|
|
Daaglikse Heuningdruppels 2019
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
 |
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
Lees gerus
enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder ..... |
|
Dis Kersfees…
‘n Heerlike tyd vir sommige, ‘n reuse aanstoot vir ander, ‘n tyd vir
lekker saamkuier met familie, ‘n uiters hartseer tyd as ‘n geliefde
gedurende die jaar afgesterf het, ‘n tyd van rus vir party, ‘n tyd
van aaklige eensaamheid vir diegene sonder vriende en familie, ‘n
tyd van verlange na mense wat vêr weg is en dalk die land verlaat
het, ‘n tyd van dink en reflekteer oor die geboorte van ons Skepper.
Die winkels floreer en die meeste kerke is vol op Kersdag. En daai
kos!!!
Christene voel verskillend oor Kersfees, party vier werklik die
Skepper se geboorte, ander voel dis ‘n heidense feestyd en beskuldig
ander Christene dat hulle buig voor ‘n boom op soek na ‘n God, aldus
Jer. 10:3, lees dit gerus.
Ek respekteer ander wat uit geloofsoortuiging dit nie vier nie, maar
ek verwag ook dat my keuse om dit te vier gerespekteer word.
Kersfees is vir ons as familie ‘n spesiale tyd en ek is oneindig
dankbaar dat my kinders dit saam met ons vier. En ja ons deel
geskenkies uit en ons raak opgewonde soos kinders, maar ons buig nie
voor die kersboom nie, ons het reeds ons Skepper gevind. Tot die dag
van my dood sal Kersfees spesiaal bly, en ek vrees die dag dat ons
nie meer voltallig is om daardie kos tafel nie.
Ek en Wilna wens vir jou en jou gesin ‘n baie geseënde Christus-fees
toe, wat jy ook al van Kersfees maak. Ons sluit hiermee ons
boodskappies af vir hierdie jaar en hervat dit weer op 13 Januarie.
Baie dankie vir jou saamkuier elke dag, dis baie vervullend vir ons
om tyd saam met jou deur te bring op hierdie groep, asook op ons
webblad.
Jesus is vir ons gebore en Hy het vir ons gesterf, dis nogal ‘n
feesviering werd. Geniet hierdie tyd. ~ Willem Botha, 19/12/2019 |
|
Die Heiland is gebore ... In hierdie
Kersfeestyd vier ons weer met opgewonde harte saam met die herders
en die wyses en die blye engel-kore die koms van ons Heiland. Ons
Redder. Ons Verlosser. Ons Middelaar. Ons Steun. Kyk vir ’n oomblik
verby die geskenke, die boom, die liggies, die spyskaart en die
gastelys na wie Jesus is: jou Heiland. “Ek, Ek is die Here, en daar
is geen Heiland buiten My nie.” (Jes. 43:11) Hy het gekom om ons
almal van ons sonde te verlos, om alles wat ons vasbind en terughou
los te sny, om ons uit die donker te red en vir ons vrede te gee wat
alle verstand te bowe gaan. Hy het gekom sodat ons God se kinders
kan word. Hy het gekom sodat God naby en in ons kan wees. Hy het
gekom sodat ons bly kan wees en fees kan vier. Ja, God het die
wêreld so lief dat Hy sy Seun gestuur het. Glo jy ook dat Hy jóú so
lief het dat Hy sy Seun vir jou persoonlik gestuur het? Glo jy dat
Jesus gebore sou word as jóú Heiland, selfs al was jy die enigste
mens op aarde? Jou Heiland is gebore. Vier dit. Sing daaroor. Vertel
dit wêreldwyd. ~ Wilna Botha, 17/12/2019 |
|
Boereverneukers
Kyk, hulle is volop, hulle is orals, jy kry hulle in die kerk, by
die werk, jy kry hulle in elke beroep denkbaar. Nou vergewe my groot
asseblief as ek nou so bietjie tong in die kies ‘n paar hiervan noem.
Jy hoor goed soos: Jou geld gaan bo verwagting groei as ék dit vir
jou hanteer, jy is definitief onskuldig (blykbaar tot jou geld op
is), hierdie kar het aan ‘n ou tannie behoort (en sy het boonop
snags die deure oop gelos om die rubbers te beskerm), dit gaan nie
seer wees nie (daar is hoeka ‘n spreekwoord oor die tannetrekker),
jy moet NOU koop, tien ander ouens stel belang, hierdie woonbuurt is
snags doodstil (en jy hoor glad nie die snelweg hier langsaan nie),
jou kar het definitief ‘n nuwe wishbone nodig (maar die oue lyk
perfek vir jou, wat dit ook al mag wees), stem vir ons, ons waarborg
werk vir almal (en krag en water en ‘n huis en en en… dalk sommer ‘n
kar ook), as ons nie NOU opereer nie is ‘n hartaanval jou voorland.
Ai, ja daar is baie stories, in my beroep ook.
Nou kyk, hierdie goed is volop, maar ‘n propperse boereverneuker is
‘n ander ou (of vrou), hulle sal in die ou oom se oë kyk en hom uit
al sy pensioengeld belieg en bedrieg. Harteloos, skelm, swerkater,
swendelaar, swierbol, daar is baie name. Ongelooflike
oorredingsvermoë en kom dikwels weg met moord. Seepglad! Jy het
seker ook al deurgeloop (hoop nie jy is ook een nie !). Toe iemand
eendag vir so ‘n skelm vra hoe op aarde hy in die nag slaap was sy
antwoord: Maklik, bietjie op hierdie sy, bietjie op daardie sy. Kyk
nou net hoe waar is hierdie woorde:-
Spr. 6:12-15 “Dit is 'n nikswerd mens, 'n mens vol onreg, wat altyd
reg is om te lieg, om te bedrieg deur met die oog te knik, met die
voet te beduie, met die vingers tekens te gee, wat altyd met 'n
skelmstreek kom en voortdurend op kwaad uit is. Hy maak moeilikheid
waar hy gaan. So 'n mens se ondergang kom skielik; hy stort ineen,
en daar is nie herstel nie.”
Ek het al vele sien val, en na jare met bediening in die gevangenis
het ons agtergekom die skelms loop blykbaar salig buite rond en die
engeltjies is binne. Slagoffers jy weet? Ek ken ook een of twee wat
vir so ‘n klompie jare in Vyfster kuier (onthou jy die TV reeks?).
Nee kyk, dit deug nie, loop die pad reguit en wees eerlik, so maklik
soos dit. Dis wat die Here wil hê, en dan slaap jy regtig lekker. ~
Willem Botha, 12/12/2019 |
|
“The Lord is my portion” is ’n uitdrukking wat
mens ’n paar keer in Engelse vertalings van die Bybel lees. Bv.:
“My flesh and my heart may fail, but God is the strength of my heart
and my portion forever.” (Ps. 73:26) en “The Lord is my portion,
said my soul; therefore will I hope in Him.” (Klaagl. 3:24) As die
Here my “porsie” is, dan verwys dit na alles wat Hy vir my is, alles
wat ek van Hom ontvang, alles wat Hy vir my persoonlik afgemeet en
uitgetel het. Ek is ’n deel van Hom, ek het ’n aandeel aan Sy
Koninkryk. As kind van God ontvang jy Hom volledig – alles van Hom,
alles wat Hy is, al Sy eienskappe, al Sy krag, al Sy liefde, al Sy
vrede is jou porsie om te geniet en te gebruik. God se liefde,
genade, versorging en beskerming is ’n groot genoeg porsie om al my
behoeftes, probleme, swaarkry, verliese en vrese te balanseer. As
ons sê: The Lord is my portion, dan beteken dit dat ons niks begeer
of verlang of benodig wat Hy nie reeds vir ons gee nie. As ons sê:
The Lord is my portion, dan beteken dit Hy is die oorsprong van al
my blydskap, geluk en seëninge. As ons sê: The Lord is my portion,
dan sê ons dat ons tevrede is met wat ons uit Sy hand ontvang en dat
dit genoeg is. “’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek
ontvang het, is vir my mooi.” (Ps. 16:6) ~ Wilna Botha, 10/12/2019 |
|
Baie jare gelede het my oorlede ouma haar toon
baie seer gestamp en dit het geweldig gepyn. Sy het bedags haar
agterkleinkind opgepas, en dan as die toon so vreeslik seer is,
masseer sy die toon deur hom op en af te buig. Dan huil sy van die
pyn, en die dogtertjie huil kliphard saam. My ma het eendag haar
voet neergesit en aangedring dat sy my ouma dokter toe neem. Nadat
die dokter die toon bevoel en bekyk het, was sy bevinding eenvoudig.
Tannie, jou toon is gebreek, en sodra die toon wil aangroei, breek
jy hom weer met die gebuigery. Nodeloos om te sê was die toon vinnig
reg en pynloos.
Ek sien hoe mense hierdie selfde goed aan hulleself doen met
bitterheid wat gekoester en vertroetel word. Mense gaan deur die pyn
en vernedering van egskeiding of ander hartseer situasies, en beweeg
net nie weer vorentoe nie. As mens vir ewig die hartseer stories
deel met ander, kan genesing net eenvoudig nie plaasvind nie. Elke
keer wat die stories gedeel word, word daai toon weer gebreek. Dit
alles net deur die persoon self wat reeds soveel seer beleef. Die
aanhoorders wil gewoonlik in elk geval nie die verhale hoor nie,
want dan moet hulle kant kies, en daar word dan verwag dat hulle die
“skuldige” party moet veroordeel.
Bitterheid is dodelik vir elke enkele party. Dis nie die moeite werd
nie.
Heb. 12:15 “Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word
nie. Sorg dat daar nie verbittering soos 'n wortel uitspruit,
moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. ~ Willem Botha,
10/12/2019 |
|
In Ps. 27 lees mens van ’n paar van Dawid se
probleme en vrese, van teëstanders, misdadigers en vyande se
aanvalle, van vals getuies en geweld teen hom, van onsekerheid wat
hy beleef, maar tog begin hy die Psalm met ’n belydenis en erkenning
van wie die Here is. Hy vertel eers wie die Here vir hom persoonlik
is voordat hy na sy probleme kyk. Hy fokus eers op wie God is en kyk
nie déúr sy probleme en vrese na die Here nie. “Die Here is my lig
en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir
wie sou ek vrees?” (vers 1) Sien, die belydenis dat God jou redder,
jou lig, jou toevlug is, laat die vrees en die angs verdwyn. As jy
fokus op dit waarvoor jy bang is en wat jy vrees, oorweldig daai
angs en benoudheid jou vinnig. As daar egter Lig is in die donker
put waarin jy dalk mag wees, as daar Iemand staan met uitgestrekte
arms wat jou uitnooi en naderroep en ophelp, as daar ’n veilige
Skuilplek is om na te vlug en in weg te kruip, dan verdwyn die
onsekerheid en vrees, dan krimp die probleme, dan verslap die houvas
van jou “teëstanders”, dan kry jy weer nuwe perspektief. Elders in
die Psalms sê dit mos ook: Met U hulp loop ek ’n oormag storm en met
my God spring ek oor ’n muur. Kyk vandag eers na wie die Here is,
voordat jy na jou probleme of jou swaarkry of jou behoeftes kyk –
kyk en sien en glo dat Hy die lig, die redder en jou toevlug is.
“Dis net my geloof in die Here wat my staande hou, Sy goedheid dra
my elke dag van my lewe. Stel al jou hoop op die Here! Hou moed!
Moenie die tou opgooi nie; bly glo in die Here!” (Ps. 27:13-14, Die
Boodskap) ~ Wilna Botha, 05/12/2019 |
|
Ek het in my lewe al baie oor genade gedink en
geskryf, ook oor die Here se versorging en oor dankbaarheid. Ek dink
as ek myself op ‘n eiland sou bevind en ek het baie tyd, sou ek dalk
‘n boek of twee oor elk van hierdie onderwerpe kon skryf. Dit sou
natuurlik wees soos wat ek dit verstaan, en dalk sou dit selfs sin
maak op ‘n manier. As jy gereeld KykNET kyk, het jy dalk al die
gewoon/ongewoon-insetsels gesien. Daar is een van ’n kleurlingman,
wat blykbaar meer as ‘n honderd jaar oud is. Hy het dit duidelik nie
breed nie en sit in ’n eenvoudige huisie. Hy praat met die kamera en
in dertig sekondes sê hy meer oor genade en dankbaarheid as wat ek
in baie boeke sou kon opskryf. Hy het geen teologiese opleiding nie,
hy is dalk selfs ongeletterd, maar hy sê in dertig sekondes meer as
wat baie mense in baie preke al oor hierdie sake gesê het. Honderd
jaar se ondervind, saamgevat in dertig sekondes. Hy sê: “Nou, my
plig, soos ek hier sit, is net om vir die Baas, die Koning, te sê
“dankie God”. Hy gee elke dag vir my iets. Ek kan Hom nie betaal nie,
Hy wil niks hê nie, net daai ‘Dankie’”. ~ Willem Botha,
04/12/2019 |
|
Ons lees in Matt. 16:13 dat Jesus vir sy
dissipels vra: “Wat sê die mense oor My, die Seun van die mens?”
Party sê Hy is Johannes, ander sê Elia of Jeremia of een van die
ander profete. Niemand het raakgesien dat dit Jesus is nie. Hy was
daar by hulle. Hulle het Hom hoor preek, hulle het Hom sien
wonderwerke doen en tog het die mense nie besef dat Hy die Seun van
God is nie. Dan vra Jesus vir sy dissipels: “En wat sê julle van
My? Wie is Ek volgens julle?” (Matt. 16:15) Voordat ons Petrus se
antwoord lees, dink ’n bietjie wat jóú antwoord sou wees. Wie is Hy
volgens jou? Sommer ook net een van die profete? Sommer net ’n
geskiedenis figuur? Sommer net iemand wat lank gelede geleef het en
goeie dade gedoen het? Sommer net ’n fiktiewe karakter uit ’n
storieboek? Dalk iemand wat jy nie nodig het nie? Iemand wat jy
liefs uit jou gedagtes en hart wil verban? Iemand sonder wie jy kan
klaarkom? Of... kan jy ook sonder huiwering, soos Petrus sê: “U is
die Christus, die Redder wat deur God na ons gestuur is. U is die
Seun van die lewende God.” (Matt. 16:16) Om so ’n belydenis te maak,
sê Jesus vir Petrus, is nie iets wat hy by iemand anders gehoor het
nie, dis iets wat God sélf aan hom geopenbaar het, dis iets wat hy
sélf ervaar het. Sonder so ’n Goddelike openbaring sal Jesus vir
mense net ’n profeet of iemand uit die verlede wees. Maar wanneer
God jou oë oopmaak sal jy wéét wie Jesus is, sal jy Hom persoonlik
ken, sal Hy die Koning van jou hart word. Kyk vandag eers na wie
Jesus is, voordat jy na jou probleme of jou swaarkry of jou
behoeftes kyk – kyk en sien en glo dat Hy die Seun van God is. ~
Wilna Botha, 03/12/2019 |
|
Ek het al so baie gehoor dat mense sê dat hulle
wag om te hoor wat die Here se plan is vir hulle lewens. So asof
daar iets groot en belangrik is wat die Here een of ander tyd gaan
openbaar en dan gaan hulle in beweging kom. Dit klink dan altyd vir
my of dit iets groot, buitengewoon en baie spesiaal gaan wees wat
die Here in gedagte het. Ja, natuurlik is daar ook sulke goed, maar
ek het ook al gesien dat mense nie die klein en nietige dingetjies
wil doen nie, want hulle wag nog vir die groot goed. Hoe weet ek dan
wat die Here se “plan” is, en hoe soek ek dit? En wat gaan gebeur as
die Here jou na een of ander vreeslike land toe wil stuur om daar
iets groot te gaan doen? Dalk wegvlug van die Here af soos Jona, wat
nie God se plan wou gaan uitvoer nie?
Ek dink ons verstaan dalk die gedagte van God se plan verkeerd, want
dalk is Sy plan om klein dingetjies hier reg onder jou neus te doen.
My mening is dat daar meer “common sense” in hierdie goed is as wat
ons dink. Kyk om jou, en jy gaan die Here se plan meer duidelik sien
as wat jy ooit kon dink.
Ek glo dat dít wat die Here van ons verwag altyd binne jou gawes en
talente is. Voorts is dit alles (soos altyd) eenvoudig in die Bybel
opgesluit. Let wel, nie toegesluit nie.
Probeer die volgende met die Bybel. Ek gaan nou vir jou ‘n kort
stukkie gee om te lees, en al wat jy doen, is om dit te lees, dalk
so twee keer, en dan vra jy vir die Here die volgende vraag:-
”Here, wat wil U vandag, vir my, net vir my, sê uit hierdie gedeelte?
“ Net dit.
Daardie gedagtes, persone, situasies en opdrag wat in jou kop gaan
opkom, is God se plan vir jou lewe. Vir vandag. Lees dit en oordink
dit. En doen van nou af elke keer so as jy in jou Bybel lees.
Matt. 25:35-40 “… want Ek was honger, en julle het My iets gegee om
te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was
'n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en
julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die
tronk, en julle het My besoek. Dan sal dié wat die wil van God
gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U
gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? En wanneer het ons U 'n
vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere
gegee? Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’
En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover
julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen
het, het julle dit aan My gedoen.’ ~ Willem Botha, 02/12/2019 |
|
Stilte
Stilte is soms lekker, maar as dit té stil raak in ‘n verhouding en
niemand het meer iets om vir mekaar te sê nie, is dit aaklig. Dink
jou in, jy kom van die werk af, stap by die huis in, loop verby jou
lewensmaat en groet net beleefd, maar nie ‘n woord word verder
gepraat nie. Niks, doodse stilte, stilte wat eintlik raas, niemand
om die dag se gebeure mee te deel nie, niemand om jou opgewondenheid
of jou vrese en swaarkry mee te deel nie, en niemand om jou
klankbord te wees nie. Net donker, doodse stilte. Kan dit nog
enigsins ‘n verhouding genoem word? Nee, gewis nie!
So is dit as ons nie bid nie. Jy staan in ‘n verhouding met God,
maar jy praat nie met Hom nie, deel niks, vra niks, klets glad nie
en leef net in stilte met Hom saam. Dis dan wanneer ons dink ons
hoor nie God se stem nie, want Hy praat, maar ons verkeer in ‘n
staat van stilstuipe. Doodse, donker stilte. Jy sien, HY weet alles
wat in jou lewe aangaan, al vertel jy Hom niks, maar jy weet nie wat
Sy gedagtes vir jou is nie. ‘n Gesprek is ‘n tweerigting ding.
Anders is dit soos om vir jou huweliksmaat dinge te vertel terwyl hy/sy
slaap. Jy kan net sowel stilbly.
Praat met God, altyd, aanhoudend, klets sonder ophou, Hy verlustig
Hom in jou, en luister as Hy ook praat. Ek dink dis SO lekker vir
Hom. Doen dit gereeld, sonder ophou.
1Tess. 5:17 “Bid gedurig”.
Net twee woorde in daardie teks, “bid gedurig”. Ongelooflik dat net
twee woorde so baie kan sê! Breek daai stilte, en geniet die gesprek.
~ Willem Botha, 29/11/2019 |
|
“Ons Vader wat in die hemel is ...” Daar is ’n
rede waarom Jesus sy dissipels en vir ons in Matt. 6:9 leer om ons
gebed te begin met “ons Vader...”. Dit is sodat ons eers moet fokus
en ons hart en ons verwagting instel op wie God is, op die Een met
wie ons gaan praat, op die Een van wie ons ons hulp en ons daaglikse
brood gaan vra, van wie ons vergifnis gaan smeek en van wie ons
beskerming en krag gaan vra. As ons bid: ons Vader, dan erken en
bely ons dat ons sy kinders is, dat ons afhanklik van Hom is. Dan
erken en bely ons dat Hy die een is wat vir ons sorg, dat Hy die een
is wat net die beste vir sy kinders wil hê, dat Hy die een is wat
vir ons lief is en met oop arms vol genade en seëninge op ons wag.
Luk. 11:11 praat daarvan dat ’n pa nie vir sy kind ’n slang sal gee
as hy ’n vis vra, of ’n skerpioen sal gee as hy ’n eier vra nie. “As
julle klomp slegte mense net goeie dinge vir julle eie kinders gee,
hoeveel te meer sal julle hemelse Vader dit dan nie doen nie?” (Luk.
11:13) “Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die
Here Hom oor dié wat Hom dien.” (Ps. 103:13) Kyk eers na wie God is,
voordat jy na jou probleme of jou swaarkry of jou behoeftes kyk –
kyk en sien en glo dat Hy die volmaakte Vader is. Ek is ... jou
Vader wat in die hemel is. ~ Wilna Botha, 27/11/2019 |
|
Bliss
In Afrikaans beteken hierdie woord “perfect happiness” en ook “great
joy “. Dis wanneer jou omstandighede nie bepaal hoe gelukkig jy is
nie, en jy kan glimlag ten spyte van…
Ten spyte van moeilikheid, swaarkry, teenspoed en armoede. Ek dink
die Here wil hê ons moet in “bliss” lewe, maar ongelukkig het ons te
veel voorwaardes. Ons sal gelukkig wees as dit en dat alles in plek
is. Dit en dat gaan gewoonlik met die materiële gepaard.
Wel, ek dink ek het hierdie afgelope naweek so bietjie van “pure
bliss” gesien, oftewel, dis hoe ek dit waargeneem het. Ons was aan
die kus vir die naweek en ek het ’n klomp ongelooflike mooi
eiendomme daar gesien. Pragtige strandhuise met mense wat daar bly
wat werklik geseënd en voorspoedig lyk. Ek het ook ‘n paar keer
verby ‘n Ford Mustang 5L GT gery (wiele wat ek BEGEER). O jitte, en
dan was daar daai wit plat Mercedes! Voorts het ek gesien hoe mense
daar vakansie hou, wat – as ek na die berge kos kyk wat hulle op die
strand uitpak en verorber – geensins tekort het nie. Kan nogal na
“pure bliss” lyk.
Maar nee, die plek waar ek dit gesien het was op ‘n heel ander vlak.
Terwyl ons stap kom ons op ‘n klompie hawelose mense af, seker so 5
van hulle, waar hulle onder ‘n boom sit en kuier, met hulle karige
besittings by hulle. Hulle het ‘n hond uit ‘n bos gekuier. Wat vir
my egter SO kosbaar was, is dat hulle vier honde by hulle gehad het,
een groterige hond en drie kleineres, en daardie honde is uitstekend
versorg! Terwyl hulle so sit en kuier, kom daar nog ‘n paar van
hulle vriende by, en TOE kuier hulle! Ek glo hulle deel alles wat
hulle daagliks bymekaar maak met mekaar, hoe min dit ook al mag wees.
En dit lyk my hulle voer eers die honde en dan hulleself. Dalk is
hulle baie gelukkiger as die mense met die baie besittings. Kyk nou
net hoe eienaardig is die mensdom, ek begeer hulle “bliss”, maar sal
eers werklik gelukkig wees as ek daai Mustang saam met dit kan hê.
Lyk my ek moet maar kies. Nou kies ek maar my eie lewe, ek moet net
my eie “bliss” leer raaksien.
Heb. 13:5 Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met
wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou
nooit in die steek laat nie.” ~ Willem Botha, 26/11/2019 |
|
Weggaan
is maklik, jy loop net. Mense loop in ‘n oogwink uit hulle huwelike
uit as dit sleg gaan, loop uit vriendskappe uit as daar ‘n effe stry
kom, loop uit die land uit, los hulle werk oor onmin en loop sommer
van die Here af weg. Sommer net so. Bly is moeiliker, omdat dit soms
meer vra, dalk geduld, of verstaan of dalk net om weer diep te delf
en diep te dink oor die sin daarin om te bly. Of nog meer, dit vra
dat ons soms moet werk aan dinge wat nodig is.
Ek en my gesin bly by die Here, want na baie jare in hierdie lewe
sien ek net te veel die waarde daarin om ‘n pad saam met Hom te stap.
Maar ek kan jou een ding sê, as dit alles afgehang het van verstaan,
was ek lankal weg. Ek verstaan baie dinge nie, ek verstaan die
inhoud van die Bybel nie altyd nie en ek verstaan ook dikwels nie
dít wat die Here doen of toelaat nie. Baie dinge maak nie sin nie.
Maar na baie dink, baie redeneer en baie vrae weet ek vir seker,
daar is meer dinge wat sin maak as dinge wat nie sin maak nie, ek
staan meer in verwondering oor Sy werke as wat ek dinge nie kan
kleinkry nie, en Hy openbaar Homself meer aan my as wat Hy stil raak.
Voorts sien ek elke liewe dag hoe die Bybel reg bewys word in
daaglikse goed wat rondom my gebeur.
Dit lyk my hierdie keuse werp baie vrugte af, goeie vrugte, en die
dae wat ek dinge nie verstaan nie, kan ek maar net op Hom vertrou,
HY weet die beste, en ek berus gemaklik daarby. ~ Willem Botha,
21/11/2019 |
|
In Eks 3:13 lees ons dat Moses by die brandende
doringbos vir God vra wat hy vir die Israeliete moet sê as hulle vra
wie hom gestuur het. Hy wou weet: Sê nou maar hulle vra: “Wat is sy
Naam?”, wat moet ek dan vir hulle sê? “Ek is wat Ek is. Jy moet vir
die Israeliete sê ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” (Ek 3:14)
“Ek is”. Dis vir ewig God se Naam. As ek dit lees, sit ek altyd in
my gedagtes ’n paar kolletjies agteraan: “Ek is ...” Want nou kan
mens mos enige iets daar invul. Jy mag, want dis wie God is – alles
waaraan jy kan dink. Jy mag, want dis wie God is – alles wat jy
nodig het. Hy is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste,
die Begin en die Einde (Openb. 22:13) Hy is alles. Hy het alles. Hy
gee alles. Het jy vandag raad nodig? Ek is ... ’n Raadgewer. Het jy
vandag beskerming nodig? Ek is ... ’n veilige Skuilplek. Het jy
vandag hulp nodig? Ek is ... jou Helper. Het jy vandag redding nodig?
Ek is ... die Redder. Is jy vandag op ’n donker plek? Ek is ... die
Lig. Het jy vandag genesing nodig? Ek is ... die Geneesheer. Het jy
vandag troos nodig? Ek is ... die Trooster. Het jy vandag krag nodig?
Ek is ... Sterke God. Het jy vandag versorging nodig? Ek is ... jou
Vader. Het jy vandag leiding nodig? Ek is ... jou Herder. Het jy
vandag ’n wonderwerk nodig? Ek is ... die Bewerker van wonderdade.
In watter omstandighede jy jou ook al bevind – kyk eers na wié God
ís, voordat jy na jou probleme of tekortkominge kyk. “Ek is wat Ek
is” – dís ons God! ~ Wilna Botha, 20/11/2019 |
|
Gee daai
broek!
O koek, vandag soek ek moeilikheid, ek weet dit sommer! Dis nou as
ek praat oor die man as hoof van die huis.
Randall Wicomb het gesing van die wit broek: "Die wit broek sit nie
mooi nie, want die wit broek het nie 'n plooi nie, die wit broek sit
nie nice nie want hy's nie die regte size nie..."
Vrou, gee die broek!! Genugtig, jy sal dink ek is gek om só iets te
sê. Lees asb. enduit (veral as jy 'n vrou is, anders slag jy my dalk
lewendig af.)
Ef. 5:21-33 "Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.
Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here
onderdanig is. Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die
hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam,
sy kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens
in alles aan hulle mans onderdanig wees. Mans, julle moet julle
vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor
afgelê het. Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy
dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in
volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets
dergeliks, heilig en onberispelik. Die mans behoort hulle vrouens so
lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself
lief, want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie.
Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen
omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is. Daar staan in die
Skrif: 'Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy
vrou lewe, en hulle twee sal een wees.' Hierin lê daar 'n diep
geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk.
Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief
hê soos hy homself liefhet, en 'n vrou moet aan haar man eerbied
betoon."
Vrouens, wees
aan julle mans onderdanig (nee nee, jy moet nie 'n vloerlap wees nie).
Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos wat Christus die kerk
liefgehad het en Sy lewe daarvoor afgelê het. Vrou, gee die broek!
As ek so lees, dan besef ek, elke huis kort 'n broek. Soos die
spreekwoord sou kon sê: "Wat is 'n huis sonder 'n broek?" Lyk my
iemand moet die broek dra. Ek praat natuurlik in 'n spreekwoordelike
sin van "broekdra". Die vraag is: wie het die broek aan? Dra manlief
die broek? Dra vroulief die broek? Of, nog erger, dra die kinders
dalk die broek in die huis? Of NOG erger, dra niemand die broek nie?
Sjoe jong, as ek 'n broek was, sou ek darem baie verward gewees het!
Gen. 3:24 "Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met
sy vrou lewe, en hulle sal een word."
Dit lyk vir my die broek was toe nog nie in die prentjie nie, want
Gen. 3:25 sê: "Hulle twee, die mens en sy vrou was kaal, maar hulle
was nie skaam nie". Eish...
Vrou, gee die broek! En kinders, gee die broek!
God se plan met die man is om geestelike outoriteit in sy huis te
neem. As hoof van die huis, en die pilaar van liefde het die man die
taak gekry om sy huis te bestuur, en die rol van die hoof in te neem.
Die probleem is net, vernaam op geestelike vlak, het die man begin
terugstaan, en in die proses het die vrou die broek begin oorneem.
So kan ons dus sê dat die outoriteit deesdae nie meer in enige een
se broek sit nie! Miskien begin die broek al hoe korter word. Jy ken
mos die spreekwoord as iemand se broek bietjie hoog sit: "Die broek
moet 'n partytjie gooi en die skoene nooi" .. of so iets. Die broek
word al hoe korter. Ag nee man, wie wil nou naderhand "ou kortbroek"
genoem word? Die man behoort as koning, priester en profeet
vierkantig in die broek van die huis. Dit is God se bedoeling, maar
nou laat ons toe dat ons gejaagde lewe, baie lang werksure en stres
ons met die broek op die knieë vang. Dit ís so dat die mens met
balans en rolle geskep is, en as die man die broek verloor, trek
vroulief dit aan. Wanneer Jakob as ou man sy seuns seën, dra hy die
outoriteit aan hulle oor. Hy was egter al die tyd die steunpilaar
van die gesin. Die rolle was goed gedefinieer, en ek glo dat dit
vandag nog steeds gedefinieer is, maar ons het self die balans
versteur. Die man wil die broek by die werk dra, maar nie by die
huis nie. Hoe pas jou broek, meneer? Het jý hom aan? Vroulief,
moenie toelaat dat jou man sy werk (en broek) op jou afskuif nie. As
jy sukkel dat hy tot aantrek kom, het Petrus net die antwoord: 1Pet.
3:1-2 "Vrouens, julle moet aan julle mans onderdanig wees. As daar
van julle is met mans wat nie die woord van God glo nie, en die mans
sien hoe godvresend julle is en hoe voorbeeldig julle julle gedra,
sal hulle vir Christus gewen kan word deur die gedrag van hulle
vrouens. Dit sal nie eens vir julle nodig wees om 'n woord te sê nie."
'n Man is maar 'n snaakse ding, as hy so 'n bietjie papbroekerig
word, dan skuif hy (of te wel, delegeer) die joppie na vroulief toe.
Wat die kinders betref, staan ons as mans nie meer ons broek vol nie
… ek bedoel, ons skoene vol nie! Kinders gaan op 'n "rampage" en pa
se broek begin bewe. Ek het eendag 'n baie waar ding gehoor:- in die
verlede het pa, as patriarg, die boonste posisie in die hiërargie
ingeneem. Nie as sadis of diktator nie, maar as liefdevolle hoof en
leier. In die huishouding het al die prioriteite om pa gedraai.
Vandag neem die kinders daardie posisie in: alles draai om die
kinders se skedules, behoeftes en planne. In dié proses staan pa
terug, en ma erf die broek, en dan in besonder ook die geestelike
broek…
Vandag sê ek vir die vroue: "Vroulief, trek vir jou man weer sy
broek aan".
Kol. 3:18-21 "Vrouens, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas
by mense wat in die Here glo. Mans, julle moet julle vrouens liefhê,
moenie die lewe vir hulle bitter maak nie. Kinders, wees in alles
aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders
wat in Hom glo. Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek
dat hulle moedeloos word nie."
Die man het 'n bepaalde taak, maar die vrou is beslis nie vrygestel
nie: “Verder het die Here God gesê: "Dit is nie goed dat die mens
alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy
gelyke. Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die
wilde diere, maar vir homself het hy nie 'n helper, 'n gelyke, gekry
nie." (Gen. 2:18, 20)
Hoe mooi sê dit hier dat die vrou die man se gelyke en sy helper is.
Maar as hoof van die huis kort manlief 'n netjiese broek, een wat
perfek pas. Hoe lyk 'n man wat kan spog met só 'n broek?
1) Hy sorg dat hy in 'n intieme verhouding met God staan. Hy is
primêr die een wat sy gesin op God se skoot kom tel.
2) Hy is die een wat God se stem gaan soek vir sy gesin.
3) Hy is die primêre broodwinner wat sy gesin versorg, maar ja
natuurlik het sy ook 'n loopbaan en verdien inkomste (iemand moet
immers haar kredietkaart betaal... )
4) As hoof van die vrou hanteer hy haar met liefde, ontsag, respek,
diensbaarheid en omgee, hy is bereid om te sterf vir haar, hy dra
haar laste, neem haar sorge op sy skouers, hy beskerm haar, hy is 'n
skouer om op te huil, hy luister as sy haar hart wil uitstort, hy
was haar voete. Klink dit bietjie vergesog? Wel, dit is wat Jesus
vir ons doen. En die Bybel sê dat die man sy vrou só lief moet hê
soos wat Christus die kerk liefgehad het en sy lewe daarvoor afgelê
het (Ef. 5:25).
5) 'n Liefdevolle pa stel 'n voorbeeld vir sy kinders, en is dáár
vir hulle, sonder om hulle te bederf.
Pa, vat terug daai broek! ~ Willem Botha, 19/11/2019 |
|
Wie is jy? Wat is jy? Waar kom jy vandaan? Waar
gaan jy heen? Ja, jy het ‘n naam, en ‘n agtergrond, ‘n herkoms; jy
lyk soos jy lyk; jy is wie jy is. Vir 70 jaar sal jy leef, as jy
sterk is 80. Jy sal hierdie aarde verlaat … verseker. Jy kom iewers
vandaan … verseker. Op ‘n tyd was jy ‘n blink in jou ouers se oog.
Almal se lewenspad begin iewers, en loop ‘n spesifieke rigting. Dag
vir dag bepaal keuses jou weë, besluite veroorsaak dat jy by sekere
kruisings links draai, by ander draai jy regs. Party deure gaan oop
en jy stap deur, ander gaan toe en jy draai om. So kom dit
uiteindelik dat jy vandag is wie jy is, en waar jy is. Vandag is jy
iemand, en vandag het jy iets… ‘n liggaam, goedere, materiële dinge,
ens. Die vraag wat ek jou vandag vra is: aan wie behoort dit? Deur
wie se toedoen is dit soos dit is?
Wat het jy? Seker 'n motor, dalk 'n woning, meubels, dalk 'n tweede
woning, 'n horlosie. Dalk het jy kinders, 'n lewensmaat en 'n werk,
miskien geld in die bank, dalk het jy 'n geleerdheid. Almal het
darem min of meer iets, party min en party meer, dalk nooit genoeg
nie.
Wat ek is, is net genade...
Jy ken die lied van Koos Doep genaamd "Gebed", waar hy sing "Wat ek
is, is net genade, wat ek het, is net geleen." Waar woorde, want
niks wat jy is, of het, sal na jou afsterwe meer vir jou persoonlik
enige nut of waarde hê nie. God skep. En van dag een af begin Hy
waarde toevoeg aan die mens. Ek en jy word iets, bereik iets, doen
dinge, daar kom sin in ons lewe. Daar is swaarkry, daar is ook
lekker tye; ons leer, studeer, werk ons op; ons word selfs “iemand”.
Maar … dan begin ‘n probleem - die mens begin te veel van homself
dink, en slaan homself hoog aan. Ons begin op ons eie kragte
staatmaak en voel ons is so bietjie in beheer… voel jy ook soms so?
Die feit is egter: wat ek is, is net genade. Elke stukkie
intelligensie in jou, elke vermoë, talent, alles, is NET genade – ‘n
geskenk van God af.
Wat ek het, is net geleen … As ek en jy doodgaan, vat die skepping
alles terug. Ons weet vandag dat “stof tot stof” - aldus die Bybel -
‘n wetenskaplike feit is. As jy sterf begin die aarde onmiddellik
elke atoom terugvat. Stof tot stof. Alles wat jy besit, elke ding
wat gemaak is, sal eventueel verval tot sy basiese elemente. Dis ‘n
wetenskaplike feit. Los jou motor vir ‘n paar eeue buite, en hy
roes, verweer en raak letterlik weg. Die aarde soek sy atome terug –
dié wat hy aan jou geleen het. Die aarde soek ook vir jou terug,
atoom vir atoom, en net jou siel bly oor.
Pred. 12:6-7 "… die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word en
die goue kruik breek, die kruik by die fontein stukkend breek en die
wiel by die put stukkend val, die tyd wanneer die stof na die aarde
toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit
gegee het."
Die Here stel 'n klomp dinge tot my en jou beskikking, soos lewe,
dinge en vermoëns. Sodat ons jare hier op aarde nuttig en sinvol sal
wees, en definitief nie sodat ons self net die vrug daarvan pluk nie,
maar iewers soek die Here, en ja ook die natuur, alles weer terug.
Ek dink so aan die ou-ou liedjie se woorde: "Moet ek gaan met leë
hande, moet ek so my Heer ontmoet, nie een siel na Hom gelei nie,
niks te offer aan Sy voet".
Dis so jammer as dit so is aan die einde van ons lewens, want dan
het ons net op Sy goedheid geteer en niks teruggegee nie. ~ Willem
Botha, 18/11/2019 |
|
Om die “julle
moet mekaar” – reeks af te sluit wil ek net bietjie bespiegel oor
wie dié mense is teenoor wie ek al hierdie “mekaar”-dinge moet
uitlewe? Is dit net my naby mense? My kerk-mense? Mede-gelowiges?
Almal wat ek teëkom? Alle mense? Hoe vêrder mense weg is uit my
veilige, bekende kring, hoe minder gewillig is ek om hulle met die “mekaar”-dinge
te bedien, hoe meer verskonings kan ek gee oor waarom ek hulle nie
hoef te aanvaar, vergewe, lief te hê, help, ens. nie. Ek besef maar
net weer dat die Here se aanvaarding, genade, liefde en hulp daar is
vir almal, Hy maak nie onderskeid nie. Ek behoort ook nie. Ek moet
egter bely dat dit nie ’n maklike saak vir my is nie. Daar is ’n teks
in 1 Pet. 2 wat my ’n bietjie help. Dit help my om te visualiseer
dat my hand eintlik God se hand vir iemand in nood is. Dat my stem
eintlik God se stem vir ’n moedelose, hooplose persoon is. Dat my
hart eintlik God se hart vir vir ’n verlore siel is. Hierdie teks
gee die eintlike rede waarom ons op ’n seker manier teenoor mekaar
behoort op te tree. “So kan God sy hand deur julle na ander uitsteek
en kan ander sy hand deur julle voel.” (1 Pet. 2:5, Die Boodskap)
Kom ons raak mekaar aan met God se hand, met God se liefde, met God
se onvoorwaardelik aanvaarding. ~ Wilna Botha, 14/11/2019
Ek het al die
“julle moet mekaar” – stukkies bymekaargesit op een blad.
As jy wil, kan jy hier klik om hulle weer te
lees >> |
|
Vroulief vra vanoggend vir my of ek 'n sekere
persoon kan onthou, iemand van wie ons weet van lank gelede, maar
nie persoonlik geken het nie. Jip, sê ek, wat van hom? "Hy het
homself opgehang."
Sjoe, verskriklike woorde! 'n Skok wat deur mens trek, en al het ek
niks van die persoon se lewe geweet nie, is die tragedie groter as
wat ek kan beskryf. Wat van sy ouers en geliefdes, dalk 'n eie gesin?
Hoe lank het hy met hierdie gedagtes geloop? Hoeveel vrae bly nie
oor nie, hoe verwerk mens dit, hoe gaan mens aan, het almal dan die
tekens misgekyk? Ek het 'n paar mense in my lewe geken wat hierdie
pad gestap het, maar nie mense naby my nie. Volgens wêreldwye
statistiek sal ongeveer vier mense hierdie stap "suksesvol"
uitgevoer het net in die tyd wat jy hierdie stukkie lees, VIER MENSE!
Met hordes mense wie se lewens in 'n oogwink verwoes word as gevolg
daarvan. Dit sluit nie die pogings in wat (Goddank) gefaal het nie.
Ek dink baie mense dink amper met 'n koudheid aan hierdie dinge, so
effe sonder simpatie, en maak dan uitsprake wat uit onkunde gebore
is.
Die rede vir vandag se boodskap is om iets aan te raak wat ek by
baie mense sien, wat ongelooflik ongevoelig en wreed is, en dit is
dat 'n persoon wat hierdie stap neem reguit in die verderf beland.
Sjoe, dit is so kil en harteloos. Kan mens dit regtig sê vir 'n
verpletterde ouer wat met die ergste vorm van seer en selfverwyt
loop?
Nee, dis net eenvoudig nie waar nie! Die gedagterigting van baie
mense is dat jy nie tyd gehad het om vergifnis te vra vir hierdie
groot sonde nie, en daarom nie gered kan wees nie. Ai, hoe verkeerd
verstaan mense nie genade en vergifnis nie. As dit so was en ek op
hierdie oomblik sou sterf aan 'n hartaanval is dit vir my neusie
verby, en ook vir jou, want ek is oortuig dat ek op hierdie oomblik
met honderde onbelyde sondes rondloop. God se vergifnis werk nie so
nie, want Jesus se kruisdood het met elke sonde in jou verlede én
toekoms reeds afgereken, en is nie afhanklik van sonde-vir-sonde
belydenis nie. As dit waar was, sou dit beteken dat ons elke keer as
ons ons sondes bely, weer tot bekering kom, van voor af. Dis nie so
nie, ons leef in God se vergifnis as ons Jesus as Saligmaker
aangeneem het. Natuurlik moet ons dit steeds bely, maar dis om die
verhouding met God te herstel. As ek lelik was met my vrou en
vergifnis vra, het ons nie gou weer getrou nie, die verhouding is
net herstel. Sien belydenis eerder as 'n danksegging dat Jesus
bereid was om vir jou te sterf.
Kan jy onthou dat Jesus gehuil het by Lasarus se graf? Onthou jy dat
Jesus diep bedroef was toe Johannes die doper onthoof was? Ek dink
Jesus ween saam met ons by 'n persoon wie nie kans gesien het om
voort te gaan in hierdie lewe nie. Ek dink Hy is ook diep bedroef as
depressie of ander moeilikhede gemaak het dat iemand nie meer lig in
die tonnel gesien het nie, en alles tot 'n einde bring.
Moet asseblief nooit hierdie as 'n ligtelike insident sien en
onmenslike kritiek lewer nie, dink aan diegene wat agterbly en dit
nooit ooit weer kan verwerk nie. Hoor die hulpkrete van iemand wat
dalk so desperaat iemand nodig het om mee te praat, jy is dalk die
laaste een wat 'n geleentheid gehad het om 'n verskil te maak, en
bly weg van die woorde: "Ruk jouself reg". Die lewe is so
ongelooflik kosbaar en God se genade is so groot, gun dit vir elkeen
op aarde. ~ Willem Botha, 13/11/2019 |
|
Ek het die afgelope tyd ’n paar gedagtes gedeel
oor ’n klompie van die “julle moet mekaar”-tekste in die Bybel.
Julle moet mekaar aanvaar, mekaar vergewe en mekaar liefhê; julle
moet gasvry wees teenoor mekaar en mekaar dien; julle moet geduldig
wees met mekaar, mekaar verdra en in vrede lewe met mekaar; julle
moet mekaar help, mekaar se laste dra, mekaar troos en moed inpraat;
julle moet mekaar leer en onderrig en lofliedere saam sing. Jy mag
dalk, net soos ek, oorweldig voel as jy dink jy moet jou mense altyd
só behandel. Dit voel of ons altyd die minste moet wees, altyd moet
toegee, altyd ons eie belange opsy moet skuif, altyd die ander een
hoër ag as onsself. Ek het egter besef dat die Here nie iets van ons
sal verwag waarvoor Hy nie vir ons die gewilligheid, die vermoë, die
uithouvermoë, die krag en insig, die regte gesindheid sal gee deur
die Heilige Gees nie. Jesus het eerste al hierdie mekaar’s met óns
gedoen en so vir ons die voorbeeld kom stel van hoe ons teenoor
mekaar moet wees. Hy het ons eerste liefgehad voordat ons Sy liefde
kon beantwoord. Hy het ons eerste vergewe terwyl ons kniediep in die
sonde was. Hy het ons eerste gedien deur Sy lewe vir ons af te lê.
Hy het ons eerste aanvaar en ons Sy kinders gemaak. Hy het ons
eerste in Sy binnekring verwelkom en deel van Sy huisgesin gemaak.
Hy was eerste geduldig met ons en ons telkens weer opgetel as ons
gestruikel het. Hy het ons eerste getroos en moed ingepraat, ons
trane afgevee en vir ons hoop gegee. Hy het ons eerste na Hom toe
uitgenooi en ons laste op Sy skouers geneem. Nou is dit ons beurt om
só teenoor mekaar op te tree. Ek bid dat die Here ons daarmee sal
help. ~ Wilna Botha, 12/11/2019 |
|
Toe ek nog klein was het ek graag vir my 'n
"lucky packet" by Mary se kafee in Villieria gekoop, en dit met
groot opgewondenheid oopgemaak en grootoog gekyk wat ek nou weer
gekry het. Soms was dit 'n karretjie wat se wiele nie kon draai nie,
of 'n fluitjie of 'n plastiek ringetjie. Daar was ook altyd 'n klein
pakkie sherbet met so 'n klein lepeltjie in. As dit 'n ringetjie was
het ek gedroom dat ek dit vir my meisie kon gee wat saam met my in
die klas was. Maar ek het dit nooit gegee nie want sy het nie geweet
sy is my meisie nie! Die gelukspakkie het vir my altyd intense
vreugde en 'n gevoel van geluk gegee. Jy sien, ons was nie gewoond
aan groot en duur geskenke nie want my ouers het min gehad en klein
dingetjies het my gelukkig gemaak. Ek dink baie mense kan met
hierdie sentiment assosieer, maar ongelukkig het baie mense die kuns
verleer om vir Geluk te vind. Miskien het die lewe net te kompleks
geword.
Ek sien hoe mense in vandag se lewe probeer om Geluk op een of ander
manier te vang, maar Geluk hardloop altyd net een snars vinniger as
diegene wat dit jaag. Dan duik die persoon agter Geluk aan, maar as
sy vingerpunte so aan Geluk se soom raak, is Geluk weer weg. Net
teleurstelling bly dan oor.
In sulke tye gaan soek mense vir Geluk op ander plekke, in drank, in
verkeerde en skelm verhoudings, in dinge wat hulle koop maar nie kan
bekostig nie en dan is dit net nog meer rampspoedig. Ek ken 'n vrou
wat van haar man geskei het, en na die egskeiding het sy gesê dat
haar lewe nou oop voor haar lê en sy nooit ooit weer ongelukkig sal
wees nie. Ai, het sy maar geweet watse swaarkry en ongelukkigheid
vir haar voorlê! Nog twee egskeidings het gevolg. Sy is oorlede, en
het bykans nooit weer enige vorm van geluk gevind nie, selfs nadat
sy die Here in haar lewe ingenooi het. Ek sien hoe mense oor die
heining kyk en die bure (blykbaar is die bure se van Jones) se goete
begeer, net om te besef dat Geluk ook nie daarin opgesluit lê nie.
So het vele mense ook al die land verlaat om Geluk daar te gaan soek,
maar Probleme het saamgetrek en Geluk ook daar gaan oorheers. Baie
mense reken Geluk lê êrens in die toekoms - as ek net eers kan
aftree, as ek net eers die Lotto gewen het, dalk êrens, eendag. Ai,
en hoeveel mense se Lotto geld het Geluk totaal vermoor... Amper
wreedaardig.
Waar kruip Geluk weg? Hoekom is dit so skaars? Hoekom is dit vir
sommige net nie beskore nie? Miskien moet ons net eers weer leer "sien".
Raaksien dat Geluk lê in klein goedjies, soos om weer die Here raak
te sien in eenvoudige goedjies, om soms weer die Skepping te
bewonder, om te besef dat ons Saligheid meer werd is as enige aardse
dinge, om intense vreugde te vind in alles wat reg loop en nie te
konsentreer op dinge wat ons geluk steel nie.
