Hoe aangenaam is U Woord, soeter as heuning in die mond

Heuning is 'n rusplekkie, 'n kuierplekkie, weg van die sorge van die lewe, weg van die gejaag en gewoel en gewerskaf, weg van al die gestoei om te oorleef.
Hier kan jy soet druppels uit 'n heuningkoek kom kry, en versadig word met heuning uit 'n rots, dié Rots, Jesus Christus.
Ons wil jou uitnooi om rustig te kuier en weer en weer terug te kom.
 


Lees gerus enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder .....

31 Desember 2025
 

Die jaar 2025...

In hierdie jaar het baie gebeur, dit was nogal 'n intense jaar.

In hierdie jaar het ons 'n keer of wat hartseer beleef, 'n broer wat skielik nie meer met ons is nie, 'n paar vriende wat reuse terugslae met hulle gesondheid beleef het, en nóg kennisse wie se aardse uurglas leeggeloop het.

In hierdie jaar het ons gesien dat "voorspoedige nuwe jaar" twaalf maande gelede, teen alle verwagtinge vir baie mense in 'n aaklige jaar geëindig het.

In hierdie jaar het dit duidelik geword dat "die goeie ou dae" totaal tot die verlede behoort, want té veel dinge het rondom ons in die land inmekaargestort. Dit lyk net eenvoudig of die pap neer reën grond toe.

In hierdie jaar het ons almal met skok agtergekom dat ons land en sy leiers meer en meer eenkant toe gestoot word deur die wêreld, en dat die wil net nie meer bestaan om dinge reg te ruk nie.

In hierdie jaar het ek persoonlik meer as ooit besef dat die mens 'n sterflike wese is, maar meer nog, dat jou laaste jare met swaarkry en sukkel geaard gaan, op sóveel gebiede.

In hierdie jaar het ek meer as ooit besef dat jou kinders (en kleinkinders as jy het) meer werd is as enige aardse skatte wat jy kan bymekaarmaak. En voorts dat vele ouer mense sonder die fisiese nabyheid van hulle nageslag moet leef.

In hierdie jaar het ek ontsettend bewus geraak dat tyd teen 'n geweldige tempo by ons verbysnel.

In hierdie jaar het ek ook besef watse reuse voorreg die mens het om al hoe nader aan jou Skepper te kom, as jou geloof in Hom die fel aanslae van opinies, en ander se ongeloof kan weerstaan.

In hierdie jaar het ek besef dat mens mooi moet onderskei tussen waarheid en leuen, veral deur die kragtige aanslae van sosiale media.

In hierdie jaar het ek egter meer as ooit besef wat ware dankbaarheid is. Dankbaar vir voorspoed, te midde van baie teëspoed. Dankbaar vir veiligheid, terwyl jou kanse só groot is om deur slegte elemente getref te word. Dankbaar vir gesondheid, ten spyte van die onvermydelike aftakeling van die liggaam. Dag vir dag, so stadig dat mens dit nie eintlik agterkom nie, totdat jy besef dat die einde van 2025 reeds baie anders is as die begin van 2025.

In hierdie jaar het ek weereens besef hoe dankbaar mens moet wees as jou lewenspad nog nie alleen gestap word nie. Vir vele het daardie voorreg weggeval.

Maar hier staan ons by die einde van hierdie jaar. Daar was baie hartseer, maar meer vreugde. Daar was baie onsekerheid, maar meer geloof in die vermoë van ons Skepper. Daar was baie dinge wat lyk of alles om ons inmekaarval, maar baie meer wonderwerke wat mens opnuut hoop gee.

Daar was uurglase wat leeggeloop het, maar meer kosbare nuwelinge wat die eerste lewenslig aanskou het.

In hierdie nuwe jaar moet jy besluit hoe jy hom gaan aanpak, met of sonder hoop, met of sonder opgewondenheid oor die mooi wat hierdie jaar dalk kan inhou en die belangrikste, met of sonder die Here. Hý wat die onmoontlike moontlik kan maak, Hý wat wonderwerke laat gebeur wat jou gaan verras. Hý wat voor jou uitstap en die Lig vir jou pad kan wees. Besluit jý, niemand anders kan dit vir jou besluit nie.

Fluit fluit, die jaar is uit.

Voorspoed vir 2026, van my en Wilna. Dankie dat ons saam met julle kon stap.

Keep walking! ~ Willem Botha

Klik hier vir nog Heuningdruppels >>


22 Desember 2025
 

NOG 'n Kersfees

Wat kan nog oor Kersfees geskryf word? Watter woorde daaroor kan so nuut wees dat mens dit wil hoor of lees? Watter Kersdag preek kan steeds impak maak en uit watter hoek kan ons daarna kyk sodat ons steeds in verwondering daaroor staan? Jaar na jaar dieselfde.

