| Lewensuitkyk
              – 4 November 2009 
              
               31
              Oktober tot 1 November, een van die mees onbeskryflike naweke
              ooit! Rippel 90.5 se eerste kamp vir mense met gestremdhede, gehou
              by Deo Volente Bush Adventures buitekant Pretoria. 'n Naweek wat
              in ons gedagtes sal bly vir die res van ons lewens. (lees
              meer oor die kamp en kyk na die foto's >>)
              Saam met die mees kosbare mense denkbaar, wat meer liefde in
              een naweek kon uitstort as wat ek in een leeftyd kan uitstort. Die
              term “gestremdes” klink eintlik so negatief, omdat dit mense
              in 'n spesifieke boksie inprop, maar ek het gesien dat daar
              lewenskwalitiet in hierdie groepie bestaan wat in ander boksies
              nogals afwesig is. Die  boksie
              waar ek my bevind is so ‘n gemaklike, maar dikwels
              onvergenoegde, ontevrede boksie. 
              
               Jitte,
              maar mens kan baie leer by mense met hierdie tipe uitdagings! Ek
              leer dinge wat my klein, ontoereikend en sommer nutteloos laat
              voel. Ek het by hierdie mense blydskap, vreugde, vrede en
              dankbaarheid gesien wat ek nie kan droom om te hê nie. 
              
               Fil 4:1-9Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die
              Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my
              blydskap en my kroon. Ek
              vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees
              in die Here. Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie
              vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens
              van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers,
              wie se name in die boek van die lewe staan. Wees altyd bly in die
              Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die
              Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles
              julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God
              bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal
              oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Verder,
              broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is,
              alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is
              - watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees - daarop moet
              julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang
              het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat
              vrede gee, sal by julle wees.
 DIT leer
              ek toe hierdie naweek by hierdie ongelooflike groep mense wat op
              die kamp was. Hulle is oorvloedig bly, hulle gee oorvloedig
              liefde. Na vele gedink, kry ek die antwoord in die engelse woord
              “attitude” – lewenshouding. Hierdie ding waarmee ek so
              sukkel hier in my kwansuis “volmaakte” liggaam, waar al die
              dele “werk”, waar gesondheid en vermoëns steeds nie genoeg is
              nie. Hierdie houding waarmee ek die Here soms wil aanvat en vra:
              “Here, wanneer gaan U my seën?” Wil ek dan NOG hê? Waarmee
              sal ek dan tevrede wees? Wanneer gaan ek in die spieël kyk en sê: 
              “Dankie”. Wat moet die Here van my wegneem sodat ek kan
              besef wat ek het? Ai, patetiese mens, ekke! Sukkel jy miskien ook
              hiermee? 
              
               Ek het
              die afgelope naweek by hierdie gestremde mense moed gesien …
              “guts”, ‘n onblusbare gees, ‘n uithouvermoë, ‘n geniet
              van die lewe ten spyte van uitdagings. Ek het ‘n epos van iemand
              gekry wat gaan oor lewenshouding – dis hierdie dinge wat die
              gestremde mense regkry, en ek nie: 
              
               1)     
              Ek kan alles doen, maar nie gelyktydig nie. Jy sien, ons
              het net nie genoeg geduld nie. Alles moet kits gebeur. 2)     
              Ek kan alles doen, as dit net belangrik genoeg is. Johnny
              loop bitter swaar met ‘n loopraam. Maar hy stap ver net om vir
              my ietsie te kom sê … want dit is vir hom belangrik. 3)     
              Ek kan alles doen, al is ek nie die beste daarmee nie. Wel,
              toe Dusty en Karen  (albei met 
              Downs sindroom) en Louis begin dans , toe besef ek dat ek
              dit nie sò kan doen nie. 4)     
              Ek kan alles doen, maar daar mag beperkinge wees. Jy sien,
              ek wil so graag hê daar moet nooit struikelblokke wees nie, alles
              moet net vlot loop – ek wil nie sukkel nie. En as alles dan nie
              so lekker vlot verloop nie, dan wonder ons of die Here sy seën
              van ons onttrek het. Ek het hierdie naweek mense gesien wat ‘n
              berg sal uitklim met krukke en ‘n rolstoel, en ek is te lui om
              300m winkel toe te stap. 5)     
              Ek kan alles doen, maar ek mag dalk ‘n bietjie hulp nodig
              hê. Ons vra nie graag hulp nie, of hoe? Ons los mos partykeer
              eerder ‘n ding as om in iemand anders se oë te kyk vir ‘n
              bietjie hulp. Hierdie gestremde persone moet hulp vra vir basiese
              dinge… 
              
