homself gegee het. Die Brood wat lewe gee is gebreek
en verniet uitgedeel en is onbeperk vermenigvuldig sodat ek en jy
ook vandag daarvan kan eet. Is daar genoeg sodat jy ook vandag ’n
stukkie brood saam met iemand kan breek? ~Wilna Botha, 02/06/2022 |
|
Ek leef al so ongeveer 23000 dae, en in hierdie
dae het ek nog nooit doodgegaan nie, nooit ernstig siek gewees nie,
nooit honger gaan slaap nie en nog altyd voorspoed beleef.
In hierdie 23000 dae het ek duisende kere 'n pad veilig gekruis,
derduisende kilometers veilig afgelê, ek het deur harde dae in die
weermag gegaan, 'n aanval op die grens oorleef en ek kan die Here se
hand in my en my gesin se lewens sien. Ek was egter wel vele kere
byna in 'n ernstig ongeluk, ek het eenkeer in 'n rewolwer se loop
ingekyk en daar was 'n paar fratse wat sleg kon uitdraai.
Wat ek egter nié weet nie, is hoe amper 'n slang my dalk kon pik, of
'n ongeluk kon gebeur as ek 'n paar sekondes vroeër of later iewers
heen sou ry, of 'n operasie kon dalk net anders afgeloop het, of ek
kon dalk op die pad sterf as die vervlakste korporaal nie op nommer
99 my naweekpas gekanselleer het nie.
Maar hier is ek nou, springlewendig na 23000 dae en ek kan met
dankbaarheid terugkyk op my lewe. Maar môre? Wat van môre , of
oormôre? Ek weet nie, en gelukkig hou die Here daardie kennis weg,
en dit is natuurlik nét goed.
Al wat my te doen staan, is om vir die Here die lof en dank te gee,
na 23000 dae van genade.
"As 'n mens lank lewe, moet jy oor alles dankbaar wees. Maar jy moet
onthou dat die donker dae van die dood wat kom, ook baie is." (Pred.
11:8) ~ Willem Botha, 01/06/2022 |
|
“In u barmhartigheid het U aan hulle redders
gegee ...” (Neh. 9:27) “U het u goeie Gees gegee om hulle te
onderrig, U het u manna nie van hulle teruggehou nie, u het vir
hulle water gegee vir hulle dors.” (Neh. 9:20) Hier is nóg vier
dinge waaroor Nehemia-hulle die Here prys in hulle gebed en lofsang.
(1) Redders – keer op keer was daar weer ’n nuwe koning, ’n profeet,
’n helper wat vir die volk rigting kom gee het, vir hulle ’n nuwe
pad aangewys het, hulle gelei het om hulle vyande te verslaan sodat
hulle rus en vrede kon ervaar. O, hoeveel te meer het óns rede om te
sing! Dié ware Redder, Jesus Christus het gekom om ons finaal te
verlos van ons vyand, om vir ons ’n nuwe pad aan te wys, om vir ons
vrede te gee en ons uit te nooi om in Hom te kom rus. “En ons het
gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die
wêreld gestuur het.” (1 Joh. 4:14) Het jý die Redder gesien? Het jý
die Redder in jou lewe toegelaat? (2) Goeie Gees – die Here se Gees
was altyd daar om die volk te lei, maar óns het die Heilige Gees
binne-in ons. Ons Trooster, ons Helper, ons Leier, ons Gewete. Het
jy die Heilige Gees as gawe ontvang en laat jy Hom toe om jou lewe
te beheer of staan jy sy werking tee en hou jy jou dalk doof vir sy
stem? Of dalk twyfel jy of jy die Gees in jou het? Wel, lees dan Luk.
11:13 en vra die Vader om sy Gees opnuut in jou uit te stort. “Hy
sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” (3) Manna - só het die
Here vir sy volk gesorg met manna uit die hemel. Elke dag, genoeg
vir een dag. Onverklaarbaar en onverdiend en verniet. O, hoeveel te
meer het ons rede om te sing! Die Here het vir ons ewige Brood gegee.
“Maar Jesus sê vir hulle: ‘Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My
toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit
weer dors kry nie.’”(Joh. 5:35). Kom, eet van dié brood, verniet en
onverdiend en mag dit jou siel versadig. (4) Water – die Here het sy
volk se dors geles met water uit ’n rots. Onverklaarbaar en
onverdiend en verniet. O, hoeveel te meer het ons rede om te sing!
Die Here het vir ons lewende Water gegee. “... maar wie van die
water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit
dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n
fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”
(Joh. 4:14) “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” (Joh.
7:37). Kom, almal wat dors het, kom na die water toe! ~ Wilna Botha,
31/05/2022 |
|
Ses sterk manne...
Ek was vanoggend tot in my wese geskok, en dit was nie die eerste
keer nie, dit het al baie gebeur. Ek lees 'n artikel wat gaan oor 'n
welsyns-been van 'n kerklike denominasie wat gedagvaar word oor een
of ander iets. Ek kon dit gelukkig nie lees nie en kan dus nie 'n
mening daaroor gee nie. Maar wat skokkend was, is mense se reaksie
op die artikel, en nie oor die saak soseer nie, maar aanvalle op die
"kerk" (hoe jy dit ook al wil definieer), Christene, gelowiges en
mense en bewegings wat met geloof in die Here te doen het. Ek het
onmiddellik gedink dat hierdie aanvalle eerder teen die Here is. Ja
die kerk is vol foute, en daar is mense met voete van klei en
sondaars en skynheiliges by die duisende. Ek weet, ek is een.
Die eerste ding wat in my kop inkom is om te reageer daarop, maar
toe besef ek dat ek nie die Here se eer hoef te verdedig nie, en ek
kan in elk geval nie. Terwyl ek in my wese veg daarteen stuur 'n
vriend vir my 'n boodskap wat my tot in my fondament skud, en ek wil
'n element daarvan gebruik.
Die meeste mense wat so roekeloos is oor die Here en sy plekke van
samekoms, sal wel weer 'n draai daar gaan maak. Nie almal nie, maar
waarskynlik die meeste. Die meeste sal in so 'n samekoms ingeforseer
word, onwillekeurig, teen hulle sin en hulle sal magteloos daar
beland, sonder om dit te kan keer. Jy sien, dis moeilik om ses sterk
manne te oorrompel, vernaam in daardie omstandighede.
Jy wonder seker hoekom ses sterk manne. Wel, dis wat nodig is om 'n
lewelose liggaam in 'n kis in 'n samekoms van ander gelowiges in te
dra. Ses sterk, hartseer manne. Die meeste van ons gaan waarskynlik
deur ses sterk manne in so 'n byeenkoms ingedra word, dalk teen jou
sin. En dan gaan 'n prediker van 'n aard woorde oor jou siel
uitspreek, dalk woorde wat jou nou dwars in die krop steek, maar
daardie woorde gaan dalk vir die meeste mense wat agterbly hoop en
vertroosting bring. Mense sal vertel watse goeie mens jy was, maar
dit gaan niks help nie, want dan het jy reeds jou ontmoeting met jou
Maker gehad.
“So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en
elke tong sal bely dat Ek God is.” (Rom. 14:11)
Dan sal daardie ses sterk manne jou uitdra, en miskien na jou
liggaam se laaste rusplek neem. En dan sal iemand (teen jou sin) 'n
mooi teksvers ses voet bo jou kop op 'n klip aanbring.
Hierdie boodskap mag hard klink en ek vra verskoning daarvoor, maar
dít is die harde realiteit, as mense nie betyds erken dat Hy die
enigste God is nie.
“Daar sal julle huil en op julle tande kners wanneer julle Abraham
en Isak en Jakob en al die profete binne-in die koninkryk van God
sal sien, terwyl julle self buitentoe weggejaag word." (Luk. 13:28)
~ Willem Botha, 30/05/2022 |
|
“Maar God, U is bereid om te vergewe, U is vol
goedheid en ontferming, U tree met deernis en liefde op. Daarom het
U hulle nie aan hulle eie lot oorgelaat nie.” (Neh. 9:17, Die
Boodskap) “In U barmhartigheid het U hulle gered, keer op keer.” (Neh.
9:31) Ja, keer op keer staan die Here met oop arms gereed om die
verlore kind terug te verwelkom. Hy kom ons uit sy genade en
jammerte tegemoet, omhels en soen en vergewe ons, trek vir ons nuwe,
skoon klere aan en maak ’n fees gereed om ons terugkoms te vier, net
soos die pa van die verlore seun. Daar is altyd weer ’n kans om op
te staan. Daar is altyd weer ’n kans om terug te draai. Daar is
altyd weer ’n kans om oor te begin. Want ons God is geduldig,
genadig, barmhartig, lankmoedig en vol liefde. En dis ook hiervoor
dat Nehemia-hulle die Here eer in die Neh. 9 lofsang. Die verlore
seun het al sy waardes oorboord gegooi, sy rug gedraai op sy pa en
tussen die varke beland. Die klomp oor wie Nehemia praat, was
opstandig, hulle het hardkoppig hulle rug op die Here gedraai, hulle
het geweier om te luister na Hom, hulle het vergeet van die
wonderdade wat Hy vir hulle gedoen het, hulle het ’n kalfsbeeld
aanbid, skandelike dinge gedoen, hulle was moedswillig en
ongehoorsaam – oor en oor! En keer op keer het die Here hulle gered
en vergewe en hulle nie aan hulle eie lot oorgelaai nie. My vriend,
dís wie God is – genadig, barmhartig, geduldig. Dalk het jy weer
geval, nog ’n keer verdwaal, weer jou eie pad gevat, weer geweier om
jou lewe aan Hom oor te gee. Kom weer terug! Laat Hy weer jou sondes
wegwas. Laat Hy weer jou oortredinge uitvee. Laat Hy weer jou harde
hart sagmaak. Laat Hy weer sy liefde oor en in jou uitstort. “But
sin didn't, and doesn't, have a chance in competition with the
aggressive forgiveness we call grace. When it's sin versus grace,
grace wins hands down.” (Rom 5:20, The Message) Ek verstaan dit nie.
Dit gaan my verstand te bowe. Nogtans is dit die waarheid! ~ Wilna
Botha, 26/05/2022 |
|
Ek het tot die slotsom gekom dat kommunikasie
wat deur tegnologie geskep word, ons in 'n groot mate ongelooflik
benadeel. Ek wonder soms of ons regtig nog die vermoë het om te dink
en te redeneer, want ons word deur 'n onsigbare monster meegesleur.
Stap saam met my deur 'n paar gedagtes.
* Waar kry jou nuus? In die "ou dae" is nuus uitgevis, en dan
noukeurig ondersoek, getoets en deur kruisverwysings bevestig. Jy
kon dit dikwels glo. Vandag is daardie proses hopeloos te stadig,
want teen die tyd dat dit reg is om te publiseer, is dit stokou nuus.
Sosiale media het die grootste nuusbron geword, en nou eet ons alles
vir soetkoek op. Verlede jaar word daar berig van 'n tienling wat
gebore is, maar hulle is skoonveld. Mnr. die joernalis hou egter
voet by stuk dat die berig waar was en dat die klompie nou ontvoer
is. So belaglik! Maar kom ek vertel jou van 'n ander nuusbron, nl.
die Bybel. Die Bybel is propvol insidente, berigte, nuus en baie
inligting, en daardie gebeure kon nog NOOIT verkeerd bewys word nie,
nie een enkele ding nie, inteendeel, opgrawings het verskriklik baie
feite bevestig.
*Waar kry jy jou lewenslesse? O jitte, daar is duisende mense wat
graag vir jou wil vertel hoe die lewe werk, en hulle ry graag in die
motor met die "dashcam" en praat sommer 'n klomp strooi, en dan
versprei dit soos 'n veldbrand. Maar kom ek gee jou 'n goeie bron
van inligting. Gaan lees Spreuke en Prediker, en jy sal lewenslesse
kry vir elke ding waaraan jy kan dink.
*Waar kry jy jou vertroosting? Ons word almal een of ander tyd deur
slegte dinge getref, en dan smag ons na vertroosting. Ja, daar is
baie dinge waarmee mense ons kan help, maar tog het ek al male
sonder tal gehoor dat mense die maklikste deur daardie tye gekom het
toe hulle by Jesus se voete gaan sit het. Hy droog al ons trane af,
en hy is 24uur per dag beskikbaar.
* Waar kry jy jou inspirasie? Ai, die nuutste woord wat ek hoor is
"influencers". Selfaangestelde "kenners" wat daagliks goed op
sosiale media plaas, duisende navolgers lok, en dan nogal 'n gawe
inkomste daaruit verdien op sommige sosiale media platforms. Wel,
daar is niemand beter om ons te inspireer as Jesus nie, loop net
agter Hom aan.
* Waar kry jy jou opinies? Met die entstof het mense wyd agter ander
aangedraf wat enigiets kon kwytraak en mense glo dit. Jy sien, as jy
iets wíl glo, sal daar iemand wees wat dit vir jou sal vertel.
Miskien gaan ek nou bietjie tone trap, maar hoor maar my gedagte. As
die entstof dan nou die merk van die dier is, kan ons en ons
nageslagte tot in lengte van dae maar daardie tekste uit die Bybel
skeur. Moet wees, want daardie "gevaar" is immers nou iets van die
verlede. Ek sien die mense is nou skielik stil oor dit. Oppas om nie
die Bybel te misbruik vir verdraaide opinies nie.
* Waar kry jy rigting vir jou lewe? Ek sien ongelukkig dat ouers al
hoe meer afwesig raak in hulle kinders se opvoeding, dan soek
kinders dit op die verkeerde plekke, want daar is nie 'n rolmodel
nie. Daardie taak word so graag op ander instansies afgeskuif, ja
selfs op die kerk, en natuurlik die skool. As die ouers onttrek is
dit 'n ramp.
* Waar kry jy raad vir moeilike situasies. Ja sielkundiges het
sonder twyfel 'n rol, maar weereens het die Bybel ál die antwoorde
vir elke situasie. Gaan toets dit gerus, die Bybel is presies net so
relevant vandag as toe dit geskryf is.
* Waar kry jy jou doel, (purpose)? Een van die ergste dinge wat met
'n mens kan gebeur, is as hy dink hy het nie meer 'n doel nie. Die
rede daarvoor is dat mense kyk na ander se prestasies, en rykdom, en
lewensstyl, en goed wat op die televisie opgedis word, dan verloor
mense hulle identiteit. Nee, die Here het 'n plek en 'n rol vir
elkeen, en elkeen se talente is ewe kosbaar en nodig. Soms moet ons
bietjie wag om dit te ontdek, maar moet tog nie passief gaan sit nie.
Probeer eerder elke ding onder die son en kyk wat werk.
* Waar soek jy God se stem? Ons almal ervaar soms daardie stilte,
maar dis nie omdat die Here stil is nie, dis al die geraas om ons
wat so oorverdowend is dat ons Hom nie hoor nie. En dan gaan soek
mense selfaangestelde "profete" wat nie gou genoeg raad kan gee nie.
Ja ek glo absoluut in die gawe van profesie, maar ek glo min van
hierdie mense wat dit beoefen. Gaan sit eerder net doodstil en
luister, en bid, en lees die Woord, en wag. Ja, jy moet wag, soms
baie lank. Dan hoor jy.
* Dis duidelik dat die Here ál die antwoorde het, op ál ons
situasies. One stop service. ~ Willem Botha, 25/05/2022 |
|
“Dit is U! U alleen is Here! ... U is die Here
wat vir Abram gekies het ... en sy naam Abraham gemaak het. U het
met hom ’n verbond gesluit ... en U het u belofte nagekom; U is
betroubaar.” (Neh. 9:6-8) Hier is die volgende aspek waarvoor
Nehemia-hulle die Here prys en eer in daai lang lofgebed van Nehemia
9: God is betroubaar en wat Hy belowe sal Hy doen. Hy hou altyd sy
woord en Hy hou sý kant van die ooreenkoms wat Hy met Abraham
gesluit het. Die verbond wat God met Abraham gesluit het, het drie
beloftes ingehou: die beloofde land, die belofte van ’n groot
nageslag en die belofte van seën. (Gen. 12:1-3 & 7) Die verbond het
egter ’n voorwaarde gehad: hulle moes die Here dien en gehoorsaam
wees aan Hom, hulle moes die wet nakom, hulle moes Sý pad volg. Met
ons het God ’n nuwe verbond gesluit – sy belofte aan ons is
vergifnis van sonde, verlossing en vryheid wat lei tot die ewige
lewe. Hy belowe dat Hy sy Gees in ons sal gee om ons te help en te
lei, dat sy wet op ons hart geskryf sal wees, dat ons Hom persoonlik
en intiem kan ken. “Hulle almal, klein en groot, sal My ken. Oor
hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit
meer dink nie.” (Heb. 8:11-12) En dit alles sonder ’n voorwaarde. Hy
gee dit verniet en gratis aan almal wat glo. Dis sy belofte vir ons.
En ons weet wat God belowe sal Hy deurvoer. Wat Hy sê sal gebeur.
“Elke belofte van God is betroubaar.” (Spr. 30:5) Elke woord van die
Here is waar en suiwer en het die toets van die tyd deurstaan. “Die
Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want
Hy is nie ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.” (1 Sam
15:29) Hy is gister, vandag en môre dieselfde. “Ek, die Here, het
nie verander nie.” (Mal 3:6) Daarom kan ons, net soos Nehemia-hulle
dit uitjubel: Dit is U! U alleen is Here! U het ons gekies. U het ’n
nuwe verbond met ons gesluit. U kom u beloftes na. U is betroubaar!
~ Wilna Botha, 24/05/2022 |
|
Daar is iemand wat vandag verskriklike slegte
tyding gekry het. Nee ek praat nie van iemand spesifiek wat ek ken
nie, maar volgens statistieke het daar in die afgelope uur ongeveer
6400 mense wêreldwyd gesterf. Dis ongeveer 153000 mense vir die dag.
Daar het dus derduisende mense vandag slegte tyding ontvang en is in
uiterste rou gedompel. Daar is kinders, bejaarde mense, broodwinners,
mense wat van honger dood is en vele wat eintlik net totaal ontydig
dood is. Wat 'n depressiewe gedagte is dit nie! Maar hier is 'n
vraag wat baie baie erger is as mens daaraan dink. Hoeveel van
daardie mense is vandag in die hemel?
"Toe vra iemand Hom: “Here, is dié wat gered word, maar min? Hy sê
vir hulle: Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan.
Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie
regkry nie." (Luk.13:23-24)
Sjoe, baie gaan dit nie regkry nie want hulle glo eenvoudig nie, of
leef roekeloos, of weier om Jesus as hulle verlosser te aanvaar.
Maar hierdie teks is eintlik skrikwekkend waar as dit sê baie gaan
PROBEER, maar faal in hulle poging. Hierdie teks roer my al vir jare,
want ek weet nie of ek hard genoeg probeer nie. Sê nou die Here sê:
Ek ken jou nie...
"Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan
weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” (Mat. 7:23)
Ek kan nie EEN ENKELE wet nakom nie, nie een nie, want op een of
ander manier oortree ek alles, al probeer ek hoe hard. Die ergste is
dat ek nie eers altyd regtig hard probeer nie!
Nou ja, ons ken gelukkig wel die res van die storie en ons ken die
regte antwoord met al die tekste wat daarmee saamgaan, en dit is dat
alles opgesluit lê in genade en nie in dade nie (dit ook). Goddank!
Maar eers terug na die statistieke wat vir ons wys teen watse tempo
mense sterf. Vertroos ons nie graag onsself met die wete dat iemand
nou in die hemel by die Here is nie? Laat dit ons nie soveel beter
voel as ons vir seker weet dat daardie persoon se saak met die Here
reg is nie? Natuurlik, vernaam as dit 'n vriend of familie is. Maar
wat van die res? Wat van diegene wat ons ken, saam met ons werk en
met wie ons paaie daagliks kruis? Maak dit vir jou saak dat jy wéét
dat iemand nie die Here ken nie? Dis 'n moeilike vraag, maar hier is
nóg 'n moeiliker vraag. Maak dit vir jou genoeg saak om iets daaraan
te doen? Iemand het eendag gesê dat jy net in twee situasies moet
getuig, en dis in die Bybel opgeteken. "... verkondig die woord; hou
daarmee vol, tydig en ontydig" (2Tim.4:2)
Tydig en ontydig... Altyd, sonder ophou. ~ Willem Botha, 23/05/2022 |
|
Iets wat my opval in die lang lofprysing in Neh.
9 is hoedat die Here geprys en gedank en geëer word vir dít wat Hy
in die verlede gedoen het. In die loflied vertel hulle weer hoedat
die Here hulle voorvaders se nood raakgesien het en hoe Hy hulle
hulpgeroep gehoor het. Hulle dink weer terug hoe Hy uitkoms gegee
het, hoe Hy gesorg en voorsien het. Daar was ’n wolkkolom om rigting
aan te wys, ’n vuurkolom om die pad te verlig in die donker. Daar
was manna vir die honger, daar was water vir die dors. “Veertig jaar
lank het U vir hulle gesorg, hulle het niks kortgekom in die woestyn
nie. Hulle klere het nie verslyt nie, hulle voete het nie geswel nie.”
(Neh. 9:21) Dit vul my ook met dankbaarheid en hoop wanneer ek
terugkyk na die verlede en onthou. Ek onthou dat daar ’n tyd was
wat die begroting op papier nie uitgewerk het nie, al het ons die
sommetjies oor en oor gemaak. En tog was daar genoeg, want die Here
het die daaglikse brood voorsien. Ek onthou dat daar ’n tyd van rou
was waar die trane nie wou ophou en die verlange al hoe erger geword
het. En tog het daar weer vreugde deurgebreek, want die Here het
vertroos en trane afgedroog. Ek onthou dat daar ’n tyd van pyn en
bekommernis oor gesondheid was. En tog het die Here se genesing en
vrede wat alle verstand te bowe gaan gekom. Ek onthou dat daar ’n
tyd van vrees en depressiewe gedagtes was toe alles donker gelyk het.
En tog het die Here moed en hoop stukkie vir stukkie teruggebring en
Sy lig laat deurbreek. Ek onthou dat daar ’n tyd van skaamte en
skuldgevoelens was. En tog het die Here sy genade en vergifnis kom
uitstort en vryheid gebring. Kyk gereeld terug waar jy was, nie om
jouself te bejammer of om te tob en vas te val in die verlede nie,
maar om te onthou hoedat die Here jou gedra het, hoedat Hy “eer gee
in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in
plaas van hartseer” (Jes. 61:3). “... flowers in place of their
sorrow, olive oil in place of tears, and joyous praise in place of
broken hearts”, soos wat ’n Engelse vertaling dié teks gee. Sing dan
’n lof- en danklied oor sy goedheid, sy genade, sy voorsiening en
weet dat Hy alles ten goede laat meewerk het en dat Hy dit weer en
weer sal doen. ~ Wilna Botha, 19/05/2022 |
|
Hoe dom kan een mens wees? Hoeveel keer moet jy
jou kop teen dieselfde muur stamp? Hoekom oor en oor 'n "sucker for
punishment" wees? Wanneer leer mens? Nee jong, seker nooit. Ek praat
natuurlik van myself. Elke aand klokslag sit ek die TV op die 7 uur
nuus, elke aand 7 uur vererg ek my bloedig vir mense, elke aand om 7
uur laat ek toe dat slegte nuus en negatiewe insidente wat opgedis
word, my lewe versuur. En elke aand, so ongeveer 3 minute na 7, sit
ek die TV op 'n ander kanaal. Selfpyninging se Moses. Ek sê
gisteraand vir vroulief dat ek SO begeer dat die hoofberig net één
keer goeie nuus sal wees, maar dit gebeur nie. Nou kom ek
verduidelik hoekom ek dink ek is so dom. Ek kan hoegenaamd glad nie
onthou wat die inhoud is van één enkele berig wat verlede week
opgedis is nie, nie één nie, en vanaand s'n sal ook oor drie dae
vergete wees.
Kyk net wat is die Here se raad hieroor, in Dawid se woorde:
"As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na
as jy gaan lê, en laat dit daarby! Sela" (Ps. 4:5)
Mense se manewales beteken niks, hulle opinies ook nie, en al wat
hierdie dinge regkry is om my te laat vergeet dat die Here in beheer
is in slegte tye, sowel as goeie tye. Hoekom kyk ons nie net 'n
oomblik weg van die slegte van hierdie wêreld, en eerder op na die
Here toe nie? Hoekom kyk ons na die voorspoed van diegene wat boos
is? Dink ons regtig hulle is vreeslik gelukkig? Kyk wat sê Dawid 'n
entjie vêrder:
"U het my reeds groter vreugde laat belewe as wat daar is by mense
wat koring en wyn in oorvloed het." (Ps. 4:8)
In vers 4 sê Dawid dat jy rustig oor alles moet nadink as jy gaan lê,
en vers 9 sal vir jou en my waar word.
"Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want,
Here, U alleen laat my veilig woon." ~ Willem Botha, 18/05/2022 |
|
“Dit is U! U alleen is Here! U het die hemel
gemaak, die hoogste hemel en sy hele leërmag, die aarde en alles
daarop, die oseane en alles daarin. U laat almal lewe; die hemelse
leërmag buig voor U.” (Neh. 9:6) As mens in Nehemia 9 daai lang
lofgedig/lofgesang/lofgebed lees, is die eerste ding waaroor die
Here geprys word, die skepping. Vir my is dit ook een van dié dinge
wat my in verwondering laat staan voor die Here, wat my hart laat
warm word, wat my laat besef hoe groot en magtig God is. Ons was nou
die dag in Golden Gate en Clarens omgewing en die natuurskoon, die
berge en rotsformasies, die herfskleure van die bome, die goue velde
het my laat uitroep: Dit is U! U alleen is Here! U het dit alles
gemaak! Wanneer jy die maansverduistering van so paar oggende gelede
beleef, of asemloos na die sterre kyk, of wanneer jy op ’n hoë berg
staan en tot in die verste vêr kan kyk, of na die voortdurende golwe
van die see staar, of opkyk na ’n donderende waterval, of verstom
staan oor die kleurespel van ’n sonsondergang of ’n reënboog sien
dan kan jy nie anders as om uit te roep: Dit is U! U alleen is Here!
U het dit alles gemaak! As jy die geritsel van die blare hoor, of
sien hoe herfsblare stadig grond toe sweef, of ’n blomme-veld sien
waar niemand die saad gesaai het en plantjies natgegooi het nie, dan
sal jy stilweg sê: Dit is U! U alleen is Here! U het dit alles
gemaak! As jy sien hoe ’n olifant sy ore flap, of in die oë van ’n
klein hondjie kyk, of sien hoe ’n kameelperd sy nek strek om hoë
blare by te kom, of ’n leeu hoor brul, of die vroegoggend getjirp
van die mossies hoor, dan wil jy sing: Dit is U! U alleen is Here! U
het dit alles gemaak! As jy boonop besef dat God dit alles geskep
het deur net te sê dat dit daar moet wees en dit was daar, as jy
besef Hy het alles gemaak uit iets wat ons nie kan sien nie (soos
Heb. 11:3 sê) dan sal jy saam met die engele, saam met die son en
maan en sterre, saam met die seediere en die oseane, saam met die
weerlig, die hael, die sneeu en die miswolke, saam met die berge, al
die heuwels, vrugtebome en al die diere, saam met konings, vorste en
regeerders, saam met jong manne en meisies, saam met grysaards die
Naam van die Here prys, want sý Naam alleen is hoog verhewe, Sy
Majesteit strek oor die aarde en oor die hemel. (Ps. 148) ~ Wilna
Botha, 17/05/2022 |
|
"Hou jou
besittings op sewe, selfs ag plekke, want jy weet nie watter
teëspoed oor die land kan kom nie." (Pred. 11:2)
Ja teenspoed kán jou tref, want die Bybel sê so. Ek sê die volgende
vreeslik versigtig, want ek weet mense wat die volgende aanhang
bedoel dit in opregtheid en ek mag dit nie kritiseer nie, maar Ps 91
waarborg nie ewigdurende voorspoed nie!
Maar hier is ons nou in 2022, en teenspoed het die land getref die
afgelope twee jaar, nee wag, sommer die hele wêreld! Wie op aarde
het dit verwag? Selfs die mense wat as vals profete graag
voorspellings waag, het nie hiérdie ding sien kom nie! Ons leef in
interessante tye, want ek en jy het dinge beleef wat 'n mens regtig
verstom, en ons gaan nog vele verrassings kry in ons lewens.
As jy oud genoeg is, het jy deur die tyd van die tweede-wêreldoorlog
(met die atoombomme daarmee saam) geleef, dalk selfs deur die groot
depressie van 1933, die Angola oorlog, die 9-11 krisis in Amerika,
massiewe tornado's wat plekke verwoes het, tsunami's (genade wie het
ooit selfs daarvan gehoor?), die kernramp in Chernobyl, aardbewings,
die uitbreek van Vigs, die Steinhoff sage wat duisende mense in 'n
oogwink verarm het, massiewe oorstromings en vele dinge wat mens nie
gedink het in jou tyd kan gebeur nie. Die Bybel sê onomwonde dat jy
elke dag gereed moet wees vir rampe.
Toe ek verlede week hierdie teks raaklees, het ek besef hoe kragtig
hierdie paar woorde is. "Hou jou besittings op sewe, selfs ag plekke,
want jy weet nie watter teëspoed oor die land kan kom nie."
Ek het 'n paar dinge besef toe ek dit lees.
* Beplan so goed as wat jy kan, moenie dink jy is verhewe bo dit nie.
* Hierdie verskrikking tref Christene, sowel as ongelowiges.
* Ons wêreld met sy tonne tegnologie, is steeds nie bestand teen
elke gebeurlikheid nie.
* Bykans geen politici se beloftes dat hulle in beheer is, hou water
nie.
* Ten spyte daarvan dat so 'n ramp álmal kan tref, sal daar
gewetenlose mense wees wat jou nog verder sal uitbuit.
* Daar is níks in plek by die owerhede, wat jou gaan help as jy in
jou diepste nood is nie.
* As iets groots in jou leeftyd gebeur, kan dit wéér gebeur.
* Jy het vriende en familie nodig. Jy het ook 'n stewige
ondersteuningstelsel nodig.
* Sorg dat jy in 'n goeie verhouding is met almal wat jou pad kruis,
jy gaan dalk op iemand se knoppie moet druk.
Nou ja , dit klink baie negatief, maar die volgende is ook waar.
* Daar is mense wie se goedheid jou sal verstom.
*Daar is mense wat hulleself te na sal kom om ander te help.
* Waar rampe kom, bring die Here altyd weer genesing in 'n land.
* Al gaan jy deur die donkerste dieptes, is die Here steeds net 'n
uitroep ver.
*Die mens het 'n bonatuurlike vermoë om die ergste van erg te
oorleef en deur te druk.
* Laastens, jy het báie meer krag wat in jou opgesluit lê, as wat jy
in jou wildste drome kan dink. ~ Willem Botha, 16/05/2022 |
|
Kits-God
Ek haat dit om laat te kom as ek 'n afspraak met iemand het, of op
'n bepaalde tyd iewers moet wees. Ek raak ook nogal omgekrap as
mense nie betyds is as ons 'n afspraak het nie. Ons het altyd gewag
in die weermag, maar ek het geen idee waarvoor ons gewag het nie,
seker vir beter dae. O jitte en om te wag vir 'n brief was wreed, en
dan moet jy boonop 'n klomp push-ups doen vir elke brief. Gewag vir
die bus, gewag vir kitskos wat glad nie kits is nie, gewag vir
naweke om aan te breek, gewag as die kinders laat is as ons skool
toe moes ry.
Maar toe kom tegnologie en foeter ons persepsie van tyd heeltemal
op. Die internet is altyd stadig! Alles raak net so verskriklik
stadig!
En nou is die Here ook gewoonlik effe stadig, volgens ons. Ons bid,
dan wag ons lank, sommer baie lank, so lank soos 'n uur, of 'n dag,
of dalk selfs 'n week, maar dan maak ons ander planne. Nee wat, die
Here gaan nie reageer nie, kom ons soek 'n ander teksvers wat
vinniger resultate belowe. Of kom ons begin 'n ellelange
gebedsketting, want dan "hoor" die Here dalk vinniger. Of wat van
die "profeet" hier onder in die straat, want kyk dié ou laat dinge
blitsvinnig gebeur! Of nog beter, ons begin sommer self solank die
dinge in plek kry wat ons glo die Here in elk geval gaan laat gebeur,
want die nuutste teksvers (van die Here af natuurlik) bevestig dit.
Genade, sou jy kon uithou soos Abraham en Sara? Hulle moes
verskriklik lank vir 'n kind wag, maar die Here het sy woord gehou,
net soos Hy steeds sy woord hou en dit tot in ewigheid sal doen. Wag
op die Here.
"Uit die dieptes roep ek na U, Here, luister tog na my, Here, hoor
tog my hulpgeroep. As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie
sou dan nog bestaan? Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U
steeds gedien. Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as
wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. Wag op die Here,
Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die
verlossing seker. Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes."
(Ps. 130)
Wag nog, glo nog, vertrou nog, byt nog vas, maar bid steeds, en doen
wat jy moet doen, maar moenie sy werk wil oorneem nie. Sy tyd is sy
tyd en Hy verduidelik nie sommer vir ons waarmee Hy besig is nie,
maar as jy terugkyk in jou lewe, sal jy saamstem dat Hy altyd betyds
was. ~ Willem Botha, 12/05/2022 |
|
Ek het al baie vir ouens gevra of hulle lief is
vir hulle vrouens, dan sê almal JA! En as ek vra of hulle van hulle
vrouens hou, dan is sommige maar stil. As jy vandag vir my vra of ek
vir myself lief is, dan sal ek seker op so 'n half mankoliekige
manier JA sê, maar as jy vra of ek altyd van myself hou, dan is die
antwoord klinkklaar NEE!
Ek ken my tekortkominge alte goed. Ek raak maklik opvlieënd, sommer
maklik nors en beduiweld, ek praat hopeloos te veel, ek kan maklik
kwets met woorde, ek sê maklik dat ek dit of dat (of iemand) haat,
en ek voel soms lekker onvergenoegd met myself. Hierdie dinge kan ek
seker nog op 'n manier maar aanvaar en sê almal is so. Maar daar is
'n lelike kant waarmee ek nogal sukkel, en Paulus beskryf dit op 'n
manier wat ek dink dis nét vir my geskryf.
"Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige
aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek
doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die
slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek." (Rom. 7:18-19)
Sjoe, hy slaan die spyker op die kop, en hy praat natuurlik hier van
sondes. Ek draai myself vas as ek onthou dat die Here sê dat ons dit
moet bely en laat staan, en dat ons Heilig moet wees want Hy is
Heilig. En voorts sê Hy jy moet aan ander doen wat jy aan jouself
gedoen wil hê. Nie eers te praat van 'n rein en skoon lewe nie.
Ek gaan jou 'n vreeslike ding sê, en dis dat daar tye kom wat ek
wonder of ek regtig 'n Christen is, en of ek regtig gered kan wees.
Eintlik maak hierdie dinge my moedeloos, maar soos wat dit God se
aard is, kom Hy altyd met woorde wat ons laat verstaan dat genade
groter as sonde is.
"Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan
God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here." (Rom.
7:24-25)
Jy voel dalk ook soos ek, en dan wil ek vir jou (en my) los met
hierdie gedagte.
"Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír
ons, wie kan dan teen ons wees?" (Rom. 8:31) ~ Willem Botha,
11/05/2022 |
|
Ná ’n kwart dag se voorlesing uit die wet en ’n
kwart dag se sondebelydenis wat gepaard gegaan het met ’n vasdag,
het Nehemia-hulle in Neh. 9:5-37 weggetrek met ’n ellelange,
wonderlike, hartroerende lofbetuiging teenoor die Here. Ek sien
sommige mense sê dis ’n gebed (nogal een van die langstes in die
Bybel!). Ek weet nie of dié lofprysing gebid, gesing, voorgelees of
uitgejubel is nie, ek weet wel dat dit my hart só warm maak en my
met verwondering laat oor wie God is; ek weet wel dat dit my asem
wegslaan en my met dankbaarheid vul oor hoe die Here met sy mense
werk, hoe Hy weer en weer uitkoms gee en genade betoon, hoe Hy altyd
weer vergewe en red, hoe sy geduld, genade en barmhartigheid nooit
opraak nie. As jy woorde soek om die Here mee te prys, as jy woorde
soek vir ’n nuwe loflied, lees gerus hierdie gedeelte in Nehemia.
Dit begin met ’n oproep om die Here te prys, ’n uitnodiging aan die
mense om weg te kyk van hulleself en te fokus op die grootheid van
hulle God, ’n opdrag om mee te doen aan ’n gesamentlike loflied ter
ere van God: “Kom, prys die Here julle God!” (Neh. 8:5) Die Bybel sê
in Rom 15:6 ons moet almal eensgesind, uit een mond lof bring aan
God. ’n Hele paar Psalms begin juis ook met dié uitroep en
uitnodiging: Prys die Here! “Sing saam met my oor die grootheid van
die Here en laat ons saam sy Naam prys.” (Ps. 34:4) “Al julle volke,
klap julle hande; juig tot eer van God met ’n jubelende stem.” (Ps.
47:2) “Kom prys die Here. Bring eer aan die Here. Sing vir Hom ’n
lied wat jy spesiaal net vir Hom gemaak het. Sing saam met al sy
kinders liedere om vir Hom dankie te sê.” (Ps. 149:1, Die Boodskap)
Kom! Prys die Here julle God! ~ Wilna Botha, 10/05/2022 |
|
Ek is uiters geskok in myself oor wat ek nou
gaan skryf, en ek wonder hoekom ek geword het soos wat ek geword het.
Het ek nie maar dieselfde as "hulle" geword nie?
Ek kyk gisteraand na 'n program oor transito rooftogte, en ek sien
hoe uiters koelbloedig hierdie rowers geword het. Hulle neem 'n lewe
sonder om twee keer te dink. So word mense vermoor vir 'n selfoon,
of daar op die Kaapse vlakte sommer net vir sommer. Doef doef, dood
is 'n mens, soms 'n kleuter. Nou sien ek gisteraand hoe van hierdie
rowers gevang is en hulle lê geboei op die grond, en ek wonder
hoekom hulle nog leef? Waar is die bloed? Hoekom gee die polisie
hulle nie hulle eie medisyne nie? Oog vir 'n oog, bloed vir bloed.
En ek is geskok in myself, want ek het soos "hulle" geword...
In die weermag is ons opgelei om lewens te neem, in my beroep het ek
vir jare wapentuig help ontwikkel, alles om lewens te neem. Ek hou
maar my wapen op bystand by die huis, net vir ingeval, en ek wonder
soms of die doodstraf nie moet terugkom nie. Dis sommer niks om 'n
lewe te neem nie, en alles omdat die samelewing terminaal siek is!
En daar begin die Russe sommer net op een dag 'n sinnelose oorlog.
Siek!
Hemel, ons leef in 'n veglustige, mag-mal wêreld! Almal wil net veg.
Wat is die oplossing? Ons kan maar net bid dat die volgende vir ons
waar sal word, lees dit asseblief woord vir woord:
"Daar kom 'n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, 'n
blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die
heuwels. Die volke sal daarheen stroom, baie nasies sal daarnatoe
gaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na
die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer en ons
daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit
Jerusalem die woord van die Here. Hy sal oordeel tussen baie volke,
regspreek oor sterk nasies wat ver weg woon. Hulle sal van hulle
swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een
nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle
sal nie meer leer om oorlog te maak nie. Elke man sal onder sy eie
wingerd sit, ongesteurd onder sy vyeboom. Die Here die Almagtige het
dit gesê." (Miga 4:1-4)
Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese
snoeiskêre. Geweld verruil vir werk.
Mag ons leef om dit te sien! ~ Willem Botha, 09/05/2022 |
|
Was jy al in 'n situasie waar jy regtig
doodbang was en net geen uitkoms uit daardie aaklige situasie gesien
het nie? 'n Vriend het jare gelede sy werk verloor en hy was
naderhand totaal raadop en desperaat oor die situasie. Hy het vir my
gesê: Willem, dit voel of 'n olifant op my sit. Die Here het egter
uitkoms gebring. Dalk was jy al in 'n hoek vasgekeer waar daar net
nie meer uitkom kans was nie en geen opsie wil meer uitwerk nie.
Miskien is jy nou, op hierdie oomblik, in so 'n situasie. Kom ek
herinner jou dat die Here nog nooit verander het nie, Hy is nog
presies wie Hy duisende jare gelede was en daarom kan ons met
vrymoedigheid die Woord lees en die waarhede op ons leefwêreld
toepas, asof Hy dit vanoggend geskryf het.
Ons lees in Eksodus dat die volk uiteindelik in die woestyn in
beweeg nadat die Farao vir Moses toestemming gegee het om te trek,
maar dan raak die Farao hardkoppig en hy verander van plan. Hy neem
sy manskappe en sit die Israeliete agterna. Die lyk of die
Israeliete vasgekeer word teen die see en dan word hulle doodsbenoud
en wens hulle het nooit getrek nie. Dan kom Moses en bemoedig hulle
met die volgende woorde: "Maar Moses het die volk geantwoord: Moenie
bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red,
want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit
weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” (Eks.
14:13-14) Sjoe, hoeveel geloof het Moses nie in God gehad nie! Hoe
moes sy verhouding met God wees om beloftes namens Hom te maak? Jy
sien, net iemand wat homself in totaal oorgee aan 'n Mag groter as
hy self, sal dit kan doen, en hoewel ek glo dat Moses dalk self
doodbenoud was, het hy absoluut geglo dat die Here vir hulle sal veg.
Kan jý hierdie woorde glo? "Die Here sal vir julle veg!" Wel, ek is
nie tans in enige desperate situasie nie, maar toe daar ook in my
eie lewe uitdagings was, kan ek getuig dat die Here vir my geveg het.
En moet nie dink dat die Here net met groot, ernstige probleme vir
jou veg nie, Hy veg altyd, en daarom kan jy maar "hensop", jou eie
wapens neerlê en die geveg vir Hom los. Maar moenie dink jy het geen
verantwoordelikheid in jou eie gevegte nie, doen alles wat jy moet
doen, en dán laat jy Hom toe om jou "Egiptenare", en jou "Goliat's"
te verslaan. Hier is egter 'n paar woorde wat Moses spreek wat
uiters moeilik is om na te volg, en dit is: "Bly julle maar kalm".
Nou ja, dít is nogal vir my 'n tameletjie, maar dis dalk beter as om
jou dood te spartel. Hy sal vir jou veg. ~ Willem Botha, 04/05/2022 |
|
“Die
aandag van die hele gemeente was by die wetboek.” (Neh. 8:4) Toe die
muur om Jerusalem herbou is, is die deure gehang en poortwagte is
aangestel. Die hele volk het bymekaargekom en vir Esra, die
skrifgeleerde, gevra om die wetboek te bring waarin die Here se
bevele vir die volk opgeteken is. Almal was daar. Die voorlesing het
vanaf ligdag tot in die middel van die dag voortgeduur. Die hele
gemeente se aandag was gefokus op die wetboek. Toe Esra die boek
oopmaak, het almal opgestaan en hulle het diep gebuig uit eerbied
vir die Here se woord. “Die Leviete het uit die boek, uit die wet
van God, voorgelees en dit uitgelê. Hulle het die betekenis
weergegee sodat die mense kon verstaan wat gelees word.” (Neh. 8:9)
Toe ek hierdie gedeelte lees kon ek nie anders as om vir myself af
te vra hoe belangrik is God se Woord en wet regtig vir my. Wanneer
laas (indien ooit!) het ek 6 ure bestee om dit te lees? Sou ek só
lank soos hierdie ouens in die kerk sit en luister na ’n voorlesing
uit die Bybel? Het ek al ooit, soos hulle, gekniel en diep gebuig
voor die Here by aanhoor van die wet of voorlesing van die Bybel? Ná
die voorlesing is die betekenis van die wet vir die mense
verduidelik, sodat dit nie net woorde op papier sou wees nie, maar
sodat hulle dit kon toepas in hulle lewens. Dís hoekom ons
kerkbyeenkomste en Bybelstudie moet bywoon, sodat die betekenis van
die Woord vir ons uitgelê kan word, sodat dit ons kan opbou, rigting
kan gee aan ons lewens; sodat dit reg en verkeerd vir ons kan uitwys.
“Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig.” (Ps. 119:130)
Oor u Woord is ek so bly soos iemand wat ’n groot skat in die hande
gekry het, ek het u gebooie liewer as goud, dis soeter as heuning in
die mond, u Woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad
– so lees ek in Ps. 119 en beaam ek met my hele hart. “Ek kan nie
vir U sê hoe lief ek vir al u voorskrifte is nie! Ek dink dag en nag
daaroor. Dit gee my ’n groot voorsprong bo al my vyande, niemand kan
ooit my kennis van u Woord wegvat nie.” (Ps. 199:97-98, Die Boodskap).
So paar jaar gelede het ek en Willem al die Bybels in ons huis
bymekaargemaak en op dié paadjie gaan uitpak! As ek reg tel is daar
15 in die foto en dit was nie eers alles nie. Sondag het ek sowaar
nóg ’n Bybel gekoop! Dis vir my soos ’n groot skat, beter as goud en
soeter as heuning! Mag ek dit getrou lees, glo en gehoorsaam. ~
Wilna Botha, 03/05/2022 |
|
Gister was Werkersdag, en vandag vier ons dit
met 'n vakansiedag deur nie te werk nie. Klink nogal ironies.
Vraag is, hoe voel jy oor werk? Haat jy "werk"? Of haat jy net jou
eie werk? Is jy lus daarvoor, sien jy uit, moeg daarvoor, haat jy
jou baas? Het jy verlede week goed afgesluit en is jy reg om weer
more skouer aan die wiel te sit? Mmm... ek glo die meeste mense voel
nie régtig lus daarvoor nie, of hoe?
Nou ja, daar is ongelukkig die wanopvatting dat Adam en Eva se
begeerte na daardie vrug in die tuin die rede is hoekom ek en jy
moet swoeg en sweet.
"Vir die mens het die Here God gesê: Omdat jy na jou vrou geluister
het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet,
is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit
'n bestaan maak, jou lewe lank; die aarde sal vir jou dorings en
dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; net deur harde
werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want
daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word." (Gen 3
: 17 - 19)
Daardie gedagte is egter nie waar nie, want die opdrag om te werk
kom van vóór die sondeval af.
"God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God
het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Toe het God
hulle geseën en vir hulle gesê: Wees vrugbaar, word baie, bewoon die
aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in
die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op
die aarde kruip." (Gen 1 : 27 – 28)
Ons as mensdom het egter maar hierdie ding om te dink die gras is
altyd groener aan die ander kant, en ons sukkel met entoesiasme as
dit by ons eie werk kom, en wil heeldag net wegvlug daarvan. Totdat
ons dit verloor, nè?
As ons egter eerlik daarna kyk moet ons sekerlik saamstem dat werk
nie ALTYD sleg is nie, daar ís lekker elemente ook en ons kan vir
seker ons werk geniet, dit hang net alles van ons eie houding af.
Daar is baie mense wat graag ons werk sou wou hê, as ons dit dan nie
self wil doen nie. Hoekom gaan jy werk toe? Wat motiveer jou?
Volgens die Bybel is dit 'n opdrag, en as jy dit nie wíl doen nie,
gaan jy swaar kry!
"Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy
het nie 'n leier nie, nie 'n opsigter of 'n regeerder nie, tog maak
hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die
oestyd. Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy opstaan?
Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie
handevou en bly lê, en daar oorval die armoede jou soos 'n rower,
daar oorrompel die gebrek jou soos 'n inbreker. (Spr. 6 : 6 – 11)
"Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: As
iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie." (2 Tes. 3:10)
Hierdie gedeelte in Spreuke oor die miertjies is regtig 'n baie
kosbare stukkie. Miskien het Salomo eendag langs 'n miershoop gaan
sit en hierdie klein gediertes dopgehou en gedink, sjoe, hierdie
goedjies is merkwaardig. Hulle werk onverpoos, sonder enige
persoonlike voordeel, ongeskoold, onopgelei, sonder 'n toesighouer
of 'n baas, sonder dat hulle gedreig word, maar hulle wérk. Boonop
is hulle nog geweldig sterk ook. As jy sy grootte in ag neem en kyk
waartoe hy in staat is, is hy waarskynlik een van die sterkste
dierasies op aarde. Hy kan 'n stokkie dra wat maklik tien maal sy
eie lengte is.
Nou sê die Bybel, gaan leer by die mier. Kyk wat staan daar:
*Hy is nie lui nie.
*Hy werk sonder toesig, onverpoos.
*Hy het ongelooflike dissipline. Al gesien hoe loop hulle in reguit
rye?
*Hy werk met een uitsluitlike doel, nl. oorlewing!
*Hy sorg vir sy “toekoms” - Hy versamel sy voedsel in die oestyd,
maak sy kosvoorrade bymekaar in die somer.
*Hy werk met beplanning, dissipline en 'n toekomsvisie.
'n Vriend het eendag hierdie stelling gemaak: Moet tog nooit 'n
ander ou die voorreg ontneem om vir homself te sorg nie. Maar, daar
is natuurlik 'n ander kant ook, en dit is dat dit vir vele mense
fisies onmoontlik is om te werk, en dan het ek en jy ook 'n
verantwoordelikheid om daar te help as dit binne ons vermoë is.
Weet egter ook wanneer genoeg genoeg is, en moet tog nie so agter
geld aanhardloop dat jy jou gesin afskeep nie. Daar is deesdae baie
mense wat hulleself uitbrand omdat daar te veel druk op hulle is.