Gaan koop weer vir jou 'n spreekwoordelike Lucky packet, en maak dit
met verwagting oop, en geniet daardie klein dingetjies in die lewe
intens. Dit kos geen geld nie, dit vra net die regte gesindheid. En
ja, ons sal nog altyd die gewone aardse probleme hê, maar die lewe
kan steeds lekker wees. My vrou en kinders se name is almal Geluk,
ek werk ook vir Geluk, en ek neem graag vir Geluk saam op vakansie,
en selfs bed toe as ek gaan slaap. Lag so nou en dan 'n lekker
versie of twee, en sê dan sommer ook vir jou gesig dat jy nou
gelukkig voel, dan glimlag die wêreld saam met jou.
Ek sien eendag hierdie woorde geskryf: Geluk is tuisgemaak.
~ Willem Botha, 11/11/2019 |
|
Iets wat ek oor en oor besef het soos wat ek
deur die “julle moet mekaar”-opdragte van die Bybel gewerk het, is
dat dit nie daar is om ons te straf, of die lewe vir ons moeilik te
maak, of groot eise aan ons te stel nie. Dis ook nie net daar ter
wille van ons naaste nie, dis daar sodat onsself ook baat sal vind
daarby. “Mekaar” impliseer tog dat daar twee partye is. Soms gaan
jy gee en heel dikwels gaan jy ontvang. Dalk gaan jy selfs meer
terug ontvang as wat jy gegee het. “Dink daaraan: wie karig saai,
sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.” (2 Kor. 9:6) –
what goes around, comes around, sê die spreekwoord mos. Party mense
is egter so ingestel daarop om ander te bedien, dat hulle hulleself
nooit oopstel om aan die ontvangkant van die “julle moet mekaar ...”
te wees nie. Hoewel die Bybel sê: “Om te gee maak ’n mens gelukkiger
as om te ontvang” (Hand 20:35), mag en moet ons ook soms aan die
ontvangkant van die “mekaar” wees. Aanvaar hulp, maak jou hart oop
vir die liefde wat iemand anders aan jou wil bewys, wees gewillig
dat iemand ’n slag vir jóú bid, wees bereid dat jou geestelike
familie jou las vir jou kom dra, vir jou kom moed inpraat of troos,
of jou bederf met ’n ete of ’n bos blomme, aanvaar die gasvryheid
wat iemand aan jou wil bewys. Wees ontvanklik vir ander se goedheid,
barmhartigheid en genade. Sodoende maak jy dit weer vir die ander
persoon moontlik om sý kant van die “mekaar”-dinge uit te leef tot
eer van die Here. As deel van die Here se familie is ons in ’n span
van gee en ontvang. Twee vaar beter as een en ’n driedubbele tou
breek nie maklik nie. (Pred. 4:9, 12) ~ Wilna Botha, 07/11/2019 |
|
Eenheid
Hoe soet is die smaak van ons Springbokke se oorwinning van die
rugby wêreldbeker nie! Hoewel die euforie besig is om reeds af te
neem, is dit steeds 'n lekker besprekingspunt vir almal, en ek
bedoel ALMAL, almal wat in ons land bly. Sulke geleenthede bind ons
so mooi saam, oor alle grense heen, en ons het dit SO nodig. Jy sal
saamstem dat tye soos hierdie jou trots maak om hier aan die
suidpunt van Afrika te bly en 'n volbloed Suid-Afrikaner te wees.
Maar wat van 'n paar maande van nou af? En volgende jaar? Wat gaan
binnekort weer in jou kop inkruip wat jou anders laat voel?
Wel, ek kan vir jou daardie antwoord gee. Dit gaan dinge soos
koerante, ander media, sosiale media en politiek wees. Dis nou as jy
dit gaan toelaat. Maar kom ek gee jou so 'n bietjie perspektief op
alles, met hierdie volgende vraag:- Wanneer laas het jy op die nuus
iets gehoor van die grond wat die regering wil wegneem van die
eienaars af, en privatisering van banke en ander negatiewe goed? Die
antwoord is eenvoudig, dit was tydens die verkiesing laas, en dit
sal waarskynlik eers weer voor die volgende verkiesing wees, want
die stemme is klaar getel en die uitslag is bekend en nou gaan almal
weer aan soos gewoonlik. En skielik is dit weer lekker in ons
sonnige land van braaivleis, rugby, sonneskyn en Chevrolet.
Ek wil graag die teks wat Wilna onlangs gebruik het weer aanhaal.
1Tess. 5:13b "Leef in vrede met mekaar". In die lig van bogenoemde
lyk dit of hierdie opdrag dalk nie so moeilik is nie, miskien moet
ons net 'n bietjie met ander oë na alles kyk. Dan sal jy sien en
hopelik saamstem dat almal op straat werklik net na vrede en goeie
verhoudinge smag. Miskien sal jy my nie glo nie maar dis waaragtig
waar, anderdag het 'n taxi vir my plek in die verkeer gegee! Kan jy
dit glo? As jy bietjie daarop konsentreer sal jy sien dat by verre
die meeste petroljoggies en tellers by die supermark jou met
vriendelikheid en respek hanteer. En hoe breër jou glimlag, hoe
breër is hulle s'n. Ek en jy kan kies of ons eerder al die bedelaars
op straat wil raaksien, en of ons diegene wil raaksien wat werklik
probeer om 'n eerlike lewe te lei. Ons het al 'n keer of wat hier by
ons huis onder misdaad deurgeloop, maar die ander 13000 dae wat ons
hier bly het niks sleg by ons huis gebeur nie. En terloops, jou
huishulp loop waarskynlik onder baie slegter dinge deur daar waar sy
woon.
"Leef in vrede met mekaar". Is dit moeilik? Nee wat, my en jou
gesindheid bepaal hoe dit sal wees. Ek is oortuig dat jy al van
die #Imstaying groep op Facebook weet. Daar het ek besef dat ons met
baie verkeerde persepsies rondloop, en dat by verre die oorgrote
bevolking smag na vrede en geluk. En waar op aarde sal jy meer pret
kry as met "Hugo, bel die polisie, en Marelize wat in die rugbypale
vasgery het met haar fiets?
Hang maar net af wat ons van alles maak. Ek dink dis wat die Here
van ons verwag.
Terloops, het ek genoem dat hierdie nou nie eintlik 'n geestelike
boodskap is nie? ~ Willem Botha, 06/11/2019 |
|
“Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê ,
want die liefde bedek baie sondes.” (1 Pet. 4:8) Hier kom ons nou by
dié heel belangrikste “julle moet mekaar ...” Sien, die Bybel sê “bo
alles". Soos ’n groot sambreel moet die liefde vir mekaar bo-oor
alles wat ons doen en sê en dink opgeslaan word. Soos ’n sambreel
mens kan beskerm teen son of reën, moet ons liefde vir mekaar ons
verhoudinge beskerm. Die liefde bedek baie sondes, sê die teks. Die
sambreel van liefde behoort mekaar se tekortkominge te bedek en
doemprofete, kritiese tonge en foutvinders weg te keer van ons
geliefdes en medegelowiges. 1 Kor. 13:7 beaam ook met: “... (die
liefde) bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” “Daar is
niks so belangrik as dat julle mekaar liefhet asof julle eie lewe
daarvan afhang nie. Die liefde sien ander se foute oor en gaan nie
daaroor te kere nie.” (1 Pet. 4:8, Die Boodskap) Sonder liefde is
ons niks. Sonder liefde is alles wat ons doen of bereik net soos ’n
klinkende metaal of galmende simbaal – net ’n groot geraas en in God
se oë ’n nul op ’n kontrak. As mens in Gal. 5:22 die vrug van die
Gees lees, dan is liefde een daarvan, maar haal die liefde uit die
lys uit, dan verloor die res ook hulle betekenis. Sonder liefde is
daar nie vreugde of vrede nie. Sonder liefde ontbreek geduld en
selfbeheersing. Sonder liefde is goedhartigheid en vriendelikheid
oppervlakkig en van korte duur. Dis harde woorde en dit spreek my
aan. Waar gaan ons genoeg liefde kry om só lief te hê? By die Here.
Sý bron is onuitputlik en verniet. Vra Hom vir meer liefde en Hy sál
dit gee. “Hy vul ons lewe elke dag met sy liefde. Dit doen Hy deur
die Heilige Gees wat by ons bly.” (Rom 5:5, Die Boodskap) “... En
die grootste hiervan is die liefde.” ~ Wilna Botha, 05/11/2019 |
|
Hooglied 1:15
-2:3
Hy: “Jy is mooi, my liefling, jy is mooi, jou oë is duiwe.”
Sy: “Jy is mooi, man wat ek liefhet, baie aantreklik. Ons bed is die
groen blare, ons huis se balke is die seders, sy daklatte is die
sipresse.
“Ek is 'n affodil van Saron, 'n lelie van die laagtes!”
Hy: “Soos 'n lelie tussen dorings, so is my liefling tussen die
meisies.
Sy: “Soos 'n appelboom tussen wilde bome, so is die man wat ek
liefhet, tussen die jongmans. Ek sit graag in sy skaduwee, sy vrugte
is soet in my mond.
Hy vat my na 'n feesplek toe; hy straal van liefde vir my."
Ongelooflike woorde tussen twee geliefdes, waar hulle mekaar se lof
besig, mekaar komplimenteer en in die pragtigste woorde hulle liefde
teenoor mekaar verklaar. Hierdie woorde tussen twee geliefdes MOET
net eenvoudig daardie verhouding tot ongekende hoogtes neem. Elke
mens op aarde wil sulke woorde hoor, elke vrou en man in 'n huwelik
het daardie woorde gereeld nodig. Dis verstommend hoe 'n vrou blom
as sy sulke woorde by haar man hoor, dis eintlik 'n wonderwerk hoe
sulke woorde 'n vrou se uiterlike skoonheid net positief beïnvloed,
tot in haar oudag. Hoe meer 'n man sulke woorde vir sy vrou sê, hoe
meer werk sy onbewustelik aan daardie uiterlike skoonheid en bly sy
vir haar man begeerlik, al het die spore van die jare al begin wys.
'n Man wat dit kan doen, is 'n spieël wat meer reflekteer van sy
vrou as wat hy of sy ooit kan dink. 'n Man se woorde oor sy vrou het
soveel krag, dat dit haar kan maak of breek. Mooi woorde skep
skoonheid, lelike woorde maak letsels en veroorsaak die teendeel.
Hoe jammer is dit tog dat hierdie tipe woorde voor die huwelik volop
uit 'n man se mond kan stroom, maar later word dit dikwels vervang
met negatiewe, afbrekende woorde. Ek het al so baie gesien dat 'n
vrou deur sarkasme, selfs met 'n glimlag, tot niks gereduseer word,
tot 'n skaam teruggetrokke persoon wat nie eers meer probeer om vir
haar man aantreklik te wees nie. En so dikwels voor ander mense,
soms onder die vaandel van 'n "grap". Maar vanaand in die bed, kom
daardie hand in die donker en probeer om toenadering te soek,
daardie hand onder die lakens, nadat woorde soos dolksteke 'n paar
ure gelede mildelik verwoesting gesaai het. Soms saam met 'n vraag:
Wat is nou weer fout??? Ja, natuurlik is dit waar na die ander kant
toe ook.
Ek sien egter ook die teendeel, waar 'n egpaar mekaar in die mooiste
woorde toevou, en jy sien dat die man na donkie jare se getroude
lewe steeds sy vrou se held bly, en sy steeds die mooiste toonbeeld
van skoonheid vir hom bly. Hoe kan so 'n huwelik nie absoluut
volmaak wees nie? Dit skep soveel sekuriteit by hulle kinders, en
hulle sal ook eendag daardie kwaliteite in hulle eie huwelike
uitleef.
Daar is slegs 26 letters in die alfabet, waarvan sommige bykans
nooit gebruik word nie, maar hoe ons daardie letters skommel om
woorde te vorm hang van onsself af. Verwoestende woorde, of
opbouende woorde, die keuse is joune. Sarkasties en snedig, of
komplimenterend en liefdevol, die keuse is joune. 'n Gelukkige
huwelik, of 'n aaklige rampspoedige verhouding, die keuse is joune.
Hooglied 7:10 "Ek behoort aan die man wat ek liefhet en dit is na my
wat hy smag." ~ Willem Botha, 04/11/2019 |
|
So tussen al die “julle moet mekaar”-tekste
skuil daar ook ’n paar “julle moenie mekaar’s”. Wel, hulle kon seker
almal maar net die teenoorgesteldes wees van die “julle moet
mekaar’s”, maar daar is tog ’n klompie goed wat pertinent genoem
word wat ons glad nie met mekaar moet doen nie. Byvoorbeeld: moenie
bose planne teen mekaar bedink nie (Sag. 8:17), moenie hooghartig en
eiewys wees nie (Rom 12:16), moenie verwaand wees, mekaar uittart of
afgunstig wees op mekaar nie (Gal 5:26), moenie vir mekaar lieg nie
(Kol 3:19), moenie kwaadpraat van mekaar nie (Jak 4:11), moenie oor
mekaar kla nie (Jak 5:9), moenie oordeel nie (Matt. 7:1), moenie
wraak neem nie (Rom 1:19). Hoekom nie? Want die Here sê Hy haat
sulke dinge (Sag. 8:17); want hoe ons teenoor mekaar optree wys of
ons met die Gees vervul is (Gal 5:25); want die Bybel sê ons is lede
van een liggaam en as jy een van dié bogenoemde aan iemand anders
doen, is dit asof jy dit aan jouself doen; want jy trek ’n streep
deur jou Christelike getuienis as jy nie jou mede-gelowiges met
respek behandel nie. Kyk maar hoe behandel mense mekaar, hoe praat
hulle oor mekaar in die werkplek, hoe skinder die familie onder
mekaar, hoe haal hulle mekaar uit op sosiale media kommentare. O, ek
weet maar al te goed dat vier vingers terugwys na my en dat ek skaam
is om te erken dat ek skuldig is aan al die bogenoemde. Kom ons volg
maar biddend en nederig die eenvoudige beginsel van: doen aan ander
soos jy aan jouself gedoen wil hê. “As daar een goue reël is
waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: vra julle elke dag
af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Gaan tree
dan eerste so teenoor hulle op. As julle so leef, doen julle alles
wat die Bybel van julle vra.” (Matt. 7:12, Die Boodskap) ~ Wilna
Botha, 31/10/2019 |
|
Die wêreld gaan vir jou vertel dat dít wat jy
glo, vals is en outyds is, maar moenie dit glo nie, die geloof in
Christus het elke denkbare toets van die tye deurstaan. Die wêreld
gaan vir jou vertel dat jy as mens sommer per toeval gebeur het,
maar moenie dit glo nie, jy is fyn deur God beplan, miljoene jare
voor jou geboorte. Die wêreld gaan vir jou vertel dat die hele
skepping "per ongeluk" tot stand gekom het, maar moenie dit glo nie,
alles is ontwerp deur 'n ongelooflike Ontwerper wat iets tot stand
laat kom het wat op geen manier deur die mens verklaar kan word nie.
Die wêreld gaan vir jou vertel dat daar nie net een God is nie, en
dat al die gelowe dieselfde god/God aanbid. Moenie dit glo nie, as
Hy nie 'n Seun het met die naam van Jesus Christus nie, is hy 'n
valse god. Die wêreld gaan vir jou vertel dat Jesus nie uit 'n maagd
gebore is nie, maar moenie dit glo nie, sonder die maagdelike
geboorte, was Hy net 'n gewone mens, en sou mense se geloof in Hom
nie die wêreld verander het nie. Die wêreld gaan vir jou vertel dat
wetenskaplikes die Christendom die rug gedraai het, maar moenie dit
glo nie, derduisende wetenskaplikes en medici getuig van wonderwerke
wat nie verklaar kan word nie. Die wêreld gaan vir jou vertel dat
die Bybel 'n boek is wat deur mense geskryf is, sonder Goddelike
inspraak en nie meer geld vandag nie, maar moenie dit glo nie, daar
bestaan geen boek wat mense se lewens so verander het soos die Bybel
nie, en dit gebeur steeds elke liewe dag, en sal dit vir ewig doen.
Die wêreld gaan vir jou vertel dat daar nie 'n hemel is nie en dit
net 'n versinsel is van die mens se brein, maar moenie dit glo nie,
daar is duisende gevalle waar mense 'n "hemelse" ervaring gehad het
waar hulle kortstondig gesterf het en hulle lewens wel gered is, en
die ooreenkomste van hierdie verhale is verstommend. Die wêreld gaan
vir jou vertel dat daar nie 'n hel is nie, maar moenie dit glo nie,
die Bybel staan baie sterk hierop, moenie die kans vat nie. Die
wêreld gaan vir jou vertel dat Christen sakemanne almal skelm is en
net hulle geloof voorhou om jou in te doen, maar moenie dit glo nie,
daar is wonderlike mense vir wie jy met jou lewe kan vertrou. Daar
is ook ongelowiges vir wie met jou lewe kan vertrou. Die wêreld gaan
vir jou vertel dat God van jou vergeet het, maar moenie dit glo nie,
jy is elke oomblik in Sy gedagtes.
Aan die ander kant gaan sommige ander vir jou vertel dat Christene
nie siek word of arm behoort te wees nie, maar moenie dit glo nie, voorspoedteologie
is niks anders as 'n piramide skema nie. Slegte goed gebeur ook met
goeie mense. Van daardie mense gaan vir jou vertel dat hulle dinge
oor jou kan "sien" wat God aan hulle openbaar, maar moenie dit glo
nie, daar is iets soos vals profete, en hulle is baie gevaarlik.
Daar is mense wat vir jou gaan vertel dat jy nie deurbrake beleef
nie omdat daar slegte goed in jou huis is, of dat jou ouers dinge
gedoen het wat maak dat dit sleg gaan, maar moenie dit glo nie, die
Here se liefde vir jou kan nie deur sulke dinge oorheers word nie.
Ons leef in tye waar mense se opinies soos donderweer op jou
neerstort, moenie alles glo nie. Gaan vra vir God wat waar is en wat
nie. ~ Willem Botha, 30/10/2019 |
|
Dit sal seker nie volledig wees as ons oor al
die “mekaar”-tekste praat en ons sê nie iets oor “vergewe mekaar”
nie. Is dit regtig nodig om wéér daaroor te praat? Ons weet mos teen
dié tyd hoe belangrik dit is om mekaar te vergewe ... of dalk nie,
want ons laat nog te dikwels na om dit te doen. Of is dit net ek?
Kom ons neem dit maar weer ter harte: vergewe mekaar. Jy gaan beter
voel. Dit gaan nie heeltyd aan jou vreet nie. Jy gaan nie nodig hê
om draaie om sekere mense te loop nie. Jy gaan nie die ander “mekaar”-dinge
kan doen as jy nie vergewe het nie. Jy gaan nie vir iemand kan bid
as jy hom nie vergewe het nie. Jy gaan hom nie kan help, of hom
aanspoor, of sy laste dra, of hom troos of saam met hom kan
lofprysing doen as jy nog iets teen hom het nie. “Soos die Here julle
vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.” (Kol. 3:13) Volg die
Here se voorbeeld: vergewe én vergeet, vergewe nog voordat die ander
een sy skuld kon bely, vergewe al verdien die persoon dit nie,
vergewe weer en weer, vergewe uit liefde. Maak vandag nog die
wilsbesluit om te vergewe. Sê dit hardop vir die Here. Sê dit hardop
vir jouself. Sê dit hardop vir die ander persoon. Vergewe ander, nie
omdat hulle noodwendig jou vergifnis nodig het nie, maar omdat dit
is wat die Here van jou verwag. Vergewe omdat jy God se vergifnis
nodig het. Vergewe omdat jy vrede nodig het. Onthou die
vergewe-Wiskunde van die Bybel – 70x7. Doen dit maar nog ’n keer as
dit weer nodig is. Daar gaan dalk ook ’n dag wees wat jy jou aan die
ander kant van “vergewe mekaar” bevind en iemand se vergifnis nodig
het. Moenie wag nie. Gaan sê so gou as moontlik jy is jammer. Wees
die minste en vra vergifnis. Vergewe mekaar, want nie een van ons is
volmaak en foutloos nie. ~ Wilna Botha, 29/10/2019 |
|
Ek het
hierdie boodskap baie lank gelede geskryf en hierdie gedagte maal
die hele dag in my kop. Dis effe lank, skuus hiervoor. Ek deel dit
graag met jou:
Carpe Diem
Dit
is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly
wees. (Ps 118 : 24)
Wat hou hierdie dag vir jou in? Waarna sien jy uit
vir vandag? Is daar léwe in vandag? Ek maak 'n stelling, ons het die
kuns verloor om vir vandag te lewe. Iemand noem vir my hierdie
aanhaling: "Yesterday is history, tomorrow is a mystery, but
today is a blessing." Hoe moeilik is dit nie vir ons arme
mensdom om vandag voluit te leef nie. Ek het die vraag gevra: wat
hou vandag vir jou in? Vir jou, as individu. Vir die meeste mense is
dit of niks, of spanning, of harde werk, of sommer net 'n totale
leegheid. So asof ons soms sommer net opgee om te leef.
Sjoe, maar dit klink darem swaarmoedig en stroef,
maar dis ongelukkig die realiteit. Ons as mense het die kuns verloor
om te leef vir vandag, om uit te sien na môre en om dit wat tot 'n
goeie vandag gelei het, te koester. As kind het ek altyd iets in my
kop gehad wat lekker was om aan te dink, en altyd iets gehad waarna
ek uitgesien het. Ek onthou ook as kind dat ek soms my ma gevra het,
wat gaan "eendag" gebeur. "Eendag" was vir my iets misterieus wat
voorgelê het. So leef ons ook vir eendag, en nie vir vandag nie.
Carpe Diem - Gryp die dag. Moeilik om vandag voluit
te leef. Ons leef maar almal vir môre, of iewers in die toekoms, en
maak in alles voorsiening vir môre, i.p.v. vandag. Die makelaars
vertel jou om soveel moontlik vandag opsy te sit vir môre. Op die ou
end is ons almal meer werd dood as lewendig. So asof môre 'n
uitgemaakte saak is...
Jak 4 : 13 - 17
13 Kom nou, julle wat sê: "Vandag of môre sal ons na dié en dié
stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld
maak."
14 Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle
is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.
15 Julle moet eerder sê: "As die Here wil, sal ons lewe en sal ons
dit of dat doen."
16 Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al
sulke grootpratery is verkeerd.
17 As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit
nie, is dit sonde.
Môre wat as hoop meer sal inhou as vandag. So werk
ons ons vandag oor 'n mik om môre beter daaraan toe te wees. Ons sê
vandag vir ons kinders nee, omdat ons hard moet werk vir môre. Ek
dink deel van die probleem is die feit dat môre 'n misterie is, en
dan vergeet ons van vandag. Weet jy, die Here maak nie onbeperk dae
nie. As Hy weer op die wolke kom, is die dae hier op aarde verby.
Hoeveel van hulle kan ons sê is gewaarborg? Oor hoeveel dae in die
toekoms het ons beheer? Ek en jy weet nie of ons môre nog hier gaan
wees nie. Maar vandag, lyk my, is ten minste al hier.
Ps 118 : 24 "Dit is die dag wat die Here gemaak
het, laat ons daaroor juig en bly wees." Want hierdie dag is
hier, oor môre weet ek niks. Daarom is daar dalk so bietjie vrees
vir môre. Ek bid een oggend dat die Here vir my genoeg werk moet
voorsien vir die volgende maand, of verkieslik nog langer, maar toe
lees ek weer die "Onse Vader" …… Gee my vandag my daaglikse
brood. Is dit nie God se bedoeling nie? Een dag op 'n slag.
Hier volg enkele verse hieroor uit die Bybel:
Pred 4 : 7 - 8 "Ek het in hierdie wêreld nog meer
gesien wat tot niks kom nie. Daar was 'n man wat alleen was, sonder
seun of broer. Tog was daar geen einde aan al sy inspanning nie, en
was hy steeds op soek na meer rykdom. Hy moes later sê, vir wie
sloof ek my af en ontsê ek my die aangename dinge?"
Sjoe, klink so bekend. Niks lekker in die lewe nie.
Maar ons het dalk 'n kind en doen presies dieselfde. Werk maak dat
ons al die aangename dinge mis en ons kinders afskeep.
Jak 6 : 3 "'n Man kan honderd kinders hê en baie
lank lewe, maar hoe oud hy ook al word, as hy nie die goeie dinge
kan geniet nie, en nie eens in 'n graf begrawe word nie, is 'n
doodgebore baba beter daaraan toe as hy."
Jaag vir die rykdom van môre en mis die genietinge
van vandag. En dan haak ons natuurlik net so erg by gister vas. So
asof gister dan nou so wonderlik was. Hoe dikwels praat ons nie van
die goeie ou dae nie?
Pred 7 : 10 "Moenie sê die ou dae was beter nie,
as nou nie. Dit is nie uit wysheid dat 'n mens so sê nie."
Daar het jy dit. Ons sê dit so maklik. Die goeie ou
dae. Waarna verlang jy terug in die verlede? Wat was soveel beter
dat jy dit sal wil terughê? Was dit regtig beter? Dit lyk my ons is
vasgevang tussen die bekende van gister en die misterieuse van môre,
en weet nie wat om met vandag te doen nie. Weet jy wat? Vandag is
die dag waaroor jy so lank terug bekommerd was. En dis toe nie so
sleg nie. Onthou jy die oorlog van 1994? Toe gebeur niks …..
inteendeel. Nee wat, kom ons leef!
Pred 9 : 3 - 10
3 Die ellende met alles wat in hierdie wêreld gebeur, is dat
dieselfde lot almal tref. Die hart van die mens is vol boosheid; die
dwaasheid bly hom sy lewe lank by, en sy einde is die dood.
4 Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. 'n Hond wat lewe, is
beter as 'n leeu wat dood is.
5 Dié wat lewe, weet hulle sal doodgaan, maar die dooies weet niks;
daar wag vir hulle niks meer nie, hulle is vergeet;
6 dit is klaar met hulle liefde, hulle haat en hulle hartstog. Hulle
sal nooit weer deel hê aan wat in hierdie wêreld gebeur nie.
7 Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met 'n bly gemoed;
God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen.
8 Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie.
9 Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks
kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het, die hele lewe
wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou
toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld.
10 Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in
die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of
kennis of wysheid nie.
Kom ons leef vandag voluit.
Matt 6 : 34 "Moet julle dus nie oor more bekommer
nie, want more bring sy eie bekommernis." Elke dag bring genoeg
moeilikheid van sy eie.
Hoe leef ons vir vandag?
· Doen vandag iets sinvol of lekker, iets wat jy kan
geniet. Drink koffie saam met jou lewensmaat.
· Gaan kyk vandag daardie rugbywedstryd, want môre is dit dalk te
laat.
· Neem dalk vandag daardie groot besluit. Dit wat jy moet doen om
jou te laat losbreek van die bande van ongelukkigheid wat jou vashou.
· Maak 'n afspraak om vir daardie vriend te gaan kuier wat jy lankal
wou sien.
· Bel vandag jou ma, pa, kind, broer, suster vir wie jy so lank opsy
skuif.
· Beplan meer vir vandag as die toekoms, want jy kom dalk nooit
daarby uit nie.
· Spandeer dalk so 'n paar rand op jouself, of bederf iemand anders.
· Glimlag vir 'n slag. Sommer ook vir jou baas. Dalk val hy om - dan
glip jy vroeg huis toe (grappie!)
· Maak dalk vandag iets met iemand reg, wat jy lankal uitstel.
· Laat vandag tel. Laat môre vir môre en gister in die verlede.
~ Willem Botha, 28/10/2019
|
|
“En sing onder mekaar psalms, lofgesange en
ander geestelike liedere; sing met julle hart tot eer van die Here.”
(Ef. 5:19) Soos wat ek deur die “mekaar”-tekste in die Bybel lees,
sien ek dié ene raak: ons moet saam met mekaar lofliedere sing tot
eer van God. Hoekom? Dis ’n manier om as ’n eenheid saam met
medegelowiges voor God te staan. Dit verskuif die fokus van onsself
en ons onderlinge verskille en probleme na God en ons eendersheid in
sy oë. Dis ’n manier om almal sáám uit een mond en met dieselfde
woorde te verklaar wie die Here vir ons is. Dis ’n manier om almal
sáám Sy eer te betuig. Dis ’n manier om vir die Here dankie te sê
vir sy goedheid, sy verlossing, sy liefde wat ons saambind en om
mekaar daaraan te herinner. Dis ’n manier om ons op te lig uit
moeilike en donker omstandighede en God se lig raak te sien. Dink
maar aan Paulus en Silas wat half doodgeslaan in die tronk sit en
steeds ’n loflied sing (Hand 16:25). Of aan Habakuk wat ten spyte
van groot onsekerheid sê: nogtans sal ek in die Here jubel! (Hab.
3:18) Of aan Jesus wat saam met sy dissipels ’n loflied gesing het
enkele ure voordat Hy gevange geneem is vir sy kruisiging. (Matt.
26:30) Die gesingery hoef natuurlik nie net in die kerk of in ’n
erediens te gebeur nie. Hou ’n lofprysingsaand saam met vriende (en
vreemdes), sing as huisgesin saam, luister saam met mekaar na
geestelike musiek. En ja, ons kán lofgesange onder mekaar sing
sonder ’n orkes, sonder instrumente, sonder spesiale effekte, sonder
perfekte nootvastheid. Sing net saam! “Laat alles wat asemhaal, die
Here prys!” (Ps. 150:6) ~ Wilna Botha, 24/10/2019 |
|
My
oom se motor...
"Jy kan bid vir reën tot jy blou is in jou gesig, dit sal nie 'n
druppel reën as die weerpatrone nie reg is nie. Daardie patrone is
in die natuur ingegraveer en gebed sal nie 'n blou duit daaraan
verander nie."
Hierdie onbesonne en dwase woorde is baie jare gelede deur 'n
ouderling ge-uiter tydens 'n kleingroep byeenkoms. Iemand het hom
egter herinner daaraan dat die Here besluit wanneer dit reën en
wanneer nie, en ons moet ons verootmoedig voor Hom en smeek vir reën,
en op die bestemde tyd sal dit val.
2 Kron. 7:13 - 14 "As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën
is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of
as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep
is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose
weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle
land laat herstel."
Kyk mooi na hierdie bygaande foto, en probeer vir 'n oomblik dink
wat hier gebeur. Ek ken nie die geskiedenis hiervan nie, maar ek het
emosioneel geraak toe ek hierna kyk, en besef dat menige boere
daagliks in hulle dor lande en by hulle diere wat gevrek het, gaan
sit en bid en huil in hulle hande. Daardie tyd wat nóg 'n oes misluk
het, en nóg derduisende rande se insetkoste verlore is. Sodat ek en
jy kan eet, soos wat jy en ek vandag geëet het uit die hand van 'n
boer wat waaragtig deur hel gaan om daardie kos op jou tafel te kry.
Nie eers te praat van die gevaarlike toestande en onbesonne
uitsprake van die regering nie.
Wil jy nie 'n punt daarvan maak om daagliks vir ons boere te bid nie?
En wanneer jy bid voor ete (ek hoop jy doen dit nog), nie net "segen
Vader" of iets soortgelyks blitsig aframmel nie. Kom ons bid
daagliks vir ons boere, ook tydens ons gebede voor ete, kom ons
smeek daagliks vir reën en kom ons draai terug na die Here toe. Hou
ons nie dalk self die reën weg nie?
Jy ken die immergewilde liedjie "My oom se motor is 'n ou masjien".
Die liedjie vertel van die oom wat swaargekry het op die plaas, dit
vertel van sy ou motor en die motortenk vol dieselien en van die
droogte op die plaas. Die bankbestuurder skud net sy kop en staan
nie 'n verdere lening toe nie en die oom ry moedeloos in die lande
in en dan hoor jy die enjin se klak-klak-klak. Dan is die oom se oë
toe want hy kon net nie meer nie. Daar in die landery het hy 'n
einde aan alles gemaak, daar in sy motor. In sy laaste afskeidsbrief
stuur hy (seker onder andere), groete aan Mannetjies Roux. Die
droogte het hom geknak. Het jy geweet dis waaroor dis liedjie gaan?
Ek dink vele boere stap hierdie hartseer pad.
Kom ons bid soos nog nooit tevore nie. Hier volg die lirieke van die
liedjie.
Stuur groete aan Mannetjies Roux
My oom se motor is 'n ou masjien
Hy maak dit vol met dieselien
En hy sing in die strate as hy ons kom sien
My oom is oud en ek is skaars dertien
My oom drink koffie en my tannie tee
Ek vra oor die reën en hy sê ja-nee
En hy drink soet koffie met sy een oog toe
En hy praat weer oor die drie van Mannetjies Roux
O stuur ons net so 'n bietjie reën
My oom het 'n tenk vol dieselien
En seën my pa en seën my ma
En my oom op sy plaas in Afrika
Maar my oom het gesukkel op die plaas
Want die son was te warm en die reën te skaars
En die man van die bank het net sy kop geskud
Want my oom, ja my oom was te diep in die skuld
My oom se motor is 'n ou masjien
Hy maak dit vol met dieselien
En hy ry na die lande in die oggenddou
Die lande vaal en sy oë grou
En as jy in die oggend in die lande stap
Hoor jy nog sy motor met sy klak-klak-klak
Maar my oom, ja my oom se oë is nou albei toe
In sy brief stuur hy groete aan Mannetjies Roux ~ Willem Botha |
|
“Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en
help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle.
So doen julle presies wat Christus van julle verwag.” (Gal 6:2, Die
Boodskap) Dra mekaar se laste. Nie omdat jy wil nie, nie omdat dit
maklik en logies is nie, nie omdat jy iets soek om jou mee besig te
hou nie, nie omdat die ander een dit verdien of dit al vir jou
gedoen het nie, nie omdat jy ’n “groot Christen” is nie, maar omdat
dit is wat Christus van ons verwag. In sagmoedigheid en nederigheid
vat Hy óns laste op Hom en gee vir ons in ruil Sy sagte en ligte juk.
“Neem my juk op julle en leer van My,” sê hy in Matt. 11:29. Ons
moet leer hoe Jesus dit doen en dit dan vir mekaar doen. Mense is
uitgeput van swaarkry en oorlaai met probleme. Sien dit raak en help
hulle. Gaan staan langs hulle en dra saam aan daai laste deur te
luister, deur raad te gee, deur jou hulp aan te bied, deur te bid
vir hulle. “So kan God sy hand deur julle na ander uitsteek en kan
ander sy hand deur julle voel.” (1 Pet. 2:5, Die Boodskap) En wees
verseker dat dié dag wanneer jy dubbel vou onder jóú juk sal die
Here iemand oor jou pad stuur om jou te help dra. ~ Wilna Botha,
22/10/2019 |
|
Skuifel-skuifel
Viktor Frankl skryf is sy boek "Man's search for meaning" van sy
lewe in die Auschwitz konsentrasiekamp. Hulle moes dikwels in 'n
baie lang ry staan en stadig vorentoe skuifel-skuifel, op pad na 'n
Duitse offisier toe. Wanneer jy by hom kom, het hy sonder enige
emosie met sy vinger vir jou gewys dat jy na links of regs moet gaan.
Na die een kant toe het jy die sogenaamde "seleksie" oorleef, en na
die ander kant toe is jy summier na die gaskamers toe gestuur om te
sterf. Hulle het elke keer geweet wat gebeur en niemand het hulle
teëgesit nie want hulle was so maer en uitgeteer, hulle het net
gedwee gedoen soos wat hulle aangewys is om te doen. Frankl het
hierdie proses 28 keer oorleef en is na die oorlog vrygelaat. 28
keer keer het hy genade ontvang, sonder om iets te doen om dit te
verdien!
Wat my toe laat dink aan ons lewens, ons is ook in hierdie
verskriklike lang ry besig om voetjie vir voetjie vorentoe te skuif,
sekonde vir sekonde, en jy kan nooit terugdraai nie, vorentoe moet
jy vorentoe. Almal van ons is in hierdie ry, maar ons weet nie wie
voor ons of wie agter ons is nie, jy skuifel-skuifel net elke
oomblik 'n paar duime vorentoe. Daar voor ons is ook 'n "seleksie"
proses aan die gang, en iewers gaan jy voor in die ry kom. Jou "voor"
kan enige oomblik wees, of dalk oor baie jare, en jou hele familie
staan ook in hierdie ry, maar niemand weet wie voor of agter wie
anders is nie. Skuifel-skuifel, vorentoe. Jy het al heelwat gevorder
sedert gister.
Ek sien in my geestesoog dat daar voor ons een van twee opsies is,
óf 'n afgrond na 'n baie slegte plek toe, óf 'n lanseer platform,
waarvandaan jy na jou hemelse tuiste toe gaan, as jy dit gekies het.
Vandat jy hierdie stukkie begin lees het, het hordes mense reeds een
van daardie twee bestemmings bereik. Daar gaan nou net nog 'n paar!
En nog... ! En nog. Skuifel-skuifel.
Jy ken die tekste wat sê dat jou geloof jou red, geloof wat jou
verseker na die lanseer platform toe neem, en dan die ander pad, die
slegte pad wat sommige mense nie glo bestaan nie, die pad wat mense
so roekeloos stap, sonder om twee keer te dink. Dis mos eers eendag.
En hoe op aarde sal 'n liefdevolle God dit toelaat? Wel, die Bybel
sê hierdie God is so ’n liefdevolle God, dat jy kan kies om na Hom
toe te gaan, want Hy het sy Seun gestuur. Vir die gelowige wag daar
nie 'n vinger wat jou koud en gevoelloos na een of ander kant toe
wys nie, dis reeds afgehandel.
Rom. 8:1 "Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus
Jesus is nie."
Jy as gelowige hoef niks anders te doen om by die Platform uit te
kom nie, maar jy kan vele ander se bestemmings verander. Jy skuifel
reeds vorentoe in hierdie ry en jy kan nie omdraai nie want vader
Tyd neem jou vorentoe, jy kan dus net sowel hierdie waarhede met
ander deel, en hulle bestemming verander. Sê dit net, verkondig dit,
deel jou geloof en verander lewens, jy hoef nie slim te wees nie,
deel net wat jy glo. ~ Willem Botha, 21/10/2019 |
|
“Leer en onderrig mekaar met alle wysheid.” (Kol.
3:16). “Leer mekaar wat reg en verkeerd is. As iemand ’n fout maak,
help hom reg”, sê dié teks in Die Boodskap. Gal 6:1 sê ook hoedat
ons mekaar in ’n gees van sagmoedigheid moet reghelp. Die
fokuswoorde hier is natuurlik “mekaar”, “met alle wysheid” en “in
’n gees van sagmoedigheid”. Dié een met die wysheid en kennis en
insig oor ’n saak, moet dit met sy geloofsgenote deel. Tegelykertyd
moet hy natuurlik ook ’n oop hart en verstand hê wanneer iemand
anders as die leermeester aan die woord is. As dit by onderrig oor
geloof- en Woord-sake kom, is dit altyd ’n gee en neem situasie. Gee
lering, maar ontvang dit ook met ’n leerbare gees. Help iemand reg,
maar wees ook bereid om teregwysing te aanvaar sonder om kleinserig
en liggeraak te wees. In Jak. 3:1 lees ons dat ons nie almal
leermeesters moet wees nie, want dié wat ander leer sal strenger
beoordeel word. Wees dus versigtig wanneer jy die leermeester is om
nie iemand verkeerd te leer en hom sodoende te laat struikel nie.
Vra die Here vir die wysheid en insig wat jy nodig het. Gebruik
groot porsies geduld, sagmoedigheid, nederigheid en begrip. Kies jou
woorde goed. Gebruik eenvoudige taal. Moenie probeer om mense te
beïndruk met jou kennis nie. Deel jou eie ervaring en praktiese
toepassing van die inhoud van jou lering, nie net jou teoretiese
kennis nie. Laat dit jou liefde vir die ander persoon wees wat jou
dring om jou kennis en insig oor te dra. ~ Wilna Botha, 17/10/2019 |
|
Jaco - Ek het
in Julie geskryf van 'n man met die naam van Jaco, 'n swerwer vir
wie ek met die hulp van 'n teksvers wreed weggestuur het uit my lewe.
Lees eers weer daardie gedeelte voordat jy by episode twee kom.
Jaco - episode 1(die goor gedeelte)
Jaco is 'n swerwer, hy is altyd iewers op pad heen en sy enigste
wiele is mense wat hom oplaai, waar sy punt B ook al was. Ek het hom
op snaakse, onwaarskynlike plekke gekry en dan maar opgelaai. Soms
was hy op pad om te gaan karre oppas in Boksburg, of hy sou iemand
gaan sien wat vir hom moontlik 'n werkie gehad het, en soms het hy
in die aande by my huis aangekom en gevra vir 'n kombers of 'n paar
rand, en hy het altyd oor die Here gepraat. Maar volgende keer as hy
weer kom is daai kombers weer weg. Maar toe vertel 'n vriend vir my
dat sommige (die meeste van ons) onder die sondeval leef omdat ons
nou moet werk as straf op Adam en Eva se sondes, maar ander teer op
daardie mense wat hard werk en onder die sondeval "suffer". Toe is
ek kwaad vir Jaco. Hoekom moet ek "suffer" onder die sondeval en hy
nie? Niks wat ek het, het uit die lug geval nie, want ek "suffer"
daarvoor onder die sondeval. (Terloops, die opdrag om te werk was
egter gegee voor die sondeval.)
En toe kom klop Jaco een aand laat aan my deur en ek is kwaad vir
hom, en vir Adam en Eva en dalk bietjie ongemaklik met God want Hy
is unfair, en ek was effe in 'n slegte bui en daar bars daardie ding
uit soos wanneer jy Mentos sweets in 'n bottel Coke gooi (blykbaar).
En ek verduidelik vir Jaco van daardie teks wat sê in 2 Thes 3:10
Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: “As
iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” Toe vra ek dat hy
eerder nie weer moet terugkom nie want ek kan nie my eie gesin
versorg en ander swerwers nie. Ek onthou hoe hy daar weggestap het
met krom skouers en sekerlik bitter seergemaak en verneder gevoel
het. Ek het goed gevoel, want ek het hom met die Bybel getref,
tussen die oë.
Ai, maar toe kom daar ander tekste in my gedagtes op en die Here
tref my ook tussen die oë, met dieselfde Bybel. Wat jy aan die
geringstes gedoen het, het jy aan My gedoen.... Doen aan ander... Jy
moet jou naaste liefhê soos jouself...
Dalk het Jaco gebid vir iets om te eet en die Here het gesê: Gaan
maak 'n draai by Willem, ek het vandag vir hom 'n groot bestelling
gestuur, en hy ken bietjie van die Bybel, soos in Gal 6:9 "Laat ons
dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie,
sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel."
Is ek vandag R50 ryker? Ek twyfel, maar ek voel so bitterlik sleg.
Ek hoop hy loop weer langs die pad waar ek ry, ek wil vir hom skuus
sê, en vir hom R50 gee.
Jaco -
episode 2 (die wonderwerk)
Ek het van daardie dag 'n paar maande gelede aanhoudend gebid dat ek
weer vir Jaco iewers langs die pad sou raakloop, maar sonder sukses,
aangesien Jaco niks meer het om in ons woonbuurt te doen vandat ek
hom weggestuur het nie. Hy het nie meer kontak met iemand anders
hier waar ek woon nie. Maar die Here het 'n baie beter plan gehad as
wat ek my kon indink. Vanoggend was ek in die gimnasium toe ek 'n
boodskap van vroulief kry met die woorde: "Jaco was hier, hy wou net
kom vergifnis vra dat hy ons teleurgestel het." Bid jou dit aan, hy
wou MY om vergifnis vra! Hy het niks om voor vergifnis te vra nie!
Ek het net besef dat die Here hom teruggestuur het na ons toe.
Ongelooflik!
Ek het onmiddellik alles net so gelos en so vinnig ek kon gery om
vir Jaco te soek, want hy was klaar weer op pad. Nou, hier is so 'n
effe van nog 'n wonderwerk in hierdie ding. Vroulief het nie
vanoggend saam gaan oefen nie omdat sy olik was, en ons sou vir Jaco
gemis het as sy nie tuis was nie.
Ek het vir Jaco so 'n klein entjie van ons huis af gekry waar hy
stap langs die pad. Hy het onmiddellik begin om te vra dat ek hom
sal vergewe omdat hy ons teleurstel het, maar ek het met trane gevra
dat hy MY sal vergewe omdat ek so wreed was, wat hy natuurlik
onmiddellik gedoen het, en ons kon praat soos ou vriende. Ek het ook
genoem dat hy enige tyd welkom is by my huis en dat ek hom altyd sal
help met iets as ek kan. Daardie berg wat op my skouers was is af,
en ek kan net die eer vir die Here gee vir hierdie wonderwerk.
Die Here het hierdie volgende teks in my ingeplant na hierdie
episode, en ek sal streef om dit uit te leef so lank as wat ek kan,
en ek weet dit is bitter moeilik, want mens het regtig
onderskeidingsvermoë nodig.
Spr. 3:27 "Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom,
terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie."
Ek sal altyd dankbaar wees dat die Here hierdie skade wat ek gedoen
het, uitgewis het. So werk Hy. ~ Willem Both1, 16/10/2019 |
|
“Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.”
(1 Pet. 4:9) Hierdie is vir my seker die moeilikste “mekaar” teks om
te doen. Ek troetel my eie spasie, ek is jaloers op my privaatheid,
ek stel my eie gerief en my tyd hoog op prys en is teësinnig om dit
op te offer. Om alles te kroon lees ek toe nou nog dié teks in Die
Boodskap ook. Dit sê: “As iemand by jou opdaag en jou hulp nodig het,
help hom met ’n glimlag sonder om onderlangs te kla of te brom.”
Sonder om te kla of te brom! Ek het nogal gewonder hoe ons hierdie
opdrag in ons lewens kan laat realiseer, aangesien ons in ’n tyd
leef waar ons nie ons huise sommer vir enige vreemdeling kan oopmaak
nie. Dalk moet ons net ons harte meer oopmaak vir ander mense, hulle
toelaat om in ons persoonlike spasie in te kom, hulle intrek in ons
gesprekke. Ons moet ’n gasvrye gesindheid hê. Sodoende gee ons vir
mense die boodskap dat hulle welkom en aanvaar en veilig in ons
teenwoordigheid is. Ons moet mense laat tuis voel in ons geselskap.
’n Ander teks sê: “wees hartlik teenoor mekaar” – sien, dit behels
jou oop hart, dit vra vir gasvryheid van jou hart. Aanvaar mense in
jou teenwoordigheid net soos hulle is, sonder voorbehoud, sonder
vooroordeel en veroordeling. Hoe kan ons dit prakties probeer? Waag
dit om iemand vreemd of “anders” as jy te groet en ’n geselsie aan
te knoop. Nooi ’n slag iemand anders as jou vriende en familie vir
’n ete – dit hoef nie ’n wildvreemde persoon te wees nie, dalk
iemand by jou werk, of ’n gemeentelid, of jou bure. Vat een keer per
maand iemand uit vir ’n koffie – elke keer iemand anders – wys vir
hulle dat jy belangstel in wie hulle is en wat vir hulle belangrik
is. Luister na hulle lewenstories en deel in hulle lief en leed. Die
Here maak vir ons spasie in Sy binnekring, ja selfs in sy ewige
woning maak Hy vir ons plek gereed. Waarom sal ons dit nie ook doen
nie? “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees,
het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste
gehuisves.” (Heb. 13:2) ~ Wilna Botha, 15/10/2019 |
|
Gevoel
Ons almal kry dikwels 'n gevoel, iets wat hier in jou binneste werk,
gewoonlik daar by jou hart rond. Soms is daardie gevoel positief en
vrolik, maar dis dikwels (of dalk meer gereeld) negatief.
Daar is min dinge so sleg as om met hierdie uiterste swaar,
afremmende gevoelens rond te loop. Dis vreeslik om uiters moedeloos
en magteloos te voel, dalk nog erger om bevrees en uiters bang te
voel. Om arm en platsak te voel is self baie erg, en om te voel daar
is geen lig in die tonnel nie, voel verskriklik. Daar is gevoelens
wat jou kan breek, en eensaamheid, verlorenheid en verlatenheid kan
jou ernstig oorweldig.
Ai, en kan mens nie nuttelose voel nie! Nie eers te praat van
depressief nie. Paulus het ook sy kommer uitgespreek oor baie dinge,
wat gewoonlik verband gehou het met ander mense en nie soseer met
homself nie. As ek nou tussen al hierdie verskillende dinge een tipe
gevoel moet uitsonder, sou ek dink dat diepgewortelde hartseer die
ergste kan wees. In Engels word die woord "brokenness" gebruik, en
dit sê nogal baie. Met die afsterwe van 'n geliefde maak hierdie
gevoel mens dood.