Maar tog maak die geboorte van Jesus menige Christene se harte warm. 'n Ongewone kind word gebore uit 'n gewone vrou. 'n Gewone geboorte uit 'n ongewone swangerskap. 'n Ongewone man wat jare later wonderwerke in 'n gewone dorpie begin doen. Gewone mense se lewens neem ongewone wendings as hulle tot bekering kom.

En vandag vier gewone mens steeds hierdie ongewone gebeure van 2000 jaar terug, want die misterie van die ongewone sal nooit ophou om mense aan te gryp nie. Dit bly steeds n ongewone verhaal in ons gewone tye. My en jou ervaring daaroor verskil, en dit verskil dalk selfs jaar na jaar. Dis hoekom ons dit seker vir nog duisende jare sal vier. Die punt is, Christus verander gewone mense se lewens, en daarom sal die meeste van ons steeds in verwondering staan oor Sy geboorte. Dit bly maar spesiaal

Geseënde Christusfees vir jou en jou geliefdes. ~ Willem Botha

Klik hier vir nog Heuningdruppels >>


19 Desember 2025
 

Frankenstein

Ek is seker jy het pas 'n prentjie in jou kop gevorm van hierdie groteske gedrog wat met uitgestrekte arms, geel oë en steke op sy gesig waggelend op sy prooi afstap en hulle koelbloedig vermoor. En dalk het jy (soos ek) gedink sy naam is Frankenstein. Wel, die boek oor hierdie karakter is in 1818 deur Mary Shelley geskryf en vele films is al hiervan gemaak. Maar, die skepper van hierdie monster se naam (volgens die boek) was Victor Frankenstein en die monster het nie 'n naam gehad nie. Sy verwys na hom as "creature", "monster" en "being".

Frankenstein was 'n jong wetenskaplike wat hierdie gedrog gemaak het uit verskeie liggaamsdele, "body parts", wat hy bekom het en die ding aan die lewe gekry het.

Ek het onlangs besef dat die meeste van ons Victor Frankenstein's is wat aanhoudend besig is om na andere te kyk en dié dinge wat hulle het wat ons nie het nie, in ons eie lewens aanmekaar te sit in 'n strewe na geluk.

Dié ou se geld, daai ou se adres, nog een se werk sukses, 'n ander se mooi gade se perfekte liggaam, daardie een se perfekte kinders en vele ander kwaliteite wat jy begeer. En as jy ál daardie "liggaamsdele" in jou eie lewe bymekaargooi, dán sal jy uiteindelik gelukkig wees. Want al daardie tekortkominge by jou steel jou vreugde.

Ek lees onlangs 'n boek gelees oor "Die goeie lewe" en die skrywer merk 'n groot stuk waarheid op.

Jy is die heeltyd besig om jou innerlike met 'n ander se uiterlike te vergelyk.

Jy sien, die realiteit is dat jy nooit iemand sal kry wat ál die boksies "tick" nie. Dalk val die welgestelde persoon se lewe uitmekaar (dalk juis oor die geld), dalk is die ou met sy peperduur motor tot oor sy ore in die skuld, dalk is daai persoon met die perfekte liggaam se kinders 'n reuse uitdaging. Elke mens het nie die vermoë om miljoene bymekaar te maak nie, want almal kan nie daardie stres en verantwoordelikheid hanteer nie.

Die Here het die lewe baie fyn beplan en aanmekaar gesit. Almal is nié dieselfde nié. En moenie wil wees nie.

Frankenstein se kreatuur het eensaam, verworpe en verbitterd geraak, en Frankenstein se lewe op die einde vernietig.

Mense wat Frankenstein kreature van hulleself maak is NOOIT gelukkig nie, hulle sal steel, moor, ontrou wees en uiters ongelukkig word, juis om te probeer om vir die verkeerde redes gelukkig te wees. En in die proses word die Here bevraagteken.

Wel, as jy nou wel iets van 'n ander wil begeer, begeer net die kwaliteite wat in Jesus gestel is. Net een woord, en dis liefde. Liefde vir jouself, nie onvergenoegdheid nie, liefde vir ander, nie afguns en jaloesie nie, liefde vir die Here deur tevrede te wees met die "kreatuur" wat Hy geskep het. Die woord "vrede" kom voor in die woord "tevrede".

Terloops, daar is vele mense wat baie van jou kwaliteite begeer. So, jy's nie te sleg nie weet jy?