Laastens, wees baie baie dankbaar as jy die voorreg het om 'n werk
te hê, om inkomste te kan verdien en om fisies in staat te wees om
werk te kan doen. Nie almal het daardie voorreg nie. ~ Willem Botha,
02/05/2022 |
|
“Onthou tog, my God, tot my voordeel, alles wat
ek vir hierdie volk gedoen het.” (Neh. 5:19) Toe ek hierdie vers
lees, was dit nogal vir my bietjie vreemd. Het Nehemia nou bietjie
verwaand en ydel geraak, of matig hy homself nou aan hier by die
Here? Het hy die hele tyd net gewerk om raakgesien te word en ’n
beloning te ontvang? Ons leer Nehemia ken as iemand met ’n passie
vir die Here, vir sy volk en vir die taak wat hy moet doen om die
muur om Jerusalem te bou. Ons leer hom ken as iemand wat begeer om
die Here se wil te doen en nie terugdeins van gevaar of ontbering of
harde werk om dit te doen nie. Die werk wat hy aanpak gaan nie oor
homself of sy eie eer en roem nie, dis nie vir sy eie persoonlike
gewin nie, hy ontvang nie geldelike beloning daarvoor nie, dit is
slegs gerig op die Here se eer en op sy volk se welstand en opbou.
Hy het op God vertrou, hy was voortdurend in gesprek met Hom, hy het
getrou sy taak waarvoor die Here hom geroep het, in gehoorsaamheid
en afhanklikheid uitgevoer. As mens na dié agtergrond kyk, besef
mens dit is nie uit verwaandheid dat hy hierdie versoek tot die Here
rig nie, maar dit is uit ’n persoonlike verhouding, dit is uit die
sekere wete dat hy doen wat die Here van hom verwag. Ons weet wel
dat daar ’n beloning wag op dié wat die Here dien. Wat sou die
beloning wees? Genade uit die Here se hand, bewustheid van die Here
se teenwoordigheid en leiding in jou lewe, vrede dat jy binne die
Here se plan vir jou lewe is, tevredenheid wanneer ’n taak goed
afgehandel is, vreugde wanneer jy weet dat jy iemand gehelp het.
Natuurlik wag daar ook vir ons ’n ewige beloning in die hemel en
daarvoor kan ons vra: Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk
kom! “God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie
en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam getoon het deurdat julle
julle medegelowiges gedien en nog dien nie.” (Heb. 6:10) “Julle weet
tog dat die Here elkeen sal beloon as hy iets goeds gedoen het.” (Ef.
6:8) “Mag jy ’n welverdiende beloning ontvang van die Here die God
van Israel onder wie se vleuels jy kom skuil het.” (Rut 2:12) ~
Wilna Botha, 28/04/2022 |
|
“Ons het bly bou aan die muur ... Die mense se
hart was in die werk.” (Neh. 4:6) Nehemia het almal só geïnspireer
om te bou aan die muur rondom Jerusalem, dat hulle, ondanks gevaar
en teenkanting onverpoos bly werk het. Hulle het gedeel in Nehemia
se visie en hulle was bereid om hard te werk. “Hulle het gesê: Kom
ons bou! En hulle het die goeie werk aangepak.” (Neh. 2:18) Dit
gebeur dikwels dat mense ’n besluit neem om iets te doen, om ’n
groot taak aan te pak. Iets wat eintlik onmoontlik lyk om gedoen te
kry begin hulle met “kom ons bou!”, maar kort voor lank verloor
hulle stoom en die belangstelling kwyn en die taak kom nie klaar nie.
Dit gebeur met geestelike werk, met bedieninge in ’n kerk, met
projekte wat ’n omgeegroep aanpak. Dit gebeur ook in die alledaagse
werkplek, of met selfopgelegde take in en om die huis. Wat is
Nehemia-hulle se geheim? Hulle hart was in die werk. Hulle het
aanhou werk asof hulle dit vir die Here self doen. Hulle doen dit
uit eerbied vir God, dit gaan oor Hóm en sy eer. Hulle het die
einddoel en die belangrikheid van die taak die hele tyd voor oë
gehou. Hulle het ’n leier gehad wat ’n voorbeeld gestel het: “Ek het
my volle gewig ingegooi by die werk aan hierdie muur” (Neh. 5:16)
Nehemia het nie net die werk uitgedink en toe aangegaan met sy eie
dinge nie. Hy het self gebou, self hard gewerk, self betrokke gebly.
Ons deins partykeer weg van harde handewerk, daar word dikwels
neergekyk op mense wat sulke werk doen. Ons wil graag die baas wees,
of die een met die mooi uitrusting wat agter die rekenaar sit of
voor ’n groot vergadering staan en praat, of die een wat die groot
besluite neem en die papiere onderteken. Nehemia was ’n goewerneur
in Israel, tydens die ballingskap was hy die skinker in die paleis
en tog kom doen hy die harde werk om die muur te bou. Hy waag as’t
ware sy lewe vir hierdie werk. Die bouwerk was nie benede sy
waardigheid nie, hy het moue opgerol en gesweet! Terwyl dit môre
lekker vakansiedag is en dit eersdaags ook Werkersdag is, is dit
dalk ’n geleentheid om bietjie te dink oor jou werk. Met watter
gesindheid pak jy elke werksdag aan? Watter voorbeeld stel jy aan
jou kollegas? Is jy trots op dit wat jy elke dag doen – nie omdat
dit ’n groot impak maak of baie geld inbring nie, maar trots dat jy
jou bes gedoen het, trots dat jy met integriteit gewerk het, trots
dat jy nie op mense getrap en geskree en hulle misbruik het nie,
trots dat jy meegewerk het om ’n probleem op te los? Is jou hart in
jou werk? “Doen wat julle aardse base van julle vra. Moenie
skynheilig wees en net werk as hulle vir julle kyk nie. Wees eerlik
en werk hard omdat die Here altyd vir julle kyk. Julle wil tog die
Here tevrede stel en nie mense nie. Laat mense dit ook sien aan die
oorgawe waarmee julle julle werk doen... Want die eintlike Baas vir
wie julle werk, is mos Christus.” (Kol. 3:23-24, Die Boodskap) ~
Wilna Botha, 26/04/2022 |
|
Daar's nie tyd nie, en nog minder is daar geld!
Hierdie woorde word daagliks deur mense gebruik (of is dit nou
misbruik?). Vroulief het 'n behoefte om net vir 'n uur of twee
kwaliteit tyd saam met manlief te spandeer en vra of hulle nie net
bietjie kan gaan koffie drink nie, dan rol manlief die verskonings
uit. Daar is nie geld nie en ook nie tyd nie! Natuurlik gebeur dit
andersom ook. Ek het die volgende (ware) storie lank gelede hier
gedeel en gebruik dit graag weer.
Ek neem 'n buurman saam met my op 'n mannekamp na sy egskeiding, wat
hom baie hard getref het. Hy kla toe steen en been by die predikant
oor sy eksvrou wat so kon geld mors. Sy het dikwels gevra of hulle
nie net nou en dan kan gaan koffie drink in 'n restaurant nie. Hy sê
toe vir die dominee dat hy twéé blikke koffie kan koop met die geld
wat sy vrou wil hê hy moet spandeer op een koppie koffie in die
restaurant. Die dominee het hom geamuseerd aangekyk en hom tussen
die oë getref met die volgende woorde: Jaaaaaaaa vriend, nou het jy
baie koffie, maar nie meer 'n vrou nie! Daardie man was totaal
oorbluf!
Nou sê ek vir jou, gaan mors 'n bietjie tyd, en gaan mors 'n bietjie
geld! Ja natuurlik is dit nie noodwendig vir almal beskore nie, maar
dit is wel by verre vir die meeste mense wat hier lees.
Pred 3:1 "Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld
het sy tyd..." So sê die Prediker. Maar vir jou en my is dit
gewoonlik nie waar nie, want ons spandeer te veel tyd aan OORLEEF,
en te min aan LEEF. Daar is 'n verhaal van 'n man wat vertel dat die
beste dag in sy lewe was toe sy (afwesige) pa hom as tjokkertjie
geneem het om te gaan visvang. Baie later jare het hulle op sy pa se
ou dagboek afgekom op die volgende inskrywing : "Another day wasted,
went fishing with Johnny."
So tragies. Weet jy vriend, elke geleentheid wat jy nie gebruik het
om iets lekkers saam met jou geliefdes te doen nie, is verlore,
vermorste tyd. Jy kan daardie dag se geleenthede nooit weer terugkry
nie.
Gaan "mors" 'n bietjie tyd. Gaan fliek, gaan 'n naweek weg (al is jy
brandarm), gaan drink 'n koffie in 'n koffiewinkel, gaan loop in 'n
parkie, gaan op 'n foto uitstappie, al is dit met 'n selfoon, gaan
asem bietjie vroegoggend lug in. Gaan mors daai tyd, voordat dit
heeltemal vermors is.
Wees tog versigtig dat jy nie op jou oudag net met 'n paar blikke
koffie oorbly nie! ~ Willem Botha, 25/04/2022 |
|
Dit voel vir
my of ek op die oomblik deur 'n vuil venster na die wêreld kyk, want
hoewel ek die dag tot dag dinge in die lewe raaksien, begin dinge
meer en meer buite beheer lyk en my toekomsvisie dreig om te vervaag.
En as ek nou net 'n klein bietjie moeite doen, kan ek myself in
negatiwiteit verdink en dan maar net sowel die gordyn voor hierdie
vuil venster toetrek, in 'n hoekie gaan sit en sommer net boedel
oorgee. Ek hoef jou nie te herinner dat die Russe veglustig is nie,
dan ons land besig om te faal nie, dat ons regering hoegenaamd nie
meer regeer nie, en dat groot dele in Natal totaal verspoel het nie.
Ons kan maklik op 'n hopie gaan sit en vra: Waar sal ons hulp
vandaan kom? Maar tog is daar 'n ander kant ook en ek moet myself
maar die vraag afvra of ek op die ashoop wil leef of nie, want in
die lewe is daar 'n konstante gestoei om een of ander balans te
handhaaf.
Newton se derde wet verklaar : "Vir elke aksie is daar 'n gelyke en
teenoorgestelde reaksie."
Dis so waar in ons lewe, want elke ding wat gebeur, word deur die
teenoorgestelde uitgedaag. En so is dit ook in ons Geestelike lewe.
Probeer iets goed doen en die onaangename dinge probeer inmeng. Dis
nou maar eenmaal so dat min dinge volmaak verloop in die lewe en
soms noem ons dit sommer ou Murphy.
Maar dit lyk tog of waar die Here werk, so 'n paar dinge anders
uitwerk as wat ons graag glo.
1)Lig sal ALTYD donkerte oorwin, want ons kan nie donkerte skep nie,
dis bloot donker weens 'n gebrek aan lig. So oorwin God se lig ook
ALTYD die donker.
2) God se genade sal ALTYD ons sonde oorwin. Sonde het nie 'n kat se
kans teen die "aggressiewe aanslag" van genade nie.
3) God se liefde sal ALTYD groter as Sy toorn wees, want Hy IS
liefde.
4) Al lyk dit nie so in die wêreld nie, sal die goeie steeds altyd
die kwaad oorwin, as ons ons energie op die regte manier aanwend. In
ons eie land is die lewe (vir die meeste van ons) steeds lekkerder
as slegter, of hoe?
5) Daar is baie pyn in die wêreld, maar daar is steeds meer genesing.
6) Daar is baie trane, maar steeds meer lag.
7) Daar is baie oorloë, maar steeds meer vrede.
8) Daar is baie hartseer, maar tog meer vreugde.
Hoe sien jy die lewe se glas? Half-vol of half-leeg? Ek kies
bewustelik om eerder die goeie as die slegte te sien, hoewel dit 'n
ewigdurende stryd is. Dan kom hierdie opdrag vir ons uit Romeine:
"Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad
deur die goeie." (Rom 12:21) ~ Willem Botha, 21/04/2022 |
|
Ietsie wat ek by Nehemia leer is dat hy, terwyl
hy sy gewone dagtaak doen, die geleentheid raaksien en die kans
aangryp om ’n groot verskil te maak in die opbou en herstel van
Jerusalem. Hy was die koning se skinker – ’n doodgewone ou met ’n
doodgewone werk. Maar tog ook die regte ou op die regte plek, op die
regte tyd. As die koning se skinker het hy direkte toegang gehad tot
die koning, hy was elke dag in sy teenwoordigheid en hy het hierdie
kans gebruik om vir die koning toestemming te vra om Jerusalem toe
te gaan en die muur te herbou. Die koning was die saak goedgesind en
“My God het sy goeie hand oor my gehou en die koning het my versoek
toegestaan.” (Neh. 2:8). En so het iets buitengewoon uit iets gewoon
ontstaan. Dit laat my ook dink aan Mordegai wat vir Ester gesê het:
“Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ’n tyd soos dié dat jy
koningin geword het.” (Ester 4:14) Regte persoon, op die regte tyd
op die regte plek. Sy het ook, soos Nehemia, haar gewone
omstandighede gebruik om haar volk te red. Toe die geleentheid om
voordoen het sy vir die koning gevra: “As die koning my goedgesind
is en die koning dit goedvind, laat my en my volk toe om te bly lewe.”
(Ester 7:3) Al het ons nie sulke groot geleenthede soos Nehemia en
Ester of soos die dominee of ander openbare persoonlikhede of
“influencers” nie, kan ons steeds in die alledaagse gang van sake
geleenthede raaksien (en benut) waar ons ’n verskil kan maak, waar
iets buitengewoon uit iets gewoon kan ontstaan. Die Bybel sê ook
elders: doen wat jou hand vind om te doen. Waag bietjie iets anders.
Moenie bang wees om iets te sê of te vra nie. Stel belang in die
mense met wie jy in aanraking kom se wel en weë. Jy is dalk net die
regte ou, op die regte plek, op die regte tyd. Jy is dalk waar jy
is, vir ’n tyd soos dié. Bid vir iemand, gee raad, deel die
evangelie. Gee ’n beker koue water, wees gasvry en dalk huisves jy
’n engel (soos Heb. 13:2 sê), verras die kelner of karopasser met ’n
groot fooitjie, betoon onverwagse liefde, deel iets van jouself,
deel van jou goed, bederf jou bure met iets tuisgebak, deel ’n
grappie en lag saam met iemand. “... doen wat jou hand vind om te
doen, want God is by jou.” (1 Sam 10:7) ~ Wilna Botha, 20/04/2022 |
|
Ek lees 'n predikant se getuienis van 'n
bediening waar hy betrokke was. Hy het bedien by kamer 4. Dit was 'n
kleinerige vertrek met 'n bed en kassie en sekerlik 'n wasbak. Daar
was nie 'n motorhuis by kamer 4 nie, ook nie plek vir 'n
vakansiehuis se sleutels nie, ook nie plek vir 'n paar mooi
kledingstukke of ontwerper skoene nie. By kamer 4 het hy mense
geestelik bedien, maar hy het nie probeer om tant San se konflik met
tannie Gertruida uit te sorteer nie. Ook nie om vir oom Daan te
bemoedig oor die droogte op die plaas of die skuld by die Landbank
nie.
Jy sien, kamer 4 was aan die einde van 'n gang, by 'n Hospice. Mense
het nie vanaf kamer 4 teruggetrek huis toe nie, dit was die Laaste
Kamer. Dominee het net een taak en een doel gehad, en dit was om
seker te maak dat mense se saak met die Here reg was, niks anders
nie. Ek glo dat bykans elke mens wat die "voorreg" het om in kamer 4
te bly, net met een vraag stoei en dis of die Here hulle met oop
arms sal aanvaar of nie. Dominee se werk was regtig nie moeilik nie,
hy het net nodig gehad om een teks vir mense te laat verstaan. “Dit
verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe." (Joh. 6:47)
Daar is 'n spreekwoord wat ons graag gebruik: Toe die pennie drop.
Dis al wat in kamer 4 hoef te gebeur, die lig moet aangaan vir
iemand. Of eerder, Die Lig... Jesus se lig. Die pennie moet drop.
Ek glo dat baie mense met groot vrede in kamer 4 bly want daar is
dit net jy en die Here, en daar staan Hy met ope arms vir ELKE mens
wat kies om Hom te sien. Elke enkele een.
Maar moet nie voortydig in kamer 4 gaan intrek nie, want totdat jy
nie by daardie deur instap nie, het jy rede om voluit te leef.
Maar moet ek en jy nie maar kamer 4 se aksies gereeld uitvoer nie?
* Maak seker dat jou saak met die Here reg is.
* Sorg dat ALLE verhoudinge met ander so is dat jy in vrede met
hulle leef.
* Vra vergifnis waar dit nodig is, en vergewe waar jy moet.
* Sorg dat daar geen onafgehandelde sake in jou lewe is nie.
* Vergewe jouself as dit nodig is, en wees tog maar lief vir jouself.
* Moet tog nie so verknog aan aardse goeters vashou nie.
* Laastens, leef elke dag voluit! Daar is nie meer kans daarvoor na
kamer 4 nie. ~ Willem Botha, 18/04/2022 |
|
Toe ek vanoggend die gordyne ooptrek het ek
gesê: wat se mooi dag is dit nie! Dis GOEIE Vrydag. Wat is so goed
aan hierdie dag? Is dit nie dié dag waarop ons terugdink aan die
doringkroon op Jesus se kop, aan die vernedering aan ’n kruis nie?
Dié dag waarop Hy geslaan, gespoeg, gespot en weer geslaan is. Dié
dag wat Hy van God verlaat is. Dié dag toe daar drie ure se
duisternis was. Dié dag wat die bloed gevloei het. Dié dag waarop Hy
gesterf het. Dit ís ’n Goeie Vrydag, want dis dié dag waarop genade
vir my en jou ’n werklikheid geword het, waarop vryheid en vergifnis
vir ons deurgebreek het. Dis dié dag waarop al ons sonde op Jesus
gepak is. Dis dié dag toe die Lam van God vir die sonde van die
wêreld geslag is. Dis dié dag toe die skuld eis vir ons sonde teen
die kruis vasgespyker is. Dis dié dag toe geregtigheid en vrede
mekaar omhels het. Dis dié dag toe Jesus gesê het: Dit is volbring.
Mag jy ’n Goeie Vrydag hê! ~ Wilna Botha, 15/04/2022 |
|
Alles gebeur
op sy tyd, die windpomp gaan soek nie die wind nie...
Hierdie is
vir my sulke treffende woorde wat vir my baie beteken, en ek glo 'n
windpomp hou vir jou net soveel bekoring in as vir my. 'n Boer
besluit waar hy 'n boorgat gaan sink, sit 'n windpomp op en daardie
windpomp bly net daar staan, hy skuif hom nie elke week agter die
wind aan nie. Die windpomp gaan nie na die wind toe nie, die
windpomp werk wanneer die wind opdaag.
Ek wil dit
graag as 'n beeld gebruik as ek dink oor waar die Here ons wil hê en
gebruik. So baie mense sê graag dat hulle gehoorsaam sal wees as die
Here hulle wil stuur, en dis inderdaad so dat dit soms gebeur, maar
baie mense doen niks omdat hulle glo alles wat gedoen moet word is
ver weg. Die Here het vir jou en my soos 'n windpomp opgerig op 'n
bepaalde plek, en al wat jy moet doen, is om "windpomp" te wees, en
te wag vir die Here om die wind te stuur. Soos bogenoemde slagspreuk
sê: alles gebeur op sy tyd. Wag, staan soms stil soos 'n windpomp
wat se lemme glad nie beweeg nie, en wag vir die wind, dit sal kom
wanneer dit moet. En die belangrikste van alles, moet net hoegenaamd
nie nutteloos voel nie, en moenie agter die wind aandraf nie.
Ek het
hierdie gedig 'n paar jaar gelede geskryf:
Die Windpomp
Draai draai draai tussen hemel en aard
Spin die wiel met 'n vreeslike vaart
Self gaan soek hy nooit na die wind
Dis die Hemelse Heer wat die twee verbind
Lewende water
uit die aarde se kors
Op barre vlaktes les dier sy dors
Mens vervaardig van staal 'n struktuur
Maar God bepaal die wind se uur
Boer kyk op en hy prys die Heer
Wie op aard sal Sy seën kan keer?
Die pomp bring na bowe die water van lewe
Droogte is soms in natuur 'n gegewe
Soos kind van
die wind doen die pomp sy werk
Troon bo die aarde soos toring van kerk
Die mens kan wind nie maak of keer
Want God is steeds ook daar in beheer ~ Willem Botha, 13/04/2022 |
|
“Hoor dit, ons God! Ons word bespotlik gemaak!
Laat dié smaad op hulle eie kop afkom, laat hulle gevangenes word in
’n land van ballingskap! Moenie hulle oortreding vergewe nie, moenie
dat hulle sonde ooit voor U uitgewis word nie!” (Neh. 4:4-5) Hierdie
is nou nogal ’n teks wat vreemd op my oor val. So ook dié in Ps.
58:7-10: “Ruk hulle tande uit hulle mond uit, o God! ... Laat hulle
verdwyn soos water wat wegsyfer ... laat hulle wegraak soos slakke
wat net slym agterlaat ... laat ’n gloeiende wind hulle wegwaai in
die fleur van hulle lewe.” Ook dié in Ps. 69:23-26: “Laat hulle
stokblind word ... laat hulle gebreklik word ... Laat hulle
blyplekke verwoes word.” Of ook dié in Ps. 71:13 : “Laat dié wat my
vals beskuldig, self in ellende beland en vernietig word. Laat oor
dié wat my ondergang soek, net skande en mislukking kom.” Ek is
geskok om sulke wraakgedagtes en wraakgebede in die Bybel te lees,
maar tog, hier stilletjies waar niemand sien of hoor nie, het ek ook
partykeer sulke gedagtes. Wanneer mens onreg en korrupsie sien,
wanneer mens hoor hoe God verloën word word, hoe Jesus verkleineer
word, hoe Christene vervolg en vermoor word, hoe mense misbruik en
mishandel word, wil ons ook uitroep na die Here om geregtigheid te
laat geskied, om wraak te neem, om te vergeld. Ons het egter vir
Jesus as voorbeeld en leermeester. Ons weet ons moet die wraak en
oordeel aan Hom oorlaat. Ons weet ons moet nie vergeld nie, ons weet
ons moet die ander wang draai. Ons weet ons moet ons vyande seën,
ons weet ons moet mekaar vergewe. Jesus het self gesê: “Vader
vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” So, wat ek
wél vandag by Nehemia leer is om uit te roep na die Here as jy
gespot word, wysheid te vra wanneer jy vals beskuldig word of
verkleineer word, verdraagsaamheid te vra as dit wat jy vir die Here
doen geminag word, of as jou gemeente beledig word. Ons kan maar net
rustig voortgaan om goed te doen, om die Here te dien, om die
evangelie te verkondig, om die muur te bou (soos Nehemia), die Here
sal vir ons opkom, ons motiewe sal wel aan die lig kom, ons
getrouheid sal wel ’n verskil maak. “Seën julle vervolgers, ja, seën
hulle, moet hulle nie vervloek nie.” (Rom 12:14); “Moenie self wraak neem
nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar
staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,”
sê die Here.” (Rom 12:19) ~ Wilna Botha, 12/04/2022 |
|
Ek HÁÁT jou! Ek haat jou met my hele wese! Ek
kan jou nie verdra nie!
Sjoe, wat 'n VERSKRIKLIKE emosie word in hierdie woorde uitgespoeg
teenoor iemand of iets. En hoe maklik rol daai uiters kragtige,
vernietigende woord nie oor ons lippe nie. Sommer daagliks. Wat is
dit wat in ons harte en wesens skuil om hierdie gevoel te kan hê?
Wie of wat vuur dit aan, en hoekom laat ons dit toe? Ons gebruik dit
so maklik en so roekeloos. Ek dink aan sinonieme vir hierdie woord
en die volgende kom by my op: afsku, weersin, verafsku, haatlik,
verpes, minag, verfoei, walg, 'n hekel hê aan, afskuwelik....
Dalk sê jy ook goed soos: ek haat my werk, ek haat my baas, ek haat
taxi's, ek haat belasting betaal, ek haat ongeregtigheid, ek haat
dit as ek onskuldig van dinge beskuldig word. Hierdie woord doen
dinge aan jou brein wat jy toelaat, deur net daaraan te dink. Uiters
uiters negatief en afbrekend.
Dalk is daar iemand in jou lewe wat jou SO te na gekom het dat al
hierdie emosies in jou opkrop en soms uitbars, en ek het 100% begrip
daarvoor want ek ken nie jou omstandighede nie.
Maar kom ons staan net vir 'n oomblik stil by die teenpool, genaamd
liefde. As ek aan my vrou en kinders dink kom daar 'n warm gevoel by
my op wat nét so intens deur my spoel, maar wat onbeskryflik
aangenaam en opbouend is. 'n Gevoel wat vrede en vreugde oor my
bring en wat my opbou en my hele wese met deernis en genot vervul.
Nou ja, die laaste ding wat ek wil verkondig, is dat jy 'n skakelaar
oorgooi wat intense haat in intense liefde verander. Ek kan dit self
nie regkry nie, al het ek al probeer. In die weermag het ons 'n
korporaal gehad (daar was eintlik vele) vir wie ons verafsku het en
vir wie ek geen greintjie respek gehad het nie, totdat ek later jare
besef het dat hy 'n bepaalde rol in ons opleiding gehad het. Voorts
het ek besef dat ons eintlik die oorwinnaars was omdat hy ons net
eenvoudig nie kon breek nie. En bo alles, jy het baie sterker
daaruit gekom as wat jy daar ingegaan het.
Die Bybel noem baie dinge wat God haat, dade wat ons as mense pleeg
en slegte dinge wat ons aan mekaar doen. Ek weet egter net van een
teks waar genoem word dat God 'n bepaalde persoon haat.
"Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau
het Ek gehaat.” (Rom. 9:12)
Dit moet verskriklik wees, maar wees verseker dat die Here nie vir
jou en my haat nie, hoewel Hy party van ons dade haat.
Terug na ons eie emosies hieroor. Ek het diep gedink oor politieke
leiers wat uitsprake maak en ons benadeel op grond van ons herkoms
of ander dinge wat hulle nie kan verdra nie. Wat help dit jy en ek
vergiftig onsself met hierdie aaklige gedagtes omdat ons reageer op
ongeregtigheid? Wie lei die meeste daaronder? Wie is die slegste
daaraan toe? Net onsself. Kan ek die skakelaar oorgooi na liefde
toe? Dalk nie, maar ek kan die skakelaar afsit. Kan ek vir die Here
guns vra as ek sy skepsels haat oor hulle gevoelens teenoor my? Nee,
ek dink nie dis reg nie. Ek dink die Here verwag meer van ons, want
Hy het ons tog die gawe van liefde gegee, en dis my en jou keuse om
dít eerder te voed as negatiewe emosies. Kom ons doen nie hierdie
slegte goed aan ander of aan onsself nie, dis nie die moeite werd
nie. Lewe eerder in liefde! ~ Willem Botha, 11/04/2022 |
|
“Ek het toe geweet dat God hom nie gestuur het
nie ... Hy is omgekoop om my bang te maak sodat ek ’n misstap sou
begaan en hulle die geleentheid gee om my te beskinder en my naam
sleg te maak.” (Neh. 6:12-13) Ek leer vandag by Nehemia om nie
oorhaastig op te tree as mense vir jou instruksies gee om iets te
doen nie. Neem ’n oomblik en dink oor die implikasies. Neem ’n
oomblik en oorweeg die motiewe van die een wat vir jou sê om op ’n
sekere manier op te tree. Neem ’n oomblik en luister na die stem van
die Heilige Gees in jou binnekant. Bid om die onderskeidingsvermoë
te hê om aan te voel wanneer iets reg of verkeerd is. Vertrou jou
eie instink, slaan ag op gevaarliggies wat in jou hart opkom,
luister na jou verstand wat jou waarsku dat iets dalk nie pluis is
nie. Moenie bang wees om anders op te tree as wat mense van jou
verwag nie. Moenie iets doen wat mense van jou verwag net omdat dit
reg en mooi klink of omdat dit vir ’n goeie saak is nie. Dit mag
dalk die regte ding wees om te doen, maar dit mag dalk ook jou fokus
wegtrek van dít waaraan jy eintlik jou aandag en jou energie moes
spandeer, of dit mag dalk die ongewenste uitkoms hê. Wat Semaja vir
Nehemia gesê het om te doen, het goed en reg geklink. Hy het gesê
hulle moet in die huis van God, binne-in die tempel ontmoet, dan
moet hulle die deure sluit want daar kom mense om Nehemia dood te
maak, maar binne-in die tempel sou hy veilig wees (lees Neh. 6:10)
Dit klink mos nie na ’n slegte plan nie, maar Nehemia het die
voorstel oorweeg en instinktief geweet dat dit ’n lokval is, ’n plan
om die Here se werk (die bou van die muur) in die wiele te ry, ’n
plan om Nehemia in onguns te bring en sy naam en sy werk sleg te
maak. Leer by Nehemia om die “pause”-knoppie te gebruik! ~ Wilna
Botha, 07/04/2022 |
|
Pyn... Een van God se geskenke aan die mens. So
lees ek in 'n geestelike skrywer se boek. Jou eerste gedagte is
sekerlik ook: is jy mal? Wie wil pyn hê? Hoe kan die Here dit doen?
Wel, ek verstaan net 'n klein deeltjie hiervan, en dit maak nogal
vir my sin. So paar jaar gelede het ek 'n niersteen gehad en ek was
seker ek is besig om te beswyk en ek was oortuig dat daar geen erger
pyn as dit kan wees nie. Jy ken mos daai spreekwoord: so siek soos
'n man...
Verlede jaar het my galblaas teen my oorlog verklaar en nadat daar 5
reuse skerp rotse deur daardie piepklein buisie gewurm het, was ek
oortuig dat DÍT die moeder van alle pyne is. Die probleem was egter
baie gou opgelos, maar dis God se gawe van pyn wat vir my vertel het
dat daar iets fout was. So het elkeen van ons al iets oorgekom waar
pyn die probleem verklap het. Pyn maak dat jy nie jou hand op die
stoof verwoes nie, en pyn maak dat jy maar eerder jou huiswerk doen.
Of liewer, dit was die goeie ou dae toe daardie Bybelse beginsel nog
toegepas kon word. So kan ek aangaan en pyn se goeie deugde besing,
maar dis nie waar dit stop nie.
Emosionele pyn is een van daardie elemente van seerkry,
diepgewortelde pyn, waar ek dalk sou kon dink God het 'n "design
error" gemaak. Emosionele pyn bring die "hoekom, hoekom ek, wat wil
U vir my sê", vrae na vore. Die dood van 'n geliefde, 'n huwelik wat
ontspoor het, verwerping, teleurstelling, mense wat jou met woorde
vernietig, verlange en vele ander bitter diep seer, voel tog nie of
dit 'n doel kan hê nie. Die woord "smart" kom vir my die naaste aan
'n goeie beskrywing. Hoekom? Hoekom ek? Hoekom Here? Een van daardie
vrae wat God selde antwoord. Dit sou ook goed wees as die Bybel 'n
bevredigende verduideliking kon gee.
My antwoord? Ek weet natuurlik nie, want ek ken nie die weë van die
Here nie.
Maar soos wat ek hierdie dinge oordink, kom ek by 'n punt waar ek
pyn en liefde op 'n vreemde manier by mekaar wil uitbring. Die
gemiddelde mens wil nie daardie pyn aan 'n ander toedien nie, omdat
jou liefde vir mense dit probeer keer. Omdat ek vir iemand lief is,
wens ek pyn en smart nie vir 'n ander mens toe nie. Verder, omdat jy
lief is vir mense, kom omgee en "compassion" na vore om iemand met
pyn te vertroos, en ons weet tog dat die nabyheid van ander jou help
om te genees. Om in die arms van die Here te gaan skuil, maak pyn
meer draaglik, en hoewel dit vreemd klink, dryf pyn meer mense ín
die arms van die Here in, as om wég te vlug van Hom af. Hoewel baie
mense die "hoekom" vraag vra, en nie antwoorde kry nie, bly God
steeds die beste toevlugsoord. Ek dink die meeste mense voel tog dat
God aan die kant is van die een wat deur ander mense soms wreed
gepynig word. Dit is inderdaad so. Jesus het pyn geken,
onbeskryflike fisiese pyn, maar sy Vader het sekerlik ook
onbeskryflike emosionele pyn gevoel om sy Seun aan die kruis te laat
sterf. Maak dit sin? Maak dit sin dat Hy dit aan sy enigste Seun kon
doen? Ja, definitief, omdat Hy dit uit liefde vir ons gedoen het.
Pyn en liefde, op 'n vreemde manier aan mekaar gebind. Maar pyn is
beperk tot hierdie lewe, Goddank!
"Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie
meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie.
Die dinge van vroeër het verbygegaan.” (Openb. 21:4) ~ Willem Botha,
04/04/2022 |
|
Hoekom is ons so bang om dood te gaan? Dalk sê
jy vandag vir my dat jy absoluut geen vrees het om hierdie lewe
agter te laat nie. Wel, ek kan nie vir ander mense sê hoe hulle moet
voel nie, maar ek het al male sonder tal mense gesien wat weet hulle
einde is naby, en ongelooflik bang is daarvoor, terwyl hulle
absoluut seker was van hulle saligheid. Ek wil onder geen
omstandighede weet dat ek dalk (sê nou maar) more 12 uur, my laaste
asem gaan uitblaas nie. Sê nou maar die Here is bereid om dit vir
jou te openbaar, sal jy dit wil weet? Liewer nie vir my nie dankie.
Toe my pa op sy laaste was, het ek vir hom gevra of hy bang is
daarvoor, toe sê hy hy is onbeskryflik bang daarvoor, want hy weet
nie hoe lyk dit aan die ander kant nie.
Die Bybel beskryf ons lewe hierna nogal goed op verskeie plekke,
maar ek klou steeds eerder krampagtig vas aan die hier en nou. Die
slim mense praat van "RTC", resistance to change. Ek is werklik nog
nie te moeg vir hierdie lewe nie, want ek vind baie vreugde in my
dag tot dag bestaan.
Onthou jy hoe dit jare gelede was toe die tyddeel vakansies soos
soetkoek verkoop het? Jy het 'n aanbieding bygewoon en die
wonderlikste materiaal en video's is vir jou gewys, en dit was
absoluut idillies. Dan het die mense vinnig daai tjekboeke uitgepluk,
maar vele was later teleurgesteld.
Wel, kyk gou hierdie kort beskrywing in Openbaring van ons nuwe
tuiste anderkant ons lewensgrens. Lees dit, kyk na die "video" dan
stap jy saam met my hierdie virtuele pad en dan probeer ons dit
visualiseer.
"Die engel wat met my gepraat het, het ook ’n goue liniaal gehad.
Dit was om die stad noukeurig op te meet; ja, die hele stad met sy
poorte en mure. Die stad was vierkantig; dit was net so lank as wat
dit breed was. Die engel het toe die stad gemeet. Dit was 12 000
kilometer lank. Sy breedte en hoogte was presies dieselfde. Hy het
ook die hoogte van die muur gemeet. Dit het volgens menslike mate
144 meter hoog gestaan. Die muur was van die pragtigste
edelgesteentes gebou. Die stad self was van die suiwerste goud. Dit
het geblink en geskitter, byna asof ’n mens na glas kyk. Die
fondamente van die stadsmuur was die ene edelstene. Dit was oortrek
met jaspis, saffiere, agaat, smarag, oniks, sardis, chrisoliet,
beril, topaas, krisopraas, hiasint en ametis, twaalf soorte altesaam.
Die twaalf poorte was elkeen uit ’n soliede pêrel gemaak. Die strate
van die stad was van goud, skitterblink soos glas. Dit was of ’n
mens daardeur kon sien. Ek het gekyk, maar geen tempel in die stad
gesien nie. Dit was nie meer nodig nie, want die Here God, die Een
wat die sterkste van almal is en alles kan doen, was in die stad.
Met Hom en die Lam daar was ’n tempel onnodig. Daar was ook nie meer
’n son of maan nodig om lig te gee nie. Die grootheid en heerlikheid
van God self het die stad verlig. Ja, die Lam was soos ’n helder lig
in die stad." (Openbaring 21:15-23. Die Boodskap)
My ouers en ook jou geliefdes wat gered was, maar oorlede is, is NOU,
op hierdie oomblik in hierdie nuwe paradys. Klink nogal na die
moeite werd of hoe? Ek weet nie hoe jy, wat hier lees, eers lyk nie,
maar ons gaan eendag saam hierdie goue strate bewandel, sonder pyn
of hartseer of swaarkry. Dis 'n reuse, indrukwekkende plek, en God
se lig en heerlikheid gaan alles wat ooit sleg was in hierdie lewe,
oorheers. En los maar die tjekboek, dis gratis vir dié wat dit glo.
See you on the other side... ~ Willem Botha, 31/03/2022 |
|
Drink....
"Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen
die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie
lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie,
maar soos U wil.” (Mat. 26:39) Drink...
" 'n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie
lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie,
laat u wil geskied.” (Mat. 26:42) Drink...
Daardie bitter beker het nog nooit by my gestop nie, dit het nog
altyd verbygegaan. Daardie bitter beker wat soms net uit die niet
verskyn en by jou mond kom stop. Drink... Daardie bitter beker wat
onuithoudbaar is, wat geen mens verkies nie. Drink....
Here, asseblief, ek vra so mooi dat dit verby my sal gaan, ek kan
dit nie hanteer nie. Ek kan dit nie nóg 'n keer drink nie! Hoekom ek
Here? Drink...
Ek dink aan my oorlede suster, toe daardie bitter, aaklige
traumatiese beker een Saterdagmiddag voor haar kom stop het en haar
kind verdink het. Drink...
Ek dink aan die dag toe daardie beker wéér 'n jaar later ongenooid
sy opwagting kom maak toe 'n kind in die pad voor haar inry en hy
nie die ongeluk oorleef het nie. Drink... Here, nee, hoeveel keer
nog? Die beker het later weer by haar kom kuier. Drink...
Ek dink aan die vrou wat ons ontmoet het wat vele kere met daardie
beker moes worstel, en hom steeds gereeld drink. Die kanker kom keer
op keer terug, keer op keer die uitmergelende chemo terapie, die
hoop en gebede op remissie. Dan kom die beker maar net weer.
Drink...
Ek dink aan die ma wie se seun sy eie lewe geneem het. Ek het 'n
paar jaar gelede daaroor geskryf. Drink.. Ek sou later hoor dat die
beker reeds 'n paar jaar gelede by haar lippe kom stop het, toe haar
man ook dieselfde pad gestap het. Drink...
In my menslike swakheid en soeke na antwoorde, wil ek dink dat Jesus
tog dit beter sou kon hanteer, Hy was immers self God, en Hy het tog
sekerlik verstaan dat dit op sy pad moes kom. Maar tog het Hy by sy
Vader gesmeek: Asseblief nie Vader, nie daardie beker nie! Maar sy
Vader het Hom laat drink.
Ek weet dat vele mense wat nou hier lees, al baie kere beleef het
dat daardie bitter beker by hulle kom stop het. Drink...
Ek weet egter ook dat die meeste mense wat ek ken wat al van daardie
beker moes sluk, wedergebore Christene is. Mense wat die
bonatuurlike krag van die Here kry, wat sê: Laat egter nie my wil
nie, maar U wil geskied.
As daardie beker nog nie by jou en my gestop het nie, kan ons net
die Here prys daarvoor. Wanneer kom hy? Ek weet nie. Mag die Here
vir ons krag gee. ~ Willem Botha, 28/03/2022 |
|
“Ek het ’n skietgebed opgestuur na die God van
die hemel ...” (Neh. 2:4) Soos ’n pyl uit ’n boog, soos ’n skoot wat
afvuur, in ’n nano sekonde, terwyl hy met sy dagtaak as skinker van
die koning besig is, stuur Nehemia ’n gebed na die Here toe. Ons
weet nie wat die woorde van die gebed was nie, dalk iets soos: Here,
help. Here, wat moet ek sê? Here, laat u guns op hierdie saak wees.
Here, maak die koning se hart sag. Here, gee vir my moed. Ek weet
wat die inhoud van my vele skietgebede is. Here, wat nou? Here,
watter kant toe? Here, gee geduld. Here, doen ek die regte ding?
Here, gee krag. Here, wat moet ek kies? Soms is dit skietgebede van
dankbaarheid of verligting of eer aan die Here. Baie van daai
skietgebede (en dalk Nehemia s’n ook), het nie eers woorde nie, dis
net ’n gedagte of ’n sug, of ’n asem ophou, of ’n sekonde se afsluit
van die dinge om my. Dis darem maar wonderlik om te weet die Here is
elke sekonde van die dag, oral by en in my sodat ek op só ’n manier
met Hom kan praat. As ek in Nehemia lees, sien ek dat voor hierdie
skietgebed-dag, het Nehemia dae lank gehuil en getreur en gevas en
lank met die Here gepraat (lees die gebed in Neh. 1: 4-11). Hy het
sy en sy gesin en sy volk se sondes bely, hy het die Here herinner
aan sy belofte wat hy met hulle gemaak het. Hy het gesmeek en
gepleit. Hy het vir God se guns gevra. Hy het die Here se Naam groot
gemaak en sy lof besing. En dís wat ek vandag by Nehemia wil leer:
my gebedslewe en my gesprekke met die Here kan nie nét uit
skietgebede bestaan nie. Die skietgebed moet ’n uitvloeisel wees van
lang tye op my knieë, van innige gebede, van die Woord oordink, van
lofliedere sing, van selfondersoek doen en van nuwe voornemens maak.
As ek só ingestel is, só verbind, só gevul is met die Here, dan kan
die skietgebede afgevuur word! ~ Wilna Botha, 24/03/2022 |
|
Mens leer nogal baie uit ander se omstandighede.
'n Paar jaar gelede is 'n vriend se vrou onverwags op 'n
operasietafel oorlede. Hy het destyds vir my die raad gegee dat ek
elke oomblik wat ek kan, my tyd saam met my vrou en my ander
geliefdes moet koester en daardie verhoudinge soos goud oppas. Dit
het 'n geweldige impak op my gehad en ek dink vreeslik baie daaraan,
en ek probeer dit doen. Dieselfde vriend se raad 'n paar dae gelede
was dat ek elke oggend wat ek my oë oopmaak, uiters dankbaar
daarvoor moet wees en elke dag voluit leef. Hy het dit vir my gesê
omdat hy 'n week gelede 'n baie ernstige beroerte gehad het, en
goddank dit oorleef het. Hopelik sal hy goed herstel, ons bid
daarvoor.
As ons 80 jaar oud word, leef ons 29200 dae, NET 29200, en dis in 'n
oogwink verby. Ek gebruik graag die beeld van 29200 kerse, wat dag
vir dag uitgedoof word. Ek het nou die dag net besef dat die kersies
wat nog oorbly, nog nie brand nie. As jy soggens jou oë oopmaak, het
die Here pas vandag se kers aan die brand gesteek. Die kerse van die
verlede is uitgedoof en die wat in die toekoms lê brand nog nie, net
vandag s'n brand. Ek het netnou gewonder wat ek met vandag se
brandende kers gedoen het, want ek het dan net gewerk die hele dag
lank en ek is moeg. Maar ek het besef ek was gehoorsaam aan die Here
se opdrag om te werk, en ek weet my arbeid het 'n verskil gemaak.
Was ek dankbaar vir wat ek het? Vir besittings? Vir gesondheid? Vir
my familie? Ja ek was en ek het vir die Here dankie gesê. Was ek
gelukkig vandag? Ja ek was en ek is, want ek kies dit. Het ek aan
Hom gedink vandag? Ja, ek dink dikwels aan die Here en ek praat
nogal graag met Hom deur die dag. Was my lewe vandag vol klagtes?
Ongelukkig ja, met die witbrood onder die arm. Het ek my oorgegee
aan kommer? Nee wat, nie juis nie.
Maar, kan ek beter doen op al hierdie gebiede? Definitief.
More se kers brand nog nie, maar omdat ek in hoop en verwagting leef,
kan ek tog beplan vir vele kerse wat nog gaan brand, maar die
hoeveelheid laat ek eerder in sy hande oor. Ek wil net graag die
beste van elke dag maak, en sonder "regrets" oor gister leef, want
dis verby. Jy ken hierdie spreekwoord: “Yesterday is history,
tomorrow is a mystery, but today is a gift. That's why we call it
the present.” ~ Willem Botha, 23/03/2022 |
|
“Sterk tog my hande, o God!” (Neh. 6:9)
Nehemia-hulle is besig met die herbou van die muur rondom Jerusalem,
maar ondervind groot teenkanting, aanslae en terugslae. Hy laat hom
egter nie van stryk bring nie en roep net uit na die Here met dié
gebed: “Sterk tog my hande, o God!” Dit voel amper vir my asof hy
nie eers opkyk van die werk af nie. Hy gaan sit nie eenkant en kry
homself jammer nie. Hy laat nie toe dat die probleme of die
hoeveelheid van die werk hom onderkry nie. Hy hou net aan werk en
terwyl hy hard werk, bid hy: “Sterk tog my hande, o God!” Ons vind
onsself ook baie keer in daai posisie, waar jy oorweldig voel deur
jou werksdruk, deur die probleme, deur dinge wat verkeerd loop, deur
mense wat jou van stryk wil bring. Dan wil ons moedeloos word, tou
opgooi of ander kortpaaie soek. Dit kan geld vir enige geestelike
bedieningswerk waarmee jy besig is of natuurlik ook vir jou gewone
werkslewe, jou alledaagse “in die sweet van jou
aangesig”-bedrywighede. Ek wil vandag by Nehemia leer om net so
terwyl ek werk en sweet en sukkel uit te roep: “Sterk tog my hande,
o God!” Ek wil myself herinner dat ek alles wat ek doen, moet doen
asof ek dit vir die Here doen. Ek wil myself herinner dat my krag en
hulp vir my werk van die Here af kom en niks te doen het met my eie
krag, my eie intelligensie of my eie vermoëns nie. “Jy kan dalk
dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf.
Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat
jou die krag gee om die rykdom te verwerf.” (Deut. 8:7) Sterk tog my
hande, o God! ~ Wilna Botha, 22/03/2022 |
|
Ek het hierdie boodskap (bykans op die dag),
twee jaar gelede geskryf. Ons was pas tussen die oë getref deur die
pandemie, ons het aan die skok gely wat hierdie ramp oor ons pad
gebring het en ek moet sê, ek was totaal ontnugter deur hierdie
gebeure. Wie het dit ooit verwag? Hopelik is die ergste nou verby en
hopelik tref dit ons nie weer in ons lewens nie. Ek het regtig hard
gesoek na dít wat die Here hiermee kon doen in hierdie tyd, en ek
het steeds nie regtig 'n antwoord nie. Ek plaas weer die stukkie, en
ek dink nogal dat baie van hierdie goed tog tot my deurgedring het.
Baie mense het geliefdes verloor, en baie mense het baie besittings
verloor en dalk veel meer as net dít wat ons op die oog af raaksien,
maar ek sien Hom in elke treë van hierdie pad raak. Ek en my
geliefdes het heel hierdeur gekom en ek is dankbaar daarvoor.
Ek prys Hom daarvoor.
Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Mens, jy is nie so in
beheer van die wêreld soos wat jy dink nie, jou kassie kan binne dae
geskud word. Miskien sê die Here vir ons: Respekteer die natuur, pas
dit op, versorg dit, maar luister ook daarna. Miskien sê die Here
vir ons: Ek gaan jou vir 'n rukkie uit hierdie rotresies haal waarin
jy so magteloos vasgevang is, en Ek gaan jou dwing om rustig te wees.
Miskien sê die Here vir ons: Gebruik hierdie tyd nuttig en leer weer
jou mense ken, spandeer hierdie tyd wyslik en kom nader aan mekaar.
Miskien sê die Here vir ons: Mens, jy gaan sien dat jou geld en
weelde jou niks help in sulke tye nie, en jou geld (en Mammon) gaan
vir 'n rukkie tweede viool moet speel. Miskien sê die Here vir ons
in hierdie tyd: Leer om vir 'n rukkie minimalisties te leef, en sien
raak hoeveel vrede daar in jou gemoed kan wees as jy bietjie sonder
jou weelde moet klaar kom. Miskien sê die Here vir ons: Besef dat
jou waardes maklik deur die genietinge van die wêreld negatief kan
verander, en dink bietjie na oor wat regtig belangrik is in die lewe.
Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Mens, oppas dat jou
selfsug nie ander tot nadeel strek nie, daar is genoeg vir almal,
gun ander ook 'n stukkie brood. Miskien sê die Here vir ons: Mens,
daar is mense wat Ek op jou pad gaan stuur, help hulle as hulle
middele opgeraak het, Ek sal jou vergoed daarvoor. Miskien sê die
Here vir ons in hierdie tyd: Ek wil hê dat daar weer eensgesindheid
onder My mense kom, reg oor die wêreld, veg saam teen hierdie
onsigbare gemeenskaplike vyand, dit gaan julle sterker maak. Miskien
sê die Here vir ons in hierdie tyd: Dink weer kreatief, kom uit
daardie gemaksone, jy is tot meer in staat as wat jy dink. Miskien
sê die Here vir ons in hierdie tyd: Mens, as jy na My soek in
hierdie tyd, kyk op en sien My raak, ek het jou nie verlaat nie, ek
hou jou steeds in die holte van My hand en Ek beskerm jou. Ek is
steeds op my troon. Miskien sê die Here vir ons: Al gaan jy ook deur
'n dal van doodskaduwee, moenie vrees nie, My hand is uitgesteek,
vat dit net. Miskien vra die Here vir ons in hierdie tyd: Mens, kan
jy sien hoe jy nog altyd kla met die wit brood onder die arm? Hou op
daarmee.
Miskien sê die Here vir ons in hierdie tyd: Ek ontferm my gou weer,
dis alles binnekort verby. Miskien sê die Here vir ons in hierdie
tyd: Jy gaan vir my dank vir die goeie goed wat hieruit gaan vloei,
Ek is besig om jou te leer en jy gaan dalk op 'n nuwe pad begin as
alles verby is.
Miskien sê die Here niks van hierdie goed nie, miskien is dit maar
net my eie gedagtes, maar dis waaraan ek vashou in hierdie tyd. Aan
Hom. ~ Willem Botha, 21/03/2022 |
|
Wat my nogal opval van die Nehemia is dat daar
’n gebedsdraad dwarsdeur die boek verweef is. Dit wissel van ’n kort
skietgebed in Neh. 2:4 tot een van die langste gebede in die Bybel
in Neh. 9. Wat vir my mooi is en waaruit ek baie leer oor gebed, is
dat hy sy gebed in Neh. 1:5-11 begin met ’n lofprysing, ’n opnoem
van God se karaktereienskappe, ’n eerbetoon oor wie God is, ’n
bevestiging van sy getrouheid teenoor dié wat Hom dien. “Ag, Here,
God van die hemel, groot en ontsagwekkende God wat u verbond en U
trou handhaaf teenoor dié wat vir U liefhet en U gebooie gehoorsaam.”