Daar is baie teksverse in die Bybel oor hierdie dinge, maar die
woorde "moet jou nie bekommer nie", is van die moeilikste om te
gehoorsaam. Ek kry dit net nie reg nie. Ek het al gehoor dat mense
uitsprake maak wat regtig nie veel gewig dra nie, soos dat kommer en
vrees sonde is en van die duiwel af kom. Gelukkig is dit nie waar
nie! Die woorde "ruk jouself reg", is voorts wreed en onsensitief!
Jy sien, as ons dit sou regkry, is ons geestelike robotte wat
gevoelloos deur die lewe gaan en al vorme van emosie net totaal
onderdruk.
Nou ja, as jy nou dink dat ek sommer vinnig 'n kragtige teks hieroor
gaan aanhaal, maak jy 'n fout. Ja, natuurlik is daar vele tekste wat
hieroor handel, maar dis moeilik om dit net te vat en uit te leef.
Daarom wil ek nie vandag 'n paar tekste uitpluk nie, maar eerder
hierdie gevoels-ding terugplaas op onsself.
Omdat ons nie robotte is nie, maar eerder gevoelsmense, moet ons
daardie sagtheid en deernis vir mekaar beskikbaar stel. Om met
iemand simpatie en empatie te hê, beteken om saam met iemand te huil
as dit swaar gaan, en om net daar te wees as iemand se pad te swaar
raak en om 'n oor te hê en te luister. 'n Geestelike robot het
regtig nie daardie vermoë nie, en selfs tekste uit die Bybel kan
soms so leeg klink.
Ek dink dat, as jy saam met iemand anders gaan "voel", doen jy wat
die Here verwag. Dra mekaar se laaste beteken nie om daardie laste
te probeer wegneem nie, maar eerder om die anders persoon te help om
deur daardie laste en gevoelens te worstel. Dit is hoe hulle die
Here gaan raaksien, deur jou. ~ Willem Botha, 14/10/2019 |
|
“Leef in vrede met mekaar.” (1 Tess. 5:13) Nog
’n “mekaar”-vereiste wat die Bybel vir ons stel: vrede. Sonder vrede
is ons kwaad vir mekaar, sal ons baklei en mekaar uitskel, sal ons
mekaar veroordeel en ignoreer, sal ons wrokke koester en verseg om
mekaar te vergewe. Kyk hoe belangrik is vrede vir Jesus: “Maar Ek sê
vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor
die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir 'n gek, is
strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir 'n idioot, is
strafbaar met die helse vuur.” (Matt. 5:22) Met vrede sal daar
harmonie, begrip, aanvaarding en respek tussen ons wees. Moenie ’n
dag kwaad afsluit nie, sê die Bybel in Ef. 4:26. Maak liewers
vinnig vrede, anders gaan jy slapeloos rondrol. Die Here sê ook dat
as jy jou offer bring en onthou dat jou broer het iets teen jou het,
dan moet jy die offer los en eers gaan vrede maak. (Kyk Matt. 5:23)
Sien, al is die ander persoon die bron van die onvrede, moet ons
die eerste stap neem en uitreik en dinge gaan regmaak. Wie is daar
wat jy vermy? Jy kyk anderpad as jy hulle raakloop. Jy het hulle
“unfriend” op Facebook. As jy aan hulle dink, voel jy verbitter. As
jy hulle naam hoor, laat dit ’n swaar gevoel in jou binneste. Dis
húlle met wie jy moet gaan vrede maak. Ons praat nie hier van
vreemdelinge nie. Ons praat van familie, van gemeentelede, van bure,
van ou vriende en werkskollegas. “En die vrede wat Christus gee,
moet in julle lewe die deurslag gee.” (Kol 3:15) Die Here gee Sy
vrede vir ons as genade en voorreg en dit moet uitvloei in vrede
met ons naaste. Dit lyk my vrede met mekaar is nie opsioneel nie,
dis ons plig. Hoe langer jy uitstel, hoe moeiliker word dit. Om die
vrede te bewaar is belangrik – dis iets wat opgepas moet word, dis
iets wat nie gelos moet word nie, ons moenie kompromieë daaroor
toelaat nie. “Dit moet ook vir julle baie belangrik wees om die
vrede wat Christus vir julle gegee het, tot elke prys te bewaar. As
julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die keuse vir die vrede
van Christus. Om die vrede te bewaar is belangrik, want God verwag
van julle om soos een liggaam saam te werk. Hy wil geen
dwarstrekkery hê nie.” (Kol 3:15, Die Boodskap) As daar onvrede
tussen ons is, mis ons uit op ’n ondersteuningstelsel, op vriendskap,
op meelewing, op iemand om die goeie en slegte van die lewe mee te
deel. As daar vrede tussen ons is, kan ons saamwerk en saamstaan,
kan ons mekaar troos en bemoedig, kan ons mekaar aanspoor en na hoër
hoogtes help. Jaag vrede na. ~ Wilna Botha, 10/10/2019 |
|
Nine One One
Ons weet almal van die sogenaamde "Nine One One" noodnommer in
Amerika. Ons sien dit daagliks in rolprente en televisie reekse en
dit word van kleins af by kinders ingeprent. As daar moeilikheid is,
skakel 911.
Jy gebruik daardie nommer enige tyd, dag en nag as jy hulp soek, en
dan kan jy vir seker daarop staatmaak dat hulp sal opdaag en jou kom
red uit jou verknorsing, ongeag wat die situasie mag wees. Voorts is
dit gratis. Ons as kinders van die Here beland ook dikwels in nood
en soek naarstiglik na uitkoms as daar slegte goed gebeur, of as ons
bang en bevrees raak.
Die goeie nuus is dat ons ons eie noodnommer het en ook daar kan jy
enige tyd, dag en nag, vir hulp, beskerming en vertroosting gaan
aanklop. En dit is natuurlik ook gratis. Die nommer is 911.
Dus, as jy enige hulp nodig het, kyk na 911 in Psalms.
Ps. 9:11 "Daarom vertrou almal wat u naam bely, op U, want U, Here,
laat dié wat vra na U wil, nie in die steek nie."
Daar het jy dit, die hele "diens" wat 911 bied word daar beskryf. As
jy na Sy wil vra, sal jy dit kry en hulp daag onmiddellik op, want
Hy sal jou nie in die steek laat nie. En anders as met enige "call
center", is die lyne nooit beset nie, die oproep word onmiddellik
beantwoord. Ek wens so ons kon dieselfde van ons 911 eweknie hier in
Suid-Afrika sê.
Maar nou weet ek, ons skrik soms so groot as ons in die nood is, dat
ons dalk nie seker is van presies waar in Psalms dit staan nie. Ek
dink die Here het dit toe dalk met 'n tikkie humor in Ps.91:1 ook
herhaal. Kyk hoe staan dieselfde belofte daar.
Ps. 91:1 "HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal
vernag in die skaduwee van die Almagtige."
Nou ja toe, 'n fout kan jy nie maak nie, in Ps. 9:11 en in Ps. 91:1
het jy nou jou eie 911 noodnommer, gebruik dit gereeld, dis gratis!
~ Willem Botha, 09/10/2019 |
|
“Wees altyd ... geduldig en verdra mekaar in
liefde.” (Ef. 4:2) Verdraagsaamheid en geduld word in Kol. 3:12-13
ook in dieselfde asem genoem en ons weet ook maar al te goed dat dié
twee “mekaar-dinge” hand aan hand loop. Ai ek is lekker skuldig in
hierdie opsig. Soms wil mens mos dinge vinnig gedoen kry, soms is
mens se irritasie vlakke hoog, ander kere is mens moeg of olik,
partykeer is mens dalk net ongeskik of so op jouself gefokus dat jy
net nie tyd en krag het vir geduld en verdraagsaamheid met ander nie.
Hulle onvermoë om soos jy te dink, so vinnig op te tree of besluite
te neem soos jy, maak jou kort van draad. Hulle foute en
tekortkominge maak dat jy hulle sommer net wil vermy. Stop ’n slag.
Gee een tree terug. Haal diep asem. Sit jou eie gejaag en jou eie
program bietjie eenkant. Doen moeite om die mense om jou raak te
sien en te probeer verstaan hoe hulle dink en wat vir hulle
belangrik is. Besef dat jy nie altyd weet waarmee hulle moet “cope”
en watse probleme hulle dalk het nie. Meer geduld en
verdraagsaamheid van jou kant af kan dalk volg as jy probeer om jou
in hulle skoene in te dink. Ek weet dis lekkerder om saam met mense
te wees wat soos jy is en soos jy dink. Ek wil gewoonlik ook sommer
dié mense vermy wat my verkeerd opvryf en my geduld beproef, wat nie
saam met my stem en my standpunt respekteer nie. Jy gaan waarskynlik
vandag nog getoets word oor geduld en verdraagsaamheid – die persoon
wat nie gou genoeg ry wanneer die verkeerslig groen is nie, jou kind
wat sukkel met sy huiswerk, jou man wat nie sy vuil klere in die
wasgoedmandjie gooi nie, jou huishulp wat iets gemis het, die kelner
wat nie gou genoeg jou bestelling bring nie ... en so kan die lys
aangaan, nè! O ja en wees sommer bietjie geduldiger met jouself ook.
As die vrug van die Gees in Gal 5:22 genoem word, is geduld een van
hulle. Sonder geduld, kan vriendelikheid, selfbeheersing, liefde en
vrede dalk ook in die slag bly. Kom ons vra die Gees om die
geduld-vrug ryp en soet en mooi te maak ons lewens. “Net soos ’n
boom wat ’n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat
hulle aan God behoort. Sulke mense gee baie om vir ander ... Hulle
verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees. Hulle
straal vriendelikheid en warmte uit; daarom wil ander graag in hulle
teenwoordigheid wees.” ( Gal. 5:22, Die Boodskap) ~ Wilna
Botha, 08/10/2019 |
|
Waar die tekkie die teer tref...
Iemand vertel vir my dat hy by 'n bekende spreker gehoor het dat hy
al sy ou viniel musiek plate moet verbrand, want dit veroorsaak dat
daar nie finansiële deurbrake in sy lewe kom nie. Dit het gepaard
gegaan met Skrif. Hy het dit gedoen, maar toe kom niks van die
beloofde deurbrake nie. Iemand vertel dat hulle verkeerd bid en
daarom word haar suster wat terminaal siek is, nie gesond nie. Dit
het gepaard gegaan met Skrif. Hulle het toe "reg" begin bid, maar
die suster het gesterf. 'n Bekende spreker het vertel dat armoede
nie deel van God se plan is vir sy kinders nie. Voorts het hy
gepredik dat jy "lewe" moet spreek en dan sal jy nie siek word nie,
want dis nie deel van God se plan nie. Siekte kom van die bose. Dit
het natuurlik ook gepaard gegaan met Skrif. Hy self het egter 'n
ongeneeslike siekte gekry en gesterf. Iemand het 'n "profeet" gaan
sien oor hulle besigheid en die persoon het vir hulle raad gegee om
'n sekere besigheid te koop. Dit het gepaard gegaan met Skrif. Die
besigheid het egter ten gronde gegaan en hulle het bykans alles
verloor. Iemand het vertel dat hulle geen deurbrake in hulle lewens
kry nie want hulle ouers het dinge gedoen wat nou tussen hulle en
die Here staan. Dit het gepaard gegaan met Skrif. Daardie "vloeke"
is gebreek, maar niks het verander nie. 'n Man wat ek ken kom lank
gelede by my aan met 'n pragtige spoggerige motor. Ek het hom
daarmee gekomplimenteer , waarop hy die volgende geantwoord het:
"Die Here het dit vir my gegee. 'n Kind van God ry darem nou nie met
'n ou klein verspotte motortjie rond nie." Hy het later alles wat hy
besit verloor.
Die probleem wat ek hiermee het, is dat vele mense al Geestelik
skade berokken is deur mense wat die Here en die Bybel net vir
persoonlike gewin aanwend. Wat sê jy vir iemand wie hulle hoop SO op
hierdie beloftes geplaas het, en dan het dit nie waar geword nie en
'n geliefde sterf? Vernaam as dit nog met Skrif gepaard gegaan het.
Hoeveel mense verloor nie hulle geloof in die Here as gevolg hiervan
nie?
Kom ek skets die ander kant. Ek het al van vele mense gehoor wat
wonderbaarlik genees is, ek het al van SOVEEL finansiële deurbrake
gehoor, en ek is oortuig jy en ek kan albei daarvan getuig. Voorts
glo ek dat die Here jou seën met dinge waarvoor jy hard werk en wat
eerlik verdien word.
Ek dink net alles wat vir mense as "beloftes" van God voorgehou
word, gepaard moet gaan met "as die Here wil". Ek verstaan nie
hoekom sommige mense deur die smart moet gaan wat hulle gaan nie en
ek het nie antwoorde op die "hoekoms" nie, maar ek wil tog 'n teks
aanhaal.
Hab. 3:17 - 18 "Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe
aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande
geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees
nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here
jubel, sal ek juig in God, my Redder."
Kom ek gee dit my eie woorde:-
" Al sou ek my besigheid verloor, en daarmee saam alle aardse dinge
wat ek besit, al sou iemand naby aan my ontydig sterf, en al sou ek
self gediagnoseer word met 'n erge siekte, al sou ek my werk verloor
en geen inkomste het vir my oudag nie, al sou my kinders in
verkeerde dinge verval en my lewensmaat my verlaat en ek
stoksielalleen oud word, en al sou ek by 'n punt kom in my lewe dat
ek net eenvoudig geen hoop meer het nie, sal ek steeds uitbundig vir
die Here die eer gee en sy Naam groot maak, en dankbaar wees vir die
kleinste stukkie daaglikse brood. Ek sal Hom dan steeds die eer gee
as my God en Redder."
Mag ek by daardie punt in my lewe kom, want ek is nog nie tot daar
getoets nie, en ek glo nie ek is al daar nie. Daar waar die tekkie
die teer tref, gebeur dinge soms anders as wat ek dit begeer. ~
Willem Botha, 07/10/2019 |
|
'n Taai toffie
Hierdie boodskap het dalk 'n ouderdomsperk nodig. Soort van. Maar ek
weet nie juis of dit bo 18 of onder 18 moet wees nie. Lees maar op
eie risiko.
Ek hoor van 'n spreker wat met 'n klompie mans gesels en hy stuur 'n
bak met Wilson toffies om, met die opdrag dat elke man 'n toffie
moet neem en die papiertjie baie versigtig afhaal, sonder om dit te
skeur en eenkant hou. Elkeen moet toe die toffie in sy linker kies
sit en bietjie suig. Daarna moet die toffie na die regter kies skuif
en weer bietjie gesuig word. Toe moet die toffie aan die regterkant
van die mond net een byt gegee word en toe moet dieselfde aan die
linkerkant gedoen word. Die spreker sê toe dat hulle die toffie nou
moet uithaal en baie mooi toedraai in die papiertjie en dit terugsit
in die bak. Hy neem toe die bak en stuur dit weer om met die opdrag
dat elkeen weer enige toffie vat, die papiertjie afhaal en weer in
sy mond sit. Nodeloos om te sê het die manne gegril tot onder hulle
toonnaels en niemand wou dit doen nie. Natuurlik nie!
Toe sê meneer spreker: Dit is hoe dit is om saam met 'n ander ou se
vrou te slaap (of eerder wakker bly). Kyk wat sê Salomo oor hierdie
saak in Spreuke.
Spr. 5:15 - 20 "Jy het tog self 'n vrou, jy het tog self 'n put met
water: drink die strome uit jou eie fontein. Moet jou fonteine dan
ook die wêreld vol loop, jou strome water oral heen vloei? Hulle is
tog net joune, en jy sal hulle nie met 'n ander wil deel nie. Sing
die lof van jou eie fontein, verheug jou oor jou eie vrou, so vol
liefde, so mooi soos 'n takbok, soos 'n ribbok. Geniet voluit van
haar liefkosings, laat dit jou deurentyd bedwelm. Waarom sou jy jou
laat bedwelm deur 'n slegte vrou, my seun, waarom sou jy in die arms
van 'n ander vrou gaan lê?"
Nou ja, it takes two to tango, aldus die spreekwoord. En dieselfde
is waar vir albei partye in die huwelik. Nou hoor ek so onderlangs
'n murmurering van droë fonteine en erge toffie kouers. Hier lê
natuurlik 'n boodskap vir albei partye opgeteken in hierdie stukkie,
maar ek wil tog vir die mans iets hier uitlig:
"Sing die lof van jou eie fontein, verheug jou oor jou eie vrou, so
vol liefde, so mooi soos 'n takbok, soos 'n ribbok." Dit werk nogal.
Spr. 6:28-29 "Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete
verbrand? Net so min kan jy by 'n ander man se vrou slaap sonder om
gestraf te word, jy sal nie vry kom as jy met haar lol nie."
Dis nogal 'n Taai Toffie! ~ Willem Botha, 02/10/2019 |
|
“... dien mekaar in liefde.” ( Gal 5:13) Nog ’n
“mekaar”-teks waaraan ek moet aandag gee: dien mekaar. In die
Engelse vertaling sê dit: serve one another. Om mekaar te dien, vra
dus dat ons mekaar sal BEdien. “And all of you must put on the apron
of humility to serve one another.” (1 Pet. 5:5, GNB) Soos ’n kelner
in ’n restaurant, met ’n voorskoot en ’n skinkbord, behoort ons
mekaar te bedien. ’n Kelner besluit nie waarmee hy die gas wil
bedien nie, nee, op sy skinkbord is dít waarvoor die gas gevra het,
dít wat die gas nodig het. Die kelner bevraagteken nie die motiewe
van die een wat die bestelling geplaas het nie, hy redeneer en
kibbel nie daaroor nie, hy gee nie verskonings waarom hy nié die
persoon gaan bedien nie. Nederig, met sy voorskoot en sy skinkbord,
sonder dat sy eie verwagtinge, sy eie probleme, sy eie moegheid, sy
eie swakheid, sy eie nood tel, bedien hy die persoon aan sy tafel.
Wat is op jou skinkbord waarmee jy jou familie en vriende en
gemeente kan bedien? Dalk is dit wysheid, inligting of raad, dalk
jou tyd, dalk iets van jou geld of goed, dalk ’n stukkie van jou
hart of jou gewillige oor, dalk jou voorbidding. Dit mag miskien
moeilik klink om iemand só onverdiend en onvoorwaardelik te bedien,
maar as jy dit doen, dan demonstreer jy Jesus se liefde aan daai
persoon, dan maak jy dalk ’n pad oop na die persoon se hart. Iets
wat ek nou net besef, is dat die teks sê: dien MEKAAR, wat tog ook
beteken dat daar wel ’n dag gaan wees dat die skinkborde omgeruil is
en jý weer aan die ontvangkant van iemand anders se mededeelsaamheid,
hulp en bediening gaan wees. So, as daardie geleentheid aanbreek
moet ons met oop harte en hande iemand anders se onvoorwaardelike
diens aan ons aanvaar en ontvang as ’n seën uit die Here se hand. ~
Wilna Botha, 01/10/2019 |
|
Staan saam
Fil. 2:1-4 "Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die
aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige
meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur
eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet
niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die
een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie
belange dink nie, maar ook aan dié van ander."
Hierdie is nie 'n nuwe ding nie, hierdie konflik tussen nasies oor
geloof, tussen verskillende gelowe, verskillende denominasies binne
'n geloof, konflik binne omgeegroepe, konflik in bedieninge by 'n
gemeente, konflik tussen vriende oor geloofsoortuigings en konflik
oor die mees nietige dingetjies. Daar was al oorloë, slegte
vriendskappe, verwydering binne families en ek glo selfs egskeidings.
Nie eers te praat van gevegte op kerkrade nie! Ek het dit so baie
keer eerstehands beleef en het dikwels gedink iemand gaan 'n ander
met die vuis bykom. Dis wat Paulus hier aanspreek, waar hy verwys na
konflik binne die gemeentes. Almal soek net hulle eie belang, wil
graag hulle sin hê en buig nie die knie voor 'n ander gelowige nie.
Let wel, hy praat hier van mense wat dieselfde Here dien en wie
almal glo hulle gaan hemel toe. Ek het tot die gevolgtrekking gekom
dat die meeste konflik in lofprysingsbedieninge plaasvind. O koek,
en nie te praat van die gewilde ou finansies nie! Ai, wat oorlog
teen die bose moet wees, word 'n oorlog tussen broers en susters.
Die duiwel hoef sommer niks te doen nie, ons roei sommer onsself uit.
Dis so hartseer!
Paulus spreek hierdie woorde uit: "Aangesien julle die troos in
Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die
gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak
dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde,
een van hart, een in strewe."
Aangesien... Dit wys vir my op dankbaarheid OMDAT julle die troos in
Christus ondervind het..., wees eensgesind. Dis 'n moeilike een,
maar laat ons streef daarna. ~ Willem Botha, 30/09/2019 |
|
Wat verwag jy van die Here?
Vir baie mense word die seën van die Here gekoppel aan materiële
oorvloed, of gesondheid, of net die totale gebrek aan slegte en
negatiewe dinge. Dis nogal jammer, want in die proses word mens
dikwels teleurgestel.
In 2 Kon. 4 lees ons die verhaal van die weduwee se kruik, waar sy
by Elisa haar lot bekla oor haar skuldeisers, en dan gebeur die
wonderwerk waar sy haar erdekannetjie vol olie vat en 'n klomp
kruike daaruit vol maak wat sy dan verkoop om haar skuld te delg, en
dan bly daar nog oor om van te leef. So lank as wat die kruike
aangedra was het daar olie uit die kannetjie gekom, en toe die
laaste kruik wat beskikbaar was volgemaak is, het die olie opgeraak.
Kyk hoeveel waarheid lê in die volgende teks opgeteken.
2 Kon. 4:2 Elisa het vir haar gesê: "Ek sal jou help. Sê vir my: wat
het jy in jou huis?" Sy het geantwoord: "Ek het niks in die huis nie
behalwe 'n erdekannetjie olie".
Toe gebeur die wonderwerk, 'n reuse wonderwerk met net daardie klein
kannetjie olie. Ek dink die meeste van ons onderskat die Here en
verstaan nie wat Hy kan doen met die minimum nie. As jy vandag in
nood verkeer en jy smag daarna dat die Here uitkoms kan gee, verwag
ons soms dat Hy net dinge kan laat werk op bonatuurlike maniere.
Hierdie gedeelte sê iets heeltemal anders. Dit sê vandag vir jou dat
die antwoord dalk onder jou neus lê, in jou huis, dalk iets tasbaar
wat jy elke dag miskyk. "Ek sal jou help: wat het jy in jou huis?".
Wat is reeds tot jou beskikking wat die Here kan gebruik? Dalk lê
daar 'n paar ongebruikte talente rond wat die Here kan gebruik, dalk
is die antwoord in geleenthede wat jy te bang is om aan te gryp,
dalk is daar 'n paar goed wat mense al aangebied het, maar jy is te
trots om dit te gebruik. Miskien is daar 'n paar vorige pogings wat
nie dadelik gewerk het nie, toe gee jy te gou moed op. Of dalk het
jy meer verwag as om klein te begin en wil jy alles eensklaps
opgelos hê. Dalk verwag die Here dat jy self meer moet doen en
probeer, en dan seën Hy jou eie pogings.
Iemand het lank gelede bogenoemde teks gebruik onder die titel: "Die
Here ontmoet jou op die vlak van jou verwagting". Verwag dat Hy die
uitkoms gaan bring, maar besef dis dalk anders as wat jy dink dit
moet wees. Hou vas aan Sy beloftes, maar laat Hom toe om sy beloftes
na te kom soos wat Hy weet die beste is. Ek dink ons moet alles doen
wat ons kan en moet doen, en al ons talente en vermoëns inspan, en
Hom dan toelaat om te gebruik "wat jy in jou huis het". ~ Willem
Botha, 26/09/2019 |
|
“Praat mekaar moed in. Onthou, julle almal is
nou broers en susters in die nuwe familie van die Here. Daarom moet
julle vir mekaar omgee en mekaar se geloof sterk maak.” (1 Tess.
5:11, Die Boodskap) Hier is nou nóg iets wat ons vir mekaar behoort
te doen – ons moet soveel vir mekaar omgee dat ons mekaar
voortdurend sal moed inpraat om te volhard en sterk te staan in ons
geloof, ten spyte van omstandighede wat twyfel laat wortel skiet.
Ons moet mekaar help om intellektueel en emosioneel en geestelik te
verbeter. 1 Pet. 2:5 sê dat ons almal lewende stene is wat saam
ingemessel is in ’n geestelike huis. Dit help mos nou nie dat jy ’n
goeie baksteen is wat stewig ingemessel is, maar die bakstene om jou
is swak nie – dan gaan die huis wel een of ander tyd intuimel. Doen
moeite om wat jy het en wat jy weet en wat jy voel te deel. Kennis
en ervaring wat jy besit is nie net vir jou eie gebruik nie. Dat jy
dit het, is in elk geval uit God se genade. “Wat ek is, is net
genade, wat ek het, is net geleen ...” Ons moenie net begaan wees
oor ons eie welstand en gemak en vooruitgang nie, maar ook diegene
rondom ons opbou en bevorder. Moedig hulle aan om sterk te wees. Gee
vir hulle hoop. Praat positief. Wys hulle die mooi dinge in die lewe.
Gee vir hulle rede om weer op te staan en vorentoe te kyk. Kain het
gevra: moet ek dan my broer oppas? Ja, ons moet ons broers oppas!
Ons moet uitkyk vir mekaar, mekaar bemoedig, mekaar aanmoedig en
sorg dat die ander een sterk bly staan en getrou bly vashou aan die
Here. “Kom ons help om mekaar se geloof sterk te maak.” (Rom 14:19)
~ Wilna Botha, 25/09/2019 |
|
Joh. 15:12-13 "Dit is my opdrag: Julle moet
mekaar liefhê soos Ek julle lief het. Niemand het groter liefde as
dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê".
Hoe op aarde lê jy jou lewe vir jou vriende af? Kom ek deel met jou
'n stukkie waarheid hieroor wat 'n goeie vriend onlangs vir my
geleer het. As jy iets vir iemand maak met jou hande, of as jy iets
vir iemand spesifiek doen, het jy 'n deel van jou lewe vir daardie
vriend gegee, of afgelê. Ons leef net so 700 800 ure as ons tagtig
jaar oud word, en dis jou hele lewe. Daardie ure (jitte dit klink
min), moet verdeel word tussen baie dinge en mense, en dis die mees
kosbare kommoditeit wat jy besit. Elke uur wat verby is, is
geskiedenis en kan nie herwin word nie en moet dus baie keurig
gebruik word. As jy dus van hierdie ure vir ander gee sonder
vergoeding, is jy besig om jou lewe vir ander af te lê.
Maar kom ons kyk net gou na die negatiewe kant ook. Ek hoor dikwels
hoe mense eintlik spog daarmee dat hulle alewig laat is! Is dit
regtig iets om op trots te wees? As jy dus iemand laat wag nadat
daar 'n tyd ooreengekom is, is jy besig om 'n deel van daardie
persoon se lewe te steel! 'n Deel wat nooit weer herwin kan word nie.
Dit lyk my sommige mense voel net dat dit hulle toekom, omdat hulle
kwansuis te besig is. Ander mense het mos meer ure tot hulle
beskikking. Dis regtig baie swak. Maar genoeg van die negatiewe.
Daar is so baie maniere om jou lewe vir ander "af te lê". As jy by
iemand gaan sit en ondersteun wat swaarkry, gee jy iets uiters
kosbaar van jouself. As jy tyd spandeer om vir ander te bid, is jy
besig om 'n deel van jou lewe af te lê, as jy tyd spandeer om 'n
boodskap vir iemand te tik wat dit nodig het, of 'n oproep te maak
na iemand wat ondersteuning nodig het, gee jy 'n deel van jou lewe.
As jy tyd spandeer om ander na die Here toe te lei, is jy besig om
jou lewe vir ander af te lê.
Jesus sê in hierdie skrifgedeelte dat daar geen groter liefde as dit
is nie. Hy het Sy lewe vir ons afgelê, en al wat Hy verwag is dat
ons ons lewe vir ander moet aflê. ~ Willem Botha, 23/09/2019 |
|
“Aanvaar
mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.”
(Rom 15:7) Hierdie is een van die “mekaar”-tekste wat my diep tref.
Aanvaar mekaar tot eer van God. Ons aanvaarding (aanneem in ons
gemeenskap, verwelkom in ons kring, toelaat in ons ruimte, inneem in
ons harte) van ander, eer God! Alles wat ons aan mekaar behoort te
doen, gaan oor die Here se eer. Dit gaan nie oor hoe goed dit my
laat voel, of hoe opbouend dit vir die ander persoon is, of hoe
positief dit is, of hoe goed die daad is, of oor hoe dit die
gemeenskap kan bevoordeel of ophef en of dit só wonderlik is dat dit
op Kwêla of Facebook beland nie. Dit gaan oor die Here en die res is
’n bonus (wat amper nie eens nodig is om genoem te word nie) Liefde
vir die Here kom eerste en loop uit op liefde en respek vir jou
medemens. Dis hoekom Jesus sê dat ons liefde vir mekaar die bewys is
dat ons Hóm volg. (kyk Joh. 13:35) Hoe kan ons Hom liefhê, volg,
dien, eer, as ons mekaar nie aanvaar nie, as ons nie die son oor ’n
ander se kop kan sien skyn nie. Ek hoef nie eers na rasse of etniese
probleme te kyk om te weet hoe diep dié aanvaarding van mekaar sny
nie ... kyk sommer net na jou familie, jou bure, jou werksmense. Ek
weet ons verskille maak dit vir ons bitter moeilik om iemand sommer
net so, met geite en al, te aanvaar, maar as ons onthou ons
aanvaarding van mekaar gaan oor die Here se eer, dan word dié
onbegonne taak dalkies net makliker en ligter. Die Here aanvaar ons
onvoorwaardelik, nes ons is ... Kan ons dalk bietjie harder probeer
om mekaar te aanvaar en te respekteer? “So then, take one another to
your hearts ... to the glory of God.” (Rom 15:7, BBE) ~ Wilna Botha,
19/09/2019 |
|
Kleingeloof
Matt. 17:20 "Dit verseker Ek julle: As julle maar geloof gehad het
so groot soos 'n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: 'Gaan
staan daar eenkant!' en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik
wees nie."
Ek het hierdie ding al probeer en uitgetoets, toe ek 'n klein
seuntjie was. Ek onthou die dag so goed soos gister, ek onthou my
smagting dat ek hierdie geloof mag hê en ek onthou ook die emosies
wat daarmee saamgegaan het. Ek het van daardie plat vuurhoutjie
boksies versamel wat jy soms in hotels en openbare plekke gekry het
wat oop flap, en dan breek jy die vuurhoutjies een vir een af as jy
dit gebruik. My versameling het daardie tyd gegroei tot 'n hele drie
boksies en ek het so begeer om meer te hê! Toe besluit ek om te bid,
want om een of ander rede het ek bogenoemde teks in gedagte gehad.
Ons het in Villieria in Pretoria gewoon langs die treinspoor (aan
die verkeerde kant) en ek kon uitkyk op Pierneef-rif anderkant die
spoor. Dit was vir my 'n reuse berg.
Ek onthou dat ek toe die boksies in 'n laaitjie gesit het en op my
knieë gaan staan langs die bed, en toe bid ek kliphard. Ek het vir
die Here gevra dat die laai vol bokkies moet wees, en op die koop
toe dat die berg sou skuif. Ek wou sien hoe hy beweeg (om een of
ander rede na die linkerkant toe, seker omdat die see die naaste aan
daardie kant is) en dat daar net 'n reuse gelykte oorbly waar hy
gestaan het. Na my amen het ek opgespring, en die laai oop gepluk (vol
geloof soos 'n mosterdsaad) en daar groei my versameling aan na
steeds slegs drie boksies. En die berg het nie 'n voet versit nie!
Toe besluit ek dat ek meer moet glo en nog bid en aanhou probeer,
maar na talle gebede gebeur daar toe niks! Ek onthou dat ek toe maar
gelate berus het by die Here se besluit en dat Hy dalk besig is
anderdag meer vrygewig sou wees.
Ek het vandag steeds daardie kinderlike geloof, maar ek bid nie meer
om goeters te kry nie. Ek bid ook nooit om geld te kry nie, maar wel
dat die Here vir my sal help om die werk en krag te kry om my
inkomste te verdien.
Daar is vir my baie lewenslesse in hierdie kinderlike geloof van
daardie tyd. Jy sien, ek het nie gedink wat sou gebeur as daardie
berg regtig geskuif het nie, want daar sou traumatiese gevolge
gewees het vir die arme mense wat daar gebly het. Vandag besef ek
dat my gebede ook ander kan beïnvloed (dinge waaraan ek nie eers kan
dink nie), en dat my gebede soms selfsugtig en net vir my eie gewin
is. Verder besef ek dat die Here nie materiële ding sommer so op
aanvraag voorsien nie, want die mens weet nie waar om op te hou vra
nie. As die Here daardie dag vir my daardie laai vol vuurhoutjies
gemaak het, sou ek die volgende dag 'n Chopper fiets (daardie een
met die hoë "handles" en die rathefboom) vereis het. En vandag 'n
Ford Mustang.
Voorts het ek besef dat die Here nie opgehou het om vir my lief te
wees as Hy nie vir my gee wat ek vra nie. Ek was as 'n klein
seuntjie bewus gewees van die Here se liefde en ek is steeds bewus
daarvan.
Laastens weet ek ook dat ek nie moet ophou vra nie, totdat ek 'n
antwoord gekry het. Soms sê die Here "ja", soms sê Hy "nee" en soms
sê Hy "wag".
Ek dink ek sal maar eendag hierdie lewe verlaat met daardie
kinderlike geloof. Ek was so ruk gelede in Villieria en daardie berg
staan steeds, en ek kan vandag bekostig om laaie vol van daardie
vuurhoutjies te koop. Maar ek soek dit nie meer nie. ~ Willem Botha,
18/09/2019 |
|
“Bid vir mekaar” (Jak. 5:16) is nog een van die
vele “mekaar”-tekste in die Bybel. Hoe wonderlik is dit nie as jy
hoor dat iemand vir jóú bid en jou naam voor die Here noem nie. Jy
weet daai persoon dra jou belange op die hart en lig jou as’t ware
op voor die Here. Baie keer het mens nie die emosionele of
geestelike krag om self te bid nie en dan is dit mos kosbaar om te
weet een van jou mede-gelowiges tree vir jou in. Daarom is dit ook
belangrik dat ons daarop ingestel moet wees om vir ander te bid. Ek
het gevind as mens vir iemand vra of jy vir hulle kan bid, sal hulle
altyd ja sê en dit waardeer. Bid vir gesondheid, bid vir verhoudings,
bid vir finansies, bid vir emosies, bid vir veiligheid, bid vir
huwelike, bid vir redding, geloofsekerheid en geestelike groei, bid
teen verleiding en sonde. Iemand kan dalk jou liefde of uitreik na
hom teenstaan of weerstaan, maar kan nie keer dat jy vir hom bid nie.
Bid ’n seën gebed oor jou familie, jou vriende, jou kollegas of
selfs die persoon in die supermark wat jou bedien. Bid stilweg of
hardop. Stuur ’n WhatsApp vir jou mense en sê: vandag het ek vir jou
gebid dat ... Gebruik jou eie, eenvoudige, opregte woorde uit jou
hart en nie die ge-ykte woorde van iemand anders wat jy net “share”
nie. Bid vir ander om te ontvang wat jy graag self sou wou ontvang
uit die Here se hand. Die Bybel sê: bid sonder ophou; bid gelowig en
moenie twyfel dat God jou gebed sal verhoor nie; die gebed van ’n
gelowige het ’n kragtige uitwerking. Die Here sal nie vir ons die
opdrag gee om vir mekaar te bid as hy nie van plan is om ons gebede
te verhoor nie. In plaas van skinder oor iemand, bid vir hom. In
plaas van negatiewe gedagtes oor iemand, bid vir hom. In plaas van
kla oor iemand, bid vir hom. In plaas van gefrustreerd wees met
iemand, bid vir hom. Praying for others in you brokenness is a
selfless act of love. ~ Wilna Botha, 17/09/2019 |
|
Vlieg hoog
Dis halfdrie in die oggend en ek slaap soos 'n klip. My foon lui en
dis my dogter wat my bel en ek skrik my in 'n ander bloedgroep in!
"Hi paps, ek ry nou hier, ek sien paps het nie my boodskap gelees
nie." Sy is op pad terug van 'n plek waar hulle musiek gemaak het en
ek volg haar op die Life360 toepassing, tot waar sy by haar huis is,
naby ons. Dankie Here, dankie vir tegnologie, en dankie vir U
beskerming. Terwyl sy ry en ek die kolletjie sien beweeg waar sy ry, kry
ek hierdie gedagte van die Here wat uit die hemele op ons afkyk en
Sy hand tree vir tree oor ons hou. 'n Beeld vorm van hierdie
kolletjie wat beweeg en die Here sien dit van bo af, vanaf geboorte
tot die dag wat ons sterf. Wanneer is ek die eerste keer deur my
ouers uit die huis geneem na my geboorte? (Ek is in my ouerhuis
gebore). Waarheen? Waar het my paaie nie al orals geloop nie, en
waar sal ek wees die dag as hierdie kolletjie tot sy laaste rusplek
kom? So sien die Here ons lewenspad elke dag in "real time". Hoeveel
keer het ek nie al gevare trotseer en heel anderkant uitgekom nie?
Op die grens trek 'n missiel (die berugte Rooi-oog) laag reg oor ons
koppe waar ons in die loopgrawe lê en tref die slaap lokale 'n
honderd meter verder. Nog een val naby aan ons. Tien jong manne se
paadjie kom eensklaps daar tot 'n einde. Hulle ouers het ook gebid
vir hulle veiligheid, maar hulle word wreed weggeruk uit hierdie
lewe uit. Hoekom nie ek ook nie Here? Hoe besluit die Here wie moet
gaan en wie moet bly? Daardie vraag se antwoord is nie vir ons
beskore nie. Hoe verder jy stap, hoe meer genade is vir jou gegun,
en daarvoor moet ons dankbaar wees. Wil ek weet wat vir my voorlê?
Gewis nie!
So lê ek nou die oggend wakker na hierdie oproep en ek dink na oor
hierdie dinge en die liedjie "Vlieg hoog" van Juanita du Plessis
draai in my kop.
"Hoër as die storms van die lewe, dis onder my
Hoër as die wind van die verlede, dis agter my
Hoër as die son
Na die Lig
Ek vlieg hoog
Op die wind van die Here se genade, rondom my
Hou ek my oë op die wenpaal, voor my
Hoog bo die son
Na die Lig
Ek vlieg hoog."
Ek het net besef, ek hoef my nie te bekommer oor hierdie lewenspad
nie, die Here het hom uitgelê vir my, en ek kan met arendsvlerke
vlieg saam met Hom. Hy weet waar ek vandaan kom en waarheen ek gaan,
ek hoef net my oë op daardie wenpaal te hou, hy navigeer my deur
hierdie pad, wat soms vol gevare en hindernisse is. Hy sien elke
beweging raak en Hy is in elke beweging betrokke. Dis goed genoeg
vir my. ~ Willem Botha, 16/09/2019 |
|
Mot en roes
Matt. 6:19 - 21 “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar
mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak
vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie
verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou
skat is, daar sal jou hart ook wees.”
Baie bekende stukkie hierdie, en so van toepassing op ons almal se
lewens elke dag, daardie mot en roes wat so vernietig. In hierdie
konteks sê dit dat ons moet konsentreer op die ewige lewe eerder as
om al ons energie te spandeer op aardse besittings. Ek sien egter
mot en roes op ander plekke ook in ons lewens, waar onbenullige
dinge jou siel verniel, dinge wat geen ewigheidswaarde het nie, en
definitief ook nie waarde het in ons dag tot dag lewe nie. Hoewel,
dit lyk my daardie mot en roes oorheers alles. Hoe kwaad is ons (ja
ek ook) nie oor ons landsvlag nie, maar is dit die mot en roes werd?
Ons kom sommer in opstand teen vriende en familie omdat ons nie
saamstem nie. Dis mot en roes wat ons verniel. Werkverwante stres is
mot en roes wat ons vernietig, en die politiek torring elke garinkie
wat jou siel aanmekaar hou uit. Is die lewe hier en nou dit werd?
Wat my by die punt bring waaroor ek die afgelope paar dae tob. 'n
Paar vriende is in die afgelope paar jaar oorlede aan ongeneeslike
siektes, en 'n paar wat ek ken worstel nou daarmee. 'n Kennis gaan
een oggend werk toe en sterf aan 'n hartaanval, nog een sterf in 'n
ongeluk. Nog een hoor die tyd wat oor is, is kort.
Nou is my vraag vir jou en my: As ons hierdie tyding kry, gaan ons
nog so besig wees met die mot en roes? Gaan ons nog ons liggame
vernietig met 'n swak lewenstyl? Gaan ons nog so vassit met almal
oor nonsens? Gaan ons steeds vir die familie nee sê as hulle vra vir
'n bietjie van ons tyd? Gaan ons steeds net alles bymekaar maak vir
die toekoms en ophou om NOU te lewe? Kyk, 'n Ford Mustang skree vir
my as hy verby my ry, maar dis maar net mot en roes. Maar my familie
is vlees en bloed, en so ook my vriende, en ja, ek self ook.
Hannes van Kwêla eindig altyd sy program met die woorde: Maak 'n
verskil, maar onthou, maak ook tyd vir jouself.
Laastens, maak ook tyd vir jou verhouding met die Here, sodat jy na
hierdie lewe daar kan gaan inwoon waar geen mot en roes meer
vernietig nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. ~
Willem Botha, 29/08/2019 |
|
Soos wat ek al die tekste in die Bybel opsoek
wat iets te sê het oor hoe ons teenoor mekaar moet optree, het ek
weer dié interessante een op ’n paar plekke raakgelees en bietjie
daaroor gewonder: “Groet mekaar met ’n soen van Christelike
broederskap.” (Rom 16:16) Ek het die vers ook in ’n paar ander
vertalings gelees omdat ek wou probeer verstaan wat daai “soen van
Christelike broederskap” kan beteken. “Greet one another with the
kiss of peace”, sê die Good News Bible; “groet mekaar met ’n
heilige kus”, sê die ou Afrikaanse vertaling; nog ander noem dit ’n
“holy kiss” en ’n “warm greeting.” Of ons mekaar nou groet met ’n
warm handdruk, ’n drukkie, ’n wang-soen of ’n behoorlike soen (soos
ons tannies en oumas ons gesoen het!) moet dit ’n getuienis wees van
ons aangetrokkenheid en aanvaarding van mekaar. Dis natuurlik ’n
kuis en rein soen sonder bybedoelings. En natuurlik moet dit ’n
opregte soen wees, nie vals en geveins soos wat Judas se soen was
nie. Wanneer ons mekaar met die een of ander aanraking groet, vra
dit dat jy uit jou gemaklike persoonlike spasie en jou persoonlike
voorkeure beweeg. Jy maak jou hand, jou arms en jou hart oop vir die
ander persoon en demonstreer dat jy hom respekteer, nie op hom
neersien nie en hom erken as mede kind van God. Om mekaar te groet
(op watter manier ook al) wys dat daar nie kwade gevoelens tussen
ons is nie, dit openbaar ons goedgesindheid teenoor mekaar, dis as’t
ware ’n seëngroet in die naam van Jesus. “Groet mekaar opreg en
hartlik soos Christene dit behoort te doen.” (1 Kor. 16:20, Die
Boodskap) ~ Wilna Botha, 27/08/2019 |
|
Die pad terug na die Here toe is 'n moeilike
pad. Die pad weg is makliker, baie geleidelik, gewoonlik nie
moedswillig of beplan nie, en niks te doen met die totale verloor
van jou geloof of om die Here af te skryf nie. Dis eenvoudig net om
verder en verder weg te dwaal, soos daardie een skaap wat die ander
99 verlaat het en op sy eie gaan wei het. Dit gaan gewoonlik nie
gepaard met rebelsheid teen die Here nie en dit voel gewoonlik nie
of jy weg is nie. Gewoonlik erken jy dit nie aan die Here nie en
definitief nie aan jouself nie.
Tot op 'n dag wat alles so leeg voel en daar niks is wat jou meer
geestelik inspireer nie, wat die Bybel sy trefkrag verloor en waar
woorde in 'n gebed net nie meer wil vorm aanneem nie, amper soos
"Writers block". En dan voel God so oneindig ver, en dis moeilik om
Jesus se Naam te noem, want dis amper te persoonlik. Ken Hy my ooit
nog? En wil Hy my nog ken?
Dan kom daardie absolute begeerte om weer huis toe te gaan, soos die
verlore seun wat besef hy kan nie sonder sy pa nie, want die
wegdwaal was te pynlik, en die sekuriteit en stabiliteit by pa was
maar altyd net die beste. Die verlore seun se besluit is soos met
enigiemand wat uit iets wat sleg is wil uitbreek. Die eerste stap is
maar om voorraad opname te doen en die probleem te erken, en dan sy
vrees opsy te sit en die lang pad terug aan te durf, met vrese en
al. Wat gaan my Pa sê? Jy ken die storie, die pa het hom met oop
arms tegemoet gehardloop en hom met trane verwelkom. Die Here doen
ook so, Hy wag geduldig, en Sy hand was steeds elke oomblik op jou.
Geen verwyte, geen "Ek het jou mos gewaarsku", geen "jy was mos
hardkoppig" nie, geen "wag maar eers tot ek afkoel" nie. Net "Kom
hier, kom rus in My arms, ek het jou nog meer lief as altyd".
Softly and tenderly Jesus is calling
Calling for you and for me
See on the portals He's waiting and watching
Watching for you and for me
Come home, come home
Ye who are weary come home...
Earnestly, tenderly Jesus is calling
Calling, "O sinner come home"
O for the wonderful love He has promised
Promised for you and for me
Though we have sinned He has mercy and pardon
Pardon for you and for me.
Come home....
- Gebaseer op 'n ware verhaal, ook my verhaal... ~ Willem Botha,
26/08/2019 |
|
Ek lees nog
deur al die “julle moet mekaar...”-tekste in die Nuwe Testament. Ek
besef dat ons nie sonder mekaar kan bestaan nie, almal het een of
ander tyd iemand nodig. Ons is nie enkelinge nie, ons leef nie in
isolasie nie. “No man is an island” word daar mos gesê en gesing.
Ons kan nie gelukkig wees op ons eie nie. Ons kan nie vervuld wees
op ons eie nie. Ons kan nie ’n lewensdoel hê op ons eie nie. Ek het
al gewonder hoekom is daar gedeeltes op mens rug waar jy net nie kan
bykom om te krap nie! Dis seker om ons te herinner dat ons mekaar
nodig het. Wat sal nou lekker wees aan suksesse of oorwinnings of
goeie nuus as daar nie iemand is met wie ons dit kan deel nie? Ons
moet mekaar en ons verhoudings met mekaar koester, ons moet dit hoog
op ons prioriteitslys sit. Dit gaan natuurlik tyd kos, dit gaan
natuurlik iets van jou vra: bietjie opofferings, bietjie minder van
jou eie belange eerste stel, bietjie meer toegee, bietjie gouer
vergewe, bietjie meer hartlik en vriendelik wees, bietjie meer
gasvry. Die Bybel help ons baie met riglyne oor hoe om mekaar te
behandel, hoe om die beste te maak van ons verhoudings, hoe om die
beste na vore te bring in mekaar ... vandaar al die tekste wat sê
“julle moet mekaar ...”. “Julle is die liggaam van Christus en
afsonderlik is elkeen ’n lid daarvan ... as een lid ly, ly al die
lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.” (1
Kor. 12 :26-27) “No man is an island, No man stands alone, Each
man's joy is joy to me, Each man's grief is my own. We need one
another, So I will defend, Each man as my brother, Each man as my
friend.” ~ Wilna Botha, 22/08/2019 |
|
Ek is by julle
Dis baie selde dat ek in 'n effe moedeloosheid beland oor ons land,
maar soms gebeur dit sommer onwillekeurig, soos 'n paar aande gelede.
Ek het wakker geword in die nag en die situasie in ons land het deur
my gedagtes gemaal en ek het regtig bekommerd geraak oor die misdaad,
ekonomie, die swak leierskap en die toekoms van ons en ons kinders.
Ek het met die Here gepraat daaroor vir 'n paar minute, en gevra hoe
ons positief kan bly en voortbeur die toekoms in.
Wel, nou moet ek eers iets verduidelik oor die hoor van die Here se
stem. Ek het nog nooit 'n "hoorbare" klank van die Here se stem
gehoor nie, maar baie gereeld Sy stem gehoor deur dit wat ek lees in
die Bybel. Voorts glo ek ook dat die Here met ons praat deur ons
gedagtes, en dit het (volgens my) in die nag gebeur terwyl ek bid.
