
Hoe was jou naweek? Het jy so bietjie
gerus? Waarmee was jy besig die afgelope tyd? Gaan jy
vandag baie besig wees? En môre en die res van die week? Is volgende
Saterdag klaar vas, of gaan jy dan ook besig wees? Is jy vanaand
besig, reeds besig Desember? En wat van volgende jaar? Wat is die eerste ding
wat jy sê as iemand vra hoe dit met jou gaan? Sjoe, ons hol rond,
besig met dit, besig met dat! Nie tyd vir niks!? Vreeeeslike woord
dié "besig"-woord.
Kom ons kyk gou
bietjie terug na die afgelope jaar. Dié jaar toe ons so besig was.
Wat kan ons daarvoor wys? Is alles op datum? Ai tog! Is ons nie maar
soms so bietjie pateties nie! Weet jy wat gebeur met hierdie
oordrewe besig wees? Ons verwoes onsself. Ons begin hartsiektes
ontwikkel, en kry beroertes, as gevolg van stress! Ons liggame gaan
agteruit, ons kry vreeslike plooie, ons gebruik al hoe meer
medikasie, hardloop van bakboord na stuurboord, hol rond vir werk,
jaag agter die kinders aan, werk, werk, werk, skeep ons vriende en
familie af, rus niks meer nie. En uiteindelik, word ons woordeskat
net drie woorde - "Ek is besig".
Dis die een kant van
die saak. Daar is nog 'n kant. Ek dink soms dat dit vir mense 'n
statussimbool is om die hele tyd so besig te wees. Ek het 'n vriend
gehad wat se ma altyd moeg was. Moeg gewerk, moeg ge-alles! Maar ek
kon nooit sien waarvan nie! Sê iemand nou die dag ook vir my hulle
is so verskriklik besig; ai, ek het die man jammer gekry, totdat hy
probeer verduidelik het waarmee hy kwansuis so besig is. Ek het
amper gelag. Jy sien, party mense is regtig besig, en ander sê
regtig hulle is besig, hulle het niks tyd nie, hulle is besiger as
enige iemand anders. Soms is dit juis húlle wat heeldag rondsit en
niks doen nie.
Besig wees. Was dit
God se plan? Kom ons kyk wat het Hy gedoen.
Gen 2 : 1 - 3 "Die
hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. 2
Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het
Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. 3 Hy het die sewende dag
as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al
die skeppingswerk wat Hy gedoen het."
Jy sien, God het in
die skepping voorsiening gemaak vir 'n ritme wat maak dat die mens
beskerm word teen homself. Hierdie oordrewe gejaag is nie deel van
Sy plan nie. Maar ons, ons word so taak gedrewe, dat alles anders
daarvoor moet plek maak. Ons word horlosie- en sirene-mense,
hardlopers, skarrelaars, haastige afsluk-mense, maak-gou-mense,
ons-is-laat-mense. Kitskos, kitsoplossings, kits stiltetyd (al
gehoor van die een minuut stiltetyd boekies?) Mens kry blykbaar nou
selfs 'n boek: die 10 dae MBA-graad. Ons rekenaars moet nog
vinniger, shortcuts op die selfoon. Weet jy wat die wêreld vir jou
vertel? Koop hierdie en hierdie, dan het jy meer tyd vir jou
geliefdes! Twak man!
Hierdie besig-wees maak ons: * senuweewrakke * hartlyers * gespanne
en vol stres * maagsere * pil-poppers
En hoe reageer ons? Ons: * kook van frustrasie * ontplof oor niks *
verwoes verhoudinge - en ons gesinslewe * begin in vrees leef oor
môre * verwoes ons slaappatrone.
En dan, uiteindelik,
skuif ons vir God eenkant.
Het jy al dié storie
gehoor? Per e-pos. Satan hou 'n konferensie met sy demone. "Ons kan
nie keer dat Christene kerk toe gaan nie. Of Bybel lees en die
waarhede verstaan nie. Ons kan nie eers keer dat Christene 'n
verhouding met God het nie. En as hulle eers hulle verhouding met
Jesus baie sterk en vas het, is ons verlore. Die demone vra toe,
maar wat kan ons dan doen? Toe kom Satan met 'n meesterplan! "Hou
hulle besig - met beuselagtighede en gaan ontwikkel dinge wat hulle
aandag aftrek. Laat hulle koop, koop, koop, en dan leen, leen, leen.
Sodat hulle verskriklik hard moet werk, werk en werk. Vang hulle so
vas in hierdie patrone dat hulle vrouens moet werk, werk en werk.
Maak hulle so gulsig vir aardse goeters dat hulle selfs hulle
gesinne sal inruil daarvoor! Oortuig hulle om laaaang ure weg te
wees van die huis af tot selfs 13 ure per dag, (en hulle word net
vir 8 betaal). Kweek soveel vrees in hulle oor hulle finansies, en
verdof hulle gewete oor hulle geliefdes. Dit sal wonderlike dinge
vir ons bose koninkryk te weeg bring - egskeiding, gebroke gesinne,
dwelms by die kinders, stress, selfmoord onder tieners omdat pa en
ma weg is! Maak hulle e-pos posbusse vol met goed, ja, selfs
geestelike boodskappe - dit vat nog meer tyd. Neem ook tyd van hulle
stiltetyd weg - en neem die plek daarvan. Hulle sal ook nie meer kan
getuig nie! Die forward-knoppie sal die enigste poging van getuienis
wees. Want daar word 'n skuldgevoel aan gekoppel as hulle nie
aanstuur nie! Hou hulle te besig om in God se natuur te kom, te
besig vir intimiteit tussen man en vrou - gee hulle sommer hoofpyn.
Laat Kersvader die plek van Jesus in 'n krip inneem. Laat sport op
Sondae hulle van die huis van die Here wegneem. Leer hulle 'n
verwronge sin van liefde. Oortuig vir Meneer dat hy nie gevra het om
verlief te raak op poppie by die werk nie. Laat stiltetyd 'n stille
dood sterf!
Wat 'n plan van
Satan! Dink jy hy is suksesvol?
Natuurlik moet ons
werk, en ja , baie baie vrouens moet net eenvoudig werk. Maar, ek
glo die meeste hoef nie. Wat sal jou kind kies?
Wat sal ek en jy nog
prysgee ter wille van 'n gejaag na aardse dinge? Ons huwelike,
kinders, vriendskappe, selfwaarde - ONS SALIGHEID?
Al wat ek sê is, daar
moet 'n balans wees! 'n Goeie vriend van my het my 'n amazing woord
geleer. Drie letters. NEE!!
Dink bietjie oor
hierdie vraag: het jy dalk selfs te veel Geestelike aktiwiteite?
Dalk moet jy 'n
bietjie beter tyd beplanning doen, miskien effens afskaal met
sekere aktiwiteite. Oorweeg 'n kleiner, goedkoper motor of huis,
goedkoper skool; dalk moet jy nie agter hierdie groot nuwe pos aan
hardloop nie. Die een met die baie geld, genoeg vir 'n groot mediese
skema, vir die groot maagseer - die een met 'n ingeboude begrafnis
plan...
Wees versigtig, dit
is dalk nie die moeite werd nie. Maak jou somme en kyk wat jy moet
opoffer, wat jy gaan verloor. Bedaar ’n slag, word rustig.
..... lees
nog meer oor "Besig" hier >>
|