Wanneer ons die Here se Naam só grootmaak in ons gebed, dan help dit
ons om te fokus op wie God ís; dit laat ons geloof sterker word; dit
gee vir ons versekering dat Hy in staat is om meer te doen as wat
ons kan bid of dink. As ek my gebed met so ’n lofprysing begin,
inplaas daarvan om sommer net weg te val met my wenslysies en
vra-lysies en inkopielysies, dan help dit my om weg te kyk van dit
wat Hy vir my kan gee en doen en raak te sien met wie ek praat: God
van die hemel, groot en ontsagwekkende God! Roep die Naam van die
Here só aan en weet verseker dat die krag van jou gebed nie bepaal
word deur die een wat bid nie, maar deur die Een wat daarna luister.
~ Wilna Botha, 17/03/2022 |
|
As jy my mening vra oor Geestelike goed, kan ek
nie gou genoeg antwoord nie, en ek rol dalk sommer 'n teksvers of
twee daarmee saam uit. Maar eintlik besef ek meer en meer hoe min ek
weet, en hoe min ek verstaan, want ek sien dikwels dat teksverse wat
ek graag gebruik, nie bevredigend uitspeel in my dag tot dag lewe
nie.
Ek het al soveel keer gebid dat mense gesond moet word, maar dan
sterf hulle. Dan besef ek ek weet nie hierdie goed nie.
Ek het al gebid dat 'n huwelik gered word, en die mense kry tekens
dat hulle moet deurdruk, maar dan werk dit nie. Dan besef ek ek weet
nie hierdie goed nie.
Ek het al gebid dat spesifieke dinge nie met my of my gesin moet
gebeur nie, maar dan gebeur dit. Dan besef ek ek weet nie hierdie
goed nie.
Ek het al gesien dat goeie, wedergebore, toegewyde Christene deur
diep waters gaan, en as iemand 'n rede daarvoor vra, kan ek maar net
sê ek weet nie. As ek wonder hoekom 'n klein kindjie in bitter
armoede gebore word en van honger sterf, dan besef ek dat ek nie
weet nie. En as jy my vra of iemand die ewige lewe kan hê as hulle
totaal ongeletterd is en dalk net aan hulle eie kultuur en
godsdienste blootgestel was, dan besef ek ek weet nie hierdie goed
nie.
So kan ek aangaan vir ure. En as jy my vra of dit my soms oor alles
laat twyfel, dan erken ek ruiterlik dat ek twyfel. Twyfel aan God se
bestaan? Nee nooit! Maar aan sy werke? Of Hy besig is met elke mens
op een of ander manier? Sjoe, ek weet nie.
Maar wat myself betref, het ek besef dat hoe meer ek twyfel, hoe
meer glo ek. Hoe minder ek van die Here verstaan, hoe meer respek
het ek vir sy almag. Hoe meer dinge al hoe minder duidelik word, hoe
meer sien ek sy grootheid, want dan besef ek dat Hy totaal bo my
vuurmaakplek is, en dan besef ek dat ek die onbeskryflike voorreg
het om my knie voor Hom te buig. En as ek antwoorde van Hom eis en
Hy gee dit nie, dan aanvaar ek dat ek waarskynlik dit in elk geval
nie sal verstaan nie. En as ek nie die volle "prentjie" van die lewe
kan raaksien nie, is dit omdat net Hy uit die hoogtes waar ek nie
kan bykom nie, dit alles kan sien. Hy sien van die verste ver tye
terug, tot in die oneindige toekoms. Dan is ek dankbaar dat, hoewel
Hy so groot is, en ek net 'n wurmpie is, dat Hy Homself steeds met
my bemoei, en dit laat my breed glimlag.
Ek prys Hom daarvoor. ~ Willem Botha, 17/03/2022 |
|
Ek lees so bietjie deur die boek Nehemia op die
oomblik. Dit speel af in die tyd dat die Jode uit ballingskap
vrygelaat is en begin terugkeer het na Jerusalem toe. Nadat hy lank
gevas en gebid en getreur het, het Nehemia dit gewaag om toestemming
te kry om Jerusalem toe te gaan om die mure te herbou en die stad in
ere te herstel en te beveilig. Wonder bo wonder het dit uitgewerk en
het hulle bouplanne in plek geval en die werk het mooi gevorder. Toe
was daar gerugte van klomp vyande wat saamgesweer het om Jerusalem
te kom aanval en die werk in die wiele te ry. En op hierdie punt in
Neh. 4:9 lees ek: “Ons het tot ons God gebid en dag en nag wagte
teen hulle uitgesit.” Dit het my só getref dat hulle eerste reaksie
op die gevaar was om te bid. Dit doen ons gewoonlik ook as daar een
of ander krisis of gevaar opduik, of as slegte nuus aanklop, of as
dit lyk of ons planne nie gaan uitwerk nie. Hulle bid egter nie net
nie. Hulle bid EN maak dadelik ’n plan om hulleself te beveilig.
Hulle bid nie net en wag handegevou vir die Here om te werk nie.
Hulle bid en werk mee om hulle gebed te verhoor. Wagte is dag en
nag uitgesit, die helfte van die manne het wag gehou met spiese,
skilde, pyle en boë, terwyl die ander van vroeg tot laat gewerk het
aan die bouwerk. Sommige het die werk met een hand gedoen terwyl
hulle in die ander hand ’n wapen vasgehou het. Hulle het nie nét
gebid nie. Dit beteken natuurlik nie dat hulle nie geglo dat die
Here hulle gebed sal verhoor nie. Hulle hét! Maar hulle het ook
geweet dat hulle moet doen wat hulle kan in die situasie. Vir my was
dit in die afgelope week ook ’n les om te leer. Ek was verlede week
in die hospitaal vir ’n operasie. In die aanloop tot dié storie het
ek so bang en gespanne geword. Hoe gaan dit wees alleen in die
hospitaal? Gaan dit seer wees? Sê nou maar dis nie ’n sukses nie?
Hoe lank voor ek weer op die been is? ... en so het ek myself
paniekerig “gevra” en “gedink”. So ’n dag voor die tyd bid Willem
weer vir my en ek hoor hy vra vir die soveelste keer dat die Here my
moet rustig maak. Net daar besef ek: ek sal moet saamwerk om sy
gebed te verhoor. Ek kan nie dat my gedagtes met my op loop sit nie,
ek moet vertrou dat die Here by my is, ek moet vertrou dat die
dokter weet wat hy doen, ek moet die proses een tree op ’n slag vat
en op die huidige oomblik fokus. Nou ja, die Here het Willem se
gebed verhoor en ek was heel kalm toe hy my groet voor die
hospitaaldeur. En ja, ek is terug by die huis en alles het sovêr
goed verloop. Nou is dit ’n gebed vir herstel en weereens het ek ’n
verantwoordelikheid om mee te werk in die verhoring van die gebed! ~
Wilna Botha, 15/03/2022 |
|
Niemand van ons gaan hierdie lewe oorleef nie.
Ons gaan alles wat ons besit agterlaat.
Het ons regtig voluit gelewe?
Het ons net vir onsself gelewe?
Ons gaan wel vir ewig en ewig iewers lewe, óf by die Here, of nie.
Of ons dit glo of nie. ~ Willem Botha, 14/03/2022 |
|
Daar is absoluut niks aangenaam aan swaarkry
nie, want dit stroop jou van alles, en ook van jou menswaardigheid.
En jitte ek ken mense wat in hulle hele lewe niks anders as swaarkry
geken het nie. Mense van my ouderdom kan bykans deur die bank vertel
van hulle ouers se swaarkry en as jy eers 'n bietjie op hulle
voetspore gaan stap het, besef jy dat jou eie definisie van swaarkry
anders as hulle s'n is. Ek persoonlik ken nie (volgens my) regtig
swaarkry nie, hoewel daar ook al uitdagings in my lewe was, maar dit
kan hoegenaamd nie vergelyk word met die swaar van ander mense in
hierdie wêreld nie. In globale terme is ek seker skatryk net omdat
ek 'n huis en motors besit.
Daar is egter 'n ander element van swaarkry wat veel erger is, en
dis mense wat deur trauma of ander emosionele uitdagings gaan.
In Viktor Frankl se boek "Man's search for meaning", skryf hy dat
die mens enigiets kan verduur as hy net sou weet wat die betekenis
van daardie swaarkry is, en voorts ook as jy weet dat dit iewers
weer beter sal gaan.
Ek weet egter een ding, en dit is dat dit makliker is as jy nié
alleen daardie pad stap nie. In die Bybel word daar oorweldigend
baie geskryf oor mense wat bitter swaargekry het. Ek dink aan Paulus
wat 'n paar keer amper doodgemartel is, ek dink aan die Israeliete
in die woestyn, Job wat alles verloor het, die dissipels wat vir
hulle geloof gesterf het, Johannes die Doper wie se kop afgekap is,
en dan natuurlik Jesus se wrede kruisdood.
Miskien het hulle nie almal enige betekenis in daardie swaarkry
gesien nie, maar ek en jy sien die betekenis in hulle swaarkry.
Voorts was die Here altyd daar vir hulle, net soos wat hy daar is
vir jou en my. Laastens ken ons hierdie volgende baie bekende teks,
maar as jy ín jou swaarkry worstel, klink hierdie teks maar effens
hol.
"Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek
volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van
geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde
in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee
het." (Rom. 3:3-5) ~ Willem Botha, 09/03/2022 |
|
Sê nou maar....sê nou maar net!
Hierdie is die gedagte waarop enige vorm van versekeringsdekking
geskoei is. Sê nou net jy is in 'n ongeluk of jou goed word gesteel
of jy word siek of jy gaan dood of jy verloor jou inkomste, of jou
huis brand af, of of of...
Jy kan bykans enige iets "verseker" en jou premie hang van die
risiko af. En soos jy weet is jou premie dooie geld, want elke maand
wat niks sleg gebeur het nie, verbeur jy daardie geld. Dis nou maar
deel van die lewe.
Maar sê nou maar daar ís 'n God en daar ís 'n hemel en daar ís 'n
hel en daar ís 'n oordeelsdag en daar ís 'n wederkoms, dan gaan jou
geld niks help nie. En soos met enige polis is dit te laat as die
volstruis in die windpomp in vlieg. Nou ja, soos jy weet kan jy in
elk geval nie met geld 'n premie betaal om dáárdie risiko af te dek
nie, want daardie premie is sommer reeds vir jou betaal, as jy net
die gratis aanbod aanvaar, en soos jy weet is daar "no strings
attached". Nogal lekker né, 100% afslag vir die eerste 144000... Nee
ek spot nou sommer, die aanbod is vir elkeen wat dit wil aanneem.
Wel, hierdie klink nou nogal soos vrees-godsdiens en ek hou nie
eintlik daarvan om dit te verkondig nie, ek hou liewer die ander
deel vir jou voor.
Sê nou net daar is 'n God wat vir jou lief is, en jy mis uit op al
daardie onbeskryflike heerlikheid en lekkerte, nou terwyl jy lewe.
Sê nou net daar is 'n groot Geneser en jy glo nie dat Hy mense
genees as dit binne sy wil is nie, maar jy kies om self deur daardie
swaar tye te worstel. Sê nou net Hy wil só graag elke dag vir jou
die pad wys, maar jy verkies die slote en dorings en swaar goed op
jou lewenspad. Sê nou net Hy wil jou elke dag vertroos en help as jy
deur diep moerasse loop, maar jy kies om alleen daardeur te worstel.
Sê nou maar net Hy wil elke dag net lekker met jou praat, soms so in
die stilte van die nag, maar jy verkies die geraas van die lewe en
jy word oorweldig daardeur. Sê nou maar net jy verloor alle hoop na
trauma, want jy wil nie in sy sterk arms gaan terug leuen nie. Sê
nou maar net jy twyfel oor alles in die Bybel, en jy mis duisende
kosbare tekste en gedagtes wat die Heilige Gees vir jou wil openbaar,
want jy kies om jou doof te hou vir sy stem.
Jy sien, om daardie gratis aanbod vir gratis dekking van die hand te
wys, het nie net 'n negatiewe impak op "eendag" nie, jy ontneem
jouself ook nou van 'n wonderlike lewe saam met die Koning van die
Konings. Dis mos nou in alle opsigte 'n wen-wen situasie as jy jou
knie nou voor Hom buig. Terloops, elke mens op aarde se knie sal in
elk geval voor Hom buig, en bely dat Hy God is. Dit sal net
verskriklik wees as jy daardie "polis" laat verbygaan. "Dit is
verskriklik om in die hande van die lewende God te val." (Heb.
10:31)
Sê nou maar net... ~ Willem Botha, 07/03/2022 |
|
“Wie is Hy, hierdie magtige Koning?” (Ps.
24:10) Ek het verlede jaar in Februarie begin om vrae in die Bybel
te oordink en ietsie daaroor te skryf. Die eerste sowat 50 vrae was
vrae wat die Here in die Bybel vra (hier
is die skakel, as jy van dit dalk wil lees ->),
daarna het ek vrae uitgesoek wat mense in die Bybel vra (hier
is die skakel waar ek iets geskryf het oor so om en by dertig vrae).
Met hierdie vraag in Ps. 24:10 wil ek nou dié vrae-reeks afsluit.
“Wie is Hy, hierdie magtige Koning?” Kan ons uit ons hart uit
antwoord as iemand dié vraag aan ons sou stel? Wéét jy wie Hy is?
Kén jy Hom? In Eks 3:13 lees ons dat Moses by die brandende
doringbos vir God vra wat hy vir die Israeliete moet sê as hulle vra
wie hom gestuur het. Hy wou weet: Sê nou maar hulle vra: “Wat is sy
Naam?”, wat moet ek dan vir hulle sê? “Ek is wat Ek is. Jy moet vir
die Israeliete sê ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” (Eks 3:14)
“Ek is”. As ek dit lees, sit ek altyd in my gedagtes ’n paar
kolletjies agteraan: “Ek is ...” Want nou kan mens mos enige iets
daar invul. Jy mag, want dis wie God is – Hy is alles waaraan jy kan
dink. Jy mag, want dis wie God is – Hy is alles wat jy nodig het. Hy
is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die
Einde (Openb. 22:13) Hy is alles. Hy het alles. Hy gee alles. Het jy
vandag raad nodig? Ek is ... ’n Raadgewer. Het jy vandag beskerming
nodig? Ek is ... ’n veilige Skuilplek. Het jy vandag hulp nodig? Ek
is ... jou Helper. Het jy vandag redding nodig? Ek is ... die
Redder. Is jy vandag op ’n donker plek? Ek is ... die Lig. Het jy
vandag genesing nodig? Ek is ... die Geneesheer. Het jy vandag troos
nodig? Ek is ... die Trooster. Het jy vandag krag nodig? Ek is ...
Sterke God. Het jy vandag versorging nodig? Ek is ... jou Vader. Het
jy vandag leiding nodig? Ek is ... jou Herder. Het jy vandag ’n
wonderwerk nodig? Ek is ... die Bewerker van wonderdade. “Ek is wat
Ek is” – dís wie Hy is, hierdie magtige Koning! ~ Wilna Botha,
03/03/2022 |
|
Ek ken 'n man, 'n Christen, wat ek dink so effe
roekeloos met sy Geestelike lewe, en met die Here omgaan. Hy dien
die Here en hou vas aan al die regte tekste, soos "Ek weet wat Ek
vir julle beplan, voorspoed en nie teëspoed nie" en dan ander soos
"As die Here vir ons is, wie kan teen ons wees?" My probleem is dat
ek sien dat hy dinge so bietjie vanselfsprekend vat en elke dag
amper selfvoldaan ingaan met die vaste vertroue dat die Here hom sal
versorg. Wat seker wel waar is. Ek sien ook dat hy dalk selfs
roekeloos met genade omgaan, want die gedagte dat Jesus vir hom
gesterf laat hom so half onaantasbaar voel.
Die volgende teks pas nogal vir my in hierdie situasie en ek dink
dit moet dien as 'n waarskuwing.
"Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die
uiteinde daarvan is die dood." (Spr. 24:12)
Ek ken 'n ander man, sy naam is Joe, en hy was vandag by my om iets
te kom herstel. Joe het vanoggend vir my gesê dat hy élke oggend vir
die Here uit sy hart dankie sê vir 'n nuwe dag, en dat hy en sy vrou
uiters dankbaar is vir elke stukkie brood op die tafel.
Jy sien, Joe het kanker en die dokters het ná die diagnose vir hom
gesê hy het net ongeveer ses weke oor om te leef en hy moet sy dinge
agtermekaar kry. Daardie diagnose was egter al twee jaar gelede
gemaak, en intussen het sy siekte en die virus sy besigheid bykans
totaal gekelder en hulle het alles verloor. Ja, alles materieel,
maar nie hulle geloof en vertroue in die Here nie. Hy het nog genoeg
krag om aan te gaan. Elke enkele dag is vir Joe 'n porsie nuwe
genade en hy het tot die besef gekom dat aardse goed absoluut geen
waarde het nie. Alles, maar álles is net vir jou geleen.
Ek het vandag besef dat genade en versorging soos wat ek dit
definieer dalk waar is, maar dis nie gewaarborg nie. Genade het
vandag opnuut vir my nuwe betekenis gekry en ek het besef dat
roekeloos met God, en genade dodelik kan wees. Die Here het my
herinner aan Matt. 7:21 “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal
in die koninkryk van die hemel ingaan nie..."
Jip, soos jy kan aflei is ek self daardie roekelose ou, en die Here
het dit vandag weereens vir my kom wys, deur iemand wat werklik die
knie voor hom buig. Die Here het die volgende vandag weer vir my
teen die bors gedruk. "Grace is free, but it doesn't come cheap".
Dit het bloed gekos. ~ Willem Botha, 02/03/2022 |
|
“Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad
met ons gepraat het en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” (Luk.
24:32 ) Dalk ken jy daai warm gevoel in jou hart as jy wéét die Here
het met jou gepraat, daai hoendervleis as jy iets in die Bybel lees
en jy wéét die Gees het dit vir jou duidelik gemaak, daai rustige
gevoel in jou binneste as jy na ’n preek luister of ’n geestelike
boek lees en jy wéét dis die Here self wat die Skrif vir jou uitgelê
het. Of miskien het jy nog nooit daai warm gevoel in jou hart beleef
nie en jy verlang daarna dat die Here met jóú moet praat, jy begeer
om sy stem te hoor. Vir baie Christene is dit een van die
belangrikste, maar moeilikste dinge om die Here se stem te hoor. Ons
wil hoor wat Hy sê wanneer ons keuses moet maak, wanneer ons by
doodloopstrate kom, wanneer ons bemoediging of aanmoediging nodig
het; ons wil hoor wat Hy van ons verwag in lewensituasies, wat Sy
opdragte en roeping vir ons is. Ek het uit ervaring geleer dat die
Here met verskillende mense op verskillende maniere praat. Moenie
dink daar is ’n resep of ’n kursus of drie maklike stappe om God se
stem te hoor nie. Moenie verwag dat die Here noodwendig met jou gaan
praat soos met jou man of jou vriend of een of ander geestelike
leier nie. Die “warm gevoel” van sy stem in jou binneste word gebore
uit ’n unieke, persoonlike verhouding met Hom, dit kom wanneer jy
stil raak en jou geestelike ore spits om te hoor wat Hy sê, dit
gebeur wanneer jou verstand en jou hart gewillig is om te dóén wat
Hy vir jou sê. Ek weet die Here praat met my deur die Woord, deur
prediking, deur mede-Christene, maar in die meeste gevalle praat die
Here maar net stilweg met my – daardie sagte, klein stemmetjie in
my binnekant. “Praat Here, u dienaar luister!” (1 Sam 3:10) ~ Wilna
Botha, 01/03/2022 |
|
Die foon lui.. Trieng-trieng... Dis een van die
kinders.
Pa: Hallo lief, hoe gaan dit met jou?
Kind: (benoud, sonder om die vraag te antwoord) Paaaa, hier is fout
...!
Pa se kop spring onmiddellik in eerste rat, adrenalien word in die
hoogste versnelling vrygestel, alles in die brein gaan in "high
alert", rooi ligte begin flits, brein werk oortyd, elke spier word
gespan, asem raak vlak, jou mond word droog en planne word beraam
nog voordat pa weet wat fout is. Alles in jou wese sê: My kind is in
gevaar!
Na wie toe sal 'n kind altyd eerste gaan as daar probleme is? Na pa
of ma toe natuurlik, indien hulle steeds in die prentjie is.
Dít is die voorreg van ouerskap, en daardie kind sal eendag
dieselfde rol inneem as hy/sy kinders het. As 'n ouer 'n goeie
voorbeeld stel, sal die kind dit eendag ook doen.
Onthou jy hoe jou pa gemaak het toe jy klein was? Jy het met jou
voetjies op pa s'n gestaan terwyl hy jou hande vashou, en dan het hy
geloop, en jy het outomaties geloop waar hy het. En so het Jesus ook
niks gedoen wat sy Vader nie vir Hom gewys het nie.
“Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy
doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen,
doen die Seun ook net so." (Joh. 5:19)
Dis vir my so kosbaar. Jesus loop in sy Vader se voetspore, en as
ons dan in Jesus se voetspore loop, kan ons nie 'n voet verkeerd sit
nie, want dan doen ons presies wat die Vader wil hê. En klim nou
maar van Jesus se voete af en gaan loop soos Jona jou eie pad, dan
sal jy gou sien watse moeilikheid jy vir jouself op die hals haal.
Maar omdat Jesus soveel vir jou omgee, sal Hy dadelik weer sy voete
onder joune kom inskuif. Dis my en jou besluit waar ons wil loop, en
afdwaal was nog nooit goed nie, maar die verlore seun het teruggekom
en sy volle porsie van erfenis en voordeel teruggekry. As jy afdwaal,
moet tog nie lank wegbly nie, Hy wag om vir jou weer vastrapplek op
sy voete te gee. ~ Willem Botha, 28/02/2022 |
|
Op
hierdie foto is die Bybel waaruit my pa-hulle gelees het, in
Hoog-Hollands. Hier is ook 'n foto van die huis waarin my pa
grootgeword het, sonder lopende water, 'n bad of elektrisiteit. My
oupa-hulle was brandarm en het 'n sukkelbestaan op 'n klein plasie
op Tonteldoos gevoer.
Hulle het in die Here geglo. Daar was nie iets van kerk toe gaan
elke Sondag nie, die naaste kerk was in Dullstroom, 20km weg.
Vervoer was 'n wa wat deur perde gesleep is of 'n donkiekar en dit
was baie ver op daardie aaklige paaie. Jy onthou seker dat hulle
elke drie maande dorp toe is vir nagmaal en dan was dit 'n groot
uitstappie. Tot op watse mate kon hulle "skrif oopbreek" met daardie
onverstaanbare Bybel? Godsdiens was beperk tot tafelgebed (voor en
na ete), boeke vat by kerslig en waarskynlik dieselfde gebed wat
elke aand gebid is. Daar was sekerlik geen sprake van die wegraping,
die vrese vir die merk van die dier, grootdoop of enige van die
dinge wat vandag groot is in ons geestelike lewe nie. Het die
kinders ooit gebid? Ek skat so, voor slaaptyd knielend by die bed
met die woorde "Liewe Jesus ek is klein, maak my hartjie skoon en
rein...". Kyk mooi na daai huis, daar was 9 kinders saam in enkele
vertrekke.
So, glo ek, het hulle die Here in opregtheid gedien, en hulle was
dankbaar selfs as daar net vir elkeen 'n patat in die vuur
gaargemaak is. Kos en klere was uiters skaars, maar dankbaarheid was
volop en geloof en vrees vir God was 'n gegewe. My ouers se geloof
in God het enduit gehou en hulle het hulle beste probeer om dit aan
ons oor te dra. Sonder diepe Bybelkennis, sonder 'n gestoei en hare
trek tussen verskillende denominasies, sonder fieterjasies, sonder
om gebruike en bygelofies het hulle een ding, net een ding gedoen.
Hulle het in God geglo, Hom aanbid en op Hom vertrou, en dit was
genoeg. Ek is dankbaar dat ons geloof op daardie fondament gebou is.
Ons het vandag toegang tot baie kennis, ons word vandag oorspoel met
opinies en gebruike en dis goed. Maar jou geloof in God is wat jou
red. En dis genoeg. ~ Willem Botha, 23/02/2022 |
|
“Waarheen sou ek gaan om U Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?” (Ps.
139:7) Wou jy ook al wegvlug van die Here af? Dalk het jy, soos Adam
en Eva, probeer wegvlug omdat jy oortree het en “uitgevang” is? Of
dalk soos Jona omdat jy nie wou doen waarvoor die Here jou geroep en
gestuur het nie? Of dalk soos Saulus op pad na Damaskus omdat jy jou
eie agenda gehad het? Waarheen jy ook al probeer vlug, jy gaan jou
oral in die Here “vasloop”. Hy gaan nie vir jou staan en wag soos ’n
kwaai skoolhoof met sy lat nie. Hy gaan ook nie met loeiende sirenes
soos ‘n polisieman agter jou aangehardloop kom nie. Hy gaan net met
oop arms, met deernis, met vergifnis en met ’n helpende hand verskyn.