Toe ek voor die Here my vrese uitstort, het die volgende gedagte by
my opgekom: "Ek is by julle..." Net dit.
Dit het nie regtig sin gemaak nie, totdat die volgende gedagtes by
my opgekom het, so asof die Here sê: "Kom stap saam met my. Maak jou
yskas oop, sien jy hoeveel vleis daarin is? Kom ons gaan stap in die
motorhuis in en kyk na die motors. Onthou jy toe jy nou die dag by
die inkopiesentrum daardie peperduur motor bewonder het? Dit behoort
aan iemand in Suid Afrika. En daardie paleise in die "estates"?
Hulle staan in Suid Afrika. Ten spyte van die ekonomie. Kom ons gaan
kyk na jou besigheid se bestelboek, hy is nogal vol, of hoe?"
Daar was egter nog een vraag wat ek toe vir die Here gevra het: "Maar
Here, wat van die armes in die plakkerskampe, wat van die mense wat
in vrees leef op die Kaapse vlaktes met meer as 40 moorde per week?"
Die antwoord was net eenvoudig: "Ek is by hulle ook." Dit het egter
'n paar dae geneem om daardie een te verstaan, maar die antwoord het
eventueel gekom. Daar is soveel arm mense wat elke dag vir die Here
die lof gee vir die kleinste stukkie brood, en wat dankbaar is vir
nog 'n dag se oorlewing, wat die Here prys vir reën, al reën hulle
sopnat in die plakkershut. Daar is soveel gestremde mense wat meer
vreugde uitstraal as ek, en die Here prys vir 'n goeie lewe, ten
spyte van swaarkry.
Die Here is by ons, al voel ons soms Geestelik eensaam, en al maak
alles nie sin nie. Hy is hier, vir almal.
Matt. 28:20(b) het by my opgekom. "En onthou: Ek is by julle al die
dae tot die voleinding van die wêreld." ~ Willem Botha, 21/08/2019 |
|
Julle moet mekaar ...
Ek hoor dikwels die versugting by mense dat hulle wil weet wat die
Here se wil vir hulle lewe is. Nou hier is iets baie duidelik wat
die Here wil hê dat ons moet doen. As mens deur die Nuwe Testament
lees, duik hierdie sinsnede dikwels op: “julle moet mekaar” ...
aanvaar, verdra, vergewe, respekteer, reghelp, troos, moed inpraat
en dan die een wat die meeste kere voorkom: julle moet mekaar liefhê.
Nêrens klink dit net soos ’n versoek nie. Nêrens sê dit: as jy
daarna voel of as die ander een dit verdien, of as die ander een dit
vir jou terugdoen nie. Oral sê dit: julle moet. Dit klink vir my
soos ’n opdrag. Dit klink vir my soos iets wat die Here se wil is en
wat ons nie mag verontagsaam nie. Jy kan dalk dink hierdie klink
sommer net soos ’n goeie sessie “life coaching” in sosiale
vaardighede, wat dit natuurlik maklik kan wees. Maak gerus die Bybel
vir ’n oomblik toe en asof hierdie moets nie in die Bybel staan nie,
pas jy dit toe in jou alledaagse lewe – by die huis, by die werk, by
die winkel, agter die stuurwiel, op jou Facebook kommentare en jy
sal sien dat dit goeie vrugte afwerp. Hoeveel te meer as jy dit doen
juis omdat dit in die Bybel staan en sulke gedrag vir die Here
aanvaarbaar is. Ignoreer dit en verhoudings sal versuur word, koppe
sal stamp en bitterheid, negatiwiteit, rusies en onmin sal intree.
Gaan soek gerus bietjie in die Bybel na al die julle-moet-mekaar’s
en doen saam met my selfondersoek. ~ Wilna Botha, 20/08/2019 |
|
Hoekom Here?
Ek het baie hoekoms, en min verstaan, en soms kan ek vir myself
dinge uitwerk, maar oor hierdie volgende saak kry ek geen antwoorde
nie. Ek het al so baie goed oor hierdie teks geskryf en dit so baie
gebruik, gelees en bepeins, maar as ek my weer kry steek dit weer
vas. Die dag as ek in my hemelse tuiste kom wil ek baie dinge vir
God vra, maar by hierdie saak gaan ons dalk lank stilstaan.
Die vraag is: Hoekom kry die mens so swaar in sy laaste lewensjare?
Hoekom gaan oudword met soveel pyn en smart gepaard? Hoekom is dit
soms so uitgerek en selfs ook so moeilik vir die naasbestaandes?
Lees saam met my deur dit en bepeins hieroor. Terloops, as jy jonger
as 40 is sal dit dalk nog nie vir jou sin maak nie... Kyk net hoe
akkuraat vat die Prediker dit vas in net agt verse.
Pred. 12:1-8 (Die Boodskap) "Dink aan God wat jou geskep het terwyl
jy nog jonk is. Voordat die swaar dae kom en jy sal sê: “Die lewe is
nie meer lekker nie.” Dit is daardie tyd in ’n mens se lewe wanneer
die son se strale vir jou dof begin word en jy die maan se lig en
die sterre se geflikker in die aand skaars nog sien. Dit is wanneer
jou hande begin bewe, die bene moeilik loop, die tande moeilik kou
omdat hulle so min is, en die oë sleg sien, die ore nie meer die
straat se geraas hoor nie, die stem sagter en dowwer word. En as die
voëls vroegoggend begin koer, staan jy op sonder dat jy hulle eens
hoor. Dit is wanneer jy vir steil opdraandes en baie ander dinge
bang word omdat jy te swak geword het. En terwyl die amandelboom
bloei, die sprinkaan hom vol eet en die kapperkruid blom, sterf die
mens. In die strate sal hulle die doodsberig vertel. Dan sal hulle
saamkom om hom te begrawe. Dit is soos ’n silwertou wat afbreek by
’n put, soos die goue skepemmer wat breek, soos die drinkbeker wat
stukkend breek en soos die wiel wat by die put inval. Dan word die
mens weer stof soos vroeër, en sy lewensasem gaan terug na God toe
waar dit vandaan gekom het. Die lewe is sinloos. Absoluut sinloos,
so sê die Prediker."
Ai, jy ken mos die spreekwoord wat sê: Oudword is nie vir sissies
nie... Hoekom Here? ~ Willem Botha (15/08/2019) |
|
Ek het vir
die afgelope agt keer wat dit my beurt was om ietsie te skryf
bietjie stilgestaan by dié uitdrukking: "Jesus het hulle innig
jammer gekry", wat mens 'n hele paar keer in die evangelies raaklees.
Dis 'n uitdrukking wat my so aangegryp het en net vir my onderstreep
het dat die Here ’n barmhartige God is. Net soos Jesus dit nie kon
help om mense wat honger, siek en hartseer, verlore en blind, vuil
en verwerp is, jammer te kry en diep meegevoel met hulle te hê nie,
net so weet ek dat Hy dit vandag vir my persoonlik ook sal doen. Sy
arm is nooit te kort om te help nie, Sy genade is elke dag vars, Sy
oor is nooit te doof om te luister nie, Sy hulp en uitkoms is nooit
vêr nie, Sy liefde is onbegrens, oneindig en onverstaanbaar groot.
“Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde” – kyk
maar bietjie hoeveel keer hierdie frase in die Bybel voorkom, dan
besef mens Sy hart word gou sag! “Die Here gee graag goeie dinge aan
ons. Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het sy kinders baie
lief. Vir almal is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy gemaak
het ... Die Here sorg vir almal wat seerkry, Hy tel elkeen op wat
swaarkry. Almal vestig hulle hoop op U. U versorg elkeen op die
regte tyd. Omdat U goed is, gee U maklik goeie dinge aan ons. U gee
meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde. (Ps. 145:9-16, Die
Boodskap) ~ Wilna Botha, 14/08/2019
Ek het al die
stukkies bymekaargesit –
klik hier as jy
dit dalk weer vir lees >> |
|
Dit verseker Ek julle...
Hierdie volgende teks is vir my baie kosbaar, en som die HELE Evangelie op
in 'n paar woorde.
Joh 6:47 “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe."
Kom stap woord vir woord saam met my deur hierdie teks.
" Dit"...verwys na iets wat Jesus nou gaan sê wat baie belangrik is, 'n feit,
'n groot stuk waarheid.
"Verseker"... 'n belofte, 'n versekering, iets wat Hy as 'n absolute
waarheid oordra, Hy is Jesus wat geen onwaarhede vertel nie, jy kan dit maar
gerus glo.
"Ek"... Ek is wie Ek is, Seun van God, self God, Saligmaker, die Oppergesag.
"Julle"... Almal wat hierdie woorde lees, of hoor uit iemand anders se mond
wat dit aanhaal, almal, sonder uitsondering, elkeen, ook jy en ek.
"Wie"... Die mens, die wat die keuse maak om dit te hoor.
"In"... Om jou volle vertroue IN iets of iemand te sit, is om dit ten volle
joune te maak.
"My"... weereens Seun van God, Saligmaker.
"Glo"... Hom aanneem as Saligmaker deur geloof en geloof alleen, niks ekstra
nie, net geloof.
"Het"... Teenswoordige tyd, nie eendag eers nie, nou dadelik. Nie eers as
ons sterf nie. Ons verwerf die Ewige Lewe die oomblik wat ons vir Jesus as
Redder aanneem.
"Die"... Kom ek skryf dit as dié, daar is geen ander pad na Saligheid nie.
Dié enigste pad.
"Ewige"... Soos in vir altyd, daar is geen element van tyd in die
hiernamaals nie, tyd gaan nooit weer tot stilstand kom nie.
"Lewe"... Die WARE lewe, saam met God, daar waar dood geen rol speel nie.
Die LEWE waaroor ons net kan droom.
“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe." En dít my vriend,
is die Hele Evangelie in een enkele sin. Glo dit, en LEEF! ~ Willem Botha,
13/08/2019 |
|
Ek die afgelope rukkie bietjie stilgestaan by en
nagedink oor dié uitdrukking wat mens heel dikwels in die evangelies
raaklees: “Jesus het hulle innig jammer gekry.” Elke keer wanneer mens dit
lees, word dit gevolg deur Jesus wat aktief optree en iets dóén vir diegene
vir wie hy innig jammer voel. Hy het hulle gesond gemaak, kos gegee, hulle
oë oopgemaak, hulle rein gemaak, hulle geleer en hulle getroos. Jesus betoon
medelye en barmhartigheid oral waar Hy gaan en sy medelye gaan oor tot
optrede en hulpverlening. Vandag is ek en jy ook aan die ontvangkant daarvan
– altyd sonder dat ons dit verdien. As volgelinge van die Here sal ons ook
dié wat rigtingloos, honger, eensaam, verwerp, siek, swak en hulpeloos is
innig jammer kry en behoort dit ons aan te spoor om ons jammerte in dade om
te skakel. “Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees
nie, maar moet met die daad bewys word en dan in opregtheid.” (1 Joh. 3:18)
Ja, ek is baie keer teensinnig. Ja, ek is baie keer te lui. Ja, ek het
gewoonlik honderd-en-een verskonings. Ja, ek is meestal te selfsugtig. Ja,
ek verwag te veel kere ’n teenprestasie. Ja, my gesindheid laat veel te
wense oor. Ek vra maar net weer die Here om my te help met my onwillige
hart, met my veroordelende kyk, met my toe hande en harde gesindheid. Ek
lees hierdie aanhaling van John Wesley en neem dit ter harte, want ek dink
dis wat die Here wil hê: “"Do all the good you can, by all the means you
can, in all the ways you can, in all the places you can, at all the times
you can, to all the people you can, as long as ever you can" ~ Wilna Botha,
08/08/2019 |
|
Spore, voetspore, ons almal maak spore as ons loop, en
daardie spore sê baie, dit sê waar jy gaan en waar jy vandaan kom. Dit was
altyd 'n lekker speletjie op die strand as pa sulke lang tree gee in die
sand en diep spore trap, dan pik die kleintjies agterna en probeer om in
daardie spore te loop, maar dis gewoonlik haas onmoontlik. Daar waar jy nou,
op hierdie oomblik verkeer, het jy derduisende spore getrap om te wees waar
jy is, spore wat deur jou hele lewe agter jou aan kronkel. En dalk het jy,
nes ek, op plekke geloop waaroor jy vandag spyt is.
So sien mens andere se spore op vreemde plekke, en soms is dit wrede spore
wat nou as littekens op ander (dalk die kinders) se gesigte lê. Soms word
mense deur ander vertrap en daardie spore lê diep en seer op mense se lewens.
Jy sien dit inderdaad dikwels op 'n mens se gesig. Dit maak harde lyne wat
nooit weer uitgestryk word nie.
Maar so is daar ander mense wat diep spore in ander mense se lewens trap,
wonderlike spore waarop ander ook graag wil loop. Daar is vele mense in
hierdie lewe wie se spore ek graag volg, mense wat ek soms nie eers
persoonlik ken nie maar wat 'n reuse impak maak. Daar is baie karakters in
die Bybel wat werklik diep spore getrap het, soos Paulus en die ander
dissipels. Die dissipels is ná Jesus se hemelvaart uitmekaar gejaag, maar
hulle spore is vir miljoene mense regoor die wêreld sigbaar, en dis soms
juis hoekom ons glo.
Wie se spore gee vir jou rigting? Agter wie stap jy graag aan? En waarheen
lei daardie spore? Daar is Een wie se spore ons maar gerus kan volg. Jesus
het slegs vir drie jaar merkbare spore op aarde getrap, maar na Sy
kruisiging loop Sy spore miljoene kilometers ver deur die wêreld. En daardie
spore my vriend, kan nie dood gevee word nie, dis net te diep getrap. Wat 'n
voorreg om dit te kan volg!
Luk. 9:57 - 59 "Terwyl hulle op pad was, sê iemand vir Hom: “Ek sal U volg
waar U ook al gaan.” Toe sê Jesus vir hom: “Jakkalse het gate en voëls het
neste, maar die Seun van die mens het nie eens 'n rusplek vir sy kop nie.”
Aan 'n ander een sê Hy: “Volg My.” Maar hy antwoord: “Here, laat my toe om
eers terug te gaan om my pa te begrawe.”
Soms maak ons verskonings en wil nie in Sy spore trap nie en soms wil ons
nog net so bietjie uitstel om eers in verkeerde spore te trap, maar dis 'n
groot fout. As ons, net soos daardie klein kindertjies op die strand, in ons
hemelse Pappa se spore loop, weet ons presies waarheen ons gaan. En daardie
eindbestemming hou nie hier op aarde op nie, dit neem ons na 'n nuwe Land
waar ons vir ewig en ewig die goeie vrugte van hierdie besluit sal pluk.
Just keep on walking... ~ Willem Botha, 07/08/2019 |
|
Die weduwee se enigste seun is dood. Omtrent die hele
dorp se inwoners is daar om haar te ondersteun. Jesus het haar óók
raakgesien. “Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir
haar gesê: “Moenie huil nie!”” (Luk. 7:13) Hy het haar innig jammer gekry.
Sy hart was gevul met jammerte en deernis, omtrent dieselfde as toe Sy
vriend, Lasarus, oorlede is en Jesus ook gehuil het! (Joh. 11:35). Is jy
dalk vandag in daai hartseer bootjie? Jy huil omdat dinge nie vir jou
uitgewerk het nie. Jy huil omdat jy ook ’n geliefde aan die dood moes
afstaan. Jy huil omdat jy slegte nuus gekry het. Jy huil omdat jy alleen is.
Jy huil omdat jy op die punt van ’n egskeiding staan. Jy huil omdat jou kind
die pad byster geraak het. Die Here sien vandag jou trane, Hy weet daarvan,
Hy het hulle getel en opgeteken, hulle opgevang in sy kruik sê Ps. 56:9. “Ú
het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek
nie?” (Ps. 56:9, OAV) Die Here sien jou hartseer en jy kan seker wees
daarvan dat Hy jou innig jammer kry, dat Hy diep aangeraak is deur jou trane,
dat Hy selfs sáám met jou huil en dat Hy sê: “Moenie huil nie.” Hy is nou
by jou, Hy droog jou trane af, Hy troos jou, Hy laat jou tot rus kom, Hy gee
vir jou nuwe moed en ’n nuwe rede om voort te beur. “Toe ek gedink het my
voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in
my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.” (Ps. 94:18-19) “Hy
help mense wat hartseer is om weer met hulle lewe aan te gaan.” (Job 5:11)
“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matt. 5:4) ~
Wilna Botha, 06/08/2019 |
|
Stel jy die Here eerste in jou lewe?
'n Klomp jare gelede was hierdie vraag graag gevra. Is die Here werklik
eerste in jou lewe? Eerste bo alles en almal, en dan was daar 'n hiërargie
voorgestel, en as dit nie so is nie, is daar fout met jou geloofslewe. Die
Here kom heel eerste, daarna jou huweliksmaat, dan jou kinders, dan jou werk
en daarna alles anders wat vir jou belangrik is. Solank die Here eerste is.
Dit was 'n tyd waar daar allerhande "resepte" vir 'n goeie Geestelik lewe
was en jy was graag getoets aan hierdie dinge. Ek self het ook flink hierdie
resepte gedeel met ander, gewoonlik ongevraag.
Met die verloop van tyd het ek egter hierdie ding begin bevraagteken, want
ek het gewonder of my vrou en kinders dan nou in kompetisie met die Here
moet wees. En in watter opsig? Moet die Here meer van my tyd kry as die
ander dinge? Meer geld? Nee, dit het nie lekker vir my uitgewerk nie. Waar
pas die Here - en alles anders wat vir my belangrik is - dan in mekaar?
Die antwoord lê nie in die hiërargie nie, die antwoord is baie eenvoudiger
as dit. Jy sien, ek moet nie vra wie eerste kom tussen my vrou en die Here
nie, ek moet dit anders stel. Kom die Here eerste in my VERHOUDING met my
huweliksmaat? Want as ek daarop ja kan antwoord is daar nie meer kompetisie
tussen die Here en my vrou nie, en speel sy nie meer tweede viool nie. As ek
die Here eerste in my huwelik stel, sal ek 'n man vir my vrou wees soos wat
die Here dit wil hê. Kol. 3:19 "Mans, julle moet julle vrouens liefhê,
moenie die lewe vir hulle bitter maak nie." As ek DIT regkry, het my vrou
die volle voordeel van my verhouding met die Here. Wat meer kan 'n vrou van
haar man vra as dit, en wat meer sal die Here van my verwag as dit? As die
Here eerste is in hierdie verhouding sal daar nie seergemaak word met woorde
nie, nie dronk by die huis gekom word nie en sal sy nie 'n vloerlap wees nie.
Dieselfde met my kinders, hulle hoef nie teen God te staan in 'n volgorde
van belangrikheid nie, want as ek die Here eerste stel in my VERHOUDING met
my kinders, pluk almal ewe veel voordeel uit dit uit. Kol. 3:21 "Vaders,
moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie." Ook
nogal waar woorde of hoe? Was jy ook as kind soms met die Here bang gemaak?
As jy dit of dat doen gaan die Here jou straf... En daai musiek wat jy
luister maak die Here woedend! Nee, as ek dit doen sit ek die Here daar hoog
op 'n regterstoel neer en die kind voel dat die Here vir hom 'n bedreiging
is.
So moet ons met alles wat vir ons kosbaar is in die lewe omgaan. As ek alles
doen soos wat die Here dit wil hê, stel ek Hom eerste. As ek die Here eerste
stel in my werk sal ek dit eerlik en opreg doen soos wat daar van my verwag
word. As ek die Here eerste stel in my besigheid sal ek eerlik sake doen, op
'n manier wat my kliënte die Here in my lewe sien, en dan pluk almal die
goeie vrug daarvan.
As ek dit alles regkry, kom die Here eerste in my lewe, maar niemand kom
tweede nie. ~ Willem Botha, 05/08/2019 |
|
AS EK SÊ EK
IS 'N CHRISTEN
Christen … is JY 'n Christen? As iemand jou sou vra oor jou
geloofsoortuiging, sê jy sekerlik ook dat jy 'n Christen is. Dit
beskryf tog sekerlik iets van dit waarin in jy glo, of wát jy glo.
Ek het al die vraag gehoor: "Was Jesus 'n Christen?" Ek dink dit is
'n sinnelose vraag. As jy vra: "Willem, is jy 'n stoeier?", dan kan
ek sê: "Nee, want ek stoei nie". As ek vir 'n Mercedes vra: "Is jy
'n kar?", dan is die vraag mos sinneloos, want wat anders kan die
Mercedes dan wees? So, was Jesus 'n Christen? Natuurlik, want Hy gee
definisie aan die term. As ek en jy dan vra: "Is ek 'n Christen?",
dan moet ek seker op die een of ander manier kwalifiseer om dié
status te kan "verdien". Die antwoord sal natuurlik ook afhang van
die definisie van wat 'n Christen is.
Hand 11:19-26: Deur die vervolging wat na Stefanus se dood ontstaan
het, is die gelowiges uitmekaar gejaag. Party van hulle het na
Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan, maar hulle het die woord aan
niemand anders as net aan Jode verkondig nie. Onder die vlugtelinge
was daar sekere mense wat van Siprus en Sirene afkomstig was en wat
in Antiogië gekom en daar ook aan die Griekssprekendes die evangelie
dat Jesus die Here is, verkondig het. Die Here het die gelowiges
gehelp, sodat daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here
bekeer het. Die berig hieroor het die gemeente in Jerusalem bereik,
en hulle het vir Barnabas na Antiogië toe gestuur. Toe hy daar kom,
was hy bly om te sien hoe God in sy genade onder hulle gewerk het,
en hy het hulle almal aangespoor om met hart en siel aan die Here
getrou te bly. Barnabas was 'n goeie man, vol van die Heilige Gees
en met 'n vaste geloof. 'n Aansienlike groep mense is tot geloof in
die Here gebring, en Barnabas is na Tarsus toe om vir Saulus te gaan
soek. Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle
twee het 'n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense
onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene
genoem.
In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem. Die
woord "Christen" kom twee keer in die Nuwe Testament voor, en die
woord "Christene" ook twee keer. In nie een van hierdie vier tekste
word die woord "Christen" per definisie verklaar nie. Ons moet dit
dus op die een of ander manier self 'n definisie aflei en formuleer.
"Ek is 'n Christen" - jy sien, die wêreld hou nie van hierdie
stelling nie, want die oomblik wat jy hierdie stelling maak, begin
die wêreld 'n kraak soek. So het Ghandi gesê hy sou dalk 'n Christen
kon geword het, was dit nie vir die Christene nie. Wel, mnr Ghandi
het iets nie verstaan nie. Sy stelling beteken net mooi niks nie.
Wat bedoel ek hiermee?
1) As ek sê: "Ek is 'n Christen", sê ek nie ek is sondeloos nie. Rom
3:23 sê, "Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid
van God nie". Ek is een van die "almal". Ek kry dit elke dag reg om
te sondig, en ek is verseker nie trots daarop nie. Daar staan "almal",
maar Goddank, daar is ook 'n vers 24: "Maar hulle word, sonder dat
hulle dit verdien, op grond van Sy genade vrygespreek, vanweë die
verlossing deur Jesus Christus"
2) As ek sê: "Ek is 'n Christen", sê ek nie dat ek nie soos Petrus
vir Jesus sal verloën nie, Ek het al, en ek is nie trots daarop nie.
Ek het al talle kere stilgebly toe ek moes praat. Maar … ek lees in
Handelinge hoe hierdie selfde Petrus deur God gebruik is om 3000 en
5000 mense na Jesus toe te lei. Dis net Satan wat gedink het Petrus
is daarmee heen toe hy vir Jesus verloën het. Vandag is daar talle
ongelowiges wat ook so dink as ons vir Jesus verloën, maar ons, ons
ken God se genade.
3) As ek sê: "Ek is 'n Christen", sê ek nie dat ek nie soms twyfel
nie. Ek sê verseker nie dat elke oomblik gekenmerk word deur 'n
rotsvaste geloof nie. Goddank daar was iemand soos Thomas. Hy het
ook getwyfel, maar Jesus het vir hom Sy hande en Sy sy gewys … en
omdat dit opgeteken is, kan ek en jy glo. Maar meer as dit - die
Here se "track record" is onfeilbaar. Heb 11:1 "Om te glo, is om
seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die
dinge wat ons nie sien nie". Ek dank God dat daar meer
geloofsmomente is as tye wanneer ek twyfel.
4) As ek sê: "Ek is 'n Christen", sê ek nie dat ek nie dikwels
skynheilig is nie, want ek kry dit gereeld reg. Dalk is ek
skynheilig, maar dalk is dit juis die tye wat ek poog om te doen wat
goed is in die oë van die Here, en die wêreld wil dit dan afspeel
teen die tye wat ek faal. Jy sien, as die kriteria vir diensbaarheid
heiligheid is, sal daar dalk baie min Christene op aarde wees. Almal
wat 'n invloed op my geestelike lewe het, is sondaars, maar in my oë
is hulle nie skynheilig nie. Skynheilig beteken om iets voor te gee
wat jy nie is nie. As jy 'n feilbare mens is, maar steeds diensbaar
is in God se koninkryk, is jy gehoorsaam, en nie skynheilig nie.
5) As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan sê ek nie dat ek nooit kommer
beleef nie, ek sê nie dat ek nie soms voete van klei het nie. Ek sê
ook nie dat ek soms 'n huigelaar is nie, ook nie dat my lewe totaal
sonder pyn is nie. Nog minder dat my verhouding met God volmaak is.
Nou wat sê ek dan?
1) Ek sê: "Ek is 'n Christen", juis omdat ek te swak is, en Jesus in
my lewe nodig het.
2) Ek sê: "Ek is 'n Christen", omdat ek besef dat ek nie die wet kan
onderhou nie, en daarom bitter afhanklik is van Jesus se
verlossingswerk.
3) Ek sê: "Ek is 'n Christen", omdat Jesus my anker is in tye van
benoudheid, kommer en angs, en Hy my dan vertroos deur my te
herinner aan soveel tye wat Hy my deur moeilike tye gebring het.
4) As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan bely ek dat Jesus my
Saligmaker is, en dat Hy my enigste weg tot saligheid is.
5) As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan besef ek my saligheid hang nie
af van hoe goed ander Christene presteer nie. Ek moet self kies. Mnr.
Ghandi het probeer om sy saligheid deur ander mense se verdienste te
verkry. Ek is so jammer vir hom.
6) As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan sê ek: "Dit is ongelooflik
lekker en aangenaam om aan Jesus verbind te wees, en aan talle van
Sy feilbare kinders". Ook om te weet dat ek 'n plek in Sy Koninkryk
het, ja, selfs ten spyte van die negatiewe goed wat ek aanvang.
7) As ek sê: "Ek is 'n Christen", dan sê ek: "Dankie Jesus, dat ek
in U oë volmaak is" ~ Willem Botha, 01/08/2019 |
|
Troonkamer
Was jy ooit in die skool na die hoof se kantoor toe geroep? Boeta, as dit
gebeur is daar moeilikheid, en in my skooldae het jy moeilik gesit vir 'n
paar dae want jy is vuurwarm gewiks. Goeie ou dae...
Wat my laat dink aan die kruisiging toe Jesus sterf en die voorhangsel van
die tempel van bo na onder middeldeur skeur. Op daardie oomblik kry die mens
direk toegang tot God en dis nie meer net die hoëpriester wat daar by die
allerheiligste ingaan nie. Jy en ek het nou direkte toegang, sonder 'n
afspraak. Dis eintlik nogal 'n vreemde konsep vir my, maar dit is nou so,
ons het nou hierdie vryheid om die Here te gaan "sien", dag en nag.
Dink net vir 'n oomblik saam met my. As jy in God se Troonkamer instap, wat
gaan jy sien? Hoe gaan jy Hom sien? Maak gou jou oë toe en dink vir 'n
oomblik hoe dit sal wees. As ek dink aan die hoof se kantoor, sien ek die
beeld van die skoolhoof as 'n kwaai, onverbiddelike man wat 30 jaar gelede
kwaad uit die bed geklim het en steeds kwaad is. En hy wag vir jou... Jy
gaan vandag les opsê. Maar hoe lyk die Here in sy "kantoor"? Hoe sien jy die
Here in sy Troonkamer? Hoe sal sy gesigsuitdrukking lyk? Fronsend? Negatief?
Onverbiddelik? Kwaad? Wel, kom ek neem jou so 43 jaar terug toe ek aangeneem
is in die kerk, en ek probeer my nou indink hoe ek die Here toe sou sien as
jy hierdie vraag vir my sou vra. Die antwoord is eenvoudig, ek sou my
morsdood geskrik het by die gedagte, want vandag sit my turf as ek daar by
Sy "kantoor" instap, want vandag gaan ek les opsê oor my sondes en
oortredinge. Jy sien, ek is nie in daardie dae geleer van 'n liefdevolle God
vir wie ek regtig belangrik is nie. Ek het geleer dat God glad nie hou van
die Beatles musiek wat ek geluister het nie, ook nie dat ons gedans het nie
en glo dit of nie, maar Hy het ook die klinknaelbroeke (denim's vir die wat
dit nie ken nie) wat ons gedra het gehaat, en kinders wat by die
weerluishuis (die Skyline fliek in Villieria) uithang, is verdoem. 'n Besoek
aan die Troonkamer was glad nie aan te beveel nie!
Dis so jammer dat die gedagte aan 'n liefdevolle God van my weerhou is. Ek
het ook nooit die idee gekry dat die dominee Jesus se liefde in sy hart
gedra het nie. Maar Goddank, met tyd het ek in die Bybel 'n ander kant van
God ontdek, 'n Wese wat trots is op my in alle opsigte, ten spyte van die
Beatles en die dans en die fliek kyk en my klinknaelbroek en selfs al my
daaglikse sondes.
'n Paar jaar gelede is ek vir 'n naweek op 'n Geestelike kamp en ek vra vir
die Here so 'n sinnelose (so het ek gedink) vraag: Here, kan ek dalk U oë
sien? Ek weet nie wat het ek verwag nie en dit daar gelaat. Maar die Here
het nie die vraag vergeet nie, en die Sondag toe ek huis toe ry kom hierdie
"beeld" van die Here vir 'n vlietende oomblik in my kop, en ek sien Sy oë,
wat lyk soos twee malvalekkers, sagte, soet malvalekkers! Ek het sommer by
myself gegiggel! Wat meer sou ek wou sien? Watter beter beeld kon ek voor
vra? As die oë die vensters na die siel is, beskryf hierdie beeld van die
Here vir my suiwer, opregte liefde. Vir my, van alle mense!
Hoe sien ek nou vir God in sy Troonkamer as ek daar instap? 'n Sagtheid,
liefderik en malvalekker-oë wat straal van liefde as Hy sê: Kom sit bietjie
hier by My. ~ Willem Botha, 31/07/2019 |
|
“’n Melaatse kom toe na Jesus en terwyl hy kniel, smeek
hy Hom en sê: “As U wil, kan U my rein maak.” Jesus het hom innig jammer gekry,
sy hand uitgesteek, hom aangeraak en vir hom gesê: “Ek wil, word rein!”
(Mark 1:40-41, BDV) Jesus - gevul met deernis, vol jammerte, altyd gereed om
genade te bewys! Die arme melaatse man - ’n uitgeworpene wat buite die stad
moes bly, hy kon aan geen aktiwiteite van die samelewing deelneem nie, almal
het hom vermy en hom selfs met klippe gegooi as hy sou waag om nader te kom.
Hy was as onrein bestempel vanweë sy siekte. Enige iemand sou hom weggejaag
het, maar nie Jesus nie ... Jesus kyk na hom en kry hom innig jammer. Enige
iemand sou draaie om hom geloop het, maar nie Jesus nie ... Jesus gaan staan
stil by hom en raak aan hom en maak hom rein. Het daar dalk iets in jou lewe
gebeur wat jou onrein en vuil, verwerp en onwaardig laat voel? Dalk word jy
uitgestoot oor jou uiterlike voorkoms, dalk omdat jy gestrem is, dalk oor
jou agtergrond, dalk oor jou sonde of een of ander onaanvaarbare leefwyse.
Maak soos hierdie melaatse man en kom kniel en smeek vandag by die Here. Hy
sal jou hoor. Hy sal jou innig jammer kry. Hy sal jou aanraak. Hy sal jou
rein en nuut maak. Hy sal vir jou ’n nuwe begin gee. “Iemand wat aan
Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” (2
Kor. 5:17) ~ Wilna Botha, 30/07/2019 |
|
Waaroor gaan jy spyt
wees...
...eendag, as die swaar dae kom? Want die swaar dae kom, dis nou maar wors.
Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare
aanbreek waarvan jy sal sê: “Ek het daar niks aan nie.” (Pred. 12:1)
Oud word gaan met swaarkry gepaard, maar ook met selfverwyt en spyt, spyt
oor verspeelde kanse en spyt oor dinge wat eerder kon gebly het. Spyt oor
dinge wat ons aangevang het, en ook dinge wat ons moes doen maar nie gedoen
het nie.
Keuses wat in die jong dae geneem is kan nie noodwendig ongedaan gemaak word
nie, maar nuwe, goeie besluite kan dikwels die effek daarvan omkeer. Ek hoor
hoe mense spyt is oor 'n lewenstyl wat sleg was, oor dinge wat by die mond
ingeneem, ingedrink en ingesuig is en die swaar dae van Prediker nog
swaarder maak. Maar ook dinge wat by die mond uitgekom het in die vorm van
woorde, wat mense as bitter eensame en verstote mense agterlaat omdat
verhoudinge verwoes is. Ek sien hoe mense hulle doodgewerk het tot voordeel
van ander, en in die proses op hulle oudag baie geld spandeer om weer
gesondheid te probeer herwin. Dis dikwels 'n onbegonne taak en gewoonlik
onmoontlik.
Ons het gemiddeld net so 29200 dae, dan is ons geskiedenis. Ongelukkig
veroorsaak daardie verkeerde besluite van weleer dat ander mense daaronder
ly. Kinders gaan deur hel met ouers wat nie hulle gesondheid opgepas het nie
en dan self swaarkry as gevolg van daardie keuses.
Dink aan die Here in jou jong dae, voor die swaar dae kom. Al die antwoorde
wat ons nodig het is reeds deur die Here gegee in sy Woord, alles, elke
enkele aspek wat belangrik is word aangespreek, daar is raad vir elke
denkbare situasie. Daar is riglyne, raad en opdragte, alles gratis. Lees dit
en volg dit. Dink aan die Here... Daar is tyd om vele dinge om te draai,
daar is dalk min tyd of selfs baie tyd, maar mense is roekeloos. Ek sal
more... Ek kan more ophou met hierdie vernietigende gewoonte, ek kan mos
enige dag ophou jy weet? Wie wil nou met gesonde longe en 'n gesonde lewer
doodgaan? Ek sal volgende maand begin oefen. Gooi my nog so 'n stywe enetjie
vir die pad. Famous last words.
'n Gesonde liggaam huisves 'n gesonde gees, bekende woorde. Die liggaam is
'n tempel van God, bekende woorde uit die Bybel.
Spr. 17:22 " 'n Vrolike mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak
uitgeput."
More is 'n goeie tyd vir nuwe keuses, maar vandag is beter... ~ Willem Botha,
29/07/2019 |
|
Daar is nog ’n keer waar ons lees dat Jesus mense innig
jammer gekry het. Dié keer in Mark 6:34. “Toe Jesus uit die skuit klim, het
Hy ’n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry,
want hulle was soos skape wat nie ’n wagter het nie. Hy het hulle toe baie
uitvoerig begin leer.” Ons is mos ook maar soms soos skape wat rigtingloos
ronddwaal, elkeen op sy eie koers, elkeen op soek na sy eie weiding, elkeen
op sy eie missie, besig met sy eie belange, besig om rond te hardloop op
soek na sukses en erkenning. Dis wanneer die Here ook na my en jou kyk met
meegevoel en jammerte en ons bietjie eenkant toe wil vat sodat Hy ons kan
leer, sodat Hy vir ons wysheid en onderskeidingsvermoë kan gee, vir ons kan
help om doelgerig vorentoe toe te beweeg, vir ons nuwe krag en insig kan
gee, sodat ons binne ons lewensroeping en volgens Sy planne besluite kan
neem, sodat ons vrede en rus kan beleef in Sy groen weivelde. Ons het ’n
Herder! “Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar
vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot eer van sy
Naam.” (Ps. 23:2-3) ~ Wilna Botha, 25/07/2019 |
|
Liefde
Abraham Maslow was 'n Amerikaanse sielkundige wat sy bekende "Maslow's
hierarchy of needs" in 1943 gepubliseer het. Volgens hom is die mens se
eerste, belangrikste behoefte voedsel, warmte en rus, die volgende vlak is
sekuriteit en veiligheid en dan volgende 'n behoefte aan liefde en
diepgaande, intieme verhoudinge met ander. Daar is nog twee vlakke bokant
dit wat jy maar vir oom Google moet vra om te verduidelik. Volgens die Bybel
webblad kom die woord "liefde" 314 keer in die Bybel voor, en die meeste
daarvan verwys na God se liefde vir ons.
Hoe smag die mens nie daarna nie! Sekerlik die meeste liedjies sing oor die
liefde, by verre die meeste films handel daaroor en boeke kan nie uitgepraat
raak oor die liefde nie. Pauls skryf die mees ongelooflike hoofstuk in 1 Kor.
13, en ek glo daardie hoofstuk is op meer troues voorgehou as enige ander
teks. Die mens soek liefde, smag daarna en leef daarvoor, en dit sluit die
smagting na God se liefde en aanvaarding van ons in.
Maar weet jy, dis so maklik om liefde te ontvang, maar die mens sukkel nogal
om dit uit te deel, want ons eie behoeftes kom voor enigiets anders. Liefde
vir die medemens is egter nie die enigste plek waar liefde voor kom nie. As
gevolg van sondige begeertes ontwikkel die mens liefde vir verkeerde goed,
soos liefde vir geld, liefde vir die bottel en liefde vir mense in verkeerde,
vernietigende verhoudings. Liefde (of die gebrek daaraan) kom daagliks voor
tussen mense, soms is dit mooi warm liefde en soms nie, al sê ons ons is
lief vir mekaar. Hoe verskriklik is dit nie hoe mense mekaar in huwelike wat
skeefloop, vernietig nie, en in die proses word onskuldige kinders se lewens
totaal verwoes, want hulle word die missiele wat die ouers op mekaar afvuur.
Dis so tragies.
Maar die Here se liefde vergaan nooit.
Ps. 136:1 "Loof die Here want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde
nie"
Ek droom van 'n wêreld waar almal mekaar liefhet en respekteer, 'n wêreld
waar die mensdom ander se behoeftes voorop stel, waar huweliksbeloftes tot
op die been nagekom word, 'n wêreld waar die mens die Here glo as Hy sê daar
is geen einde aan sy liefde nie. Hoe ongelooflik sou dit nie wees nie.
En nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie. En die grootste hiervan is
die liefde! Warme, tere liefde. ~ Willem Botha, 24/07/2019 |
|
“Jesus het hulle
innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het
hulle Hom gevolg.” (Matt. 20:34) Die twee blindes mans het langs die pad
gesit en toe hulle hoor dat Jesus verbykom het hulle herhaaldelik hard
geroep en gesmeek dat Hy hulle moet help. Jesus het by hulle gaan stilstaan
om te hoor wat hulle behoefte is. Hy het hulle innig jammer gekry. Sy
meegevoel vir hulle blindheid, sy deernis vir hulle afhanklikheid, sy omgee
vir hulle nood het meegebring dat Hy hulle oë aangeraak het sodat hulle kon
sien. Miskien tas jy ook in die duister rond, dalk lei jy aan geestelike
blindheid, dalk sit jy ook verlore en roep hard en aanhoudend na die Here om
jou oë oop te maak. Dalk begeer jy geestelike visie vir jou toekoms en
keuses wat jy moet maak. Dalk het jy nuwe oë nodig om God se Woord beter te
verstaan en in jou lewe toe te pas. Dalk moet jou oë oopgemaak word vir die
hoër plan wat die Here met jou lewe het. Dalk moet jou oë aangeraak word
sodat jy die lig kan raaksien aan die einde van die donker pad waarop jy
jouself bevind. Hoe ook al ... as die geestelike blinde uitroep na die Here,
sal Hy by hom kom stilstaan, sal Hy met deernis en jammerte na sy begeerte
luister en sal Hy hom help. Ek bid dat Hy jou oë sal aanraak! ~ Wilna Botha,
23/07/2019 |
|
Jaco is 'n swerwer, hy is altyd iewers op pad heen en
sy enigste wiele is mense wat hom oplaai, waar sy punt B ook al was. Ek het
hom op snaakse, onwaarskynlike plekke gekry en dan maar opgelaai. Soms was
hy op pad om te gaan karre oppas in Boksburg, of hy sou iemand gaan sien wat
vir hom moontlik 'n werkie gehad het, en soms het hy in die aande by my huis
aangekom en gevra vir 'n kombers of 'n paar rand, en hy het altyd oor die
Here gepraat. Maar volgende keer as hy weer kom is daai kombers weer weg.
Maar toe vertel 'n vriend vir my dat sommige (die meeste van ons) onder die
sondeval leef omdat ons nou moet werk as straf op Adam en Eva se sondes,
maar ander teer op daardie mense wat hard werk en onder die sondeval
"suffer". Toe is ek kwaad vir Jaco. Hoekom moet ek "suffer" onder die
sondeval en hy nie? Niks wat ek het, het uit die lug geval nie, want ek
"suffer" daarvoor onder die sondeval. (Terloops, die opdrag om te werk was
egter gegee voor die sondeval.)
En toe kom klop Jaco een aand laat aan my deur en ek is kwaad vir hom, en
vir Adam en Eva en dalk bietjie ongemaklik met God want Hy is unfair, en ek
was effe in 'n slegte bui en daar bars daardie ding uit soos wanneer jy
Mentos sweets in bottel Coke gooi (blykbaar). En ek verduidelik vir Jaco van
daardie teks wat sê in 2 Tess. 3:10: “Toe ons nog by julle was, het ons vir
julle uitdruklik gesê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.””
Toe vra ek dat hy eerder nie weer moet terugkom nie want ek kan nie my eie
gesin versorg en ander swerwers nie. Ek onthou hoe hy daar weggestap het met
krom skouers en sekerlik bitter seergemaak en verneder gevoel het. Ek het
goed gevoel, want ek het hom met die Bybel getref, tussen die oë.
Ai, maar toe kom daar ander tekste in my gedagtes op en die Here tref my ook
tussen die oë, met dieselfde Bybel. Wat jy aan die geringstes gedoen het,
het jy aan my gedoen.... Doen aan ander... Jy moet jou naaste liefhê soos
jouself...
Dalk het Jaco gebid vir iets om te eet en die Here het gesê: Gaan maak 'n
draai by Willem, ek het vandag vir hom 'n groot bestelling gestuur, en hy
ken bietjie van die Bybel, soos in Gal 6:9 "Laat ons dan nie moeg word om
goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd
ook die oes insamel."
Is ek vandag R50 ryker? Ek twyfel, maar ek voel so bitterlik sleg. Ek hoop
hy loop weer langs die pad waar ek ry, ek wil vir hom skuus sê, en vir hom
R50 gee. ~ Willem Botha, 22/07/2019 |
|
“Jesus het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê:
“Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier
by My en hulle het niks om te eet nie. En Ek wil hulle ook nie sonder kos
huis toe stuur nie, want hulle kan miskien op die pad beswyk.” (Matt. 15:32)
Weer ’n keer is dit Jesus wat innig jammer voel vir mense, vol medelye en
jammerte , vol deernis en omgee. Ek weet nie van jou nie, maar vir my is dit
ongelooflik bemoedigend om te weet dat Hy my nood raaksien en dat Hy omgee
en dat Hy sorg vir ’n uitkoms. Dalk is die uitkoms nie altyd heeltemal soos
jy gehoop het nie. Dalk is dit nie ’n yskas propvol kos nie, maar net ’n
broodjie en ’n vissie, dalk net genoeg brood vir vandag, dalk ’n bietjie
manna wat jy self moet gaan optel. Dalk is dit nie ’n bultende beursie nie,
maar maak Hy net jou oë oop om ’n nuwe geleentheid raak te sien, dalk maak
Hy jou net sterk om harder te kan werk. As jy leeg en met bedelende hande
voor die Here staan, is Hy aangeraak deur jou nood en sal Hy jou nie sonder
kos huis toe stuur nie. Dit geld natuurlik soveel te meer vir enige
geestelike honger wat ons kan hê. Kom met jou honger hart na Hom wat die
Brood van die lewe is. Kom eet verniet en word versadig. Hy sal jou nie
honger wegstuur nie. ~ Wilna Botha, 18/07/2019 |
|
Matt. 5:34 "Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie 'n eed
aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God."
Matt. 5:37 "Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat
meer gesê word as dit, kom van die Bose.”
Ek en vroulief gesels oor hierdie ding wat ons integriteit noem, en besef
hoe min daarvan in hierdie wêreld oor is. 'n Mens word gekenmerk aan dit wat
uit sy mond kom, waarheid of leuen. Ek kyk saans na die nuus en sien hoe
mense sonder om te blik of te bloos (soms onder eed) onwaarhede vertel. Dis
mense wat soms op die hoogste vlak in leiersposisies is en wie werklik
vertrou moet word. Maar ai....
Maar wie van ons kry dit werklik reg om in alle opsigte die waarheid, en net
die waarheid te praat? Kyk, in elke enkele beroep (ja myne ook) is daar
sulke standaard stories wat opgedis word, vernaam as daar geld by betrokke
is. Nou ja, ongelukkig kan ek nie nou 'n paar uitsonder nie want dan is die
hele wêreld vir my kwaad, maar ek glo jy weet waarvan ek praat. Maar dit
gaan verder, want deel van hierdie probleem is dat mense nie doen wat hulle
sê hulle gaan doen nie. "Ek bel jou more", "ek sukkel met die internet bank,
jou betaling is op pad", "ek sal stiptelik sus en so tyd by jou wees", "ek
is laat want die krag was af”.
Hierdie tekste in Matteus praat van 'n eenvoudige ja of nee, sonder stories,
sonder beloftes, net die eenvoudige waarheid. Ek hoop jy kry dit reg, ek
sukkel maar. ~ Willem Botha, 17/07/2019 |
|
“Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte
mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle
gesond gemaak.” (Matt. 14:14) Hier is weer daai uitdrukking: “Hy het hulle
innig jammer gekry.” In vers 13 lees ek dat Jesus juis weggegaan het na ’n
stil plek omdat Hy alleen wou wees, dalk ’n bietjie wou rus, maar toe die
mense daarvan hoor het hulle te voet agter Hom aangegaan. Hulle was in die
nood om deur Hom aangeraak te word. Net soos daai vrou wat deur die skare
gebeur het en net aan die soom van Sy kleed wou raak omdat sy só graag
gesond wou word. Net soos daai verlamde man wie se vriende hom op ’n
draagbaar na Jesus toe gebring het. Toe hulle nie by Hom kon uitkom nie, het
hulle die draagbaar deur die dak laat afsak tot voor Jesus. Jesus sién
siekes raak, Hy kry hulle innig jammer, Hy is diep geroer deur hulle pyn en
hulle begeerte na genesing. Is jy dalk ook só desperaat vir genesing vir
jouself, vir ’n familielid of ’n vriend? Is jy dalk ook só desperaat vir
geestelike genesing van verwerping, misbruik of geweld? Is jy dalk ook só
desperaat vir genesing van ’n gebroke verhouding? Is jy dalk ook só
desperaat vir genesing van jou stukkende hart na die afsterwe van ’n
geliefde? Kom na die Here – sy hart is sag, sy jammerte lê vlak en Hy sien
jou desperaatheid. Stort jou hart voor Hom uit en smeek nog ’n keer vir
genesing, nog ’n keer vir Sy aanraking. “Hy het hulle innig jammer gekry en
die siekes onder hulle gesond gemaak.” Mag Hy dit vir jou ook doen. ~ Wilna
Botha, 16/07/2019 |
|
Jy kan sonder
die Here leef, weet jy? Dis maklik, jy ignoreer alles wat jy van Hom
weet, jy ignoreer Sy Woord, Sy opdragte, Sy inspraak in jou lewe, jy
bly weg van medegelowiges, van die kerk en jy stap alleen vorentoe.
Dis baie maklik, baie mense doen dit en van daai mense hou daarvan
om bymekaar te kom en daaroor te spog. Jy besluit net genoeg is
genoeg van hierdie storietjies en jy stap weg. Jy ignoreer daai stem
wat hier in jou binneste met jou praat, en hoe langer jy dit doen,
hoe sagter word dit.
En weet jy wat? Jy gaan presies soveel voorspoed sonder Hom hê as
met Hom. Jy gaan ook suksesse behaal in die lewe, jy gaan ook weer
gesond word as jy siek was, sonder om daarvoor te bid. Jy gaan ook
weer werk kry as jy joune verloor het en jou kinders gaan ook groot
suksesse in die lewe behaal en dalk nooit in dwelms verval nie.
