BESIG (VERVOLG)


Ons het vroeër gepraat oor besig wees (klik hier om te lees  >>)! Miskien kon jy met party goed identifiseer, dalk het dit jou so bietjie ongemaklik, of skuldig  laat voel, maar dis nie my bedoeling nie. Die punt is, daar is veronderstel om tyd te wees vir alles, maar dis maar eintlik moeilik.

Vraag is, hoeveel lekker dinge is nog oor in jou en my lewe? Sien jy uit na vandag? Wees eerlik. Was gister lekker? Dink gou aan 'n paar hoogtepunte die afgelope week of twee. Dink jy volgende week gaan aangenaam wees? Het jy 'n rustige naweek voor jou?

Pred 2 : 17 - 26 "Ek het die lewe gehaat, want alles wat in hierdie wêreld gebeur het, het vir my sleg afgeloop. Alles kom tot niks, dit is 'n gejaag na wind. 18 Ek het alles gehaat waarmee ek my in hierdie wêreld met soveel sorg besig gehou het, want ek moet dit nalaat aan dié een wat ná my kom, 19 en wie weet of hy 'n wyse of 'n dwase mens sal wees? Dit kom dus ook tot niks. 20 Ek het in vertwyfeling geraak oor alles waarmee ek my met soveel sorg in hierdie wêreld besig gehou het. 21 'n Mens wat met wysheid en kennis gewerk en sukses behaal het, laat sy besittings na aan een wat glad nie daarvoor gewerk het nie. Dit is nie reg nie. Ook dit kom dus tot niks. 22 Wat het die mens nou eintlik aan alles waarmee hy hom met soveel sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou? 23 Elke dag bring vir hom pyn en elke onderneming ergernis; selfs snags kom hy nie tot rus nie. Ook dit kom tot niks. 24 Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit 'n gawe uit die hand van God is. 25 Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie? 26 Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap. Maar die een met wie Hy nie tevrede is nie, kry die taak om op te gaar en bymekaar te maak en dit dan te gee aan een met wie God tevrede is. Ook hier kom dit dus tot niks. Dit is 'n gejaag na wind."

Alles 'n gejaag na wind. Net té besig! Nou ja, ek het nie antwoorde nie! Ek kan maar net vir jou sê wat jy mis as hierdie rotresies die oorhand van jou kry!

Ons het almal maar te min tyd, maar wat waar is, is dat "Ek is sooooo besig", 'n statussimbool geword het. Ons het almal 24 ure per dag, sewe dae per week, 52 weke in 'n jaar. Gebruik van daardie tyd om bietjie by iemand stil te staan.

Matt 25 : 34b - 40 " Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, 35 want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36 Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek." 37 Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: "Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38 En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? 39 Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?" 40 En die Koning sal hulle antwoord: "Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen."

Dit lyk tog of dit Jesus se bedoeling was dat ons 'n verantwoordelikheid teenoor ander (die geringstes - die armes - siekes - hongeres) het, en dit neem tyd. Besig wees, so met my eie goed, is selfsugtig. Hoe gereeld maak ons nie beloftes teenoor ander nie, net om dit nie na te kom nie.

Is daar iemand wat jy weet jy 'n kuier, of 'n welwillendheidsbesoek skuld? Dalk jou eie ouers, of jou kinders? Miskien was jy ook al in die situasie waar jy hoor iemand is oorlede, en dan voel jy soos 'n hond, want jy wou nog …… En dan spog ons so half op troues en begrafnisse, dat dit al tyd is wanneer ons bymekaar kom.

Ek en jy kan niemand bedien as ons nie tyd daaraan spandeer nie.

Dikwels koop ons verantwoordelikhede teenoor ons kinders af met geld, maar dit werk nie met ander nie. En so, stadig maar seker, sterf vriendskappe, en verhoudinge. Ook teenoor ons kinders en ons huweliksmaats. Ek en vroulief, werk saam. Jare al. Iemand vra eendag:  "Hoe kry julle dit reg? Ek en my vroulief sal mekaar vermoor" Ek antwoord toe: "Dis snaaks! Hoe kan jy saam met 'n ander man se vrou werk, maar nie jou eie nie?" Ons het nie meer tyd vir mekaar nie, want ons maak nie meer tyd nie. Hoe kan ons tyd maak? Deur ons prioriteite reg te stel.

Ons oordrewe besig wees bring mee dat ons verhouding met God skipbreuk ly. Is daar nog tyd om net te gaan stil raak? Hoe sal ons God se stem hoor as ons nooit stilraak nie? Ons sê so maklik ons vra God se wil vir alles in ons lewens, maar dis nie waar nie! Eintlik stuur ons sulke sarsies gebede op om vir God in te lig oor wat Sy wil vir ons moet wees. Dan kry die Heilige Gees nie tyd om met ons te praat nie. Of ons hoor wat ons wil. Of ons hoor niks.

Luk 10 : 38 - 42 " Op hulle reis het Jesus in 'n dorp gekom waar 'n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. 39 Sy het 'n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. 40 Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!"

Tipiese voorbeeld. Jesus kom kuier by Marta en Maria. Dalk wil Jesus vroegoggend by jou kom kuier. Daar in jou binnekamer. Dalk het Hy iets op die hart. Dalk het Hy so bietjie goeie nuus vir jou, of 'n nuwe rigting vir jou lewe. Miskien wil Hy jou kom help om 'n besluit te neem. Hy wil dit dalk self vir jou sê. Dan sê ons nee, God praat nie met my nie, en ons gaan soek 'n profeet wat vir ons kan sê wat God sê.

God se ritme is nie net werk nie. Daar moet tyd wees vir Hom, jou gesin, jou kinders een-een, lewensmaat - alleen soms. Vir vriende, ontspanning, genoeg slaap, kwantiteit tyd. Glo jy aan kwaliteit tyd? Shame. Hoe sal dit vir jou wees om na ’n restaurant te gaan en ’n stukkie steak so groot soos ’n vuurhoutjie box te kry. As jy kla dat dit darem maar min is, sê hulle vir jou maar dis uitstekende kwaliteit vleis, daar is nêrens anders vleis van sulke gehalte nie. Hoe sal jy versadig kom? Sal die gehalte jou versadig maak, of eerder ’n groter stukkie vleis? Jou kinders en geliefdes sal nooit versadig kom aan 'n stukkie afskeep tyd nie.

Om weer sinvol te bestaan in vandag se tye, gaan beteken dat jy die beheer oor jou tyd moet terugvat. Hou op om "ek is besig" as 'n verskoning te gebruik! Of as 'n statussimbool, dit beïndruk in elk geval niemand nie. Spog liewer oor dit wat jy bereik het in 24 uur per dag, wat tot voordeel van ander ook is.

Raak weer bekend aan jou kinders. Kinders noem jou dalk naderhand "oom Pa"! Los die werk bietjie by die werk. Jy word in elk geval nie betaal vir die oortyd nie. Pak minder goed aan. Neem weer bietjie voorraad, besluit om 'n paar goed uit te sif. Spreekwoord sê mos "ek sukkel om al die balle in die lug te hou". Wel, laat val van die goed en kry weer jou lewe terug.


 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)