Dís die wonderlike nuus van Ps. 139! Die Here se teenwoordigheid sal
jou agtervolg waarheen jy ook al probeer vlug, sy genade sal jou
elke keer kom red, sy hand sal jou elke keer oplig na veiligheid, Hy
sal jou toevou met sy liefdevolle arms, sy vergifnis sal jou skuld
en verwyte kom uitvee, sy stem en sy lig sal die regte pad vir jou
aanwys. Jy kan nie van Hom af wegvlug nie. Sy oë is oral op die
aarde, sê die Woord op ’n ander plek. In die donker dae kom hy nader,
deur die dal van doodskaduwee stap Hy saam, in die storms luister Hy
na jou hulpgeroep, in die goeie tye vier Hy fees saam met jou. “U is
oral. Daar is nie ’n plek waar ek heen kan gaan waar U nie is nie.
As ek hemel toe gaan, is U daar. As ek doodgaan, is U by my. Al kan
ek so vinnig soos lig beweeg of al gaan ek na die verste plek toe, U
is daar. Die afstand tussen oos en wes is nie vir U te vêr om gou na
my toe te kom nie. Oral hou U my vas. Al vou die donkerte my
heeltemal toe, is U naby my.” (Ps. 129:7-11, Die Boodskap) ~ Wilna
Botha, 22/02/2022 |
|
'n Ware Christen sal nie vir jou willens en
wetens in jou gesig 'n leuen vertel nie. Nee jy maak 'n fout, hulle
sal.
'n Ware Christen sal nie vir jou indoen met geld nie. Nee, jy maak
weereens 'n fout, hulle sal.
'n Ware Christen sal nie agter jou rug vir jou beskinder nie. Nee
wat, dis nie waar nie, hulle sal.
'n Ware Christen wat welaf is sal van sy oorvloed deel en nie so
suinig wees nie. Jy maak weereens 'n fout, hulle sál so suinig wees,
want hy skuld immers vir niemand niks nie.
'n Ware Christen sal nooit 'n moord pleeg nie. Verkeerd, dit gebeur,
baie gereeld, net soos Dawid.
’n Ware Christen sal nooit vir 'n oomblik die Here misken en verloën
nie. Nee, jy is verkeerd, hulle doen, soos Petrus.
'n Ware Christen sal nooit vir die Here kwaad word nie! Wel, Moses
het, met slegte nagevolge.
Ek het een groot fout gemaak met my beskrywing hierbo van hierdie
Christene met voete van klei. Ek moenie sê "hulle" nie, ek moet sê "ons".
Óns sal al hierdie verkeerde goed doen, en óns doen dit daagliks.
Nee dis nie reg nie, "ons" moenie, want ons is nie volmaak nie, ons
is egter geredde sondaars. Gandhi het gesê hy sou 'n Christen wees
as dit nie vir Christene was nie. Wel mnr. Ghandi, ek kry jou jammer
as jy die verderf kies omdat jy nie in Jesus glo as Redder nie,
omdat jy na sy swak kinders kyk.
Verwag maar swakheid by Christene, dis volop, maar verwag ook dat
hulle (nee óns) tog streef na die teks wat sê: “Wees heilig, want Ek
is heilig.” (1 Petr. 1:16b)
Moet nooit opgee met jouself nie. ~ Willem Botha, 21/02/2022 |
|
Ek is soms nie lus om te bid nie. Ek kry soms
nie woorde om te bid nie en ek vergeet om die beloftes wat ek gemaak
het om vir iemand te bid, na te kom. Ek bid soms nie eers vir myself
nie terwyl ek regtig gebed nodig het. Ek vergeet elke dag om dankie
te sê en soms bid ek uiters selfsugtig. Ek is dikwels GLAD nie lus
om vir die regering te bid nie want ek het opgegee met hulle, en ek
sukkel regtig om vir ons liewe politikus met sy rooi keppie te bid
want ek dink nie dit gaan help nie.
Nou ja, so kan ek aangaan, ek is nou maar eenmaal 'n swak bidder en
dis dit. Nou kyk nou net hierdie kort en kragtige teks, net twee
woorde.
"Bid gedurig." (1Tess. 5:17)
Sjoe, wat 'n opdrag in net twee woorde vasgevat. Dis 'n opdrag wat
wyd tref.
En daai vyand ding?
“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en
jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle
vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg."
(Matt. 5:43-44)
Dis 'n opdrag van die Here, of jy daarvan hou of nie.
Nou ja, my ongehoorsaamheid ten spyt, kan ek weereens getuig dat die
Here in hierdie week vir my gewys het waartoe Hy in staat is. As ek
sien hoe dinge in plek geval het, kan dit net die Here se guns en
antwoorde op my halfhartige gebede wees.
Vanoggend kry ek weer 'n boodskap van 'n vriend wat kort en kragtig
sê dat hy vir my bid, en dis ongelooflik kosbaar. Die Here voorsien
'n bidder vir my as ek nie vir myself bid nie! Ek verstaan dit nie,
maar dis ongelooflik kragtig.
Bid gedurig! ~ Willem Botha, 17/02/2022 |
|
'n Man kom op 'n ongelukstoneel af en die
persoon in die motor is baie baie ernstig beseer, soveel so dat hy
glad nie kan kommunikeer nie en het boonop geen identifikasie aan
hom nie. 'n Ambulans word uitgeroep na die toneel toe, maar omdat
hulle geen inligting het rakende 'n mediese skema of iets dergeliks
nie, word daar besluit om hom na 'n staatshospitaal te neem. 'n
Onbekende toeskouer by die toneel gesels toe egter met die
paramedici en sê dat hulle hom eerder na 'n ordentlike privaat
hospitaal moet neem, en haal toe 'n kredietkaart uit en gee dit vir
die paramedikus met die opdrag dat die hospitaal elke sent van die
behandeling van die kredietkaart moet verhaal. Hy sou later na die
man se welstand verneem en sy kaart terugkry.
Die bestuurder se duur Duitse rywa was totaal verwoes. Die toeskouer
het kort daarna vertrek na sy informele hut in 'n nabygeleë
plakkerskamp.
Nou ja, hierdie is nie 'n ware verhaal nie, dis 'n gelykenis. 'n
Gelykenis van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan.
Dit klink seker heeltemal absurd of hoe? Gaan lees egter die verhaal
in Luk. 10:29-37, jy ken dit baie goed. Stem jy saam dat Jesus hier
'n baie ekstreme situasie skets? Die Samaritane was laag geag, maar
hy het sy "kredietkaart" aangebied om die beseerde te versorg,
terwyl die priester en die Leviet net verbygehou het.
Hierdie Samaritaan het gewys wat egte, ware liefde is, sonder om
twee keer te dink, maar die "geestelikes" ignoreer dit net.
Ek dink as Jesus hier wil uitbeeld wie jou naaste is, is Hy baie
baie ernstig daaroor en dit plaas ons in situasies waarvoor ons nie
glad nie lus is nie. As ons wil hê dat Jesus ander moet help, moet
Hy óns dalk gebruik, selfs téén jou sin.
Ek moet ruiterlik erken dat ek die toets dikwels heeltemal faal! ~
Willem Botha, 16/02/2022 |
|
Hy vra toe vir haar: “Wie is jy?” (Rut 3:9) Dis
seker ’n vraag wat ek en jy gereeld hoor. Wie die vraag aan jou stel
sal seker jou antwoord beïnvloed. As die onderwyser by jou kind se
skool vra, sal jy seker sê: Pietie se ma. As iemand by die werk vra,
sal jy dalk sê: Mnr. X. se assistent, ek werk op die 10e vloer of jy
sal sê: die besturende direkteur. As iemand by die kerk vra, sal jy
dalk sê: die een wat klavier speel, of die een wat altyd die tee
inskink, die een wat gewoonlik die gebedskamer beman of die siekes
besoek, of wat ook al. As dit ’n familielid is, sal jy dalk sê: Ek
is Sarel, die seun van Groot Gert van Witrivier. By die dokter se
spreekkamer sal jy moontlik jou volle naam en van gee en sê: Ek het
’n afspraak. So as jy vandag gevra word: “Wie is jy?”, sal jy gereed
wees met jou CV? Sal jy die kans gebruik om so bietjie te spog met
jou kwalifikasies en jou sterk punte? Vroeër jare het sommige vroue
geroem op wie hulle mans is en hulleself in die nodige kringe sommer
as “Mevrou dokter” voorgestel! Is jy trots op wie jy uit eie reg is,
of is jy altyd net iemand se vrou, iemand se ma, iemand se dogter?
Sommige mense sal dalk met ’n lang lys van hulle foute en
tekortkominge en mislukkings antwoord as hulle gevra word: “Wie is
jy?”. As jy op geestelike vlak gevra word: “Wie is jy?”, is jy
gereed met jou getuienis? Is jy gereed om te sê dat jy ’n kind van
God is? Sal jy kan sê hoe jy by die Here uitgekom het? Dalk sal jy
kan sê wie en hoe jy eers was en wie en hoe jy is nadat die Here
deel van jou lewe geword het en sy Gees beheer geneem het. Sal jy
die geleentheid gebruik om jou afhanklikheid van die Here te
verklaar, of te vertel hoe nodig jy Hom het? Kyk bietjie weer in
Fil. 3 hoedat Paulus van homself vertel vóór en ná hy met die Here
Jesus kennis gemaak het. Eers het hy geroem op sy herkoms, sy kennis,
sy onderhouding van die wet en sy volmaaktheid (Fil. 3:5-6) en dan
in vers 7 sê hy: “maar nou ....” en dan volg sy “nuwe” CV van hoe
Christus nou sy enigste bate is, hoe hy vrygespreek is, hoe hy alles
prysgegee het ter wille van sy geloof en hoe hy uitsien na sy
hemelse prys. “Wie is jy?”, is die vraag wat Boas aan Rut vra, nadat
sy stilletjies by sy voete gaan lê het. Kyk haar antwoord: “Ek is
Rut, ek is van u afhanklik, en u is my losser; neem my nou onder u
beskerming.” (Rut 3:9) Vroeër in Rut 2:5 het Boas alreeds vir sy
voorman oor Rut gevra: “Wie is daardie meisie?” Ons kan nou
natuurlik vir mekaar vra wat ander mense oor óns sou antwoord as
hulle moet sê wie ons is. Sou dit in lyn wees met wat jy oor jouself
te sê het of sal dit heeltemal ’n ander storie wees? Wie is jý?
~ Wilna Botha, 15/02/2022 |
|
Februarie, die maand van die liefde, en 14
Februarie, die dag van die liefde. So sê die mense.
Ek het so bietjie na liefde gaan soek.
Waar woon die liefde? Wat is liefde? Hoe kan dit beskryf word? Kan
jy daaraan raak? Kan jy die liefde sien? Ruik? Hoor? Liefde … ‘n
wonderlike ding. Almal praat daarvan. Smag daarna. Hunker daarna.
Baie flieks word daaroor gemaak. Mmm … klink so lekker op die tong.
Die liefde. Maar, waar is dit? Loop jy in ‘n vertrek by jou huis in
– dis nie dáár nie. Ry jy in die straat – dit ontbreek ook daar.
Selfs langs die stille rivier stroom, daar is niks liefde te vind
nie. Klim jy op die hoogste berg en kyk na benede, sien jy niks
liefde nie. In die mooiste natuurskoon, waar ‘n sagte briesie waai,
en die heerlikste aroma amper tasbaar is, dáár is ook niks liefde
nie. Klim in ‘n vliegtuig en kyk verby die aarde se rondings – dis
ook liefdeloos. Tuur met ‘n teleskoop in die buitenste ruimte in,
sien die planete se pragtige ringe, die mees kleurvolle gas stapels
wat miljoen ligjare toring – jy soek verniet hier na liefde. Ja,
selfs in die mikroskopiese organismes wat volmaak georganiseer is,
is daar niks, heeltemal niks liefde nie. Die liefde kruip nie in ‘n
stoorkamer weg nie, lê nie in die woorde van boeke opgesluit nie,
nie in die prag van goud en edelgesteentes nie. Dit lyk my die
liefde het ‘n manier om sy lyf skaars te hou as jy op die verkeerde
plek kyk. Steek iemand dit dan weg? Kry jy daarvan in ‘n vinnige
motor? Is dit miskien verborge in ‘n banknoot? Of kan jy dalk selfs
bietjie daarvan koop met jou kredietkaart? Waar op aarde is die
liefde?
1 Kor. 13: "Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek
die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek 'n
stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword. Al het ek die
gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die
kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het
geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander
uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar
ek het geen liefde nie, baat dit my niks. Die liefde is geduldig,
die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie
grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik
nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek
van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug
hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra
alles. Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe van profesie sal
verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou,
en dié van kennis sal uitgedien raak. Want ons ken maar gedeeltelik,
en ons profeteer maar gedeeltelik, maar wanneer die volledige kom,
sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees. Toe ek 'n kind was, het ek
gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind.
Maar noudat ek 'n man is, is ek klaar met die dinge van 'n kind. Nou
kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar
eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net
gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle
ken. En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die
grootste hiervan is die liefde! "
Wow, een van die mooiste gedeeltes in die Bybel. En die grootste
hiervan is die LIEFDE!
Hoe hard ek ook al deur hierdie gedeelte gelees het, hoe goed ek dit
ook al bestudeer het, ek kon niks daarvan kry wat ons netnou genoem
het nie. Ja, ons oorlede hondjie, Lullu, was baie liefderik … maar
dis ook al. Selfs in 1 Kor. 13 kry ek steeds nie ‘n greep op hierdie
ding wat ons liefde noem nie. Ek wil só graag “liefde” aan sy
handvatsels beetkry en dit beskou, daaraan ruik, in my hande
ronddraai, daarmee speel soos met ‘n bal – maar ek kan nie! Lyk my
die liefde is nou maar eenmaal ontasbaar, onruikbaar, onsigbaar. Wat
is dit dan? As ek dan nie 1 kilogram liefde kan bekom nie, waar gaan
ek dit dan kry? Waarvoor sal ek vra? Waar sal ek daarvoor vra? Vir
wie? Waar is die liefdeswinkel? Sjoe … ek kan amper vra: “bestaan
die ding ooit?” Moet wees, want die Bybel sê so. 1 Kor 13:4-7: “Die
liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig
nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie
onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie,
hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie,
maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop
alles, verdra alles.”
Paulus beskryf dit as ‘n entiteit as hy die liefde “DIT” noem. So
kom ek by die ontdekking dat jy liefde net op twee plekke gaan kry,
en dis in God (1 Joh 4:8: “Wie nie liefhet nie, het geen kennis van
God nie, want God ís liefde”). Nee, liefde is nie een van God se
karaktertrekke nie, dis sy wese. Wat is spookasem? Het dit suiker
in? Nee, spookasem ís suiker! So ís God liefde. Maar dis nie al nie,
jy kry liefde in die mens ook, die mens as lewende wese. Jippie!
Daar ontdek ons die bron en die stoorplek – dit is in God, en in die
mens se hart. Nou kan dit letterlik die wêreld vol loop. Waar daar
mense is, sal jy liefde vind. Op die hoogste berge, in die diepste
dal, by die mooiste watervalle, fonteine, stroompies … selfs ook in
die gevangenis en op die oorlogsfront - dáár sal jy liefde vind. Die
mens is ‘n wonderlike stoorkamer van liefde.
"Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer
het, het hulle bymekaargekom, en een van hulle, 'n wetgeleerde, het
Hom met 'n vraag probeer vastrek. "Meneer," vra hy, "wat is die
grootste gebod in die wet?" Jesus antwoord hom: "'Jy moet die Here
jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel' Dit is die
grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan,
is: 'Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.' In hierdie twee
gebooie is die hele wet en die profete saamgevat." (Matt 22:34-40)
Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Elke mens op aarde het
liefde – selfs die mees geharde misdadiger sal waarskynlik sy ma of
sy kind liefhê. Ons kan vra: “Hoe kan iemand dit of dat doen as hy
liefde in hom het?” Goeie vraag. Maar weet jy, ons almal is maar
geneig om die liefde-stoorkamer soms gesluit te hou.
Miskien ken jy hierdie lawwe storie: Hoe weet jy of jou hond of vrou
vir jou die liefste is? Jy maak hulle saam in die kattebak van die
motor toe vir ‘n uur of twee. Wanneer jy oopmaak, kyk jy wie die
blyste is om jou te sien. Mmm… besluit maar self of dit ‘n
weerspieëling van liefde is!
Weet jy, dit lyk partykeer vir my of daar mans is wat hulle honde
liewer het as hulle vrouens; hulle kraak hulle kinders meer af as
hulle hond; die hond kry meer aandag as die gesin. Siestog man, en
die hond gaan nie eens saam met jou oud word nie – hy leef net so 14
jaar … miskien.
1 Kor. 13 sê mooi goete. Vers 5 sê: “Hou nie boek van die kwaad nie”
- al gehoor van ou koeie? “Is nie afgunstig nie” – al gehoor van
jaloesie? “Soek nie sy eie belang nie” – al gehoor van eie ek?
Liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
Watter woorde klink mooier as: “Ek is lief vir jou”? Kry jou hart
dit nog reg om jou lippe te oortuig om dit uit te spreek? Kan jou oë
dit nog regkry om daardie spesiale laserstraaltjies uit te skiet?
Kan jou hande dit nog regkry om met ‘n byna magiese aksie iemand te
oortuig dat hy/sy spesiaal is? Dra jou lyftaal en aksies nog daardie
spesiale aroma deur die lug wat sê: “Hierdie persoon vind my
spesiaal”? Is daar ‘n liefdeslied in jou psige wat hoorbaar is
sonder dat klankgolwe iemand bereik? Daar is soveel sekuriteit
daarin, meer as in miljoen rande. Daar word soveel vrede daardeur
uitgedra, ja, ek glo selfs genesing. Wat kan mens lekkerder laat
slaap as die wete dat daar mense is wat hierdie onbeskryflike
element op jou uitstort. Sonder dat hy eintlik eers daarvan bewus
is.
Iemand is lief vir jou, weet jy? Al dink jy nie so nie. Ja, die Here
is onbeskryflik lief vir jou, dit kan jy maar glo. Maar Hy het ook
‘n stukkie van Sy wese in ander se hart uitgestort, wat dit weer op
jou uitstort. En so begin die Here ‘n kettingreaksie, en skep een
geslag na die ander van liefdes-stoorkamers, om iets van Sy wese oor
te dra. Ek hoop jou deur staan oop om te ontvang, en om te gee.
Kom ek daag jou uit: vat jou selfoon, telefoon of epos en sê vandag
vir ‘n paar mense: “Ek is lief vir jou”. Dit sal lekker wees. Vir
jou EN vir hulle. ~ Willem Botha, 14/02/2022 |
|
“Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê:
‘Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes?’”(1 Kon 18:21)
Sonder om na die konteks van dié vraag van Elia te kyk of sonder om
geestelik hieroor te dink, weet ek dat ek nogal baie kere so hink
op twee gedagtes. Besluiteloosheid! Draadsit! Moet ek, of moet ek
nie? Watter een moet ek kies? Is dit verkeerd of nie? Moet ek help
of moet ek nie? Moet ek gaan of moet ek bly? Moet ek ja of nee sê?
Moet ek praat of moet ek stilbly? Hoeveel kere op ’n dag moet mens
nie keuses maak nie! Dikwels moet jy heel vinnig besluit. Baie kere
moet jy kies sonder om álles oor die saak te weet. Soms moet mens
nóú ’n besluit maak oor iets wat ver in die toekoms lê. En dan,
ongelukkig, besef mens eers later jy het verkeerd gekies, verkeerde
besluit geneem. Vir myself wil ek sê: maak jou besluit, hou daarby
en pluk die aangename vrugte of dra die gevolge. Toe Elia die volk
gevra het: hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes, was die
keuse of hulle Baäl of die Here gaan kies: “As die Here God is, volg
Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.” Hy vra hulle om te kies en by
hulle keuse te hou. As hulle nie sekerheid in hulle hart het oor wie
God is nie, gaan hulle nie kan kies nie en gaan hulle nie toegewyd
en oorgegee aan die Here wees as hulle Hom kies nie. Anders as in
Jos. 24, waar Josua die volk voor ’n soortgelyke keuse gestel het,
en hulle onomwonde gesê het: “ons sal die Here dien. Hy is ons God”
(Jos. 24:18), kan hulle nie nou met oorgawe kies nie. Om die
waarheid te sê, hulle het hom glad nie geantwoord nie. Hulle wou
dalk eers sien waar lê die grootste voordeel vir hulleself, of wat
eis die minste inspanning en opoffering van hulle. Ek het hierdie
aanhaling eenmaal gelees: “There are always two choices. Two paths
to take, one is easy and its only reward is that it’s easy.” En jy?
Hink jy op twee gedagtes? Bly jy stil as jy ’n keuse vír die Here
moet maak? Of het jy gekies en staan jy vas by jou keuse ongeag die
prys wat dit vra? ~ Wilna Botha, 10/02/2022 |
|
Yo-yo
Soms voel my gemoed soos 'n klimtol ('n yo-yo vir die wat nie weet
nie), vernaam na 'n Sondag. Jy gaan kerk toe, of lees die Bybel en
sien die wonderlike beloftes van die Here raak. Dan rol jy dit soos
'n toffie in jou mond rond en daardie klimtol het opgeklim tot bo,
maar die oomblik wat jy jouself aan enige vorm van media blootstel,
val daardie klimtol in sekondes tot onder en jou gemoed is in die
grond in.
Dit lyk of daar konstant 'n toutrekkery is tussen God se beloftes,
en die negatiewe dinge van die wêreld. Ons weet tog dat God se
beloftes altyd bly staan, en dat Hy nooit verander nie, maar tog
skree die wêreld so hard dat dit die Here se stem totaal verdoof. Ek
lees hierdie sinnetjie in die Boodskap raak.
Dit kom uit Rom 3:4 "God hou altyd sy woord. Hy bly lojaal selfs al
lieg en bedrieg almal op aarde."
Sjoe, stel jouself aan media (radio, nuus, TV, Facebook, koerante)
bloot, en die leuens stroom soos riviere uit almal se monde. Dan
begin die toutrekkery tussen die soete beloftes van die Here en die
bose geraas en blaas van die wêreld. Terloops, sou jy geweet het dit
gaan sleg as jy dit nie in die media lees nie?
Die Here sê in Jer. 29: 11 "Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die
Here: voorspoed en nie teëspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms
gee, 'n verwagting!" Die wêreld sê: alles is hopeloos en hooploos,
ons is op pad om soos Zimbabwe te word. Dan val daai klimtol soos 'n
klip.
Besef jy hoe groot die monster van depressie is? Is dit nie dalk
deels omdat ons ons te veel steur aan die leuens van die leuenaars
nie? Moet ons nie dalk eerder net onsself voer met hoop wat uit God
se Woord kom nie?
Ek wil vandag kies vir wie ek glo, en ek weet wat my keuse is. Ek
staan by die Woord van God!
Jos. 24:15 " Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.” ~
Willem Botha, 09/02/2022 |
|
Wie is jy? Wat is jy? Waar kom jy vandaan? Waar
gaan jy heen? Ja, jy het 'n naam, en 'n agtergrond, 'n herkoms; jy
lyk soos jy lyk; jy is wie jy is. Vir 70 jaar sal jy leef, as jy
sterk is 80. Jy sal hierdie aarde verlaat … vir seker. Jy kom iewers
vandaan … vir seker. Op 'n tyd was jy 'n blink in jou ouers se oog.
Almal se lewenspad begin iewers, en loop 'n spesifieke rigting. Dag
vir dag bepaal keuses jou weë, besluite veroorsaak dat jy by sekere
kruisings links draai, by ander draai jy regs. Party deure gaan oop
en jy stap deur, ander gaan toe en jy draai om. So kom dit
uiteindelik dat jy vandag is wie jy is, en waar jy is. Vandag is jy
iémand, en vandag het jy iets… 'n liggaam, goedere, materiële dinge,
ens. Die vraag wat ek jou vandag vra is: is jý jý? Deur wie se
toedoen is jy wie en wat jy is?
"Die mens se dae is vasgestel, U het die getal van sy jare bepaal, U
het dit neergelê, en hy kan dit nie oorskry nie. U moet van hom af
wegkyk en hom met rus laat totdat hy soos 'n huurling sy dagtaak
afgehandel het. Vir 'n boom is daar nog hoop; al is dit afgekap, kan
dit weer uitloop, en sy lote sal aanhou groei. Al word sy wortels
oud in die aarde en al gaan sy stam dood in die grond, spruit hy
weer uit as hy net water ruik, en groei sy takke asof hy pas geplant
is. Maar die mens sterf en verdwyn, hy blaas sy laaste asem uit, en
waar is hy?" (Job 14:5-10)
Interessant hoe Job dit hier beskryf, en hy sê eintlik vir jou dat
jy nou in die strepie-fase is tussen geboortedatum en sterf datum.