Nee dis 'n feit, jy het nie die Here nodig om hierdie dinge te kry
nie en jy gaan dalk net so goed slaap as diegene wat sonder Hom gaan
slaap. Jy sal dalk ook nooit eers 'n gewete hê oor wat reg en wat
verkeerd is nie en jy sal goed voel in jouself. Baie doen dit, en
hulle dink Christene is dwase.
Maar tog is daar vele wat dit nie kan regkry om sonder Hom die
lewenspad te stap nie, tog is daar vele wat Sy voete vasgryp en Hom
net eenvoudig nie los in swaar tye nie. Daar is vele wat dit aanvaar
wanneer hulle gebede nie beantwoord is nie, en daar is vele wat by
Hom bly selfs as die ergste van die ergste hulle tref. Daar is
gestremdes wat aanvaar dat jou normaal anders as hulle s'n is en
daar is mense wat by 'n kind se graf staan en die Here prys dat Hy
hulle deur daardie bitter swaar tye dra.
Nee wat, sonder die Here kan jy ver kom. Maar daar is' n groot vraag
wat jy jouself moet afvra. Jy kan sonder Hom leef, maar kan jy
sonder Hom sterf? Daar is mos 'n teks wat daaroor praat.
Rom 14:11 "So seker as Ek lewe, sê die Here, voor my sal elke knie
buig, en elke tong sal bely dat Ek God is". Dis eenvoudig, hierdie
ding gaan definitief gebeur, IN hierdie lewe, of na ons afsterwe.
Gelukkig is diegene wat die besluit IN hierdie lewe neem. Maar
intussen kan ek nie sonder Hom lewe nie, Hy dra my deur moeilike tye,
Hy vertroos wanneer ek dit nodig het, Hy dra my ook deur tyd wanneer
Hy nie my gebede verhoor het soos ek dit graag wou hê nie, en ai, is
Hy nie wonderlike geselskap nie? Hoe lekker is dit om by Sy voete te
gaan sit vir 'n lekker "chat". Hy het altyd tyd en altyd 'n
gewillige oor om te luister. Ag man, ek praat met Hom as die kar se
battery ingee, of as ek olik voel, maar nog meer as ek gelukkig voel
wanneer die wiele goed geolie is. En ja, Hy kies vir wie Hy seën,
selfs diegene wat liewer sonder Hom die pad stap. Hulle besef dit
ongelukkig nie.
Dink ek nou aan die ou ou Halleluja liedjie: Wat 'n vriend het ek in
Jesus...? ~ Willem Botha ~
Willem Botha, 15/07/2019 |
|
“Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer
gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ’n wagter het nie.”
(Matt. 9:36) Op ’n hele paar plekke in die evangelies lees mens dat Jesus
mense innig jammer gekry het. In die Engelse vertalings sê dit: He was moved
with compassion. Dís wie Jesus is! Hy is liefde en net so ís Hy ook
barmhartig, medelydend en vol meegevoel. As Hy na dié van ons kyk wat moeg,
moedeloos, hartseer, eensaam, verstote, arm, siek of verlore is, dan krimp
sy hart as’t ware ineen van jammerte, dan is Hy diep geraak deur ons
swaarkry en probleme, dan identifiseer Hy uit die diepte van Sy wese met ons
situasie. Ons weet Hy sien raak waarmee ons sukkel, ons weet Hy verstaan ons
swakhede, ons weet Hy sien ons trane. “En die hele tyd het U dit gesien, die
lyding en verdriet. U let daarop en maak daar ’n einde aan.” (Ps. 10:14) Hy
het medelye met ons en dit loop uit op sy hulp, sy versorging en sy redding.
“Hy laat reg geskied aan die verdruktes en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes, die Here laat blindes sien, Hy ondersteun dié
wat bedruk is. Die Here het die regverdiges lief. Hy beskerm vreemdeling en
help weeskinders en weduwees.” (Ps. 146:6-9) ~ Wilna Botha, 11/07/2019 |
|
Begin met die werk
In Haggai lees ons dat die Here vir die volk die opdrag gee om die tempel te
herbou. Die tempel lê in puin en niemand is bereid om aan die werk te spring
nie, dan kom 'n opdrag deur monde van die profeet. Dalk het die volk moed
verloor en selfs die huis van die Here gee nie meer vir hulle hoop nie.
Dit laat my so dink aan ons situasie vandag in Suid-Afrika, mense het moed
verloor en wil met alle geweld hier wegkom. Baie het dit al reggekry, en
regtig, uit my hart uit gun ek dit vir mense wat dit kon doen. Ek kan self
egter nie meer nie en sal dus self iets moet doen aan my en my gesin se lewe
hier. As ek hierdie volgende deel in Haggai lees kry ek die antwoord
klinkklaar: Begin met die werk en begin opbou wat afgebreek is.
Hag. 2:4 "Maar nou, Serubbabel, skep moed, sê die Here, en jy Jesua seun van
Josadak, hoëpriester, skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep
moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die
Almagtige."
Sien jy hierdie woorde: "Ek is by julle"? Die Here is hier vriend, HIER! Ja,
Hy is daar ook, waar daar ook al mag wees, maar Hy is hier ook. En omdat ek
hierdie woorde met my hele hart glo, kan ek daaraan vashou. Die Here is hier!
Daar staan ook in daardie teks: "Skep moed". En dan skep ek moed want die
Here sê so, en ek hoop jy is bereid om saam met my moed te skep. Hoe kan ek
die hele dag afbrekend (saam met vele ander) afbrekend van my eie land praat?
Hierdie mooi land watse gelyke jy nie maklik sal kry nie, die land met die
beste weer in die wêreld, en ten spyte van baie slegte elemente, die
wonderlikste mense huisves. Nie almal is sleg en korrup nie weet jy? Hierdie
land bied soveel geleenthede vir die wat WIL, wil werk, wil vorentoe gaan,
wil opbou, wil beterskap sien. Lees weer hierdie woorde in ons teksgedeelte
raak: "Begin met die werk". Hoekom wil ons ook deelneem aan slegte en
verkeerde goed omdat ander dit doen? Wil ons dan dieselfde as hulle word?
Gaan plant 'n boom, een wat baie stadig groei en visualiseer dat jy nog
eendag in sy skadu gaan sit. Neem 'n aksie wat wys dat jy hoop het vir die
toekoms, werk rondom jou aan verbetering, en hou groot asseblief op om jou
eie land sleg te praat.
Die Here sê: "Ek is by julle", vertel vir jou kinders dat die Here hier is
en by hulle is, en glo dit gerus. Prof Stephan Joubert het 'n waar ding gesê.
Hy sê toe hy ook op 'n tyd landuit is, het hy besef mense se probleme gaan
saam met hulle en niks verander nie. Toe kom hy terug. Ek dink ek sal maar
my probleme liewer hier beveg as in die onbekende.
Hagg. 2:4 "... skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed,
sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die
Almagtige." ~ Willem Botha, 10/07/2019 |
|
Ek het die
afgelope tydjie bietjie gelees en gedink en geskryf oor hoop. Ek het
tekste opgesoek wat oor hoop gaan. Ek het gewilde aanhalings oor
hoop opgesoek. Steeds het ek nie al die antwoorde nie, steeds voel
ek dat dit soms maar moeilik is om in alle omstandighede hoopvol en
positief te bly. Steeds weet ek dat ek moet aanhou om vir myself te
“preek” oor hoop, dat ek moet aanhou om my gedagtes te fokus op “die
dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie” (Kol
3:2), dat ek moet aanhou om saam met Jo Black se liedjie die refrein te
sing: bring die hoop weer terug – nie net vir myself nie, maar vir
almal wat so terneergedruk en negatief en sonder geloof is. Steeds
moet ek myself herinner om nét op die Here te hoop vir krag, vir
voorsiening in my behoeftes, vir uitkoms, vir wysheid, vir hulp.
Hoop is ’n stem wat sê: as jy moeg is, sal Ek jou dra. Hoop is ’n
stem wat sê: as jy geval het, sal Ek jou weer optel. Hoop is ’n stem
wat sê: as jy die pad byster geraak het, sal Ek weer vir jou die
koers aandui. Hoop is ’n stem wat sê: as jy in die donker is, sal Ek
vir jou ’n lig wees. Hoop is ’n stem wat sê: as jy sondig, sal Ek
jou weer wit maak soos wol. Hoop is ’n stem wat sê: as jy weggeloop
het, sal Ek jou weer met oop arms terugverwelkom. Hoop is ’n stem
wat sê: My genade is genoeg. Ek het hoop. Het jy? ~ Wilna Botha, 09/07/2019 |
|
As jy net kan lewe
In Job speel 'n baie interessante verhaal af, waar Job alles verloor, maar
nie gesondig het nie. Dan wys die Here vir Job uit as 'n vroom man, en dan
sê Satan die volgende: Job 2:4 "Die Satan sê toe vir die Here: “Dit bewys
nog niks. 'n Man sal mos alles gee wat hy het, as hy net kan bly lewe."
Die Here gee dan vir Job oor in die hande van die Satan met die opdrag dat
hy net nie Job se lewe mag vat nie.
Dis baie maklik om oor Job te praat, want ons ken die goeie uiteinde van sy
lewe. Goed? Regtig? Job het steeds sy kinders verloor! Sy vrou was egter
bitter teenoor die Here.
Job 2:9-10 "En sy vrou het vir hom gesê: Bly jy nog steeds vroom? Vervloek
God en sterf! Toe sê hy vir haar: Jy praat nou soos 'n vroumens sonder
verstand. As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte
aanvaar nie? Onder alles het Job met geen woord gesondig nie."
Lewe jy? Voel jy soms hooploos? Dink jy dit kan nie nog slegter gaan nie?
Wat is al alles van jou weggeneem? Geen lig in die tonnel nie?
Job het nie op hierdie stadium in die gesprek met sy vrou geweet dat alles
weer sal verander nie, dan sê hy die volgende in vers 10: "As ons die goeie
van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?"
Ek is jammer, maar ek sal waarskynlik nie hierdie woorde van Job kan uiter
as ek in daardie omstandighede is nie. Kyk wat sê hy nog.
Job 1:21 “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek
daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die
Here.”
Ek glo Job het geweet die Here gaan opdaag, want hy het geweet sy heil lê by
God en nie sy besittings nie. Ons kan alles verloor, solank ons net nie die
Here verloor nie. Die duiwel was reg toe hy sê : "'n Man sal mos alles gee
wat hy het, as hy net kan bly lewe." Dis moeilik in slegte tye, maar solank
as wat jy lewe is daar hoop. Die Here daag soms op snaakse tye en snaakse
maniere op, maar hou net vas aan die lewe. ~ Willem Botha, 08/07/2019 |
|
Ek wil nog ’n keer iets sê oor hoop: die Here wil en
kan ons gebruik as instrumente om hoop aan ander te gee. As jy self nog hoop
het, moet jy dit deel en uitdeel aan die hooploses om jou. Vertel van jou
hoop, sê hardop hoekom jy nog hoop het, terwyl almal anders dit verloor het,
versprei jou positiewe gesindheid, al is almal negatief en swartgallig.
“Wees altyd gereed om 'n antwoord te gee aan elkeen wat van julle 'n
verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” (1 Pet. 3:15) Ek weet
dis nie aldag maklik nie, veral as almal se hoop verpletter is - maar ons
het die Gees van die Here in ons wat ons toerus met wysheid, met positiewe
woorde, met Goddelike bemoediging, met vrymoedigheid. “Die Gees van die Here
my God het oor my gekom; die Here het my gesalf ... Hy het my gestuur om dié
wat moedeloos is, op te beur” (Jes. 61:1) Die Here het ons bemoedig en hoop
in ons geplant – nou kan ons ook ander bemoedig. “In elke moeilikheid
bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei
moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging
waarmee God ons bemoedig.” (2 Kor. 1:4) Ek
het gehoor iemand sê: “Die beste manier om jou eie lewe te verbeter, is om
hoop vir ander te gee.” As jy vir iemand nuwe hoop gegee het, gaan jou eie
hoop ook toeneem ... kom ons probeer dit. Bring die hoop weer terug! ~
Wilna Botha, 04/07/2019 |
|
Spr. 12:27 "Die luiaard gaan vang nie eens wild om te
braai nie; 'n hardwerkende mens versamel kosbare besittings."
Ek glo nie aan voorspoed teologie nie, want as jy glo dat jou geloof in
Christus vir jou voorspoed moet gee, moes 'n ander een daarvoor werk, maar
dit nou daar gelaat. Ek glo wel dat voorspoed (wat jou definisie daarvan ook
al mag wees), kom saam met harde werk. Die Bybel is baie uitgesproke teen
luiheid en daar is vele tekste daaroor, gaan soek dit gerus in Spreuke. Aan
die ander kant waarsku die Here baie ernstig teen Mammon, en dis ook iets om
mee rekening te hou. Hierdie teks hierbo gee egter 'n baie realistiese
perspektief op welvaart en dit wat jy jouself mag gun, naamlik beloning vir
harde werk.
Nou hoor ek gereeld hoe mense teen welvarende mense uitvaar met sêgoed soos
"die ryk ou dinges", of "hy het diep sakke maar sy armpies is maar kort,
suinige ou vrek", of "hy sit dik in die pitte, hy kan maar betaal". Voorts
het ek al baie gehoor dat ons (ek en vroulief) mos ryk is want ons het 'n
besigheid. "SUG!!!!" Dit steek my absoluut dwars in die krop, want as iemand
(of ek en jy) hard gewerk het, sy inkomste eerlik verdien het, berekende
risiko's geneem het en nie by jou gesteel het nie, skuld hy niemand niks.
Punt!
Daarom kan ek vandag hierdie teks in Spreuke vir jou voorhou en sê dat jy
maar sonder skuldgevoel jou "welvaart" kan geniet. As ek en jy ons
verpligtinge (ook die teenoor die Here, soos jy jou voorgeneem het) nakom,
kan jy maar daai kosbare besitting van jou geniet. Ons het verskillende
definisies daarvan en dis nie dieselfde vir almal nie, maar wat joune is mag
jy maar geniet. Ek het nog nooit in my lewe (en ek is nie meer vandag se
kind nie), 'n nuwe motor aangeskaf nie, ek was nog nooit in die buiteland
nie (nie vir werk of vakansie nie) en bly in 'n baie gemiddelde woonbuurt,
in een huis vir 36 jaar. Maar dit wat ek en vroulief onsself gun, is ons
welvaart, en dis in klein dingetjies. Ons is egter terdeë bewus daarvan dat
dit alles uit die hand van die Here kom, onverdiend. Maar, ons werk regtig
baie hard daarvoor.
Vriend, geniet die opbrengste van jou harde werk en moet nooit skuldig voel
daaroor nie, want as 'n ander ou te lui was om hard te werk, het hy nie
aanspraak op jou besittings nie. Ja, natuurlik praat die Here van hulp aan
die armes, maar dit impliseer nie hulp aan die luiaard nie. Kyk, jy kry
professionele bedelaars, soms met meer besittings as jy!
Pred. 2:24 "Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en
onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit 'n
gawe uit die hand van God is." ~ Willem Botha, 03/07/2019 |
|
Hoop is die verwagting dat iets ’n werklikheid sal word
– dit is altyd gekoppel aan iets wat in die toekoms gaan gebeur. Rom 8:24-25
praat ook van hoop as toekomsverwagting: “Wat ’n mens al sien, hoop jy tog
nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? Maar as ons hoop op wat ons
nie sien nie, wag ons daarop met volharding.” Dit lyk my hoop is eintlik
beperk tot die toekoms. Hoop maak dat jy kan vashou aan die verwagting dat
iets gaan realiseer, sodat jy nou al in geloof kan optree op grond van daai
verwagting. Iemand het dit so mooi geskryf: “Hoop is om die melodie van die
toekoms te hoor. Geloof is om nou reeds op die maat daarvan te begin dans.” Die
Here sê: “Ek weet wat Ek vir julle beplan: voorspoed en nie teenspoed nie;
Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!” (Jer. 29:11) Die Here weet
verseker wat in die toekoms lê, daarom kan ons hoopvol lewe, daarom kan ons
’n positiewe verwagting hê, daarom kan ons moed skep en uithou en uitsien na
dit waarop ons vandag hoop. “Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop
is op U gevestig.” (Ps. 143:8) ~ Wilna Botha, 02/07/2019 |
|
Labels
Ons druk "labels" vir ’n lewe, oftewel etikette, dis goed wat op toerusting
geplak word om 'n aanduiding te gee van die inhoud van iets, of serie
nommers, of dit beskryf die werking van die toerusting. Daar is 'n
spreekwoord wat sê jy "label" mense deur plakkers op hulle te plak, plakkers
wat goed van hulle sê, of dit nou waar is of nie. Nou, ek waarborg jou, jy
loop met plakkers op jou lyf rond waarvan jy glad nie bewus is nie, of dalk
is jy bewus daarvan en jy kan niks daaraan doen nie. Soms plak jou vriende
dit op jou.
By elke maatskappy, ja daar waar jy ook werk, is daar so 'n fasiliteit en
daar word wild en wakker plakkers gemaak en op mense geplak. Dis daar waar
mense gaan dampies maak, of tee drink, daar waar so ge-tjie-tjie-tjie word.
Giftige goed word op daardie plakkers geskryf en dis dikwels, nee, nie
dikwels, gewoonlik, nie waar nie en word op mense geplak. Onthou jy toe ons
kinders was het ons 'n stukkie papier gevat en "skop my" of iets soos "donkie"
daarop geskryf en op iemand se rug geplak, sonder dat hy daarvan weet? Dan
lag almal agteraf vir daardie persoon. Lekker kinderagtig, net so
kinderagtig soos wat volwassenes dit vandag nog doen. En weet jy wat is die
ergste? Dis as jy glo wat ander op jou geplak het. Nog erger, soms "label"
ons sommer onsself, dis as jy nie wil glo wat die Here van jou dink nie. Sy
plakkers spreek van wonderlike liefde.
Moenie mense glo nie, hulle hou net van skinder.
Spr. 26:22 " 'n Geskinder is soos lekker kos, mense sluk dit so maklik".
Spr. 18:8 "Skinderstories word gretig verslind, mense sluk dit so maklik".
Daardie woorde wat mense op ander plak, maak so ongelooflik seer, en dit
saai soveel verwoesting en dit maak die lewe so onaangenaam en dit verwoes
verhoudinge. Ons moet maar almal werk aan hierdie ding en nie deelneem
daaraan nie, dit het nooit goeie gevolge nie.
Nou ja, vandag plak ek sommer 'n plakker op jou rug ook. Ek skryf in
hoofletters "SEFANJA 3:17".
Jy moet maar self gaan lees wat daarop staan. ~ Willem Botha, 01/07/2019 |
|
Ek is maar al te bewus daarvan dat daar vir ons almal
tye kom dat dit voel of alle hoop daarmee heen is. Dalk het jy gehoop op
beter gesondheid, op herstel van ’n verhouding, op ’n werk of verhoging, op
’n lewensmaat of ’n swangerskap, op die een of ander deurbraak, maar nou lyk
dinge onredbaar en onherstelbaar. Jou hoop is dalk verpletter deur swaarkry
en probleme en geen uitsig op beter dae. Daar is twee uitdrukkings wat
werklik waar is: “hoop beskaam nie” en “waar daar lewe is, is daar hoop”.
Daar is altyd hoop! “Vir ’n boom is daar nog hoop; al is dit afgekap, kan
dit weer uitloop en sy lote sal aanhou groei.” (Job 14:7) “Solank jy onder
die lewendes is, het jy hoop. ’n Hond wat lewe, is beter as ’n leeu wat dood
is.” (Pred. 9:4) Fokus op die blink kant, kyk na die positiewe, hou die Here
voor oë, hou jou hoop realisties, hou aan bid, hou aan glo. Gaan weer terug
na al die beloftes van die Here, neem dit vir jou persoonlik, glo dit en
verwag opnuut dat dit sal realiseer in jou lewe. Sê vir jouself: “Hoekom is
ek so neerslagtig? Hoekom so verontrus? Ek sal op God vertrou!” (Ps. 43:5,
NLV) In die donkerste ure sal die Here weer jou hoop herstel. “Maar dít sal
ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here
het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is
elke môre nuut.” (Klaagl. 3:21-22) ~ Wilna Botha, 27/06/2019 |
|
Nie alles wat jy in die Bybel lees, is noodwendig
vandag vir jou van toepassing nie. Al wil jy dit so graag naarstigtelik glo.
Dit mag dalk op 'n ander keer jou waarheid wees. Nie alles wat ander mense
vir jou namens die Here sê, kom van die Here af nie. Nie alles wat mense as
profesieë oor jou uitspreek is 'n woord vir jou nie. Daar is vele valse
profete. Nie alles wat jy self glo dat dit die Here se wil is, is wel Sy wil
nie. Nie alles wat jy bid en waarvoor jy vra, is die regte antwoord vir jou
nie, die Here gee nie vir jou 'n slang as jy vir brood vra nie. Soms doen jy
dit onwetend. Nie alles wat jy op 'n gegewe dag in die kerk hoor, is op
daardie dag van toepassing nie, maar onthou dit, want dit gaan dalk later
wel wees. Nie alles wat jy glo vir jou goed is, is wel heilsaam nie. Nie
alles wat jy ooit as waarhede geglo het, is noodwendig nog steeds waarhede
nie, jy moet aanhou leer en groei. Nie elke "stem" wat jy hoor, is die Here
se stem nie, soms is dit jou eie gedagtes. Nie alles wat ander in drome en
visioene sien, is vir jou nie, en wees versigtig om dit blindelings aan te
gryp en daarop te reageer. Nie elke bediening wat op jou pad kom, is vir jou
nie, soms raak mens verstrik in te veel dinge, omdat ander 'n skuldgevoel op
jou sit. Nie elke nood wat jy raaksien, hoef deur jou aangespreek te word
nie. Nie alles wat as gawes geklassifiseer word, is jou gawes nie. Almal het
nie al die gawes nie. Nie alles wat deur ander mense "uitgedink" word, hoef
deur jou in werking gestel te word nie. Nie al die laste wat op jou gesit
word, hoort op jou skouers nie, Jesus waarsku self teen ondraaglike laste
wat op mense geplaas word. Nie alles wat mense kwytraak, is regtig nuttig
nie, oppas vir oordrewe dogma en "godsdiens". Nie elke persoon wat 'n groot
gevolg bymekaar maak, is noodwendig navolgenswaardig nie. Nie alles wat jy
op hierdie groep lees, is noodwendig vandag vir jou nie.
Ons leef in 'n tyd waar sosiale media, die internet en nuwe strominge
toenemend onderskeidingsvermoë van jou vra. Dinge verander, mense se
Geestelike behoeftes en gebruike verander, maar God verander nie. Sit
gereeld by Sy voete en soek na Sy stem en na Sy wil, maar moet ook nooit
ophou om by geloofwaardige mense te leer nie. Wees versigtig, moenie
oorhaastig op dinge reageer nie en vra vir die Here vir wysheid, elke dag. ~
Willem Botha, 26/06/2019 |
|
Ek het die afgelope tyd baie oor hoop gedink en
agtergekom hoe baie keer sê ek: ek hoop dit of dat sal gebeur of uitwerk.
Baie keer sê ek: ek hoop regtig nié dit of dat sal gebeur nie... Hoop het
gewoonlik daai element van onsekerheid, daai oop agterdeur dat dit waarvoor
jy hoop dalk nie gaan gebeur nie. Ek het agtergekom dat negatiewe,
swartgallige mense baie keer net op die onseker kant van hoop konsentreer en
gou-gou het wanhoop, vrees, onsekerheid, bekommernis die hoop-vlam uitgeblus
en lyk die pad donker en probleme baie groter as wat hulle werklik is. Gou-gou
trek twyfel en ongeloof ’n streep deur vertroue op God en geloof in Sy
beloftes. Ek het êrens gelees dat iemand sê: “Ons hoop vaagweg, maar ons
vrees in fyn besonderhede.” Is dit nie waar nie? Vrees dat die ergste kan
gebeur vreet die hoop op uitkoms op. Jak 1:6 sê: “...iemand wat twyfel, is
soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer
gedryf word.” Nee vriende, as kinders van God het ons alle rede dat die
hoop-faktor ’n baie groter rol in ons lewens kan speel as vrees en twyfel.
’n Hoopvolle mens kan makliker koers hou, ’n hoopvolle mens kan
struikelblokke en uitdagings oorwin, ’n hoopvolle mens kan met vertroue en
sekerheid sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie” (Heb. 13:6)
Bring die hoop weer terug. ~ Wilna Botha, 25/06/2019 |
|
'n Reguit hou met 'n
krom stok
Jak. 2:14 "Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy
dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red?"
Geloof sonder dade is nutteloos. Dood. Nikswerd. Jakobus kom plaas die klem
op die ander kant van die muntstuk as Paulus. Paulus sê "glo", Jakobus sê "doen".
Twee uiteenlopende standpunte? Nee, verseker nie. Dit is twee kante van een
muntstuk. 'n Muntstuk het verseker nie twee kopkante, of twee stertkante nie.
Paulus sê "geloof red jou", Jakobus sê "dis reg, solank jou dade dit
bevestig". Anders beteken dit niks. Nou ja, hier lê nou die probleem. Wat
moet ek DOEN? Waar moet ek dit doen? Hoe gereeld moet ek dit doen? Moet ek
by bedieninge betrokke raak, geld weggee, hulp verleen en preek? En as ek
dit nie doen nie, kom die skuldgevoel, selfverwyt, onsekerheid oor myself,
en die duiwel kom vertel my ek is nutteloos, en dra niks by tot
Koninkrykswerk nie.
Ek dink egter die grootste probleem is om verby die gevoel van geestelike
minderwaardigheid te kom. Jy is tot baie in staat, weet jy?
Kom saam met my gholfbaan toe … maar jy moet my nou asb. verskoon, want ek
weet absoluut niks van gholf nie! Ek hoor egter as my vriende so praat. So,
stap in jou gedagtes saam met my. Hier by die afslaan punt staan twee ouens.
Kom ons noem hulle ou Niek, en Mnr. Golfer (meneer met 'n hoofletter!). Niek
is uitgedos in die nuutste uitrusting denkbaar. Duur, "brand name" hemp, die
regte skoene, hoed, handdoekie, en hy speel natuurlik met 'n Titleist
gholfstel (wat duisende rande kos). Mnr. Gholfer, daarenteen, speel sommer
met sy sandale, dra so los T-hemp, en lyk totaal uit plek uit. Hy pas net
nie daar nie. En in plaas van 'n sak op 'n selfaangedrewe karretjie, het hy
so 'n boks met goed wat soos gemors lyk. Niek kyk die spulletjie so, en hy
begin onbedaarlik lag.
Dan vra hy: "Wat maak jy hier?" Mnr. Gholfer sê niks, en haal ook 'n
balletjie uit sy sak uit. Niek plaas sy balletjie noukeurig op daardie
plastiese dingetjie, haal 'n no 2 dryfhout uit, lê aan en slaan die bal "potshot",
tot op die "greens". Nou is dit Mnr. Gholfer se beurt. Hy sit die balletjie
neer en begin krap in sy boks. Uiteindelik kom hy met 'n stok te voorskyn,
maar die ding was duidelik om 'n lamppaal opgekrul - lyk soos 'n spiraal,
dis gebuig en die kop van die stok is sommer so binnetoe gebuig. Niek begin
weer lag, só dat hy amper omval. Maar Meneer lê aan en slaan. Die bal trek
net so die helfte van Niek se afstand, en val êrens in die lang gras. Op
hierdie stadium kruip Niek omtrent op die grond rond, en hy brul soos hy
lag! Maar, Meneer stap rustig vorentoe en soek die bal. Jy weet mos, die 99
het Hy gelos en die een het Hy gaan soek…. Hy weet presies wat Hy doen.
So speel die twee hulle wedstryd. Keer op keer slaan Niek die perfekte hou
met sy perfekte toerusting, en Meneer se spel lyk nie lekker nie. Wanneer
Niek 'n no 9-yster uit die sak haal, grou Meneer 'n stukkende stok uit sy
boks uit. Party se koppe is afgebreek, ander het skaars nog 'n steel oor.
Nog ander is vrot geroes, maar Meneer speel. Op die oog af lyk sy spel na 'n
ramp, maar toe gebeur 'n snaakse ding!
Niek vul albei se telkaarte in, en dan, hier aan die einde van die spel, tel
Niek die punte op. Skielik vervaag sy glimlag, en hy frons in ongeloof.
Meneer vra vir hom: "Wat's fout?" Dan sê hy: "Hier moet groot fout wees …
jou punte is dan beter as myne! Ten spyte van die hoop gemors waarmee jy
speel, is jou telling beter."
Dis dan wanneer Meneer vir hom sê: "Niek, jy verstaan iets nie mooi nie. As
hierdie krom stok eers in My hande kom, slaan Ek perfekte houe. Ek slaan 'n
penreguit hou met 'n krom stok. By My tel die naam van die gholfstel anders
as by jou. My gholfstokke se name is in My handpalms gegraveer. Jy Niek,
vertel vir My kinders, My stokke, dat hulle net iets werd kan wees as hulle
volmaak is. Jy verstaan egter nie dat Ek anders as jy meet nie. As Ek die
stok swaai, slaan Ek sekuur. Al val die bal wáár ook al. Ons meet
verskillend."
Jy sien my vriend, ek en jy wil Titleist en Callaway - stelle wees om iets
vir die Here te beteken, maar Hy sê: "Kom net soos jy is - kom net, Ek wil
jou gebruik, nes jy is!"
'n Reguit hou met 'n krom stok, só werk die Here met jou en my. Ons voel ons
kan nie, want ons is te sondig, het geen vermoëns nie, talente ontbreek, en
ons steek af teen ander. Maar, die Here sê: "Kom, Ek gebruik jou soos jy is,
want Ek slaan die bal, Ek hou die stok (vir jou), in My hand. Ek sal die
onmoontlike doen as jy net bereid is om te kom. En meer nog, Ek sal jou
aanwend waar jy die beste pas." Onthou jy nog die liggaam met baie lede? Die
Here het gesê dat nie almal oog is nie, en nie almal hand, of voet nie. Dit
is só, maar daar staan ook nie dat al die ledemate volmaak is nie. Natuurlik
geniet die duiwel die gholfspel, want hy gee voor dat hy die beste vaar in
die spel. Jy weet mos, ons vra partykeer hoekom dit klaarblyklik so goed
gaan met die goddelose. En hoekom werk hulle geldsake altyd uit? En hoekom
is hulle so suksesvol? Wel, die antwoord is eenvoudig. Die telkaart se punte
is nog nie opgetel nie. Want soos Niek op die gholfbaan die heeltyd gedink
het hy wen, het hy nie besef die uitslag is laaaaank terug al bepaal nie.
Daar by die kruis van Jesus - daar is die uitslag in ons guns vasgemaak.
Daarom vertel die duiwel vir ons ons gaan dit net maak as ons perfekte houe
speel met perfekte toerusting. Intussen is dit nie nodig nie, want ons speel
nie meer vir 'n "wen" nie. Ons het klaar gewen. Nou speel ons sodat ander
ook kan wen. Daarom wil die Here nie 'n sak vol Titleist stokke hê nie, Hy
gebruik sommer dit wat in die boks is. Ons moet net ontslae raak van ons
persepsie van 'n volmaakte stok. Jy sien, dis nie die volmaakte stok wat die
spel wen nie, dis die volmaakte hou - en dis Jesus wat die hou slaan. Reguit,
volmaak, volpunte, ongeag die krom stok.
Waar pas jy in? Sommer so in die alledaagse lewe - laat die Here toe om jou
te gebruik, nes jy is! ~ Willem Botha, 24/06/2019 |
|
Weg van die Here af
Jona 1:2-3 "Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan,
want Ek weet hoe sleg hy is.” Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te
vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy 'n skip
gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord
gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af.
Jy ken hierdie deel baie goed, van Jona wat 'n opdrag van God kry om Nineve
te gaan aanspreek, maar hy besluit om eerder weg te vlug van die Here af.
Die res is geskiedenis, hy word oorboord gegooi omdat daar 'n storm losbreek,
'n vis sluk hom en hy word op land uitgespoeg.
Ek dink ons almal wil soms van die Here af wegvlug, want dit wat die Here se
doel met ons lewens is, staan ons nie altyd aan nie. Ek moet jou sê, ek voel
dikwels om eerder weg te vlug, en in 'n mate doen ek dit. Ek vlug soms weg
a.g.v. sonde in my lewe, want dis makliker om weg te vlug as om die Here te
"face". Soms vlug ek soos Jona weg omdat ek nie Sy opdragte wil uitvoer nie.
Soms vlug ek weg omdat ek dink ek nie in staat is om Sy opdragte uit te voer
nie, en dat ek nie opgewasse is nie. Soms vlug ek weg omdat ek dink andere
moet liewer daardie dinge doen omdat hulle beter toegerus is as ek. Soms
vlug ek weg omdat ek myself gemaklik vind tussen ander vlugtelinge. Soms
vlug ek weg omdat die wêreld se plesier meer aanloklik lyk.
Maar die Here werk nie so nie, soos in Jona se geval sal Hy tot uiterstes
gaan om jou in Nineve te kry as dit is waar Hy jou wil gebruik. Hy sal selfs
'n vis stuur, iets wat soms vir ons onmoontlik lyk. Hy sal dalk selfs - soos
in die geval van hierdie matrose - ander mense op vreemde maniere gebruik om
Sy plan uit te voer. En ja, soms gaan dit selfs met pyn gepaard.
Dus is dit maar beter om oor te gee, want die Here maak nie foute nie, as Hy
besluit het jy is die een vir daardie taak, moet jy maar net aanvaar dat jy
die unieke wese is, met die regte CV en ondervinding, om dit perfek te doen.
Jy is per slot van rekening tot meer in staat as wat jy dink. ~ Willem Botha,
20/06/2019 |
|
Hoop is ’n verwagting dat iets in die toekoms sal
realiseer, dat ’n droom vervul sal word, dat iets goed en positief op die
horison wag. Ons ken almal die tipe hoop wat slegs ’n optimistiese begeerte
is dat iets gaan gebeur, soos bv. ek hoop die son skyn môre, ek hoop my
rugbyspan wen Saterdag, ek hoop ek sal die eksamen slaag. Hierdie hoop is
mos nie gewaarborg nie want dit is afhanklik van omstandighede en mense en
gebeure wat onbetroubaar en veranderlik is. Christelike hoop, aan die ander
kant, is ’n besliste versekering dat iets gaan gebeur. Dis ’n hoop wat
gewaarborg is omdat dit gegrond en geanker is op die onveranderlike God en
op Sy onveranderlike Woord en elke belofte daarin. Mens kan as’t ware in
die Bybel die woorde hoop, vertroue en geloof onderling met mekaar vervang.
As jy staatmaak op die veranderlike hoop, kan jy weet dat jy een of ander
tyd teleurgestel en ontnugter sal wees, maar as jy op die Here hoop het jy
die sekerheid dat dit jou staande sal hou in onseker tye, dat dit jou met
krag sal vul, dat dit jou moed sal gee vir elke dag en die toekoms. “Julle
moet egter net vas bly glo (hoop). Staan vas soos ’n huis op stewige
fondamente, onbeweeglik soos ’n paal wat diep ingekap is.” (Kol 1:23, Die
Boodskap) ~ Wilna Botha, 19/06/2019 |
|
Stilte, doodse stilte. Jy lê in jou bed en wag, soos
nagte vantevore wag jy vir 'n antwoord. Jy vra weer, en weer, en nog 'n keer,
maar daar is niks. God se stem is stil, doodstil. Nie 'n hoorbare stem nie,
nie 'n versugting van binne nie, nie 'n Bybel teks wat met jou praat nie,
niks. Here waar is U? Ek het U stem so nodig, NOU, ek weet nie watter kant
toe nie. Dan begin jy weer smeek, en weer en weer. Here, het U my vergeet?
Hoekom hoor ek niks? Here is dit my sondes wat maak dat U my ignoreer? Dan
wend jy jou na ander, mense wat gereeld God se stem hoor. Miskien hoor hulle
beter as jy. Daar is mense wat spesialiseer daarin om God se stem te hoor,
namens ander. Hulle gee raad, en tekste, en opinies. Jy is so desperaat,
enigiets sal help, enigiets om aan vas te hou. Dan weer terug Bybel toe,
blaai, soek, lees, blaai. Niks. Vannag probeer jy weer. Here, waar is U,
hoekom antwoord U nie? Is U enigsins nog daar Here?
Soms is dit hoe dit is, soms weet jy eensklaps wat God se gedagtes vir jou
is, maar dikwels nie. Dis daardie tye waar die gebede net halfpad plafon toe
beweeg en weer neerdaal na jou toe. Moedeloos, net heeltemal moedeloos.
Dis dan wanneer mens verkeerde besluite neem, en op jou eie insigte en
kragte staatmaak, of mense gaan sien wat meer goed as kwaad doen. Jy sien
vriend, die Here "antwoord" op verskillende maniere, soms "ja", soms "nee",
soms "wag". Dikwels neem dit lank en dis nie lekker nie, die uurglas loop
soms uit.
Maar een ding moet jy weet en glo, Hy luister altyd, Hy reageer soms stadig,
maar Hy maak nooit foute nie. Oppas vir ander se opinies, oppas as mense "sien"
namens jou, dis nie altyd van die Here af nie.
In sulke tye gaan soek mense tekens, maar die Here sê ons moenie, dis
ongelowiges wat dit doen. Soms vertrou ons dan op onsself en maak foute. Kan
jy nog wag? Nog 'n rukkie? Dalk nog lank? Is jy bereid om Sy besluit
onomwonde te aanvaar? Al is dit seer of nie wat jy wil hoor nie. Wag.
Jes. 40:31 "... maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op
met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle
wandel en word nie mat nie." ~ Willem Botha, 18/06/2019 |
|
As ek in Heb. 6:19 lees dat hoop ons lewensskip se
anker is, dan voel ek dat ek bietjie selfondersoek moet doen en myself afvra:
waarop gooi ek my anker uit? Sal die ankergrond wat ek elke dag kies sterk
genoeg wees om die skip stewig te hou in die lewens-aanslae? Omstandighede
kan in ’n oogwink verander, dan is dit te laat om die anker te lig en ’n
beter ankergrond te soek. Ek moet eerlik wees dat geld, goed en gerief heel
dikwels die plek is waar my anker lê. Mens verloor mos vinnig moed as die
finansies begin knyp, as die inkomste min en die behoeftes groot is. 1 Tim
6:17 kom as ’n waarskuwing dat dit nie goeie ankergrond is nie: “Hulle moet
nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat
alles ryklik aan ons gee om te geniet.” Ander kere probeer ek anker in
selfwaarde, status en belangrikheid. Spreuke 3:5 is my herinnering dat my
eie idees en my eie krag nie sal deug as ankergrond vir my lewe nie:
“Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie” Of
dalk is my ankergrond te veel kere ander mense. As hulle onttrek of van plan
verander of nie woord hou nie of voete van klei het, dan kan dit mens se
lewe nogal sleg omkrap. “Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ’n mens nie;
hy kan jou nie red nie. Sy asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne
is daarmee heen. Dit gaan goed met die mens wie se hoop gevestig is op die
Here, sy God.” (Ps. 146: 3-5) Die ware, betroubare, sekere, vasste
ankergrond is die Here self – so sê elkeen van die tekste hierbo as teenpool
vir my self uitgedinkte ankerplekke. “Een ding het ek God hoor sê, nee, twee:
dat net God mag het en ’n mens net op U, Here, kan vertrou.” (Ps. 62:12) –
ek neem dit opnuut ter harte dat God alleen die plek moet wees waarop ek my
lewensskip kan en moet anker – dan sal ek met hoop en vertroue en moed elke
dag ingaan. ~ Wilna Botha, 13/06/2019 |
|
Die mens is 'n vreemde wese, hoe meer jy fanaties goed
najaag, hoe minder vang jy dit. En wat daarmee saamgaan, is dat ons (ek ook)
nooit by die punt kom om te sê "genoeg" nie. Dit sluit baie dinge in, maar
geld is een van die grootste uitdagings in hierdie sin.
Ons was vir baie jare met gevangenisbediening besig en het gesien hoe mense
daar beland het oor hulle begeerte na meer. Net nog 'n bietjie, net nog een
keer probeer, amper daar, amper genoeg, sal binnekort ophou om so verwoed
agter dit aan te hol, ek voel my geluk gaan draai. Binnekort...! Nog net een
transaksie.
Ek weet van 'n man, 'n baie baie welaf man, wat groot besigheid gedoen het
en naderhand nie die einde van sy welvaart geken het nie. Maar dit was nie
genoeg nie. Om nog ietsie ekstra te maak was die volgende stap bedrog. Die
hofsaak het jare geduur en letterlik miljoene gekos, alles tevergeefs. Nou
is sy vryheid hom ontneem, en hy sal as 'n bejaarde eers weer vry wees. Was
dit die moeite werd? Weet jy dat 'n boemelaar wat onder 'n brug slaap beter
af is?
Kyk hoe ongelooflik akkuraat beskryf die Bybel hierdie man se situasie.
Pred. 5:12-16 "Ek het in hierdie wêreld 'n bitter swaar ding gesien: dat 'n
man rykdom opgaar en dit vir hom ellende bring. Hy doen verkeerd sake en
verloor die rykdom. Hy het intussen die vader van 'n seun geword en dié kry
dan niks nie. Self gaan hy kaal uit die wêreld uit soos hy daarin gekom het.
Hy kan niks met hom saamneem vir al sy inspanning nie. Ook dit is 'n bitter
swaar ding: presies soos hy gekom het, so gaan hy. Wat help dit dat hy hom
vir wind afgesloof het? Hy slyt die res van sy lewe in die donker, in smart,
ellende en bitterheid."
Lees weer hierdie laaste sin, lees dit sommer drie keer: "Hy slyt die res
van sy lewe in die donker, in smart, ellende en bitterheid."
Wil jy nie maar leer om tevrede te wees met wat jy het nie? ~ Willem Botha,
12/06/2019 |
|
Heb. 6:19 praat van hoop as die “veilige en
onbeweeglike lewensanker” wat ons as Christene het. Die doel van ’n anker is
om te keer dat die boot dalk teen die rotse gestamp word en breek en vergaan.
Of die doel is om wind, golwe en gety-veranderinge te weerstaan, om die boot
stabiel en stewig te hou in moeilike en gevaarlike omstandighede. As ons die
skip is, dan is hoop ons enigste anker en Jesus is die onsigbare ankergrond
en die onbeweeglike ankerpunt. Die hoop wat ons as Christene het in die
Here, is vir ons daai veilige en sterk anker wat sal keer dat ons vernietig
of verslaan word, wat sal keer dat ons rondgeslinger word in die wind en
golwe van die lewe, wat ons veilig sal hou in gevaar, wat ons standvastig en
bestendig sal hou te midde van moeilike omstandighede. Ons kan en móét
vasgryp aan ons hoop-anker, dis hier reg voor ons. Sonder daardie hoop weet
ons maar te goed dat die uiteinde moedeloosheid, neerslagtigheid, somberheid,
vreugdeloosheid sal wees, dat ons sonder verwagting en sonder
deursettingsvermoë en sonder krag sal wees. “Maar dit sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan
nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut ... Ek
sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.” (Klaagl.
3:22-24) ~ Wilna Botha, 11/06/2019 |
|
Sê nou maar ek kan presies leef soos wat die Bybel
voorskryf, sal ek 'n gelukkiger mens wees as wat ek is? Sê nou maar ek kan
nét goeie keuses maak, sal my lewe lekkerder wees?
Ja natuurlik, maar ongelukkig kies ons daagliks in ons lewens die verkeerde
kant wanneer ons besluite maak. As ek myself teen elkeen van hierdie
volgende dinge evalueer, besef ek hoe vêr ek tekortskiet:
Geloof is baie moeiliker as ongeloof
Kla is baie makliker as dankbaarheid
Ongelukkig wees is makliker as vrolik wees
Dis makliker om negatief te wees as positief
Haat is soveel makliker as liefde
Om te skinder is baie makliker(en lekkerder) as om te komplimenteer
Ons baklei eerder as om vrede te maak
Stel eerder werk voor die gesin
Maak eerder geld bymekaar as om dit weg te gee
Konsentreer eerder op dié wat ryker is, as diegene wat armer is
Eerder sonde doen as heiligheid najaag
Maai eerder as saai
Eerder lui wees as hard werk
Eet eerder verkeerd as reg
Aanvaar eerder ander se opinies (en interpretasies), as die letter van die
Woord
Eerder ekself as iemand anders
Eerder bekommer as om God te vertrou
Eerder 'n wrok dra as om te vergewe
Eerder reëls verbreek as nakom
Eerder bedien word as om te dien
So dink ek kan ons aanhou en aanhou en aan nog 'n miljoen goed dink.
Al wat ons hoef te doen, is om vir die Here insig te vra.
Spr. 3:5-8 "Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat
maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat
loop. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat
sleg is: dit is die geneesmiddel vir jou, die verkwikking vir jou liggaam."
~ Willem Botha, 10/06/2019 |
|
Ek lees nou die dag dié aanhaling: “Hope is putting
faith to work when doubting would be easier.” Om hoop terug te bring in jou
hart en in jou alledaagse bestaan is nie altyd maklik nie en kom nie
noodwendig sommer net vanself nie. Twyfel en ’n negatiewe, swartgallige
ingesteldheid kom gewoonlik vinniger en makliker nesskop in jou gemoed. Hoop
vra nie net dat jy duim vashou dat iets sal gebeur nie, hoop is nie net
wensdenkery of ’n “pie in the sky" nie. Hoop vra aktiewe geloof. Hoop vra
volledige vertroue in die Here; dit vra toewyding aan Hom; dit vra vir
onwankelbare moed en deursettingsvermoë. Hoop vra die sekerheid dat die Here
doen en sál doen wat Hy belowe het, soos bv. dat Hy in beheer is, dat Hy ons
Sy kinders gemaak het, dat niks ons van Sy liefde kan skei nie, dat niks jou
uit Sy hand sal ruk nie, dat Hy ons sondes vergewe, dat Hy vir ons die ewige
lewe gee, dat Hy ons beskerm en vir ons sal voorsien, dat Hy die Heilige
Gees in ons harte sal uitstort, dat ons daagliks in Sy teenwoordigheid kan
lewe. My gebed vir elkeen wat hier lees: “Mag God, die bron van hoop, julle
deur geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe
sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom 15:13) ~ Wilna
Botha, 06/06/2019 |
|
2 Kor. 11:23 - 27 "Is hulle dienaars van Christus? En
nou praat ek asof ek van my verstand af is: ek nog meer! Ek het harder
gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels
in doodsgevaar. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege
en dertig houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met
klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek 'n dag en
'n nag in die oop see deurgebring. Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar
was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en
gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see
en gevare onder vals broers. Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels
nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos,
sonder skuiling of bedekking teen die koue."
Paulus se swaarkry, absoluut ongelooflik. Hoekom op aarde sou enige mens so
iets wou doen? Ek het hierdie prentjie in my kop van Paulus wat 'n heilige
is, wat amper soos Jesus op aarde verskyn het en sy hele lewe lank in
afwagting was van sy taak op aarde om te begin. Dit alles met 'n groot
glimlag. Jesus het immers Sy aardse lewe lank gewag tot die dag wat Sy
openbare lewe moes aanbreek en Hy dissipels bymekaar gemaak het. Jesus het
Sy dissipels lank voor Sy kruisiging gewaarsku dat Hy sal ly, ter wille van
jou en my siel. Maar Paulus het geen idee gehad wat vir hom wag toe hy so
flink die Christene vervolg het nie.
Jesus se leiding kan mens verstaan, want Hy was immers die Seun van God,
maar Paulus was maar net 'n gewone Jood, maar ook 'n Romeinse burger. Hoewel
hy 'n geleerde man was, was hy verseker nie 'n volgeling van Jesus nie,
inteendeel, en ons kry ook geen aanduiding dat hy ooit eers vir Jesus van
aangesig tot aangesig gesien het nie. En dan, uit die bloute, word hy getref
deur 'n verblindende lig en sy lewe verander in 'n oogwink totaal.
Nou dink vir jouself as jy hierdie teks in 2 Kor. 11 lees, wat maak dat mens
deur al daardie swaarkry gaan, bykans die helfte van die Nuwe Testament
skryf en eventueel sterf vir jou geloof? Vyf keer 39 houe waar jou vel
oopgekloof word, sjoe eina, dis 195 hale oor jou lyf! Ek dink hy het naar
gelyk! Trek 195 hale op jy lyf met 'n pen en kyk hoe lyk dit.