PS. 139:13-15 DB

"Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder het U my gevorm. Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U doen wonderlike werk. Ek weet dat U groot dinge kan doen. Daar is nie ’n been in my wat uit sy plek is nie. U ken my totaal. Alles is soos U dit wil hê. U het my gemaak. " ~ Willem Botha

Klik hier vir nog Heuningdruppels >>


Hande - myne en God s'n

Ek het die afgelope tydjie die tema van hande oordink 'n paar kort stukkies daaroor geskryf:

- my eie hand: pynlik a.g.v artritis en gevolglike operasies aan my vinger
- doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen
- Jesus se hand wat genesing bewerk
- wat het jy in jou hand?
- opstandige, ongehoorsame, sondige hande
- Pilatus se hande van onskuld
- die skild van geloof in jou hand
- all of these lines across my hand
- put your hand in the hand of the Man who stilled the water
- skryf op jou hand: die Here s'n
- my God het sy goeie hand oor my gehou
- in die skaduwee van God se hand
- Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou
- dis Kersfees - kyk na Jesus se hande en glo


Klik hier as jy dit wil lees >>


So sê die Here, Here

Toe ons dogter Februarie in die tagtig jaar oue kerk in Clarens getroud is, het die woorde op die kanselkleed 'n groot indruk op my gemaak: "So sê die Here, Here". Hoe kragtig en mooi is dit nie! Die Here praat met sy mense. Hy praat in sy “tempel”. Hy praat deur sy “profeet”. Die Here sê trooswoorde, beloftes van genade en redding, versekering van sy liefde en verlossing. Die Here sê woorde wat ons uitnooi om na Hom te kom, by Hom te skuil, by Hom te rus. Hy sê egter ook woorde met opdragte vir ons, woorde met waarskuwings, woorde wat ons maan om terug te draai na Hom en gehoorsaam te wees ... Klik hier om 'n klompie kort stukkies oor hierdie tema te lees >>


Breek brood

Daar is so ’n mooi uitdrukking wat mense gebruik wat sê: ons breek saam brood. Dit beteken baie meer as om net ’n maaltyd saam met iemand te nuttig. Dit beteken dat jy jou kos en jouself met iemand deel. Dit beteken daar is ’n kameraadskap tussen julle, ’n spesiale band, ’n emosionele en geestelike band. Ek dink dié term het ontstaan toe Jesus saam met sy dissipels aan tafel was en Hy die brood gebreek het en gesê het: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” (Luk. 22:19). Of dalk toe Jesus die twee vissies en vyf brode gebreek het en uitgedeel het aan ’n honger menigte in Joh. 6:11. Die breek van die brood sê vir my dat Jesus Homself gegee het.  Die Brood wat lewe gee is gebreek en verniet uitgedeel en is onbeperk vermenigvuldig sodat ek en jy ook vandag daarvan kan eet .... Klik hier om 'n klompie kort stukkies oor hierdie tema te lees >>


Leer by Nehemia

Ek het bietjie deur Nehemia gelees en 'n paar lewenslesse oor gebed, afhanklikheid, vertroue, lofprysing ens. geleer. Ek het 'n klompie daarvan neergeskryf. Klik hier as jy dit wil lees >>

 


Vrae wat die Here vra

Ek het  êrens in Februarie 2021 begin om vrae wat die Here in die Bybel vra op te soek en te oordink. Ek het telkemale myself verbeel dat die Here vir my persoonlik ook die vraag vra en dan bietjie gedink wat my antwoord sou wees. Ek het eers begin met vrae wat Jesus gevra het in die Evangelies, maar dit het vinnig uitgebrei tot vrae dwarsdeur die Bybel. Aanvanklik wou ek so tien vrae uitkies om dieper oor te dink, maar tien het op die ou einde meer as vyftig geword! Oor die volgende paar weke wil ek nou bietjie verder gaan en na 'n paar vrae in die Bybel kyk wat verskillende mense in verskillende omstandighede gevra het. Ek glo dit is ook vrae wat baie van ons dikwels mee te doen kry. Ek het dit wat ek reeds oor die vrae geskryf het, hier bymekaar gesit, as jy dit dalk wil lees (en beantwoord!) Klik hier >>
Daarna het ek so 30 vrae uitgesoek en oordink  wat mense in die Bybel vra. Klik hier as jy verder daaroor wil lees >>
 