               Ek het
              besef mens kan baie leer by mense met fisiese uitdagings. So het
              ek die naweek : 
              
               1)     
              geleer dat mense met gesigsgsetremdheid kan werk, en
              dankbaar is daarvoor – dit terwyl baie van ons ons werk haat.
              Dian, Paulie en Leander is blind, maar het alles gedoen wat die
              ander gedoen het. 2)     
              gesien dat mense met Downs liefde kan uitdeel soos niemand
              anders nie. Karen, Dusty, Sonja en Rovan het soveel
              onvoorwaardelike liefde uitgestraal! 3)     
              Anemari en Quintus is in rolstolle, maar hulle het ‘n
              onblusbare gees, en kla nooit 
              - nie eenkeer nie! Ek, daarenteen, word so gou moeg, ek kla
              as ek ‘n entjie moet stap. Eddie, Rudolph en Wayne, asook Johnny
              en Ian het so ‘n paar fisiese uitdagings, maar doen meer as baie
              mense wat geen verskonings het nie. Hulle verkry resultate omdat
              hulle WIL; hulle sê nooit “ek kan nie”. Adelle het
              “Houtkruis” vir ons gemimiek dat dit trane in almal se oë
              gebring het. Sy dien die Here met elke stukkie talent in haar. Hoe
              vorder ek en jy? 
              
               Kom ek
              vra vir my en jou ‘n paar vrae: 
              
               1)     
              Weet jy joe werk geloof? Jy moet ophou om jou intellek in
              die pad te laat staan. Die Here sê: “wees soos ‘n kind”,
              maar ons wil ons Christenskap en geloof so gekompliseerd maak.
              Nee, glo net die Here! 2)     
              Wil jy weet hoe werk dankbaarheid? Verloor so bietjie iets
              wat vir jou kosbaar en belangrik is. Dan sal jy dalk dankbaar wees
              vir wat jy gehad het. So dink bietjie oor alles wat reg is en reg
              werk. Wees bly as jy kan stap en sien. 3)     
              Dink jy dis moontlik om weer ‘n “onblusbare gees” te
              kan hê? Ek dink so, maar dan moet ons ons pretensies en eiewaan,
              ons ondankbaarhied en tonnelvisie laat staan. 4)     
              Blameer jy ook, soos ek, soms die Here as dinge bietjie
              skeefloop? Ek het hierdie naweek mense gesien wat dit nie sal waag
              nie, want hulle tel hulle seëninge. Hulle is dankbaar vir elke
              klein dingetjie; hulle fokus op wat hulle kan, en nie op wat hulle
              nie kan nie. 5)     
              Wil jy weet van diensbaarheid? Gaan kyk hoe hierdie mense
              met fisiese uitdagings mekaar help. Hulle doen dit sonder om iets
              terug te verwag. Dit maak my skaam. 6)     
              Is jou kinders gesond? Sonder enige gebreke? Ek het gesien
              hoe hierdie ouers liefde, aanvaarding en ondersteuning in hulle
              kinders instort. Die meeste van hulle is enkelouers. Bemors jou
              kind sy kamer? Is hy soms opstandig? Nie goed genoeg vir jou nie?
              Doen jy moeite vir hulle? Woon jy hulle aktiwiteite by – of is
              dit te veel moeite? 
              
               Kom ons
              kry bietjie ons “attitude” reg – dis nooit te laat nie. 
             |