Mense sê hulle sal net glo as hulle sien, mense sê Christene het hulle al so
seergemaak (amper sê ek ag siestog), mense voel die Here doen niks vir hulle
nie, mense sê Christenskap is swaar, mense sê hulle het nie tyd om hulle
medemens te bedien nie, mense sê daar is nie beloning daarin nie, mense
begin twyfel aan die hiernamaals en mense voel selfs kerkbywoning vra te
veel.
Wat het Paulus in sy geestesoog gesien toe hy hierdie werk gedoen het? Ek
dink Paulus het sy roeping verstaan, naamlik dat hy geweet het sy werk op
aarde gaan nie oor die hier en nou nie, en ook nie net oor homself nie.
1 Kor. 15:19 "As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is
ons die bejammerenswaardigste van alle mense."
Kan enige mens die getal mense wat deur Paulus aan geraak is bereken? Nee,
onmoontlik! Miskien moet ek en jy tog maar net een of twee mense bereik. Of
gaan ons sing "Moet ek gaan met leë hande...?" ~ Willem Botha, 05/06/2019 |
|
Een van die ergste dinge wat ek al iemand hoor sê het
is: ek het geen hoop nie. As ek iemand dit hoor sê, dan krimp my hart sommer
ineen en wonder ek: het hy geen hoop op oorlewing, geen hoop op genesing,
geen hoop op beter verhoudings nie, geen hoop op uitkoms nie, geen hoop op
die toekoms, geen hoop op vriendskap, geen hoop op vreugde, geen hoop op
geluk? Het hy ook hoop opgegee op die Here? Vir daai ou wil ek Jo Black se
liedjie sing: bring die hoop weer terug. Jy kán weer moed skep, jy kán weer
nuwe hoop kry, jy kán weer lig aan die einde van jou donker tonnel sien. Jy
kán weer selfvertroue en innerlike krag ontvang. Steek jou hand uit na die
Here, Hý is die bron van alle hoop. Hy hou altyddeur ’n hand vol hoop na jou
uit, kom skep moed by Hom, kom maak jou hart weer vol hoop by Hom. Hoop is
'n stem wat sê: as jy moeg is, sal Ek jou dra – aldus Jo se liedjie. Hoor
vanaand die Here se stem en bring die hoop terug in jou lewe, skep nuwe moed.
“Is daar nog hoop vir my, Here? U is my enigste hoop.” (Ps. 39:8) En nou bly
geloof, hoop en liefde ... en vandag wil ek sê: die grootste hiervan is die
hoop! ~ Wilna Botha, 04/06/2019 |
|
Diep gewortel
Ek is in 'n gewone huis gebore, in 'n gewone woonbuurt, my ouers was gewone
mense en ons was in 'n gewone kerk, waar ek op die gewone manier gedoop en
aangeneem is. Ons was properste kjêrkmense. My ouers het nooit met ons
gepraat oor bekering, die wegraping, eindtyd, tale praat of enige ander goed
wat vir ons vreemd was nie. Ons het gebid voor elke ete. Daar was nie
fieterjasies nie en Sondagskool was ononderhandelbaar. Ek was vrek bang vir
die dominees, soos wat dit 'n Godvresende tiener betaam. Na aanneming en die
trotse verwerwing van my "dranklisensie" het ek by die kerk gebly en ook
graag die aanddienste bygewoon, sonder druk van iemand. Kerkgaan was sommer
net gewoon.
Tog het ek by my ouers 'n diep gewortelde geloof gesien, soos wat 'n boom se
wortels diep diep in die aarde wegsink op soek na water. So was my ouers se
geloof, 'n eenvoudige geloof, en ek het altyd geweet hulle wortels het diep
gesink tot by die Lewende Water. Daar was nooit geredekawel met ander mense
oor wie reg en wie verkeerd was nie. Christenskap was sommer net gewoon.
In albei my ouers se laaste dae het ek gesien hoe daardie diep gewortelde
geloof hulle in hulle laaste dae deurgedra het, en ek weet verseker hulle
het die Lewende Water van aangesig tot aangesig ontmoet met hulle afsterwe.
So is ons eie kinders ook grootgemaak, en vandag is dit ongelooflik om te
sien hoe hulle geloofs-wortels ook tot by die Lewende Water hulle saligheid
gaan soek (en kry). Dis vir ons baie verblydend.
In 2 Tim. 1:5 skryf Paulus vir Timoteus die volgende: "Ek dink ook aan jou
opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice
was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is."
Party keer kom die wêreld met teorieë en "nuwe" gedagtes wat mense maklik
verwar, want daar is soveel opinies en sogenaamde nuwe inligting en
openbarings, dat ons moet sterk staan. Dis waar ek myself maar net herinner
oor daardie eenvoudige, diep gewortelde geloof wat ek by my ouers gesien het
wat tot by die Lewende water gegrawe het, dan besef ek, ek het niks meer as
daardie Lewende Water nodig nie. ~ Willem Botha, 03/06/2019 |
|
'n Vrolike mens is 'n
gesonde mens, aldus Spr. 17:22
Ek glo elke mens het die vermoë om vrolik te wees, want ek het nog nooit 'n
klein kindjie gesien wat nie in sy ontdekkings jare vrolik is nie, maar iets
gebeur iewers in ons lewens wat dit by ons wegvat. Maar kom ons probeer om
dit terug te kry, al is dit net vir 'n paar dae. Kom ons konsentreer bietjie
meer op die goeie as op die slegte, kom ons ignoreer die negatiewe dinge wat
na ons toe gegooi word en sit 'n bietjie die nuus af vir 'n paar dae. Wat
maak dit tog saak wie die nuwe ministers in die kabinet gaan wees? Gaan ons
gelukkiger wees as dit goeie keuses is? Geniet 'n bietjie die sonskyn wat
ons elke dag beleef, groet 'n teller in die supermark vriendelik en knoop 'n
geselsie aan, en gee onverwags vir iemand 'n fooitjie. Lag uitbundig vir
iets simpel, dis baie goeie terapie. Gaan eet 'n roomys in 'n parkie of loop
om die blok en bewonder 'n mooi sonsondergang, sommer daar in jou straat.
Bel iemand met wie jy kontak verloor het.
Probeer om vir 'n paar dae vir die Here net dankie te sê, sonder om iets te
vra. Gaan kyk in jou klerekas hoeveel jy het, en dink aan diegene wat nie
eers die mees basiese besit nie. Is daar meer as een ete se kos in jou huis?
Dan is jy ryk, al voel jy arm.
Geniet die guns van die Here, daardie guns wat so sonder verdienste op jou
uitgestort word, maar jy sal dit eers moet raaksien en selfs daarvoor soek,
as jy daardie kuns afgeleer het.
Probeer weer LEWE! ~ Willem Botha, 29/05/2019 |
|
Ek het oor die afgelope paar weke bietjie gelees en gedink oor die
wonderwerke van Jesus en veral dié wat in Johannes opgeskryf is. Aan die
einde van die boek sê Johannes dat daar nog baie dinge is wat Jesus gedoen
het wat nie opgeskryf is nie. “Maar as dit een vir een beskrywe moet word,
dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.” (Joh.
21:25) Johannes-hulle het definitief báie wonderwerke gesien. Ek dink nie
dit geld net vir Johannes se tyd nie, ek glo dit is nóú ook so, ons moet net
met oop geestesoë deur ons alledaagse lewe gaan om raak te sien waar die
Here beweeg en wonder na wonder laat gebeur. Die rede dat die wonderwerke
vir ons in die Bybel opgeskryf is, is sodat ons in Jesus moet glo: “Maar
hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus
is, die Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.”
(Joh. 20:30-31) Kyk hoe dit gebeur het met mense wat Jesus se wonderwerke
beleef het: Joh. 2:11 – toe die dissipels sien hoe Jesus water in wyn
verander, het hulle tot geloof in Hom gekom. Joh. 4:53 – toe die
regeringsamptenaar se seun genees is, het hy en sy hele huisgesin tot geloof
in Jesus gekom. Joh. 6:14 – toe die mense sien hoe Jesus die vis en brood
vermeerder het, het hulle bely: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na
die wêreld toe moes kom. Joh. 11:45 – toe Lasarus uit die dood opgewek is,
het baie Jode wat dit gesien het, tot geloof in Jesus gekom. Joh. 21:7 – toe
die dissipels die ongelooflike klomp vis vang, kon Johannes nie anders as om
uit te roep: “Dit is die Here!” nie. Laat ons ook nie nalaat om die Here se
wonderwerkende hand in ons lewens te sien en sodoende te groei in ons geloof
nie. Laat ons ook nie nalaat om erkenning aan die Here te gee en te getuig
oor Sy werke in ons lewe nie.
Terwyl ek deur die
wonderwerke gelees het, het ek ’n stuk of 20 gedagtes daaroor neergeskryf.
Lees gerus hier meer daaroor >>
~ Wilna Botha, 28/05/2019 |
|
'n Josef-seën
In Genesis 49 laat roep Jakob sy seuns en seën elkeen met sy eie seën. Gen.
49:28 "Dit is al twaalf die stamme van Israel. So het hulle pa met hulle
gepraat toe hy hulle geseën het. Hy het hulle een vir een geseën, elkeen met
'n eie seën."
Jakob is hier op sy sterfbed en seën sy seuns een vir een, hoewel party se
seën eerder 'n vervloeking was, lees gerus die hele Genesis 49.
Die laaste seun wie hy seën is vir Josef, wie ons weet baie naby aan sy pa
se hart was. Daar word die mooiste seën denkbaar oor hom uitgespreek. Daarna
blaas Jakob sy laaste asem uit.
Gen. 49:25-26 "Die God van jou vader sal jou help, Josef, die Almagtige sal
jou seën, Hy seën jou met reën uit die hemel, met water diep onder die grond
uit, met moeders wat hulle kinders voed, met baie kinders. Die seëninge wat
jou vader gegee het, is sterk, sterker as dié van die ou-ou berge, as die
kosbaarhede van die heuwels wat altyd daar is. Daardie seëninge kom op
Josef, op hom wat die leier van sy broers sal wees."
Watter ongelooflike woorde vloei nie uit Jakob se mond nie, woorde wat vir
Josef sekerlik aan die hart geruk het.
Nou wil ek jou vra, met watter seën seën jy jou kinders? Wat spreek jy oor
hulle uit? Wat hoor hulle dag vir dag? Ek kan net dink dat 'n kind wat
hierdie tipe woorde soos uit Jakob se mond hoor, wenners sal wees. Waaraan
word kinders se "prestasies" gemeet? Net die beste akademiese prestasies? Is
net die hoogste sport aanvaarbaar? Is net eerste span goed genoeg? Word
prestasie met geld beloon, omdat tweede plek nie goed genoeg is nie? Is baie
onderskeidings die enigste maatstaf vir sukses?
Nee, asseblief nie! Gaan lees weer wat Jakob op Josef uitspreek en jy sal
sien dis aanmoediging, aanvaarding, en liefde wat daaruit vloei. 'n Kind wat
sulke woorde uit sy ouers (en in besonder die pa) se mond hoor, word dít wat
die Here vir hom of haar bedoel het. Jakob het hierdie woorde vir Josef
verbaal gesê, uit sy mond uit. Dit het deur Josef se ore in sy wese ingekom
en daar inslag gevind.
Deesdae sukkel ouers om selfs net in woorde te sê: Ek is lief vir jou. Soms
moet dit deur WhatsApp kom, want dis makliker. Hoe sal jou kind nie voel as
hy sulke woorde elke dag hoor nie? Dit sal net ware wenners kweek. Moet net
nie soos Jakob eers dit op jou sterfbed sê nie, dis te laat. ~ Willem Botha,
27/05/2019 |
|
Die laaste wonderwerk waarvan ons in Johannes lees is
waar Jesus ná sy opstanding aan sy dissipels verskyn by die See van Tiberias.
(Joh. 21:1-14) Nadat die dissipels die hele nag lank geswoeg het, maar geen
vis gevang het nie, verskyn Jesus aan hulle en sê: “Gooi die net aan die
regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.” Hulle het dit gedoen
en 153 groot visse ingetrek. Johannes het dadelik gewéét dat die man wat met
hulle gepraat het Jesus is, want hy het al vantevore ’n soortgelyke
wonderwerk gedoen. Lees daarvan in Luk. 5:1-11. By hierdie geleentheid het
Petrus-hulle ook die hele nag geen vis gevang nie, maar Jesus stuur hulle
terug diep water toe om hulle nette uit te gooi. Hulle volg gehoorsaam en
vang soveel vis dat die nette wou skeur. “Toe sê Jesus vir Simon: Moenie
bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” (Luk. 5:10) Nou word hy
volgeling van Jesus en ’n visser van mense. Nou verskuif sy fokus van
visvang na Jesus en na die verkondiging van die evangelie. Nou word hy die
rots waarop die kerk gebou word. Nou preek hy en duisende kom tot bekering.
Petrus kan nou verwag om op dieselfde skaal as daai groot visvangs, mense
vir Jesus in te bring... wat sou die voorvereiste wees? Hy moes alles net so
los en Jesus volg. (Luk. 5:11) Hy moes gehoorsaam wees en doen wat Jesus vir
hom sê, selfs al vra dit dat hy in “diep water” moet gaan om mense vir die
Here te bereik. Hy moes nie stagneer in sy ou visvang-metodes nie – soms sal
dit nodig wees om bietjie verder of dieper te gaan, of om die net aan die
ander kant uit te gooi, dit gaan beslis nodig wees om op nuwe maniere na
mense uit te reik. Soms sal dit ’n lang geswoeg wees voordat daar
uiteindelik vrug op die werk sal wees. Ek glo dat die Here vandag ook vir my
en jou sê: “Kom hier! Kom saam met My en Ek sal julle vissers van mense maak.”
(Matt. 4:19) Sal jy gaan? ~ Wilna Botha, 23/05/2019 |
|
Oorlog
Ek lees tans 'n boek wat in die Viëtnam oorlog afspeel (nie fiksie nie) en
besef net weereens watse verskriklike ding oorlog is. Ek het ook al baie
baie boeke oor die Angola oorlog gelees en is so dankbaar dat dit ook verby
is.
Nie almal wat ek ken was in dit betrokke nie, maar ons almal spook met 'n
aaklige oorlog hier binne in ons, en dis 'n oorlog wat nooit ophou nie, die
oorlog tussen Gees en vlees. Hierdie oorlog rem vir ons af, maak ons
moedeloos en laat ons voel of ons die hele tyd verloor. Kry jy jou "magte"
sover om aan die een flank die vyand te stop, slaan hy op die ander kant
toe. Dis absoluut ewigdurend en dit steel jou vreugde.
Ek dink soms ek is my eie vyand, omdat ek presies weet wat die regte
strategie is, ek weet presies watter wapenrusting nodig is en ek weet by
watter oorlogsraadgewer ek moet gaan aanklop. Maar steeds loop hierdie "vlees"
oor my, elke dag. Dit sal nooit ophou nie. Kyk hoe spook Paulus ook hiermee.
Rom. 7:15 "Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit
doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek." Ook sy eie vyand, skiet
homself telkens deur die voet. Elke dag.
Jy sien, solank ons nie by die punt kom wat ons besef dat dit nie ons oorlog
is nie, en dat ons nie in staat is om te wen nie, sal ons spreekwoordelik
"battle".
Hierdie Raadgewer wat ons het, vertel vir ons dat die oorlog klaar oorwin is
aan die kruis, en dat ons onsself net dood sal spartel as ons sonder Hom veg.
Of liewer as ons aanhou veg. Want eintlik veg ons meer teen genade as teen
die sonde.
Rom. 5:20 (Message) "All that passing laws against sin did was produce more
lawbreakers. But sin didn't, and doesn't, have a chance in competition with
the aggressive forgiveness we call grace. When it's sin versus grace, grace
wins hands down."
Geveg gewen. ~ Willem Botha, 22/05/2019 |
|
In Joh. 4:43-54 lees ons hoedat die regeringsamptenaar
se seun, wat dodelik siek was, wonderbaarlik genees word. As
regeringsamptenaar was dié man sekerlik iemand van aansien, hy was heel
moontlik ryk en het allerlei koninklike voorregte geniet. Tog kon al daai
eer en aansien nie keer dat hierdie slegte situasie oor sy pad kom nie. Tog
kon sy posisie en al sy geld nie sy seun gesond maak nie. Hy het egter besef
dat dit slegs Jesus is wat hom kan help en daarom “verneder” hy homself,
“kruisig” hy sy eie krag, sy eie kennis, sy eie vermoëns en kom na Jesus toe
met sy versoek. Hy was desperaat en hy het met sy hele hart geglo dat Jesus
sy seun kan genees. “Here, kom tog voordat my kindjie sterwe.” (vers 49) Dit
het my laat wonder of dit nie baie keer ons eie vermoëns, ons
eiegeregtigheid, ons eie kennis, ons eie verwagtinge is wat in die pad staan
van ons verhouding met die Here nie. Is ons werklik bereid om alles prys te
gee sodat ons voor Hom kan buig om sy aanraking en sy hulp en sy seën te
beleef? Sal ons regtig onsself kruisig om Hom te volg? Vir die
regeringsamptenaar was Jesus se woord genoeg: “Die man het geglo wat Jesus
vir hom gesê het en gegaan.” (vers 50) Is God se woord genoeg vir jou, of
móét jy eers die wonderwerk sien voordat jy glo? Is jy gewillig om God se
woord net so te aanvaar en daarop te reageer voordat jy dit sien waar word?
Die regeringsamptenaar het. En hy het die Here se genade ervaar en die
wonderteken gesien. ~ Wilna Botha, 21/05/2019 |
|
Pred. 11:5 "Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees
en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van 'n swanger vrou, net so min kan
jy die werk van God verstaan. Hy doen dit alles."
Verstaan jy hoe gees en liggaam bymekaar kom in die skoot van 'n moeder?
Sekerlik nie, ek verstaan dit ook nie. Hierdie is 'n baie veelseggende vers
en baie waar vir elke mens op aarde. As ek jou moet vertel wat ek alles nie
van God en van die Bybel verstaan nie, gaan ek jou baie lank besig hou. Hier
is 'n paar gedagtes:
Ek verstaan nie hoekom ek gebore is uit die huis waarvandaan ek kom nie, ek
verstaan nie hoekom ek die voorregte het wat ek het nie en ek verstaan nie
hoekom ek nie as 'n klein kind van honger gesterf het in 'n Afrika land nie.
Ek verstaan nie hoekom ek die gesondheid het wat ek het nie, terwyl soveel
wonderlike mense ontydig sterf. Ek verstaan nie hoekom God my uitgekies het
nie, terwyl miljoene mense sterf sonder om ooit van hom te gehoor het. Wat
word van hulle? Ek verstaan nie hoekom die Here sommiges genees en ander nie
en ek verstaan ook nie hoekom daar soveel ateïste is wat voorspoedig lewe
terwyl talle van God se kinders swaarkry nie. Ek verstaan nie hoekom soveel
kinders slagoffers is van ouers wat hulle kinders verwoes, terwyl ander nie
dieselfde pad stap nie. Ek verstaan nie hoekom 'n missiel op die grens oor
my kop trek en 10 ander mense 100 meter verder sterf nie.
Punt is, ek verstaan God nie, al het ek al so hard probeer om dit reg te kry
deur die Bybel te lees. Maar as ek myself in hierdie vrae vasdraai, besef ek
dat verstaan en geloof nie dieselfde ding is, en dat God hoegenaamd nie van
my verwag om alles te verstaan nie.
Daarom berus ek graag by hierdie teks. "Net so min as wat jy kan verstaan
hoe gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van 'n swanger vrou, net
so min kan jy die werk van God verstaan. Hy doen dit alles." ~ Willem Botha,
20/05/2019 |
|
Die verlamde man lê by die bad van Betesda en hou sy
oog op die water – sy fokus en sy hoop op genesing lê by die bad, sodanig
dat hy nie agterkom dat dit die eintlike Geneser is wat langs hom kom staan
en met hom praat nie. Dié een wat die oorsprong is van alle genesing vra vir
hom: “Wil jy gesond word?” (Joh. 5:6) en hy fokus steeds net op die bad en
die water: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in
beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.” (Joh.
5:7) As jy dalk op die oomblik so desperaat en hopeloos is soos hierdie man,
moenie op die verkeerde goed fokus of op mense wag om jou te help en red nie.
Die Wonderwerker, die Geneesheer, die Raadgewer, die Helper, die Redder sélf
staan langs jou. Hou jou oë op Jesus en vertrou Hóm vir hulp, raad, genesing
of waar jou behoefte ook al lê. Vir die verlamde man het Jesus die eerste
stap geneem: Wil jy gesond word? Ek glo Hy sal dit vir ons ook doen. Moenie
Sy helpende hand mis omdat jy net op die bad fokus nie. Kyk verby jou
probleem en sien die Wonderwerker raak. Ek bid dat daar binnekort vir jou
uitkoms sal wees. ~ Wilna Botha, 16/05/2019 |
|
Mark 13:13 "Ja, julle sal ter wille van my Naam deur
almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.”
Hierdie woorde wat sê: ... maar wie tot die einde toe volhard, sal gered
word, laat my diep dink. Hoe op aarde kan ek regtig tot die einde toe
volhard? Kan ek dit regtig enduit volhou? En waarmee moet ek volhou?
Ek is bevrees dat ek nie sondeloos kan volhou nie, ek is bevrees dat ek nie
in staat is om die Here altyd te behaag nie, en ek kan ongelukkig nie die
Bybel tot die jota en tittel navolg nie. As die Here dit alles van my verwag
kan ek net sowel nou handdoek ingooi. Wat is die Here se standaarde, en wat
help dit ek probeer, net om eendag die verrassing van my lewe te kry?
Wel, ons ken tog die antwoord op al hierdie vrae, want ons weet dat genade
die kruks is van die hele ding, om vas te hou daaraan dat, as jy eenmaal
gered is, niks jou uit Sy hand kan ruk nie.
Behalwe... jyself. Jy sal saamstem dat ons daagliks gebombardeer word met
die nuwe denkrigting dat Christene maar eintlik 'n klomp dwase is om aan
hierdie Boek vas te hou. Ons kry meer en meer teenstand oor ons geloof dat
die hemel net vir Christen gelowiges is. Ons word vertel dat enige god nou
maar jou God ook kan wees, want dis meer aanvaarbaar. Ons skole wat vir die
Here opstaan kry teenstand en kinders word openlik geviktimiseer as hulle
hulle geloof bely.
Hierdie pad raak moeilik, en sal al hoe moeiliker word, die weerstand sal al
hoe groter word, die twyfel wat in jou gesaai word sal jou soms wil
oorweldig, jy sal toenemend glo dat dit nie eers meer die moeite werd is om
te probeer nie en daar sal selfs "predikers" wees wat jou sal vertel van
hulle nuwe openbaringe, en dat jy al die tyd verkeerd was in wat jy glo.
Daar sal mense wees wat selfs die Bybel sal gebruik om jou te mislei.
Maar die Here sê ons moet volhard. Bly by Hom, luister na Sy stem, lees Sy
Woord en skakel af vir hierdie "white noise" wat jou ore so laat tuit. Bly
by Jesus, dis al wat nodig is.
Jesus, net Jesus. ~ Willem Botha, 15/05/2019 |
|
By die bad van Betesda genees Jesus ’n verlamde man wat
saam met ’n klomp ander siekes dag in en dag uit daar gewag het in die hoop
dat daar iéts sal gebeur wat sy lewe kan verander. (Joh. 5:1-17) Sommige
siekes het alreeds daar genesing van die Here ontvang wanneer ’n engel die
water in beweging gebring het en hulle die eerste was om in die bad in te
gaan. Ek lees dat Betesda “huis van genade” beteken – dié plek waarheen
siekes gaan om aangeraak en gehelp en genees te word. Geen wonder dat daar
gemeentes en klinieke en hospitale is wat hulleself Betesda noem nie. ’n
Plek waar die Here teenwoordig is, is altyd ’n huis van genade, want dis wie
Hy is – genadige, barmhartige, liefdevolle God. Sy arms is altyd wyd oop om
die sondaars en die swakkes en die siekes te verwelkom en te help. En ons
kerke en huise - is dít plekke van genade? Is dít plekke waarheen sondaars
en swakkes en siekes kan kom om gehelp te word? En ons wat tempels van die
Heilige Gees is, is óns ’n huis van genade? Kan sondaars en swakkes en
siekes na óns toe kom in die hoop dat hulle met genade en liefde ontvang en
gehelp sal word? Onthou Jesus sê: “Vir sover julle dit aan een van die
geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”
(Matt. 25:40) ~ Wilna Botha, 14/05/2019 |
|
In Ps. 51 lees ons van Dawid se wroeging na sy owerspel
met Batseba en dit lyk of hy homself net nie kan vergewe nie. In vers 4 toon
hy opregte berou as hy vra: "Was my skoon van my skuld, reinig my van my
sonde!"
In Gesang 192 vers 3 se eerste reël staan hierdie woorde: "Leeg net met my
sondelas..."
Ek dink ons almal kom by tye dat ons soos Dawid so leeg voel en ook uitroep
"Leeg net met my sondelas..." Dit steel nogal mens se blydskap of hoe? Maar
Dawid ken die antwoord. Dit lê in die besluit om Jesus se vergifnis te
aanvaar, want jy sien, die vraag is nie of daar vergifnis is nie, die vraag
is of ons dit aanvaar. En of ons onsself kan vergewe. Eers dan kan ons
uitsien na hierdie blydskap waarvan Dawid praat.
Ps. 51:14 "Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is,
laat my U weer met toewyding dien." ~ Willem Botha, 13/05/2019 |
|
Ek lees vandag die
wonderwerk van die verlamde man vir wie Jesus genees het by die bad van
Betesda in Joh. 5:1-17. Ek het dit in ’n Engelse vertaling gelees en daar sê
dit: “One man was there who had been an invalid for thirty-eight years...”
Ek spreek toe per ongeluk “invalid” uit as in-valid wat ongeldig, nie
aanvaarbaar, sonder waarde beteken. En toe besef ek dit is dalk hoe baie
mense gestremde persone sien: as iemand wat niks kan doen nie, niks beteken
nie en nie waarde het nie. Ai, hoe verkeerd is dit nie. Jesus het dit nie
gedoen nie en ons durf dit ook nie doen nie. Moenie dink as iemand in ’n
rolstoel sit, hy is dom en kan nie ’n intelligente gesprek voer nie. Moenie
dink as iemand sukkel om verstaanbaar te praat, hy kan nie homself wonderlik
uitdruk as hy sy woorde kan neerskryf nie. As jy dalk met ’n bietjie geduld,
bietjie langer probeer om te hoor wat hy sê sal jy agterkom daar skuil dalk
’n wonderlike humorsin, fantastiese woordeskat en groot intelligensie.
Moenie dink as iemand nie kan sien, hulle is hulpeloos nie – hulle “sien”
dikwels baie dinge wat ek en jy heeltemal miskyk deur hulle ander sintuie.
Moenie dink as iemand doof is jy kan nie met hom kommunikeer nie – jy kan
maar praat en ’n paar gebare byvoeg, jy sal verstaan word. En indien nie,
sal ’n glimlag en ’n handdruk van jou kant af boekdele spreek. Moet asb. nie
neerkyk op ’n gestremde persoon nie, moenie bang wees om aandag te gee aan
’n gestremde persoon of ’n geselsie te probeer aanknoop nie, moenie skaam
wees om jou hulp aan te bied as jy sien ’n gestremde persoon sukkel nie –
gewoonlik waardeer hulle dit baie. .. en moet beslis nie hulle parkeerplekke
gebruik nie! Een van ons gestremde vriende het lank gelede hierdie “Ode aan
vriende van gestremde mense” vir my gegee:
Geseënd is julle wat
tyd afstaan
om na ons weifelende spraak te luister,
want julle help ons besef dat ons verstaanbaar
kan wees as ons net volhard daarmee.
Geseënd is julle wat
saam met ons
in die ope loop en die gestaar van vreemdes ignoreer,
want in julle geselskap vind ons ’n veilige hawe.
Geseënd is julle wat
ons bystaan
wanneer ons nuwe paaie aandurf,
omdat ons mislukkings geheel oorskadu word
deur dié geleenthede wanneer ons onsself en julle verras.
Geseënd is julle wat
ons nooit aanjaag nie
en nog meer
julle wat dinge nie uit ons hande neem en dit vir ons doen nie,
omdat ons meestal eerder tyd as hulp nodig het.
Geseënd is julle wat
ons om hulp vra, omdat
ons grootste behoefte juis is om te weet
dat iemand ons nodig het.
Geseënd is julle wat
ons deur al die dinge
verseker dat dit wat ons is nie in ons gebrek lê nie,
nie in ons gekweste senuwees nie,
maar in die Godgegewe self wat geen gebrek kan inperk nie. ~ Wilna Botha,
09/05/2019 |
|
Woerts warts gaan trek ons toe ook vandag ons kruisies,
en met daardie "X" sit ek al my vertroue in 'n party en sy leiers om my te
verteenwoordig in die bestuur van ons land. Die keuse wat ek gemaak het, is
gemaak met die uitgangspunt dat ek glo dié party sal my belange op sy hart
dra, dit wie ek is en dit wat vir my belangrik is. En ja, as jy daardie
kruisie trek hoef jy nie agter die skape aan te draf nie, want elke kruisie
tel. Maar, ek moes 'n keuse maak.
In ons geestelike lewens trek ons ook 'n "kruisie", elke dag. Maar as jy
dink jou stembrief in die algemene verkiesing (met sy hordes afkortings) gee
jou baie keuses, moet jy bietjie dink hoe min dit is teen ons keuses in die
lewe. Nee wat, dis sommer niks.
Ons het baie keuses, ek kan kies wie my "God" moet wees. Jip, dis reg, dis
my keuse. Ek kan besluit om eerder vir Mammon, die geldgod te vertrou. Ek
kan dalk sommer kies om my eie god te wees, dis nou as ek besluit dat daar
geen oppergesag bokant my is nie. Ek kan kies om agter ander mense aan te
hardloop, en "Idols" van hulle maak. Jy weet mos, dis nou as ander mense vir
jou belangrik raak. Ek kan die goed wat ek besit, en ook dit wat ek so
hartstogtelik begeer, begin verafgod. Dis nou as jy al jou energie daarin
ploeg, en selfs jou familie opsy skuif. Saam met dit kan jy selfs jou werk
verafgod want dit maak dalk luukshede vir jou moontlik, wat belangriker as
selfs jou kinders kan word. Dink mooi meneer! En ja mevrou ook! Party mense
maak sommer van sport en stokperdjies afgode. Ja, natuurlik is daar plek vir
baie van hierdie goed, maar nie as dit jou "stem" kry nie.
Josua het ook gaan stem. Jos. 24:15 "Wat my en my familie betref, ons sal
die Here dien.” Josua het nie agter die skape aangedraf nie, hy het sy
kruisie getrek, en nie met 'n geslote stembrief nie, sommer openlik.
Jesus vra vir my en jou ook om 'n kruis te trek. As ek besluit om my kruis
op te neem en Hom te volg, het ek ook my "Kruis" getrek. My keuse. Dan weet
ek presies wie my gaan verteenwoordig, op die hoogste vlak moontlik. ~
Willem Botha, 08/05/2019 |
|
“A man with an experience is never at the mercy of a
man with an argument.” Hierdie aanhaling het my laat dink aan die genesing
van die man wat blind gebore was (Joh. 9). Nadat hy genees is, het die mense
hom met vrae bestook: wie, waar en hoe? En hy getuig net rustig oor wat
gebeur het: “Die man met die naam Jesus het ’n bietjie klei aangemaak en dit
aan my oë gesmeer en vir my gesê: Gaan na Siloam toe en was jou. Ek het
gegaan en my gewas en ek kon sien.” (vers 11) Daarna ondervra die Fariseërs
hom ook en weer sê hy net wat gebeur het: “Hy het klei op my oë gesit en ek
het my gaan was, en nou sien ek.” (vers 15) Hulle bespiegel en wroeg oor
Jesus en dan wil hulle by die man weet: “Wat sê jý van Hom?” Hy is ’n
profeet, het hy geantwoord. Hulle ondervra sy ouers, hulle ondervra hom weer
’n keer, maar sy ervaring, sy eerstehandse belewenis van Jesus se aanraking,
sy persoonlike getuienis van wat met hom gebeur het, spreek harder as hulle
argumente. “Een ding weet ek wel: ek was blind en nou sien ek.” (vers26)
Dit behoort ook vir ons waagmoed en vrymoedigheid te gee om ons getuienis te
deel. Al wat ons hoef te doen, is om te sê wie die Here vir ons is en wat Hy
vir ons beteken en wat Hy vir ons gedoen het. Ek was blind en nou sien ek.
Ek was verlore en nou is ek gered. Ek was skuldig en nou is ek vrygespreek.
Dis genoeg. Want geen argument of redenasie of teorie kan jou persoonlike
ervaring met die Here bevraagteken of uitkanselleer nie. ~ Wilna Botha,
07/05/2019 |
|
Kom saam met my, ons gaan vandag iets groot doen, as
ons vandag regkry wat ons gaan probeer, gaan dit 'n verskil maak. Ek glo so.
Ek en jy gaan vandag 'n groot gat grou, kom ons noem dit 'n graf. Ja, 'n
graf is beter as net 'n gat, want jy grou nooit weer 'n graf oop nie.
Ons gaan daai graf grou, 'n klomp goed daarin gooi en hom dan weer toegooi.
Kom ons gaan gooi al daai goed uit ons verlede wat ons so teister daarin,
ons gooi al daai verspeelde kanse waaroor ons so tob daarin. O ja, hier is
'n klomp slegte verhoudings van die verlede, ons smyt dit ook daarin, want
daardie kwaad vir mense behoort in 'n graf. En dan sommer hierdie hopie
drome wat nooit waar geword het, daardie wat ons so terughou en waarop ons
nog moedeloos hoop. Ek dink dis selfs dalk tyd om die terugverlang na die
goeie ou dae, toe ons in 'n land gebly het waar alles so mooi gewerk het,
ook in hierdie graffie te gooi. Jy sien, ons kyk die melk en heuning mis
omdat ons kies om dit mis te kyk, want ons verlang terug Egipte toe. Nee,
hierdie omstandighede kan ons nie definieer nie, ons as kinders van die Here
leef met 'n ander, nuwe hoop. Daardie ou bril, waardeur ons so graag kyk,
hoort in die graf. Hierdie vals gedagte dat die wêreld regverdig is, hoort
ook in die graf, want solank jy nog aan hierdie illusie vashou , gaan jy net
weer en weer teleurgesteld word. Aaaa, hier is 'n klompie
onvergewensgesindheid, graf toe daarmee! So ook die gedagtes oor mense wat
jou seergemaak het (ja selfs Christene), kom ons begrawe dit.
Kom ons dink aan Paulus se woorde: Ek strek my uit na wat voorlê en laat
agter wat agter is. Ons gooi alles wat teen dit staan in hierdie graf.
En as ons netnou hierdie graf toegooi, stamp ons die grond goed vas en sit
'n kruis daarop wat sê: Rest in peace.
Dan loop ons weg. ~ Willem Botha, 06/05/2019 |
|
Wanneer Jesus die wonderwerk doen om van 5 brode en 2
vissies duisende mense kos te gee, dan lees ons in Joh. 6:13 dat daar 12
mandjies vol oorbly nadat almal geëet het. Nou wonder ek: wat het hulle met
daai 12 mandjies vol kos gedoen? Dalk vir die mense saamgegee huis toe? Dalk
aan die armes gaan uitdeel? Dalk was daar ’n mandjie vol vir elke dissipel?
Ek wonder toe verder: hoekom het Jesus dan té veel gemaak? Is dit sodat ons
wat dit lees moet besef dat, alhoewel Hy ons leer om te bid vir vandag se
brood en alhoewel die Israeliete in die woestyn net genoeg manna vir een dag
moes optel, Hy tóg altyd vir ons meer as genoeg gee? Ons het sekerlik almal
meer as een dag se brood in ons huise of ekstra geld in on beursies. Is dit
om te wys dat Sy genade oorvloedig is? Is dit om ons te verseker dat daar by
Hom altyd meer as genoeg is – meer liefde, meer vergifnis, meer aanvaarding,
meer vrede, meer versorging? Miskien kan jy self jou eie afleidings maak
wanneer jy in jou eie lewe God se oorvloed ervaar. Ek dink die antwoord lê
vêrder aan in Joh. 6 wanneer Jesus sê dat Hý die brood is wat lewe gee en
dat dié wat na Hom toe kom, nooit weer honger en dors sal kry nie (Joh.
6:35) Nooit nie! Sien jy die oorvloed? Sien jy dat die Geestelike seëninge
wat ons van Hom af ontvang nooit sal opraak nie? En dat daar altyd weer 12
mandjies vol gaan oorbly? Wat gaan ons met daai “oorskiet” doen? ~ Wilna
Botha, 02/05/2019 |
|
Mens, waaraan dra jy so swaar?
Ons sien onlangs die voorprent van 'n nuwe film wat binnekort begin draai en
'n vrou vra hierdie hierdie vraag vir 'n man: Mens, waaraan dra jy so swaar?
Dis ongelooflik hoe groot party mense se bagasie is waaronder hulle wroeg en
swoeg. Sommige dinge bring mense oor hulleself, maar daar is baie dinge wat
mense se lewens bitter swaar maak waarvoor hulle nie gevra het nie.
Dinge soos finansies en siekte is baie baie sleg, maar ek dink emosionele
probleme is eens so erg. Hoeveel mense stoei nie met probleme wat uit hulle
kinderjare kom nie? Dis skrikwekkend hoeveel mense deur huweliksmaats
emosioneel vernietig word, en ouer mense wat selfs onder hulle eie kinders
moet deurloop. Ek dink woorde is seker die grootste sondebok; afbrekende
woorde, kwetsende woorde, seermaak woorde, verkleinerende woorde, spottende
woorde. Soms is daardie woorde jare gelede uitgespreek en die persoon wat
dit gesê het leef selfs nie eers meer nie, maar dit sit nog steeds soos 'n
berg op 'n persoon se gemoed. Ek dink beraders se grootste werk is om
daardie woorde uit mense se sisteme te probeer kry.
Daar is nie kits antwoorde nie, maar ek weet dat die Here altyd daar is om
te vertroos as daardie las so swaar raak. Die Here is die enigste Een wat al
daardie swaar verstaan, en elke dag opnuut 'n skouer gee om teen te leun en
wat nooit veroordeel nie.
Matt 11:28-30 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal
julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en
nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my
las is lig.” ~ Willem Botha, 30/04/2019 |
|
Die wonderwerk van die blinde man vir wie Jesus genees
het is dié wonderwerk in Johannes waaroor daar die meeste gesê word – dit
beslaan die hele hoofstuk 9! Een van die gedagtes wat vir my uitstaan in
hierdie gedeelte is dat daar nie altyd ’n rede is vir siekte of gestremdheid
nie. Baie keer wil mense die voorgeslagte se sondes blameer of die persoon
se sondes - soos die dissipels hier vir Jesus vra: “Rabbi, deur wie se
sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” Ek
het al gehoor dat mense sekere siektes aan sekere sondes koppel. Hulle sal
bv. sê as jy kanker het, is dit omdat daar onvergewensgesindheid in jou hart
is, of as jy hoë bloeddruk het, is dit omdat jy aggressie of een of ander
onbelyde sonde het. Dan impliseer hulle as daai sonde bely en laat staan
word, sal jy gesond wees. Jesus sê egter die rede vir die man se blindheid
is sodat God se werke gesien kan word wanneer Hy die man gesond maak. Ons
kan nie altyd die redes vir ons siektes uitlê nie, maar ons kan weet dat die
Here ’n groter doel daarmee het. Dalk sodat ons, soos Paulus oor die doring
in sy vlees, kan sê dat die Here se genade genoeg is. Ons is nie altyd
gevrywaar van siektes nie, ons is nie altyd seker van genesing nie, maar
waarvan ons seker kan wees is dat elke genesing wat ons ervaar ’n wonderwerk
uit die Here se hand is – of dit nou ’n oombliklike genesing is en of dit
deur ’n operasie, deur chemoterapie, deur pille, ’n pleister, salf of wat
ook al gebeur. En as ons aan die ontvangkant daarvan is, dan moet dit ons
met dankbaarheid en lofliedere en eerbetuigings teenoor die Here laat
uitjubel. ~ Wilna Botha, 29/04/2019 |
|
Ek het al so baie as Christen die vraag gehoor: Hoe kan
julle so arrogant wees om te beweer dat net julle reg is? Wel, die vraag is
seker: Reg met wat? Uit die aard van die saak word daar dan verwys na die
manier, of voorwaardes om die ewige lewe te beërwe, oftewel, om in die hemel
te kom. Ons word dan dikwels beskuldig dat ons veroordelend is.
Eerstens wonder ek hoekom so baie ongelowige mense dan wil aanspraak maak op
die ewige lewe, maar niks met Jesus te doen wil hê nie. Ek noem pertinent
Jesus se Naam, want die konsep van God/god, word deur verskillende gelowe
aangehang.
Aangesien die Bybel dan die gedagte van 'n hiernamaals by God beskryf, moet
ons dan seker kyk wat sê die Bybel.
Joh 14:6 "Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.
Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie." Hierdie gedeelte neem
elke enkele ander geskrif, redenasie en geloofsoortuiging uit die prentjie
uit. Hierdie is egter nie die enigste teks nie.
Joh. 10:7 "Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle: Ek is die
ingang vir die skape"
Joh. 10:9 "Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy
sal in en uit gaan en weiding kry"
Die toegang tot die Hemel maak vir niks anders voorsiening, as deur Jesus
Christus nie, heeltemal niks, en enige ander geskrif of geloofsoortuiging
wat die teendeel verkondig, is dus verkeerd. As ek en jy dus hierdie feit
aan ander wat anders glo voorhou, is dit nie ons wat ander veroordeel nie,
dis die Bybel self.
Kyk net na hierdie interessante teks:
1 Joh. 2:22 "Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus
werklik die Christus is nie? Hý is die antichris, hy wat nie die Vader en
die Seun wil erken nie."
Ek kom maar net tot die gevolgtrekking dat die "antichris" wat hier beskryf
word, seer sekerlik nie in die hemel kan kom nie, of hoe? En volgens hierdie
teks is dit diegene wat nie die Vader en die Seun erken nie. Dus vriend, as
jy vir Jesus as die weg na die Vader erken, kan jy vir seker daarop
aanspraak maak dat jy reg is. ~ Willem Botha, 25/04/2019 |
|
Ons sê mos altyd: sien is glo. Wanneer ek in Joh. 9 die
wonderwerk lees van die blinde man vir wie Jesus genees het, dan sien ek die
teendeel: hy glo en doen wat Jesus vir hom sê en dán sien hy – fisies én
geestelik. Hy het maar net daar langs die pad gesit en bedel. Hy het nie
eens geweet wie Jesus is nie, nie geweet dat Hy genesingskrag het nie, nie
geweet dat Hy jou lewe vir ewig kan verander nie, maar Jesus kies om hom te
genees sodat “die werke wat God doen, in hom gesien sal word.” (Joh. 9:3)
Die man se blindheid word gebruik sodat almal kan sien wat God vir mense kan
doen. Die blinde bevraagteken nie die metodes waardeur Jesus met hom werk
nie. Hy aanvaar die onkonvensionele medisynemengsel van spoeg en grond, hy
loop gehoorsaam om hom in die Siloambad te gaan was en toe hy terugkom kon
hy sien. Mag dit vir ons ook só wees dat ons gehoorsaam volg en doen en glo
sodat ons God se werk in ons lewe kan herken, erken en ervaar. Glo en sien!
~ Wilna Botha, 24/04/2019 |
|
33 jaar ...
Luk. 3:23 "Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy omtrent dertig jaar oud.
Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef. Josef was die seun van
Eli..." Hy is so ongeveer drie jaar later gekruisig.
Kom ons kyk bietjie wat gebeur het in Jesus se relatiewe kort lewe op aarde.
Joh. 1:1-3 "In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die
Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot
stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand
gekom nie."
* Teen die tyd wat Hy 33 jaar oud was het reeds alles deur Hom tot stand
gekom, baie baie lank terug.
* Op 12 jarige ouderdom het Hy reeds in die tempel met groot leermeesters
skouers geskuur, soveel dat die mense uiters verbaas was. Jy kan in Lukas 2
daarvan gaan lees.
* In Sy kort lewe op aarde het Hy mense uit die dood opgewek, talle
wonderwerke gedoen, hordes mense genees, op die water geloop, storms tot
bedaring gebring, duisende gevoer met 'n paar brode en enkele vissies, Hy
het die Fariseërs tromp-op aangevat en duisende mense het Hom begin volg.
Daar was nie internet, televisie of koerante nie, maar baie het van Hom
geweet.
* Hy het mense se lewens aangeraak asof Hy die grootste "celebrity" op aarde
was, maar Hy was so nederig dat Hy op 'n donkie gery het. Hy het oor Sy eie
dood gepraat met Sy dissipels , maar hulle het dit nie verstaan nie. Op die
ouderdom van 33 jaar is Hy gekruisig, en Hy is begrawe. En toe staan Hy op
uit die dood.
* Op 33 jarige ouderdom oorwin Hy die dood (en die bose) vir ewig en Hy
sterf vir die ganse mensdom sodat dié wat in Hom glo, gered kan word. Hy
vaar op na die hemel en maak vir ons plek gereed.
* Dit stop egter nie daar nie. Sy relatiewe kort tyd op aarde verander mense
se lewens vandag presies soos 2000 jaar gelede. Sy bekendheid vervaag nie
soos Hitler en vele ander bekendes nie, dit neem toe. Die Boek wat oor Hom
geskryf is, verkoop vandag nog beter as ooit, dit word meer gelees as enige
ander boek en elke gelowige hoor Sy stem steeds daagliks. Daar is mense wat
Hom lief het, maar meer wat Hom haat, terwyl Hy net 33 jaar op aarde was.
Ek dink dit sê nogal iets van hierdie Man. Dis goed om Hom te ken. ~ Willem
Botha, 23/04/2019 |
|
Aan wie dit mag aangaan...
More sterf Ek. Ek is doodsbenoud, niemand wat bereid is om net 'n rukkie
saam met My te waak nie, húlle het aan die slaap geval. Ek weet wat more
gaan gebeur, dit MOET gebeur. Vader, kan hierdie beker nie maar by My
verbygaan nie? Slaap julle steeds? Kyk hoe val hierdie sweet druppels soos
bloed op die grond. Ek is doodsbenoud, môre sterf Ek!
Judas, wat het met jou gebeur? Vroeër het jy jou hand saam met Myne in die
skottel gedruk, net soos Ek voorspel het, jy gaan My verraai. En hier is jy,
saam met die soldate, hier in die tuin. Hoekom Judas, vir geld? En dan kus
jy My? Hoekom kom julle met swaarde? Vriend, doen wat jy moet doen. More
sterf ek, en dit sou ook vir jou wees Judas, maar jy gaan jou eie lewe neem,
voor jy berou kon toon.
More sterf Ek, vir goeie mense, vir gelowiges, vir diegene wat gereeld
tempel toe gegaan het, maar ook vir diewe, rowers, prostitute, ja selfs die
misdadiger wat more langs my aan 'n kruis gaan hang. More sal die doodstraf
oor My uitgespreek word, dit MÓÉT net gebeur, sodat My Vader se besluit in
vervulling kan gaan. Ek weet hulle gaan My martel, hulle gaan My verniel,
maar elke druppel bloed wat sal val, is vir diegene vir wie Ek so
bonatuurlik lief is. Dit móét net gebeur. Sonder bloed is alles sinneloos!
Ek is doodsbenoud!
More sterf ek, maar op die derde dag staan Ek op, soos wat ek vele kere gesê
het. Gaan Ek hierdie lyding kan hanteer? Ja, duisend maal ja, want as Ek nie
gaan nie, wie dan anders? Wie anders as die Eniggebore Seun van God is
aanvaarbaar vir die Vader? Klink dit sinneloos? Nee, dis die uiterste vorm
van liefde! Volmaakte liefde.
More sterf Ek, sodat my kinders kan lewe!
Lees die volledige verhaal in Markus 14. ~ Willem Botha, 18/04/2019 |
|
“He is risen from the dead and I will rise when He
calls my name...” – so gaan die woorde van die lied “I will rise”. Toe ek
dit Sondag in die kerk hoor, het dit my laat dink aan die wonderwerk in Joh.