Musiek en lofprysing

Ek het in die laaste paar maande bietjie stilgestaan by ’n klompie gedagtes uit die Bybel oor musiek, sang en lofprysing en 30 kort stukkies daaroor geskryf – sommer soos dit in die alledaagse gang van die lewe by my opgekom het en iets vir my persoonlik beteken het. Die teks wat dit alles vir my die beste saamvat is Ps. 115:17-18 soos dit in Die Boodskap staan: “As jy dood is, kan nie jy of enige ander dooie mens die Here prys nie. Dan is jy nie meer daar om dit te doen nie. Maar ons wat lewe, sal die Here loof. Ons sal nou begin en vir altyd aanhou. Kom prys die Here!” Ek het al die stukkies hier bymekaargesit as jy dit dalk weer wil deurlees. Ek hoop dit sal jou inspireer om sommer in te val met ’n lofsang en ’n pryslied tot eer van die Here.
 

Klik hier vir alles >>


Wie is God  vir jou?

Oor die afgelope 7 maande het ek ’n stuk of 45 kort stukkies geskryf oor wie God is, oor verskillende name wat Hy genoem word in die Bybel. As ek terugkyk weet ek dis maar ’n druppel in die oseaan en as mens iets moet skryf oor elke karaktereienskap van die Here, sal jy langer as vir ewig daarmee besig wees en sal die wêreld nie genoeg plek hê vir die boeke nie (soos wat Joh. 21:25 sê) In hedendaagse terme sal mens seker kan sê dat die wêreldwye web nie alles sal kan huisves nie en dat Google nie alles sal kan deursoek nie! Kortom: ons God is groter as wat woorde en name Hom kan omskryf, wie Hy ís is veel meer as wat ons gedagtes kan akkommodeer. Dit was egter vir my ’n  leersame en verrykende pad wat begin het by Eks 3:13

... 
 lees verder >>


Julle moet mekaar ...
 

Ek het die afgelope tyd ’n paar gedagtes gedeel oor ’n klompie van die “julle moet mekaar”-tekste in die Bybel. Julle moet mekaar aanvaar, mekaar vergewe en mekaar liefhê; julle moet gasvry wees teenoor mekaar en mekaar dien; julle moet geduldig wees met mekaar, mekaar verdra en in vrede lewe met mekaar; julle moet mekaar help, mekaar se laste dra, mekaar troos en moed inpraat; julle moet mekaar leer en onderrig en lofliedere saam sing ...
 

As jy wil, kan jy hier klik om hulle weer te lees >>


Jesus het hulle innig jammer gekry

Ek het vir die afgelope agt keer wat dit my beurt was om ietsie te skryf bietjie stilgestaan by dié uitdrukking: "Jesus het hulle innig jammer gekry", wat mens 'n hele paar keer in die evangelies raaklees. Dis 'n uitdrukking wat my so aangegryp het en net vir my onderstreep het dat die Here ’n barmhartige God is. Net soos Jesus dit nie kon help om mense wat honger, siek en hartseer, verlore en blind, vuil en verwerp is, jammer te kry en diep meegevoel met hulle te hê nie, net so weet ek dat Hy dit vandag vir my persoonlik ook sal doen. Sy arm is nooit te kort om te help nie, Sy genade is elke dag vars, Sy oor is nooit te doof om te luister nie, Sy hulp en uitkoms  is nooit vêr nie, Sy liefde is onbegrens, oneindig en onverstaanbaar groot. “Genadig en barmhartig is die Here, lankmoedig en vol liefde” – kyk maar bietjie hoeveel keer hierdie frase in die Bybel voorkom, dan besef mens Sy hart word gou sag! “Die Here gee graag goeie dinge aan ons. Sy hart word gou sag. Hy is geduldig en het sy kinders baie lief. Vir almal is die Here goed. Hy gee om vir alles wat Hy gemaak het ... Die Here sorg vir almal wat seerkry, Hy tel elkeen op wat swaarkry. Almal vestig hulle hoop op U. U versorg elkeen op die regte tyd. Omdat U goed is, gee U maklik goeie dinge aan ons. U gee meer as genoeg van u goedheid aan almal op aarde. (Ps. 145:9-16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha
 

Ek het al die stukkies hier bymekaargesit – klik hier indien jy dit dalk weer wil lees >>


Bring die hoop weer terug

Ek het die afgelope tydjie bietjie gelees en gedink en geskryf oor hoop. Ek het tekste opgesoek wat oor hoop gaan. Ek het gewilde aanhalings oor hoop opgesoek. Hier is so 10 gedagtes wat ek neergeskryf het. Lees hier meer >>
 