Ek wil vir jou net weer een vraag vra, en dis of jy jý is, en of jy
'n ander lewe probeer lei as dít wie jy is? Dalk sê jy dat jy so ryk
soos Bill Gates wil wees, so aantreklik en mooi soos een of ander
filmster, so mooi motor wil ry soos sus en so, so goeie ouer wil
wees soos een van jou vriende, en dalk so heilig wil wees soos Jesus
Christus.
Of sien jy een of ander mislukking as jy in die spieël kyk, vind jy
daardie persoon wat terugkyk na jou dalk walglik en wens jy dalk dat
jy nie jý hoef te wees nie? Wel vriend, dan sal die lewe vir ewig
vir jou miserabel wees. Maar as jy besef dat die Here onvolmaakte
mense soos Petrus en Dawid en Moses en Paulus en elke enkele persoon
in die Bybel innig liefgehad het en selfs gebruik het, sal jy weer
lief kan word vir jouself en al daardie opgebondelde en onderdrukte
energie kan loslaat, en die beste jý wees wat jy kan wees. Dan sal
jy besef jy is na die beeld van God geskep. Ja, jy is baie spesiaal,
en daar is waarskynlik duisende mense wat graag jý sou wou wees.
Vind vreugde in jouself. ~ Willem Botha, 07/02/2022 |
|
“As ’n mens sterf, sal hy weer lewe?” (Job
14:14) Job was gekonfronteer met die dood en met sy eie swaarkry en
sterflikheid, daarom dat hy hieroor wonder. Dis nogal iets waaroor
ek ook van tyd tot tyd wonder – is daar régtig ’n lewe na my aardse
sterwe, is daar régtig ’n ewige lewe? Is dit nie maar die einde as
ek hier my asem uitblaas nie? Al vra Job die vraag, ken hy die
antwoord, nes ek ook tog wel die antwoord ken. Ek glo met my hele
hart dat die hemel en ’n ewige lewe saam met die Here ’n werklikheid
is! Ek weet nie wanneer laas ek dié verse in Job gelees het nie,
maar ek kon eintlik nie glo hoe mooi Job dit sê nie (lees gerus vers
14 tot 17) Hy sê ás daar ’n lewe na die dood is, dan sou hy sy
swaarkry kon uithou omdat hy sou weet dat daar eendag ’n nuwe lewe
op hom wag. En hoe waar is dit nie. As niks anders jou kan troos of
moed gee of laat vasbyt as jy, soos Job, op die ashoop sit nie, dan
behoort hierdie gedagte jou deur te dra: die swaarkry van nou kan
nie opweeg met die heerlikheid van dit wat wag nie. “Ek is daarvan
oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die
heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.”
(Rom 8:18) Job sê ás daar ’n lewe na die dood is, sal daar ’n dag
wees wat die Here hom sou roep, ’n dag wanneer hy van aangesig tot
aangesig voor die Here sal staan. Hy sê as daar ’n lewe na die dood
is, sal die Here elke tree wat hy gee tel, hy sal begaan wees oor sy
doen en late. Hy sal omgee oor hom, omgee oor sy pyn en ag gee op
sy trane. Dit is wel so – ek het ervaring daarvan en dalk jy ook:
“My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet.
In u boek staan hulle opgeteken.” (Ps. 56:9) Job sê as daar ’n lewe
na die dood is, sal die Here nie ag gee op sy sonde nie. “Dan sou U
my oortreding in ’n sak verseël en my sonde toemaak.”(Job 14:17) Ja,
vriend en dís presies wat God is sy genade en liefde vir ons doen.
Hy reken ons nie ons sondes toe nie. Hy vergewe. Die straf vir ons
sondes het op Jesus afgekom. Jesus se bloed maak ons sonde toe. Ons
is skoon gewas. Op die dag dat jy jou laaste asem uitblaas vat die
Here jou hand en stap jy deur na die ewige lewe, na sy ewige
teenwoordigheid, na volmaaktheid, na geen pyn en trane, geen seer en
swaarkry, geen eensaamheid en verwerping nie. Hoe kan jy seker wees
daarvan? Jy ken Joh. 3:16! Glo jy Joh. 3:16? “.... sodat dié wat in
Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Doen
jy Joh. 3:36? “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe” En het jy al
Joh. 6:40 gelees? “Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die
Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die
laaste dag uit die dood laat opstaan.” En Joh. 6:47? “Dit verseker
Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.” Hoor vandag as Jesus
Joh. 10:28 vir jou sê. Lees gerus jou eie naam in hierdie teks in:
“Ek gee jou die ewige lewe en jy sal in alle ewigheid nooit verlore
gaan nie. Niemand sal jou uit my hand ruk nie.” Ja Job, as ’n mens
sterf sál hy weer lewe! Ja, my vriend, as jy sterf sál jy weer lewe!
~ Wilna Botha, 03/02/2022 |
|
So ietsie vir die manne...
Ai, hoe verskriklik is 'n afbrekende, neerhalende, sarkastiese en
nydige woord uit die mond van 'n dwaas nie! En spesifiek teenoor 'n
persoon se wederhelf, na watter kant toe ook al. Ek dink egter ons
as manne is meer skuldig hieraan as andersom. Dink net, voor 'n
kansel het 'n persoon trou gesweer en liefde beloof aan 'n ander,
totdat die dood daardie verbintenis onomkeerbaar tot niet maak, maar
nie lank daarna nie begin daardie wrede moord wat met woorde gepleeg
word. Stukkie vir stukkie, soos slukkie vir slukkie gif. Ek het dit
al so baie gesien, en ek verstaan dit nie.
Ek hoor eendag hierdie pragtige beeld: Die man is die spieël waarin
sy vrou haarself sien.
Dit het my nogal aangeraak, want ek het besef dat my woorde, lyftaal,
reaksies en kommunikasie met my vrou, bepaal wat sy van haarself
dink. Sjoe!
Dis nie net negatiewe woorde wat afbreek nie, 'n totale gebrek aan
woorde kan soms nog erger wees, want om iemand te ignoreer beteken
vir daardie persoon dat daar niks in die spieël reflekteer nie en sy
nie eers bestaan nie. Ons mans weet presies hoe om kwetsend te wees
met woorde, vernaam as ons die uiterlike aanval, soms onder die
vaandel van 'n ou grappie. Of so bietjie sarkasme. Maar boeta, ons
maak seer met woorde, en vanaand wonder ons hoekom vroulief so effe
koel voorkom en alweer hoofpyn het.
Die teendeel het egter 'n wonderlike effek. Hoe meer 'n vrou hoor sy
is mooi vir haar man, en hoe meer sy hoor sy is die beste, hoe
mooier word sy, want dis lekker om voor daai "spieël" te staan. Die
woorde : "Ek is lief vir jou", of "sjoe jy lyk mooi" en "dankie vir
die heerlike bord kos", beteken BAIE meer as die bloesie wat sy maar
mag koop. Ek ken manne wat nog nooit voor my 'n enkele mooi ding vir
hulle eie vroue gesê het nie, maar lustig die heuningkwas uitpluk
vir 'n ander vrou. Dis totaal onvanpas.
Soek jy woorde meneer? Gebruik sommer hierdie uit die Bybel uit :
"My liefling, jy is so mooi soos Tirsa, so aantreklik soos
Jerusalem, so indrukwekkend soos 'n afdeling vaandeldraers." (Hooglied
6:4) ~ Willem Botha, 02/02/2022 |
|
“En wie is my naaste?” (Luk. 10:29) Ag ons het
hierdie vraag ook al baie vir onsself en vir mekaar gevra, het ons
nie? Die Bybel sê immers ons moet ons naaste liefhê, daarom wil ons
weet of daar iemand is wat ons miskien kan uitsluit sonder om
skuldig te voel. Gewoonlik as ek vra: wie is my naaste, dan is dit
omdat ek myself wil verontskuldig wanneer ek anderpad gekyk het,
wanneer ek ’n weldaad aan iemand weerhou het, wanneer ek skuldig
voel dat ek so selfsugtig is, wanneer ek gemaak het of ek nie die
deurklokkie hoor lui het toe iemand my hulp gesoek het nie, wanneer
ek nie lus is om my goed en my geld en my tyd met iemand anders te
deel nie. Dan sê ek vir myself: nee wat, my naaste is my kinders, my
broers en susters en familie en vriende, my naaste is my kerk se
mense en dalk, dalk my bure. Dan sê ek vir myself: charity begins at
home. En dis waar ek die streep wil trek. Ek dink dis wat die
wetgeleerde in Luk. 10 ook gehoop het om te doen toe hy vir Jesus
vra: En wie is my naaste? Jesus spel dit nie vir hom uit nie. Hy gee
nie vir hom ’n reël of ’n resep nie. Hy vertel ’n storie van ’n man
wat deur rowers geslaan en beroof is en kaal en halfdood langs die
pad gelos is. Die Priester en die Leviet wat die beseerde man
gesien het, het anderpad gekyk (mens sou dít nie eintlik van hulle
verwag het nie), maar die Samaritaan het moeite gedoen om hom te
help (mens sou dít nie eintlik van hom verwag het nie). Hy het
letterlik die ekstra myl geloop. Hy het sy eie program onderbreek,
hy het sy tyd opgegee, hy het geld spandeer, hy het sy hande vuil
gemaak, hy het sy vervoer beskikbaar gestel, hy het omgegee. Nou vra
Jesus: “Watter van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom
wat onder die rowers verval het?” (Luk. 10:36) Die skrifgeleerde het
die antwoord geken. Ek en jy ken ook die antwoord. Jesus verwag dat
ons sélf die afleiding sal maak, vir ons sélf sal antwoord, sélf sal
onderskei in elke situasie. “Die een wat medelye bewys het,” was die
wetgeleerde se antwoord. Die een wat jammer gevoel het vir die man
in nood, die een wat kon vereenselwig met die pyn van iemand anders,
die een wat geweet het dit kon net sowel hy gewees het wat daar gelê
het, die een wat geweet het dat Jesus sê: “Vir sovêr julle dit aan
een van die geringste van hierdie broers gedoen het, het julle dit
aan My gedoen.” (Matt. 25:40) Wie het jóú vandag nodig? – hy is jou
naaste. ~ Wilna Botha, 01/02/2022 |
|
Jy, ja jy wat wonder wat jou doel op aarde is,
jy wat dink die Here het jou vergeet, jy wat nutteloos voel en niks
meer sin in die lewe sien nie. Ja, jy wat dink die Here sien almal
raak behalwe vir jou, en wat wonder of die Here nog jou naam ken.
Hoeveel mense voel of almal hulle verwerp het, en hoeveel wonder of
nog 'n dag op aarde enigsins die moeite werd is, en hoeveel voel dat
die einde só aanloklik lyk, dat hulle dit sommer self wil versnel.
Gebede tref die plafon, die Here se stem is stil, niks uit sy Woord
praat meer sinvol nie en dit lyk of Hy in die niet verdwyn het.
Nee dis nie so nie, Hy praat daagliks, eintlik elke oomblik met jou,
jy moet net die geraas vir 'n klein rukkie onderdruk, dan sal jy
sien hoe die Bybel, wat bykans tweeduisend jaar gelede kant en klaar
geskryf is, vandag met jou sal (nee nie kán nie, sál) praat as jy
net 'n rukkie wil stil raak. Meer as tweeduisend jaar gelede het die
Here hierdie woorde vir jóú geskryf, vir vandag.
Lees, glo en lééf.
"Vir die musiekleier se aandag: ’n Dawidspsalm met die wysie
“Gittiet”
Here, ons Here, hoe groot is U nie; U word oor die hele aarde geprys!
Alles wat U in die hemelruim gemaak het, vertel hoe groot U regtig
is.
Uit die blou lug klink simfonieklanke wat aan U lof bring. Deur swak
en klein mensies word u groot krag hier op aarde uitgebasuin, deur
’n baba wat geluidjies maak of ’n pap babatjie in ’n ma se arms. U
groot krag laat almal wat met U probeer baklei gou-gou stil word. As
ek opkyk na alles wat U in die hemelruim gemaak het, al die planete,
die maan, melkwegstelsels en miljoene sterre, snak ek na my asem as
ek sien hoe piepklein die mens regtig is. Hoekom gee U vir hom om?
En tog, hoeveel gee U nie om vir hierdie piepklein mensie nie!
Dink net: U sorg vir hom. Hy is vir U baie belangrik. U het hom so
belangrik gemaak dat hy amper soos U is; U behandel hom soos ’n
koning; U gee ’n baie hoë posisie aan hom. U wil hê dat die mens
oral moet wys hoe groot U is. Hy is mos u verteenwoordiger. Hy
regeer oor die hele aarde. U laat hom soos ’n groot leier oor u
handewerk regeer. Hy moet vir alles sorg wat U gemaak het. Veral die
diere is van hom afhanklik - die vee, wilde diere, voëls en visse.
Here, ons Here, hoe groot is U nie; U word oor die hele aarde geprys!"
(Ps. 8 - Die Boodskap) ~ Willem Botha, 31/01/2022 |
|
“Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar
vir my hulp kom?” (Ps. 121:1) ’n Vraag, ’n versugting van iemand wat
benoud is, wat verdwaal is, wat raad nodig het, wat nie weet wat die
volgende stap is nie. Jy ken dalk daai gevoel – jy staar teen die
plafon of ’n muur vas, jy staan voor ’n kruis, jy tuur in die verte,
jy kyk na ’n hoogte of luister na die gedruis van die see en jy vra:
waar sal ek hulp kry? Ek dink “die berge” waarna die Psalm verwys is
seker Sionsberg wat algemeen bekend gestaan het as die blyplek van
God, wat gekenmerk is as die plek waar God teenwoordig is, waar
Jerusalem en die tempel was. Die skrywer soek seker nie sy hulp by
die berge self of by die natuur of ’n skepping groter as hyself nie,
hy kyk op na waar God teenwoordig is, na ’n plek waar hy hoop dat
God sy uitroep sal hoor. Waar soek jý jou hulp as jy nie meer weet
waarheen nie? By mense? By geld? By die kerk? By gebedskettings? Of
by die Here self, dié Een wat alles gemaak het, dié Een wat alles
weet, dié Een wat jou beskerm, dié Een wat jou nooit in die steek
sal laat nie, dié Een wat nooit slaap nie, dié Een wat nie sal
toelaat dat jy struikel nie, dié Een wat weer ’n uitkoms sal bewerk,
dié Een wat sy hand na jou uitsteek om jou op te help, dié Een wat
daar by jou teenwoordig is en nie êrens ver op ’n berg bly nie. Toe
ek hierdie Psalm weer gelees het, het ek gedink daar is dalk ’n
ander kant aan “ek kyk op na die berge”. Die skrywer (pelgrim) het
dalk voor ’n hoë, onoorkomelike berg te staan gekom en gewonder hoe
hy dié struikelblok gaan aanpak. Moontlik het hy nie ’n antwoord by
die berg gesoek nie, die berg was dalk juis sy probleem. Jy ken
seker ook hierdie gevoel. ’n Opdraande, ’n moeilike pad, ’n
kronkelpad, ’n donker pad en jy weet nie hoe om die pad aan te durf
nie, jy sien nie ’n volgende vastrapplek om oor die berg voor jou te
kom nie. Die berg van bekommernis, die berg van siekte, die berg van
’n operasie, die berg van werksoek, die berg van platsak wees – jy
was al daar, of jy is nóú daar. Ons was so paar weke gelede in
Clarens en het tot op die hoogste punt van daai berg (ek dink dis
die Rooiberge) opgeklim wat so mooi uitkyk oor die dorp. As jy van
onderaf kyk kan jy dalk dink dit gaan te moeilik wees, maar as jy
begin stap, sien jy gou daar is ’n mooi gemerkte paadjie, hier en
daar ’n klip vir jou neergesit as trappie, ’n riviertjie waar jy jou
warm gesig kan afspoel of bietjie rus. As jy die pad-pyltjies bly
volg, al lyk dit of dit nie die regte paadjie is nie, as jy aanhou
en deurdruk, wanneer jy voel nou kan jy nie verder nie, dan is jy
skielik bo en word jy beloon met die mooiste uitsig. Dán voel jy
tevrede. Dán voel dit of jy die berg oorwin het. Dán kan jy dankbaar
terugkyk na die hulp wat langs die pad was. Die Here sal jou nie
alleen los voor jou berg nie. Hy sal ’n pad wys. Hy sal ’n
vastrapplek gee. Hy sal jou dra as dit nodig is. Hy sal jou
aanmoedig. Hy sal ’n rusplek en lafenis langs die pad verskaf. Hy
sal jou lei tot by ’n mooi uitsig. Vat sy hand en klim die steilte.
Daar ís ’n pad oor die berg. Daar ís hulp by die Here. ~ Wilna Botha,
27/01/2022 |
|
Ek het nou letterlik twee keer in twee dae
ernstig 'n traan gekap (soos 'n oud weermag vriend dit genoem het as
jy so effe emosioneel raak). Dan stap ons mans maar eerder gou 'n
draai in die tuin voor iemand vra of jy nou uie gerasper het of wat.
Ja 'n man is mos kamtig sterk en hard, maar ai, daai ogie kraantjies
lek maklik.
In die eerste geval sien ek 'n video van Amerikaanse soldate wat
huis toe kom na 'n skof in oorlogsgebiede. In hierdie geval is 'n
klompie mense (mans en vrouens) afgeneem waar hulle hulle geliefdes
verras sonder dat dié weet hulle sou tuis kom. Die absolute ekstase,
vreugde, blydskap en trane is uiters hartroerend en die kinders
sowel as volwassenes se reaksie kan eintlik nie beskryf word nie.
Gil, lag, huil en selfs neerslaan is aan die orde van die dag.
Toe ek die video kyk was ek behoorlik aangedaan van pure lekkerte.
Wat 'n wonderlike band tussen ouers en kinders speel só af.
In die tweede geval was dit toe ek na 'n baie bekende liedjie van
Niel Diamond luister, wat ek al honderde kere gehoor het, maar dié
keer was ek regtig aangedaan, en jy ken ook die liedjie met die naam
"Morningside". Dit gaan oor 'n ou man wat gesterf het, en al wat hy
kon nalaat (in materiële terme) was 'n tafel wat hy self gemaak het
uit eikehout. Toe die kinders klein was, was daar baie gelag en
gekuier om daardie tafel. Hy het met liefde die woorde uitgekerf
"for my children".
Die hartseer was egter dat hy jare later alleen gesterf het en nie
een van sy kinders het die moeite gedoen om by hom te wees nie.
Hulle het hom net op 'n tyd agtergelaat en van hom af weggegaan,
dalk op soek na groener weivelde, soos wat ek dikwels sien gebeur.
Dit moet verskriklik wees om alleen te sterf! Maar voorts wou
niemand eers die tafel hê nie!
Hierdie is net 'n hartseer liedjie, maar ek dink daar is derduisende
sulke gevalle in die lewe en ek het dit al SOVEEL kere gesien.
Toe ek so dink aan hierdie twee totale teenpole wat my aangeraak het,
was ek werklik hartseer. Ek verstaan dit nie. Ek dink nie dis die
Here se wil nie. Die Here bind ouers en kinders deur liefde aan
mekaar, maar vir vele beteken dit nie baie nie.
Ek gee vir jou die lirieke van die lied. Dink so bietjie diep
hieroor.
Morningside
The old man died
And no one cried
They simply turned away
And when he died
He left a table made of nails and pride
And with his hands he carved these words inside
"For my children"
Morning light
Morning bright
I spent the night
With dreams that make you weep
Morning time
Wash away the sadness from these eyes of mine
For I recall the words the old man signed
"For my children"
And the legs were shaped with his hands
And the top made of oaken wood
And the children sat around this great table
Touched with their laughter
Ah, and that was good
Morningside
An old man died
And no one cried
He surely died alone
And truth is SAD
For not a child would claim the gift he had
The words he carved became his epitaph
"For my children"
~ Willem Botha, 26/01/2021 |
|
“Wie sien sy eie dwalinge raak?” (Ps. 19:13)
Dawid is bang hy sien nie sy eie tekortkominge raak nie. Hy is
bekommerd dat hy dalk foute en sondes begaan het waarvan hy nie
bewus is nie. Hy vra dat die Here hom nie moet straf vir dinge wat
hy onwetend gedoen het nie. Kyk, ons weet Dawid het ’n paar groot
foute begaan. Aanvanklik wou hy voorgee dat hy niks verkeerd gedoen
het nie, hy wou dit toesmeer en anderpad kyk, maar sy skuldgevoelens
het hom gepla en sy gewete het hom aangekla. So vertel hy in Ps. 32
hoedat sy liggaam uitgeteer het en sy kragte opgedroog het toe hy
stilgebly het oor sy sonde. Die foute het hom ingehaal. Die skuld
het hom vermoei. Die selfverwyt het hom depressief gemaak. Die
ontkenning het by hom gespook. Totdat hy die alles voor die Here
bely het en vergifnis ontvang het. Die Here se onvoorwaardelike
vergifnis. So-ver-soos-die-ooste-van-die-weste vergifnis.
Skarlakenrooi-na-wit-soos-wol vergifnis. “Barmhartig en genadig is
die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly
toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie
volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie
... so ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons
oortredinge van ons af.” – dis Dawid se loflied in Ps. 103:8-12. Ek
sien vandag hierdie twee kante in my lewe: aan die een kant moet ek
nie onbewus wees van verkeerde dinge in my lewe nie. Ek moenie
afgestomp raak oor sondes nie. Selfs Paulus het in 1 Tim 1:15 na
homself verwys as die grootste sondaar van almal; in Rom 7 vertel hy
van die innerlike stryd tussen die wil om die goeie en regte dinge
te doen teenoor die realiteit van struikeling. Ek sal ook vir ewig
moet stry teen “klein” sondetjies en hulle nie wegredeneer nie. Ek
moet en wil ’n rein lewe najaag. Aan die ander kant moet ek nie
myself kasty oor mislukkings en misstappe nie. Ek mag en sal Jesus
se verlossing en versoening voortdurend aanvaar. Ek kan oor en oor
en oor God se vergifnis ontvang. Ek kan en gaan leef as ’n vry mens
sonder die las van skuldgevoelens wat aan my gedagtes en hart vreet.
“Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan
God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus, ons Here.” (Rom 7:24)
~ Wilna Botha, 25/01/2022 |
|
Dankie Korporaal, dankie dat jy my amper
gebreek het met daai nagmarse, daai kere toe ek gevoel het ek sien
nie die oggendson nie. Dankie dat jy my hordes kere deur daai "sirkus"
- (die prima opfoeter plek) in Potch deur daai vieslike slyk-water
gejaag het met "fullkit" en sommiges bykans verdink het en dit net
genade was dat ons nie omgekap het nie. Dankie weermag vir die
aaklige kos wat werklik selde eetbaar was. Dankie weermag dat ons SO
maklik op die grens in swart sakke (body bags) leweloos kon huis toe
kom.
Dankie my werkgewer dat jy my afgelê het op 'n tyd wat ek die
enigste broodwinner was en dit werklik nie kon bekostig om sonder
werk te wees nie.
Dankie Mev. Malan dat jy my in st. 9 die hardste pak slae gegee het
van my hele skoolloopbaan, met daardie aaklige bordpasser waarmee jy
sekerlik iemand uit hierdie lewe uit kan slaan!
Dankie pa vir die kere wat ek met daai belt moes deurloop.
Ek prys U Here dat U my my kinders van my af weggeneem het, asook
alles anders wat ek besit het en ek letterlik met niks oorgebly het
nie.
Nou ja, al die punte hierbo was op my persoonlik van toepassing
behalwe die laaste situasie, want dis wat met Job gebeur het. Nadat
hy alles verloor het, sê hy: "Sonder iets het ek in die wêreld gekom
en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het
geneem. Prys die Naam van die Here.” (Job 1:21)
Het jy al die woorde gebid "Laat U wil geskied"? Ek het al ontelbaar
baie, maar eintlik was ek nooit ernstig nie, as ek in hierdie
konteks daaraan dink. Jy sien, al die goed wat ek hierbo oor myself
geskryf het, is waar, en of jy dit glo of nie, ek is nie spyt oor
één enkele ding nie, want die Here het my daardeur gevorm, stukkie
vir stukkie. Wat destyds dalk sleg was, is vandag 'n reuse wins. In
sy boekie Prison to Praise, skryf Merlin Carothers dat jy elke
enkele dag die Here moet loof en prys vir goed én sleg wat met jou
gebeur, want jy weet nie wat die toekoms vir jou inhou, en hoe
belangrik tot die slegte goed vir jou is nie.
Die weermag moes jou eers tot in die grond afbreek voordat jy
opgebou kon word tot 'n regte soldaat. As ek terugdink aan Mev.
Malan het sy 'n ongelooflike goeie impak op my lewe gehad en ek is
bitter dankbaar daarvoor.
So laat die Here soms toe dat ons bitter seerkry, bitter swaarkry en
soms bykans "rock bottom" tref voordat ons beter en meer nuttig
anderkant kan uitkom, en Hy ons kan gebruik. Sy planne is vir ons
onbekend en ek het dikwels nie goed wat gebeur het verstaan nie,
maar elke enkele ding, tot die dood van geliefdes, het op een of
ander manier 'n goeie nadraai gehad. Ek glo al hierdie goed met my
hele hart, maar steeds is ek bang om Hom heeltemal te vertrou in
slegte tye.