11:33-44 waar Jesus vir Lasarus uit die dood laat opstaan. “Nadat Hy dit
gesê het, roep Hy met ’n harde stem: “Lasarus, kom uit!”” Jesus roep sy naam
en Lasarus word lewendig ná 4 dae in die graf. Só het die Here ons ook op
ons name geroep en ons uit ons geestelike dood laat opstaan om te lewe – nou
en vir ewig. Hy het ons op ons name geroep en vir ons lewe in oorvloed gegee
– vrede, vreugde, vergifnis. “And I will rise when He calls my name, no more
sorrow, no more pain, I will rise on eagles’ wings.” Jesus het gesterwe en
betaal vir ons sondes. Hy het opgestaan en roep ons ook uit die graf uit –
op jou naam. Ek hoop gedurende die komende Paasfeesvieringe sal jy sommer
opnuut hoor dat Hy jou uit die graf van vrees en verlorenheid, van skuld en
sonde sal roep en dat jy met nuwe lewe en hoop gevul sal word. En weet vir
seker dat wanneer jy eendag jou laaste asem hier op aarde uitblaas, sal jy
ook hoor hoedat Hy jou naam roep en sê: kom uit! Dan sal jy opstaan en die
ewige lewe ontvang. “Toe sê Jesus vir haar: Ek is die opstanding en die
lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe in in My
glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” (Joh. 11:25-26) ~
Wilna Botha, 17/04/2019 |
|
Soos wat ek die
wonderwerke wat in Johannes opgeteken is deurgaan, was dié een van Jesus wat
op die see loop (Joh. 6:17-21) vir my anders as die res – die wonderwerk
word nie aan mense gedoen nie. Niemand word genees of uit die dood opgewek
of gevoed of so iets nie. Jesus loop op die water en dié wonder plaas die
fokus op hoe Jesus beheer het oor die natuurwette en dat niks vir Hom
onmoontlik is nie. Die wonderwerk gaan egter verder: Jesus het sy dissipels
opdrag gegee om in die skuit te klim en solank vooruit te gaan na die
oorkant toe. Dit het donker geword, die see het onstuimig geword en hulle
moes teen die sterk wind in roei. Hoewel hulle gehoorsaam was aan Jesus se
opdrag, was hulle nou bang, verlore en moeg. Jesus daag op wonderbaarlike
wyse op, troos hulle met: moenie bang wees nie en klim by hulle in die boot
en bring hulle veilig by die oorkant. Ons voel ook baie keer moeg, uitgeput
en moedeloos (al probeer ons gehoorsaam wees); die storms woed, die golwe
slaan om ons en ons word benoud. Ons moet egter aanhou roei in die rigting
wat die Here gewys het. Byt vas, want kort voor lank sal Jesus by jou in die
boot wees. Jy ken mos die sêding: as die nag op sy donkerste is, is die
dagbreek naby. Wanneer jy swak is, sal die Here jou sterk maak. Wanneer jy
moeg is, sal jy weer met arendsvlerke vlieg. Wanneer dit voel of jy vergaan,
sal die Here jou uit die diep water uitlig. Hou moed, binnekort sal die Here
met ’n wonderwerk in jou lewe verskyn en sáám met jou in die boot klim.
“Hulle was toe gewillig om Hom in die skuit te neem...” (Joh. 6:21) – is jy
gewillig? Dan sal jy Sy wonderwerke ervaar. ~ Wilna Botha, 16/04/2019 |
|
Sê nou maar net daar kom 'n dag wat iemand onteenseglik
kan bewys dat daar nie 'n God is nie? Daar is natuurlik vele mense wat sê
niemand kan bewys dat God bestaan nie. Maar sê nou maar net...
Ek en jy sou darem maar die grootste dwase denkbaar gewees het, of hoe?
Ongelowiges sal vir ons lag en ateïste sal ons bespot. Ek het toe gewonder
wat dit aan my sou doen? Waar sou dit vir my en jou los? My hele lewe lank
het ek gebid tot (wie ek glo) God is, ek was derduisende kere in die kerk,
ek het so dikwels daar uitgestap met 'n nuwe lied in die hart en met my
gedagtes wat lank kon tob oor die boodskap. Soms met trane. In my binnekamer
het ek ongelooflike ervarings gehad en daar was soveel gebede verhoor, met
uitkoms wat ek net as bonatuurlik kan beskryf. Was dit dan alles 'n klug?
Was dit dan alles "mind control"? Wie het dan so met my kop gesmokkel, en
hoekom? As dit so sou wees dat daar geen God is nie, sou ek sekerlik totaal
hooploos gewees het, want ek sou sonder 'n anker in die lewe op 'n
stormagtige see rondgedobber het. Daar sou geen verwagting wees vir 'n lewe
hierna nie. Sou ek dan maar net sterf soos 'n hond?
Voorts sou ek graag die persoon/persone wou ontmoet wat hierdie wonderlike
Bybel kon skryf, oor 1600 jaar, waar die meeste mekaar nie geken het nie.
Hoe op aarde kon hulle dan 'n fop karakter skep waaraan so baie mense deur
die eeue vashou? Wat dan van al die mense wat ek voor my oë tot bekering
sien kom het, en wie se lewens dramaties verander het? Presies soos die
Bybel dit beskryf.
Ek en jy word geleer dat daar gesagsfigure is na wie ons opkyk. Wie sou dan
die oppergesag wees? Die president van Amerika? Ek kan my nie indink dat
enige mens daardie posisie kon inneem nie? In daardie geval sou ek myself
maar sommer in daardie posisie kon plaas, waar ek niemand hoër ag as myself
nie.
Ek dink die wonder van die skepping sou sy glorie verloor as alles sommer
net planloos tot stand kon kom. En die geboorte van 'n baba - nuwe lewe -
sou my nie meer aanraak nie. Regtig?
Ek is jammer, maar ek het net eenvoudig nie genoeg geloof om te glo dat daar
nie 'n God is nie. Die Paastyd wat voorlê, waar Jesus se kruisiging en
opstanding gevier word, raak my eenvoudig net te veel aan om te dink dat
ander mense hierdie gedagtes, wat wêreldwyd gevier word, kon opdis, en dat
net dwase dit kan glo.
Die Bybel gee nogal 'n baie interessante antwoord hierop.
Ps. 53:2 "Die dwaas dink daar is geen God nie. Dwase mense vernietig alles;
wat hulle doen, is 'n gruwel vir God. Daar is nie een wat goed doen nie." ~
Willem Botha, 15/04/2019 |
|
“Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan
glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God en sodat julle deur te glo,
in sy Naam die lewe kan hê.” (Joh. 20:31) Dis sekerlik die hoofdoel van
enige wonderwerk – om vir ons te wys wie Jesus is, sodat ons in Hom sal glo.
So bv. wys die genesing van die amptenaar se seun (Joh. 4:46-54) vir ons dat
Jesus dié Geneesheer is wat met die spreek van ’n woord gesond maak; dit
bewys dat Jes. 53:5 vervul is: “...deur Sy wonde het daar vir ons genesing
gekom.” Wanneer die blinde man die lig sien (Joh. 9:1-7), ervaar hy dat
Jesus die Lig vir die wêreld is. Deur hierdie wonderwerk leer ons dat Jesus
die een is wat ons geestelike blindheid genees en Sy lig in ons harte laat
skyn. “Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.” (Joh. 9:5)
Die mense wat die dag van die vermeerdering van die brood en vis (Joh.
6:5-14) voor Jesus gesit het en geëet het van die brood moes besef het: Hy
is die brood wat lewe gee, die brood wat vir ewig versadig. Die verlamde man
(Joh. 5:1-16) ervaar Jesus as die een wat sonde kan vergeef en ons kan opwek
tot ’n nuwe hoop en nuwe toekoms. Wanneer Jesus vir Lasarus uit die dood
opwek (Joh. 11:1-44) sien ons en kan ons met sekerheid glo dat Hy die
opstanding en die lewe is en dat ons wat geestelik dood is ook opgewek kan
word en die ewige lewe kan verkry. Wanneer Jesus op die water loop (Joh.
6:17-21) is dit vir ons duidelik dat niks vir Hom onmoontlik is nie – niks
kan hom keer om saam met ons in ons lewensboot te vaar waar Hy ons beskerm
en veilig hou. Geen wonder dat Johannes, na die wonderwerk van die
ongelooflike visvangs (Joh. 21:1-14) kan uitroep: “Dit is die Here!” En dís
ook die sekerheid wat ek in my hart kry wanneer ek die wonderwerke lees en
oordink: Dís die Here. ~ Wilna Botha, 11/04/2019 |
|
As Jesus kom kuier
Ons lees in Luk. 19 van Saggeus wat hoor dat Jesus op pad is dorp toe, en hy
klim in 'n boom om Hom beter te kan sien.
Luk. 19:4 - 5 "Hy hardloop toe vooruit en klim in 'n wildevyeboom om Jesus
te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. " Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy
op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis
gaan.”
Interessant dat die mense toe omgekrap was. Almal wat dit gesien het, het
beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis!” (vers 5).
Jy moet nou verstaan wie Saggeus was, hoof tollenaar en selferkende skelm. "Maar
Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my
goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit
vierdubbel terug.” (vers 8). Toe Jesus kom kuier, verander Saggeus se lewe
in 'n oogwink.
Jesus het 'n geweldige begeerte om by ons almal te kom kuier. Open. 3:20 "Kyk,
Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak,
sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My."
Jy sien, Jesus wil dikwels met ons praat (deur Sy Woord), maar ons maak nie
die Bybel oop nie. Hy wil dikwels ons stemme hoor, maar ons bid nie. En hier
praat ek so ernstig met myself.
Maar een ding is verseker, as Hy kom kuier verander 'n mens, in 'n oogwink.
Hy het gaan kuier by 'n ontugtige vrou by 'n waterput, en Sy het verander.
Hy het gekuier met die man wat saam met Hom gekruisig is, en hy het verander.
Net so sal ons almal verander, elke keer as ons Hom toelaat om te kom kuier,
elke enkele keer! Ek dink ons is soms net te besig om die deur oop te maak,
of ons kyk deur die loergaatjie en dink: Nie nou nie. Maar Hy sal aanhou
klop, dag vir dag. ~ Willem Botha |
|
“Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in
hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie
wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die
Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” (Joh.
20:30-31) Daar aan die einde van Johannes sê hy dat daar nog baie goed is
wat Jesus gedoen het, maar daar is nie genoeg plek in die wêreld se boeke om
dit op te skryf nie. Daar is net 8 wonderwerke opgeteken in Johannes, so ek
neem aan hulle is uitgekies omdat elkeen daarvan vir ons iets belangrik oor
Jesus leer. Kyk bv. na die eerste wonderwerk: As Hy die water in wyn
verander (Joh. 2:1-11) wys Hy dat dit nie die rituele reinigingswater is wat
mens skoon maak nie, maar net Sy bloed wat aan die kruis vir ons almal
gevloei het en nou vir ons vreugde en lewe in oorvloed gee. Hy verander
gewone water in wyn wat die teken word van Sy nuwe verbond met ons. Dís die
wonder-wyn waarvan ons vandag kan drink: “Toe neem Hy 'n beker, en nadat Hy
die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal
daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en
wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.” (Matt. 26:27-28) Het jy
al wyn gedrink uit Jesus se genade beker en die wonderwerk van Sy vergifnis
in jou lewe ervaar? ~ Wilna Botha, 09/04/2019 |
|
Don't sweat the small stuff
As jy my vra watter woorde die afgelope tyd die meeste gebruik is, sou ek sê
dis: Eskom, beurtkrag, misdaad, verkiesing, geweld, staats kaping en vele
meer waaroor ek nie eers lus is om te dink nie. En nou is die vraag: "So
what?" Nog nie een gloeilamp het langer gebrand nie, en nog geen staats
kaper het in die tronk beland nie. En nie een van ons voel een aks
gelukkiger nie. Inteendeel, dis juis die teenoorgestelde. Wat my toe aan die
volgende herinner.
In 2013 sterf 'n bekende akteurspaar se jong seun in 'n fratsongeluk, iets
wat ek glo elke mens vrees. So 'n ruk gelede het iemand met die ma 'n
onderhoud gevoer op televisie en sy sê sy het een groot ding in die lewe
geleer na hierdie insident: "Don't sweat the small stuff."
Ons is besig om daagliks oor onbenullige sake te tob en te baklei, en dit
maak nie 'n blou duit verskil nie. Ons "sweat the small stuff" so erg dat
ons nie eers meer tyd het om by belangriker dinge uit te kom nie. Ek bely
dat ek Jesus se Naam baie baie minder gebruik as hierdie ander goed. Ek bid
nie eers meer juis oor hierdie goed nie, ek kla net hieroor. Ek word egter
nou die oggend wakker en besef met groot dankbaarheid wat dit beteken om in
my eie warm bed, in my eie huis, langs my vrou, met goeie gesondheid wakker
te word. Is dit nie belangriker as die "small stuff" nie? En weet jy hoe
dikwels "sweat" ek boonop ander mense se "small stuff"?
Spr. 14:10 "Net 'n mens self ken die bitterheid van sy eie gemoed, en ook in
sy vreugde kan niemand anders voluit deel nie."
Dalk, net dalk, as ons probeer om 'n verskil te maak in ander se lewe, sal
ons self gelukkiger wees. Miskien moet ek dit regtig bedoel as ek sê: "Nee
wat, voor die wind dankie", as iemand vir my vra hoe dit met my gaan. ~
Willem Botha, 08/04/2019 |
|
Was jy ook al in situasies waar jy by die Here gesmeek
het vir ’n wonderwerk? Was jy ook al só desperaat vir ’n wonderwerk dat jy
as’t ware die soom van Jesus se kleed vasgegryp het, soos die vrou wat aan
bloedvloeiing gely het, in die hoop dat Sy krag in wonderwerke na jou sal
vloei? Dalk het jy al só hard geroep na die Here vir ’n wonderwerk, soos die
blinde man in Luk. 18:39, dat die mense jou probeer stilmaak het? Wat my
egter opgeval het in 5 van die 8 wonderwerke in Johannes is dat niemand in
dié verhale gevra het vir die wonderwerk nie – Jesus het hulle as’t ware
uitgekies as ontvangers van Sy wonderwerke. Niemand by die bruilof in Kana
het Hom gevra om vir hulle wyn te voorsien nie – Hy het die behoefte en die
bruidegom se verleentheid gesien en ingegryp. Die skare wat gevoed is met
die twee vissies en vyf brode het nie gevra vir kos of gekla omdat hulle
honger is nie – Jesus het omgegee vir hulle en geweet wat hulle op daai
oomblik nodig het. Die verlamde by die bad van Betesda het maar net daar
gesit en geweet hy sal nie betyds by die water uitkom om genees te word nie.
Jesus het hom daar sien lê en vir hom gevra: Wil jy gesond word? Jesus het
uit meegevoel vir die man ’n wonderwerk aangebied. So ook die man wat blind
gebore is - Jesus het hom raakgesien en hom genees “sodat die werke wat God
doen, in hom gesien sal kan word.” (Joh. 9:3) – sonder dat Hy daarvoor gevra
het, sonder dat Hy dit verwag het. Nadat die dissipels ’n hele nag lank geen
vis kon van nie, daag Jesus op. Hy weet hulle is moeg en moedeloos.
Onverwags sê Hy vir hulle om die net aan die regterkant uit te gooi wat vir
hulle ’n groot opbrengs opgelewer het. Hier is ’n nota aan myself: Die Here
wéét van my nood en behoeftes en pyn en bekommernis - partykeer moet ek dalk
net in stilte vertrou en my oë op Hom gerig hou, sonder eise en sonder
verwagting. ~ Wilna Botha, 04/04/2019 |
|
As ek maar net...
.... 'n paar tekste uit die Bybel kon haal, sou dit 'n baie gemakliker Boek
gewees het om mee om te gaan. En as ek met hom klaar was, sou dit nogal 'n
redelike dun Boek wees.
Daar is opdragte oor bekommernis, oor liefde vir ons medemens, oor vergewing,
begeertes, leuens, diefstal, besittings uitdeel en vele ander dinge wat my
nie eintlik pas nie. Jy sien, die Bybel raak ongemaklik as die Here ons
sondes aanspreek, as Hy wil hê dat ons ons leefstyl moet verander en as ons
minder vir onsself moet leef.
Maar dit gaan veel verder, die mens glo deesdae nogal aan die gedagte van:
'n God van liefde sal nooit sus of so oor bepaalde sake sê nie. Of, ons
interpreteer dinge outyds en God se bedoeling is nie so eng nie. 'n Gewilde
siening is dat 'n God van liefde niemand in die verderf sal laat beland nie.
En deesdae begin mense alles regverdig aan die hand van: God het almal lief
"and anything goes". Soos in ANYTHING!
Maar as ek aan hierdie goed begin dink besef ek my (of enigiemand anders) se
opinie tel NIKS! Dit maak nie saak wat ek of ander mense oor bepaalde sake
dink nie, dit maak net saak wat God daarvan dink. Daar is egter 'n baie
maklike toets. Gaan kyk na dinge wat mense aanhang wat lynreg teen God en Sy
Woord optree, en jy sal net nooit goeie vrug sien nie, en jou verbaas oor
hoe ongelukkig mense is.
Daar bly vir my net een ding oor: dis alles of niks. Of dit ongemaklik is of
nie. Ek weet een ding vir seker, dis nie die Bybel wat moet verander nie,
dis ék wat moet verander. Die Bybel is soos 'n PDF dokument, hy kan en mag
nooit verander word nie.
Mag die Here vir my 'n nuwe hart gee, sodat Sy Woord rotsvas in my lewe sal
bly staan.
Eseg. 11:19-20 "Ek sal hulle 'n ander hart gee en 'n nuwe gees onder hulle
laat posvat, Ek sal die klip hart uit hulle liggaam verwyder en hulle 'n
hart van vleis gee. Dan sal hulle volgens my voorskrifte leef en my
bepalings nakom en daarvolgens optree. Hulle sal my volk wees, en Ek sal
hulle God wees." ~ Willem Botha |
|
Wat my opval wanneer Jesus wonderwerke doen, is dat Hy
baie keer dít wat beskikbaar en alledaags is gebruik om die wonderwerk te
doen; Hy sluit aan by die huidige omstandighede en dit wat reeds dáár is
word iets buitengewoon. Kyk nou maar waar die water in wyn verander: die
klipkanne en die water wat reeds daar is word buitengewone instrumente tot
die wonderwerk. Hy “toor” nie net bottels wyn uit nie, Hy máák die wyn. By
die vermeerdering van die brood en vissies word iemand se doodgewone
middagete gebruik om duisende te voed. Kos is nodig en Jesus voorsien uit
die min wat beskikbaar is sodat almal genoeg het en daar nog oorbly ook. Die
mense se honger verdwyn nie net eensklaps nie, Hy máák kos om hulle te voed.
Toe Jesus die blinde man aanraak, gebruik hy ’n mengsel van grond en spoeg
en smeer dit aan sy oë. Hy buk af en vat van die grond wat alreeds daar is
en in Sý hand word dit ’n geneesmiddel. Jesus sê nie net: word gesond nie,
Hy máák gesond. So gebruik die Here ook dikwels gewone medisyne en dokters
en operasies om genesingswonders te doen – waarvan baie van ons kan getuig.
En onthou dat die Here die eer moet kry en nie die dokter of die medisyne
nie. Moenie miskyk dat die Here dit wat jy alreeds het, of dit wat sommer
net iets alledaags in jou leefwêreld is kan gebruik om wonderwerke in jou
lewe te doen nie. Verwag dat Hy dit sal doen, sien raak dat dit Hý is en nie
sommer net iets wat toevallig gebeur nie. Loof en prys Hom daarvoor. ~ Wilna
Botha, 02/04/2019 |
|
Kits
Die Bybel is vol oplossings, dikwels kitsoplossings, of liewer, so verstaan
ons dit. Of nee, ons glo dis hoe dit behoort te wees.
Vandag sou die verjaarsdag wees van 'n jong man wat by ons gewerk het en wat
baie naby aan my hart was. In 2010 is 'n dronk man verantwoordelik vir sy
dood in 'n ongeluk en vandag besef ek dat "vergewe 70x7" steeds nie in my
hart deurgewerk het nie. En ja, ek ken al die tekste, ek glo hulle en ek
probeer hulle beoefen.
Hoeveel mense ken jy wat GEEN letsels van hulle verlede met hulle saamdra
nie? Bitter min! Hoe maklik haal ons die Bybel aan met "ek laat agter wat
agter is en ek strek my uit na wat voor is"? Dis baie maklik om hierdie teks
vir iemand voor te hou as jy een van daardie handjievol mense is wat regtig
nie seer met hulle saamdra nie.
Hoeveel depressie lyers hoor nie dikwels hierdie woorde wat so maklik klink
nie? "Ruk jouself reg! Jy sal nooit regkom as jy nie hierdie ding vir die
Here gee nie!"
Baie mense hoor dat hulle arm en siek is omdat hulle nie reg glo nie! Ai,
watter sinnelose woorde is dit nie!
Daar is 'n ongelukkig 'n ander realiteit. Paulus is nie genees toe Hy gevra
het dat die Here die doring uit sy vlees moet verwyder nie. Soms moet ons
aanvaar dat die Here sê: "My genade is vir jou genoeg." Een ding weet ek, al
los die Here nie al ons probleme in 'n kits op nie, is Hy in 'n kits daar as
ons vra dat Hy die moeilike pad saam met ons moet stap. Ek glo jy ken die
verhaal van die een ry spore... ~ Willem Botha, 01/04/2019 |
|
“’n Groot klomp mense het agter Hom aangekom omdat
hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan die siekes gedoen het.” (Joh.
6:2) Mens sien en hoor baie keer dat mense groot moeite en koste sal aangaan
om by ’n bepaalde kerk of byeenkoms of prediker uit te kom omdat daar
oënskynlik allerlei wonderwerke plaasvind – mense staan op uit rolstoele,
finansiële probleme verdwyn, besighede word gered, kanker en vele ander
siektes word genees. Dan wonder ek of hulle net vir hulleself en die
sensasie van die wonderwerk gaan en of hulle gaan omdat hulle werklik die
Here lief het en ’n begeerte het om Hom te volg en dien, al gebeur daar nie
’n wonderwerk nie. Heel dikwels roep mense na die Here en soek sy
wonderwerke wanneer hulle slegte diagnoses oor hulle gesondheid gekry het of
wanneer hulle bankrotskap in die gesig staar. Dan wonder ek of hulle waarlik
soek na God en of hulle net soek na ’n wonderwerk, net iets tydelik wat nóú
uitkoms kan gee. Natuurlik is dit reg om na die Here te hardloop wanneer jy
siek, moedeloos of verlore is, maar ons moet Hom nie nét as laaste uitweg
opsoek nie. Wanneer jy die wonderwerk beleef, hoop ek dat dit jou geloof sal
laat groei, jou met ontsag sal vervul oor Sy grootheid en krag en genade en
jou met ’n getuienis in die wêreld sal instuur. As jy nié die wonderwerk
beleef nie, hoop ek dat jy Hom steeds sal prys en eer en sal berus in sy
antwoord en rustig sal wees in sy teenwoordigheid. ~ Wilna Botha, 28/03/2019 |
|
Vasbyt
Vasbyt, deurdruk, aanhou, uithou, moedhou, vorentoe beur... Dinge wat in die
weermag aan die orde van die dag was. Maar ek dink ons almal besef meer en
meer dis al wat ons gaan laat oorleef. Kom ons sê dit maar vir mekaar: Die
lewe vandag het baie meer uitdagings as 30 jaar gelede. Maar swaarkry en
vasbyt en mos nie iets nuuts nie, of hoe? Hoe swaar het die Israeliete nie
in die woestyn gekry nie, maar elke dag het hulle voetjie voor voetjie gesit
en voortgebeur. Paulus het baie swaar gekry, en dit nogal om sy geloof in
Christus te verkondig. Al die dissipels is uitmekaar gejaag vir hulle geloof
en almal het selfs daarvoor gesterf. Dit lyk my egter swaarkry het 'n doel.
Rom. 5:3-5 " Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry,
want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van
geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God
het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons
gegee het."
Ek dink ons almal leef met vrese vir die toekoms, maar ons kan nie agtertoe
nie, ons moet vorentoe gaan IN daardie moeilikhede in. Die oorwinning lê nie
agtertoe na die bekende nie, dit lê in vorentoe veg. Ek glo baie van ons
sien nie kans vir dit wat voor ons lê nie, maar vorentoe moet ons vorentoe,
dag vir dag. Dit kweek volharding, hoop en geloof, aldus Paulus. Een ding
weet ek, met elke tree vorentoe, is die Here reeds daar, Hy raak nie agter
nie, Hy is altyd daar in die toekoms. Hy maak die pad gelyk, Hy gee lig vir
die pad en Hy weer gevare af. Al sien ek Hom nog nie daar nie. Ek het Hom
wel gister en vandag gesien... ~ Willem Botha, 27/03/2019 |
|
Toe ek weer die eerste wonderwerk van Jesus in Johannes
deurlees (Joh. 2:1-11) val hierdie teks my op: Sy moeder sê toe vir die
kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.” (Joh. 2:5) Jesus
verander die water in wyn, maar eers moet die kelners iets vreemd, onlogies
en buitengewoon doen, iets wat dalk die wenkbroue gaan laat lig of wat hulle
in die moeilikheid kan laat beland – hulle moet die kanne wat vir
reiningingswater gebruik word, vol water gaan maak. Ek kan nie help om te
wonder of ons dalk wonderwerke in ons lewens mis, omdat ons nie dóén wat die
Here vir ons sê nie. Dalk is ons bang mense spot ons, dalk dink ons dis té
absurd, dalk dink ons ons het miskien verkeerd gehoor. Aan die ander kant
kan die Here vir ons sê om net iets eenvoudig te doen, dalk iets heel logies,
dalk iets wat jy lankal weet jy moet doen. Lees die wonderwerke en jy sal
telkens sien dat Jesus eers vir die mense ’n opdrag gee voordat die
wonderwerk volg. Vir die regeringsamptenaar wie se seun genees word, sê
Jesus: “Gaan maar huis toe, jou seun lewe.” (Joh. 4:50) Dis al: gaan huis
toe. En die seun is genees. Vir die verlamde man by Betesda, sê Jesus:
“Staan op, tel jou goed op en loop.” (Joh. 5:8) Wat Jesus vir hom sê om te
doen klink onmoontlik vir ’n verlamde, maar hy doen dit en hy beleef die
wonderwerk. “Laat die mense gaan sit,” (Joh. 6:10) sê Jesus en ’n groot
skare mense word gevoed met slegs vyf brode en twee vissies. Eenvoudige
opdrag: laat die mense gaan sit. Die blinde man moet homself gaan was in die
Siloambad (Joh. 9:7) sodat hy kan sien. Hy moes iets doen, iets heel
eenvoudig, hy moes egter sy kant bring om die wonderwerk te beleef. Voor
Lasarus uit die dood opgewek word, sê Jesus: “Rol die klip weg.” (Joh.
11:39) Dit was seker ’n vreemde opdrag om die graf na vier dae oop te maak,
maar nadat hulle gedoen het wat Jesus vir hulle gesê het om te doen, sien
hulle die groot wonderwerk. Nadat die dissipels die hele nag lank geen vis
gevang het nie, sê Jesus: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit.”
(Joh. 21:6) Doen iets anders as die gewone, probeer weer en die wonderwerk
volg. “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.” Gehoorsaamheid is dalk
die sleutel tot ’n wonderwerk in jou lewe. ~ Wilna Botha, 26/03/2019 |
|
Bevraagteken jy die Bybel? En die bestaan van God?
Wonder jy ook of die Bybel regtig tot stand gekom het soos wat daar vir jou
vertel word? En wat van die wonderwerke? En die opstanding? En Jesus se
wederkoms? Wonder jy ook soms of die ongelowige nie dalk 'n punt beet het
nie? Wonder jy ook soms of God regtig 'n God van liefde is? Dit terwyl dit
soms so sleg gaan? Vat jou geloof ook soms houe omdat jy nie verstaan nie?
My antwoord vir jou is: Ek hoop regtig so, ek hoop regtig jy worstel ook dae
om oor hierdie goed. Soos ek.
Jy sien, jy sal nooit antwoorde kry as jy nie daarvoor soek nie. Jy kan nie
in jou geloof groei as jy nie soek na openbarings nie. Jy sal oor niks
sekerheid kry as jy dinge nie bevraagteken, en ontdek nie. Jy kan nie
antwoorde kry as jy nie vrae vra nie. Mens kry meer insig oor dinge waaroor
jy argumenteer as wat jy dinge net goedsmoeds vir soetkoek opeet.
Wat vir my net interessant is, is dat die mees uitdagende vraagstukke op die
ou end nog altyd by die mees eenvoudige antwoorde in die Bybel uitkom. Dit
lyk my die skrywers van die Bybel (meer as 40 van hulle), het hulle huiswerk
deeglik gedoen, dalk baie kopgekrap, ondersoek, baie getwyfel en baie
geredeneer voor hulle die pen op papier gesit het.
Moenie dink twyfel en redeneer met God is 'n teken van ongeloof nie, dis
juis 'n manier om Geestelik te groei.
Ons praat maklik van die ongelowige Tomas, dalk moet ons eerder praat van
die ondersoekende Tomas.
Joh. 20:27-28
Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring
jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar
wees gelowig.”
En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”
Mat7:7 “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en
vir julle sal oopgemaak word"
Soek en jy sal vind... ~ Willem Botha, 25/03/2019 |
|
Die eerste wonderwerk waarvan ons lees in die Johannes
evangelie is in Joh. 2:1-11 – water word wyn! Jesus woon ’n bruilof by in
Kana. Hy het tyd gemaak om dié sosiale geleentheid saam met sy dissipels en
sy ma by te woon en saam met die mense van Kana fees te vier. Mense is altyd
vir Jesus belangrik en Hy gaan staan dikwels stil en vereenselwig Hom met
hulle omstandighede. Te midde van die gekuier wys Hy egter dat Hy
buitengewone mag en vermoëns het wanneer Hy die gasheer “uithelp” en gewone
water in die beste wyn verander. Uit hierdie gebeure leer ek dat dit
belangrik is om tussen mense te wees, om nie jouself beter te ag as hulle
nie, maar met hulle te meng. Woon geleenthede by waarheen jy genooi word en
wat vir jou vriende belangrik is. Dalk kan jy boonop nog die geleentheid kry
om oor die Here te praat of om iemand te bedien of om iemand te help of raad
te gee. Ek besef ook net dat Jesus hier vir ons wys dat ons mag ontspan, die
lewe mag geniet, dat ons mag feesvier en vrolik wees - dit is ’n gawe uit
sy hand, soos wat Pred. 2:24-25 sê: “Die beste ding wat met enige mens kan
gebeur, is om te eet en te drink en iets van sy harde werk te geniet. En ek
het agtergekom dat ook dit uit God se hand kan kom. Wie kan tog eet en
geniet sonder dat God dit toelaat en dit ook goedkeur?” ~ Wilna Botha,
19/03/2019 |
|
'n Ander perspektief
Pred. 3:12 "Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens niks beter is
nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet."
Hierdie is een van daardie tekste wat ek so effe skuldig voel om aan te haal.
Ek dink ons as Christene is nogal goed daarmee om skuldig te voel oor wat jy
besit. Ek is egter terdeë bewus daarvan dat gesondheid en geleenthede uit
die hand van die Here kom. Hierdie volgende teks som dit vir my mooi op.
Ps 37:3 "Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig
voort."
Ons het die naweek weggebreek na 'n baie mooi plek in die Laeveld.
Saterdagoggend sit ek op die stoep en verlustig my aan die mooi uitsig, en
hier tref die skuldgevoel my tussen die oë! Ek wonder toe hoe dit is dat so
'n klein persentasie van mense hierdie voorreg kan geniet. Wat het ek gedoen
om dit te verdien? Kon ek nie 'n verskil maak aan ander deur daardie geld
liewer weg te gee nie? Ek kry steeds nie 'n antwoord nie.
Maar ek het tog die volgende perspektief op die hele saak gekry. Harde werk
maak dit moontlik, en hoewel ek dit haat om belasting te betaal, het ek
besef dat dit tog 'n voordeel vir ander ook inhou. My en jou voorspoed maak
ook geld in die staatskas beskikbaar om die armes te help deur sosiale
toelaes, en hordes dinge wat tot ander se voordeel ook is. My vakansie skep
werksgeleenthede en help ook om ons mooi land se infrastruktuur aan die gang
te hou. Die motor wat ek ry, maak dat vele mense kos op die tafel het.
Dus, geniet die lewe, werk hard, betaal belasting (dis 'n opdrag van God),
maar weet elke oomblik dat die Here dit moontlik maak. En bo alles, wees
tevrede met dit wat jy het. En ja natuurlik, deel uit as jy oorvloed het. ~
Willem Botha, 18/03/2019 |
|
As mens deur die wonderwerke lees wat Jesus gedoen het,
dan sien jy dat Hy teen natuurwette, fisiese beperkings en mediese feite
optree. Dit beklemtoon oor en oor vir ons dat Hy almagtig is, dat Hy mag en
beheer het oor alles en dat niks vir Hom onmoontlik is nie. “Jesus het
reguit na hulle gekyk en gesê: Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God
nie, want vir God is alles moontlik.” (Mark 10:27) Dink ’n bietjie hieroor:
as ons graag ’n wonderwerk van die Here in ons lewens wil ervaar, moet dit
nie gaan oor wat ons by Hom kan kry nie, maar oor wie Hy is. Die doel van ’n
wonderwerk is altyd sodat God verheerlik kan word en sodat Sy Naam geëer kan
word. ’n Buitengewone gebeurtenis moet mens met ontsag en blydskap en
dankbaarheid vervul teenoor Hom wat die wonderwerk gee. Die fokus moet wees
op die Here en nie die wonderwerk self óf die persoon wat die ontvanger is
van die wonderwerk nie. “Hy het hulle gesond gemaak, sodat die menigte hulle
verwonder het toe hulle sien dat stommes praat, gebreklikes herstel is,
verlamdes loop en blindes sien. En hulle het die God van Israel geprys.”
(Matt. 15:30-31) ~ Wilna Botha, 14/03/2019 |
|
Die wêreld sal julle
haat
Joh 15:18 “As die wêreld julle haat, onthou: Hy het My voor julle gehaat."
Die wêreld sal jou haat, nee, nie sal nie, die wêreld haat jou reeds as jy
vashou aan jou geloof in Christus. Die wêreld hou nie meer van mense wat
hulle herinner aan hulle eie sondes en ongeloof nie. Die wêreld haat die
Bybel, en vele dinge wat daarin staan. Dalk bykans alles. Die wêreld haat
die kerk en dit waarvoor die kerk staan. Die wêreld is gek oor stories van
gemeentes wat swaarkry en ondergaan. Die wêreld kan nie genoeg kry van die
verguising van Christene nie, in besonder wanneer Christene ook foute maak.
Die wêreld kan nie die waarheid meer verdra nie en wend hulle graag na mense
wat vir hulle ander stories vertel wat lekkerder op die oor val. Jy sien, as
die wêreld jou (of die Here, of die Bybel) haat, hoef hulle nie meer aan
enigiemand (of God) verantwoording te doen nie. So dink hulle.
2 Tim 4:3 "...want daar sal 'n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer
nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle
leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor."
Hoor was sê Jesus in Joh 15:18- "...Hy het my voor julle gehaat."
Maar ons wat vashou aan die Here, sal die heerlikheid van die Ewige lewe
smaak. Vir altyd en altyd. ~ Willem Botha, 13/03/2019 |
|
Ek lees so bietjie deur al die wonderwerke wat Jesus
gedoen het, soos dit opgeskryf is in die evangelies. Dit lyk my daar is so
’n stuk of 35 verskillendes. Baie daarvan gaan oor genesing van allerlei
siektes, melaatsheid, blindheid, doofheid, gestremdheid, dit gaan oor
bevryding van bose geeste en oor mense wat uit die dood opgewek is. Dan lees
ek ook waar mense op bonatuurlike maniere gehelp en versorg is soos toe ’n
groot skare gevoed is met 5 brode en 2 vissies, waar moedelose vissermanne
’n ongelooflike visvangs beleef, waar Jesus op die water geloop het en waar
Hy die wind en die storm aangespreek het om te bedaar. Dit alles is
bonatuurlike gebeure wat mense se aandag op God vestig, wat die aandag fokus
op sy grootheid en almag en buitengewone krag. Dit is tekens wat ons help om
te glo en te sê: dis waarlik Jesus! En vandag ... sien jy enige wonderwerke
raak? Moenie net soek na genesings en bonatuurlike uitkoms wat mense beleef
nie, soek ook die wonders van God in die mooi van ’n klein blommetjie, in ’n
onverwagse reënbui, in die geboorte van ’n baba, in jou eie hartklop.
Beleef ook die wonderwerke van God wanneer ’n harde hart sag word, wanneer
’n verharde siel na God toe terugdraai, wanneer ’n hooplose persoon weer lig
aan die einde van die tonnel sien. Mag ons God beleef en sy wonderwerke sien!
~Wilna Botha, 12/03/2019 |
|
"Life of luxury" staan op 'n masjien. "Win now" op 'n
ander. Nog een het een of ander oosterse gesig wat grynslaggend vir jou kyk.
Eintlik 'n aaklige uitdrukking op die gesig. Liggies, klokkies, nommers wat
spin, belofte van geluk. JACKPOT!!! Daar is tafels waar die kaarte kundig
met 'n bedrewe handbeweging oor die tafel versprei word. Hierdie mense weet
wat hulle doen! Vandag is die dag! Wie nie waag nie sal nie wen nie.
Dit klink soos 'n opgewonde affêre.
Maar helaas, voor die een masjien sit 'n tannie, haar klere lyk verslete en
sy lyk erg moedeloos. Wat my opval is die amperse doodsheid in die oë, die
masjien wil nie vandag saamwerk nie! By 'n ander masjien sit 'n ouerige man,
hy staar stip voor hom as die nommertjies spin, maar die masjien het hom
weereens teleurgestel. Ek wonder hoeveel van sy ouderdomspensioen het
daardie masjien al verorber? "FEED ME", sê daardie aaklige oosterse
grynslaggende monster... En Oompie voer hom, tot sy laaste sent.
Ai, die teleurstelling! Die geld vir brood is op, en natuurlik vir die
sigrets! So gehoop daar is na vanaand 'n geldjie vir die pille. Sal maar
weer by die kinders moet geld leen. Mediese kostes is hoog ou seun, pa kom
nie uit met die geldjie nie.
Maar toemaar, Woensdag speel ons die Lotto, 'n man moet IEWERS 'n gelukkie
kry. Oompie, het iemand jou vertel jou kans om daardie JACKPOT te slaan is
een uit 14 miljoen? Wie nie waag nie... Eendag is eendag! Hulle sê so op die
TeeVee.
Het ek nodig om die Bybel hier in te bring? Is dit nodig om te herinner dat
die Bybel teen gierigheid waarsku? En wat van Mammon? Hoef ek die teks vir
jou aan te haal? Of ken jy hom ook uit die kop uit:- Jy kan nie vir God en
Mammon dien nie...
Hoeveel mense is al verwoes deur hierdie verpestelike tydverdryf. Waar pas
God in die prentjie? Waar pas vertroue in die Here in? Of is Hy te stadig?
En te suinig?
Ai, daardie geluksgod... ~ Willem Botha, 11/03/2019 |
|
Sedert Maart 2018
jaar het ek so stukkie vir stukkie deur Jesaja gelees. Ek het maar heelwat
goed in Jesaja gevind wat ek nie verstaan nie, en wat ek nie altyd weet wat
pas waar in nie, en soms sukkel ek maar om sin te maak uit al die profesieë
en die oordeeluitsprake maar êrens tussen dit alles, in elke hoofstuk, op
elke bladsy van die boek, het ek die wonderlikste goud uitgedelf -
beloftes, bemoediging, versekering, aanmoediging, tekste om te onderstreep
en in my hart te bêre. Dwarsdeur die boek het ek die goue draad van God se
genade, vergifnis en versorging gesien, die goeie nuus gesien dat God mense
optel en vernuwe en hoop gee. Ek het in dié tyd ’n stuk of 85 kort
boodskappies uit Jesaja geskryf wat ek hier gedeel het. Ek het hulle nou
almal bymekaargesit as jy dalk weer daardeur wou lees. Ek noem dit “Jesaja
se goud” en hoop jy sal ook iets in dié goudpot vind
wat jou geloof kan versterk en jou verhouding met die Here kan laat groei. ~
Wilna Botha, 07/03/2019
Lees
gerus meer hier >> |
|
Julle byt en verskeur mekaar...
Gal. 5:14 -15 "Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: 'Jy moet
jou naaste liefhê soos jouself.' Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op
dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie."
Hoe verskriklik gaan dit nie op sosiale media nie! 'n Klompie jare gelede
was daar 'n blonde sangeres wat geen skandes gemaak het nie, niemand kwaad
aangedoen het nie, 'n goeie ma was vir haar kinders, nie ontrou was aan haar
man nie en goeie musiek gemaak het. Sy het egter op 'n stadium net eensklaps
uit die openbare oog verdwyn. Sy was onlangs 'n gas op 'n televisie program
waar sy met hartseer vertel het hoekom sy net eenvoudig weggeraak het. Haar
openbare beeld, selfbeeld en haar musiekloopbaan is vernietig deur die
nydigheid van mense, hoofsaaklik deur sosiale media. Totaal sonder rede.
Jy sien, ons glo mos ons het almal 'n reg op ons opinie, en hierdie aaklige
(vergewe my) platforms maak dat ons gesigloos mense kan vernietig. Ons, ek (ek
hoop nie jy nie), doen dit sonder om te blik of te bloos.
Maar more wil ons petisies teken en optree teen skool boelies. Genade, hoe
laag kan die samelewing nie daal nie. En hou maar die dinge dop, daar is 'n
glanspaartjie wat pas aangekondig het dat hulle gaan skei ... daar gaan niks
van hulle oorbly nie. Ons het mos 'n reg op ons opinies.
Kyk net hoe akkuraat is hierdie teks in Galasiërs: "Julle byt en verskeur
mekaar..." Ai, as daar maar nog iets soos naasteliefde was. ~ Willem Botha,
06/03/2019 |
|
“... die tyd kom dat Ek al die nasies en al die
taalgroepe bymekaar gaan maak. Hulle sal kom en hulle sal sien hoe magtig Ek
is.” (Jes. 66:18) Hierdie waarheid loop soos ’n goue draad deur die Bybel:
God se genade sluit niemand uit nie. Aanvanklik het God sy verbond en sy
beloftes beperk tot die Israeliete, maar deur God se genade en Jesus se
versoening aan die kruis, brei dit uit om mense uit alle volke, tale en
kulture in te sluit. . “ ... en met U bloed mense vir God losgekoop het uit
elke stam en taal en volk en nasie.” (Openb. 5:9) Is dit nie goeie nuus nie!
As dit nie só was nie, het ons nog buite gestaan, vêr van God, sonder Sy
genade, verlore. Deur sy liggaam te gee het Christus Jode en nie-Jode een
gemaak, Hy het die skeidingsmuur wat daar was afgebreek. (so sê Ef. 2:14)
Ons moet waak daarteen om weer skeidingsmure op te rig tussen groepe mense –
nie net tussen rasse en kulture nie, maar ook op ander vlakke, soos
intelligensie verskille, politiese verskille, kerk verskille, finansiële
verskille ens. God se wil is dat almal moet hande vat, dat elke knie voor
Hom buig en alle mense erken en bely dat Hy God is. Die vraag wat ek myself
afvra is: hoe werk ek mee daaraan dat mure afgebreek word, dat die evangelie
by almal uitkom, dat almal kan sien hoe magtig God is? ~ Wilna Botha,
05/03/2019 |
|
Selfs as Hy dit nie doen nie...
In die boek Daniël is die verhaal van koning Nebukadnesar wat 'n bevel
uitvaardig dat almal 'n goue beeld moet aanbid as daar 'n teken gegee word,
maar Daniël en sy vriende weier volstrek om dit te doen. Hulle word dan met
die brandende oond gedreig, maar hulle hou voet by stuk dat hulle net vir
God sal aanbid.
Dan. 3:17 - 18 "Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te
red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit
nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat
u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”
Nou kyk, dis nou ouens wat gedetermineerd is in hulle vertroue in God. Hulle
sal net Hom, en Hom alleen dien, al sterf hulle vir hulle geloof. Maar die
deel wat vir my so kosbaar is, is dat hulle sê God sal hulle red, maar al
doen Hy dit nie, sal hulle steeds aan Hom gehoorsaam bly. Daardie is 'n
keuse waaraan ek ook wil vashou. Ons hang graag gedeeltes in die Bybel aan
waar God sê Hy sal ons beskerm, maar dan is dit vir ons seker logies dat Hy
dit sal doen, want ons bly mos getrou aan Hom, dus sal Hy ook getrou moet
wees.
Dit werk egter nie altyd so uit nie, dinge gebeur nie altyd soos dit
waarvoor ons bid nie, die Here verhoor nie altyd ons gebede soos wat ons dit
wil hê nie, soms voel dit of Hy Sy gesig wegdraai vir ons en dan maak dit
nie sin nie. Maar ek wil vandag verklaar dat ek aan Hom getrou sal bly, al
blyk dit of Hy nie maak soos wat hy belowe het nie. Vertroue hoef nie altyd
sin te maak nie, maar die uitkoms is om een of ander rede altyd positief. ~
Willem Botha, 04/03/2019 |
|
“Soos ’n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek
julle veilig voel ... julle sal dit beleef en julle sal bly wees; julle sal
nuwe lewe kry soos groen gras wat uitspruit.” (Jes. 66:13-14) Ja, dis mos
daar in die Here se arms, onder sy vleuels, teen sy bors waar ons rus en
vrede beleef, waar ons weer verkwik en vernuwe word. Dis daar naby aan Hom
waar die vrees vir bedreiging, aanvalle of gevare, die bekommernis oor
probleme, siekte of verlies, die benoudheid oor verwerping, mislukking of
skande al hoe minder en kleiner word totdat dit verdwyn. Dis daar waar Sy
liefde die vrees verdryf, dis daar wat die lam knieë weer sterk gemaak word
en waar ons weer nuwe lewe kry soos groen gras wat uitspruit. Moenie dat
vrees jou verlam nie, kom skuil by Hom, kom kruip weg onder sy vlerke. Kom
belééf dit en wees bly. “You are safe in the care of the Lord your God,
secure in His treasure pouch.” (1 Sam 25:29) ~ Wilna Botha, 28/02/2019 |
|
Of jy dit glo of nie.
Eendag het 'n vriend ('n predikant) vir my 'n ding gesê wat my vir altyd sal
bybly. Hy het gesê God se bestaan is nie afhanklik van mense se geloof in
Hom nie. Dit wil sê dat Hy in elk geval bestaan, al glo mense nie dat Hy
bestaan nie, en die mens se ongelooflik maak geen verskil aan daardie
waarheid nie. Die volgende gedagtes kom by my op:-
* God leef, of jy dit glo of nie
* Die Bybel is God se Woord en dis die Waarheid, of jy dit glo of nie
* Hy het alles geskep, of jy dit glo of nie
* Sy Seun Jesus, is uit 'n maagd gebore, of jy dit glo of nie
* Jesus het regtig aan 'n kruis gesterf, vir jou en my, of jy dit glo of nie
* Hy het opgestaan uit die graf, of jy dit glo of nie
* Hy het opgevaar na die hemel, of jy dit glo of nie
* Hy het die Heilige Gees uitgestort om in ons te kom woon, of jy dit glo of
nie
* Daar is verlossing, en 'n plek in die hemel, vir diegene wat dit GLO, of
jy dit glo of nie.
* Jesus kom weer, of jy dit glo of nie
Kyk net hoe kragtig is geloof, jy kan al hierdie dinge hierbo joune maak
deur net te glo, maar ongeloof kan niks daarvan ongedaan maak nie. Ongeloof
is niks anders as 'n tipe "geloof" nie, maar dis totaal kragteloos. ~ Willem
Botha, 27/02/2019 |
|
“Ek slaan ag op die mens in nood, op dié een wat berou
het oor sy sonde, wat ontsag het vir my woord.” (Jes. 66:2) Sondaars,
tollenaars, prostitute, uitgeworpenes, swakkes, nederiges – dis mense na
wie die Here omsien. Diegene wat weet hulle het Hom nodig, mense wat lankal
opgegee het om op hulle eie krag en hulle eie wysheid en hulle eie welvaart
staat te maak. Mense wat bely dat die Bybel God se woord is, die lamp wat
hulle nodig het om vir hulle die pad aan te wys. Mense wat gebroke en jammer
is oor die verkeerde paaie wat hulle gevat het en wat met hulle hele hart
begeer om terug te keer na die Here. Mense wat bakhand, soos ’n bedelaar,
wag om God se genade te ontvang. Dit laat my dink aan die teks wat sê
“Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is...” (Matt. 6:3). Die
Here seën diegene wat nederig voor Hom buig, wat hulleself gering ag en Hom
blindelings glo en vertrou en volg. “God wil niks met die mense te doen hê
wat dink hulle kan op hulle eie sonder God regkom nie. Maar vir daardie
mense wat weet hulle is niks sonder God nie, is God baie, baie goed – meer
as wat hulle ooit verdien.” (Jak 4:6, Die Boodskap) Dit lyk vir my daar is
twee kante: ek wil vs. God wil, ek kan vs. God kan, ek sal vs. God sal. Dis
weer tyd om my eie hart en my eie gesindheid te ondersoek ... ~ Wilna Botha,
26/02/2019 |
|
Jak 4:13-14 “Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal
ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen
en geld maak.” Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie!
Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.”
Hierdie is sulke waar woorde en hou 'n groot waarskuwing in. Wie sê more
gaan wees soos jy vandag dink dit sal wees? 'n Vriend sê eendag 'n baie waar
ding, hy sê 'n ouer is nie gemaak om sy/haar kind te begrawe nie. Net so met
'n lewensmaat wat wegval. Maar ongelukkig gebeur dit. Ek vra vir myself net
een ding af, en dit is of ek - ten spyte van intense hartseer - kan
voortleef met NET goeie herinneringe, as daardie trauma my tref. Ek streef
daarna. Dis tog al wat jou vorentoe kan vat, want selfverwyt sal mens
vernietig. Daar het gisteraand 'n aaklige insident in ons woonbuurt
plaasgevind nadat 'n brand by 'n huis uitgebreek het en daar lewensverlies
was. Vir daardie gesin sal more (en geen dag wat volg) OOIT weer wees soos
wat dit gister was nie. Wie weet wat vir ons wag? Nee, natuurlik kan ons nie
elke dag leef met hierdie swaard wat oor ons hang nie, en natuurlik het ons
nie beheer oor alles nie.
Maar daar is een ding waaroor jy ten volle beheer het, en dis die toestand
van jou verhoudinge met ander, in besonder met jou gesin en familie. Hoeveel
onafgehandelde sake is daar? Hoeveel onnodige, onbenullige dinge staan daar
tussen ons en ander? Ek verbaas my dat mense so blasé daarmee kan omgaan, so
asof dit eintlik lekker is om 'n punt te bewys.
Dis nie die moeite werd nie. Ons kan vandag, hierdie dag, nog iets daaraan
doen, want more is dalk te laat. Trots is 'n vreeslike ding, woede ook,
onvergewensgesindheid ook, moedswilligheid ook, uitstel ook.
Hoe moeilik is dit om net te sê: Ek is jammer, of ek vergewe jou? Drie
woorde wat mens se hele toekoms sal verander. Vandag is 'n goeie tyd. ~
Willem Botha, 25/02/2019 |
|
“So sê die Here: Die hemel is my troon en die aarde die
rusplek vir my voete. Hoe moet die huis dan wees wat julle vir My bou, die
plek waar Ek kan woon?” (Jes. 66:1) As ek hierdie teks lees, probeer ek vir
my ’n prentjie vorm van God se grootheid ... maar ek kan nie, want Hy is
veel groter as die grootste prentjie wat ek kan uitdink. Dis hoekom Hy hier
sê as Hy só groot is, hoe wil ons Hom in ’n tempel vasvang? Hy is oral
teenwoordig, daar is nie ’n enkele spasietjie waarin Hy nie is nie. En dan
is dit só verstommend dat Hy tog ons liggame kies as ’n tempel, ’n huis waar
Hy wil woon. “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees
van God in julle woon nie? ... die tempel van God is heilig en die tempel is
julle.” (1 Kor. 3:17) Ek het eenmaal gelees van die kleintjie wat vir sy ma
gevra het: as die Here só groot is dat die aarde sy voetstoeltjie is én Hy
bly binne-in ons, dan moet Hy seker êrens uitsteek. Ja, Hy móét uitsteek uit
ons liggame uit, Hy móét sigbaar wees – Sy teenwoordigheid moet bepaal wat
by ons monde uitkom, waarna ons oë kyk, waarna ons ore luister, wat ons
hande doen en waarheen ons voete loop. Kyk vandag bietjie in die spieël of
die Here by jou “uitsteek”! ~ Wilna Botha, 21/02/2019 |
|
Sarkasme, vleitaal, opbou, jaloesie, bemoedig,
verkleineer, beskuldig, skinder...
Sticks and stones can break my bones...
Jy ken daardie spreekwoord, maar wat 'n leuen is dit nie. Die een ding wat
al daardie woorde hier bo in gemeen het, is 26 letters van die alfabet wat
mense maak of breek. Óf mooi opbouende woorde, óf aaklige afbrekende woorde.
Ai, hoeveel mense klim elke aand in trane in die bed oor woorde wat hulle
toegesnou is. Soms sommer blatant lelik, soms as 'n sogenaamde grap, soms
sarkasties, maar elke keer woorde wat soos dolksteke is. Dolke wat geslinger
word na mense wat soms baie naby is, soos lewensmaats, kinders en vriende.
Spr. 12:18a "Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees..."
Maar aan die ander kant klim soveel mense saans in die bed met mooi woorde
wat 'n glimlag op die gesig bring. Woorde soos: ek is lief vir jou; jy lyk
so mooi vandag; ek hou van jou; die kos was heerlik; dankie vir jou moeite;
jy is spesiaal vir my.
Spr. 16: 24 "Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die
liggaam."
Dis hoe die Here met ons praat, ek dink nie ek het al ooit ervaar dat die
Here iets anders as mooi woorde gebruik nie, nie wat in my gedagtes opkom
nie, en ook nie wat uit die Bybel kom nie.
Gaan lees sommer gou weer Sefanja 3:17. ~ Willem Botha, 20/02/2019 |
|
“Elkeen in die land wat om voorspoed bid, sal dit doen
in die Naam van die God wat getrou is.” (Jes. 65:16) Ek wil hier sommer
byvoeg: elkeen in die land wat vir die land om voorspoed bid ...
Miskien moet ons bietjie minder vir ons eie, persoonlike gewin bid, bietjie
minder selfsugtig bid, bietjie minder vir ons eie voorspoed en seëninge by
die Here aanklop. Dalk kan ons ’n slag bietjie vra vir voorspoed vir ander
mense en veral bid vir voorspoed vir ons land. Ons het hierdie versekering:
“As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” (Joh. 14:14) In die Naam
van die God wat getrou is, sê die teks hierbo. God, die Almagtige, dié een
vir wie niks onmoontlik is nie, dié een wat getrou is, dié een wat donker
in lig verander. As ons vra, sal Hy gee. Onthou: kla is nie vra nie! Kom ons
bid vir voorspoed: vir terugdraai na die Here toe, vir opregtheid, vir
nederigheid, vir samehorigheid, vir verdraagsaamheid, vir vrede, vir liefde,
vir deursettingsvermoë, vir Goddelike visie ... wat wil jý by die lysie voeg,
in die Naam van die God wat getrou is? ~ Wilna Botha, 19/02/2019 |
|
Laat U wil geskied
Ons bid en vra so graag met die volgende teks in gedagte.
Matt. 7:7 “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop,
en vir julle sal oopgemaak word... "
Maar, soms besef ons tog dat dit eerder binne God se wil moet wees. Ek lees
gisteraand weer deur watse benoude stryd Jesus gegaan het die aand voor Sy
kruisiging, daar in die tuin van Getsémané.
Matt. 26:39 "Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig
teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie
lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar
soos U wil.”
Ons kan ons nie indink waardeur Hy is nie. Hy het egter Sy lewe verloor die
volgende dag, omdat Hy aanvaar het dat Sy Vader se wil nie Sy wil was nie.
Toe wonder ek nou, sê nou maar God het altyd binne die mens se wil gehandel.
Sou daar nie absoluut chaos wees nie? Hoe sou dinge teen mekaar ingewerk het?
Sou ek regtig die lewe gehad het wat ek nou het? Nee, dit sou nie ten goede
wees nie.
Maar weet jy, hoe meer ek daaraan dink, hoe meer besef ek hoeveel dinge die
Here wel toelaat wat MY wil is. Elke enkele dag van my lewe sê die Here ja
vir sommige van my gebede. Versorging, gesondheid, voorspoed, liefde in my
gesin, vergifnis vir my oortredinge, en vele meer dinge gee Hy daagliks vir
my. Die moeilikheid met my gebede is wanneer ek net vir my eie selfsugtige
begeertes bid. Dan sê Hy soms genadiglik nee.
Een ding weet ek, Hy hoor elke enkele gebed, en Hy antwoord op elke enkele
een. Die antwoord is óf ja, óf nee, óf wag. Maar Hy laat altyd Sy wil
geskied. Dis net ek wat dikwels buite Sy wil optree, omdat ek nie wil wag
nie. ~ Willem Botha, 18/02/2019 |
|
“... maar aan dié wat Hom dien, gee Hy ’n nuwe toekoms.”
(Jes. 65:15) Die dag toe jy die Here aangeneem het en vir Hom plek in jou
hart en in jou lewe gegee het, het ’n nuwe toekoms vir jou aangebreek. Nee,
dis nie noodwendig ’n rooskleurige, suksesvolle, voorspoedige, probleemvrye
aardse toekoms nie – dié dinge ontbreek dikwels in die lewe van dié wat die
Here dien. Dis wel beslis ’n toekoms gevul met hoop, met verwagtinge, met
sekerheid, met vrede. Dis ’n ewige toekoms waar ons seker kan wees dat ons
die ewige lewe gaan ontvang, ’n ewige blyplek in die hemel, ’n volmaakte
toekoms saam met die Here. “Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal in alle
ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh.
10:28) Dís ons toekoms as volgelinge van Christus. Die Here sê: “Ek wil hê
dat julle hoop vir die toekoms moet hê.” (Jer. 29:11, Die Boodskap) ~ Wilna
Botha, 14/02/2019 |
|
Die krag is af... alweer. Die tweede keer vandag, soos
gister en waarskynlik more weer. Nadat ek heelwat geld spandeer het, kan ons
aangaan as die krag af is, maar dit bly steeds ongerieflik. Ek dink dat jy
ook op hierdie oomblik negatiewe emosies ervaar as jy saam met my aan
hierdie situasie dink. Ek word kwaad, ek wil beskuldig, ek wil my soort van
wreek teenoor iemand, ek wil dit eintlik iewers uitskree. Vergewe my vir
hierdie woorde, maar ek wil eintlik met haat aan mense dink.
Maar weet jy wat? Dit help nie, en dit bring ons nêrens. Dit steel net ons
vreugde. En weereens, soos soveel kere tevore, laat val die Here 'n teks in
my skoot, en ek moet iets daarmee maak.
FIL. 4:4-8 "Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik
teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar
maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan
God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor
julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Verder, broers, alles
wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles
wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak
daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig."
Sjoe, kyk hierdie woorde "... daarop moet julle julle gedagtes rig." Hoe
moeilik is dit? "Vrede" kom voor in die woord "tevrede". Het ek Eskom se
krag nodig om vrede te hê? Of bly te wees in die Here? Hier staan in die
teks "die Here is naby". Het Hy weggegaan a.g.v. die omstandighede in die
land?
Nee wat, ek kan hierdie vrede, wat alle verstand te bowe gaan, kry en beleef,
as ek so kies.
Nou ja ek moet gaan, nou gaan ons braai... ~ Willem Botha, 13/02/2019 |
|
“So sê die Here: Wanneer ’n druiwetros nog sap het, sê
die mense: “Moet dit nie weggooi nie, want dit het nog nut.” So sal Ek doen
ter wille van my dienaars.” (Jes. 65:8) Só is die Here se genade! As daar
nog ietsie oor is, as daar nog ’n geringe kans is, skop Sy genade in en gee
Hy weer en weer vir ons ’n uitnodiging om terug te draai, om gered te word,
om vrugbaar en bruikbaar te wees. God los nooit sy kinders nie. As mens die
res van Jes. 65 lees, sien jy dat hierdie teks in die middel van ’n straf
aankondiging is, in die middel van God se oordeel wat Hy gaan voltrek oor
die volk, maar tog ... as daar êrens bietjie sap is, sal die druiwetros
gered en gebruik word. Dis ek en jy, vriend! Waar daar lewe is, is daar
hoop. Dit herinner ook aan Matt. 12:20 – ’n riet wat geknak is, sal die Here
nie afbreek nie, die lamppit wat rook, sal Hy nie uitdoof nie. Moenie dink
jy is té sleg of té sondig of té vêr afgedwaal nie – onthou Hy sal 99 ander
los, om Sy een verlore skaap te kom haal. Gebruik vandag die geleentheid as
die Here weereens Sy hand na jou uitsteek. Aanvaar Sy genade. Laat Hy jou
nuut maak, jou lewensriet weer regop tel, jou hartsvlam weer aanblaas. ~
Wilna Botha, 12/02/2019 |
|
Waar was die Here nou die dag toe 'n ramp 'n skool tref
en onskuldige kinders sterf? Hoekom gaan sommige mense deur soveel
beproewing? Wat het jy of ek gemaak dat die lewe net eensklaps in 'n
nagmerrie verander? Ek dink hierdie vrae is al deur talle mense gevra, mense
wat soek na sin in traumatiese gebeurtenisse. Hierdie vrae word gevra deur
Christene sowel as ongelowiges, die eerste groep om te probeer sin maak en
die tweede groep omdat hulle wil "bewys" dat daar nie 'n liefdevolle God
bestaan nie.
Ek het geen antwoord op hierdie vrae nie en ek ken geen trooswoorde nie.
Deur elke trauma in hierdie lewe word hierdie vrae gevra en nooit is daar
goeie, sinvolle antwoorde nie.
Terwyl ek hierdie stukkie skryf kom daar net geen teks by my op wat 'n
bietjie kan help nie, want selfs die Bybel se woorde kan soms so leeg klink.
Tog sien ek dat mense geweldige troos vind in die Here, en dat vele al gesê
het hulle sou nie deur so iets kom sonder Hom nie. Ek sien dat mense nader
aan die Here kom en Hom vind na jare se gesoek.
Kom ek vertel jou van my suster. Sy is oorlede, maar haar lewensverhaal gee
vir my hoop in hierdie dinge.
Sy was 'n paar keer deur slegte huwelike, haar klein seuntjie het verdrink,
sy het in 'n tragiese ongeluk 'n seun op sy fiets doodgery, sy is deur baie
moeilike tye met haar gesondheid en haar lewe was hoofsaaklik onaangenaam.
Maar op 'n dag, deur die Here bestem, kom sy tot bekering en haar lewe
verander drasties. Haar woorde het my diep getref toe sy eendag vir my sê
dat sy weer haar kind sou begrawe, en weer 'n paar keer deur egskeiding gaan,
en weer 'n kind onder haar motor sou sien sterf, as dit is wat nodig is om
by die Here uit te kom.
Selfs dit maak vir nie vir my sin nie, maar haar getuienis laat my vir seker
weet dat daar 'n liefdevolle God is wat Hom ontferm oor mense wat swaarkry.
My lewe is tot dusver hoofsaaklik gladde waters, maar ek weet waar om te
gaan aanklop as daardie storms kom. ~ Willem Botha, 11/02/2019 |
|
“Ons het almal geword soos mense wat onrein is, ons
beste dade is soos vuil klere; ons is almal soos verdroogde blare, ons word
deur ons sondes weggewaai soos deur ’n wind.” (Jes. 64:6) Onrein, vuil klere,
verdroogde blare, weggewaai ... ek is maar al te bewus van dié gevoel van
nikswerd, swak, vuil, onbruikbaar, onaansienlik. Vandag het hierdie teks
egter nie my aandag gefokus op my onreinheid en sondigheid en tekortkominge
nie, dit het my met dankbaarheid laat gryp na God se onverdiende genade wat
so vrylik en verniet beskikbaar is, na Jesus se bloed wat vir elke sonde
betaal het en my vuilheid afgewas het en my van binne en buite nuut gemaak
het, na die Heilige Gees wat nuwe lewe in die verdroogde blare blaas sodat
dit jaarin en jaaruit groen is. “Hulle
het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam” (Op
7:14) – dank God, ons het ook dié geleentheid gekry om skoon en heilig te
wees. ~ Wilna Botha, 07/02/2019 |
|
30 000 dae
Dis hoe lank jy leef as jy 82 jaar oud word. Nogal 'n sinvolle syfer om te
gebruik rondom lewensverwagting.
Ek sit en dink oor hierdie 30 000 dae en vra myself net twee dinge af.
Eerstens, wat is belangrik vir daardie tydperk, en wat is onbelangrik. Wat
was die moeite werd en wat nie.
Wat is belangrik
* Uit die aard van die saak om die Here te ken, en seker te wees waar jy die
ontelbare dae ná hierdie lewe gaan deurbring. 1 Kor. 15:19 "As ons net vir
hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste
van alle mense."
* Iets wat uiters belangrik is, is om die beste te maak van die tyd saam met
diegene vir wie jy lief is, want nadat jou 30 000 dae uitgeloop het, sal die
invloed wat jy op hulle uitgeoefen het bly voortbestaan, selfs vir geslagte
daarna.
* Om 'n verskil te maak aan ander, is 'n uiters sinvolle en bevredigende "tydverdryf".
Jy kan 'n reuse invloed uitoefen, sonder dat jy dit weet.
* Dis baie belangrik om in vrede met jouself te leef.
* Om wysheid na te jaag is goud werd.
* Goeie gesondheid gee kwaliteit lewe.
Wat is nie belangrik nie?
* Alles, ja ALLES, wat jy bymekaargemaak het en waarvoor jy jouself
afgesloof het. Dit bly maar net agter. Ja, ander gaan dalk die voordeel
daarvan geniet, maar jy het dalk jou 30 000 dae verminder om dit bymekaar te
kry. Pred. 2:11 "Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor
alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles
niks was, 'n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie."
* Al die gevegte vir posisie, status en mag het geen langtermyn waarde nie.
Stres is gif.
* Waar jy bly en wat jy ry gee dalk 'n mate van tydelike bevrediging, maar
dit kom teen 'n geweldige prys.
* Al die jare wat jy jou oor sinnelose dinge bekommer het, is net eenvoudig
nie die moeite werd nie.
Dis nogal verstommend teen watter tempo hierdie uurglas leegloop. Ek dink
ons moet maar net gereeld introspeksie doen en besluit wat die moeite werd
is. En dink net daaraan dat elke dag wat God jou gee is onverdiend, en 'n
geskenk.
Ek dink aan die liedjie "Gebed" van Koos du Plessis se woorde "Wat ek is, is
net genade, wat ek het, is net geleen." ~ Willem Botha, 06/02/2019 |
|
“U, Here, is ons vader, van ouds af is u Naam: Ons
Verlosser.” (Jes. 63:16) Nog altyd, ja, selfs van vóór die skepping af,
bestaan God en is sy Naam: Ons Verlosser. Hy bestaan van ewigheid tot
ewigheid, Hy is die Eerste en die Laaste (Jes. 44:16), vóór Hom was daar
niks en ná Hom is daar niks. “Voordat die berge gebore is, voordat U die
wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid tot ewigheid is U God!” (Ps. 90:2)
Dit laat my ook dink aan die uitdrukking “Ancient of days” waarvan mens in
Daniel lees en wat verwys na God se ewige bestaan. Dis wie Hy is! Party
mense probeer dit wegredeneer, party ontken dit blatant, ander wil Hom in ’n
tyd-hokkie plaas, nog ander wil Hom in die verlede indruk. Nee, die waarheid
is: “Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig; sy koninkryk sal nie
vernietig word nie; sy heerskappy sal nooit eindig nie. Hy red en bevry.”
(Dan 6:27-28) Vir ewig is sy Naam: Ons Verlosser. God is liefde en in sy
genade spesialiseer Hy vir altyd en altyd in verlossing, redding en
bevryding. Dit maak nie saak hoe vêr ons geval het, of hoe sleg en verdorwe
en sondig ons geword het nie, verlossing is beskikbaar by die Here. Laat Hom
toe om jou skoon te was en al daai sonde-kettings los te sny. Mag jy Ons
Verlosser se vrede ervaar. ~ Wilna Botha, 05/02/2019 |
|
Hierdie teks wat jy
nou gaan lees, is een van die tekste wat jy die meeste in jou lewe gehoor
het, en selfs opgesê het, en dit word as die samevatting van die wet beskou.
En as jy hoor "jou naaste soos jouself", dan dink jy onmiddellik aan
naasteliefde. Maar het jy ooit al stilgestaan by die gedeelte wat sê "...
soos jouself"?
Matt. 22:37 - 39 Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met
jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die
grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is:
‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’Dink mooi wat die Here sê: Wees
lief vir My, wees lief vir jou naaste, en wees lief vir JOUSELF. Is jy lief
vir jouself? Regtig so lief soos vir die Here? Ek twyfel of daar veel mense
is wat dit regkry. Ek sien mense wat met 'n verskriklike swak selfbeeld
saamleef, mense wat geen dunk van hulleself het nie, mense wat hulle
voorkoms haat en sodoende 'n spieël verpes. Daar is so min mense wat tevrede
is met wie hulle is, en so baie wat iemand anders wil wees. Soos wie wil jy
wees om weer vir jouself lief te wees? So lief soos vir die Here.
' n Groot probleem is dat ons toelaat dat ander mense ons liefde vir onsself
vernietig, hoofsaaklik deur woorde, en dan dink ons die Here voel oor ons
soos ons oor onsself voel. Die ander probleem is dat ons onsself nie kan
vergewe vir dinge wat ons aan onsself gedoen het nie. Nee, dit werk nie so
nie, as die Here ons so gemaak het dat Hy ons liefhet, moet ons onsself
liefhê. Dis dalk tyd om voor die spieël te staan en die ware JY raak te sien.
En nee dis nie voorbarig nie, dis 'n opdrag van God. ~ Willem Botha,
04/02/2019 |
|
Ek lees in Jes. 63 hoedat die volk na die Here gesoek
het in hulle nood. Hulle het teruggedink aan tye wat dit goed gegaan het en
wat die Here wonderwerke en magtige dade gedoen het. Hulle verlang daarna om
weer Sy teenwoordigheid te beleef en Sy krag, Sy liefde en die werking van
Sy Gees te ervaar. Hulle vra, soos ons ook baie keer maak: waar is die Here?
“Waar is Hy wat sy kudde dwarsdeur die see gebring het saam met hulle
herder? Waar is Hy wat sy Heilige Gees onder hulle gegee het? Waar is Hy wat
sy groot mag saam met Moses laat gaan het, die waters voor sy volk
oopgekloof het? Waar is Hy wat sy volk deur die diep waters gelei het sonder
dat iemand struikel? .... Waar is U brandende liefde, u magtige dade? ...
Ontferm U U nie meer ons ons nie?” (Jes. 63:11-15) Is dit nie tog só dat
moeilike omstandighede ons na die Here laat soek en na Hom laat terugdraai
nie? Is dit nie tog só dat krisistye ons laat besef dat onsself nie
antwoorde het nie en dat ons die Here nodig het nie? Is dit nie tog só dat
die Here hierdie tye in ons lewens gebruik om ons nader aan Hom te bring,
sodat ons weer na Sy teenwoordigheid sal verlang nie? Hoe dit ook al sy, ons
weet vir seker dat ons Hom sal vind wanneer ons na Hom soek en na Hom smag,
ons weet vir seker dat Hy sal antwoord wanneer ons na Hom roep met ons hele
hart. Hier is drie van vele tekste wat dit bevestig – glo dit en bewaar dit
in jou hart: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” (Jak 4:8); “As julle
by die Here is, sal Hy by julle wees; as julle na Hom vra, sal Hy Hom deur
julle laat vind.” (2 Kron. 15:2); “Dit was vir hulle ’n vreugde om na die
Here te vra en Hy het Hom deur hulle laat vind en hulle rus gegee na alle
kante toe.” (2 Kron. 15:15) ~ Wilna Botha, 31/01/2019 |
|
Matt. 6:27 "Trouens,
wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng?"
Volgens hierdie teks is bekommernis 'n absolute mors van tyd. Dis so waar,
en tog is dit een van die moeilikste tekste om na te volg. Goeiste, ek kan
jou vertel van bekommernis, hoewel ek gedink het ek is hoegenaamd nie 'n
kommer kous nie. As ek jou moet sê oor watter nuttelose goed ek my al
bekommer het, sal jy ook net jou kop skud.
Ek het my oor geld bekommer soos jy nie kan glo nie. Ek het al nagte gelê en
somme maak en elke keer kom ek by dieselfde antwoord uit. En tot op hierdie
stadium van my lewe, was dit absoluut verniet, daar was altyd genoeg, en
meestal oorvloed.
Ek was bang Jan Taks kom sluit my toe, terwyl ek 'n onberispelike belasting
rekord het. Hoekom het ek my daaroor bekommer? Ek het geen idee nie!
Ek was al bang en gaan dood aan kanker omdat 'n klein dingetjie onder my arm
ontsteek het, maar toe val dit sommer vanself af.
Ek was bekommerd dat my kinders in drank of dwelms sou verval, maar dit het
glad nie gebeur nie. Hulle leef die mooiste lewens.
Ek was bang ek sou sterf op die grens, toe oorleef ons 'n groot aanval.
Daar is vele, ja hordes dinge waaroor ek my al bekommer het, totaal onnodig.
Soos jy dalk ook. Bekommernis wat net nooit waar geword het nie.
Maar daar het ander bekommernisse wel waar geword. Ek het my werk twee keer
verloor, en dit was verskriklik, maar vandag dank ek die Here daarvoor, want
dit het ongelooflike deure oopgemaak.
Ek was bekommerd dat my ma sou sterf toe sy kanker kry, en toe sterf sy.
Maar die Here het ons deur dit gehelp, en sy is baie beter daaraan toe.
Ek was bang ek beseer myself sodanig dat ek nie kan werk nie. Toe verloor ek
'n geveg met 'n "angle grinder", maar toe genees my hand wonderbaarlik en ek
sien die Here aan die werk.
Ai, hoe lank kan ek nie hiermee aanhou nie, en jy dalk ook. Miskien moet ek
net terugkyk in my lewe en die Here se beskerming raaksien, maar nee, vannag
dink ek seker weer iets vars uit om oor te tob. Wat 'n mors van tyd! ~
Willem Botha, 30/01/2019 |
|
“Hy self was die
engel wat hulle gered het. Hy het hulle verlos deur sy liefde en ontferming;
Hy het hulle opgetel en hulle gedra.” (Jes. 63:9) Dis wat die Here gedoen
het vir Sy volk en dis wat Hy vandag vir my en vir jou ook doen. Hy red en
Hy maak vry. Hy het lief en Hy kry jammer. Hy tel op en Hy dra. Ek hoop jy
sien dit elke dag raak, ek hoop jy voel elke dag hoedat hy jou optel en dra
– of daar nou moeilikheid en swaarkry is en of dit goed gaan met jou, of jy
voel Hy is vêr of doof en of jy voel Hy is naby, of jy twyfel en of jy glo,
of jy skaam is oor jou sonde en of jy tevrede is met jou lewe – Hy sélf is
die engel wat by jou staan. Baie keer hoor ek mense vra die Here om ’n engel
te stuur om hulle te beskerm of te help. Ja, Hy kan ’n engel stuur, ja, Hy
kan mense stuur, maar dis altyd die Here sélf wat opdaag om te help en te
versorg en rus en kalmte te gee. Mag dié wete vir jou vrede en sekerheid gee
wat alle verstand te bowe gaan. ~ Wilna Botha, 29/01/2019 |
|
Maak gereed... die stories is waar. Jou ouers het jou
daarvan vertel toe jy nog baie klein was, jy het dit in die Sondagskool
gehoor, dis by die skool vir jou vertel en jy hoor dit gereeld in die kerk.
En ook op baie ander plekke, selfs op Facebook.
Die stories is op baie maniere vir jou vertel en vir baie mense is dit 'n
feit wat jy maar net altyd geglo het en dit is 'n groot seën as dit so is
vir jou. Ander sukkel daarmee en vele weier om dit te glo.
Die stories begin by die skepping en die wonder daarvan, die stories van die
mens se bonatuurlike verskyning toe God hom skape, die geboorte van Jesus,
die kruisiging en opstanding en die hemelvaart. Dan natuurlik die stories
dat ons saam met Hom in die hemel gaan woon. Die Here vertel hierdie dinge
self in die Bybel, en Jesus het dit met Sy eie mond vir die mense vertel. In
Johannes 3 vertel Hy dit vir Nikodemus, maar hy sukkel om dit te glo.
Joh. 3:12-13 "Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie,
hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? Niemand op die
aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het,
naamlik die Seun van die mens."
Maak gereed, die hemel is 'n werklikheid, en glo dit want Jesus, wat volgens
Johannes 3 daarvandaan gekom het en weer daar is, het dit met Sy eie mond
vertel. Maak gereed, want jy wat nou hier lees, sal binnekort (in terme van
die ewigheid), vir seker weet omdat jy dit sal sien. Maar maak gereed, want
jy gaan óf by Hom wees, óf jy gaan 'n vreeslike onaangename verassing kry.
Open. 1:3 "Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en
die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want
die eindtyd is naby." ~ Willem Botha, 28/01/2019 |
|
Wegkruipertjie
Jy kruip net om een van twee redes weg; óf jy speel die speletjie, óf jy
kruip weg omdat jy skuldig is aan iets.
Adam en Eva was ongehoorsaam omdat hulle van die boom geëet het nadat God
hulle dit uitdruklik verbied het. Toe kruip hulle weg.
Gen. 3:8-10 "Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die
tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God
weggekruip tussen die bome van die tuin. Maar die Here God het na die mens
geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” En die mens antwoord: “Ek het U hoor
wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek
weggekruip.”
Maar hulle wegkruipplek was nie vir God onsigbaar nie. Net so was Jona
ongehoorsaam en toe vlug hy weg, en beland op die bodem van die see. Maar
God het hom gekry deur 'n vis te stuur om hom te red.
As mens skuldig is aan iets is dit 'n natuurlike reaksie, en kom ek sê vir
jou, ek het ook al gewens ek kon heeltemal onsigbaar raak vir God oor
ongehoorsaamheid. Sonde maak dat mens net nie voor die Here se aangesig wil
verskyn nie.
Maar dis nie nodig nie omdat ons as gereddes mos in die staat van vergifnis
leef. Die Here kyk na ons deur die bril van Jesus, wat vir ALLES gesterf het.
Elke enkele sonde, en daarom hoef ons nie weg te kruip nie. Nee, as jy geval
het staan op, kyk jouself in die oë en sê: ek gaan weer probeer, en weer en
weer en weer. Al moet die Here 'n duikboot (of 'n vis) stuur om jou te gaan
haal, sal Hy dit doen. Hy sal die 99 ander skape los en vir ons kom, weer en
weer en weer.
Ek moet sê, ek hou nogal van daai gedagte. ~ Willem Botha, 24/01/2019 |
|
“Steek ’n banier op dat die volke dit kan sien!” (Jes.
62:10) Ek hou sommer baie van hierdie groot advertensieborde met Bybelverse
of geestelike boodskappe wat mens deesdae langs die paaie sien. Ek het nou
die dag een gesien wat sê: Jesus love you – no terms and conditions. Dis
mooi nè! En dis opvallend. Baie mense lees dit elke dag en dit móét ’n impak
maak. Ons het ’n klip met ’n teks op by ons hek en ’n kruis met ’n boodskap
by ons voordeur en dit het al menige opmerkings en gesprekke uitgelok. Steek
’n banier op, waai ’n vlag, rig ’n teken op, sit ’n klip neer, plak ’n
plakker, dra 'n T-hemp met die boodskap van die evangelie, ’n boodskap van
hoop, ’n boodskap wat sê God is hier, Hy kom om te verlos en te vergewe en
te red, daar is geen einde aan Sy liefde nie. O ja, en onthou om jou lewe,
jou woorde en dade ook soos ’n banier te laat wapper oral waar jy kom - tot
eer van God en tot opbou van dié rondom jou. “We want to see Jesus lifted
high, A banner that flies across the land, That all men might see the truth
and know, He is the way to Heaven ...” ~ Wilna Botha, 23/01/2019 |
|
Die Here is hier
Die Bybel is so 'n wonderlike boek, daar kom telkens antwoorde op byna
bonatuurlike maniere as mens dit nodig het. Die nuwe jaar het opnuut vrese
gebring oor die toestand van ons land, en die bekommernisse van verlede jaar
kom maar net weer te voorskyn.
In Genesis 28 lees ek hoe Jakob van Esau af wegvlug en hoe hy op 'n plek
aankom waar hy oornag en met sy kop op 'n klip aan die slaap raak. Hy begin
droom en die Here verskyn aan Hom.
Gen 28:13 "Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God
van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê,
vir jou en jou nageslag gee."
Gun my dit om hierdie stukkie dalk uit konteks aan te haal, maar ek doen dit
omdat dit vir my baie betekenis gekry het toe ek dit Sondag in die kerk hoor.
Die Here maak 'n belofte aan Jakob in vers15:- "Ek is by jou en Ek sal jou
beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek
sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”
Ons word so gebombardeer met die gedagte dat ons nie hier hoort nie, maar
hierdie land behoort aan ALMAL wat hier woon.
Nou kyk wat gebeur met Jakob toe hy wakker word.
Gen. 28:16 Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek,
en ek het dit nie besef nie.”
Ek het net weereens besef dis tyd dat ek ook wakker skrik en wéét die Here
is op hierdie plek, soos wat Hy altyd was en soos wat Hy altyd sal wees. Sy
beloftes sal altyd bly staan, net soos Sy belofte aan Jakob bly staan het.
In vers 15 sê Hy duidelik vir Jakob dat Hy hom nie in die steek sal laat nie,
en so sal Hy ons ook nie in die steek laat nie. En so sal Hy almal in
hierdie land seën, en nie in die steek laat nie.
Ek is bereid om daaraan vas te hou, en jy? ~ Willem Botha, 22/01/2019 |
|
“Jy sal ’n nuwe naam kry, ’n naam wat die Here self vir
jou gekies het. Die Here sal jou soos ’n sierlike kroon in sy hand hou, jou
God sal jou soos ’n koninklike tulband vashou ... Jy sal genoem word: “Die
een vir wie die Here lief het.”” (Jes. 62:2-4) Daar is ’n hele paar mense in
die Bybel vir wie die Here nuwe name gegee het. Dink bv. aan Abram wat
Abraham geword het, Sara wat Sarai geword het, Jakob wat Israel geword het,
Saulus wat Paulus geword het, Simon wat Petrus geword het. Dié
naamsverandering het gevolg na ’n spesiale ontmoeting met die Here, of
gepaardgegaan met ’n buitengewone belofte of het uitgeloop op ’n
lewensveranderende opdrag. En ek en jy? Toe ons ’n spesiale ontmoeting met
die Here gehad het daai dag toe jy jouself aan Hom oorgegee en Hom in jou
lewe ingenooi het, het Hy jou naam verander na Kind van God, Koningskind,
Geesvervulde, Verloste, Geliefde. Dalk is jou naam nou Vredemaker, Raadgewer,
Bemoediger, Gestuurde of Boodskapper omdat die Here vir jou ’n spesiale
opdrag gegee het. Wat ons vandag met sekerheid kan weet is dat die nuwe naam
wat die Here vir ons gekies het ook “Die een vir wie die Here lief het” is.
In van die Engelse vertalings sê dit “My delight” of “God is pleased with
her”. Hoe mooi klink jou nuwe naam nie! Aanvaar dit in geloof en sien in jou
geestesoog dat die Here jou soos ’n sierlike kroon of ’n koninklike tulband
vashou en sê: Jy is die een vir wie die Here lief het. ~ Wilna Botha,
21/01/2019 |
|
'n Sinnelose moord
Matt. 14:6-11 "Met Herodes se verjaarsdagviering het die dogter van Herodias
voor die gaste gedans. Herodes was so in sy skik met haar dat hy 'n eed
afgelê het dat hy vir haar sal gee net wat sy vra. Haar ma het haar voorgesê
en sy het gevra: “Gee vir my hier in 'n skottel die kop van Johannes die
Doper.” Hieroor het die koning baie sleg gevoel, maar vanweë die eed wat hy
voor die gaste afgelê het, het hy opdrag gegee dat aan haar versoek voldoen
moet word. Hy het iemand gestuur en Johannes in die tronk laat onthoof.
Hulle het sy kop in 'n skottel ingebring en aan die meisie gegee, wat dit na
haar ma toe gevat het."
Wat 'n absolute wrede, onnodige, belaglike moord op 'n onskuldige man.
Johannes die Doper, 'n eenvoudige en opregte man wat in die veld geleef het
en in die woestyn begin preek het. Daar is oor hom geprofeteer in Jesaja 40.
Hy het selfs vir Jesus gedoop, en was 'n nederige man. Maar Herodes se
mag-malheid kry die oorhand omdat Johannes hom tereggewys het, en toe gooi
hy hom in die tronk.
Toe Jesus hoor van Johannes se dood het Hy in 'n skuit geklim en weggegaan
om alleen te wees (Matt. 14:13). Ek glo Hy was diep bedroef en verslae oor
die wreedheid van 'n gesaghebbende figuur. Dink jy Hy kon dit gekeer het? Ja
sekerlik, maar ongelukkig werk dinge nie altyd so nie.
Ek glo die Here is saam met ons bedroef as trauma oor ons pad kom, ek glo Hy
is ook soms verbaas oor wat een mens aan 'n ander doen en definitief ook as
onreg teen Sy kinders gepleeg word. Maar ek weet Hy is onbeskryflik lief vir
ons, en hy is daar in hierdie donker dae.
As jy vir my vra of ek hierdie dinge verstaan, is my antwoord kort en
kragtig: Nee! Ek wil steeds ook graag antwoorde hê, maar ek besef dis
makliker om te aanvaar dat die lewe nou maar eenmaal nie altyd sin maak nie.
Steeds glo ek die Here bly in beheer. ~ Willem Botha, 17/01/2019 |
|
“Ek is baie bly oor die Here, ek juig oor my God, want
Hy het my gered, vir my oorwinnaarsklere aangetrek. Ek is soos ’n bruidegom
met ’n priesterkroon op, soos ’n bruid met haar juwele aan.” (Jes. 61:10)
Wanneer die Here vir Israel uitkoms en redding bring, is dit uit Sy
oorvloedige genade. Hy red, Hy vergewe, Hy aanvaar, Hy versorg, Hy maak nuut,
Hy maak skoon, Hy maak mooi. “He has clothed me with the garments of
salvation, He has covered me with the robe of righteousness” sê hierdie teks
in die Engelse Bybel. Ek en jy is ook aan die ontvangkant van hierdie
genade geskenke – oorwinnaarsklere, ’n priesterkroon, juwele. Die Here se
genade is so volmaak en volkome en genoeg, al verdien ons niks daarvan nie.
Ai, dis mos nou meer as genoeg rede om bly en vol vreugde te wees en oor God
te juig. Moenie wag tot Sondag se kerkdiens om ’n prys- en danklied tot eer
van die Here te sing nie. Doen dit sommer nou en laat die refrein oor en oor
in jou hart herhaal: Ek is baie bly oor die Here! ~ Wilna Botha, 16/01/2018 |
|
Ons weet almal dat jy
baie versigtig moet wees met wat jy sê. Woorde wat seermaak word lank onthou,
en mondelingse getuienis is baie werd in 'n hof. Maar met die tyd vervaag
dit en eventueel kan mense woorde betwis en dit word "my woord teen joune".
Maar boeta, wat jy skryf is baie gevaarlik, want solank as wat daar 'n kopie
van daardie dokument bestaan, kan jy absoluut niks aan die inhoud verander
nie, tensy jy dit met 'n ander dokument vervang, soos in die geval van 'n
testament.
As 'n skrywer 'n boek skryf word baie navorsing gedoen en wanneer iemand 'n
verhandeling skryf vir studies, moet sy feite korrek wees. Jou hele
reputasie is op die spel as die inhoud van jou werk nie 100% korrek en
feitlik is nie.
Wat my bring by die Bybel. Besef jy hoe groot "risiko" die Here geneem het
toe Hy mense geïnspireer het om die Bybel te skryf? Meer as 40 skrywers wat
oor 'n tydperk van 1600 jaar geskryf het, in drie tale, op drie vastelande,
en die meeste het mekaar nie geken nie. Dit verstom my dat (gegewe hierdie
feit)die Bybel hierdie volmaakte eenheid vorm. Kan mense dit regtig sommer
net uit hulle eie gedoen het, en sommer net enigiets geskryf het?
Besef jy dat die Bybel, en die Here se soewereiniteit net soos mis sou
verdwyn as mense die Bybel verkeerd sou bewys? Besef jy hoe kragtig hierdie
"dokument " moet wees om die toets van die tyd te deurstaan? Daar is geen
boek op aarde wat soveel mense se lewens verander het nie, geen boek wat as
meer gesaghebbend as die Bybel staan nie. Hierdie boek wat deur kinders
verstaan en aanvaar word, maar wat menige geleerdes teen die mure uitdryf.
Selfs skrifgeleerdes!
Ek weet nie of dit vir jou so is nie, maar as ek die Bybel in my hand neem
ervaar ek 'n ongekende saligheid wat oor my kom, en elke woord wat ek lees
word nuut, soos wat dit al menige kere in die verlede nuut geword het. Dis
elke dag nuut!
Net 'n "goeie boek" met nuttige lewenslesse? Nee, dis die Here wat praat en
Sy hele reputasie op die spel geplaas het, en dit bly steeds absoluut
waterdig!
2 Tim. 3:16-17 "Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde
om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel
en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan,
volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk." ~ Willem Botha,
15/01/2019 |
|
Wanneer die Here ingryp in ’n situasie, wanneer Sý
redding en verlossing realiseer, wanneer Sy genade deurbreek, dan verander
dinge op ’n ongelooflike manier, dan vind wonderwerke plaas. Wat vuil was,
word skoon; wat oud was, word nuut; wat uitgedien was, kry weer nuwe lewe;
wat verlore was, word gevind; waar daar trane was, kom weer blydskap; waar
daar moedeloosheid was, kom nuwe hoop; waar daar vernedering was, kom daar
eer en nuwe selfvertroue; waar daar toe deure was, kom weer vryheid; waar
daar bekommernis was, kom nuwe vrede wat alle verstand te bowe gaan. In Jes.
60:17 lees ons van die Here se verlossing, redding en versorging vir sy volk
(en vir ons!) en hoedat Hy vir hulle méér gee as voorheen. Hy sê: “Ek gee
vir jou goud in die plek van brons, silwer in die plek van yster, brons in
die plek van hout, yster in die plek van klip.” Die lys brei uit in Jes.
61:3 met eer in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in
plaas van hartseer. En kyk hoe mooi eggo dié woorde ook in Jer. 31:13: “Ek
sal hulle droefheid in vreugde verander, Ek sal vir hulle uitkoms gee: Ek
sal hulle bly maak, hulle sal geen kommer meer hê nie.” Ek is oortuig
daarvan dat vir ons almal wat al deur ’n moeilike tyd gekom het, hét daar
weer ’n tyd aangebreek waarop ons kon terugkyk en beleef en bely dat die
Here ons deurgedra het en dat die lelik weer mooi geword het, die hartseer
weg is en blydskap en vreugde in die plek daarvan gekom het. En as jy dalk
op die oomblik op ’n plek is waar dit nóg nie gebeur het nie, hou asb. moed!
Die droogte hou nooit vir ewig aan nie, die storm ook nie. ~ Wilna Botha,
14/01/2019 |
|
'n Vrou laat weet dat haar man enkele dae oor het om te
lewe weens kankergewasse op die brein. Hy is eintlik nog so jonk, en daar is
jong kinders. Hoe nou? Hoe nou Here? Hoe lyk die pad vorentoe?
'n Oupa en ouma is platgeslaan want die kinders verlaat die land, hoeveel
keer gaan hulle nog die kleinkinders sien? Mens kan nie voel en ruik deur
Skype nie.
'n Man sê dat hy dringend moet werk kry, daar is net nie meer tyd oor nie en
alles tel teen hom. Ouderdom, velkleur, geslag, alles.
Iemand vrees die toekoms want daar is slegs 'n paar salarisse oor voor
pensioen, en daar is nie genoeg om die toekoms in te gaan nie.
Met wie gaan dit nét goed?
Ek het tot die besef gekom dat die Here nie al ons probleme oplos soos ons
graag wil hê Hy moet nie. Hierdie man met kanker gaan waarskynlik binnekort
begrawe word, miljoene rande val nie sommer oornag uit die hemel nie, mense
se grootste vrese word ongelukkig dikwels waar.
Tog sien ek dat mense net eenvoudig by die Here bly en aanhou hoop en bid.
Bitter min mense draai die rug op die Here in swaar tye, die meeste stap
steeds die pad, hoe swaar ook al, liewer saam met die Here. Wat is hierdie
magiese krag wat maak dat mense selfs in totaal hooplose tye steeds by die
Here bly?
Ek dink nie die antwoord kan maklik verduidelik word nie, ek dink dis eerder
so in jou siel ingeplant deur die Here en dis dit, dis ook hoekom
ongelowiges dit nie verstaan nie , dit is net daar.
Hierdie volgende teks vat alles so mooi saam, en daarom glo ek so onwrikbaar
in die Bybel .
Klaagliedere 3:21-24 "Een ding weet ek, en dit is seker, en daarom sal ek
aanhou hoop: Die Here doen altyd wat Hy belowe het, Hy is altyd jammer vir
mense wat swaarkry. Here, U doen dit elke nuwe oggend, U bly altyd dieselfde.
Ek sê: Die Here is alles wat ek het, daarom sal ek aanhou hoop." ~ Willem
Botha, 10/01/2019 |
|
“Vir jou het die lig
gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring.” (Jes.
60:1) So aan die begin van ’n nuwe jaar het ons seker almal nuwe hoop dat
daar vir ons bietjie meer lig sal wees om vir ons die pad aan te wys,
bietjie meer lig om die donker dae op te helder, bietjie meer lig om dinge
wat in die donker gebeur uit te wys en uit te wis. Daar is mense wat só
moedeloos en sonder hoop is dat hulle geen lig aan die einde van hulle
tonnel sien nie – donker dinge soos siekte, slegte verhoudings, hartseer,
geldprobleme, werksprobleme, eensaamheid ... noem maar op, oorweldig hulle.
Die goeie nuus is: Jesus het gekom. Die Lig het gekom, die ware Lig wat elke
mens verlig – só lees ons in Joh. 1:9 en só het ons net nou die dag nog
gesing in ons Kersfeesliedjies. Vandag, ’n entjie in die nuwe jaar in, ’n
entjie in die donker wêreld in, móét ons dit glo. Dit is die Here se
teenwoordigheid wat vir ons lig bring. Gee vir Hom plek in jou hart, sodat
Sy lig in en deur jou kan skyn. Kyk net hoe mooi praat verdere tekste in Jes.
60 van die Lig: die Here sal vir jou ’n ewige lig wees... jou son en maan is
die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou ’n
ewige lig wees, jou dae van smart is verby. ~ Wilna Botha, 09/01/2019 |
|
2019
En so breek nog 'n jaar aan, een van vele, maar slegs een 2019. Na die einde
van die jaar sal daar nie nog een wees nie, en daarom wens ek en Wilna vir
almal 'n wonderlike en geseënde 2019 toe.
Ek het toe nou gewonder wat wens ek vir ander toe, toe besef ek dat die
beste wense wat ek vir ander kan toewens, is wat ek hoop mense vir my
toewens. Hier is 'n paar gedagtes:
* Ek wil die beste EK wees wat ek kan wees. Ek wil presies wees wat die Here
vir my in gedagte het, ek wil nie iemand anders wees wat deur God geskape is
nie, want dan verloor ek my totale identiteit.
* Ek wil wees wie God my gemaak het, nie wie ek geword het nie. Ek dink ek
mis so dikwels die teiken.
* Ek wil so graag in totale vrede met myself, sowel as met ALMAL om my (en
in die land) lewe.
* Ek wil so graag my talente voluit uitleef, sonder om ander se talente na
te streef, of te probeer uitleef.
* Ek wil so graag leer om as geredde wese te leef, en nie elke dag myself te
martel met die gedagte dat ek onvolmaak is nie.
* Ek wil so graag sien hoe my geloof in Christus toeneem, en nie meegesleur
word deur ander se opinies nie, vernaam nie diegene wie se geloof in die
sand wegsyfer nie.
* Ek wil graag die Woord van God stywer teen my bors vasdruk, en een word
met dit.
* Ek wil so graag meer van God se daaglikse wonderwerke raaksien, want ek
het blind geword daarvoor omdat ek alles as vanselfsprekend aanvaar.
* Ek wil graag glo dat wanneer die huidige gladde waters begin rof raak, God
daar is om my hand te vat as ek soos Petrus begin sink.
* Ek wil meer dankbaar wees vir familie en vriende, en goeie verhoudinge
koester. Mens besef gewoonlik by iemand se graf dat vergifnis te laat is.
* Ek wil werk aan 'n goeie gesonde liggaam, want hy moet nog lank hou.
* Ek wil werk aan 'n goeie gesonde gees, want dis al hoe ek vrede kan najaag,
en my "sanity" behou.
* Ek wil graag ten alle tye kan sê "Dit is wel met my siel".
* Ek wil so leef dat mense die Here in my sien.
En dit my liewe vriend, wens ek vir jou ook toe vir 2019. ~ Willem Botha,
08/01/2019 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|