Wonderwerke van Jesus uit Johannes
 

Ek het oor die afgelope paar weke bietjie gelees en gedink oor die wonderwerke van Jesus en veral dié wat in Johannes opgeskryf is. Aan die einde van die boek sê Johannes dat daar nog baie dinge is wat Jesus gedoen het wat nie opgeskryf is nie. “Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.” (Joh. 21:25) Johannes-hulle het definitief báie wonderwerke gesien.  Ek dink nie dit geld net vir Johannes se tyd nie, ek glo dit is nóú ook so, ons moet net met oop geestesoë deur ons alledaagse lewe gaan om raak te sien waar die Here beweeg en wonder na wonder laat gebeur. Die rede dat die wonderwerke vir ons in die Bybel opgeskryf is, is sodat ons in Jesus moet glo:  “Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.” (Joh. 20:30-31) Kyk hoe dit gebeur het met mense wat Jesus se wonderwerke beleef het: Joh. 2:11 – toe die dissipels sien hoe Jesus water in wyn verander, het hulle tot geloof in Hom gekom. Joh. 4:53 – toe die regeringsamptenaar se seun genees is, het hy en sy hele huisgesin tot geloof in Jesus gekom. Joh. 6:14 – toe die mense sien hoe Jesus die vis en brood vermeerder het, het hulle bely: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom. Joh. 11:45 – toe Lasarus uit die dood opgewek is, het baie Jode wat dit gesien het, tot geloof in Jesus gekom. Joh. 21:7 – toe die dissipels die ongelooflike klomp vis vang, kon Johannes nie anders as om uit te roep: “Dit is die Here!” nie. Laat ons ook nie nalaat om die Here se wonderwerkende hand in ons lewens te sien en sodoende te groei in ons geloof nie. Laat ons ook nie nalaat om erkenning aan die Here te gee en te getuig oor Sy werke in ons lewe nie.

Terwyl ek deur die wonderwerke gelees het, het ek ’n stuk of 20 gedagtes daaroor neergeskryf.

Lees gerus hier meer daaroor >>


Jesaja se Goud - klik hier >>
 

Die afgelope jaar het ek so stukkie vir stukkie deur Jesaja gelees.  Ek het maar heelwat goed in Jesaja gevind wat ek nie verstaan nie, en wat ek nie altyd weet wat pas waar in nie, en soms sukkel ek maar om sin te maak uit al die profesieë en die oordeeluitsprake maar êrens tussen dit alles, in elke hoofstuk, op elke  bladsy  van die boek, het ek die wonderlikste goud uitgedelf - beloftes, bemoediging, versekering, aanmoediging, tekste om te onderstreep en in my hart te bêre. Dwarsdeur die boek het ek die goue draad van God se genade, vergifnis en versorging gesien, die goeie nuus gesien dat God mense optel en vernuwe en hoop gee. Ek het in dié tyd ’n stuk of 85 kort boodskappies uit Jesaja geskryf wat ek hier gedeel het. Ek het hulle nou almal bymekaargesit as jy dalk weer daardeur wou lees. Ek noem dit “Jesaja se goud” en hoop jy sal ook iets in dié goudpot vind wat jou geloof kan versterk en jou verhouding met die Here kan laat groei.

Lees gerus meer hier >>


My 18 G's vir 2018 - klik hier >>

Op die eerste Maandag van hierdie jaar het ons almal vir mekaar allerhande mooi seëninge toegewens vir die nuwe jaar. Ek het ook ’n klomp wonderlike woorde ontvang van oraloor. Op die tweede Maandag het ek verjaar en toe is dit wéér ’n stroom seëninge en gebede wat oor my uitgespreek word. Dit het my opgeval dat ’n klomp van dié woorde met ’n “G” begin, soos bv. geseënd, gesond, gelukkig, genade, groots, goedheid, guns, genot, Geesvervuld, ens.! Toe besluit ek net daar en dan dat 2018 ’n “G” jaar gaan wees en skryf toe so 18 G’s neer vir my jaar! As mens “G” sê, dan sê jy “gee”.  Om te gee, moet dan seker my eerste G vir die jaar wees ... lees verder >>

 


Kort dagstukkies uit Psalms - klik hier >>


Kort dagstukkies oor die 10 Bybelverse wat die meeste opgesoek word - klik hier >>


Kort dagstukkies uit Spreuke - klik hier >>


Kort dagstukkies uit Fillipense - klik hier >>


Kort dagstukkies uit 1 Johannes - klik hier >>


Kort dagstukkies uit Jona - klik hier >>



Facebook Groep
Sluit gerus aan by ons groep waar ons elke dag heuningdruppels oplaai, en waar jy welkom is om saam te gesels. Klik hier >>


Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)


 


Aantal besoekers