Ek is werklik bang om te bid: Laat U wil geskied, hoewel ek vir
seker weet dat mý wil soms rampspoedig kan wees. Ek kies dus eerder
die opsie dat Hy besluit.
Dalk is jy op die oomblik "rock bottom", of uiters desperaat oor
iets. Byt maar vas, Hy weet van die fynste stukkie detail, en Hy is
elke oomblik besig met jou, en Hy het jou beslis nie vergeet nie.
Doen alles wat jy moet en kan, en los die res vir Hom. ~ Willem
Botha, 24/01/2022 |
|
“Maar jy, wie
is jy om regter te speel oor jou naaste?” (Jak 4:12) Dis nogal ’n
tawwe vraag wat Jakobus (en die Here!) vandag vir ons vra. Wie is ek
om te oordeel of te beoordeel? Wie is ek om te besluit wat reg en
verkeerd in iemand anders se situasie is? Wie is ek om te sê wie is
goed en wie is sleg? As mens terugkyk na die vorige vers in Jakobus
praat hy van kwaadpraat oor mekaar, van skinder, van slegsê en
slegpraat en slegmaak. Wie is ek nou eintlik om enige iets oor enige
iemand anders te sê? Ja, ek is skuldig. Ek oordeel. Ek sien dikwels
net die slegte raak. En ek bly nie stil daaroor nie! Ek kyk na die
uiterlike, ek kyk na die foute, die mislukkings, ek kyk na die
verskille en dan sit ek iemand in ’n boksie daarvolgens. Ek is
krities, ek is uitgesproke, ek “label” mense. Ek maak afleidings, ek
is nie objektief nie, ek is nie verdraagsaam nie, ek kyk nie na die
groter prentjie en die agtergrond en die paadjie wat my naaste dalk
al moes stap nie. Ek het hierdie aanhaling gelees wat my sterk
aanspreek: “Don’t judge my path if you haven’t walked my journey.”
Dis natuurlik ook glad nie lekker as die bordjies verhang en jy aan
die ontvangkant van iemand anders se oordeel is nie, nè! Dit maak
mos seer as iemand jou beoordeel sonder dat hulle jou storie en jou
agtergrond ken, nie waar nie? Nou hoekom doen ons dit dan aan iemand
anders? Die “Urban Dictionary” sê by “judgemental”: “A way of making
oneself feel better, by hurting others. Usually caused by closed
mindedness, and a lack of manners.” Nee! Ons kan en mag nie so wees
nie. Kom ons wees meer verdraagsaam en toon groter begrip en genade
aan mense wat anders lyk, anders dink en anders optree as ons. Kom
ons bly stil as ons nie die hele agtergrond ken nie. Kom ons probeer
om onsself in die ander een se skoene te plaas en so paar treë saam
op sy journey te stap. Jesus sê in Joh. 7:24: “Moenie op die oog af
oordeel nie, oordeel regverdig.” ~ Wilna Botha, 20/01/2022 |
|
Dit is goed...
"In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was
heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die
Gees van God het oor die waters gesweef." (Gen. 1:1-2)
Ek vind myself elke keer in verwondering as ek die Skeppingsverhale
lees (ja daar is twee, in Genesis 1 en 2). Dit fassineer my nog my
hele lewe lank en ek wens so ek kan eendag eerstehands by die Here
die fyner detail hoor. Iets wat my opval is dat daar telkens, na
elke skeppingsdag, geskryf staan: God het gesien dit is goed. Alles
wat Hy geskep het, is goed, en dan lees ons die volgende in Gen.
1:31 : "Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was
baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die
sesde dag."
Sien jy dit raak? Dit was BAIE goed. Alles is baie goed en dit sluit
die mens in. Die natuur wat perfek in balans bly, die sterre en
planete in die buitenste ruim wat vir altyd in ewewig bly. Die
afstand van die maan en son na die aarde toe, is perfek geplaas om
lewe moontlik te maak. Álles is baie goed. Die kos wat die Here vir
die mens beskikbaar stel, die energiebronne wat tot ons beskikking
is, en tegnologie wat ontwikkel word, is baie goed.
So is jy ook báie goed, en die hele mensdom is oorwegend báie goed!
Nou sê jy nee, die mens is verdorwe en vernietig alles, en misdaad
verwoes ons, en niemand kan vertrou word nie! Dan sê ek vir jou jy
is verkeerd, dis steeds uitsonderings. Enige mens op aarde kan 'n
groot mes in die hande kry, en baie het toegang tot vuurwapens, maar
daar is steeds nie elke dag massa slagtings nie.
Jý, ja jý, is BAIE goed! En dis nodig dat jy dit vandag hoor. O nee
reg, jy sê vir my ek ken nie jou lewe nie, jy sukkel met dít en dat,
dan sê ek vir jou dat jy in die oë van die Here baie goed is. Ons
het dalk al 'n bietjie verval in sondes, maar omdat Jesus daarvoor
gesterf het, bly jy steeds baie goed. Volmaak, perfek, soos Hy jou
gemaak het, is jy baie goed! Het jy nie ook al tientalle kere
verstom gestaan oor die goedheid van mense nie? Was jy nie ook al
verras deur vreemdelinge se welwillendheid nie? Het jy nie ook al
gewonder hoekom mense soms so uit hul pad sal gaan vir ander nie?
My vriend, dis omdat die Here nou nog steeds sê: Dit is báie goed!
Natuurlik man, jy is immers na sy beeld geskep, en Hy is baie goed.
As sy hande jou gevorm het, kan jy niks anders wees nie, hoewel daar
tog wel vele mense is wat in ons oë glad nie goed is nie. Moet
asseblief om vadersnaam nie die hele wêreld oor daardie kam skeer
nie, en beslis nie jouself nie! Voel goed, voel nou dadelik goed,
want 'n Meester het jou gemaak. Jy hoef nie vir my te glo nie, glo
die Here. ~ Willem Botha, 19/01/2022 |
|
“Wat kry die mens vir die werk waarmee hy hom
vermoei?” (Pred. 3:9) Dis nogal ’n vraag waarmee die Prediker
homself besig gehou het! Vir wie sloof ek my af? Alles kom tot niks,
dis net ’n gejaag na wind. Só redeneer hy. En ek ook. Dikwels. Dis
mos veral so aan die begin van ’n nuwe jaar dat mens weer bietjie
dink wat jy verwag van jou werkslewe en hoe jy dalk die werklas
bietjie kan beheer, meer georganiseerd kan werk, beter beplan,
prioriteite herrangskik, dalk bietjie briek aandraai, ens. Of dalk
by die baas gaan aanspraak maak op ’n verhoging of aanpassing van
jou pligte. Of dalk sommer bedank en iets nuuts aanpak. Dalk voel jy
ook so negatief dat jy wil vra: wat kry die mens vir die werk
waarmee hy hom vermoei? Ek het maar net weer besef: werk moet ons
werk. Die Bybel sê mos in 2 Tess. 3:10 as jy nie werk nie, moet (en
kan) jy nie eet nie. Ons moet werk om te oorleef. Ons moet werk
omdat dit God se opdrag aan ons is. Ja, dis nie ’n straf soos baie
mense dink nie. Om te werk (die aarde te bewoon en bewerk en daaroor
te heers, soos Gen. 1:28 sê) was God se opdrag nog voor die sondeval.
Die gevolg van die sondeval was net dat ons nou met bietjie meer
sweet en gesukkel en swaarkry ons werk sal doen. “... net deur harde
werk sal jy kan eet.” (Gen. 3:19) Dit beteken sekerlik nie dat ons
nie ons werk kan geniet nie. Ek dink as ons vrede gemaak het met die
feit dat ons móét werk en dat dit nie altyd maklik gaan wees nie,
kan ons dalk met bietjie meer lus en vreugde werk. Dan kan ons werk
asof ons dit vir die Here doen en nie vir mense nie, dan kan ons
werk tot sy eer, soos die Bybel ons elders aanspoor. Dan kan ons ons
werk as ’n seën en nie ’n las sien nie. “...doen julle werk met lus,
soos vir die Here en nie vir mense nie.” (Ef. 6:7) Woon en werk
rustig voort, sê Ps. 37:3 en dís wat ek as my motto wil aanneem.
“God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit
is ’n gawe van God.” (Pred. 5:18) Om jou werk met vreugde te doen,
is ’n gawe van God, iets wat Hy in sy genade vir jou kan en sal gee!
Vra dit van Hom en dank Hom daarvoor! ~ Wilna Botha, 18/01/2022 |
|
Ek het 'n man
geken wat deur 'n egskeiding was en hy was baie ongelukkig omdat sy
vrou nie meer kans gesien het vir die huwelik nie. 'n Ruk daarna het
hy vir my vertel dat hy 'n spesifieke boek gelees het, en oortuig is
dat hy nou in 'n volmaakte huwelik met die vrou sou kon saamleef as
sy hom net 'n kans sou gee. Hy het geglo dat hy die perfekte resep
gekry het. Volg hierdie stappe, hou dáárby, hanteer situasies sus en
so en alles is perfek. Sjoe, dit werk seker as jy 'n brood bak, maar
verhoudings gaan verder as dit en dis nie soseer presies wat jy doen
of nie doen nie, dit gaan daaroor of jy jou hele menswees in lyn kan
kry met dié van die ander party. Indien my vriend se plan sou werk,
sou ek seker met enige ander vrou op aarde dolgelukkig kon wees. O
koek nee, net my eie vrou en geen ander een nie.
Nou sien ek hoe mense resepte wil voorhou vir die "regte" manier om
die Here te dien. Skakel by sus en so aktiwiteit in, bid op hierdie
manier, hou stiltetyd op hierdie spesifieke tyd, lees jou Bybel só,
gaan verkondig die evangelie volgens hierdie riglyne, bid hierdie
woorde teen kanker (ja ek het dit al gehoor - as jy verkeerd bid sal
jy nie genees word nie) besoek hierdie gemeente of denominasie en
lees nét hierdie spesifieke vertaling van die Bybel.
Ai, hoeveel resepte het ek nie al gehoor, en self verkondig nie!
Dit lyk vir my die finale, perfekte resep is nog nie ontwikkel nie.
Ongeag van wátter resepte ek sou gebruik om my kinders groot te maak
of my gesin te bedien, dit sou flop as dit nie geskaaf is, foute
gemaak is, gefaal het by tye en aanhou probeer is nie. Jou resep en
my resep is nié dieselfde nie.
En daarom is daar net een manier wat vir jou gaan werk om die Here
te dien, en dis om 'n baie sterk en nabye verhouding met Hom te
handhaaf. Die Fariseërs het mos met hulle resepte gekom en
ondraaglike laste op die mense gesit, maar dit was net pure
godsdiens met absoluut geen hart nie, en verhoudinge was geensins
ter sprake nie. As jy riglyne soek, soek dit in die Bybel, en as jy
dinge anders verstaan as 'n ander gelowige wat dieselfde Bybel lees,
is dit omdat die Here anders met jou werk as met hom. Ek is oortuig
daarvan dat jy elkeen van jou kinders verskillend grootmaak, en
daarom hoef jy nie 'n ander se resep te probeer najaag of begeer nie.
Wees die beste jý wie jý kan wees, aanbid en volg die Here deur op
sy voetstappe, wat Hy net vir jóú gee, te stap.
As jy ander se resepte gaan probeer volg, gaan jy nooit gelukkig
wees in jou geestelike lewe nie. Wees jy net jy, soos die Here jou
gemaak het. ~ Willem Botha, 17/01/2022 |
|
“Gaan dien julle God, die Here! Maar wie gaan
almal saam?” (Eks 10:8) Hier teen die agtste plaag wat die
Egiptenaars tref, gee die farao amper in. Hy sê vir Moses en Aäron
hulle kan maar gaan om die Here te gaan dien. Wie gaan almal saam?
wil hy weet. “Ons gaan almal, met ons jong manne en ons ou manne,
met ons seuns en ons dogters, met ons kleinvee en ons grootvee, want
ons moet vir die Here ’n fees gaan hou.” (Eks 10:9) Ek het bietjie
hieroor gewonder: as ek en jy die uitnodiging kry: gaan dien julle
God – wie gaan almal saam? Sal ons hele gesin, ons wyer familie
aanmeld? Sal ons werksmense daar wees? Sal ons vriende saamgaan?
Dalk sal party ’n paar sommetjies maak en besluit die prys om die
Here te dien is net te groot; daar is net té veel wat opgeoffer
moet word. “As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie
tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders
en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. Iemand wat nie sy
eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie.”
(Luk. 14:26-27) Dís die prys om Jesus te volg – wie is bereid om dit
te doen? Dalk sal party nie kans sien om troetel sondetjies en
slegte gewoontes te laat vaar nie. Dalk sal party te besig wees met
werk en geldmaak en eie selfsugtige dinge dat hulle nie tyd sal wil
afstaan om aan die Here te wy nie. Dalk sal party eers iets anders
wil gaan afhandel, soos dié in Luk. 9:57-62 wat eers familie wil
gaan groet, eers sy pa wil gaan begrawe voordat hy vir Jesus volg.
“As jy een van my volgelinge wil wees, moet jy al die ander dinge in
jou lewe tweede stel”, sê Jesus in Luk. 9:62. Wie gaan almal saam,
of sien ek nie kans vir die opoffering nie? Wie gaan almal saam, of
het ek ’n verskoning? Wie gaan almal saam? “Wat my en my gesin
betref, ons het ons keuse klaar gemaak, ons gaan die Here dien.”
(Jos. 25:15) ~ Wilna Botha, 13/01/2022 |
|
Weet jy waarin lê die skoolboelie se krag en
vermoëns? Nie in homself nie, nie in sy fisiese krag nie en ook nie
in sy "wonderlike" persoonlikheid nie. Dit lê in sy meelopers en dié
wat hom bewonder en amper aanbid, se praatjies oor hom. Diegene wat
so saamloop en almal waarsku oor hom en vertel hoe sterk hy is, gee
vir hom sy mag en hulle kry ook so ietsie daaruit om met hom
geassosieer te wees.
Kom ek vertel jou van 'n magtige organisasie in die wêreld wat
onbeskryflik kragtig en invloedryk is, en die klomp se tentakels
strek oor die uithoeke van die hele wêreld. Daar moet seker baie
hoofkantore oor die hele wêreld wees, met briljante mense wat daarby
betrokke is, en wat met enige mens se kop kan smokkel. Soms subtiel
en soms byna met aggressie. Voorts skat ek hierdie ouens het
fabrieke en sakebelange soos waarvan jy nog nooit gehoor het nie, en
ek kan my nie indink hoe groot daardie werksmag is nie. Maar hierdie
mense is uiters geheimsinnig, jy weet mos, so geheimsinnig dat jy
jou naam met 'n uitveër skryf. Die metodes van kommunikasie is
briljant, want net mooi niemand kan dit onderskep nie, ongeag van
watse tegnologie tot jou beskikking is. Dalk besit hierdie
organisasie selfs satelliete waarvan net mooi niemand anders weet
nie. Weet jy van wie ek praat? Ken jy hierdie organisasie se naam?
Ek is doodseker jy weet ten minste iéts, want dalk is jy ook 'n
meeloper wat vir hierdie ouens mag gee, soos die skoolboelie se
luitenante, deur te vertel van hierdie organisasie se vermoëns. Maar
o wee, ek kry niks konkreet op die internet nie. Is daar ooit 'n
webblad vir hierdie ouens? Ek het gaan soek, maar kry niks. Die
eerste logiese naam wat dalk sou werk sou www.hulle. com wees. Ek
het ook www.hulle. co.za probeer en www.hulle. net, maar daar is
niks. Hulle kruip goed weg. Of liewer "Hulle" kruip goed weg. Ja
vriend, "Hulle" het baie mag, want "Hulle" wil jou beheer en "Hulle"
gaan nano robotjies en jou inplant en "Hulle" gaan jou DNA verander
en jou die hele tyd dophou deur "Hulle" satellietskottels en jou
sodoende beheer. "Hulle" hou jou fyn dop. Daar moet baie van "Hulle"
wees, in elke land, by elke bank, by elke staatsdepartement, by elke
skool, universiteit, werkplek, en NATUURLIK ook in jou kerk, want "Hulle"
wil jou "mind change" dat jy nie meer in God glo nie, en "Hulle" wil
jou kerk tot niet maak, ja, en selfs die Bybel. "Hulle" voer 'n
skrikbewind, en daar is geen uitkoms vir jou nie. "Hulle" word deur
die hele wêreld gevrees. Soos ek hier sit wonder ek hoe die mensdom
se denke so geïnfiltreer kon word deur iets onsigbaar. Hoe op aarde
kan ons as intelligente wesens iets onsigbaar só vrees, terwyl ons
die almag van God miskyk en misken. Ons sien hoe Hy ons in 'n
oogwink kan platvee, ons sien in die Bybel hoe Hy Sodom en Gomorra
kon verwoes, maar ons sien ook hoe Hy onbeskryflike wonderwerke in
ons lewens doen en mense genees en ophef en uit die moeilikste
situasies red. Maar nee, die mensdom hou net nie meer daarvan om in
Hom te glo nie, en kyk Hom mis en is selfs blasé daaroor. Maar vir "Hulle"
moet jy oppas want "Hulle" is selfs sterker as ons Koning, en baie
meer invloedryk.
Nee vriend, vrees die Here, jy hoef "Hulle" nie te vrees nie. God is
sigbaar in elke ding en mens (wat immers deur Hom geskape is), Hy is
sigbaar in die natuur, en selfs sigbaar in die geboorte van 'n pap
babatjie. Stem jy saam dat dít 'n REUSE wonderwerk is? Het "Hulle"
al ooit iets geskep? O ja, behalwe die lawwe robotjies natuurlik. "Hulle"
kan niks doen om jou Saligheid te verseker nie, maar wel om dit van
jou weg te hou, as jy vir "Hulle" die mag gee om dit te doen.
Vrees die Here, nee nie die vrees wat jou broek laat bewe nie, maar
ag Hom met respek en aanbid Hom omdat daar niks groter as Hy is nie,
en berus jou in sy almag. En sit al jou vertroue in Hom, want "Hulle"
is net 'n versinsel van mense wat hulleself neerbuig voor "Hulle".
"Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste
asem uit. Hulle is min werd." (Jes. 2:22)
Oppas vir "Hulle", "Hulle" sit dalk in jou kop. ~ Willem Botha,
12/01/2022 |
|
“Elke
ding het sy tyd en sy manier. Daar is baie gevare wat die mens
bedreig. Hy weet nie wat sal gebeur nie. Wie kan vir hom sê hoe dit
sal wees?” (Pred. 8:6-7) Willem skilder so af en toe ’n prentjie.
Hierdie skilderbordjie het hy so rukkie gelede gekoop – staander en
al. Dié staan nou nog die hele tyd op ons eetkamerkas – wit en skoon
en kaal. Met die oorgang na die nuwe jaar, kyk ek so na die bordjie
en dink: dis mos nou presies soos die jaar voor ons lê: wit en skoon
en kaal, niks daarop geskryf nie, niks ingekleur nie, geen prentjie
nie, geen verfmerkie nie en ek wonder: hoe sal die lewens-skildery
lyk oor ’n paar weke, maande en teen die einde van die jaar? Sal dit
’n suksesvolle prentjie wees, een met mooi kleure wat saamsmelt in
iets sinvol, een wat uitwerk soos wat dit aan die begin beplan is,
een wat met trots uitgestal kan word? Of sal die verf dalk êrens
langs die pad smeer, of sal die prentjie dalk ’n flop wees? Willem
word baie keer kwaad vir sy skildery, want hy sê sy hand doen nie
wat sy kop vir hom sê nie. Dan verf hy stukke van die skildery weer
toe met die agtergrondkleur en begin weer oor. Partykeer hou hy
aanvanklik nie van sy skildery nie, maar as dit so rukkie teen die
muur gehang het, dan begin dit op mens “groei” en later sien jy nie
meer die foutjies raak nie, net die mooi kunswerk. Dalk kan jou
skildery dié jaar sulke slegte draai maak, dat jy dit eers weer sal
moet toeverf en oorverf voordat die prentjie vorm aanneem. Dalk kan
dié jaar se prentjie lig en vrolik wees met perfekte verhoudinge en
volmaakte perspektiewe. Dalk kan dié jaar se prentjie donker en
somber uitdraai. Wie kan vir ons sê hoe dit sal wees? – soos die
Prediker vra. Ek kan vir jou sê dat sekere van die verfhale op jou
jaar se skildery gaan beslis mooi uitkom, oor party gaan jy spyt
wees as hulle jou skildery bederf, oor ander gaan jy dalk nie beheer
hê nie. Sommige kleure gaan só mooi saamsmelt, ander gaan te donker
of te uitgewas lyk. Dis nou maar die lewe. Wie kan vooruit weet hoe
die skildery gaan wees? Al wat ek maar net besef het, is dat ek nie
self moet probeer skilder aan my jaar se prentjie nie. My hand gaan
nie doen wat my kop vir hom sê nie. Ek moet dit liewer oorlaat aan
’n Meesterskilder wat die toekoms ken, wat die uitkoms sal bepaal,
wat alles ten goede sal laat meewerk, wat saam met my deur die dal
van doodskaduwee sal stap, wat my trane sal afdroog, wat my sal
sterk maak as ek swak is, wat die lig aan die einde van die tonnel
sal aansteek, wat ’n pad in die woestyn sal maak, wat die storms sal
stilmaak, wat al die laste en bekommernisse op Hom sal neem, wat
elke dag weer nuwe kanse en nuwe genade sal skenk. Ek sien uit om my
skildery te sien op 31 Desember 2022! ~ Wilna Botha, 11/01/2022 |
|
En so
wrintiewaar breek daar weereens 'n nuwe jaar aan, soos elke jaar, 'n
nuwe begin, nuwe uitdagings, nuwe uitsien maar ook dalk effe kommer.
Terloops, mag dit vir jou en jou geliefdes ook 'n wonderlike jaar
van tonne genade wees. Dalk groet ons hierdie jaar nog hierdie
aaklige virus ook. Hoe fantasties sal dít wees. En as jy dalk
hierdie afgelope jaar deur trauma en hartseer is bid ons vir jou die
Here se vertroosting en genade toe.
Dalk het jy ook 'n kas of twee reggepak of selfs 'n nuwe voorneme of
twee vir jouself gemaak. My eerste voorneme was om bietjie minder
opvlieënd te wees en my minder te vererg, maar 1 Januarie was dit
reeds in die drein af. Nee wat, ek gee op met voornemens, hulle werk
nie.
Nietemin, praat van kaste reg pak, ek het weer my geestelike kas ook
deurgekyk en besluit wat ek glo en waarop ek staan, en wat moet bly
en wat maar eerder moet gaan. Maak ek mos die fout om my einde
verlede jaar bloot te stel aan iemand se ideologieë wat my dwars in
die krop gesteek het. Maar dit was 'n goeie oefening en ek moes
dinge oordink, want ek moes besluit of hierdie persoon 'n klomp goed
in my geestelike kas gaan pak en of ek dit eerder gaan ignoreer. Wat
ek toe wel gedoen het. Maar dit was goed, want ek moes besluit
waarop ek steeds staan. My vraag is egter vir my en jou of jy weet
waarop jy staan en wat jy glo. Glo jy nog aan die basiese waarhede
van God se woord? God as Skepper, die maagdelike geboorte, die Bybel
as die onfeilbare Woord van God, die kruisiging, opstanding en
wederkoms en dan natuurlik God se genade. Dis die kern van wat ons
glo, maar daar is soveel aanslae op ons geloofslewe, dat ons regtig
moet hakke inkap wanneer ander ons laat twyfel. En Covid het ook 'n
rol gespeel om ons geloof weg te kalwe.
Ons denke moet élke dag vernuwe word en ons moet élke dag besluit of
hierdie waarhede van die evangelie steeds vasstaan.
"Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat
God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook
kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik
en volmaak is." (Rom. 12:2).
Stem jy saam dat dit bitter moeilik raak om nié aan hierdie sondige
wêreld gelyk te word nie? Goeiste, ek is soms geskok oor hoe vêr die
"wêreld" wegbeweeg van die Here af. Die mees skokkende goed word
deesdae aanvaar op grond van menseregte, en mens word so maklik
meegesleur. In die ou dae het die leraars geweldig baie "verdoemenis"
gepreek, maar toe begin die kansels drup van die stroop van genade.
Albei is reg, want ons weet dat genade verniet is, maar dis
DEFINITIEF nie "cheap" nie! Ons kan nié maak wat ons wil nie.
Pak weer daai kaste reg, oordink alles wat daarin gepak is en gooi
uit wat nodig is en stof af wat afgestof moet word. Maak doodseker
dat ander se opinies jou nie van die waarheid af wegtrek nie, maar
jou ook nie swaar laat dra aan ondraaglike laste nie. Begin die jaar
vars, kry orde in daardie geestelik kaste en werk weer opnuut aan
dít wat dalk al bietjie stof vergaar het.
Laat die Here jou denke vernuwe! ~ Willem Botha, 10/01/2022 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|